Showing posts with label Piet van Rooyen. Show all posts
Showing posts with label Piet van Rooyen. Show all posts

Tuesday, January 10, 2023

Resensie | Piet van Rooyen - Antraks – ‘n Roman | Protea Boekehuis, 2023

Piet van Rooyen - Antraks – ‘n Roman | Protea Boekehuis, 2022 |ISBN 978 1 4853 13, Sagteband 304 pp

 

Resensent : Joan Hambidge

 

Piet van Rooyen se roman Antraks word bemark as ‘n omgewingsvriendelike skop, skiet en donder.

 

Hierdie lokteks op die agterblad het hierdie leser se vermoede bevestig: Piet van Rooyen is besig om die draak te steek met die krimi-kultuur in Afrikaans. Is daar ‘n sub-genre wat meer aandag kry op boekeblaaie tans? Boonop meen ‘n gedugte kollega en teoretikus word hierdie tekste gelees en geresenseer asof dit ernstige literatuur is. 

 

Van Rooyen het etlike romans gepubliseer en pryse verower. Hy is ook ‘n digter. Lesers van sý romans soos Die spoorsnyer (1994), bekroon met ‘n handvol pryse, weet hy is ‘n gedugte navorser oor spoorsnyers en die San. Dieselfde geld die roman Die olifantjagters (1998) met die wêreld van jag op die magtige olifantbul Maxamesi. Ook in Gif (2001) word die komplekse verhouding tussen San en wit mense uitgewerk. In al hierdie romans is daar uitstekende antropologiese navorsing aanwesig in romans met tekstuur.

 

Die strippe-voorblad neem die leser terug na die wêreld van RP-publikasies waar die karakters in clichés praat. Ons dink hier aan Die Ruiter in Swart waar die held altyd oorwin en die boef sterf in dramatiese-geykte taal: soos hy geleef het, sterf hy (sonder genade). Verder verwys die titel Antraks na die sogenaamde Bacillus anthracis …

 

Ons het ‘n vliegtuig met ‘n besending dodelike gif wat neerstort in ‘n oerwoud. Die begin van die roman is ‘n mokerhou:

 

Oral is losgerukte takke en blare gestuif oor wrakstukke en liggame. Confetti by ‘n makabere huweliksvoltrekking voor die poort van die doderyk. 

 

En die slot: Die trop ape wat destyds hier ingetrek het, beskou die plek nou as ‘n permanente tuiste (304).

 

‘n Teks wat tussen twee ellendes vasgeklam word met baie aksie. “Die reis is meer as die eindpunt”, lui een van die hoofstuktitels en “’’n Rooi lig flits skreiend in sy kop” ‘n ander. En “Tarzan tussen die krokodille” wat ‘n jeugherinnering terugbring na ‘n Sondagkoerant se strippe met hierdie held.

 

En die name! 

 

Soekie en Lafras. Markus Jones. Luister mooi na die name. Hoofstuk-afdelings wat die verhaal raam soos “’n Onhoorbare lied van sugte” met verwysings na Tarzan en James Bond. Met pigmees en avonture in die oerwoud geskryf in oordrywing om die satiriese aanslag te beklemtoon. Daar is ‘n duidelike verwysing na die film Live and let die (1973) met Roger Moore as James Bond en Jane Seymour as Solitaire.

 

Voedoe, die okkulte, tarot word die onderbou van hierdie film.

 

En die storie?

 

Daar is slim verwysings in Antraks is wat op die bo-vlak ‘n verhaal vertel van ‘n Boeing 727 wat neerstort in Angola met ‘n gevaarlike besending aan boord. In Lubango (in Angola) oorleef net drie van die 52 passasiers. En ons sien hier ‘n politieke kode en ‘n implisiete verwysing na die Helderberg-ramp.

 

‘n Aktrise, ‘n kleuter en ‘n Angolese vlieënier is die drie oorlewendes.

 

Soekie Verster en Lafras Uys moet die “probleem” oplos. Hoe gaan hulle die gevaarlike antraks “neutraliseer”? So reg uit ‘n James Bond-verhaal waar die held (en hier heldin) die wêreld moet red van ‘n gewisse ondergang.

 

Kannibale – die hoof heet Hihatele – en ene Markus Jones, die hoof van XYZ- sakegroep is ander spelers saam met Prima, leier van die Praeter-groep. Daar is Witko, Veikko Palander, ‘n politiek-korrekte Fin (met sy deurskynende ore), JimBrown en Mongoli (gebore met Down-sindroom) sit jou reg binne ‘n James Bond-film met afwykendes as die teenspelers. Vera en De Freitas.  Normaal en abnormaal. Wit Afrikaners versus albino’s met ‘n uitermate goeie reuksintuig. ‘n Rammelende bussie teenoor ‘n luukse Pajero.

 

Die afwykendes vind ons dikwels in thrillers. Ons dink aan Nick Nak in The man with the golden gun (1974), Scaramanga (self ‘n ‘afwykende’) se handlanger in daardie klassieke Bond-film. Of die reus, Jaws te siene in die films The spy who loved me (1977) en Moonraker (1979).

 

Die vermenging van ‘n vliegongeluk – ‘n ramp – met ‘n soektog in die oerwoud. Google map is vooraf beskou.

 

Daar is verwysings na Die Bybel, Hansie en Grietjie, Kafka, Interpol, populistiese tekste, Heart of darkness, ensomeer. Die disjunksie tussen aanbod en uitwerking, só bekend aan die satire, vind ons hier.

 

“Die satire wil bespot, en deur die spot die versteurde werklikheid belig. In hierdie spot is die groteske (humor) en die absurde belangrike hulpmiddels.” Aldus Henning Snyman in Mirakel en muse (Perskor, 1983).

 

Bykans asof hy dit oor Antraks geskryf het vol ironiese wendinge en ‘n korrektief op ‘n wêreld wat heeltemal absurd geraak het.

 

Hierdie distopiese roman is inderdaad polities inkorrek met verwysing na woorde soos pramme en menige woke-leser sal stik in die kamille-tee.

 

Antraks is letterlik ‘n bakterie wat vergiftig. ‘n Hoogs leesbare satire wat my weer laat kyk het na Frank Kermode se belangrike baken uit 1967: The sense of an ending: Studies in the theory of Fiction.

 

‘n Einde voorspel op vele vlakke. 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Monday, May 5, 2014

Piet van Rooyen - Reisiger te perd (2014)


Piet van Rooyen. Reisiger te perd: 100 gedigte oor perde. Protea Boekehuis, 2014. ISBN 978-1-4853-0025-0
Resensent: Joan Hambidge

Reisiger te perd deur Piet van Rooyen kan ’n mens ten beste as found poetry beskryf. Dit is daardie soort gedig wat gebaseer is op ’n ander teks en waaraan die skrywer sy eie interpretasie gee.

In sy jongste bundel, Stil punt van die aarde, herdig Johann de Lange die bekende passasie uit Karel Schoeman se Op ’n eiland:

Daar is eilande
deur geen mens bereik,
wit strande deur geen voet betree,
helder fonteine waarvan niemand
ooit gedrink het nie.

Daar is streke
op geen kaart vasgelê, kuste
waaraan nooit ’n naam gegee is nie,
waar geen oor die roep van voëls
of die slag van branders hoor nie,

afstande ongemeet
& dieptes ongepeil –
o ja, daar is eilande,
& dit is ’n lang reis
van die eiland na jou.

Hierdie soort gedig sal uiteraard persoonlik wees. Dit is bykans soos ’n jazz-vertolking van ’n bekende liedjie of melodie. Jy herken die ou wysie, maar die nuwe interpretasie maak van die oorspronklike as’t ware ’n nuwe kunswerk.

Om 100 gedigte oor perde te maak (die Pegasus as simbool van die digkuns) is reeds ’n projek van vernuf. En om dit uitsonderlik goed te maak en elke keer die leser te verras met ’n nuwe wending of toepassing, wil gedoen wees.

En dit is dan presies wat Piet van Rooyen regkry. Hy gee vir sy leser ’n lang bronnelys van vier bladsye wat hy kan navors, maar ewe geheimsinnig (soos dit hoort), skryf hy in die inleiding dat hy nie bladsynommers gee nie en dat die leser dus self die speurwerk moet doen.

Soms is die gedig gegrond op ’n blote idee en soms op ’n gedig. Die digter bely dat sy bronteks Engels was.

Met ander woorde, as hy ’n gedig van Roberto Bolaño of Stefan Zweig vir ons weergee, is dit nie uit Spaans of Duits gekaap nie, maar uit Engels.

Dis een van daardie digbundels wat ’n mens met een asemteug lees en met elke herlees bewonder vir die besondere navorsing en herdigting. In die gedig “kavallerie” (na Stefan Zweig, bl. 68) sluit die digter:

so reis ons deur die landskap
net ek en my perd en ons twee se skaduwee
die mees volhardende grys verskuiwende bewys
dat ek deel is van, en lewe en bestaan
vir my is dit heeltemal genoeg

En hierdie vers kan as ’n ars poetica gelees word. In hierdie verse vang ’n mens iets op van ’n digter wat sy-manier-van-doen as “heeltemal genoeg” ervaar. Hierdie is geen digterlike toertjies of afshow nie; net ’n helder kyk na die wêreld óm hom. Vanselfsprekend getuig die bundel van geweldige belesenheid, en om van Joseph Conrad, Ernest Hemingway tot Bolaño te kan dig oor perde, wil gedoen wees.

Party lesers mag vra, maar waar is ’n gedig oor daardie historiese gebeurtenis en hoekom nie hierdie vers nie? Maar onthou, dis sy persoonlike keuse!

Ek het ’n tyd lank die bundel in my saalsak gedra en orals wanneer ek op iemand moes wag – tussen stasies, by wyse van spreke – die bundel gelees.

Hierdie digter is kennelik bedot oor perde, soos ’n gedig van Hemingway dan ook lui.

En my gunstelinge is die gedigte van Leo Tolstoi en Iwan Toergenjef.

wat is lekkerder as om voluit
met die drieperd-slee
deur dik wit sneeu te jaag
die vodkabottels blink in die vuiste

Só begin “troika” van Tolstoi en ja, dit eindig natuurlik in die poorte van die hel.

Hierdie digter het in 1973 gedebuteer en met hierdie bundel – gebaseer op meer as 400 boeke – steek hy beslis ’n kleim af. Dis eenvoudige, toeganklike verse, maar die skoonheid is opgesluit in hierdie deursigtigheid. Maar dis ook ’n vakman wat só sonder fieterjasies kan dig.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Volksblad geplaas.]

Die perde van San Marco

Wednesday, February 6, 2013

Piet van Rooyen - Kwansuis (2008)



Piet van Rooyen. KwansuisHuman & Rousseau, 2008. ISBN 978 0 7981 4994 5.

Resensent: Joan Hambidge

Kwansuis, uitgespreek in die volksmond as konsuis, beteken immers voorgee, nie die waarheid praat nie. Kamma, kastig. In hierdie vierde digbundel tree die digter en bekroonde romanskrywer Piet van Rooyen weer die digkuns aan. Hy dig oor die liefde, die aarde, die see, die dood, vergange dinge en wat nog. Sy verse is oënskynlik eenvoudig in aanbod, maar met elke lees, wen dit aan betekenisse wat die digter netjies wegsteek.
‘n Gedig in al sy vorme handel oor iets wat verby is en die gedig probeer daardie verlies of indruk in ‘n gedig natrek of weergee. In afdelings “swemmers”, “spene van die aarde”, “ek en jy” en “die dood stoot oral sy hopies” .

Die delikate balans tussen waarneming en vergestalting is die koorddans van die digter. Of om diep te duik sonder ‘n snorkel. In ‘n handvol verse kry die digter ’n balans tussen vorm en inhoud.

Soms is die gedigte (vir my gevoel) te vormloos, todat jy dieper kyk en besef dit is ‘n liriese, praataanslag. Jy moet die verse hóór. En veral voel.

Reeds plaas die openingsvers ons binne die nostalgie. En Van Wyk Low se Nuwe verse praat saam in die gedig “warm dag” (p. 63) waar die runnikende perd sowel die seksuele as die digterlike (Pegasus) aktiveer.

Daat is “doepa in die spreekwoord” en die gedig word ingespan om die wolf van die deur weg te hou. In die slotafdeling (en slotte is immers sleutels het ‘n digter ons al gewaarsku) staan werklik verruklike verse wat terugwaaier oor die res van die bundel. Daar is onthoubare metafore en reëls soos

Die skedel is ‘n leë huis
waarin eenmaal ‘n mens gewoon het (p. 59).

Die digter speel met ou woorde en begrippe (“om filosofie te rook’’, p. 60); begrippe soos doepa en paljas word geaktiveer en die digter kyk op ‘n vreemde, nuwe manier na die wêreld om hom (“die berge lê soos ou murasies”, p. 64). In “bitterlik beroemd” (p. 66) word onder meer Plath se dood beskryf (sy had ‘n seun en dogter; nie seuns nie!) en Anne Stevenson se biografie Bitter fame geaktiveer. In “digter van lemoene” (p. 68) is dit Uys Krige wat gekarteer word en “begrafnisbome” (p. 69) sou ‘n mens as uitmuntend kon tipeer:

ek sou verreweg verkies
dat sipresse by my begrafnis huil
as dat bloekoms amegtig en half vervel
hul oor my aardse heengaan verknies

Die digter is nie onaangeraak nie; hy bely in ‘n epifaniese oomblik hoe hy langer vertoef om iets te beskryf (“openbaring”, p. 72) en te weet dat die geskiedenis vloeibaar is.

Dis ‘n bunde vol ryk insigte: die geliefde is ‘n teenstander (aldus oud-kantonees); die verlange oor verskillende kontinente vra vir ‘n moenie vergeet nie…

Daar is ook humor in die bundel soos wanneer ‘n orang-oetang beskryf word of daar met die geliefde gedans word “voor die bullebak van dagbreek”. Of die heerlik-satiriese “koei” (p. 29)!

En wrede ironie wanneer ‘n liefdeskind sonder ‘n voorgeslag se naam in begraafplaas gesoek word.

Vir hierdie digter is die digkuns ‘n musiek van stilte (p. 20) en ‘n sentrale ars poëtiese vers is “blouwildebees” (p. 26)

Die politiek van die dag word subtiel aangespreek in “brood smaak beter” (p. 32).

Die temas is dikwels maskulien soos in die vele verse vanuit die manlike blikhoek, verse oor jag, ‘n ervaring van ‘n poolreisiger. En dis reg so. Die feministiese verse kry hier hul teenpool in die manlike ervaring wat eweneens getuig van pyn én ontnugtering. Die butch man het ‘n hart so tussen die jag en diepsee-duik deur.

Aan die deur van die uitgewer: my bundel het met ‘n derde lees uitmekaar geval weens swak bindwerk. En die papier is darem werklik nie jul beste nie! Die laaste voegsel hang aan ‘n draadjie. A nee a CTP Boekdrukkers. Die buiteblad van Nico Roos (“blou landskap”) en die tipografie van Etienne van Duyker maak wel hiervoor op.

Piet van Rooyen is ‘n regte digter. Hy is nie kamma-kastig nie. Om sy woorde aan te pas: hy breek sy kartetse op ons digkuns.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]