Petra Müller & Nèlleke de Jager (Redd.). Nuwe stemme 2. Tafelberg uitgewers, 2001. ISBN 0 624 040 17 8.
Resensent: Joan
Hambidge
Nuwe stemme 2 is onder die kundige redakteurskap van
Petra Müller en die entoesiasme van Nèlleke de Jager vir ons byeengebring. 'n
Bundel van jong digters wat nog nie genoeg het vir eie bundel nie, maar waar
daar al genoegsame getuienis van 'n "stem" is.
Dit is waarskynlik tersaaklik om eerder op tendense in
hierdie bundel te wys as om by elke digter se afsonderlike verse stil te staan.
Die gedigte is tereg raserig, soms gewaag en ook woedend, soos die inleiding
beweer. 'n Gebrek aan eerbied kan beslis nie misgekyk word nie!
In die begin tagtigerjare het die tendens op die
sogenaamde intertekstuele vers geval. Toe het die jong digter met hierdie soort
verironisering en tegnies afgewerkte vers 'n merk gemaak.
By 'n digter soos Bernard Odendaal - waarskynlik omdat hy
akademikus is - vind 'n mens dus ook 'n bewuste inspeel op die tegniek - die digter verwys na Ottone M. Riccio se
The intimate art of writing poetry, daardie bekende handleiding vir beginners,
en Peter Blum se ballade oor verlore liefde word nuut aangewend in 'n puik
parodie. Dieselfde geld Neels Jackson wat met Johann de Lange in gesprek tree
in sy gedig oor Ingrid Jonker en Jelleke Wierenga wat met Totius lekker speel.
Sarina Dönges betrek ook Rilke se gesprek aan 'n jong
digter wat 'n vernuftige "ars poetica" word.
Een opvallende nuwe tendens is inderdaad die Engelse
segswyse wat deel word van die Afrikaanse vers.
Die gedigte word ook gekenmerk deur verwysings na die
Griekse mitologie en ander tersaaklike verwysings word her-aktiveer in die
gedigte. Die verse is dus nie net 'n geswymel oor verlore liefde of
liefdesavonture nie, maar duidelik 'n spel met die reeds bestaande diskoers van
die Afrikaans digkuns. Dit bewys dus die postmodernisme se onteenseglike
invloed en dat die "already said" nie geignoreer word nie.
Ook opvallend is die groot kluif religieuse verse in
hierdie bundel. Die Bybel word betrek en God word aangespreek, soos in die
roerende gedig van Sarina Dönges oor 'n Down-sindroom kind.
Tegnies is hier van duidelike vormbewustheid sprake. By
'n digter soos Toast Coetzer word die konvensionele vorm & inhoud aspek
geignoreer en word daar 'n soort "beat"-generasie vers wat met sy
spaghetti-aanslag oor die blaaie rol, beoefen. Helaas nie so bedrewe as by
Ginsberg nie, maar wel interessant hierdie heraktivering van die prosa-vers.
Ook Hans Pienaar beoefen 'n soort praatvers wat die
konvensioneel metaforiese vers vervang met 'n meer metonimiese aanslag.
Waarskynlik is hierdie oortreding onbewustelik, maar nietemin interessant.
Ook die verrassende beeldgebruik is opvallend in hierdie
versameling. Dikwels word die leser getref deur 'n vreemde en lekker
beeldgebruik:"die stad slaap soos 'n Buick onder 'n bokseil";
"die dodelyste / is onvolledig soos mislukte gebede" (Hans
Pienaar);"langs 'n humorsin skerp soos gister se mismoed" (Tertius
Kapp)
Daar is soms ook 'n sinisme aantoonbaar met betrekking
tot die Louw-Opperman-tradisie in Afrikaans ("destyds het ouens soos van
wyk louw en opperman/nice gedigte oor die natuur geskryf/ons het nie meer tyd
vir sulke kak nie" - aldus Toast Coetzer). Maar by Renée Marais word die
natuur tog op 'n konvensionele manier beskryf.
Daar is ook 'n ontheemde digter wat dikwels aan die woord
is. Sinies oor Afrikaans, skrywend oor vriende in verre lande. Hierom is die
blik nie nostalgies nie, maar eerder sinies en afstandelik. Dit is opvallend
dat 'n jonger digter soos Toast Coetzer bykans vernietigend skryf oor die
historiese dimensie, terwyl daar by Bernard Odendaal wel sprake van 'n meer
deerniswekkende, dog ontgogelde blik is. 'n Nuwe betekenis word aan die begrip
nostalgie gegee.
Hier is ook sprake van 'n blik van buite. By Petrus de
Kock word daar verse uit Manhattan geskryf wat so slim terugpraat met
Afrikaanse reisverse.
Uiteraard is debunking ook aan die orde van die dag soos
in die digkuns van Toast Coetzer en Jelleke Wierenga se loslyf-vers had my
gillend. Hier word 'n erotiese vers sonder enige skaamte opgedis. So moet dit
wees!
Ook Engels het ingeglip, by onder meer by Gilbert Gibson
wat dit behendig aanwend. Ook Ilse van Staden gebruik dit slim.
Name wat beslis uitgesonder moet word, en ja, dit is my
persoonlike gunstelinge, is Melt Myburgh met sy goeie reeks oor Lorca en
'n pynlik-ontoerende vers oor 'n vader
se selfmoord.
En Bernard Odendaal se knap vormbeheer. Sarina Dönges is
eweneens 'n ster en Hans Pienaar se gedigte laat 'n mens diep nadink.
En Jelleke Wierenga het dit as digter.
Tweehonderd digters het bydraes ingestuur en hierdie oes
is werklik ryk. Dit is 'n genotvolle ervaring om sulke uiteenlopende en goeie
stemme in een bundel raak te lees. Die redakteurs het hul uitstekend van hul
taak gekwyt. Daar is iets nuuts aan die gebeur in die Afrikaanse digkuns.
Hierdie bundel bewys dit.
Hier is die bloedoortapping waarop ons so lank gewag het.
En gendadesydank is ons die anoreksiese bundel gespaar waar 'n paar goeie verse
deur soveel swakkeres verminder word.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]