Showing posts with label 2003. Show all posts
Showing posts with label 2003. Show all posts

Friday, March 8, 2013

A.N. Wilson - Iris Murdoch as I knew her (2003)



A.N. Wilson. Iris Murdoch as I knew her. Hutchinson, 2003. ISBN 0 09 174246 3.

Resensent: Joan Hambidge

In die pragfilm Iris (met Dame Judy Dench en Kate Winslett) word die merkwaardige lewe van die skrywer-filosoof, Iris Murdoch goed verbeeld. Ook die biografie – huldeblyk? – van haar man, John Bayley, ‘n gesiene Engelse literator is aan ons bekend.  A.N. Wilson se biografiese studie-cum-‘roman’ is soos Janet Malcolm se studie oor Sylvia Plath, ‘n priemende blik op die komplekse figuur Murdoch, ‘n Alzheimer-lyer. Wilson het bekendheid verwerf as ‘n bekroonde romanskrywer en sy omstrede studies oor Jesus en Paul.

Laat ek dit duidelik en onomwonde stel: ek is ‘n groot bewonderaar van haar as filosoof en haar studie oor Sartre is werklik uitstaande en ek ken min romans wat so knap en onderhoudend geskryf is as The Sea, the Sea. (Mense verskil van my en ‘n gesiene literator kon nie verstaan waarom sy hierdeur moes worstel nie.) My soort romanskrywer is sy: ‘n storieverteller wat haar verhale met ‘n sterk filosofiese stramien laai.

Wilson was gevra deur Iris Murdoch om haar biograaf te wees. Hy het Iris Murdoch en haar eggenoot baie goed geken. Hy spaar egter nie die roede nie. Die eerste mite wat hy ontluister, is dat die eggenoot altyd Iris Murdoch ondersteun het. Dit is duidelik dat daar dikwels sprake van professionele jaloesie was. Die tweede mite wat hy ook prik, is dat haar man haar seksuele aktiwiteite kon verduur. Haar seksuele aptyt – met beide geslagte – het tweekeer die huwelik byna laat wankel. Wilson insinueer ook dat sy ‘n komplekse seksualiteit gehad het: in haar fantasie-lewe het sy haar haarself as ‘n manlike homoseksueel ervaar. 

Die derde (en belangrikste) mite is Murdoch se liefde vir die waarheid. Dit is ook uit hierdie studie duidelik dat sy haar eie fiksionele werklikheid geskep het ten einde te kon oorleef. Haar nederige afkoms en latere roem het gemaak dat sy uiters gesteld was op haar Dame-status en dat sy nie daarvan gehou het as mense haar herinner het aan haar verlede nie. Was sy werklik wat sy voorgegee het om te wees?

Wat duidelik uit hierdie studie na vore kom – wat die skrywer karteer as sy subjektiewe blik op haar – is dat sy briljant was. En dat fiksionele skrywers dikwels slordig met feite omgaan. Haar eiesinnige manier van doen, het egter ‘n briljante skrywer en filosoof opgelewer. En dit is uiteindelik al wat saakmaak. Tog sou iemand beswaar kon maak dat die Professor van Moralisme so kon lieg! Tog is haar verhoudings met vriende en eks-geliefdes uiters openbarend (o.a. met Canetti). Sy het met almal altyd goeie verbintenisse probeer behou.

Ons word dikwels van persoonlike inligting voorsien – soos dat Iris vuil was en dat haar en Bayley se huis ‘n varkhok was – wat miskien vir die ‘puur’ leser onaanvaarbaar mag wees. (Dit word egter reeds in die film uitgebeeld.) Dit is egter myns insiens noodsaaklik om alles te vertel ten einde die volle prentjie te kry. Wilson gee sy perspektief op sake en stel dit ook onomwonde: dit is hoe hy dit sien. Hierom dat hy waarskynlik van ‘n soort tussenvorm gebruik maak, te wete ‘n soort biografiese-gesprekvorm waarin hy self dikwels as ‘n ‘ek’ optree. 

Wat besonder goed vir die leser verbeeld word, is die Britse klassesisteem en snobisme. Ook die gesprekke aan ‘high table’ aan Oxford verhelder die prentjie. Klein dwarsklappies na die sisteem (soos dat die don uitgaan, maar sy vrou, self ‘n gesiene akademikus, moet die kinders versorg), word ook uitgedeel. Sosiale kodes word betrek (rondom oop en toe deure). Drank speel ‘n belangrike rol in die lewens van hierdie intellektuele wat dikwels mekaar vermaak met intellektuele speletjies. Daar word geskinder oor Hugh Grant wat partytjies bygewoon het en ‘n vriend se obsessie met hom en hoe Iris Murdoch gereageer het op kritiek. Sy wou dikwels nie ‘n redakteur toelaat om haar romans te redigeer nie, sodat flagrante feite foute die roman ondermyn het.

Ook A.S. Byatt se beswaar dat sy nooit werklik groot romans kon skryf nie, word bygehaal. Wilson wys tereg op die ‘lawwe’ aspek van haar romans, of dat ‘n vertelling dikwels vaart verloor. Ook bely hy hoe by geleentheid gedink het dat hy ‘n karakter in ‘n roman is en met stiplees besef het dat fantasie wel ‘n rol gespeel het in die proses. 

Hoe jammer meen Wilson dat die assosiasie met Alzheimer se siekte vir die meeste mense die belangrikste attribuut van Iris Murdoch geword het en dat die romans dikwels vergete raak.

Waarskynlik is die portret ietwat ontluisterend. Maar dis mos hoe dit gebeur: kort na die dood die huldeblyke en ophemelings; hierna die die dekonstruksie en karaktermoorde en jare later, as almal wat die persoon geken het reeds dood is, die ewewigtige en regverdige  verslae.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

John Murray - A few short notes on tropical butterflies (2003)



John Murray. A few short notes on tropical butterflies. Viking, 2003. ISBN 0 670 9 13480.

Resensent: Joan Hambidge

Net nadat ek hierdie verstommende versameling kortverhale klaargelees het, val my oog op die klein skrywersbiografie voorin die boek: John Murray is ‘n dokter, gebore in  Australië wat ‘n Iowa skryfskursus voltooi het. Ons verneem ook dat Joyce Carol Oates die titelverhaal opgeneem het in ‘n versameling, Best New American voices. Tans woon die skrywer in die VSA.

Daar is dus met’n spreekwoordelike ‘skoon oog’ na hierdie versameling gekyk en my oordeel van die skrywer se tematiek kon ook nie beïnvloed word deur hierdie voorkennis nie. Inteendeel.

Dit is verhale wat gaan om die wetenskaplike presisie, ordening tenoor die waansin van die primordiale insig. Die sjirurg wat skielik – vir ‘n paar sekondes aan die slaap raak – en agterna besef dat hierdie oomblik iemand se lewe kon kos. Die vrou wat in Indië met siekes werk en skielik, vanweë haar half-Indiese afkoms – haar lewensmaat ontmoet.

Daar word dikwels teruggekeer na a ‘n bepaalde oomblik/insig/wete. Dus nie liniêre vertellinge nie, maar eerder ‘n soort sirkelgang van assosiasies, waarnemings. Sy karakters is dikwels randfigure, ‘displaced’ maar buitengewoon begaafd in hul waarneming en insigte.

“Acts of Memory, Wisdom of Man” is ‘n uitstaande verhaal, net soos die titelverhaal van die bloemlesing en natuurlik vind die leser hier ‘n tersaaklike verwysing na Vladimir Nabokov, ‘n kenner en versamelaar van vlinders. Die verhaal verwys dus na die presisie van die skrywer wat versamel, orden, beskryf en die wetenskaplike wêreld word in verhouding tot die fiksionele of fantasmagoriese belewenis gestel. Vanselfsprekend wil die skrywer John Murray ook skatpligtigheid aan Nabokov erken: ‘n outeur wat alombekend was vir sy vermoë om in ‘n gedronge, amper koel styl oor die mees flagrante of transgressiewe ervaringe te skryf. Trouens, Nabokov se kort verhale herinner sterk aan hierdie bundel. Dit is ook verhale wat rondom ‘n sentrale metafoor of ervaring wentel.

Die vertellinge leun  swaar op die mediese wetenskap. Gelukkig vertroebel dit nie die gang van die vertelling nie, omdat die skrywer sy kennis nie ter wille van kennis uitstal nie.

“All the rivers in the world” is die verhaal van Vitek Kerolak, sy vrees vir die see en sy konflik met sy pa. Ook die dood van sy twee broers word so onthutsend eerlik beskryf dat die leser snak na die asem. Ons verneem dat hy sedert sy twaalde jaar nie op ‘n boot was nie (die tyd hoe sy identiteit gekry het) en die verhaal word ‘n soektog na sy vader. In die konfrontasie met die vader en sy jonger minnares word die see ‘n aktiewe medespeler in hul stryd. Dit is ‘n verhaal van konflik tussen vader en seun, die soeke na eie stem, die aanspreek van misverstande.  Boonop word dit gelaai met psigo-analitiese dimensies wat die leser net kan bewonder. John Murray weet beslis hoe om sy leser te boei met twee dimensies: ‘n goeie vertelling met onthutsende implikasies roerend onder die oppervlak.

Epiphany, roep die geleerdes dit. En dit is presies wat hierdie verhale ondersoek. Daardie klein oomblik wat ‘n heldere insig is. En wat ‘n mens se lewe vir ewig verander.

Dis ‘n pragboek. Lees dit saam met Bernard Schlink se ongelooflike Flights of love.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Adam Thirwell - Politics (2003)



Adam Thirwell. Politics. A Novel. Jonathan Cape, 2003. ISBN 0-224-07104-1.

Resensent: Joan Hambidge

Stel jou dit voor: ‘n roman met die titel Politics wat nie oor die politieke handel nie, maar eerder oor die lewe en meer spesifiek, die verhoudingslewe. En dis wat hierdie heerlike en briljante roman ondersoek. Dit skeer die gek met die konvensies en verwagtinge wat ons koester oor die liefde.

Drie karakters (‘n man en twee vrou) se liefdesverbintenis word ondersoek deur ‘n skrywer wat hom die hele tyd aanmeld en soos ‘n negentiende-eeuse ouktoriale verteller wat ons herinner aan sy maaksels en hul filosofie. Tussendeur word die verhaal gelaai met verwysings uit ander romanskrywers soos Stendhal en die Markies de Sade. Mao se seksuele praktyke word die aan die kaak gestel en die liefde met ‘n hoofletter L word gedekonstrueer.

Moshe, ‘n akteur se liefdesverbintenis met Nana word gekompliseer deur Anjali. Hul ménage à trois word die basis van ‘n filosofiese en romanteoretiese ondersoek. Hoekom lees ons? En hoe word ons siening van die lewe en die liefde verander of aangetas deur die tekste wat ons gelees het? Anjali se ervaring van Bollywood-films verklaar haar verlange na haar eks-geliefde. Nana, op haar beurt se ervarings word verduidelik deur dit wat haar vader vir haar geleer en voorgelees het. Moshe (half-Joods) is ‘n akteur. Die verteller hou baie van hom en sy motiewe word met baie simpatie vertel.

Dit is ‘n roman wat duidelik in gesprek tree met die konvensies van die romankuns (die skrywer het aan Oxford studeer) en op ‘n superbe wyse word die verskillende diskoerse van ons tyd ondersoek. Ook hoe ons lees en wat ons verwag in ‘n roman word geparodieer. Tog nie op ‘n akademiese of droë manier nie. Die argumente word integraal deel van die storie en die leser lag oor die burleske proses wat hy meemaak. 

Umberto Eco se stelling oor die roman is hier by implikasie ‘n uitgangspunt: as ek liefde verklaar doen ek dit teen die agtergrond van ‘n Barbara Cartland-roman en daarom is dit anders.  Mandelstam se verhouding met sy gedienstige vrou is ook ‘n interteks en die verteller skeer die gek met toevallige ontmoetings wat later deur geliefdes as voorafbestem gesien word. Boonop is Oscar Wilde bedoeld aanwesig. Indien jy die konvensies van die gemeenskap oortree, kan dit jou suur bekom.

Die Surrealiste word betrek waar hulle elkeen moet verslag lewer oor edie seksuele praktyke. Fantasie en werklikheid word vernuftig afgewissel. ‘n Groot seksuele taboe, te wete masturbasie, word ontluister. Boonop is daar momente waar die geliefdes voor die realiteit van seksueel-oordraagbare siektes te staan kom, wat humoristies dog grillig vertel word.

Een van die skouspelagtigste momente in die roman is wanneer Moshe die Koningin Moeder ontmoet. Omdat hy nie die etiket onder die knie het nie, verbrou hy liederlik en boonop hy ‘n fantasie oor haar uitbou wat so verregaande en wonderlik is dat die leser brul. ‘n Kort stukkie: “He guessed at her enticements beneath her artfully draped chiffon. Her legs, he admitted, were odd. Her shins were thick with ulcers. They looked like plastic. She had the legs of an unusual Barbie doll. And her arms were cracked and bruised” (p. 25) Ook dryf hy die spot met die verikonisering van die koningshuis en hoe dit op sigself al ‘n diskoers wat epiese afmetings aanneem, geword het.

Die private oomblikke van beroemdes word ontluister: Stalin se foongesprekke, Hitler se voorliefde vir sadomasochisme, Mao se onhigiëne en Milan Kundera se belydenis dat sy asiel in ‘n vreemde land hom letterlik grys gemaak het. Hoe beskik ons oor al die private inligting? Iewers is die ‘private’ al opgeteken of vertekstualiseer.  Katherine Hepburn se dictum word ondersoek: skryf oor my, maar moet asseblief nie die waarheid praat nie.

Om te skryf dat dit ‘n belangrike roman is, sal ‘n onderstelling wees. Die skrywer het al die Granta-lys gehaal as ‘n belowende jong skrywer, gebore in 1978! Hy is werklik uitstaande en die roman het ek in een sitting geniet. Julian Barnes van Flaubert’s Parrot-faam het beslis kompetisie.  Dit is ‘n moderne Dangerous liaisons sonder sy noodlottige einde. ‘n Behendiger Hallucinating Foucault.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Thursday, March 7, 2013

Nadine Gordimer - Loot (2003)



Nadine Gordimer. Loot. David Philip, 2003. ISBN  0 86486 632 1.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Nuwe versameling fiksies, soos die skutblad dan aantoon van Nadine Gordimer, is uiteenlopend en insigryk in aanslag. Gordimer het veral aansien bereik as ‘n skrywer wat die politieke ondeugde van die land beskryf, maar terselfdertyd  ook ‘n skerp analis van menslike verhoudinge is. In die verhaal “Karma” word die opeenvolgende fases van ‘n lewe se deugde en ondeugde behandel. Soos die woord uit die Sanskrit dan bedui: ‘n mens se lot word bepaal deur jou dade.

‘n Oënskynlik onskuldige inleiding van hoe iemand se soeke na status tot gevolg het dat hy ‘n eiendom besit wat effens bo sy vermoë is wat dan tot ander probleme sal aanleiding gee.  En ook hoe ambisie ons lotgevalle bepaal. Baie vernuftig is een man geplaas in versekering: om mense teen lotgevalle te verseker en te beskerm teen ander se grypsug.  En teen die noodlot.

‘n Mens sou kon aanvoer dat Gordimer die politiek as ‘n soort ‘back-drop’ gebruik waarteen sy universele lotgevalle laat afspeel, behalwe dat die politiek in hierdie land eiesoortig en ontwrigtend inwerk op die keuses van mense.  Die politiek-sosiale opset kan dus by voorbaat ‘n keuse blokkeer.  ‘n Mens se politieke ‘verlede’ en ervarings word dan ook jou lot, soos dikwels by Gordimer leer (o.a. July’s People).

Waarin hierdie verhale uitmunt is sub-teks. Daardie onuitgesproke ‘boodskappe’ wat tussen mense draal. Of dit nou ‘n ouer pa is wat sy vrou versaak om ‘n nuwe minnares in te neem (wat hom op haar beurt versaak) of  ‘n vrou wat in die diplomatieke opset ‘n kultuur-vreemde verhouding begin, is die verhale gelade. Met kultuurkodes, sosiale voorskrifte, leuens, implikasies (die man hoor aan sy minnares se stem dat sy iemand anders sien in ‘n vreemde land).

Die kort-kortverhaal is ook hier aanwesig en in die skitterende “Homage” kry die leser ‘n blik op die psige van die koppesneller. Iemand buite grense, verplaas, op pad wat gehuur word om ‘n regering se vuilwerk te doen. Die verhaal word opsetlik vaag geplaas sodat dit universele waarde kry: dit is die lot van elke huurling geteister deur sy paranoia en altyd op vlug. Die storie is besonder goed gekomponeer: elke motief uitgewerk, bykans soos in ‘n gedig.

Waarskynlik wil hierdie verhaal ook aan haar kritici bewys dat sy nie net oor die lokale kan skryf nie.

Loot is ‘n uiteenlopende versameling kortverhale, kort-kortverhale en een lang verhaal (“Karma”).  In vele verhale word die skrywer se funksie direk aangespreek soos in die aangrypende “Visiting George” waar ‘n pynlike ervaring net sin maak omdat dit verwoord kan word. “Look-alikes” weer takel die hier-en-nou: werkloosheid, armoede, bergies wat hul tuis maak op ‘n kampus en die dilemma wat dit tot gevolg het.

In al die verhale – in ‘n mindere of meerdere mate – is daar karmatiese wette te bespeur. Die boek is dan ook spiritueel, omdat daar ‘n onderliggende boodskap van dit wat jy saai, sal maai dra. Ook al word dit verironiseer: die malariamuskiet is nie die “Reaper with the scythe’ nie, maar sy “emissary, Anopheles”.

Dit is ‘n pakkende leeservaring en ‘n versameling vol verrassings, wendinge, en veral: nuanses. Die prosa is spaarsamig, gedronge en hierom treffend.

Dit is asof sy die besware van haar kritici, dat sy te sterk op die boodskap leun en haar karakters stereotipeer, hier wil verkeerd bewys. Dit kos R175, maar die 240 bladsye kan beslis herlees word.

Hierdie versameling is naas The Conservationist my gunsteling-teks van ons Nobelpryswenner.  

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]