Showing posts with label uHlanga. Show all posts
Showing posts with label uHlanga. Show all posts

Tuesday, March 28, 2023

Resensie | Nick Mulgrew - The Book of Unrest | uHlanga, 2022

Nick Mulgrew - The Book of Unrest. uHlanga, 2022. ISBN: 978-0-620-98690-8

Resensent: Joan Hambidge

 

Receding now, the floodwater masquerades as ocean.

Every day the intertide rises further, approaching 

the horizon in a parallel band: the coast is leaking grey;

even the dullest shades of blue desert the ruined bay.

 

Hierdie is die tweede bundel van Nick Mulgrew, uitgewer en bekroonde skrywer. The First Law of Sadness ontvang die 2018 Nadine Gordimer-prys en sy roman A Hibiscus Coast, was op die langlys van die 2022 Sunday Times Fiction Prize. In 2016 ontvang hy die  gesogte Thomas Pringle Award en was hy ‘n finalis vir die National Poetry Prize.

 

The Book of Unrest is ‘n bundel waarin die digter deur ander Durban-skrywers sy eie ervarings karteer: elegies, melancholies met ‘n besinning van die plek van die digkuns in turbulente tye. Bekendes soos Imraan Coovadia, Sally-Ann Murray, Richard Turner, Ronnie Govender, Douglas Livingstone word aangespreek.

 

Fernando Pessoa is ‘n belangrike kode vir hierdie bundel. Hierdie digter het verskillende personas geskep soos Alberto Caeiro, Álvaro de Campos and Ricardo ReisDie Portugees-gebore digter Fernando Pessoa (1888 -1935) het van ouderdom sewe in Durban gewoon waar sy vader konsul was.


Deur ander digters uit Durban te betrek, word ‘n komplekse diskoers uitgestal. Die leser wat bekend is met die digters waarop hy steun in sy reaksies, word gekonfronteer met ‘n ryk skat van verwysings en palinodes soos “Dramatis personae” (11) dan bevestig.

 

Dit word ‘n bestekopname van jeugervarings waar die ouers aangespreek word en die dood van ‘n kind wat hom in die herinnering agtervolg. Hierom dan ook ‘n reeks waar die getalle van agter na voor werk met skerp politieke kommentaar. “Dogma” – in gesprek met Douglas Livingstone – hanteer die religieuse en politieke dimensies en word ‘n aangrypende ars poetica. Een waarin die digter konstateer: dit is soos dit is …

 

Hy skryf oor die “littoral zone”, ‘n belangrike metafoor vir die begryp van die gedigte, omdat die spreker afduik in die onthoue wat deur die onbewuste na vore gebring word. Dit is dan ook die titel van Douglas Livingstone se bundel van 1991.

 

Daar is pragtige, onthoubare beelde soos “The sun is a cartouche without graven name or image” (15) 

 

Teenoor Afrika-woorde soos umlungu, dala, gwaai is daar die litanie van pyn binne ‘n Westerse mens wat al die teenstrydighede van hierdie vasteland probeer versoen.

 

“Rewriting is unwriting” en later: “writing is unwriting” (55) aktiveer die werkswyse van Roland Barthes in sy poststrukturalistiese periode soos in S/Z (1970/1974).

 

Barthes se lisible (leesbare) versus scriptible (skryflike) leesaksies is hier tersaaklik. Die leser in The Book of Unrestword uitgenooi tot ‘n skryflike leesaksie waar jy ander tekste saam-lees en oopmaak. Soos Pessoa met sy verskillende gedaantes en maskers geplaas teenoor Douglas Livingstone, die Durbanse marine bioloog, gebore in Kuala Lampur. En ágter hom skuil Roy Campbell, nog ‘n magistrale Engelse digter, vereer deur D.J. Opperman in ‘n lykdig “By die dood van Roy Campbell”.

 

Met daardie ongelooflike reël:

 

ek ken die brons krisante van die pyn.

 

Die digter is tegnies bedrewe en veral sy jeugherinneringe gryp aan die hart. Die dood van ‘n kind – ‘n soort politieke metafoor – vir weerloses en verskoppelinge is treffend.

 

Die bundel bevat odes, ‘n aubade (oggendlied), ‘n gebed en ‘n spel met spreekwoordelike draaivers (“Home poem”, 23) of pantoem. Hierdie vorm uit Maleisië bevat 4 kwatryne met herhalings van reëls wat oorloop van een strofe na die volgende.

 

Die leser vind dikwels ook die lament in hierdie bundel. 

IV

 

I too left that coast at seventeen, but I am not Fernando.

But neither was he. Nor Ricardo, Ālvaro, Alberto.

Oh, to be the elderly child stuck in the city of their mother,

dreaming only the dreams they dream; only the dreams of others.

(54)

Met die wete dat die verskillende digterlike selwe of personas geskep is uit herinneringe en mites.

 

Genoeglik die vers wat ‘n ode is aan ‘n tyd buite tyd en ruimte. Hiermee wil die digter die kwessie van herinnering aanspreek wanneer hy nie in die trope is nie (12). Die digter is tans woonagtig in Edinburgh met nagraadse studies aan die Universiteit van Dundee. ‘n Veraf blik dus.

 

‘n Klein bundel, maar die gedigte is verpak soos dinamiet.

 

Bestel van Uhlanga press http://uhlangapress.co.za/

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

 

Thursday, May 13, 2021

Resensie | CJ Driver – Still Further | Uhlanga, 2021

CJ Driver – Still Further. Uhlanga, 2021. ISBN 9780 620  928137

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Die sub-titel van Still Further lui: New Poems, 2000–2020. Na 'n lang stilte – die laaste bundel het in 2005 verskyn – is die ernstige digkunsleser dankbaar vir hierdie versameling, geoes uit verskillende publikasies. Gedigte uit klein poësietydskrifte word byeengebring en kry dus binne bundelverband nuwe betekenisse.

 

Douglas Reid Skinner word vermeld 'n redakteur van die gedigte en wyle Dan Jacobson was altyd 'n eerste leser. Jacobson met sy buite-blik op hierdie land resoneer met die digter se afstand-en-vertrek.

 

Hierdie is die werk van 'n geoefende digter wat in die kleinste besonderheid 'n gedig kan opvang:

 

The deconstructed triangles

    of seagulls' prints

       criss-cross the rippled sand (“Cove Rock, Igoda River Mouth”, 14).

 

Dit is dan gedigte wat met hierdie verwysings werk en 'n criss-cross word deur die digkuns. My eksemplaar sit vol donkie-ore en uitroepe van bewondering. Die digter het verskeie tegnieke van die digkuns onder die knie. Daar is skerp, ironiese en afstandelike waarnemings oor menslike sotheid, maar ook verlangens na verlore vriende, liefdes en Afrika. Daar is opstand teen onreg; die digter was immers 'n anti-apartheid aktivis wat in Engeland moes gaan woon en die ellende van die vorige bewind moes meemaak soos eensame opsluiting. Hy is terugkeer na Suid-Afrika geweier en die leser kan hierdie letsels raaksien in sy gedigte. Die motto van Nigel Balchin beklemtoon dat in die ouderdom behoort jy nie meer tot enige land nie. Die bundel is dan laatwerk.

 

Die openingsgedig “In England Now” sinkopeer die herinneringe aan Afrika en hoe 'n mens altyd 'n buitelander (inkommer) bly in Engeland; al het jy 'n “English voice”.

 

Nostalgie, heimwee, verlange en melancholie bepaal die toon van die gedigte. Die voorblad van die bundel dui iets broeiend aan. In die gedig “Storm” (79) staan daar:

 

I’m the messenger, and my message is the storm:

 

'n Mens sien ook iets hiervan in die vers “Someone” (36) waar die leser self moet besluit wie hierdie persoon is. Dalk 'n ver-beelding van die dood? Ouderdom en afskeid; afskeid en vertrek, skerp weergegee in “Small Town, Old Age” (33) in die waarneming van kannas se verskillende kleure. 

 

A sliver of moon, sliced as thin

as cucumber for a sandwich. (34)

 

In die ironies-satiriese “The Security Policeman's Song” (38) word die polisieman aan die woord gestel as verskonend en selfregverdigend. En inderdaad verander die politiek voortdurend met die pynlike, onlosmaaklike band tussen polisieman en gefolterde.

 

Die verwysing na Afrikaanse plekname word meer as die landskap. “Nietgenaamd” (94), vir Gus Ferguson, word ook 'n lamentoso oor geheueverlies. 

 

In “Words & Music” (89) beskryf hy wel die landskap, maar dit word 'n ars poetica oor die stiltes tussen woorde en dat die digkuns sy eie eise stel, vérby emosie. Die lykdig – vir Julia Swindells – heet “An Interruption” (72) en hierdie pynlike vers beweeg terug na die eerste vers.

 

“Au Contraire” (52) maak hom die digter van die parabool tydens die lees van Ovidius – en word 'n broeiende verslag van ballingskap.

 

Reverse exile, then, to be sent to London from the provinces –

Except that I loathed London with its cliques and claques, chattering hacks …

 

Lamentasies, homages, spel met ryme, himnes, gebede, vertalings en intertekste wys op 'n digterskap van nadink oor die bedryf. “Old Oak” (86) praat onbewustelik met Eybers se gedig “Orkaan” met sy orentbly wat gewoonte word. Twee gedigte wat die boom personifieer: by die een val die boom, by die ander digter bly dit staan. Beide digters werk met ironie en paradoks.

 

Dit is 'n bundel vir hierdie tyd met die oorgang tussen herfs en winter. Soos die verskillende seisoene bepaalde emosies vergestalt, vind ons in hierdie bundel verskeie emosies: teerheid wanneer hy oor kleinkinders en tydgenote skryf; woede oor onreg en ‘n blymoedigheid oor die digkuns as ‘n “well-wrought urn” in Cleanth Brooks se terme. Catullus en Montale word nuut verpak, nes “Simple Song” waarin hy dans met Ingrid Jonker se woorde (48).

 

“A Sort of Prayer” (100) gee hulde aan J.M. Coetzee met die ebsef van verganklikheid ingebou in so ‘n homage aan ‘n jarelange vriend. Wat kan alles ingelees word in Omdraaivlei? En kyk hoe mooi praat hy met ‘n Juffertjie-roer-in-die-nag in ‘n gedig (63).

 

‘n Verruklike bundel vol besinning, vol emosie – vol terugkyk.

 

Hier is 'n gedig:


In England Now

 

“I don't think you belong to any country in particular when you are old”.

Nigel Balchin, Darkness Falls from the Ai

 

For Kate Wilson

 

Before the dawn, a dream of what I lost

By leaving when I did; and then the sky

   Blood-streaked enough for home, and I

        Remembered what you asked.

 

“But haven't you already made your choice?

You've lived in England more than half your life,

     You have a house, career, a wife –

           Even an English voice.”

 

Old friend, you know quite well how much I've changed –

But still I need those deep horizons, where

     (With no impediment but air)

               The far-flung land is ranged.

 

You say I'm almost English now – should keep

Myself concealed? A fractured part of me,

   My heart perhaps, will always be

             In Africa: when I'm asleep

 

Or when the early breezes shift the haze

Of mornings into Sussex summer skies,

     The promises of heat revive

           Those distant dusty days.

 

So if we “immigrants from overseas”

Have found in England rich security

        Since here one may be almost free –

                    “Such teeming destinies”

 

Once held in England's boundless “master-work”

Come now to sweep the streets, or teach, or nurse –

     Must we be told that we should curse

          Our past as wholly dark?

 

Accumulated anguish for a name

And nothing good to find, but grief in loads

    Piled up like cairns on mountain roads

             To fool an exile home?

 

And yet both here and there I'm tainted by the past –

An Englishman come lately back again,

     Who thought that he might skip the pain,

             Colonial to the last.

 

So here I stay, half-hoping still to go.

The claim of birth would be of little use

       If once again I made a choice.

           The years are not so slow.

 

The morning spreads its wings; the ash-tree leaves

Are making music out of light and shade;

        The early colours smudge and fade;

                A roosting ring-dove grieves.

 

I am in England now: old hypocrite,

Who bows and smiles and nods and does his best

      To seem content. I'm loyal at least –

          Or is this still deceit?

 

Two of the quotations in Stanzas 6 & 7 are from W.E.Henley's poem, “England, My England”. (Published in The Use of English, August 2009)

 

Tuesday, December 4, 2018

Resensie | P.R. Anderson – In A Free State (2018)

P.R. Anderson – In A Free State. uHlanga, 2018. ISBN 978-0-620-81224-5

Resensent: Joan Hambidge

I
Dit is die derde digbundel van hierdie digter wat in 2003 die Sanlam Literary Award ontvang het. Hy is die skrywer van Litany Bird (2000), Foundling’s Island (2007) en sopas verskyn die evokatiewe bundel In A Free State met die subtitel: A Music. 

Nou onlangs was ek ‘n beoordeaal vir ‘n Engelse digkuns-prys en al die inskrywings is anoniem beoordeel. P.R. Anderson se gedig was die beste.

Hoe benader ‘n mens hierdie lang teks wat uit 74 gedigte bestaan? Die gedigte is elusief en illusionêr. Dit handel oor die letterlike Vrystaat (hier te lande), maar sinkopeer ook met die betekenis van ‘n Vry-staat. 

Die teks dwing die leser om assosiatief te lees asof jy luister na ‘n komposisie. Opera aktiveer immers die luisteraar se vermoë om ánder betekenisse los te maak en om buite tyd en ruimte te beweeg.

In hierdie bundel is daar geen konvensionele vashouplekke nie. Die leser word letterlik van bakboord na stuurboord gestuur om telkens anders te kyk na die aard van die digkuns en na die geskiedenis van hierdie land.

Behalwe vir die bloedige geskiedenis van die land – met die Vrystaat as ‘n middelveld – aktiveer hierdie bundel ook die verskillende poëtikale tradisies wat bestaan. Anderson se bundel praat uiteraard met Gilbert Gibson se bundel Vry-wat in  2015 verskyn het (Woorde wat Weeg/ Gilbert Gibson - Vry- (2015)Besoek 29 November 2018).

En al is die opset “bedoel” of  nie, aktiveer dit hoe verskillende diskoerse tegelykertyd, dog apart bestaan in Suid-Afrika. 

Pogings om een bloemlesing of literatuurgeskiedenis saam te stel (soos Chapman al probeer het), wys ironies genoeg uit hoe die verskillende literature apart bestaan met verskillende lees- en skryfkonvensies.

En tog al weet digters nie van mekaar nie, is die gedigte daar vir die gesprek.

Net soos modernisme steeds saampraat met die postmodernisme. 

Is hierdie teks modernisties of  dalk eerder metamodernisties? ‘n Reaksie dus op die postmodernisme en selfs kritiek daarop?

Waaroor handel hierdie bundel? Die tema is oënskynlik een van ‘n jong meisie wat transformeer, vlug, sterf – daar is ‘n verwysing na uile (simbool van die dood). In Afrikaans het ons Jeanne Goosen se ‘n Uil vlieg weg wat in 1971 verskyn het. Goosen se Om ‘n mens na te boots (1975) laat die leser ook in die duister wanneer jy ‘n begin of middel of einde soek.

In die tyd van uile is Sarina Dönges se hoogs onderskatte bundel wat in 2004 verskyn het. Michèle Betty se Metaphysical balm (2017) gebruik ook die uil as ‘n simbool van transformasie en transfigurasie.

Gedig 53 van Anderson klink so:

1
What to do with the word
“concentration”?
Commissariat of spectacles, pencils.

Clerical war.
This is the estimate
of death. || of infants

3
Dysentried, whole tents
shitting their skirts, skin sunk.
Human clay.

‘n Ontstellende en skerp gedig oor die Anglo-Boereoorlog (ook genoem die Suid-Afrikaanse oorlog), wat in Afrikaans Marais, Totius, Leipoldt, e.a. aktiveer.

En omdat hierdie bundel ‘n mens soos wanneer jy na musiek luister, assosiatief laat reageer, aktiveer dit Patrick Cullinan se gedig “Love and war” uit die bundel Transformations (1999):

And to my friends I send
a blessing:
the shock of second sight.

But to enemies I reserve
truth absolute,
implacable light.

In love and war
you have to be fair:
serve both right.

Die gedigte neem mens op vele trekpaaie (72) en ‘n sentrale vers is 62 met Cronje en die verwysing na Burgerschap.

Die digter kan egter nie die vryheid raaksien nie …

Piet Cronje, 'n belangrike rolspeler, het in albei Vryheidsoorloë geveg en tydens die eerste oorlog het hy ‘n Britse leër by Potchefstroom oorrompel (Tweede Vryheidsoorlog - Wikipedia. Besoek 29 November 2018).

In gedig 72 word Steyn en Moshoeshoe vermeld. Die aanvalle op die legendariese koning word geaktiveer. Hy het gewoon op Thaba Bosiu (berg van die nag) en in volksgeloof (urban legend) groei die berg in die nag en krimp dit weer in die dag.

Dit was ook ‘n vesting teen sy vyande.

Grondbesit word aangespreek. Die gesprek van die dag. In hierdie bundel word die leser terug geneem na ons bloedige geskiedenis van die ABO tot nou.

“The saddest country” aldus die pynlike gedig 55:

Your unbeing being the saddest
part of me, the saddest country,
I stop for nothing.

(66)

II

Die drie vlakke van die gedigte aktiveer Jacques Lacan: die Verbeelde, die Simboliese en die Reële ordes van betekenis.

In Žiżek! (Astra Taylor se film oor die filosoof) analiseer Slavoj die televisie-dokumentêr met Lacan (Zizek! - Wikipedia. Besoek 30 November 2018).

Ek praat die waarheid, meen Lacan, maar terselfdertyd beklemtoon hy: waarheid is onmoontlik.

Hy hou nie van Lacan se styl nie; dis aansitterig en vals, meen onse Slavoj, maar wát hy skryf, is van belang.

Croire y: glo my simptoon en hierdie bundel word simptome van verliese, sowel op 'n politieke as 'n persoonlike vlak.

In Lacaniaanse terme aktiveer die gedigte objet petit a: die verlore objek.

En dit is presies wat hierdie bundel doen. Soos wat ons kyk na Slavoj Žiżek se dokkie wat Lacan analiseer op tv, kyk ons na P.R. Anderson wat in die openingsgedig kyk na T.S. Eliot en die lang modernistiese gesprek:

“Come April and the cosmos …"

Ek is gaande oor Anderson se styl. Ek vind sy gedigte opwindend en hoogs boeiend. 

‘n Sentrale vers is nommer 49:

“Suffer the Life, then, to kindle
your dust as tinder, to burn your book.” (60)

En hoe die plante ook ingewerk word, is belangrik. Soos nooienshaar (34):

Walking on verges, crossing the patchwater, cloud
underfoot, sidestepping the nooienshaar of cassettes tape's


“the Sputnik, the Concertina, the Sheep Knife, the 9-Volt Battery.”

Sommer al die temas in een versreël vasgevang.

“On this world, this dibbled lens, this disc,
etc.” (35)

Dit is 'n bundel wat elke herlees en herbesoek ander betekenisse losmaak. Dit is sedimentêr en vol lae (23).

Ons lees ook 'n verwysing na mille-feuille ...


Endnote:
Gilbert Gibson - Vry-.Human & Rousseau, 2015. ISBN 978-0-7981-7053-6 | ISBN 978-0-7981-7054-3 (epub) | ISBN 978-0-7981-7055-0 (mobi)

Sunday, August 20, 2017

Resensie | Douglas Reid Skinner – Liminal (2017)

Resensie | Douglas Reid Skinner – Liminal. uHlanga, 2017. ISBN 978-0-620 -76256-4

Resensent: Joan Hambidge

I

Blue Rivers (2012), Heaven - New Selected Poems (2014) en die vertaling van Valerio Magrelli se verse (saam met Marzo Fazzini) is van hierdie digter se werk die afgelope paar jaar.

Liminal, sy sewende versameling, het pas by uHlanga verskyn.

Dit word bemark as metatekstueel, metikuleus, gevoelvol. Inderdaad. (Announcing/ Liminal, by Douglas Reid Skinner — uHlanga. Besoek 13 Augustus 2017).

Dit is waarskynlik tersaaklik om die hele kwessie van liminaliteit (Van Gennep se term) en die kwessie van die tussentoestand te betrek. Daar is nadenke oor die lewe, oor die digterskap, oor verspeelde kanse - en gedigte oor Venesië. Die reisvers is per definisie 'n gedig oor liminaliteite, omdat dit iets vasvang tussen die bekende en die onbekende; hier versus daar; belewenis én optekening.

In hierdie verband is die lieflike gedigte oor Venesië gewoon skitterend.

Die besinnings oor die skryfproses is onthoubaar:

A poet
... there is an old quarrel between
philosophy and poetry ...

offers no solutions
wrote Tony Hoagland,
just a “lucid diagnosis”.
But what can you do
when you're up to the neck
in a host of words
with only the shadow
of a spade to hand? (51)

Hierdie slim ars poetica aktiveer nie alleen Hoagland se sieninge oor kanonisering en hoe gedigte by jong mense uitgebring behoort te word nie, maar betrek ook die harde werk wat die digkuns opeis. Dis soos spitwerk, met die keuses wat die digter moet uitoefen voor al die moontlikhede wat tegniek en woorde inhou. Die digkuns mag 'n filosofiese boodskap oordra, maar die werk van die digter is “spitwerk”, met ander woorde, die soeke na konkrete beelde of metafore - “of a spade to hand”. (Conversation/ Tony Hoagland on 'Poems That Could Save America' | PBS NewsHour. Besoek 13 Augustus 2017).

Die gedigte is inderdaad ruminasies of meditasies oor die lewe - binne die grensruimte (die vreemde of tydens die skryfproses) neem die digter afstand van die lewe. 'n Drumpeltoestand, dus.

In “Twenty years on” (39) word 'n besoek aan Venesië weergegee:

to pause, raise a glass, and remember poetry's cause.

II

Die boek val in vier dele uiteen. Daar is 'n besoek aan 'n biblioteek, 'n brief aan Dante en Robert Frost - opgedra aan Patrick Cullinan, self 'n gedurfde digter. Reid Skinner gebruik van die beeld van die “path”, 'n belangrike beeld by sowel Dante as Frost, word hier 'n soeke na helderheid vir die spreker. “Surrounded by mountains” word opgedra aan Gus Ferguson, geskryf tydens die Franschhoek-fees, 'n soort villanelle (18 reëls, nie 19 nie) met die “haunting” reël:

a plume of smoke is rising into cloud (17)

Wat is meer dralerig en verganklik as rook? En wat dui ook op die aanduiding van gevaar of vuur? Dit word 'n pynlike analise van 'n vriendskap, en lesers bekend met die werklike geskiedenis weet met welke sensitiwiteit (en deernis) hierdie situasie beskryf word.

“Winding tunnels” handel oor die jeug en daar is al verstommende verse oor hierdie digter se gereglementeerde jeug geskryf: 'n hele huis met weermag-aanwysings en kinders wat punte toegeken is vir hulle optredes. Hier gaan dit oor die “uncertain shades of home”, die troebelhede van 'n bestaan wat die jong kind oorrompel het en waarheen dit digter nou terugkeer in verse.

Die verse gee nie maklik hul geheime prys nie. Dit is vernuftig gekonstrueer, vanuit verskillende perspektiewe. Daar is dikwels 'n “irony's edge” - soos Linda Hutcheon [1] se term lui - aanwesig in hierdie verse.

Vir haar is ironie nie om die teenoorgestelde te uiter van wat jy bedoel nie, maar eerder 'n komplekse spel tussen die ongesêde en die gesêde; afstandneem en in-beweeg - iets wat op Reid Skinner se bundel van toepassing gemaak kan word.

My kopie wat voete gekry het en as ek reg onthou, het hierdie studie 'n pragtige omslag van 'n meisietjie se voete wat oor 'n afgrond hang. “Ludwig's last letter” (28) vang hiervan iets op:

a village of thought on a summer's day,
with ordinary ideas sitting quietly
in the square, or leisurely walking
along its paved diagonals, going
steadily about their business.

Dikwels handel verse oor soeke na oplossings, na 'n roete (“straight road”) wat die spreker moet help om te ontsnap. Daar is vele besinnings oor die digproses en die sterkste verse is dan gedigte oor digters, vir digters en oor die rol wat die digkuns speel in sy eie lewe.

In die derde afdeling is daar “Instructions for writing a poem” (47), 'n slim meta-vers, wat die digter droom. Die droom verskil van die finale produk. Daar op die “edge of the bed” dink hy dat hy in beheer van die skryfproses is, maar uiteindelik is die vers se “unheimliche” aard só dat dit nie “beheer” of “gedikteer” kan word nie. Hierom sluit dit aan by die gedig: “If you think you know how to write a poem, think again: the poem has other ideas” (49).

Die gegewe van obsessionele liefde (selfs “stalking”) word hier gelyk gestel aan die skryfproses ...

Dikwels is die skryfproses oorweldigend (die skrywer sit voor leë bladsye); ander kere word dit “found poetry” of 'n “urban legend” wat die luisterende digter optel in 'n kroeg.

In die vierde en laaste afdeling word sosiale kwessies aangespreek en politieke en historiese figure, soos Lady Anne Barnard. “History is a slaughterhouse” (63), weet ons.

Die “being inside” teenoor die oorrompelende geskiedenis, word voortreflik beskryf in “Smoke signals” (66).

Die digter kyk dikwels terug na sy jeug, sy land sy verlede - maar die gedigte is opwindende raaisels: iewers tussen nou en toe; droom en realiteit; begeerte en ontnugtering ...

III 

Reid Skinner is woonagtig in Engeland, maar diep betrokke by die Suid-Afrikaanse Engelse digkuns. Hy was betrokke by die Carrefour Press (1988 - 1992), redakteur van New Contrast en tans mede-redakteur van Stanzas. Hy vertaal ook Afrikaanse digters na Engels en as redakteur is hy voortdurend bewus van “nuwe stemme” en “nuwe strominge”. (Woorde wat Weeg/ Joan Hambidge - Lady Gaga (Translated by Douglas Reid Skinner) [Poem].  Besoek 13 Augustus 2017).

Ook hierdie dubbelposisie (digter/redakteur; Engeland/Suid-Afrika) is 'n liminale posisie.

Die bundel is mooi uitgegee met 'n voorbladontwerp van die digter se suster, Cleone Cull.

[1] Hutcheon, Linda. 1994. Irony’s Edge: The Theory and Politics of Irony. London and New York: Routledge.