Showing posts with label 2007. Show all posts
Showing posts with label 2007. Show all posts

Friday, April 5, 2013

Reisjoernaal: Machu Picchu en die argeologie van lees (2007)




I.

Die leesproses word vir my toenemend ’n magiese, huiwerende proses met die onderskrywing van “sluimerende betekenisse”, om NP van Wyk Louw aan te pas. Dit is algemeen bekend dat Sigmund Freud uitermate belang gestel het in die argeologie, en ’n besoek aan sy huis in die Berggasse in Wenen beklemtoon dit. Hy het artefakte versamel en dit bykans op ’n fetisjistiese wyse uitgestal.

In die leesproses – as dit psigoanalities benader word – is die leser besig met ’n argeologiese proses. Jy “ontdek” deur lae van die bewuste en onbewuste te beweeg ten einde by die finale betekenis uit te kom. Of dan ten minste by die illusie van ’n finale betekenis.

Ten einde hierdie proses te illustreer het die outeur twee besoeke aan Machu Picchu – die eerste in 1989 en die ander in September 2007 – gebruik om iets te wete kom oor prosesse wat in die onbewuste sluimer. Ten tyde van die eerste reis word ’n afskeid aan ’n Geliefde besweer in ’n versameling verse wat in ’n sirkel voltrek word. Dit heet Verdraaide raaisels. Die outeur beleef die Brasiliaanse landskap, vertrek na Argentinië tot onder by Chili – en uiteindelik na Peru. Om Machu Picchu te besoek. [1]

© Joan Hambidge

Machu Picchu, die Verlore Inka-Stad, is in 1911 deur die argeoloog en historikus Hiram Bingham ontdek.[2] Die stad is in 1450 gebou en ’n honderd jaar later desolaat gelaat na die oormag van die Spanjaarde. Hieroor dig Pablo Neruda in sy Canto General,wat oorspronklik in 1950 in Mexiko verskyn het.

Oor die gebruik van argeologie [3] as ’n metafoor vir die begryp van histerie sou ’n mens soos volg kon argumenteer: strata of lae betekenisse of verdigting verhul dikwels ’n neurose wat volgens Freud deur drome, versprekings of raaisels na vore mag kom.

Freudiaanse psigoanalise is al getipeer as ’n “tirannie van die irrasionele” en die gebruik van Machu Picchu as ’n metafoor vir die lees- en skryfproses illustreer dit ten volle. Iets het agtergebly, te wete ruïnes van ’n verlore, Inka-stad – net soos die gedig iets stulp, vasvang of representeer wat Verlore is. Die Inka-stad word toeristies besoek, soos wat die gedigte deur buitelesers “besoek” word ten einde geheimenisse te probeer opklaar.

Sekere strukture word in die Inka-stad waargeneem – op dieselfde wyse kan ’n gedig sekere lae vergestalt.

Die digter het ten tyde van die eerste reis onder die geweldig magiese impak van Machu Picchu gekom en gedigte hieroor geskryf (vide eindnote). Met die tweede besoek was daar ontnugtering en distansie – selfs ’n gevoel van treurigheid omdat die pynlike afskeid van eens tydens die tweede besoek as noodlottig en ’n uiters negatiewe proses ervaar is.


II.

Psigoanalise kan ten beste opgesom word as die kuns van die dubbelspraak. Om iets te sê/skryf, maar in wese iets anders te bedoel of vergestalt, sou ’n gepaste opsomming wees vir hierdie denkrigting wat eweneens ahistories in uitgangspunt is, teenoor die Marxisme, wat die geskiedenis in ag neem. Uiteraard is hier dan van ’n botsing sprake: die digter toets die onbewuste ervaring waaroor daar veelvoudig gedig is teen ’n historiese ruimte of baken, ’n plek wat beskou word as een van die Sewe Wonders van die Wêreld.

Die “tirannie van die irrasionele” is presies dit wat sig ’n tweede besoek aan die reisiger/skrywer opdring wat ten tyde van die reis besef dat die verhouding, ofskoon lankal afgehandel, steeds voortstu in die onbewuste. Dit is asof die geweldige emosies rondom hierdie opbreek in hierdie ruimte weer lewend(ig) word en asof die reisiger/skrywer al die komplekse emosies van verraad en verlange heraktiveer ("re-enact"). Die Geliefde bestaan nie meer nie. Die reisiger/skrywer dra geen kennis van haar welstand nie; dog in hierdie primordiale ruimte word ’n Freudiaanse heraktivering beleef.

In Malcolm Bowie se Freud, Proust and Lacan: theory as fiction (1987) verwys hy na die bekende uitspraak van Charcot wat ’n onuitwisbare indruk op Freud gemaak het:

“La théorie c’est bon, mais ca n’empêche pas d’exister” (Teorie is goed, maar dit verhoed nie dinge om te bestaan nie).


III.

Dit is bekend dat die skrywer van etlike parapsigologiese tekste, Eric von Däniken, Machu Picchu uitsonder as ’n ruimte wat bewys lewer van kontak met ander planete of stelsels. In sy Chariots of the Gods argumenteer hy dat hierdie Inka-stad gebou is deur “aliens” of gode wat dan vir die primitiewe mens beskawing gebring het. Hy baseer sy teorie daarop dat formasie van die gebou totaal nuut en anders is. Op die internet kan die leser onder andere voorbeelde sien van hoe hierdie formasies verskil van Stonehenge en ander antieke strukture op aarde. Die klippe pas so perfek ineen dat niks, nie eens ‘n mespunt of vel papier, tussen twee stene ingedruk kan word nie. Ook die strukture is vreemd en onbekend.

Wetenskaplikes is krities oor Von Däniken se sieninge; meen dat dit ’n opvatting /aanname is wat buite wetenskaplike teorie bestaan.


IV.

Tydens die tweede besoek aan Peru woon die skrywer/reisiger die ICLA-konferensie in Rio de Janeiro by. Die tema is Beyond Binarisms – Discontinuities and Displacements in Comparative Literature en verskeie gesiene teoretici lewer bydraes oor die problematiek rondom die opheffing van binariteite in ’n post-postmoderne wêreld. Die problematisering van grense en herdefiniëring van ruimtes kom aan bod. Die skrywer/reisiger gaan in die bekende Hotel Gloría tuis en lewer ’n lesing oor die probleme rondom (self)vertaling.

Die transposisie van een taal na ’n ander met gedigte wat dikwels “code-switching” vergestalt, word hier bespreek. [4]

In hierdie referaat word twee wêrelde/domeine byeengebring, net soos wat die tweede besoek aan Suid-Amerika met die eerste een saamgesnoer word in hierdie essay. “Beyond Binarisms”, oftewel dit wat buite/onder binariteite bestaan, impliseer dat ’n derde arena betree of geskep word.

Die versoening van opposisies (a-b) word binne ’n primordiale benadering iets meer en ingewikkelder. Bykans asof niks finaal uitgesê of geformuleer kan word nie. Charcot se dictum wat Freud altyd herhaal het, raak relevant hier: iets bestaan ook voor of buite teorie. Waarheen is literatuurwetenskaplike navorsing uiteindelik op pad? Is daar nog enigsins sprake van grense? Of word grense voortdurend afgebreek?

Hierdie verbreking van grense word gekritiseer deur ’n gesiene teoretikus wat daarop wys dat ’n lidmaatskap van Vergelykende Literatuurwetenskap verskille (h)erken. Ek maak notas en begin peuter aan gedigte. Ek besef hoe ’n vers die ervaring opsom en dink aan ’n vorige vers oor Machu Picchu:

Paleis van geheime

Die siel is ’n paleis vol geheime:
’n Machu Picchu wat vra om ontdekking,
’n verre reis nie vir almal beskore.
Die siel is ’n paleis vol geheime:
die wêreld blote projeksie
van ons ongekaarte binneste.
Die siel is ’n paleis vol geheime:
hierom soveel misteries óm ons
soos ’n besoek aan ’n onbekende-bekende plek.
Die siel is ’n paleis vol geheime:
tog goed ons begryp nie alles
– juis hierom soveel ontdekkingsreise.
Die siel is ’n paleis vol geheime:
met elke reis demistifiseer
ons ’n vroeër ongesiende plek.
Die siel is ’n paleis vol geheime,
Legendes en mites – heerlike
Juwele vir ontdek.

Cusco-Puno

’n Kollega vertel van hul besoek aan Machu Picchu. Ek onthou dit anders. ’n Reis met ’n boemeltrein vroegoggend gepak met werkers. Nou is dit PeruRail. ’n Toeristiese ekspedisie met Thompsons wat jou afhaal en vervoer.

Sou ek nog ’n gedig kon skryf oor die ervaring? Ek maak my aantekeningboek toe en luister aandagtig na ’n Suid-Afrikaanse bydrae oor Identiteit post-1994.

Later die aand ontdek ek dat die notaboek weg is.


V.

Maar dit maak nie saak nie. Ek haal ’n eksemplaar van Verdraaide raaisels uit my sak en lees weer die vers:

El Condor Pasa
Dit was my bestemming en hierin lê die reis van my begeerte.
– Pablo Neruda

In Machu Picchu, die heilige Inka-stad,
hoor ek Pablo Neruda se stem fluister deur die rotse:
“die nagwind draai in die lug en sing”.
In iedere kliptafel lees ons sy boodskap van ’n reis
ver weg van aardse vernietiging, eindigheid en verdriet.
Heilige Machu Picchu bewaar sy gees
teen die onstuimige rivier en kil berglug
– sy sterk stem praat sag deur die mistige môrelug.
Al die aangebode raaisels hier aanwesig
in ongeskonde berg en rivier en ryk relieke.
Telkens lees ons dieselfde opdrag: in elke einde, dood
lê ’n nuwe begin ópgesluit.
Met die aflegging van die self soos ons opbeur
na die hoogste punt van ’n eens verlore beskawing,
pynlik bewus van ons argeloosheid
oor die krag van die lewegewende natuur.
Klim op, hoër na self-loosheid – na stilte volledig.
Die kosmiese plan hier aanwesig,
argetipies in die roerlose rotse afgedruk – ontdaan
van nuttelose oordaad of menslike verdelging.
So ook die reis in die self: ’n smagting
na antwoorde, stilte en kosmiese eenheid.
Dit alleen gebeur in die ongerepte natuur gewyd.

En ek weet dat wanneer ek vir die tweede keer na Machu Picchu reis, gaan ek die volgende vers begin (sukkelend, swoegend), terwyl ek na die majestueuse berge voor my staar. En ek sal weet dat ek nie soos Neruda oor hierdie ervaring kan dig nie. Terwyl ek die vers skryf, sal “Il postino” oor die radio speel en ek sal ’n nartjie skil en nadink oor my vorige besoek. En ek sal treurig raak oor die pyn van die verhouding wat nie wil verbygaan in die herinnering nie. (Daar het dus ’n energieveld agtergebly …)

Dan sal ek my notaboek optel en begin skryf aan my reisrubrieke vir By in Die Burger [5].

In die skadu van skryf/nadig. Dan sal ek kyk na On a darkling plain en nadink oor ’n andersoortige reis, ’n reis na die onbewuste.

And we are here as on a darkling plain
Swept with confused alarms of struggle and flight,
Where ignorant armies clash by night.

Aldus Matthew Arnold in “Dover Beach”, geskryf in 1848.

Dan sal ek lees oor die verskillende vlakke van bewussyn en terugkeer na Freud se siening oor die argeologie van lees/skryf. En op p 31 sal ek kyk na repressie (verdringing) en nadink oor presies wat agter hierdie Verhouding opgesluit is. Maar so moeilik as wat dit is om ’n mes tussen die klippe in te kry, kan die analisant volledig analis word.

Om te beweeg van verskillende vlakke van bewus-wees, nie alleen tussen onbewuste en bewuste nie, maar ook tussen toe en nou, sal die opgaaf wees (p 31).

In die skadu van Machu Picchu
vind die temalied van Il Postino my:
die storie van ’n eenvoudige posman,
wen haar hart met Pablo se verse,
verby die vloei van die Urubamba,
in knetterende klanke van verlange.
In die skadu van Machu Picchu.
In die skadu van Machu Picchu
glip ’n skaars vlinder verby my hand.
Die ruïnes van ’n verlore Inka-stad
herwin in ’n argeologie van woorde:
die digter, ’n latter day-Bingham.
In die skadu van Machu Picchu.
In die skadu van Machu Picchu
volg ek getrou Pablo Neruda se reis
na die herwonne Inka-stad,
’n wêreldwonder van graniet en klip.
In die skadu van Machu Picchu.
In die skadu van Machu Picchu
daal stilte soos stof oor die ruïnes.
’n Fluit eggo, draal van berg tot berg
waar die Grootste Digter ’n vers skryf:
soekend, speurend ’n stil boodskap ontsyfer.
In die skadu van Machu Picchu.
In die skadu van Machu Picchu
soggens maagde tot ’n songod geoffer.
Wat is ons offergawe hier, in ’n ruimte
waar God en natuur volledig één word?
Hoe lank voordat ons U boodskap reg begryp?
In die skadu van Machu Picchu,
Ja, in die skadu van Machu Picchu.

Die toubrug (vide foto) dui op die skeiding tussen die bewuste en die onbewuste / toe en nou.

© Joan Hambidge

Eindnote

[1] Die keuse val op Machu Picchu omdat daar twee besoeke was. ’n Mens sou so ’n proses ook kon illustreer aan die Egiptiese piramides of Stonehenge.

[2] Daar is uiteraard verskillende sieninge oor hierdie ontdekking, wat volgens vele nie vir hom sou moontlik kon gewees het as dit nie vir die hulp van ander persone was nie. (Wikipedia).


Archeology, the study of artifacts from the past, is relevant to psychoanalysis in the sense that an analogy can be established between the search for a collective past and the search for an individual past. Freud himself uses the metaphor of archeology in his Delusions and Dreams in Jensen's "Gradiva" (1907a). His description of the structure of hysteria as a building of several dimensions, containing at least three strata ("The Psychotherapy of Hysteria" in Studies on Hysteria, 1895d), even though it refers to an archival case, also evokes the work of the archeologist: The order of discovery is reversed, with the most primal matter being the most deeply buried ("Saxa loquuntur," 1896c).

Freud was very interested in archeological research (Schliemann's excavation of Troy, for example) and the collected artifacts, many of which decorated his office and which he frequently showed to his patients (The Rat Man, 1909d) as signs of the preservation of traces of a past that had become unconscious. More profoundly, we find that the methods of the archeological dig and those of psychoanalytical investigation have followed a similar evolution, consisting in shifting the focus of interest from a privileged object that will be excavated to a gradual discovery of the terrain (stratigraphic method), through which it is possible to trace the thread of history back to its origins step by step. Interest in these vestiges, which constitute "a history without a text" (André Leroi-Gourhan), intersects the work of reconstruction that takes place during analysis (Freud, 1937c). Similarly, the interest in a missing element (doubt in the dream, foreclosed elements in psychosis) evokes this preservation-through-absence that archeologists experience in what they call "ghost sites" (Mijolla-Mellor, 1993).

The archeological metaphor is present throughout Freud's work (1911f) and underlines the similarity with the work of therapy as well as the differences, especially since the working conditions of the psychoanalyst, and his or her ability to bring back old emotions through transference, are better than those of the archeologist.

Bibliography

Bernfeld-Cassirer, Suzanne. (1951, June). “Freud and archaeology”. American Imago, VIII, 107-128.

Flem, Lydia. (1982). “L'archéologie chez Freud : destin d'une passion et d'une métaphore”. Nouvelle revue de psychanalyse, 26, pp 71-94

Freud, Sigmund. (1896c). The aetiology of hysteria. SE, 3: 186-221

Freud, Sigmund. (1907a [1906]). Delusions and dreams in Jensen's ‘Gradiva’. SE, 9: 1-95.

Freud, Sigmund. (1909d). Notes upon a case of obsessional neurosis. SE, 10: 151-318.

Freud, Sigmund. (1937c). Analysis terminable and interminable. SE, 23: 209-253.

Freud, Sigmund, and Breuer, Josef. (1895d). Studies in hysteria. SE, 2: 48-106

Mijolla-Mellor, Sophie de. (1993). Le "bon droit" du criminel. Topique, 52, 141-161.

— SOPHIED4. E
[4] Confession

I am unreliable
me luv
I will not be around
when we are old and sad
in Huis Herfsblaar
bewend van die ouderdom.
I would have moved on
to greener pastures (or death)
flirting with a new girlfriend,
and after, her more and more and more ...
expecting “true love”
so let’s remain true friends
pu pu pu perhaps
I’m polymorph perverse!


Speaking in tongues

Once upon a time
we declared love
in many languages
en anglais, auf Deutsch
en selfs in Spaans: t’adoro.
I used to speak in tongues
soos ’n besetene wat gees vang
en in tale praat
om jou hart te wen
en veral lyf te proe.
Nou’s daar nie meer
’n Babelse verwarring
nie. Only silence. Maybe a sms
with a request ...
Our once loving speaking loving tongues
have become swords: en garde!
Wat die hart van vol is,
loop die tong van deur.

[5] "Wegkomkans", Die Burger, September 2007

Machu Picchu

Om presies tien-dertig ry die trein die stasie in waar my gids wag. Die hotel, InkaTerra, is reg agter die stasie en ek kan dus die berge aanskou. Ek gaan eers hotel toe, doen wat te doene is, en neem dan die 25 minute bus tot bo. Die vadere weet, as die bus hier afval is ons bokveld toe.

Maar die busbestuurders het ’n vinnige manier van reageer. En soos laas, word ’n kind opgetel.

Wat maak die kinders hier? Gaan hulle nie skool nie? Netjies gekleed in sokkerhempies en Adidas-skoene – waarskynlik ’n gids se kind.

Nee, verduidelik iemand agter ons. Hulle is boodskappers en veral in oorlogtye het kinders boodskappe tussen linies oorgedra. Amper nes Klein-Riet-Alleen-in-die-Roerkuil. ’n Mens se asem snak wanneer jy besef hoe vinnig hierdie kinders beweeg – alles natuurlik vir ’n fooi uiteindelik.

Toe ek afklim bo, wag my gids my in. Ene Gladys van Cusco.

“Zhoan Hambiezh?”

“The one and only.” Begeesterd bestyg ons Machu Picchu. Ek hou goed danksy gereelde gym en meneer Cedric de Bruin, my voormalige instrukteur van Manenberg se opheffingswerk. (En die glukose-lekkers wat ek op die trein aangeskaf het.)

“Trap Oubasie, trap,” was sy refrein in die gym met vele gesprekke oor die Virgin se besoekers.

Na twintig jaar slaan Machu Picchu steeds die asem weg, metafories gesproke. Die berge, die klip- en granietstellasies, die aanskoulike llamas wat wei-wei oor die trappies wat ons nie mag bestyg nie.

Gladys betig ’n roker. Ek vertel haar van die brand op Tafelberg meer as ’n jaar gelede toe die Britse toeris per ongeluk ’n stompie by die venster uitgeskiet het.

“Ek neem altyd my stompies saam,” antwoord die beskuldigde op Nederlands.

“Ons beskuldg nie; ek vertel net wat kan gebeur!” Ek onthou hoe ons in Seepunt gesit het en die rookwolke het oorgewaai met roet. Dit het soos die Oordeelsdag gelyk. Wie sou ’n vuur hier kon stop? As dit oor hierdie berge waai?

“Hoeveel mense durf die Inka-staproete aan?” vra ek vir Gladys.

“Dit word beperk, nie meer as honderd per week nie.”

Vanoggend het ek die miertjies sien wikkel terwyl die trein verbysuis. O die vreugde van treinry!

Snags slaap hulle in gekleurde tentjies op die roete van 45 km – maar waarskynlik is die moeilikste uitdaging die hoogte nie die afstand nie.

Gelukkig vind ek hier ’n lavanderia. Die hotel is peperduur en agter die stasie is daar ’n winkelsentrum waar ’n oom beloof dat ek oor twee uur my wasgoedsak mag afhaal. Terwyl ek wag, lees ek e-posse, om die chaos wat op ’n mens wag ná ’n terugreis ietwat te verminder en beheer. Daagliks is daar navrae en krisisse. Weens die bestaan van die internet kan ’n mens nooit eintlik jou tuiste of gewete ontglip nie.

Ek begin peuter aan ’n vers:

Machu Picchu

Hoe het hierdie reisiger nie verander nie,
In twintig jaar liefdesleed verlaat,
Haar oorgegee aan die argeologie
en ontdekkingsreise van ’n Ander Reis.
Nie alleen meer ’n reis in woorde nie,
Maar ’n reis wat drogbeelde afskud.
In die winter het die waterval opgedroog,
dog die berge staan in hul groenheid groener,
die lug in hul blouheid blouer, selfs helderder.
So laat ons nog ’n mislukte sonnet skryf,
nog ’n plek herbesoek, en die hereweet,
dankbaar wees vir dit wat buite benoeming lê.


InkaTerra

My hotel, die InkaTerra, het geen televisie nie. Dit is in die natuur geplaas, tussen die hoë berge. Daar is wel ’n internet, gratis en stadig, om jou reis te help beplan. Vir die res kan jy ontspan en na die berge kyk, die vars lug inadem. Rook in die kamers is verbode – so saans staan jy buite voor slapenstyd en rook.

Jy sien vlinders, ’n skaars spesie. Jy hoor zoemende muskiete. En ’n waterval. Soggens lees jy die Canto General en veral die verruklike beskrywing van Machu Picchu, Neruda se vertolking van sy spirituele transformasie:

and in the wound I found nothing but a chilling gust
that entered through the vague interstices of the soul.

In hierdie gedig, “The heights of Macchu Picchu” [sic], verwys hy na die “frayed syllables, masks of dazzling light”.

En dis hoe die lug daar uitsien.

’n Mens voel een met die natuur. Vanmiddag vertrek ons terug Cusco toe. Dan die lang reis via Lima en São Paulo terug huis toe.

Dan kom die nuus.

Die trein is vertraag.

’n Britse egpaar is erg ontstoke. Hulle wou vanaand in Cusco ’n show gaan kyk het.

Ek bly rustig.

’n Moeder vertroos haar baba. ’n Lieflike dogtertjie uit Quito met twee bokstertjies.

Sy suig aan ’n nartjie, min gepla oor die grommende toeriste se verontwaardiging.

Sy klim uit haar stootwaentjie, beur deur toe, met ’n vader wat haar net betyds keer voordat sy by die trappies afneuk.

Die uwe drink eers koffie en gaan sit toe voor die vuur en eet die wonderbaarlikste soet nartjies.

Ek lees African Pens met verhale oor Afrika. Hoe duidelik kan ’n mens nie die kodes oor Afrika in die vreemde verstaan nie!

Uiteindelik reis ons terug. Ek drink Peruviaanse wyn en langs ons stroom die Urumbamba-rivier.

Twee vroulike reisgidse sit oorkant my. In die somer, vertel hulle, “river-raft” die mense hier.

Hulle vergesel Duitse toeriste.

Ons klets soos ou vrinne.

Dan is daar ’n modeparade op die trein!

Die twee treinwaardinne vertoon die jongste modes met wolwefluite en ’n gejil. Na die tyd koop die Duitsers van die duur truie.

Op ’n stasie voor Cusco klim my twee gidse af.

"Kom, ry saam met ons per bus. Ons is ook van Lima-toere. Dit sal net twintig minute wees – met die trein nog langer as ’n uur.”

Die waardinne moedig my aan. Gee my ’n klapsoen en daar gaan ons. Môre moet ek bittervroeg vlieg na Lima en as huldeblyk aan my twee gidse, ’n suikersoet-gedig:

Nektarsoet ’n nartjie
in Machu Picchu –
geure en smake
van ’n verlore jeug:
skyfie op skyfie verpak
my herinneringe; pitjies
vir nog nartjies: môre
is ’n ander dag. Gister
word nou nartjies se nektar.

Geen digter kan Neruda oor Machu Picchu nadoen nie; ’n mens sal altyd in sy skadu staan:

In die skadu van Machu Picchu
vind die temalied van Il Postino my:
die storie van ’n eenvoudige posman,
wen haar hart met Pablo se verse,
verby die vloei van die Urubamba,
in knetterende klanke van verlange.
In die skadu van Machu Picchu.

In die skadu van Machu Picchu
glip ’n skaars vlinder verby my hand.
Die ruïnes van ’n verlore Inka-stad
herwin in ’n argeologie van woorde:
die digter, ’n latter day-Bingham.
In die skadu van Machu Picchu.

In die skadu van Machu Picchu
volg ek getrou Pablo Neruda se reis
na die herwonne Inka-stad,
’n wêreldwonder van graniet en klip.
In die skadu van Machu Picchu.

In die skadu van Machu Picchu
daal stilte soos stof oor die ruïnes.
’n Fluit eggo, draal van berg tot berg
waar die Grootste Digter ’n vers skryf:
soekend, speurend ’n stil boodskap ontsyfer.
In die skadu van Machu Picchu.

In die skadu van Machu Picchu
soggens maagde tot ’n songod geoffer.
Wat is ons offergawe hier, in ’n ruimte
waar God en natuur volledig één word?
Hoe lank voordat ons U boodskap reg begryp?
In die skadu van Machu Picchu,
Ja, in die skadu van Machu Picchu.

© Joan Hambidge
Bron

Pablo Neruda: Canto General – vertaal deur Jack Schmitt. University of California Press, Berkeley. 1991.

Il Postino. Michael Radford. 1994.


Bibliografie

Bowie, Malcolm: Freud, Proust and Lacan: theory as fiction. Cambridge University Press, Cambridge. 1987.

Hambidge, Joan. Psigoanalise en Lees. J&J-uitgewers, Pietersburg. 1989.

Hambidge, Joan. Verdraaide raaisels. Human & Rousseau, Kaapstad. 1990.

Von Däniken, Eric. Chariots of the Gods. GP Putnam’s Sons, New York. 1960/1968.

Ward, James (red). On a Darkling Plain – Journeys into the Unconscious. Icon Books, UK. 2002.

© Joan Hambidge, 2007-10-17

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]

Friday, February 22, 2013

Margaret Orr, Mary Rorich & Finuala Dowling (Reds.) - Buttons and Breakfasts (2007)



Margaret Orr, Mary Rorich & Finuala Dowling (Reds.). Buttons and BreakfastsWits Wonderwoman project, 2007. ISBN 978-1868144235. 

Resensent: Joan Hambidge

Die posisie van vroue-akademici bly ‘n glibberige area. Tot ongeveer in die middel-tagtigerjare het vroue in SA nie huissubsidies gekry nie en is manlike akademici meer betaal. Danksy kritiek van vroue binne die akademci het vroue aktiewe rolspelers geword en in die senaatkamer van die UK hang ‘n bordjie wat daarop wys dat 88 % van alle volle professore mans is.

Onder leiding van Margaret Orr, Mary Rorich en Finuala Dowling het daar ‘n WonderWoman-boek verskyn: Buttons and Breakfasts.

Die titel verwys na die beroemde (berugte?) vraag aan professor Sarah Whiting, professor in astronomie, dat as alle vroue wetenskaplikes sou wees, wié sou omsien na die knope en die ontbyt?

Dit is 2006. Daar is professore, dekane, vise-rektore en selfs ‘n kanselier van die vroulike orde, maar reflekteer die kurrrikula en denkwyses aan universiteite die invloed en aanwesigheid van vroue? Of is vroue in magsposisies dikwels vroue van ‘n biologiese orde, wat soos mans dink en praat?

Butttons and Breakfasts ondersoek al hierdie kwessies rondom magsposisies, besoldiging, seksuele teistering en die gevolge daarvan op ‘n vrou se lewe en akademiese loopbaan, die vrou as wetenskaplike, ensomeer.

Gender aktiveer altyd ras, klas en identiteit. En hier dink ek is een van die belangrikste essays “Mrs Livingstone, I presume” geskryf deur Professor Livingstone. Nie alleen word imperialisme op alle vlakke geaktiveer met die gesprek tussen Livingstone en Stanley nie, maar hierdie pittige stuk wys op die transformasie van die vrou wat as Me(juffrou), Ms, Mevrou beweeg tot doktor/professor.

Sy mag dalk in die verkeerde hospitaalsaal beland of Virgin se gimnasium weet nie hoe om haar geklassifiseer te kry nie! En as iemand bel, dan dink hy onmiddellik dat die dr. verwys na die manlike wederhelf.

‘n Ander seminale essay is “Iron Ore”:

"What do you have to do to be a warrior?  Sometimes it’s really simple.  You have to speak.  Speak out into a silence.  Speak when no one wants to listen.  Speak when what you are going to say will be unwelcome; will be misheard; will expose you utterly to ridicule, to calumny, to anger, to public shame, to misunderstanding.  Speak when the price of speaking is unimaginably high, but the price of silence is even higher."

Hier vertel Orr, wat tans by Wits is, van haar hellevaart by UNISA toe sy ‘n senior manlike lid van die raad van seksuele teistering aangekla het. Ofskoon sy die hofsaak uiteindelik gewen het, moes sy vele pryse betaal: sy is weg van UNISA na Wits – om vele komplekse redes, maar ook weens ‘n eenvoudige oorsaak: die gebrek aan ondersteuning aldaar was ‘n stremming. Haar huwelik het in die slag gebly en die emosionele impak van die klag word in hierdie stuk bely.

Hierdie proses het haar fisiek bedreig, haar professionele integriteit is (en was) bevraagteken, haar moraliteit was onder die soeklig geplaas, en veral: haar pos was in gevaar.

Sy het egter deur die proses deur te sien van die stemlose na die stemhebbende beweeg. En dit, meen ek, kan as ‘n refrein gelees word in hierdie studie. Hoe vroue wat een stil was, nou ‘n stem kry deur hul werk op teken, navorsing te doen en die manlike domein van die Akademie te beveg en oorleef.

Hierom is Mary Rorich se kort stuk iets wat jou in die maag tref: “Julia’s Women”. Hoe die swart student wat ‘n oudisie doen deur ekonomiese realiteite aan bande gelê word. Want swart vroue, is steeds, die méés stemlose vrou.  Almal leef op die grootmoeder se pensioen – en as Julia ondersteun kan word, kan haar stem alles verander...

Dit is dan ook tersaaklik om te wys op stryd in die “sisterhood” – iets wat Margaret Orr aanraak: dat vroue kompleks en teenstrydig teenoor mekaar optree en dat vroue in bestuurposisies (dikwels) groot boelies kan wees!

Dit is ‘n belangrike teks wat verby die domein van Wits gaan en die posisie van alle vroue binne die Akademie aanspreek. Brenda Keen se “Selection Panel” slaan die spyker op syn kop: hoe gemaak as die vrou wat akademikus is terselfdertyd ‘n moeder is?

Wat van die angs wat sy ervaar rondom die baba wat versorg moet word? Rondom vrae wat aan haar gevra word tydens ‘n bevorderingsronde word ‘n briljante analise gemaak van gevoelloosheid en die mes wat op al die sagte plekke ingesteek word. Haar gevoel van nutteloosheid en selfloosheid word in hierdie stuk knap geanaliseer, nes Leah Gilbert wat met die “lost in translation”-idioom speel.

Dit is ‘n belangrike versameling hierdie wat op elke gender-teoretikus en –spesialis se rak hoort met nog vele essays en stukke wat tersaaklik, opruiend, b(r)oeiend en dekonstruerend is.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Friday, February 15, 2013

David Farrel - A book of lives (2007)



David Farrel. A book of lives. Protea Boekehuis, 2007. ISBN 978 1 86919  185 6.

Resensent: Joan Hambidge

Wat ‘n ongelooflike bundel, wil ‘n mens uitroep. Van die oomblik wat ‘n mens hierdie pragtige voorblad sien van ‘n man wat afstap op ‘n wandelpad in ‘n Engelse dorp: aan die een kant ou huise, aan die ander kant nuwe gebou met ‘n rivier wat die twee skei, wil jy die bundel oopmaak. A book of lives van David Farrell – met ‘n outydse tikmasjien-skrif op die omslag – is ‘n bundel wat jy letterlik nie kan neersit nie.

Die digter is ‘n Londenaar, woonagtig in Kaapstad en die skrywer van The Charlie Manson False Bay Talking Rock Blues wat in 1974 verskyn het.

Die nuwe bundel het met my gepraat. Dit is gedigte wat jou in die maag tref: soos ‘n gedig waar die spreker tob oor die dood van sy hond by die veearts, sy eks raakloop en weet hoekom hulle ‘n verhouding gehad het, en terselfdertyd weet waarom dit misluk het.
Dit is gedigte soos die verse van James Dickey (1923 – 1997), daardie ongelooflike Amerikaanse digter en die skrywer van Deliverance. Dit draai nie doekies om nie. Dit tref jou met ‘n skerp aanslag soos in “Borderline, 1979”:

‘They are mopping up’, the radio says.
Human bodies are cleaved less carefully
Than chicken breasts. It’s only a sleepwalk
From the kitchen sink to the blood bath. (p. 28).

Soos die digter dan opmerk: “the carving knife’s edge to bright / keenness for some plump thing to cut” is die beste beskrywing vir die werkswyse in hierdie bundel.

Dan is daar “The waiting room” wat ‘n siniese blik op die lewe, dood (‘n selfmoord o.a.) en die einde van ‘n verhouding weergee:

Don’t wait here. Go out and marry the sun
For there is nothing to mourn but our silence.  (p. 33)

‘n Gedig oor miet word ‘n klein ars poetica wanneer al die lettertjies soos miet oor die papier versprei.

Daar is verse oor die natuur, ‘n spel met die I Ching, en ‘n gevoel van ontnugtering. In ‘n gedig soos “Worship” verduidelik die spreker – terwyl hy na Gigli se vertolking van La donne è mobile luister – dat juis omdat die verlede perfek was, is die ervaring van die hede so somber, so volledig verlore.

In “Second Person Singular” gee hy ‘n interessante blik op die geskryfde in die gedig se posisie, naamlik dat hy/sy die gedig mag toe-eien, al word verskillende jy’e in die aangesprokene verpak.

And so you rise glowing from the cold coals
Of words to claim this page as your own (p. 53).

Daar is ‘n aangrypende lykdig vir Lionel Abrahams (“The Garden of Lionel”) en een oor die vader (“Burial Ceremony”).

Die afwesige vader word aangespreek, maar terselfdertyd karteer die spreker die verlies aan die vader en vertel hy hoe sy lewe as kind verloop het op ‘n ontroerende wyse wat hy as sý epitaaf beskou.

Teenoor die moeder s’n op die vader se graf in Normandië waar die vader tydens die oorlog gesneuwel het in 1944.

Dit is ‘n gedig wat eweneens vra vir ‘n saam-lees met Johann de Lange se pynlik-eerlike verse oor die verlies aan sy vader waarin die verlies en verdrietige afskeid in vers na vers ónbesweer bly.

A book of lives is ‘n bestekopname van ‘n lewe, verlies en winste, in ‘n handvol sterk, driftige verse.

Die bundel is opgedra aan Lionel Abrahams en op die agterplat staan hierdie vers:

Forward. Forward.

If only my slug would cease
if the endless wanting would wither
then I who live in the curl of the shell
would sing to the end of the shining trail.

En dit spreek boekdele.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]