Riana Scheepers. Met
die taal van karmosyn. Human & Rousseau, 2001. ISBN 0 7981 4211 1.
Resensent: Joan
Hambidge
Min skrywers presteer dit om twee genres goed te beheer.
Breytenbach is waarskynlik in Afrikaans 'n fenomeen wat letterlik kan oordraf
van een genre na die ander. Riana Scheepers het veral as kortverhaalskrywer
naam gemaak en 'n eiesoortige verhaal gelewer waarin veral die feministiese en
Afrika-diskoers uniek ontgin word. Sy is tereg bekroon vir haar werk in hierdie
genre.
Haar debuutdigbundel Met die taal van karmosyn word
bemark as 'n verrassing. Die skrywer se gesig - soos Terblanche Jordaan
s'n - word groter as lewensgroot op die
voorblad geplaas. Sy skuil ook agter 'n net wat waarskynlik vir die leser 'n
soort opsetlike distansie tussen outobiografie en werklikheid wil inbou. 'n Fiksionalisering
waarskynlik van die 'oop' medium: die gedig.
Paradoksaal is 'n gedig nie 'n getuigskrif nie en lesers
wat gedigte wil gelykstel aan kenbare werklikhede lees nie die digkuns reg nie.
'n Gedig verdraai en versteur dikwels gegewens. Dit huiwer nie om atonaal te
wees nie en vertel op sigself sy eie verhaal. Dit kan dikwels ook, tot die
chagrin van sowel leser as digter, 'n ander boodskap oordra as die
"werklikheid".
Scheepers se debuut is nie indrukwekkend nie. Tog is daar
'n handvol verse wat onthoubaar is tussen verse wat nog gewoon indrukke is (en
waarskynlik te na aan die digter of die ervaring staan).
Daar is ook verse wat opsetlik wil problematiseer en skok
met 'n raspejoratief:
KwaZulu-Natal
Kyk op in die lug! Daar is 'n skrefiesmaan, dis 'n
Moslemmaan,
'n KwaZulumaan, 'n piesangmaan, 'n romantiese nimfomaan
ek is in my land
ek draai my ruite oop
ek luister na die wind
ek hoor die kaffers sing
ek herken die woorde
ek sing saam
ek het jou lief
Dikwels is die liefdesgedigte hier nogal na aan die been
en laat dit die leser bloos. Maar om skaam te kry, is nie 'n literêre argument
nie, weet ons uit Johann de Lange se Nagsweet.
En om te liefde te banaliseer, is waarskynlik 'n gegewe
wanneer jy oor die intieme ruimte van die vleeslike skryf. Tog is die mees
bevredigende verse - vir hierdie leser altans - gedigte waar daar distansie of
ironie ingebou is. "Rympies op 'yt'" (p. 76) en die skrynende
"Swartland: wintermiddag"(p. 34) met sy harttreffende slotstrofes:
en as ek terugry deur die Swartland
het die laatmiddag room geword
maar daar is nie treine nie
net swerms wit voëls oor koringlande
die reuk van grond
die asem van die berg
en die verlange na jou
wat skerp
soos chroom
deur my sny
Hierdie herdigting van Van Wyk Louw is uitmuntend wat die
ander gedigte flets laat lyk. Maar waarskynlik is die karmosyn alreeds 'n
aanduiding dat sy emosioneel-direk wil skryf. Opsetlik word begrippe soos
'purple patches' of die 'sillepsis' geaktiveer. Maar wanneer die digter hierdie
uitweg kies, staan sy die gevaar van die ontblotende soos
"Verklaring"(p. 35). Vir my is die beste verse egter die wat agter 'n
woord-net gebeur. (Karmosyn aldus die kernwoordeboek is 'n hoogrooi purper
kleur.)
Daar is gedigte oor Afrika, gedigte wat die liefdesvers
nuut probeer aanwend, maar soms nogal banaal raak en gedigte oor ouers. Daar is
talle her-digtings van klassieke verse (soos "Lied in die
voorwinter", p. 33) en gesprekke met ou Griekse digkuns.
Verder is daar ook reisverse. Marais, Watermeyer, Van Wyk
Louw, om enkele name te noem, maak hier 'n buiging.
In die geheel gesien is sy eerder kortverhaalskrywer as
digter.
Die bundel sal sy gevolg hê soos Steve Hofmeyr se Valkuns dan ook bewys het.
[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]