Showing posts with label 1795. Show all posts
Showing posts with label 1795. Show all posts

Wednesday, July 5, 2017

Rubriek | Dan Sleigh se 1795

Dan Sleigh, 1795

I

D. Sleigh se roman 1795 behaal die eerste plek in 2015 se Groot Romanwedstryd. Sopas is dit bekroon met die WA Hofmeyr en die ander boeke was Huilboek van Ryk Hattingh en Op ‘n dag, ‘n hond van John Miles. Met die groot romanwedstryd was Alexander Strachan tweede en Etienne van Heerden derde.

Ofskoon dit onmoontlik is om sulke uiteenlopende romans te vergelyk, is die roman 1795 iets heel besonders.  Ek het reeds indertyd hierop gereageer. (WoordeWat Weeg/ 'n Nota by Dan Sleigh se roman, 1795. Besoek 4 Julie 2017).

Hierdie roman aktiveer die film Russian Ark van die filmmaker, Alexander Sukorof. Die filmmaker problematiseer – soos Sleigh – die verhouding tussen geskiedenis en hede. (Russian Ark – Wikipedia. Besoek 4 Julie 2017). 

Dit is ‘n historiese film (van 2002) wat vervaardig is in die Winterpaleis van die beroemde Hermitage.

‘n Naamlose verteller stap in die Hermitage en bewonder die skilderye. Hy is egter ‘n gees (soos in ’n Faulkner-roman) wat in ‘n ongeluk omgekom het en nou kontak maak met bekende historiese figure. Sy vriend, die Europeër, oftewel die Markies de Quistine, stap saam met hom deur die verskillende vertrekke. Soms word hulle gevra om die vertrekke te verlaat; ander kere bly hulle en lewer kommentaar op musiek, die besetting van Russland, die verhouding tussen Rubens en van Dijk, die Rembrandt-skilderye ensomeer, word behandel. Twee jong matrose beweer die Tsaar het die skilderye anders gehang as wat ons dit nou ervaar. Goeie skrywers het mooi hare, verneem ons.

Ons sien voorstellings van Peter die Grote, Katarina die Grote, Tsaar Nikolaas die Tweede  se kinders, verwysings na die besetting van Rusland tydens WOII.

Roerend is die optrede van die kleinseun van die Sjah van Iran wat formeel om verskoning vra aan Tsaar Nikolaas die Eerste vir die dood van ‘n Russiese Ambassadeur.

Wanneer ‘n mens hierdie voortreflike film kyk, wonder jy oor die stem of die verteller. Wie is hier aan die woord?

Die werklike filmmaker is die verteller wat jou neem op hierdie reis deur die Hermitage en die geskiedenis van Rusland. Ongeveer 33 kamers word besoek en meer as 2 000 akteurs het deelgeneem aan hierdie produksie. Die danstoneel aan die slot van die film is asembenemend. In 1991 had ek die voorreg om St Petersburg te besoek en die verskillende vertrekke van hierdie fenomenale paleis/kunsgalery mee te maak.

Die Markies het in 1839 Rusland besoek en ‘n boek geskryf oor sy besoek: La Russie. Hy roep na sy moeder voor ‘n beeldhouwerk van Canova, ‘n vriend van sy moeder, en sy belangstelling in die porselein in die Hermitage aktiveer hoe sy familie aan hul rykdom gekom het. In ‘n besonder aandoenlike toneel ontmoet hy ‘n blinde vrou wat met haar vingers kan “sien”.

II
1795 lewer eweneens historiese kommentaar op die uitdagings van vandag. Die geskiedenis van hierdie land word intens geaktiveer deur die afbrand van die Bloemfontein se stadsaal. Hierop reageer ek in ‘n gedig nadat die skrywer J.C. Steyn vir my ‘n berig hieroor stuur per e-pos:

Apophrades

vir J.C. Steyn

My verse sleep vlerk
by die dooies: daardie digters
in die baldakyne van my taal
getrippelmaat, getrema én gekodeskrif.
Die vaatwerk van hul verse
só perfek saamgevoeg
met patene en siborieë.
Ek plaas in ’n muntkissie
in naberou treuselend my aflaat:
mea culpa, mea maxima culpa
oor ’n vorige bestel só boos.
Mag hulle stemme bly ópklink
soos daardie trotse Steinway,
in 1936 uit Duitsland ingevoer.
Wonderskone musiek klink steeds op
in die Bloemfonteinse stadsaal:
puin en sinnelose kruistogte ten spyt.

Die vers speel uiteraard in op Harold Bloom se troop van die Apophrades oftewel die terugkeer van die dooies in The Anxiety of Influence (1973). Dit verwys verder na eucharistie met die patene en siborieë. (The Anxiety of Influence – Wikipedia. Besoek 5 Julie 2017). 

In haar uitgebreide resensie-essay op Litnet maak Heilna du Plooy die volgende relevante uitspraak: "Historiese kennis en selfs geskiedskrywing is egter nie dieselfde as die skryf van ’n historiese roman nie.Of is dit?" (LitNet Akademies-resensie-essay/ 1795 deur Dan Sleigh | LitNet. Besoek 4 Julie 2017).

‘n Skrywer kan die geskiedenis ‘aanpas’, vryer daarmee werk, net soos ‘n filmmaker. Sodoende kan daar volgens Du Plooy verskillende gesindhede na vore gebring word.

Soos Sukarof, die verteller van sy film is, bly die leser deurgaans bewus van die stem van Dan Sleigh, gedugte navorser en kenner van die geskiedenis, in sý roman.

“Geskiedenis is ‘n kanker, jy kom nie van sy pyn weg nie. Sokrates het die gifbeker gekies omdat demokrasie hom gewalg het, maar hy sal hier bly en waak” (508).

In die karakter Anton word daar kommentaar op die geskiedenis gelewer, soos dat Beethoven ‘n student van Mozart was. Hieroor, weet die musiekkenner, is daar onsekerheid. Sommige historici meen dat Beethoven wel ‘n paar klavierlesse van Mozart ontvang het, in 1787 – ander meen weer dat daar slegs een ontmoeting was. Maar die romanskrywer kan besluit dat hulle wel ontmoet het.

Die roman lewer kommentaar oor die impak van die geskiedenis en hoe dit vir lank daarna nog ‘n impak het.

Die roman sit vol taaljuwele. Aloofness: loefkant – bo die wind, weg van die lywal (502).

Dit is meer as oor die Britse oorname van die Kaap. Hierdie roman is ‘n stuk bewaring, ‘n belangrike kommentaar op die impak van taal op identiteit. (En wat van die skrywers? | Netwerk24. Besoek 5 Julie 2017).

Dan Sleigh © Michael Hammond

Tydens die oorhandiging van die WA Hofmeyr het die skrywer bely dat dit sy laaste roman is.  Dit sal jammer wees, want in hierdie navorser en skrywer het Afrikaans ‘n belangrike stem en kommentator. Lady Anne is ook hier – en sy is sopas weer vertaal in Engels deur Antjie Krog. So praat tekste heen en weer met mekaar, net soos toe met nou.

‘n Roman oor die geskiedenis ja, oor die impak van verengelsing. In Sleigh se eie woorde in die reeds vermelde onderhoud:
“Dit wás so, die eerste Engelse bewind het ’n taalbeleid ingestel . . . dit word nou later met geweld afgedwing en dit lei tot, onder andere, die Groot Trek, wat myns insiens een van die grootste rampe was wat hierdie land ooit oorgekom het . . .
 “Die verengelsing van skole en later kerke . . . Jy weet, in hierdie NG kerk in Adderleystraat is nog tot in die vorige eeu in Engels gepreek. Die verengelsing het baie lank geduur en was baie diep.
 “Wat nou op Stellenbosch gebeur, is myns insiens ’n ónreg; ons gee nie genoeg aandag aan die onreg nie. Ons praat van ínkomste en die student se toekoms en al daai klas van goed, maar wat van die ónreg? Daardie mense is gerégtig op hul opvoeding; hulle het geen kwaad gedoen deur in Afrikaans te wil leer nie. Hoekom word daar teen hulle opgetree? Hoekom word hulle uit die pad gevee? Dat só iets gebeur en dit word deur baie aanvaar.” 
© Joan Hambidge


Thursday, September 1, 2016

'n Nota by Dan Sleigh se roman: 1795



My taal is kuns én gereedskap: my tjello, my palet, al my fyn beiteltjies, ek word bang wanneer dom mense daarmee speel …
Geskiedenis bewaar die herinneringe van hoë dade, is getuie van die verlede, ‘n voorbeeld vir die hede en ‘n waarskuwing oor die toekoms...

I

Tydens die lees van Dan Sleigh se lywige en uitgebreide roman 1795, wat verlede jaar die groot romanprys verower het, dink ‘n mens ook terug aan die roman Eilande (wat in 2002) verskyn het. Afstande het in 2010 die lig gesien. Hierna was daar Wals met Matilda in 2011. 1795 is eers genoem: Die laaste goeie man.

Sleigh is ‘n historiese romanskrywer. Sy tekste lewer o.a. kommentaar op krygskunde, seevaart, die Kompanjie-jare, en selfs verder terug in die tyd, die gebeure vier eeue VC.

Sleigh is ook digter en ‘n vinnige goegeloer het egter niks hiervan verklap nie. Duif oor water het in 1971 verskyn.

Daar is twee kwessies wat hierdie leser wil opper by die lees van Sleigh se jongste roman. Waarom vergeet ons dat hy ook digter is (was)? Is dit omdat die Afrikaanse letterkunde genre-beperkend lees?

En: by die lees van hierdie roman, kom ek af op Jay Corwin se fassinerende studie oor die Colombiaanse romanskrywer Gabriel García Márques (MacMillan Education/Palgrave, 2016).

Corwin wys op die hantering van die historiese gegewe in die roman The General and His labyrinth en die toespeling op Simón Bolivar. Ook in Of Love and other Demons is daar ‘n portret van Cartagena de Indias (Cartagena, Colombia - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 31 Augustus 2016).

Soos Dan Sleigh is daar by Gabriel García Márques ‘n besondere kennis van die geskiedenis wat tot fiksie verwerk word. Laasgenoemde skrywer ken die Renaissance Spaanse letterkunde en die Yoruba godsdiens (Yoruba religion - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 31 Augustus 2016).


II
Dan Sleigh © Michael Hammond

Sleigh se roman word bemark as ‘n roman waarin William van de Reede van Oudtshoorn, ‘n goewerneur se seun met ‘n belangrike plek in die Kaapse regering. Hy is woonagtig op Saasveld. Sy lewe is ordelik. Die see bring vir hom ‘n vrou en in die winter van 1795 vind daar ‘n politieke omwenteling plaas.

Rondom die twee asse, die liefde en die politiek, word hierdie roman gekonstrueer.

Maar daar is ook die sensuur van die kerk en ‘n verbod op trou in enige Kaapse kerk. Sleigh verwys ook na iets wat verdere speurwerk vir hierdie leser gekos het: die roubord wat nooit teen die muur gehang sal word nie (444).

Op die internet vind ons die volgende: Sy roubord en wapen hang nog vandag in die kerk van Oudtshoorn, Nederland (Willem Ferdinand van Reede van Oudtshoorn (1755-1822) | WikiTree/ The FREE Family Tree. Besoek 31 Augustus 2016).

In hierdie verwysing is daar ‘n naam van die dosent wat destyds hierdie geskiedenis aan my gedoseer het aan die Universiteit van Stellenbosch, toe meneer Bergh, en ons vind ook die testament:
Testator(s): William Ferdinand van Reede van Oudtshoorn 4 Maij 1822 Inventaris van alle zodanige goederen en effecten, als er op Zondag den agt en twintigsten dag der maand April, s avonds de klokke omtrend tien uuren, in den jaare onzes Heeren een duyzend acht honderd twee en twintig, metter dood zyn ontruymd ende nagelaten, door den hoog welgeboorene heer William Ferdinand van Reede van Oudtshoorn.Hebbende de heer overledene, by beslootene testamentaire dispositie in dato 10 September 1819 opgerigt, en waarvan de superscriptie ten zelfden dage voor den notaris publicq m:r Jacobus Petrus de Wet en getuigen is gepasseerd, na alvoorens, zoo wel by dat testament, als by onderscheidene actens denzelven testamente g’annexeerd differente dispositien te hebben gemaakt, voorts tot zyne eenige en universele erfgenaamen genomineerd ende g’institueeerd de kinderen by zyne overledene echtgenoten in echt werwekt, als ….
Daar is al dikwels verwys na Sleigh se skryfvermoë. Die toneel waar William voor die kerkraad gedaag word, is so helder geskryf dat ‘n mens die hele Sanhedrin se reaksie kan sien. Dit is ook gelaai met sub-teks.

Elke goeie herder word beskou as ‘n koopman (of opperkoopman).


III

Die sogenaamde historiografiese roman is ‘n uiters belangrike deel van enige letterkunde. Die kluif boeke oor die Anglo-Boereoorlog o.a., of Dan Sleigh se falanks belangrike tekse, maak vir belangrike en stewige leeservarings.

In die hande van ‘n mindere skrywer sou die gaapkurwe hoog gewees het, maar Sleigh laai die gegewe met drama. Die romanwedstryd se eerste prys in 2015 was welverdiend.

Dieselfde geld die Nobelpryswenner, García Márques. Gerald Martin se biografie van die skrywer is ‘n belangrike teks, maar dit is veral Jay Corwin wat my met sy gesaghebbende studie weer laat nadink oor die belangrikheid van historiografiese fiksie: die waarheid gelieg / die leuen in die waarheid.

In Chronicle of a Death Foretold word ‘n historiese wending gefiksionaliseer, ‘n insident wat in Colombië afspeel in 1951. ‘n Insident wat afspeel rondom die lot van ‘n sondebok. Hoe ver hierdie skrywer sy tyd vooruit was, word beklemtoon deur Corwin. Die skrywer ontgin Latyns-Amerikaanse Oriëntalisme wat later in ons postkoloniale tyd – post-Said – ‘n gonswoord geword het (100).

Miskien is dit die hoogste tyd vir ‘n jong student om ‘n studie te onderneem oor hierdie twee belangrike skrywers!

En nou inspireer dit my so dat ek weer Borges lees in Sheila Cussons se verruklike vertaling: Die vorm van die swaard en ander verhale, wat in 1981 by Tafelberg verskyn het. Van al hierdie verhale is “Die evangelie volgens Markus” ‘n kragtige her-skrywing van die kruisigingsverhaal geplaas in Suid-Amerika.

Borges had nie ooghare vir Neruda nie en onse Gabriel het op ‘n keer vir Llosa gebliksem oor ‘n vrou. Maar wat maak dit alles saak? Elkeen is briljante skrywers in eie reg.


Die vorm van die swaard bepaal immers die litteken!

© Joan Hambidge