Showing posts with label Johan van Wyk. Show all posts
Showing posts with label Johan van Wyk. Show all posts

Saturday, March 16, 2013

Johan van Wyk - Gesig van die liefde: Ingrid Jonker (1999)



Johan van Wyk. Gesig van die liefde: Ingrid Jonker. Privaat uitgegee, 1999. ISBN: 0 947445 44 5.

Resensent: Joan Hambidge

I.

Toe Ted Hughes se The birthday letters verlede jaar verskyn het, is die Engelse letterkunde weer opnuut bewus gemaak van die pynlike verhouding tussen hom en Sylvia Plath. Johan van Wyk het in sy studie oor Ingrid Jonker ons vir die eerste keer in die Afrikaanse letterkunde attent gemaak op die biografie as teks en waar teks ten einde gelees moet word as die grafskrif of epitaaf. Die teks Ingrid Jonker, Sylvia Plath, Anne Sexton, Marina Tsvetajeva is die geboorte- tot en met die sterftedatum.

Ofskoon dit 'n fassinerende teksverskuiwing tor gevolg het, veroorsaak dit egter ook probleme wanneer die geskrewe teks benader word. Is dit goeie gedigte of is dit gewoon deur die kultusstatus van die digter tot Grootse Poësie verhef?

Was Ted Hughes reg om die stilte te bewaar oor sy vrou se dood tot en met die grootse laaste bundel - 'n bundel wat so diep droef is dat 'n mens instinkmatig weet dat hy hierna moés sterf- of moes hy jare gelede al die stilte verbreek het? Niemand kan sulke pynlik-eerlike gedigte oorleef nie. Nie eens die aardse boer en skrynwerker-digter nie. Daar was ook net te veel spekulasie en psigobabbel deur al die jare heen. Hieroor skryf Janet Malcolm insiggewend in haar studie The silent woman.

Sy meen dat elke storie/mite/teorie/geskiedenis net 'n teks is wat 'n fasset openbaar. Maar die werklike finale Sylvia Plath sal ons nooit ken nie. Ten spyte van Hughes se suster se stellighede en vorige standaard-biografiese studies wat dikwels as gesaghebbend geparadeer het. 'n Mens dink ook aan die Letters home  en die vele geredigeerde dagboeke. Was dit om die kinders te beskerm of alles ter wille van Hughes se selfbelang? Ook publiseer die dogter, Frieda twee jaar gelede 'n digbundel. Niemand kan  egter besluit oor die gehalte nie, omdat die skadu's van die twee ouers oor haar gloei.

Tog is dit interssant dat die verikonisering van Plath deur die jare plek gemaak het vir 'n meer krities-afsydige blik. Die feministe mag haar steeds aanprys, maar al hoe meer studies gee 'n meer gebalanseerde blik op die komplekse verhouding tussen Plath en Hughes. Kortom, The birthday letters het die bordjies verhang. Vanf A. Alvarez se fassinerende inleiding in sy studie tot selfmoord The savage god waar Plath se dood die inleiding vorm tot laasgenoemde bundel het daar 'n duidelike perspektiefverandering, eintlik kentering plaasgevind. Plath is nie meer die stil slagoffer nie.


II.

Plath, Jonker en Anne Sexton se poësie het my nog altyd geboei en oor aldrie se lewens het ek oor die jare heen gedigte geskrywe. Interne verhuising bevat 'n reeks oor Plath en Jonker lê versprei in vele bundels. Sowel as digter as teoretikus vind ek hierdie digteresse interessante 'toetsgevalle'. Johan van Wyk se doktorale proefskrif van 1986 Die dood, die minnaar en die oedipale struktuur in die Ingrid Jonker-teks had 'n belangrike invloed op my denke.

Hierom dan is Van Wyk se studie onontbeerlik vir ons kritiek. Sy proefskrif - my kopie in los blaaie! - het deur die jare al voosgevat geraak en hierdie leser is in die besonder dankbaar vir die publikasie, weliswaar self uitgegee.

Van Wyk verwys (onnodiglik) selfverminderend na die studie, wat net R30, 00 kos, as 'n boekie, en hy publiseer net die biografiese gedeelte, omdat dit die gewone leserspubliek interesseer. Jonker is inderdaad gekanoniseer (Mandela het immers "Die kind" in die parlement voorgelees) en jong lesers is gaande oor haar digkuns. ('n Mens moet egter nou ook nie die gewone leser se kennis oorskat nie. So het iemand een aand in 'n kroeg vir my gevra: "Wat is nou weer die naam van daardie digteres wat by Drieankerbaai verdrink het? O ja, dit was mos Antjie Krog.")

Persoonlik vind hierdie leser dit jammer dat Van Wyk nie die hele studie gepubliseer het nie. Daar verskyn bittermin teoretiese studies in boekvorm en die miljoene bloedlose artikels in tydskrifte gaan dikwels verlore. Of is net agter subsidie-erkenning aan geskryf.


III.

Johan van Wyk noem haar "digter van die miskendes". Hy skryf: "Haar poësie is onopgesmuk. Onder haar gedigte is van die mooiste evokasies van die liefde, van die kinderdae en van die misterie van die dood." In 112 bladsye kry die leser 'n helder blik op haar lewe en minder bekende feite soos die moeder se onstabiele geestestoestand word bekend gemaak. NALN is duidelik geraadpleeg en selfs manuskripte word met vers en kapittel betrek.

Johan van Wyk en die promotor André P. Brink se perspektief word gegee op die figuur-Ingrid Jonker.  Daar was egter ook 'n ander Jonker; nes 'n ander Plath. Beide digters was ook bekend vir hul selfsug en bitsigheid. Nou ja, groot digters is nie noodwendig groot, kompassievolle of selflose wesens nie en diegene wat die digter se oeuvre aan die digter as mens gelykstel, kan sigself nogals vasloop.

Na 'n digter se dood - veral as dit tragies was - is die eerste reaksie verikonisering. Die digter word ikon; die gedig reliek en die kritiek bewieroking. Alles is oorsaak en gevolg; omdat en opdat.

Johan van Wyk kyk ook deur hierdie bril na Ingrid Jonker en nou weet die teoretikus dat dit haas onmoontlik is om digterlike kaf van digterlike koring te skei met so 'n invalshoek.

Die studie lees vlot, ofskoon Van Wyk soms moeilik en lomp formuleer. Estetika is nie sy eerste uitgangspunt nie, maar eerder 'n psigoanalitiese cum biografistiese speurtog - wat die Kannemeyers en ander ou snare die piep sal laat kry - word verkies.

Maar gun elke diertjie syn kritiese plesiertjie. Daar is tersaaklike inligting (my studente gaan beslis die boek moet aanskaf vir die kursus Die teks as wond).

Van Wyk betrek ook my gunstelingteoretikus oor die poësie, Harold Bloom wanneer hy skryf oor die digter se versugting na ewigheid en onsterflikheid. Daar word ook verwys na haar sosiale gewete.

Sy was duidelik nie 'n besielde skolier nie en haar skooluitslae was uiters swak met 'n G vir Aardrykskunde! Sy is dikwels ook haar netheid en opstandigheid betig. Hier kan 'n mens dink aan die feit dat Emily Dickinson eweneens nooit die tyd tot en met oedipalisasie kon lees nie.

Die invloed van D.J. Opperman word deeglik onder die loep geneem. Sou die gedigte dalk daar anders uitgesien het sonder die mentor se raad? In 'n brief na die verskyning van die eerste bundel, het hy baie besware wat 'n mens laat besef dat hy tog nie werklik as mentor fungeer het nie. Hieroor sou 'n mens beslis meer kon skryf. Waarom nie?

Vir my persoonlik is die fassinerendste gedeelte die verhouding met die pa en sy reaksie met die nuus van haar dood. Hier, en soos die moeder se slopende geestesiekte, lê die sleutel vir vele van Jonker se probleme. Ook dit word nie naastenby genoegsaam ontgin nie, veral gedagtig aan 'n seminale studie soos Eileen Simpson se Poets in their youth wat 'n verheldering gee van die redes vir die selfmoord van John Berryman en 'n hele tydgenootlike literatuurtydperk in die VSA vir die leser verduidelik.

Na die lees van hierdie studie begryp 'n mens ook Delmore Schwartz se digkuns en die redes vir sy tragiese dood. Ook word die romantiese agonie van 'n gedig soos "In dreams become responsibilities" glashelder en die vroeë kreatiewe stulping verduidelik.

Die redes vir Jonker se selfmoord was banaal. Onder meer het finansiële probeme 'n rol gespeel en sy sou haar woonstel moes verlaat het teen die einde van die maand. Moontlik kon Johann de Lange se gedig oor Jonker hier geplaas word: want wie het Ingrid Jonker vermoor?  Dalk dan eerder wat het haar dood gemaak?

Jonker se afwysing van die kleinlike, bloedskendige Afrikaanse bedryf laat 'n mens ril en wonder hoe sy die nou eers benoude bedryf sou ervaar het?


IV.

Miskien het dit haas tyd geword vir 'n ander perspektief op Jonker se poësie - 'n soberder en meer kritiese interpretasie. Nie noodwendig grafskending nie, maar iets meer gedistansieerd. Maar dit verminder nie Johan van Wyk se bydrae wat 'n eerste in Afrikaans was nie.

Hoewel die boek self uitgegee is, lyk dit mooi en kan dit van bostaande adres bestel word.


Bibliografie

Alvarez, A.: The savage god.A study of suicide. Penguin, Londen. 1979.

Hambidge, Joan: Interne verhuising. Perskor, Johannesburg. 1995.

Hughes, Ted: The birthday letters. Penguin, Londen. 1999.

Malcolm, Janet: The silent woman. Papermac, Londen. 1993.

Plath, Sylvia: Letters home. Penguin, Londen. 1999. Derde uitgawe.

Simpson, Eileen: Poets in their youth. Picador, Londen. 1992.


Tuesday, March 12, 2013

Johan van Wyk - My name is Angel CD (2001)



Johan van Wyk. My name is Angel. CD. Privaat uitgegee. 2001.

Johan van Wyk beklee 'n unieke posisie in die Afrikaanse digkuns. Mede-digters is uitgesproke bewonderend oor sy werk, terwyl die kanoniseerders hom nie na waarde skat nie. Sy jongste toevoeging is My name is Angel but I'm not from heaven in any way (op CD-Rom) in navolging van sy Litnet-rubriek "Gillespie slenters".

In 'n Bukowski-praatstyl word die wel en wee (en veral wee) van die naglewe gegee: prostitute, dwelms, Vigs, verraad, uitsigloosheid, die dood...

Almal leef hier vir die oomblik in die kloaak van Durban digby die Addington hospitaal. Van Wyk vertel sy stories. Eintlik, hy dra dit voor in 'n anti-styl: 'n growwe praatstyl vol uitspraakfoute asof hy hoog is. Die professor-as-hobo word daar skalks vermeld.

Hoë letterkunde word opsetlik debunk in hierdie skrynende vertellings waar die pyn net-net onder die oppervlak loer. Dit is wonderlik om die skrywer se stem te hoor en die bewonderaars van sy rubriek sal hierdie vertellinge des te meer geniet.

Onlangs het die skrywer in 'n onderhoud vertel dat sy invloede Europees is. 'n Mens sou kon byvoeg: ironies genoeg ook Amerikaans en Afrika-gerig. Hunter S. Thompson se Fear and loathing in Las Vegas praat ook hier saam nes die groot guru van die marijuana-kultuur, Allen Ginsberg nie misgekyk kan word nie.

En die orale tradisie van Afrika is ook hier aanwesig in die aanbod.

Dikwels is die aanbod intens-persoonlik soos "Letter to Luisa" en hartooprukkend.

"Sy slaap naak" (uit Deur die oog van die luiperd) is ook 'n geleentheid om Neil Goedhals te hoor.

Dit is 'n wonderlik luisterbare stuk vertelling. Waarskynlik nie een wat ons 'ol'e fogies' sal plesier nie, maar beslis 'n belangrike bydrae van 'n puik digter en Ingrid Jonker-kenner.

Die CD-Rom se klank is nie altyd ewe goed nie en die produksie in die geheel is beslis nie professioneel nie; maar dit is waarskynlik juis wat beoog was.

Bestel by: jvanwyk@pixie.udw.ac.za

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Saturday, February 9, 2013

Johan van Wyk - Man Bitch (2001/2006)



Johan van Wyk. Man BitchSelfpublikasie, 2001/2006. 
Durban 2006  

Resensent: Joan Hambidge

Daar bestaan by my geen twyfel nie dat Johan van Wyk van die opwindendste gedigte in die tydperk van sewentig en tagtig geskryf het. Hy het punk verstaan lank voordat enige persoon hier te lande begryp het wat dit is. Die komiekstrip het hy saam met Rina Sherman in Stet beoefen met die onvergeetlike opmerking van ‘n karakter wat na die Voortrekker-monument kyk en opmerk: "Ek hou van die Sfi-fi-kwaliteit van Pretoria in die aand.”

Hy het ‘n grensverskuiwende studie oor Ingrid Jonker geskryf en die liggaam van die teks anders definieer: die teks Ingrid Jonker beweeg tussen haar geboorte- en sterftedatum het hy opgemerk. Jy kan eenvoudig nie oor Jonker skryf sonder om hierdie baken in ag te neem nie. Net soos wat hy die intertekstuele verbintenis tussen skilderteks en gedigteks in Heldedade kom nie dikwels voor nie op ‘n nuwe wyse deurgrond het. Digters gaan nooit werklik weg nie. Hulle staan op uit die dode: Casper Schmidt het skielik teruggekeer in By en Johan de Jager gooi ‘n draai in ‘n nuwe Afrikaanse roman. En ons wag op ‘n nuwe Van Wyk-bundel met die wete dat dit werklik belangrik en rewolusionêr sal wees, omdat hy volledig buite die voorskrifte van die Afrikaanse digkuns werk. Sy bome gaan dood op ‘n punk-wyse; sy metafore gloei in stille heldedade.

Sy jongste selfpublikasie wat in gesprek tree met die heerlike Gillespie-slenters wat destyds op Litnet verskyn het, heet: Man Bitch.

Soos by Bukowski word die hardepad-lewe van die onderwêreld beskou. Die slotsin sal menige stoere pruik afruk en hierdie boek wat jy van die outeur kan bestel, gooi dekorum by die voordeur uit. Ons onthou die skrywer se slenters in Gillespie-straat: die professor in kultuurstudies aan die Universiteit van Durban-Westville wat saans navorsing doen in die hoerebuurt en sonder skroom vertel wat hy sien en beleef. En veral beleef.

Werklikheid word bo fiksie verhef. Ons verneem van 27 Oxford House in Gillespiestraat, Durban, van “adult video”-winkels, van die Four Seasons Hotel – van die gatkant van Durban as jy wil.

Daar is prostitute, pool word gespeel en die meeste mense leef op die rand van die samelewing, omdat hulle self vertrek het uit Londen of deur die gemeenskap verwerp is. Hulle is sowel van die verre buiteland as van Mosambiek of Swaziland.

Daar is Luisa.

Daar is Mbali.

Daar is harde, meedoënlose seks. Met kondome. Geen genade. Geen emosie. Vigs. En ander siektes.

“Oop en buite bakens is die pyn” het Van Wyk Louw geskryf. En dit is presies wat hier gebeur. daar is geen vesting of baken nie. Die karakters is almal uitgelewer aan die wreedhede van “dirty realism” en die leser voel hier ‘n hartklop van die werklikheid.

Hierdie roman (of dalk kortverhale wat ook as ‘n roman gelees kan word?), word vir die leser onthutsend, omdat die spreker / fokalisator / verteller meer verwag as wat die mense rondom hom vir hom kan gee. Hy trek geld vir hulle, hy wag op Luisa om te bewys dat sy werklik omgee – terwyl jy as leser kan sien wat aan’t gebeur is.

Tsotsi’s – die verteller se woord – steel sy selfoon.

Hy reis na Mosambiek, maar Luisa is klaar met hom.

Hy keer terug na sy ouers in die Vrystaat – hier word dit hortend vertel – asof hy iets terughou vir leser en moet gewoond raak aan sy nuwe beeld. Genoeg verklap.

Onthou: dis soos by Bukowski.

Of Hunter S. Thompson.

Op sy belangrikste is dit ‘n tydsdokument oor ‘n verloopte samelewing. Wat is feit? Wat is fiksie? Of is dit faksie? Of ontwerp hy ‘n nuwe leesmodel soos vir Ingrid Jonker waar hy eerste opgemerk het dat jy nie die gedigte sonder die lewe kan lees nie?

Niks kom egter by die digter nie.

Hopelik is daar binnekort weer ‘n bundel beskikbaar en ek koester die versameling wat die digter self uitgegee het.

Bestel van Johan van Wyk, 22 McArthurstraat Fichardtpark, Bloemfontein 9301.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]