Showing posts with label Vertaling. Show all posts
Showing posts with label Vertaling. Show all posts

Monday, October 10, 2016

Anna Enquist - Arsenaal van klank (2016)


Anna Enquist - Arsenaal van klank. (Vertaal deur Zandra Bezuidenhout). Protea Boekhuis, 2016.  ISBN:  978-1-4853-0604-7

Resensent: Joan Hambidge

Ofskoon Nederlands of Vlaams na aan Afrikaans lê, is dit vir die meeste lesers moeilik om te begryp.

In Afrikaans het Daniel Hugo, Lina Spies en Zandra Bezuidenhout, om ’n paar name te noem, geweldig belangrike werk gelewer om tekste in hierdie tale vir die gewone leser oop te maak. En dan is daar Alfred Schaffer wat weer Afrikaans na Nederlands transporteer.

Anna Enquist se Arsenaal van klank, vertaal deur Zandra Bezuidenhout, bevat benewens die Afrikaanse vertaling ook die oorspronklike Nederlands.

Die leser kan dus vergelykend lees of gewoon net die Afrikaanse weergawes ­geniet. Vertaalde gedigte moet immers op hul eie terme getakseer word.

En as dit gewoon as Afrikaanse gedigte getakseer en beoordeel word, is dit ’n wonderlike bundel. Kom ons val met die deur in die huis.

So dig Anna Enquist in “Habanera”:

Die verse is so woes uit die bodem
getrek dat hulle nog lank na-gekraak het.
Toe het die letters soos as in die sneeu ­gelê
en nie meer beweeg nie. As iemand hulle
aanblaas het hulle effens opgevlam: ou vuur.
Daar was ’n kind. Met haar het ek
deur die kamer gedans, ons het van hoek
tot kant galop, ons het luidkeels ’n lied gesing.
Sy het ’n warm gesig gehad. Sy was my dogter.
As ek asemhaal, vonk sy na in die gedig.

Onmiddellik is die leser binne die ruimte van die gedig wat verlies navigeer.

Die dood van haar dogter in ’n motorongeluk is algemeen bekend, ofskoon die gedigte uiteraard ook ander verliese aanroer.

Anna Enquist is die skrywersnaam van die Nederlandse digter en prosaskrywer Christa Widlund-Broer, opgelei in sowel die psigoanalise as die musiek.

Haar gedigte het ’n nugterheid wat herinner aan die gedigte van Elisabeth Eybers.

Wanneer die leser begin torring aan spesifieke woorde in die gedigte en sinonieme of antonieme soek, word die gedig met nuwe betekenisse gelaai.

So klink die eerste strofe van “Smaak”:

Die gedig wat spreek van goeie smaak
kies woorde met ’n dubbele bodem,
beskeie binnerym, beeldspraak
binne perke. Maak hom groot
op ’n regime van stylfiguur
en stukrag, dan groei hy
met oorleg, slank van bestek.
Dan skryf sy verder:
My gedig vreet hom vol
aan rommel. Moenie, sê ek,
daardie bitter oorskiet, daardie armsalige
rantsoen verorber nie. Maar die vers
bars uit die stywe gordel
van die reëls en smyt hom
op die bladsy, voor my oë.

Hierdie ironiese spel met die reëls van die digkuns maak die verse besonder interessant vir hierdie leser. Die digter dekonstrueer daardie voorskrifte en die regime van stylvoorskrifte, maar uiteraard is haar verse nooit onbehendig of bereik dit rommelstatus nie. Inteendeel.

Alles word netjies saamgevoeg en bymekaargehou, soos dit van hierdie dubbelspel vereis word.

En daar is inderdaad ’n “arsenaal van klanke” wat die vertaler goed oordig na Afrikaans.

En hierdie “dubbelspel” is so bekend in Eybers. En die stiltemotief loop soos ’n swart draad deur veral vrouedigters se werk: ’n Mens dink aan Heilna du Plooy wat probeer om daardie stilte op te skort.

Klank en stilte. ’n Mens kan deurgaans hierdie opposisie raaksien in hierdie bundel wat met ’n besondere balans tussen emosie en suggestie voor jou op die bladspieël afspeel.

Die digter is ’n fyn waarnemer van die huwelik, van vrouwees en skete.

Soms is sy ’n pretbederwer soos sy in “Sprokie” dig:

Ek, pretbederwer, pessimis, vreemdeling,
skryf snags met my geheime ink:
storms dryf my voort, die pad loop dood.

Ook gendersake en die spanninge tussen man/vrouwees, word uitstekend verwoord.

Boonop is daar lieflike beelde in hierdie bundel (“Mis vly neer soos ’n laken / die frambose is so groot soos kabouterkoppies”).

’n Arsenaal – soos ’n wapenopslagplek – word hier gebruik op ’n interessante manier. Taal en klank as iets waarmee jy jou verset, stelling- of standpuntinname teen pyn, desillusie, veroudering . . .

In “Julie” word hierdie subtiele spel met o- en y-klanke uitgespeel; met die spreker wat in ’n ysvlakte vasgevang is.

Dank aan Protea wat telkens ’n belang­rike vertaling aan die Afrikaanse leser ­bekendstel.


Dit is ’n bundel wat op elke digkunsliefhebber se rak hoort.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Sunday, November 30, 2014

Octavio Paz - Tussen gaan en bly

Octavio Paz © Alberto Garcia

Tussen gaan en bly

Tussen gaan en bly weifel die dag,
verlief op sy eie deursigtigheid.

Die sirkulerende namiddag is nou ‘n hawe
waar die wêreld in stilte beweeg.

Alles is kenbaar en ontwykend,
alles is naby en onaanraakbaar.

Papier, boek, potlood, glas,
rus in die skadu van hul name.

Tyd wat in my slape klop, herhaal
dieselfde onveranderbare sillabe van bloed.

Die lig verander die ongeërgde muur
in ‘n spookagtige teater van afskynsel.

Ek bevind myself in die middel van ‘n oog,
kykend na myself deur ‘n ondeursigtige staar.

Die oomblik breek. Bewegingloos,
bly ek en ek gaan: ek is ‘n ruspose.

Octavio Paz
(Vertaling Joan Hambidge)

Thursday, January 23, 2014

Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman - vertaal deur Johann de Lange (2013)



Die beste verhale en humor van Herman Charles Bosman. 'n Keur deur Craig Mackenzie en  Stephen Gray, vertaal deur Johann de Lange. Human & Rousseau. ISBN 978-0-7981-6446-7/ISBN 978-0-7981-6447-4 (epub)/ISBN 978-0-7981-6448-1 (mobi)
Resensent: Joan Hambidge

In my hoërskooljare had ons 'n Engelse onnie wat vir ons Bosman voorgelees het. Met sy voete uitgestrek op die lessenaar voor hom het hy ons jong Afrikaanse kinders voorgestel aan die unieke vertelkuns van Herman Charles Bosman. So het hy nie alleen jong kinders vir die beste van Bosman gewen nie, maar het hy ook op die spel tussen Engels en Afrikaans aan ons voorgestel. En ons attent gemaak op die ironieë in sy verhale. Nou nog kan ek Patrick Mynhardt se vertolkings onthou en hoe ons in die saal gelag het vir sy  begeesterde vertolking van "A Bekkersdal marathon".

Sopas het Johann de Lange Bosman getransporteer van Engels na Afrikaans, pragtig uitgegee deur Human & Rousseau. The best of Bosman - daardie klassieke keur van Craig Mackenzie en Stephen Gray.

De Lange is 'n kranige vertaler. Besoek gerus sy blog Kaapse paragrawe. Hy begryp dat die vertaler ook die oorspronklike vorm moet eerbiedig. 'n Sonnet moet 'n sonnet bly; 'n distigon 'n distigon.

In die voorwoord vind die leser die volgende handige biografie:

Herman Charles Bosman is gebore in 1905 in Kuilsrivier naby Kaapstad. In 1916 het die familie na die Transvaal getrek, waar hulle hulle eers in Potchefstroom en daarna, in 1918, in Johannesburg gevestig het. Nadat hy aan die Universiteit van die Witwatersrand en die Normaalkollege gestudeer het, is Bosman as ’n jong onderwyser gestuur na ’n plaasskool naby Zwingli in die Marico-distrik, van wat toe die Wes-Transvaal was. Dit was daar dat hy ’n gemeenskap ryk aan storievertellers teëgekom het – baasvertellers wat wonderbaarlike stories oor die Boereoorlog en ander onvergeetlike gebeure kon vertel.
Hy sou hierdie figure later verewig in sy eie oom Schalk Lourenskarakter. Sy verblyf in die Marico is skielik beëindig toe hy gearresteer en skuldig bevind is aan die moord op sy stiefbroer tydens ’n vakansie by die familie se huis in Johannesburg. Aanvanklik is hy tot die dood veroordeel, maar sy vonnis is versag en hy het vier jaar uitgedien in die Pretoria Sentrale Gevangenis.
Ná sy vrylating in 1930 het hy as joernalis begin werk en kortverhale begin skryf. Van sy vroegste werk was oom Schalk Lourens-verhale, wat hy deurgaans geskryf het tussen 1930 en 1951, die jaar van sy dood. In 1950 het hy die “Voorkamer”-reeks begin skryf, en het altesaam ongeveer 80 van hierdie stukke geskryf. Hy het ook sporadies stories geskryf wat hy in sy eie stem, as skrywer, aangebied het; hierdie stukke is in 2000 versamel as Old Transvaal Stories. Al drie hierdie vertelmodusse word in hierdie keur verteenwoordig.
Bosman het in Oktober 1951 skielik aan ’n hartaanval gesterf. Hy het slegs drie van sy werke in sy leeftyd in druk gesien: Jacaranda in the Night (1947), Mafeking Road (1947) en Cold Stone Jug (1949), sy tronkherinneringe.

Die voorwoord situeer die verhale ook vir die leser: die Oom Schalk Lourens-verhale, die voorkamerstories en dan die laaste verhale waarin 'n skrywer as die verteller optree. Daar word ook verwys na die distillaat van die mondelinge tradisie en iets wat hierdie talentvolle skrywer baie goed kom saamsnoer in sy eie aanslag. Die boereverhaal - boeregrap - is dan ook iets wat Bosman gebruik en Aucamp se "Vir vier stemme" (Volmink, 1981) is duidelik in gesprek met hierdie tradisie waarbinne Bosman gewerk het. Anekdote, kroegverhaal, "tall story" en geskiedenis word op 'n gesofistikeerde wyse aangebied vir die leser - wat Bosman tereg modern maak. Soos Mackenzie dan opmerk:

Bosman se stories neem hierdie hele greep geskiedenis in. Sy verdieping in sy agterveldse inkleding is dus slinks bedrieglik: Sy karakters is takhare, maar hul boerse wysheid en hul skepper se vermoë om hulle tydlose kwaliteite te gee, maak dat die stories wat hulle vertel vandag nog geldig is. Bosman se blywende gewildheid vir meer as ’n halfeeu is veelseggende bewys hiervan. Mag hierdie keur van sy beste verhale sy gewildheid nog baie jare laat voortleef.   (14)

*

Die vertaling van 'n teks behoort altyd die "grein van die stem" te behou, daardie relevante term van Roland Barthes.

"Makapan se grotte" - met sy politiek-inkorrekte aanslag en oordrywing - hou 'n mens gevange. Jy kan nie glo wat jy hier lees nie en hoe jy as leser ingesleep word by 'n komplekse verhaal wat die geskiedenis (Kruger en die Trekkers) aktiveer en die rassepolitiek van die tyd. Hoe swartmense saamgeveg het. In die navrante slot - wat besonder goed deur die inleiding voorberei word, ruk Bosman as't ware die stoel onder jou uit. Dit is 'n "buddy"-verhaal en die herkenning teen die einde, ruk aan 'n mens se hart en strot.

'n Goeie prosavertaling vloei. Die teks ruk nie. Dit is nie 'n letterlike vertaling nie en die vertaler transporteer die verhaal van een taalsisteem na 'n volgende. Dit moenie soos 'n melktrein wees nie; nee, eerder die sjinkansen wat blitssnel van een stasie na die volgende beweeg. Wanneer 'n mens die bronteks met die nuweteks vergelyk, kom jy onder die indruk van De Lange se talent as vertaler. Hy hou die leser in die palm van sy hand. Jy lees 'n vertelling en jy hoor dit en ek het een van sy stories vir 'n vriend hardop voorgelees om my punt te bewys.

Die leser word inderdaad deel van die vertelkontrak:

Dit het alles natuurlik baie lank gelede gebeur, sê ons vir mekaar in Jurie Steyn se poskantoor. Deesdae is die Marico baie anders, sê ons vir mekaar. Daardie ou boere het nie die voordele gehad wat ons vandag geniet nie, sê ons. Daar was geen Afrikanerbeestelersvereniging in daardie dae nie, selfs nie die Dwarsbergvarktelersvereniging nie, en jy sou nooit ’n voortuin met flappe gesien het nie – trouens jy sou geen voortuin hoegenaamd gesien het nie (130).

Johann de Lange se vertalings van Bosman is in die kol. Ek hoor nog steeds meneer Scholtz se dralende stem en sy lagbuie.

Wat 'n skrywer was / is hy nie en wat 'n puik stuk vertaling.

Bronne:

Roland Barthes. 1977. Image-Music-Text. New York: Hill and Wang.


Boeke deur en oor Herman Charles Bosman:

Mafeking Road and Other Stories: Anniversary Edition (1998)
Willemsdorp: Anniversary Edition (1998)
Cold Stone Jug: Anniversary Edition (1999)
Idle Talk: Voorkamer Stories I: Anniversary Edition (1999)
Jacaranda in the Night: Anniversary Edition (2000)
Old Transvaal Stories: Anniversary Edition (2000)
The Rooinek and Other Boer War stories (2000)
Verborge Skatte: Anniversary Edition (2001)
Seed-time and Harvest and Other Stories: Anniversary Edition (2001)
A Cask of Jerepigo: Anniversary Edition (2002)
Unto Dust and Other Stories: Anniversary Edition (2002)
My Life and Opinions: Anniversary Edition (2003)
Young Bosman: Anniversary Edition (2003)
Wild Seed: Anniversary Edition (2004)
Homecoming: Voorkamer Stories II: Anniversary Edition (2005)
Life Sentence: A Biography of Herman Charles Bosman, deur Stephen Gray (2005)
The Complete Oom Schalk Lourens Stories (2006)
A Bosman Companion: from Abjaterskop to Zwinglideur Craig MacKenzie & Tim Sandham (2011)
The Complete Voorkamer Stories (2011)


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van FineMusicRadio geplaas.]

Friday, April 19, 2013

Alfred Schaffer - Kom in, dit vries daar buite (Vertaal deur Daniel Hugo) (2013)



Alfred Schaffer. Kom in, dit vries daar buite. (Vertaal deur Daniel Hugo) Protea Boekehuis, 2013. ISBN 978 1 86919 912 8.

Resensent: Joan Hambidge


Die volgehoue gesprek met die Ander

Daniel Hugo is ‘n gesiene vertaler van Nederlandse digters. Vir my is Hugo en Johann de Lange se vertalings presies hoé ‘n goeie vertaling daar moet uitsien. Op sy Kaapse paragrawe, sy blog, illustreer De Lange die werkswyse van die goeie vertaler: vorm en inhoud word één. As die digter ‘n sonnet skryf, moet jy die gedig in die sonnetvorm behou. Daniel Hugo begryp hierdie werkswyse ook. Hy het vir ons Herman de Coninck, Gerrit Komrij, Rutger Kopland, o.a. vertaal (behalwe vir sy uitstekende prosa-vertalings) en nou het hy die jong, dog vaardige digter, in ‘n seleksie byeengebring. Hugo is self ‘n punteneurige digter, sterk ingestel op vormbeheer en sillabes, wat kennelik getel is.

As jong en veelbekroonde Nederlandse digter bevind Schaffer hom in Suid-Afrika. Hy het jare terug ‘n rubriek behartig in Die Burger oor ons digkuns en dikwels met ‘n blik-van-buite interessante, maar soms ook omstrede uitsprake gemaak oor die digkuns. Maar hierdie soort kontensie is goed vir polemiek en hou die digters op hulle tone.

Schaffer skryf ‘n besonder boeiende soort gedig. Hy spreek ‘n “jy” of ‘n tweedepersoon aan – ons, die lesers, word dan sáám met die intiem-aangesprokene, daardie jy.

Die gedigte word gekenmerk deur ‘n vreemde mengsel van gewone, alledaagse beelde wat dan vermeng word met die aweregse blik of onkant-beeld soos in “Exit muse” (95). In hierdie vers word die geliefde-as-muse gelykgestel aan die gedig: ”Eindproduk van breedvoerige sinne”. Die gedigte is dikwels verhulde ars poeticas of te wel, gedigte-oor-die-digproses, soos “Impasse” (93). Die assosiasies tussen ‘n afspraakboek, die lewe op Mars (gesien op televisie) en ‘n pelgrimstog aktiveer die spel tussen werklikheid en verbeelding. Ook in hierdie gedig is die leser (die jy!) nie altyd seker wanneer die oorgang presies gebeur het nie.

Die gedig “die tyd laat ons koud”, vir die vermoorde Lisbé Smuts, is hartgrypend.

Die slotwoorde:

“maar ek is nie meer dieselfde nie en ewemin is ek jy. En daar kom die verdriet” (67),

problematiseer die verhouding tussen die persone, een lewend; die ander een oorlede.

Beide is deur die proses verander; iets wat nooit weer reggestel kan word nie.

“A love supreme” (65) werk met die Hoofse liefde en hoe moderne liefdesgedigte te familiêr geword het. Hierdie slim toespeling maak die gedig besonder interessant.

Die leser wat die moderne Nederlandse digkuns ken, sal verdere toespelings en intertekste kan raaklees. Op die agterblad word daar verwys na die “oorrompelende direktheid” en hoe die digter taal in sy vreemdheid laat funksioneer. Dit is natuurlik die waarmerk van die ware digter: om die klip klipperiger te maak. ‘n Ander kritikus verwys na die “koel, observerende oppervlakte en daaronder ‘n borrelende emosionaliteit”. En dit is presies hoe dit is. Met elke lees, sien jy iets wat bedreig, ontstig, seermaak – jy word ingenooi van buite na binne. Van die koue, vriesende landskap na die ruimte van die gedig: “Voorbeeld van ‘n besluit” (37) illustreer al hierdie kwessies wat Michael Riffaterre in sy Semiotics of poetry (Methuen, 1978) beskou as die interpretant van die gedig. Daardie teken wat die teks se oppervlak-tekens dra en verduidelik. In elke gedig is daar so ‘n teken wat al die ander tekens dan “verhelder”.

“Die dagbreek stol in sigbaarheid” (53) illustreer dit:

“‘n Dik rooi spoor verklaar sy tog in minute of dae.”

Die digter is besonder verbeeldingryk en sy vermoë om paradoksale toestande saam te dig, is aanskoulik.

Daar is ‘n setfout: mesdom in plaas van mensdom (101)

Dit is ‘n belangrike bundel vir alle poësieliefhebbers.Die digter het in pas in 2000 gedebuteer met Zijn opkomst in de voorstad, maar al diep spore getrap in die landskap van die digkuns. Vir my is hy ‘n moderne Lucebert.

Die gesprek met die ander (die jy) en die ewige gesprek tussen Afrikaans en die oorspronklike teks, maak van hierdie bundel ‘n uitdaging vir die leser.

Kom gerus in, Alfred Schaffer. Dit vries nie hier by ons nie.

Die situasie teen sluitingstyd

In die vlak deel van die swembad blaas ‘n man
klein wolkies in die aandlug.
‘n Paar meter verder omhels ‘n seun en meisie mekaar
vir die eerste keer – hulle skuur saggies met hul onderlywe,
hulle wil dans in ‘n nagklub, liefs tot die volgende oggend,
onder water na mekaar toe swem
en mekaar vasgryp soos wat hulle dit eenkeer in ‘n film gesien het.
Of waai en roep na die intens starende man
wat lyk of hy hom skielik bedink en maak of hy
versigtig uit die swembad klim noudat die trappelende bene
van die twee verliefdes allerlei vorms begin aanneem
in die voortdurend bewegende water.


Narkose

Die koffers in die gang die kaste leeg die vensters toe
ek wil nou niks meer hê nie. Hoe lank was ek weg
dae weke ‘n sekonde. Ek is lief vir jou dwaal soos
‘n mantra deur my kop die maan ‘n erfstuk
so naby ek kan met albei hande daaraan raak.
Drie hoera’s vir hierdie weersien, vir die sirkuswiel
vas langs die see ingeplant, die neonvrolikheid my teddiebeer
wat ek in die skiettent gewen het met net een probeerslag.
Ek het die diertjie warm gehou onder my baadjie, ‘n gryns
op sy gesig gestik – as ek hom sou oopsny
en watte uitpeul by die maag die rug die kop, sal hy aanhou
lag, stil en stug. Die nag het my ingehaal op pad terug
die lampe langs die kusweg soos ‘n string pêrels
‘n genadige gids, ‘n felle lyn elektriese lig.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]