Showing posts with label Uitgewery Praag. Show all posts
Showing posts with label Uitgewery Praag. Show all posts

Tuesday, May 2, 2017

Jean-Philippe Toussaint – Die badkamer (2017)



Jean-Philippe Toussaint – Die badkamer (Vertaal deur Dan Roodt). Praag, 2017) ISBN 978 1 920128 20 3

Resensent: Joan Hambidge

La salle de bain word deur Dan Roodt vertaal as Die badkamer. En wat ‘n lieflike vertaling is dit nie! Op die blakerteks word die teks as ‘n meesterstuk-in-die-kleine beskryf, byna soos ‘n abstrakte skildery. Die voorblad is Octavia Roodt, wat onmiddellik die oog vang.

Inderdaad is die taal bondig en die teks, van die Brussel gebore Toussaint, skrywer van twaalf boeke en ook filmmaker, is lieflik. Die paragrawe is genommer.

‘n Jong man besluit op ‘n dag om sy intrek in die badkamer te neem. Hier lê hy en lees en tob oor die lewe. Niemand kan hom hier uitkry nie. Hy vertrek met die trein na Venesië, beland in die hospitaal...

Die boek neem die leser uiteraard terug na die romans van Alain Robbe-Grillet waar elke teken in die teks iets beteken soos in In die labirint van 1957. ‘n Mens dink ook aan Roland Barthes se beroemde teks, S/Z (1970) waar Sarrasine van Balzac in lexias opgebreek word.  Elke teken in die teks word ‘n teiken (om Merwe Scholtz aan te haal.)  Veerpyltjies word gespeel in die teks (57) en selfs Monopoly. Sokker is ook iets waarna gekyk word - 'n verdere kode.

Die kodes van wiskunde (Die kwadraat van die lengte van die skuinssy is gelyk aan die som van die kwadrate van die lengtes van die reghoekige sye, is ‘n motto uit Pythagoras) en die boek bevat drie dele: Parys, Die skuinssy en Parys. Mondriaan se spel met lyne en kleure is eweneens relevant. En sy die aspek van nie-representasie: lees hierdie teks net as teks …

Mondriaan maak die boek oop vir die leser. Die verteller is gaande oor die werk van Mondriaan en die onbeweeglikheid daarvan. Die afwesigheid van bewegingperspektief, is die dood (80). Hierdie novelle word ‘n stuk dinkwerk oor die verhouding tussen lewe en dood. Die verteller lees ook Pascal se Pensées.

Hy haal uit Engels aan uit Pascal; niks kan ons vertroos nie.

Die voetnoot op bladsy 34 is ‘n verdere aanwysing van hoe jy die teks moet lees. Die vertaler verduidelik netsukes as Japannese kunsvoorwerpe wat tradisioneel gebruik is om houers aan ‘n kimonogordel vas te maak.

Dit is nie ‘n koesarigama nie, maar ‘n delikate netsuke wat vereis word.

Die netsuke het dikwels ook ‘n klein verrassing binne hom. Sommige is drie-dimensioneel.

Ons het ‘n obsederende verteller, een wat onrustig is en ‘n houvas op die werklikheid verloor het.

Klein foute op bladsy 68 (ee-nvoudig); beweg-ingperspektief (80); vlo-erbedekking (94); nieluister(114).

Die novelle het my teruggeneem na Roodt se Twee sinne (1985), ‘n minimalistiese teks waarin die leser gedwing word om elke sin en woord te heroorweeg.

Ons Afrikaanse tekste het dalk te plot-gedrewe geraak en om ‘n novelle te lees wat eerder fokus op die stylaanbod, is verfrissend. Dann Gunn praat van die  “wondrous oddity of the banal”  in die Times Literary Supplement en Susanne Kunckel in Die Welt verwys na die speelsheid van die teks.

Is die gooi van die veerpyltjie werklik of nie? En die seekat?

En die besoekers? En die naam Edmondsson?

Besluit gerus self.

Dit is lieflike, opwindende novelle, uitstekend vertaal, wat vra vir ‘n wye, Afrikaanse gehoor.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld) 

Friday, March 1, 2013

Kleinboer - Kontrei (2003)



Kleinboer. Kontrei. Uitgewery Praag, 2003. ISBN 0 9584635 4 9.

Resensent: Joan Hambidge

Kleinboer se debuutroman Kontrei (met sy plat woordspeling) geniet wye media-dekking. Moenie dat dit jou as leser vervreem nie, want dikwels kan lesers juis boeke wat oorbelig word as ‘n soort leesversperring ervaar. Dit was destyds die geval met Triomf.

Kontrei is ‘n belydenisroman. ‘n Outobiografiese vertelling van ‘n soekende ek wat aan sy tweelingbroer die storie vertel. ‘n Mens kan dit as ‘n parodiese antwoord lees op Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan: Maria/Marie se analise van onbeantwoorde liefde en haar verdrietige verliteraturing daarvan. In Kleinboer se roman gaan dit oor besoeke aan hoerhuise en die  die soektog na die uigestelde O. Kleinboer is ‘n soort Henry Miller-figuur wat die fallus verheerlik en die leser blootstel aan die bestaan van die soekende, wandelende ek.

Geplaas teen die moderne Johannesburg – Yeoville en Hillbrow – kom motorkapings, Vigs, die lewe in ‘n moderne stad, liefdeloosheid, geweld, en al die onsekerhede van ‘n grys bestaan na vore. Die romantitel is ironies, omdat dit ‘n soort plaas-idille wil oproep. Maar Kleinboer woon in die stad, ofskoon hy dikwels tuin maak en filosofeer oor die betonoerwoud waarbinne hy hom bevind en wat hom frustreer.

Hy maak ook spelfoute in hoerhuise reg en gereelde lesers van Litnet se briewekolom sal die werklike skrywer se beheptheid met woorde alreeds ken. Dit is dan in die eerste instansie ‘n skrywer wat jou bewus maak van die skryfproses en soos in die metaroman dikwels gebeur, verneem ons teen die einde dat ons die beoogde roman sopas gelees het.

Dis ook ‘n roman wat bewustelik inskryf teen die plaaroman se kodes van die boer op die land. Hier is die boer ‘n cruiser wat hoerhuise besoek en sy voorkeur vir swart vroue uitspel. Wanneer hy by geleentheid emosioneel betrokke raak, ondermyn dit die hele jag(s)tog. Ook die verhouding met sy swart huisgenoot en haar kind, wat hom Daddy noem, word besonder goed verbeeld. Hy is die jagter, maar wanneer sý dalk ontrou mag wees, raak hy jaloers op die man wat besoek aflê. Op ‘n deernisvolle manier word die verhouding met die kind beskryf en die woedeuitbarstings tussen die twee huisgenote is driftig. Sy noem hom ‘n Boer in woede en die leser word betrek by al die pynlike misverstande in ons samelewing.

Nie alleen is dit pakkend en goed geskryf nie, maar ek dink die leser word ook betrek by ‘n eerlike bekentenis.  Wees net gewaarsku: die ‘naked I’ is dikwels die mees gedistansieerde verteller denkbaar en hoewel ons dikwels sy fallus sien is daar maskers en intertekste ingebou om afstand te skep.  Die verwysings na die jeug is hartverskeurend (veral die vader se reaksie op ‘n swart huwelik) en Bybeltekste verïroniseer die huidige verloedering.  Die skrywer is dieselfde jaar as hierdie leser gebore en baie subtiele retro-verwysings kan dus met ‘n glimlag waardeer word. Die ou en nuwe Suid-Afrika word baie slim teenoor mekaar geplaas en die seun se opstand teen die stoere vader (wat selfs die toiletgewoontes wou beheer om water te spaar), word knap verbeeld.

Een leser mag nooit namens ‘n ander leser praat nie, maar ek meen die boek se krag lê in sy eerlikheid opgesluit en die varse, nie-studeerkamer-agtige prosa wat dikwels sieldodend is nie. Hy skryf uit sy ‘gut’. Miskien selfs verder af, sou ‘n mens speels kon aanvoer. Tog is dit terselfdertyd ‘n slim  boek vol verwysings en sydelingse klappies. Koos Kombuis is daar; ook ander herkenbare mense word by die naam genoem.

Dis nie ‘n boek wat jou ‘opwerk’ nie; daarvoor is dit te slim geskryf en word te veel intellektuele kwessies soos identiteit, taal, herkoms, die dood betrek. Ook is daar ‘n soort “sonde met die bure” ter sprake wanneer die honde in die buurt stilgemaak moet word. Daar is ‘n blik op die absurde in die lewe: hy woon ‘n Jim Rose-vertoning by en lag vir sy eie seksbeheptheid. Waarom “cruise” hy? Kleinboer se roman openbaar dieselfde obsessie as wat ‘n mens in Nagsweet van Johann de Lange kry: die opstand teen die vader, die soeke na die self, die onvermoë om die nostalgiese jeug en die harde werklikheid te versoen dalk. Kleinboer wys meer as sy ploegskaar.

Praag het hierdie roman gepubliseer en gerugte doen die ronde dat Naspers dit afgekeur het. Sal daardie redakteur asseblief opstaan en verduidelik waarom vrot, lewelose boeke bó hierdie kragtoer verkies is? Dis nou as jy uit jou skaamte kan opkyk.

Uitgewery Praag: Posbus 3103, Dainfern, 2055

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]