Showing posts with label Irvine Welsh. Show all posts
Showing posts with label Irvine Welsh. Show all posts

Saturday, August 9, 2014

Irvine Welsh - The sex lives of Siamese twins (2014)


Irvine Welsh - The sex lives of Siamese twinsJonathan Cape / Jonathan Ball, 2014. ISBN 978 0 224 08789 6
Resensent: Joan Hambidge

Daar is twee skrywers wat morele grense uitdaag, te wete Irvine Welsh en Michel Houellebecq. Beide laat jou ril en maak jou dikwels uiters onrustig, maar is terselfdertyd meesleurende storievertellers en uitdagende stiliste. Die een Skots, die ander Frans. Toe Welsh gedebuteer het met Trainspotting (1993) kon niemand voorsien dat hy die pas sou volhou nie en met Filth (1998) - wat nes sy debuut verfilm is - het hy hom as die meester van die transgressiewe gevestig, dit wat ons waarskynlik kon beskryf as "hiper-realisme" of selfs "dirty realism".

Met sy jongste roman klim hy kaalvuis in onder die Amerikaanse obsessie met die lyf en voorkoms. Die verhaal begin - en hier is die satiriese Welsh natuurlik aan die werk - wanneer Lucy Brennan, 'n "personal trainer", vir Lena Sorensen, 'n "small fat chick" ontmoet. In Miami. Toevallig. In 'n geweldstoneel wat Lena afneem. Reeds in hierdie kort gegewe maak Welsh 'n skerp analise van die moderne Amerikaanse samelewing: lyfobsessie, geweld, die oralaanwesige, priemende, kliekende moderne media ...

En dan besluit Lena om gewig te verloor en Lucy word haar "trainer". En presies die teenoorgestelde gebeur, tipies Irvine Welsh, wanneer Lucy meer besete raak met Lena as wat die leser sou verwag. Welsh laat hom nooit deur "lesersverwagtinge" voorskryf nie. Hy fnuik dit van ammelee se dae. En presies dít maak hom so 'n goeie skrywer. Jy onthou die dooie babatjie in die kot na 'n nag van dwelmroesemoes en hoe hy uitstel oor die gevolge hiervan in Trainspotting?

In sy jongste roman is Lena van Boston en Lucy van Minnesota en hulle ontmoet in Miami. Sadomasochisme is onderliggend aan hierdie verhouding, wat teen die meeste lesers se morele grein sal ingaan. Gemorskos en "fast food sex" word in jou keel afgedruk. Reeds die titel aktiveer die fantasie van die ongerymde: hoe sou 'n siamese tweeling se sekslewe daar uitsien? Dis 'n roman so reg in die Jerry Springer-kraal: 'n verheerliking van die afwykende en grillige. Trouens, as jy oorgewig is in die sonvelde van Miami word jy hanteer as 'n melaatse, vertel hierdie roman. En ja, die vetste mense het ek in die VSA gesien.

Welsh is tans woonagtig in Chicago en hy verstaan dus die verpletterde Amerikaanse droom ten volle. Hierom dat terme soos Amerika, demokrasie, Vryheid en God vandag alleen spottend en ironies gebruik word, mymer ‘n verteller. Die slot is skokkend en sinies oor die rol van kuns en letterkunde in ons samelewing. Uiteraard sou die kritiese leser ook die uitsprake op Welsh se skryfwerk van toepassing kon maak; of dalk dink hy die uitsprake oor “crappy novels” en “fake asses”  is nie op hóm van toepassing nie?

Die boek is veelstemmig: notaboeke, oggendmeditasies, e-posse, vertellings in kursief aangebied. Hierdie tegnieke is eweneens aanwesig in Sarah Lotz se onlangs verskene roman The three en hierom lyk dit bykans na ‘n nuwe modegier binne die moderne  romankuns. Dalk kommentaar dat daar soveel stemme is dat geen styl meer baas speel oor ‘n ander nie? Dat selfs skyfsels op Facebook deesdae paradeer as skryfwerk?

Op 'n keer het Houellebecq opgemerk: "I admit that invective is one of my pleasures. This only brings me problems in life, but that's it. I attack, I insult. I have a gift for that, for insults, for provocation. So I am tempted to use it."  'n Mens kan hierdie opmerking eweneens van toepassing maak op Irvine Welsh.

Welsh, soos sy Franse skryfvennoot, hou jou aandag; bykans soos by 'n motorongeluk waar jy teen wil en dank kyk na die lyke. Beide weet watter knoppies om te druk sodat jy verder lees aan 'n mistroostige, opgefoeste bestaan

Maar skryf kan hy skryf. Dis nou maar wors. Ek moet bely ek is reeds besig met Porno (2002), terwyl Lars von Trier se Antichrist knor in die dvd-speler. Moreel staan dit my egter nie aan; ek bewonder wel hierdie uitinge as siniese kunswerke.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Beeld.)

Tuesday, March 26, 2013

Irvine Welsh - Filth (1998)



Irvine Welsh. Filth. Jonathan Cape, 1998. ISBN 0 224 04118 5.

Resensent: Joan Hambidge

Met een woord: verstommend. Filth van Irvine Welsh kan 'n mens nie anders beskryf as met uitroepe nie. Verstommend, walglik, ontroerend, ontstellend, verskriklik. En briljant.

Die vuige lewe van Bruce Robertson, 'n polisiespeurder beland in Amsterdam om 'n saak op te los. Hy is egter korrup tot in sy siel toe: hy is verslaaf aan kokaïne, seks (met allerlei genitaliese probleme wat in fyn détail vertel word), skroom nie vir geweld nie. Trouens, hy is speursersant Maigret (van Georges Simenon) se vollledige teenpool. Waar Maigret handewringend hom bekommer oor die gemeenskap se agteruitgang, is Bruce deel daarvan.

En ons verneem dan ook die redes hiervoor. Lesers wat nie hul pret bederf wil hê nie, of nie 'n sterk maag het nie, moet nou asseblief nie verder lees nie. Bruce is verwek in 'n aaklige verkragtingsituasie en die stem van sy vrou werp lig op sy morele verval.

Ook het hy 'n wurm-probleem, en hierdie lintwurm, ja glo my vry, word 'n “stem” wat kommentaar lewer en dikwels sommer oor die vertelling spoel! Nou daar's vir jou 'n nuwe bewussynstroom-tegniek wat James Joyce waarskynlik in sy graf laat tol! Dit sal waarskynlik ook as blasfemies ervaar word deur die meer puriteinse leser, maar 'n mens moet ágter die vergelykings met die Katolisisme kyk.

Irvine Welsh het die wêreld verower met Trainspotting, 'n roman wat my nie geraak het nie, omdat ek nie die dwelmkultuur begryp nie. Maar ek moes dit lees om my studente beter te verstaan ten einde te weet waarmee hulle identifiseer. Ook die film het gewys dat mense hou van sy aweregse lewenshouding. In een van die motto's word Arthur Schopenhauer aangehaal en sy siening van “desengano” en dat die lewe uiteindelik afstuur op ontnugtering.

Daar is min skrywers wat so 'n troostelose beeld van die mens kan gee en jou terselfdertyd kan gevange hou. Dit is 'n roman wat waarskynlik die debat van “welgevoeg” en “welvoeglik” sal aktiveer. Maar feit bly staan: die skrywer het 'n kreatiewe energie wat min hom kan nadoen.

Dis 392 bladsye van 'n ongelooflike leeservaring -- tot by die stertjie van die wurm.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Beeld geplaas.]