Showing posts with label Naledi. Show all posts
Showing posts with label Naledi. Show all posts

Monday, September 2, 2024

Resensie | Kostis Palamas – Die ses woorde van die Sigeuner (vertaal deur Louise Cilliers) | Naledi, 2024



Kostis Palamas – Die ses woorde van die Sigeuner (vertaal deur Louise Cilliers), Naledi, 2024. Sagteband, 123 pp, R260. ISBN 978-1-991256-88-1

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Louise Cilliers se voortreflike vertaling van Ithaka in 2023 is wyd geloof. Hierdie werk van Konstantinos P. Kavafis heet Van Alexandrië na Ithaka.

 

Haar jongste vertaling is Die ses woorde van die Sigeuner deur Kostis Palamas (1859 – 1943). Palamas is tweekeer benoem vir die Nobelprys vir letterkunde. Palamas moes ook die ellende van die Duitse besetting van Griekeland tydens die Tweede Wêreldoorlog beleef. Hy is verder benoem as ‘n Griekse Nasionale digter. In sy werk vind ons verwysings na die geskiedenis, Hellenisme, en die ervarings van alledaagse mense.

 

Palamas is ‘n moderne Griekse digter wat dig oor die wedervaringe van die Sigeuners buite die mure van Konstantinopel vóór die val in 1453. ‘n Spreker word aan die woord gestel waarin die liriese, epiese en die visionêre aspekte één word.  Hier word die sogenaamde gypsies se lewens weergegee.

 

II

Hierdie leser is nie Grieks magtig nie, maar ek het na die Engelse vertalings gekyk om haar vertaalproses te probeer begryp.

 

Cilliers se vertalings wérk in Afrikaans. (‘n Swak vertaling kan jy soos ‘n home perm herken.)

“in die somber skemer van die sipresse” is daar alliterasie. Hierdie vertaler is uiters klankgevoelig.

 

Daar is vele juwele wat hierdie leser aangestip het:

die roosknop is ‘n orakel,

die sipresboom ‘n Sibille! (111)

 

*

 

Die son sak,

die son wat met skitterende baan elke kus belig het,

is aan die verdwyn.

Jy gaan onder, O son,

vir jou sal geen nuwe dag meer aanbreek nie. (91)

 

III

Daar is ook gedigte opgeneem van hedendaagse sigeuners in die addendum. Die gedigte van Raine Geoghegan is hartverskeurend oor die ellendes van hul bestaan. Wat inspeel op die bestaan van alle haweloses en migrante op aarde:

 

Ons sal tee of whisky drink, van die ou liedjies sing.

Die volgende dag word die wa en besittings verbrand.  (122)

 

Die onstabiliteit van taal (en plundering van woorde) word eweneens ondersoek.

 

Musiek is hul enigste taal.

 

Gaan kyk gerus op die Versindaba na Luan Staphorst se vertaling van Olga Kirsch se “Nevertheless” wat hy puik vertaal as “Nietemin”, ‘n lang epiese vers wat aan uitgewekenes eweneens ‘n stem gee.

 

In hierdie boek is daar ‘n handige bronnelys soos Frederic Will se vertaling van Palamas wat in 1964 verskyn het.  Die voetnote is op sigself insigryk vir die leser soos presies wat Hellenisme beteken. ‘n Idealisering van die Griekse beskawing, o.a. Griekse vuur was ‘n vlam-werpende wapen wat veral tydens seegevegte gebruik is. Die voetnote is uiters verhelderend.

 

‘n Loflike, fantastiese boek, nogmaals uit die hand van ‘n bekroonde vertaler, wat op alle vlakke jou lewe verryk.

 

Tereg het sy indertyd die vertaalprys saam met E.L. de Kock ontvang het vir die vertaling van Aristoteles se Poëtika.

 

In Lawrence Venuti se terme het sy Kostis Palamas huis toe gebring.

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot aan die Universiteit van Kaapstad.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Tuesday, April 9, 2024

Resensie | Betsie van Niekerk – ... so ook op die aarde | Naledi 2024

Betsie van Niekerk - ... so ook op die aarde | Naledi, 2024 | ISBN 978-1-991256-59-1

Resensent: Joan Hambidge

 

Betsie van Niekerk se prosateks …so ook op die aarde kan ‘n mens net met een woord beskryf: ‘n juweel. 

 

Dit verbeeld religieuse kwessies in die Kalahari met ‘n woestynkatedraal. Dit vertel die storie van Suster Agnes, Suster Léonie, die Hondekind, Vader Simon en ouma Pop. En Rufus die koster. En Kleinklaas se begrafnis, sogenaamde die wending of denouement van die verhaal. Met ‘n Hoofouderling Herklaas. En ‘n klagskrif.

 

Die vertelling ondersoek die donker kamer van die siel (11). Die skrywer gee ‘n besondere kennis weer van die Katolieke liturgie en gebede: die gebedsweë, kruisweë, litanieë en novene (oftewel, die gebed van 9 dae), gebede tot die Drie-eenheid, gebede tot die heilige Maagd Maria, opstaangebede, gaan-slaap-gebede, die Jesus-gebed, die mag van die bidsnoer-gebed. (21)

 

Wat hierdie vertelling uitermate aangrypend én boeiend maak, is die spanning tussen die goeie en die bose wat subtiel uitgewerk word. Die verskillende ruimtes soos die woestyn teenoor die verre Lyon gee sleutels vir verskillende lewensuitkyke, maar met die universele spanning tussen geloof en twyfel (die sogenaamde “skemerwete” van die bestaan).

 

Die aankoms op ‘n poskar en hoe ‘n klein gemeenskap se vooroordele teen die afwykende of outsider funksioneer, neem hierdie leser terug na Elsa Joubert se roman uit 1988, Missionaris. Hierdie teks in sy eenvoud is egter só treffend dat die impak vir hierdie leser sterker is.

 

En die geheim oor die sonde en die hondekind (die judasbok) word netjies weggesteek. Wyfie- en mannetjieblomme is die simbole vir seksualiteit. Wanneer die dadeloes af, is kom daar klaarheid en helderte.

 

‘n Biblioteek vol verbode boeke wat brand met “otterspore” geplant in die teks, eis ‘n Jungiaanse lesing op. Kaarte van die psiges teenoor die lyflikheid wat ervaar word deur die Suster. Die verskillende karakters is argetipes: moeder en kind; die sondebok; lewe teenoor dood gekoppel aan die Christendom; die natuur wat groei aandui; water hier, wat sowel positief (Grootrivier) as negatief, ervaar word (verdrinking teenoor oorlewing); vuur wat dui op verwoesting van die Bose.


Skedels en Sandro Botticelli se Moeder en kind (1480) gee ‘n ánder belangrike sleutel vir die geheim van die teks. Ook genoemd die Madonna van die Boek, omdat die moeder lees uit die gebedeboek, die Horae Beatae Mariae Virginis. Dit is te siene in Poldi Pezzoli Museum in Milaan. ‘n Sogenaamde emblematiese skildery, net soos hierdie vertelling emblematies en dalk allegories is.

 

In 1988 het Betsie van Niekerk, ‘n bekroonde jeugverhaalskrywer, ‘n bundel Ronkedoor gelewer. En hier sien ons die hand van ‘n digter in die ragfyne beskrywings.

 

Tussen die aarde en geloof.  Tussen belewenis en emblemata. 

 

Joan Hambidge is ‘n Fellow en Senior Navorser aan die Universiteit van Kaapstad


 


 

 

 

 

 

 

 

 

Sunday, January 14, 2024

Resensie | Daniel Hugo (red) - Ina Rousseau – ‘n huldiging | Naledi, 2023

Daniel Hugo (Red) - Ina Rousseau – ‘n huldiging. Naledi, 2023. ISBN 9781 991 256 447. R330, 336pp

Resensent: Joan Hambidge

Onder die sub-titel Digter van die kwiksilwerwoord word Ina Rousseau vereer met die digter en vertaler Daniel Hugo as samesteller. Sy ontvang die Reina Prinsen Geerligsprijs vir haar debuut Die verlate tuin (1954) en die Hertzogprys vir haar laaste bundel ‘n Onbekende jaartal (1995).

Hugo het Rousseau se poësie gebloemlees as Die stil middelpunt (2003).

As voormalige dosent het studente immer plesier gehad aan haar komplekse verse in lesings waar ‘n mens op verskillende aspekte kon fokus in haar digkuns: vreemde woorde, versvorme, genderkwessies, Bybelverwysings, tydshantering, die gesprek met Blum, haar plek in die kanon, ensomeer.

Daar word hier na haar werk gekyk as digter, kortverhaalskrywer én vertaler. Dit is bekend dat sy verse afgewerk het tot in die laaste sillabe in. Haar verbintenis met die digter Peter Blum is eweneens bekend. Hieroor het sy ‘n aangrypende reeks geskryf “Steppewolf”.

Vir my is haar kortverhaalbundel Soutsjokolade (1982) ‘n besondere bundel. Die verhaal “Onthou jy vir Helena Lem?” kan geen leser ooit vergeet nie. ‘n Verhaal oor ‘n verloofde man wat sy vrou met wie hy op trou staan sonder erbarming ervaar wanneer hy haar vertel van sy ontmoeting met ‘n jeugvriendin wat ondertussen blind geword het. Sy onthou haar egter as iemand wat ‘n skoenlapper se vlerke afgetrek het. Vir hom het sy egter ook húl kosbare verbintenis vernietig met haar gemene reaksie. Die brief wat hy aan haar skryf – met woorde wat deurgekrap word – gee ‘n weergawe van sy vertroebeling. Wie die skoenlapper se vlerke afgeruk het, word in die ontknoping weergegee.

Francois Smith, ook prosaskrywer, gee ‘n interessante psigoanalitiese interpretasie van hierdie Atwood-agtige teks, terwyl Daniel Hugo as stipleser fokus op die gesprek tussen Johann de Lange en Ina Rousseau. Hugo wys hoe die digter De Lange as’t ware sy eie poëtika op haar projekteer in sy pragtige verse oor én vir haar.

Smith skat haar goed in as prosaskrywer en wys ook op haar hantering van simboliese getalle en offergawes. En waar sy ook haar leser dalk mag onderskat het in ‘n vertelling?

Die verskillende variante in haar digkuns dui op haar werk as ‘n groeiende organisme en Shané Kleyn wys op verskeie aspekte van variante en hoe dit benader moet word. Juis omdat die perfeksionistiese Rousseau telkens gedigte verbeter het, was daar verskillende variasies (soos by Yeats, Achterberg, Nijhoff, o.a.)

Sy was inderdaad uiters ambivalent oor die publikasieproses. In persoonlike gesprekke was sy ook afwysend oor enige navrae oor die spreekwoordelike koek in die oond. Trouens, in ‘n telefoongesprek teenoor my het sy opgemerk dat my handskrif onleesbaar-lelik is (korrek!) en dat sy dit nie kan ontsyfer nie. Hierteenoor ‘n poskaart van haar: kort en kragtig. Afgesluit: I.

Kleyn vertel die anekdote van die koekbakker-van-formaat, via Abraham H. de Vries. Inderdaad. Maar die resep bly tog ‘n geheim …

En hierdie komplekse geheimsinnigheid analiseer die digter en literator, Hein Viljoen behendig, ook as kenner van die Simbolisme en as ‘n leser wat die hele kwessie van die dubbele negatief (soos by Eybers) onder die loep neem. Die sogenaamde “simple replacement and the suggestion of the mystery” via Wellek, die groot literatuurteoretikus word bespreek. Hierdie bydrae is uiters leersaam oor hoé die sogenaamde “kognitiewe domeine” in ‘n gedig versmelt word.

Fanie Olivier gee ‘n hoogs leesbare (en deeglike) geskiedenis róndom die ontvangs van Rousseau se poësie wat opnuut bewys: ‘n resensie is ‘n eerste reaksie, boonop tydsgebonde en die boek bly staan selfs wanneer die Malmokkies en ander ou Boekgodjies ses voet onder die grond lê.

Die voetnote hier is openbarend. Olivier wys op ‘n fout wat ‘n literator maak met verwysing na Standpunte op bladsy 49.

Bernard Odendaal, ‘n kundige vertaler en raadgewer, gee ‘n uitvoerige verslag van Rousseau se werk as vertaler. Hy wys op die “uitleengeskiedenis” in die Ferdinand Postma-biblioteek in Noord-Wes om sy argument te staaf oor vertalings en hy vind dit jammer dat herdenkings by haar dood die vertalings nie vermeld nie.

Die digter se idiosinkratiese woordgebruik is algemeen bekend en haar werk by die Woordeboek van die Afrikaanse Taalhet kennelik haar taalkennis verruim. Die gebruik van sogenaamde “onpoëtiese woorde” en wetenskaplike terminologie is ‘n belangrike stilistiese bydrae, soos Bernard Odendaal tereg uitwys.

Tania Colyn ondersoek die komplekse verhouding tussen Ina Rousseau en Peter Blum vanuit ‘n genderperspektief. Via Hélène Cixous en Barbara Johnson word die leser opnuut bewus van hierdie intertekstuele wisselwerking (en uitruiling) tussen twee belangrike digters. Hierdie artikel wys op die in transit-aspek van vrouedigters wat buite die manlike orde skryf. 

Die grootste waarde van hierdie bundel is die Engelse vertalings en gedigte uit die Italiaans na Afrikaans versend deur hierdie woordsmid. Soos sy opmerk in Die Burger, 1 April 2006.

"Ek werk nooit aan ’n bundel nie. Ek werk selfs nie aan ’n gedig nie. Ek skryf woordgroepe, en later sluit die woordgroepe by mekaar aan en word ’n gedig." Erika Terblanche gee vir ons ‘n biografiese oorsig.

En die pragfoto’s in die boek is aangrypend mooi, veral die een wat Philip de Vos van haar geneem het in haar woonstel in Hofstraat, Kaapstad. Pragtige foto’s met mooi, stylvolle klere.

En ‘n klassieke Rousseau-kwatryn bly hierdie een vir my:


In sneeuwit siermotiewe van die pyn

breek die verwording deur in blaar en stam.

O was die lewe mooier sonder die fyn

borduursel van die skimmel? Van die swam?

(52)

 

Van die huldigingsbundels is al gestriem oor setfoute of swak keuses. Hierdie een is goed afgewerk en gee ‘n vars blik op hierdie uitsonderlike digter. Ja, sy met haar woorde van brokaat.

 

Joan Hambidge Senior Navorser en Genoot aan die Universiteit van Kaapstad.

 

 

 

Monday, November 6, 2023

Resensie | Michel Houellebecq – vernietig (uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw) | Naledi, 2023

Michel Houellebecq – vernietig (uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw). Naledi, 2023. ISBN 978-1-991256-40-9

 

Resensent: Joan Hambidge


I

anéantir (oftewel: vernietig) van Michel Houellebecq is deur die skrywer-filosoof Johann Rossouw in Afrikaans vertaal. Die titel is in kleinletters, soos Houellebecq dit wou hê, en hierdie roman van by die 500 bladsye, is ‘n belangrike baken binne die letterkunde. Hier te lande en buitelands.

 

Die Franse outeur is bekend as dwars, aweregs, buite die sentrum – soos sy gedigte ook bewys – en hy neem vreeslose standpunte in. Sy gedigte is in Afrikaans vertaal deur H.J. Pieterse en Catherine du Toit.

 

Hy was in die middelpunt van ‘n kontroversie tydens die destydse aanvalle op Charlie Hebdo en met die publikasie van Submission (2015) was daar hewige reaksie oor sy kritiek op die Islam. Hy moes selfs beskerm word. Nes by Salman Rushdie word heilige koeie vreesloos afgeslag.

 

Tog is hierdie voorstander van vryheid van spraak, selfs benoem en gekortlys in hierdie jaar se ronde vir die Nobelprys. Met Salman Rushdie ook daar. Is hierdie skrywers blote provocateurs of is hulle visionêres?

 

II

vernietig is ‘n vreemde, dog pakkende roman met politieke kommentaar op die Franse sisteem, tans gekenmerk deur opstande. Dit speel af in 2026 en 2027 met ‘n presidentsverkiesing. Macron luier hier; nes Marine Le Pen en Ėric Zemmour. Daar is selfs ‘n afdruk van die guillotine.

 

Paul Raison is die hoofkarakter en raadgewer vir die Minister van Finansies, ene Bruno Juge. Paul kan ook dokumente onderstebo lees; aanleg handig te pas gekom tydens eksamens.

 

Dit is ‘n tydperk van kuberaanvalle en Houellebecq wat in hierdie bedryf werksaam was, is hier op sy stukke. Vreemde tipe thriller met die seun wat geheime dokumente moet kry by die vader wat in ‘n vegatiewe staat is. The Matrix, die beroemde scifi-film van die Wachowskis 1999, is ‘n belangrike kode. Net soos die afdrukke en sketse in die roman.

 

Siekte, beroerte en die versorging van die vader, verbintenisse tussen famlielede wat vervreem geraak het, word ondersoek. Die susters Cécile (Katoliek), Aurélien (‘n kunstenaar) en Paul wat fisiese en geestelike ellendes beleef, sorg vir die menslike dimensie van hierdie roman. Hy het tongkanker en die impak hiervan op sy liggaam word uitstekend beskryf. Uiteraard is dit simbolies, net soos die naam van die hoofkarakter, Paul Raison. Hy ontduik die werklikheid dikwels in fantasieë; ook om te ontdek dat kuberoorloëwerklik kan raak. Soos die dood van ‘n moeder en broer.

 

Die hoofkarakter lees Sherlock Holmes en Agatha Christie in sy stryd teen die dood. Met dwarsklappe na krimi’s. Die Markies de Sade en Apollinaire is eweneens belangrike intertekste met seksbeskrywings wat die kop laat duisel met Prudence.

 

Die verdoesel van lyding in begrafnisseremonies word gekritiseer en die roman kyk na die impak (en afwagting van die dood) via die Dalai Lamai en vele Oosterse gelowe. Kübler-Ross is hier en David Servan-Schreiber se sielkundige raad vir kankerlyers. Met ‘n verwysing na Charlie Hebdo en die operasie op Philippe Lançon (die skrywer van Le Lambeau) se operasie op sy kaak.

 

‘n Soeke na raad om te oorleef en selfs Pascal help hom deur sy beproewinge.

 

Die duiwel en numerologie, ‘n ondersoek na manlike toksika is verdere kwessies wat aangespreek word. Tapirs en Hines. 

 

Daar is eweneens verwysings na kos en hoe riviere in Europa verskillende “persoonlikhede” het. En kritiek op inhoudlose en belaglike televisieprogramme. Daar is eweneens kritiek op die gesin en hoe kinders ouers wil vernietig (422). Freud en Ernst Hemingway word gekritiseer. ‘n Raaiskoot dat hierdie ‘n antwoord wil wees op Balzac se Menslike komedie?

 

Só sluit die roman op bladsy 478:

“Ten diepste behoort Franse skrywers nie te huiwer om hulleself beter in te lig nie; baie mense is lief vir hul beroep en put vreugde daaruit om dit aan leke te verduidelik. Dis blote geluk dat ek afsluit op ’n positiewe noot; dit is tyd dat ek nou afsluit.”

 

En die titel verwys na oomblikke wat gebeur (of nie gebeur nie) en mense se lewens as gevolg hiervan verander en soms vernietig word (456).

 

III

In die nawoord bely Johann Rossouw dat hy in ‘n “’n vlaag van besieling” besluit het om weerstand te bied teen die vervlakking van aktualiteitsprogramme by radiosondergrense.

 

En sy vertaling van hierdie belangrike skrywer is uitstekend. Rossouw se roman Sluitstuk (Penguin/Random House) oor die verbintenis met Karel Schoeman, verbeel en werklik, is eweneens een van die beste tekste van die jaar. ‘n Boek oor mentorskap en ‘n pynlike soeke na ‘n simboliese vaderfiguur.

 

Nou het hy Houellebecq se roman vir ons huis toe gebring in heerlike Afrikaans volgens Lawrence Venuti se studie oor vertalings.

 

Is mandjiespeler die regte woord vir daardie Amerikaanse spel? (404) Charcuterie word wel in Frans behou (51) en gespat (vir dronk) pas volkome hier in. Dalk is snoepgoedoutomaat, soos jong lat, bietjie outyds?

 

Andersins vloei die prosa goed in hierdie aserbiese, maar soms ontroerende roman. Hopelik is dit nie Houellebecq se laaste werk nie. Dit is ‘n roman wat jy eenvoudig nie kan neersit nie. Dit ontglip genre-definisies: parodie van ‘n John le Carré met ‘n skeut metafisika?

 

Joan Hambidge is ‘n Fellow en ‘n Senior Navorser aan die Universiteit van Kaapstad. Haar roman Stasies het sopas by Protea verskyn.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Wednesday, August 2, 2023

Resensie | Marlise Joubert – Laatnageilande | Naledi, 2023

Marlise Joubert – Laatnageilande. Naledi, 2023. ISBN: 9 781991 256089 


Resensent: Joan Hambidge

 

I

Laatnageilande is Marlise Joubert se elfde digbundel. Sy is skilder, dramaturg en romansier van onder andere, ‘n  belangrike gefiksionaliseerde lesbiese teks Klipkus (1978), vertaal as Rode granaat. 

 

‘n Roman wat die manlike orde teenoor die feminiene een plaas.

 

Joubert is eweneens ‘n bloemleser van die 2014 antologie In a burning sea. Contemporary Afrikaans Poetry in translation.

 

Die titel van die jongste bundel verwys na die bekende siening dat geen mens ‘n eiland is nie en verskeie skrywers en sangers het al die idee van die eiland gebruik. ‘n Plek van ontvlugting soms; maar ook een van eensaamheid.

 

Daar is uiteenlopende vrouedigters in Afrikaans: Elisabeth Eybers, Olga Kirsch, Sheila Cussons tot by Antjie Krog en Ronelda Kamfer, om ‘n paar name te noem. Van die vrou as ontheemde, tot die woedende een; van die gekwelde tot die versorgende moeder; van die aktivis tot die stilgeworde een. Huisvrou tot minnares. Karen de Wet se Vrou en vers (2020) gee ‘n blik op hoé uiteenlopend hierdie stemme is.

 

Elke teoretiese benadering kan op vrouedigters van toepassing gemaak word. Lankal nie meer digteresse of vroulike aanvullings nie.  Cixous, Irigaray, Kristeva, ensomeer.

 

Die skryfproses impliseer ‘n komplekse verhouding met taal soos Julia Kristeva dan aantoon in Begeerte in taal (1969) en haar siening van die skilpoppe.

 

Verskillende vrouedigters vra spesifieke leesbenaderings. By Marlise Joubert is dit veral moederskap in al haar gedaantes: moeder, grootmoeder, verhoudings met haar biologiese moeder én haar ouma.

 

Daar is in hierdie bundel ‘n besinning oor oudword en siekte; dood en geboorte; verhoudings met ‘n werklike geliefde en die digkuns. Politieke verse.

 

II

In die gedig “diepseeduiker” vra sy vrae oor haar verbintenis met skryf wat meer oordra as praat.


Uiteraard ‘n terugkyk op ‘n lewe-van-skryf. Joubert het immers in 1970 gedebuteer met ‘n Boot in die woestyn.

 

Die digter beoefen veral die vrye vers, soms die ballade en rondeel. Die passies en passasies van dig.

 

tussenruimte

 

dialoog laat gapings

en stulp slegs vermoedens

by die luisteraar. praat

skep vele misverstande.

 

skryf is ’n diepseeduiker.

dit kan jou soveel méér vertel.

 

maar toe ek na my

skryfhand kyk, asof ’n leë nis

sonder beeld of artefak,

sien ek vae buitelyne: die impasto

van ’n lewensreis het verbleik.

’n ander vraag doem op:

wie was die geskryfde ek?

 

dis iets om van hier en nou af

dodelik mee rekening te hou.

 

die naderende tussenruimte

vou ’n raaisel oop wat nie praat

of skryf nie:

 

die oorgang

van ’n ingesoute hart

na die wrakstiltes van been.

 

III

Yehuda Amichai is weer ‘n besielende rigtingwyser in hierdie digterskap wat op die tydelikheid van alles dui. Jy was hier, eenmalig; met ‘n wêreld wat dig sluit agter jou.

 

Hier is ‘n handvol gedigte wat ‘n mens altyd sal bybly soos “visgedig” (126) wat imperfeksie en verwonding artikuleer. En “die verlede loop leeg” (123) met die sterk beeld:”die gisterklanke ontheem en leeg”. 

 

Met “skrywendes” (120):

 

my appelhuise hang nou aan

die laaste draadjie van 

geskryfde taal

 

Hierdie gedig speel terug op “taal” (103) met die wete dat die digtende spreker bykans alles verloor het buiten taal. Die gedig – via Breytenbach – is egter iets delikaats …

 

In “allervrou, ‘n sprokie” (77) word vrouwees via Clarissa Pinkola Estés se Woman who run with the wolves (1992) beskou. Soos vele tydgenootlike digters is daar ‘n huldigingsvers “elisium, ‘n herbesoek” vir Petra Müller (1935 – 2021) oor die “omtes van die hart”. Pragtig-aangrypend is die klein vers oor “ouma bes” (55) wat meen gedigtemaak help teen die gal. Slim beeld oor die digter se naeltjie as die kleinste eiland (46).

 

Die gedigte oor die katte en kleinkinders is nie so sterk nie, terwyl die verse oor die Oekraïne in die maag tref soos “Irina se klavier” (18).

 

Tersaaklik om te sien waarop vrouedigters fokus in hierdie slopende oorlog.

 

IV

Dit is ‘n bundel van oorgange en verliese. Die bundel artikuleer pynlike ervarings van die spreker met kinders (en kleinkinders) in die buiteland en die herinneringe aan die jeug, die vergange lewe met ouers en ‘n begrypende grootouer. Dit registreer ‘n verbygaande era en hoe ons nou in ‘n globale wêreld – post-Covid – oorleef. Met onsekerheid as die wagwoord.


Siekte en liggaamlike veroudering word beskryf. In die laatnag met ‘n terugkyk na wat was dikwels.

 

Dit is ‘n bundel wat op plekke geresoneer met hierdie leser in ‘n tyd van soveel verliese: onder andere aan ‘n pas oorlede vriendin wat moeder en grootmoeder was. [1]

 

Die kunswerk op die voorblad van Jean Dreyer “Resettle I” wat deel vorm van die uitstalling burnt white / brandwit is beeldskoon.


[1]


Sover as ‘n engel te perd kan ry

Joan Hambidge

 

Anita Visser  (1952 – 2023)

 

Jou 70e vier ons

in ‘n Griekse restaurant

met blou teëls en skottels kos;

boonop dra die spreker blou –

glo die kleur van helderte

én melancholie. Nou ook rou.

Danie Visser se vrou is oorlede…

Wars van fieterjasies en voorgee was jy 

soos ‘n spreekwoord:

spits, op die man af, puntig.

Uitstaande sjef en hoeder 

van familie en vriende en kennisse.

Danie Visser se vrou is oorlede…

Ek sien jou frons oor dié gedig;

onthou ons gesprekke oor verloedering,

die brand by UCT met vuurkeëls

wat die lig inskiet en jou biblioteek tref.

By die interbib-afdeling staan jy almal by.

Danie Visser se vrou is oorlede…

Iewers staan dit opgeteken

ons lewe ‘n boek op bruikleen

met net soveel tyd en stempels

voor dit terug gevra word

deur die Onsienlike.

Danie Visser se vrou leef

in ons binnespraak

en herinneringe – al was

die dood ‘n opskepgas.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

 

 

Tuesday, July 11, 2023

Resensie | Johann Lodewyk Marais – Sirkelgang | Naledi, 2023

Johann Lodewyk Marais – Sirkelgang. Naledi, 2023. ISBN 978-1-991256-09-6


Resensent: Joan Hambidge

 

In hierdie bundel vind ‘n mens veral ‘n bemoeienis met Afrika en die natuur.

 

Die openingsgedig sê dit reeds:

 

Tel dit met eerbied op: Dit is rou klei

met miljoene vingerafdrukke op.

 

Die titel van die gedig “Interteks” neem die leser nie net na ander skrywers nie, maar veral ook na die skrywer se ondersoek na hierdie temas, soos nou onlangs beskryf in Kumbukumbu: ’n Reisboek oor Kenia (2022). Gesprekke met skrywers soos hierdie een met Pound:

 

Ek lees Ezra Pound 

in die trein en sien druppels 

op die vuil blare. (83)

 

Ezra Pound:

 

     The apparition of these faces in the crowd:

     Petals on a wet, black bough.

 

In “Reisplan” (92) praat hy met tydgenote en hul reise. Marais met ‘n reisplan op die knie. “Onvoltooid II” (44) is ‘n lieflike palinode op Louw se bekende vers:

 

Of dalk sterf jy vannag stilweg 

met die laaste woorde wat steeds 

gesê en ongesê bly voortbestaan.

 

By hierdie digter is daar werklike reis na onbekende ruimtes, maar ook besoeke in die fantasie en herinnering. Die jeug word dikwels opgeroep wat die idee van ‘n sirkelgang oopmaak. ‘n Mens keer terug na jou verlede om die hede te probeer begryp.

 

In “Geel Nyl” skryf hy oor die grense en liminaliteite:

 

Op die grenslyn tussen die dor woestyn

en die doringstruike van die savanne

lê die tekens van vroeër in die sand. 

 

En dis hierdie soeke na tekens wat ‘n mens opval in hierdie bundel met die digter as semiotikus.

 

Veldslae, grafstene, gedenkplate word gesien in hierdie terugreis na die jeugbestaan in Harrismith met ‘n besinning oor die impak van die Boereoorlog. Figure uit die jeug word argetipes van die bestaan wat die kind blootstel en bekend stel aan pynlike ontnugteringe soos oor Kevin wat weggeneem word na ‘n inrigting en die niggie Charlotte. Hierdie leser sien dan ook die terugkeer van jeugmense terug in die nou in mooi liefdesgedigte – maar iets bly in hierdie sirkelgang onvoltooid en ongesê.

 

Foto’s wat nie ontwikkel kon word nie en leeg uitkom, maak van herinnering via die skryfproses die enigste uitweg vir die digter: besonder goed beskryf in ‘n gedig oor Etienne Leroux met verwysings na Jan Rabie en sy vrou, die Vlaamse lettterkundige Marcel Jansens en die biograaf en kanoniseerder J.C. Kannemeyer. 

 

Gedigte oor die natuur en diere – is bekend aan hierdie digter se werkswyse - word hier bevestig in ‘n besondere reeks oor slange. In “Gewone luislang” (47) word die slang gekoppel aan die digter se jeugherinneringe.

 

Gewone luislang

Python natalensis 

 

Tussen die plaashek en die voorhekkie 

vlam die weste op in ’n wêreldbrand 

soos uit ’n prent in die Kinderbybel 

en ek dink die einde het aangebreek. 

 

En uit Genesis hoor ek van die slang 

in die Paradys: Adam en Eva 

se ontmoeting in hulle vrugteboord 

met ’n listige en slu besoeker. 

 

* * *

 

In die dieretuin op Okahandja 

lei Pa my tussen kameeldorings deur 

na olifante, leeus, kameelperde 

en ape ingehok agter tralies. 

 

Skielik lê reg voor ons oë ’n slang 

met yslike donkerbruin rugvlekke, 

die kop soekend en nie vermorsel nie 

en ek vlug gillend los uit Pa se hand. 


Zoopark, Okahandja

 

Ook sinryk hier omdat die oeroeboros ook die slang van kreatiwiteit is met die ewigdurende siklus van geboorte en dood. Die terugkeer na die jeug en hoe dit die volwassene se lewe bepaal, neem ons terug na Carl Gustav Jung se sieninge oor argetipes, die sirkelgang van die bewuste en onbewuste en die numineuse.

 

Die politieke verse beklemtoon ‘n verdere sirkelgang van hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit dieselfde. Die digter se groenpolitiek word bewys in verse vir en oor Gretha Thunberg met ‘n inspeel op Ingrid Jonker se gedig oor die kind. Die oorlog in die Oekraïne (met moontlikhede vir verskillende weergawes) bewys hoe behendig Marais dig.

 

Die slotafdeling vergestalt ‘n spirituele bewussyn mooi verwoord as volg:

 

Die uur

 

Daar is ’n uur as die lig verander,

die skadu van die bome langer word, 

die tortelduiwe se gekoer aanhou

en die kraaie naby die huis kom sit. 

Dit is die uur om varkore te pluk

in die ruie tuin van vantevore

en oorkant na die graftes toe te neem

waar my voorouers steeds ter ruste lê

in bestrede en belaste aarde.  (86)

 

Gestroopte verse wat met min woorde ‘n hele sirkelgang laat oopwaaier. Terug na die digter se oeuvre en na ‘n ander digters en plekke:

 

“vol durf met drif en drang, onbevry”.

 

Marais is ‘n uiters produktiewe digter en navorser met uitsonderlike historiese studies en reisboeke.

 

 

Bronne:

Jung, C. G. 1964. Man and his symbols. Londen: Aldus Books.

 

Jung, C.G. 1953 – 1979. The collected works (Bollingen series XX). 20 volumes. Vertaal deur R.F.C. Hull. Ed. H. Read, M. Fordham, G. Adler, Wm. McGuire. Princeton: Princeton University Press.   

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FineMusicRadio)