Showing posts with label Gecko Publishing. Show all posts
Showing posts with label Gecko Publishing. Show all posts

Thursday, March 28, 2013

Kelwyn Sole - Mirror and water gazing (2001)



Kelwyn Sole. Mirror and water gazing. Gecko Poetry, 2001. ISBN 0 86980 996 2.

Resensent: Joan Hambidge

Kelwyn Sole se bundel Mirror and water gazing gebruik die bekende motto van Archibald MacLeish:

The gull's image and the gull
Meet upon the water.

Dieselfde spanning loop dwarsdeur hierdie bundel waarin die digter stelling inneem teen die ooglopend alledaagse ervaring waaronder 'n pynlike of opstandige gevoel bruis. Die vrou wat deur die supermark stap, se eggenoot volg haar met 'n “basketfull of umbrages”(p. 22).

'n Mens sou Kelwyn Sole tereg as 'struggle' digter kon tipeer, omndat hy standpunt inneem teen middelmatigheid. Daar is politiek-bewuste gedigte in hierdie bundel, maar vir my persoonlik is die digter op sy oortuigendste wanneer hy oor die algemeen-menslike of universele tematiek dig.

“Three weary portraits” - veral “Shopping for love” - is voorbeelde van 'n skerpsinnige blik. In die slotvers, 'n treffende lykdig, “An index of her days”, word een van die mees skreiende portrette van 'n jong meisie se weerloosheid en uiteindelike dood gegee. Die gedig word 'n hartverskeurende analise van 'n gewelddadige samelewing en haar onvermoë om dit die hoof te bied:

Susan, forgive me
this intrusion into
your considered surrender -

trying to sketch the thin
contours of a life;
trying to keep
your small grave clean (p. 27).

Ook 'n vers soos “The betrayal of narrative” (p. 122) gee 'n beeld van Sole op sy beste: hy gebruik min woorde, maar agter die woorde skuil 'n pyn en onnoembare verdriet wat die leser aan die keel gryp. Ook is die digter voortdurend bewus van die beperktheid van die digterskap: dat dit niks kan regstel nie:

Here my poem trips on stone.
My poem must stop short.
It has a swollen ankle. (p. 122)

In “The land” (p. 79) kry 'n mens 'n wrang blik op die nuwe-Suid-Afrika: 'n alleenspraak van 'n mens wat 'n niks is nie, omdat hy werklos is. Die beloftes van die nuwe regering het nie gematerialiseer nie:

“that thing that they call unemployed”.

Die digter klim dikwels onder iemand se vel in hy gee 'n blik op daardie mens se bestaan wat jou skok. Die woorde is min, maar trefseker en selfs in die langer gedigte met hul praatstyl, word die leser getref deur die skerp beelding.

“Africa my postmodernist beginning” (p. 49) is miskien minder suksesvol vir my smaak. Daar is altyd iets fasiels aan hierdie soort eksperimentele gedig of in die langer aanvallende verse.

'n Digter wat 'n vers soos “The dream of the blind child” (p. 13) of die reeds genoemde bestes kon skep, begryp MacLeish se dictum terdeë.

Ek het al die voorreg gehad om hierdie digter te hoor voorlees. Hy lees sy gedigte met wrangheid en by die lees was dit 'n bonus om sy stem te hoor deurslaan.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Friday, March 8, 2013

Robert Berold (Ed.) - South African Poets on Poetry: Interviews from New Coin 1992 – 2001 (2003)



Robert Berold (Ed.). South African Poets on Poetry: Interviews from New Coin 1992 – 2001. Gecko, 2003. ISBN 1-86914-031-1.

Resensent: Joan Hambidge

Writers at work (Interviews from Paris Review) is waarskynlik die maatstaf van hoe ‘n skrywersonderhoud behoort te lyk. ‘n Mens weet mevrou Nabokov dra die broek en dat Harold Pinter uiters sjarmant is. Georges Simenon vertel hoe hy elke drie maande ‘n nuwe roman voltooi, mits sy dokter die groen lig gee en Ezra Pound is verslaaf aan Italiaanse roomys. Ook die onderhoud wat met Truman Capote gevoer is – deur Edmund White - bly ‘n hoogtepunt.

South African Poets on Poetry (saamgestel deur Robert Berold) bevat onderhoude met digters wat in New Coin verskyn het in die jare 1992 – 2001.  Ons verneem op die skutblad dat die diepte en verskeidenheid van ons digkuns hier tot lewe gebring word. Maar daar is geen Afrikaanse digter nie!

Tatamkhulu Afrika, Jeremy Cronin, Ingrid de Kok, Peter Horn, Joan Metelerkamp, Karen Press en Kelwyn Sole maak hier ‘n draai tussen ander name. So behoort die titel “Suid-Afrikaanse digters” te wees? Of eerder Engels-Suid-Afrikaanse digters?

Ingrid de Kok skryf baie insigryk oor die posisie van die digter met ‘n gewete en sien die sosiale bydrae van ‘n digter die skryf van ‘n goeie gedig. Die digkuns is ‘n veeleisende taak en daar is geen maklike oplossing of uitweg nie. Sy is baie uitgesproke polities; die digkuns, egter stel ander eise aan die beoefenaar van hierdie medium.

So som sy die toestand hier te lande op: ”(S)ometimes generous, sometimes mean-spirited family affair” (p. 117) Hierom is buitelandse publikasie so belangrik, want dit gaan om die gedig, nie die profiel nie.  En as ‘n mens in die buiteland publiseer, word jy ten minste gemeet aan werklike groot skrywers. Jy kry ten minste ‘n idee, meen sy, van wie jy is. ‘n Mens kan absoluut met hierdie stelling saamstem en ten tyde van  die samestelling van Brink se Groot Verseboek 2000 bel die uitgewer my op in Cambridge, Mass. Omdat ‘n groepie digters ongelukkig is dat ek ‘n samesteller is, is daar ‘n familierusie aan die woed. Daar op Harvard Square dag ek: van hier ver lyk die Afrikaanse digkuns se intriges soos ‘n rusie rondom ‘n leë testament.

Beide Ingrid de Kok en Jeremy Cronin verdedig en verduidelik hulle liefde vir en beoefening van liriese poësie. En Cronin stel dit ook onomwonde dat ‘n mens nie kan veralgemeen oor die funksie en doel van die digkuns nie.  Hy skryf: "Poetry tends to be disruptive of received meanings, it bites the heels of discourse, it makes visible hidden assumptions and assumed hierarchies embodied in our ways of speaking” (p. 129).

Veral Cronin is ‘n uiters geartikuleerde digter en ook sy sosiale gewete praat egter nie slegte sosiaal-bewuste gedigte goed nie. Ook Kelwyn Sole lewer ‘n belangrike bydrae tot hierdie debat. Die digter – wat tereg deur Cronin is baie knap uitgesonder word, maar van wie se sosiale uitsprake hy verskil – bely sy minagting vir wit liberaliste. Tereg beklemtoon hy die impak wat hierdie land op sy psige en persoonlikheid gehad het. Hoe dan anders? Hy kan ook nie anders as om die teenstrydighede in sowel sy gedigte as sy persoonlikheid te beklemtoon nie en dit is waarskynlik juis hierdie aspek wat sy gedigte so aangrypend maak vir hierdie leser.

Hier is ‘n vakman aan die woord, maar iemand wat ook uiters krities is wanneer oppervlakkige sosiale en politieke veranderinge in die media aangebring word. Vir intellektuele Isidingo’s het hy geen tyd nie.

Een van die aangrypendste bydraes is Tatamkhulu Afrika s’n. Hy praat oor sy identiteit en in welke mate sy Moeslim-kultuur sy lewe en skryfwerk beinvloed het. Toe hy as ‘n tiener besef hy is aangeneem en boonop nie ‘wit’ nie, het sy lewe dramaties verander. Sy bodem het as’t ware uitgeval. Dít en die pynlike ervaring in ‘n oorlogskamp toe ‘n roman opgeskeur en vernietig is, blyk die twee traumatiese dryfvere in sy skrywerk te wees. Ook soos die voorafgaande digters glo hy in tegniek, en nogmaals tegniek. Orale digkuns had ‘n plek in die ‘struggle’, maar nou  is net die goeie gedig vir hom aanvaarbaar.

Ook Peter Horn se bydrae is gesaghebbend in die ondersoek na die verhouding tussen estetika en maatskaplike probleme. As Duitser is hy eweneens bewus van die mag van taal en die probleme wat dit vir ‘n digter skep om in ‘n tweede taal te werk.

Dit is ‘n belangrike en uiteenlopende versameling digters aan die woord. Wanneer gaan daar soiets in Afrikaans verskyn oor Afrikaanse digters?

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

Monday, February 11, 2013

Andrew K. Miller - Hintsa’s Ghost (2007)



Andrew K. Miller. Hintsa’s Ghost. Gecko Publishing, 2007. ISBN  0 620 37630 9.

Resensent: Joan Hambidge

Daar was jare gelede ‘n resensie van Brink in Rapport waarin hy geweier het om ‘n bundel te resenseer, omdat dit min blyke van poësie bevat het. ‘n Geweldige uitspraak – maar myns insiens sou ‘n mens dieselfde van toepassing kon maak op Miller se Hintsa’s ghost. Ons word eers deur ‘n inleiding vertel dat hierdie digter vir die “underdog”omgee en hierom moet die gedigte dus geag word. Phehello Mofokeng het waarskynlik goed bedoel, maar hierdie uispraak help nie eintlik om die gedigte te red nie. En ja, ‘n wit man wat dig binne ‘n swart konteks en boonop is hy fisies gestremd.

T.T. Cloete het polio gehad, Henning Pieterse hakkel, en ek is ’n vrouejagter – maak dit enigsins saak?

‘n Gedig bly goed omdat dit ‘n goeie vers is.

En basta met die res.

Dit kan relevante psigoanalitiese interpretasies verskaf, maar helaas nie die vers “red”nie.
Natuurlik is daar altyd die moontlikheid dat ‘n digter sy tyd vooruit of verby is – ek dink hier aan Wopko Jensma.

Maar hierdie gedigte werk nie vir my nie.

Ons word gekonfronteer met uitsprake soos:

we are all forced to die / and it will hurt (p. 11)

prepare yourself to bargain / at the round table of our demise (p. 11)

In die gedig “death”(p. 12) verneem ons:

staring at me
wetting her lips
lifting her skirt
waiting

for the fresh young meat

“Vortex”(p. 51) klink so:

baby
when we love
it is like coming home

your skin stretches over me
i taste your salt
sweet

we roll forever like this
baby i am home

thank you

In “scraps”(p. 15) word die leser gevra om sin te maak van hierdie lewe. Die lewe is hard. Om ‘n digter te wees, nog harder. Boonop word ons verwen met titels soos “the cats next door are fucking”(p. 26).

Uit piëteit blaai ek by die kiekies verby.

Moenie die digter skiet nie, vra hy.

Ons weet wat die Beats met hierdie gegewe vermag het.

Nee, nee my Dolla nee, ek lees nie Loskop-Digter nie!

(c) Joan Hambidge