Showing posts with label Die Volksblad. Show all posts
Showing posts with label Die Volksblad. Show all posts

Wednesday, April 17, 2013

Loftus Marais - Staan in die algemeen nader aan vensters (2009)



Loftus Marais. Staan in die algemeen nader aan vensters. Tafelberg Uitgewers, 2009. ISBN 978 624 04725 4.

Resensent: Joan Hambidge

Met hierdie debuut voel die leser dat jy bekend gestel word aan ’n jong digter wat sowel tegnies vaardig as tematies dwingend is. Dit is ’n seker stem. Dit is ’n jong persoon wat sonder skroom sy standpunt maak: teen die werklike vader, die familie, die genealogie van digters soos Harold Bloom dit beskryf in The anxiety of influence. Seksualiteit, “sonde” en veral ontluistering kom aan bod.

Die spreker reken af met ’n tradisie, maar hy bestendig dit terselfdertyd. Staan in die algemeen nader aan vensters stel jou voor aan iemand wat teen Van Wyk Louw se beiteltjie indig:” ek het ’n fokken lugdrukboor” (Die digter as rockstar, 40) en Opperman se “bottelskippie” word verwoes in ’n "Pleidooi vir vinniger kuns" (41).

Marais is dus een van die nuwe stemme wat werklik nuut is, wat die gevormde kuns ontvorm en uitmekaar ruk.

Agter die woedende opstand is daar weerloosheid. In die hartgrypende gedig oor die vader, val die kind, maar die vader beveel dat hy nie mag huil nie. ’n Sentrale gedig, wat die machismo van manwees aan die kaak stel en uitwaaier na ander gedigte. Hy ervaar die vuil hande van ’n vader as oorlogsverf op sy gesig. Hierdie bewapening of voorskrif gebruik hy teen die vader. Hy loer voyeuristies na ooms, ontmasker manlikheid en in ’n gedig oor die wederkoms is daar ’n catsuit wat fire-resistant is langs die vanity case!

Die sterk-manlike verse van Johann de Lange speel in die agtergrond, maar hier het ons die stem van die sagter man.

Hy weet ook dat poësie ’n perversie is (Op soek, 42) en heel dikwels word die leser holderstebolder aangespreek of sommer aan die keel gegryp.

Hy tipeer homself as die Ander: as draadtrekker, dief, voyeur, loerhoer, ontluisteraar, koppesneller. (Hy was immers die man wat Melanie Grobler van plagiaat aangekla het en die hele kanon dwarsklappe gegee het in die destydse Insig. In ’n latere onderhoud wel erken hy was dalk te gung ho.)

Die leser se gemoedstoestand by die lees van hierdie verse is een van bewondering vir die onopgesmuktheid, die indig tot die essensie, die afskil van (voor)oordele. Deurgaans bly jy tog bewus van weerloosheid onder die voorgee soos verwoord in Op soek (42). Die digter stap oor ’n mangat en onder draai die duiwels rond . . . Dit is ’n belangrike metafoor vir die werksaamhede in die bundel. (Die begrippe metafisika en onbewuste word in gedagte gebruik.)

Die filosofiese titel dui al op ’n skerp bewussyn met die “dinge”, soos dit in die fenomenologie heet. Die tuindwerg gee sy waarneming of blik op mense. Die meeste gedigte gee ’n vreemde blik op die gewone dinge: Sklovsky se ostranenie of die vervreemding van die digterlike aanslag kom ter sprake. Alles staan in die teken van die aweregse, die nuwe aanslag.

Die digter weet wat agter verse skuilhou in ’n gesprek met die broer: Die onsigbare word hier dikwels vir ons sigbaar gemaak.

Daar is stryd met die kanon, met stellingname, met wegskryf van die mooie en die “skone”. Daar word gekyk na uitskot en graffiti. En die liefde word gedekonstrueer in ’n aangrypende aubade.

In “Platteland-fantasie” (26) word die digkuns weggeklap en eerder na die sterre soos Braille gekyk. Die plattelandse landskap word ontluister en boertig beskryf. In ’n kroeg word ’n ou gay se sinisme sekuur beskryf.

’n Klein kragtoer is die gedig Siel (39):

hoekom dink almal die siel is inwendig?
verborge soos jou beendere, maar kleiner
soos ’n klier of juweel
of ’n teug helder lug vir ewig ingehou…
vir my’s dit eerder ’n soort peignoir
vloeibaar, satyn en stralend
gedra wanneer ek hare kam
my fopdos-kleed, my gewyde kamerjas
waarin ek vroom rondstap
soos ’n jong gloria swanson….

’n Bloekomboom staan in ’n gelyknamige gedig soos Scarlett O’Hara!

’n Windpomp is ready-made Duchamp!

Dit is ’n leeservaring van opwinding. Terselfdertyd is dit goed wanneer ’n mens ’n nuwe digter ontdek wat werklik iets om die digterlike lyf het. Wees gewaarsku: Die gedigte in die bundel is gevaarlik. Dis soos pakkies dinamiet en al is sy gedigte nie polities-betrokke nie, is dit verse met ’n “edge”.

Inderdaad breek hy sy gedigte oor ons koppe soos ’n “rockstar” dit doen (Die digter as rockstar, 40).

’n Uitstekende balans tussen tegniese vaardigheid en iets om te sê, word hier aangetref.

Ons word gewaarsku dat feite verdraai en opgemaak is. ’n Gedig is immers nie ’n getuigskrif nie; ’n goeie gedig praat vir sigself. En in die spel met gevaar, die gedrewe soektog na inspirasie (soos beskryf in “Lightning safety tips – what you should know”, 63) word gekoppel aan pyn, verlatenheid, straf . . .

Hierdie bundel het my teruggeneem na Bloom se The breaking of the vessels en die slot van Freud se Interpretasie van drome waar die droom werklikheid word.

In die droom wat Freud beskryf, ervaar die vader verlies aan die kind; hier word die gegewe omgedraai en ervaar die kind angs oor die dood van die vader. In die onbewuste ervaar hy waarskynlik ook skuld / aandadigheid en hierom dat hy bestraffing soek.

Dis ’n besonder goed afgeronde bundel.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Volksblad geplaas.]


Monday, March 25, 2013

Eben Venter - My simpatie, Cerise (1999)



Eben Venter. My simpatie, Cerise. Queillerie Uitgewers, 1999. ISBN 9780795800047.

Resensent: Joan Hambidge

Om na Ek stamel ek sterwe weer 'n roman te lewer van impak, kan waarskynlik nie onmiddellik verwag word nie. Maar Eben Venter se My simpatie, Cerise is 'n goeie roman.  Dit dra ook die stempel van  Venter-vintage: gedronge taalgebruik, 'n vreemde, onverwagse draai in 'n verhaal en 'n meditatiewe aanslag in die derdepersoonperspektief.

My simpatie, Cerise vertel die verhaal van 'n tuinier, Robert en sy komplekse verhouding (die verteller sê, relasie) met 'n meneer en mevrou Cox. Dit is Australië, en meer spesifiek Melbourne. Daar is die Olimpiese bod en geldmaakskemas. En ander vorme van agterbaksheid wat hier aan bod kom.

Die boek wemel van interessante aspekte van die Australiese leefwyse wat verduidelikenderwys aan die leser oorgedra word. Venter skep 'n slim truuk deur sy hoofkarakter Iers te maak en asof hy hierdie vervreemding meemaak. Die uiteindelike bedoeling is natuurlik om die Afrikaanse leser te bereik.

Die sekstoneel tussen Tiffany, die dogter, en die Japannees  bewys dat daar min stiliste is wat by Venter kan kers vashou. 'n Mens sien en ruik hierdie interaksie. Die grootste wins in hierdie boek is die subtiele inligting wat die leser kry oor die karakters. Byvoorbeeld 'n bisarre droom van Mevrou Cox waarin soveel van haar karakter verraai word; of Robert wat terugdink aan sy Mammy wat haarself was oor die kombuiswasbak.

Op 'n uiters subtiele en ekonomiese (en dikwels poëtiese) wyse word die verhaal vertel vol sub-tekste (soos Who's afraid of Virginia Woolf, Superman, Lady Chatterley's lover) en onheilspellende implikasies (soos die konfrontasie tussen Robert en Cox).

Die skrywer het 'n oog vir die klein besonderheid (vergelyk byvoorbeeld die vliegrit na Europa) waarmee hy ontsettend veel van sy karakter se aard verraai (bl. 158). Daar is min skrywers wat simboliek so goed kan hanteer: die wyse waarop faeces en drome gebruik word, dui op 'n manjifieke hantering van subteks en 'n oopmaak van die onbewuste. Hierom dan die dood van die bok!

My simpatie, Cerise is 'n welkome toevoeging tot Venter se oeuvre en tot die Afrikaanse romankuns. Skandalig dat hierdie skrywer weens sy burgerskap van die M-Net-prys gediskwalifiseer is. Wonderlik dat hy die tradisie van die meditatiewe-aanslag van Etienne Leroux weer in Afrikaans terugbring. Die onverwagse slot, is by terugskoue, nie so onverwags. Om te sterf in 'n troebel rivier van die onbewuste, word dus goed voorberei. Want gebeur in die roman vra vir subtiele kyk.

Soos dat daar nooit versoening kan wees tussen Robert en Cerise nie; hierom die vertelling as 'n soort simpatie-brief.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Monday, March 11, 2013

Fanie Olivier (Samest.) - Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte (2001)



Fanie Olivier (Samest.). Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Human & Rousseau,  2001. ISBN 0 7981 41301.

Resensent: Joan Hambidge

Die liefde, soos die donkie, is 'n wonderlike ding! Fanie Olivier se versameling Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte beleef nou sy derde, uitgebreide uitgawe. Nog steeds sonder 'n inleiding wat die leser tog sou wou sien by so 'n bloemlesing.

Want daar is redes vir die struktuur van die liefdesgedig: soos dat die sonnette van Petrarca sentreer rondom die oktaaf en sekstet wat 'n voorstelling word van Petrarca se verlangende kondisie. In die oktaaf droom hy nog oor Laura; in die sekstet word die harde werklikheid waar dat sy afwesig is.

Miskien het Petrarca sy Laura liefgehad, selfs ontdek ten einde poësie te kan skryf, aldus die psigoanalis Norman O. Brown. En Shakespeare se liefdesverse lyk weer anders. En by Neruda vind ons daardie nostalgiese verlange na die geliefde Mathilda. Ook is daar verse waarin die liefde vir haar besing word.

Liefdesverse is gewild en ná die film Il postino het die CD met Neruda se liefdesverse goed verkoop. En ons kan aflei uit hierdie "derde keur" met sy rooi roos ("Oh my love is like a red, red rose") dat die liefdesvers in Afrikaans ook gewild is.

Maar dit is 'n moeilike gedig om te skryf en nie verniet nie het die grote Opperman sy jong studente gemaan om oor iets anders as die liefde te dig. Ons het lieflike klassieke in Afrikaans soos G.A. Watermeyer se "Ballade op die dronkparty":

Die liefde is die bitter glas,
die droë glas, die donker glas;
die liefde is die naverdriet
wat in die hart se holte pas.

Dit is altyd 'n samesteller se goeie reg om te besluit wat vir hom of haar die "mooiste" of "beste" is. Tog raak enige kritiese leser ongeduldig as 'n mens verneem 'n bloemlesing is sommer oor 'n naweek saamgeklap. Die leser soek representasie, immers "die beste" van daardie digter. In hierdie opsig is De Lange & Krog se Die dye trek die dye aan 'n gebalanseerde en gemotiveerde verslag van erotiek en seks wat goed aangevul word deur Olivier se liefdesversameling.

Breytenbach en Van Wyk Louw se liefdesverse verryk hierdie versameling. Een van die winste van hierdie versameling is dat Olivier ook verse opneem van onbekender digters soos Everwyn Wessels of De Waal Venter.

'n Mens wonder waarom word daar verwys na Henning Pieterse in plaas van H.J. Pieterse en ook waarom daar nie uit die jongste bundel liefdesverse byvoorbeeld "Artisjok" gekies is nie?

In bykans elke gedig is daar 'n reël of waarheid oor die liefde. Is dit waar dat die meeste liefdesverse oor die landskap van verlies handel en dat dit in wese 'n vers van die eensaamheid is? Dat dit gaan om die winterherberg van verlies?

Later kry ek in my bed
'n haarpatroon, 'n geur;
relieke
van 'n liefdestyd.

Hierteenoor is die verse in die genoemde erotiek-bundel guitiger, speelser, jagser en waarskynlik meer afgestem op die vervlietende oomblik. Waarskynlik is daar in die liefdesvers sprake van verlies omdat die impak van die liefde dikwels eers na die afgelope liefdeservaring beskryf kan word.

Dit is ook opvallend dat jonger digters meer ironies dig (ek dink hier aan Marietjie Joubert se "Anatomie-les vir verliefde digters") en ander digters ook betrek soos Antjie Krog in die pragtige "My tyd is verby" wat inspeel op Neruda:

my tyd om surrealisties lief te hê is verby
met rose en duiwe ekstatiese tronke
liriese odes verander eventueel in huislike rymskemas

Ook in die liefdesvers word die politieke metafoor dikwels aangewend sodat die liriese liefdesgedig ook verslag lewer op die politieke of sosiale toestande van die tyd.

"en liefde, die sagte, gevoelige slang", waarsku 'n digter tereg!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Tuesday, March 5, 2013

Johnita le Roux - Een vir die Wolfskof (2004)



Johnita le Roux. Een vir die Wolfskof. Lapa, 2004. ISBN: 0799 3 3315 8.

Resensent: Joan Hambidge

Een vir die Wolfskof van Johnita le Roux is ‘n pakkende roman waarin ‘n vroueskrywer inbeweeg in die manlike domein. Die wêreld van die plaas en veral die soldaat word hier oopgemaak. Die roman speel in 1995 af en ‘n soldaat uit die Ou-Suid-Afrika beleef ‘n ernstige depressie. Sy vrou besoek ‘n terapeut en die effek van sy gemoedstoestand word op ‘n openhartige wyse beskryf. Hy is onder andere impotent en die effek hiervan op sy vrou en homself word uiters aangrypend beskryf. 

Ook roep die verteller hulle vorige lewe in herinnering en hoe alles verander het. Die lot van die wit man word dus hier vanuit die perspektief van ‘n vrou (‘n baie vernuftige strategie) onder die loep geneem.  Die ervaring van die eens magtige patriarg as ‘n nou impotente (op fisiese en geestelike vlak) is waarskynlik een van die belangrikste temas van hierdie roman. En dit kry natuurlik ‘n ekstra dimensie omdat ‘n vrou hieraan stem gee. Soos wat Marlene van Niekerk inbeweeg in die domein van die plaasroman in Agaat, skryf Le Roux oor veeboere en droogte. Dit gaan hier om die soeke na water wat natuurlik ook geestelike energie impliseer. Die letterlike reis word ook ‘n geestelike soeke of reis wat met primordiale krag gelaai word. Ook is die tema van die plaas ‘n hoogs emosionele onderwerp; nes die indertydse grensoorlog en in Dine van Zyl se Slagoffers is daar eweneens ‘n vars blik gegee op hierdie oorlog.

Een vir die Wolfskof is ‘n soort metaroman waarin die leser ook toegelaat word in die binnekamer van die skrywende instansie. Die grense tussen werklikheid en fiksie en tussen historiese verlede en nou, word goed so in jukstaposisie geplaas. Ook die verhouding tussen terapeut en pasiënt word goed ontgin en die teks word deur Jungiaanse tekste begelei. Dit is wat my betref die sterkste aspek van die roman, hierdie Jungiaanse en primordiale soektog na die self. (Wolfskof dui ook op Women who run with the wolves, teks waarin die Jungiaanse interpretasies van die onbewuste gekoppel word aan bepaalde argetipes.) 

Daar is baie vernuftige aanwysings soos dat die uitslag van die terapie bepaal sal word deur wie die sterkere blyk te wees in ‘n hierdie komplekse verhouding. Ek ken min romans waarin die uitsigloosheid van ‘n problematiese verhouding so eerlik en skrynend verwoord word. Impotensie en emosionele geweld word uitgelap in die openhartige terapie-sessies en die leser kry ‘n verdere binneblik op dit wat vertel en veral verswyg word. Die leser is dus by uitstek ‘n soort afloerder of voyeur wat intieme belydenisse uit die terapie-sessies en die skryfproses meemaak. Dit word verder gekompliseer deur die Jungiaanse verwysings. Die leser moet self al die drade bynmekaarplaas. Uiteindelik sal jou lesing iets verraai oor jou onbewuste suggereer die ryk-geskakeerde teks.

Lapa uitgewers bemark die boek met drie uitroepe: “’n Moord in die familie. ‘n Antieke stukkie buit. ‘n Vloek” wat jammer is, want Le Roux is nie meer volledig ‘n populêre skrywer nie. Sy het enorm ontwikkel vanaf haar eerste boek, Die dagstêrwals.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]