Showing posts with label Ingrid Winterbach. Show all posts
Showing posts with label Ingrid Winterbach. Show all posts

Wednesday, July 17, 2024

Resensie | Ingrid Winterbach – On rus op Steynshoop | Human & Rousseau, 2024

Ingrid Winterbach - Onrus op SteynshoopHuman & Rousseau, 2024. Sagteband, R 350, 296 bladsye. ISBN 9780798184724

Resensent: Joan Hambidge

 

I

 

So word Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach roman bemark:

Die teenwoordigheid van die Chinese in Steynshoop het die dorp die afgelope paar jaar ingrypend verander.
Benna Potgieter, wonderkind in sy prille jeug, is sedert sy pa se dood 'n haarkapper in sy ma se salon. Sy lewe neem 'n drastiese wending wanneer die skilder Fonny, sy groot verlore liefde, onverwags na die dorp terugkeer. Ook Jonah Voorsanger, met sy af-toon en sy intellectual poster boy-voorkoms, maak weer uit die bloute sy raaiselagtige opwagting.
Benna se kuier by sy vriend Sarel in Ladybrand sorg vir nog 'n onaangename verrassing, en die onverwagse besoek van sy broer, Petie - vol spyt en bitter verwyte - is genoeg om Benna lelik van stryk te bring.
Sy vriendskap met Chaoxing Yang bring Benna weer terug tot sy ander groot liefde, comics.

Snaaks, droewig, wrang en oneerbiedig - 'n opwindende nuwe roman in ware Winterbach-trant.

 

II

 

Winterbach se aweregse humor en die samesnoering van oënskynlik teenstrydige elemente is haar kenteken. Disparate elemente soos ‘n Afrikaanse dorpie waar Chinese die oorhand het, boerename, die gebruik van ou woorde met ‘n vertellerstem, wat tussen parenteses die ironie van alles beklemtoon, is hier van die belangrikste temas én tegnieke van die roman.


Die leser lag en word terselfdertyd bewus van ‘n kil blik op ‘n vreemde en terselfdertyd bekende samelewing. Die ouer garde wat rassistiese, oftewel pejoratiewe terme gebruik, teenoor die jongeres wat wil wegvlug uit verdrukkende ellendes.


Die werklike skrywer gee vir die leser sleutels na bekende skilderye en selfs na Jacques Lacan. Jonah was te jonk om by Lacan te kon aanklop as vertroueling en doodsbegeleier (99). Was hy ‘n doodsdoulah of nie?


Uiteraard tersaaklik: hoe leuens en verdigsels die onderbou is van die teks. 


Hierdie komplekse en aangrypende roman beweeg in ‘n sirkelgang. ‘n Mens kan die roman “oopmaak” op verskillende plekke soos vir hierdie leser. ‘n Soort story board skryf. (Onder die invloed van Hitchcock en Francis Ford Coppola wat verduidelik hoe hy die Godfather-reeks gemaak het na aanleiding van Mario Puzo se roman. Met asteriske waar hy wil verfilm.)


1 ‘n Toon wat verloor is in die dismemberment-ritueel aktiveer die objet petit a ('n konsep wat volgens Lacan onvertaalbaar is) kan as volg geïnterpreteer word: die verwys na die Autre (Ander); die petit a (klein a) differensieer die objek van die groot A. Dit is vir Lacan 'n algebraïese teken.


Le semblable ("counterpart") verwys na die ego se soeke na identiteit buite sigself. In die sogenaamde spieëlfase word hierdie aspek geartikuleer. Désir (begeerte) verwys na méér as begeerte of wensvervulling. Dit is vir Lacan eerder die krag wat alles beheer en reguleer. Oor Jacques Lacan het ek uitgebreid geskryf in my studie oor gender.

(Hambidge, 2000: 214 – 217).

 

‘n Lacaniaanse lesing sou ‘n leser ver neem in hierdie roman: die wet van die Vader (375) en gedurigdeur die kwessie van die patriargie (262). (Vaders wat vermoor is, soos Fonny se pa.)


Benna lees eweneens ‘n biografie oor Lacan.


Benna werk in sy ma se salon. Daardie ruimte van bavardier (tjettereer) en empty speech in Lacan se terme.

Hier is dan parlêtres (pratende objekte) wat telkemale op ‘n eie missie is. Alles word tussen karakters netjies verbind.


2 die hele kwessie van hemel, hel en verlossing loop regdeur die roman. Met ‘n kruid (dwelm) wat bliss teweegbring.  Lacan se jouissance wat sowel pyn as plesier aktiveer.


3 Daar is raspejoratiewe in karakters se mond wat die teks outentiek maak: dis hoe mense in daardie wêreld praat (en dink). 


4 Die landskap wissel tussen Steynshoop (ironies want hier is geen hoop nie), met die loci wat verskuif na Stellenbosch, Bethuli, Ladybrand, Musina, Ficksburg, Clocolan …


5 Dostojefski teenoor Amy Winehouse. Yolandi Visser teenoor die Generaal Piet Joubert-gastehuis.


Behalwe Lacan, lees Benna ook Foucault, Baudrillard, Nietzsche, Levinas …


Soekie verwys o.a. ook na Žižek …


Die skrywer Bolaňo wat te ingewikkeld is vir sy comic strips.


Benna en Sarel kyk na Béla Tarr, die meester van die stadige en werklike verbeelding in films,  se The Turin Horse.


Vlermuise versus bloeiende neuse. Regste en verbeelde reise.


Die mandorla of lig wat om die heiliges hang soos in Christusbeelde maar ook in Boeddhistiese kuns.


6 Die verhaal vertel veral die stryd tussen broers (een dood, een dolend) met Benna wat in sy ma se haarkapper werk. Die skilder Fonny, wat vir verskillende wendinge sorg, is die een aan wie hy sy hart ophang. Sy verhouding met sy moeder en sy wederstrewige broer Petie, word uitstekend beskryf nes die verlies aan die vader en die jong gestorwe broertjie. (En Hantie wat Sarel probeer normaliseer.)


Is dit waar dat trauma ‘n mens se genetiese samestelling verander?


Maar dit is veral die verhouding met Jonah Voorsanger, met sy af toon, wat vir ‘n verdere motoriese moment in die roman sorg. (Insiggewend is sy totemdier!)


En Marietjie se toetredes. Belangrike swart rolspelers soos Tebatso wat verduidelik hoe die Chinese “inkom”. Mevrou Gigaba ‘n trofeevrou. Of die arme Odelia.


Die man met die bioniese hand en uiteindelik in ‘n sampioenbegrafnispak (in die saprofitiese onderwêreld) en sy impak op sowel Fonny as Benna (294). 


Hoe versuurde vriendskappe nooit hul impak verloor nie, word hier ondersoek. Net soos die dooies weens ons skuld of aandadigheid aan hul besluite, steeds ‘n impak het op besluite.


7 Naamgewing is belangrik in hierdie roman: Benna (Benjamin), Petie (Petrus) wat o.a. die Bybel aktiveer (Die boek Elia is hier, 256) teenoor die tarot en verskeie Oosterse sisteme (soos die I Ching) wat die leser weer na ‘n Jungiaanse lesing van die teks kon neem. Ook Jonah wat ons ken as Jona in die walvis, die seun uit Amittai.


Harold Bloom het hierdie Bybelboek as sy gunsteling uitgesonder:

 https://www.nybooks.com/online/2011/07/28/harold-bloom-jonah-my-favorite-book-bible/

Besoek 17 Julie 2024


Jung se alchemistiese studies is hier tersaaklik. (Met die markplein hier as ‘n soort mandala?)


In die hoofstuk "The Philosopher's Stone In Alchemy: The Androgyne Imprisoned in Matter" verwys June Singer veral na Jung se alchemistiese studies. Die alchemisme bring 'n versoening tussen die spirituele en die materiële, dit wil sê, 'n versoening van die moontlike en onmoontlike. Gnostisisme is die mater alchimica

Die nous (spirituele) het afgekom in die vorm van 'n duif of slang en word opgevang in die physis (Singer, 1977: 136).


Want die lewe is net ‘n illusie, ‘n Boeddhistiese siening is ‘n helder ontdekking (265).


Die tarot word eweneens goed ingebed. Daar is ‘n casino in die dorp (die dobbelwiel in die tarot) en in die minor arcana swaarde.


Die sogenaamde minor arcana behels: Swaarde (of die ekwivalent van die sogenaamde Skoppensboer in 'n speelpak); Munte(Diamante); Stokke (klawers) en Koppies (Harte).


8 Humor en ‘n sin vir die absurde vier hoogty. Chakalaka denDie Mielieblaar, en wait for it: Boerebonders. Die stadsruimte heet die Skwêr! Prullaria …


Wat oor vroue wat hulle hare kleur opgemerk word, is eweneens skreeusnaaks.


Die funksie van kuns word gedekonstrueer in waarskynlik een van die snaaksste passasies nog gelees in ‘n Afrikaanse roman wanneer ekskrement in can-fruit-bottels omgebliksem word. En die reuk, nie die polisie nie, veroorsaak dat alles tot stilstand kom tussen die Hells Angels en kunstenaars (221 - 220). Ek wil nie die leeservaring vir die leser bederf nie, maar dit is waarskynlik een van die sterkste oomblik in die roman wat 

kunspretensie uitmekaar uit bliksem.


9 Alles natuurlik gekomplementeer deur die die obsessie met komiekstrips. Manga. En Bitterkomix.


En komiekstrips word hier weergegee van die kind wat eers “onskuldige” komieks soos Archie en Popeye lees en dan tekste met sterk sosiale kommentaar. Te veel om hier op te noem, o.a. Pat Aulisio se Survive 30 Million:

https://retrofit.storenvy.com/collections/29642-all-products/products/24567888-survive-300-million-1-by-pat-aulisio  17 Julie 2024


Ai Weiwei is ook hier.


In 2009 het Shathley Abrahams ‘n doktorale studie voltooi oor komiekstrips by UCT: Older than language.

Met verdere toespelings op die Baiyue en hul betekenis. Etniese groepe in die Suide van China en Noordelike Viëtnam.  Een eeu voor Christus en een Eeu na Christus. Veral hul tattoes en swaarde is relevant vir hierdie teks.

https://en.wikipedia.org/wiki/Baiyue  17 Julie 2024 

 

Benna is immers bevriend met Chaoxing (‘n naam wat Expecting Fortune beteken) en sy verhouding met sy vader word ‘n navrante spieël van afwesige vaders in alle kulture. En daar is Sarel, die wiskunde whizz-kid, Benna se skoolmaat in Ficksburg (en sy latere waansin) teenoor ene Gertruida, die kenner van die I-Ching. En navorsing oor die Brakpan Strangler. 


Die Spirituele reis van Katerina de Sanguin na Tibet …


Heiliges en hoere. Dieresimbole soos in Suid-Amerika word eweneens geaktiveer. In Peru, byvoorbeeld is slange en voëls heilige simbole in antieke tye. Ook die Vicuňa aldaar as simbool.


Totemdiere. Sjamane. Ayahuasca-seremonies. 


Die betekenis van kos. Soos die sojaboonwrongel.


‘n Insigryke beskrywing van Mao.


En die betekenis van Chinese kuns( 283): o.a. met die landskap van emosie en die veelvuldigheid van die wêreld.


10 Die roman lewer sterk sosiale en politieke kommentaar met die inkommers, die Chinese wat ‘n hele dorp se infrastruktuur verander. Dit veroorsaak uiteraard spanning tussen die Chinese en swart inwoners. Die konflik tussen Oosterse en Westerse kulture word verder gekompliseer met verwysings na swart kulture.

Die sogenaamde “baasskap” van ‘n dorp word op sy kop gekeer met ‘n duidelike aansluiting by die ervaring van hoe alles tans in beweging of flux is, hier en elders.


Ons siele is dalk ingeplug in die media? (77)


Dieselfde geld die leesstrategie vir en tot hierdie roman. Nes jy dink jy het die sleutel gevind, dan word die mat onder jou uitgeruk.


11 Dalk alles te make met die vertellende instansie wat tussen parenteses kommentaar lewer op karakters se denke en optredes.


In Drie-en-vyftig word die ouktoriale verteller Jy.


Is dit die verteller wat intree en beheer erken van alles wat gebeur?


Soos in ‘n droom wat beskryf word. (Een-en-vyftig).


12 En dan die verskillende taalregisters verdien eweneens vermelding. Van Standaard-Afrikaans tot komiektaal wat spaars is. Selfs intermittante kekkels (35) in ‘n filosofiese bydrae: Die kritikale snieker”.

Van blote storievertel tot lesings o.a. oor Lucian Freud en Francis Bacon. Die ekologie van magsverhoudings, lees ons.  


13 En die fungus as metafoor? O.a. Ophio-cordyceps-fungus wat ‘n hele mierkolonie kan laat intuimel, is hier uiters relevant: die sogenaamde zombiemierfungus (288). 


Hierdie insekte wat met hierdie fungi besmet is, word as begraafplase tipeer.


Wat ons dan terugneem na  die teoretikus J. Hillis Miller se seminale teks “The Critic as Host” in Deconstruction & Criticism.


En hier is ‘n toepassing op J.M. Coetzee vanuit hierdie hoek:

https://manifold.umn.edu/read/cc-frame-007-essay-01/section/e724b462-90a8-42cd-9195-0d6cf26131cd  Besoek 14 Julie 2024

 

Ten slotte:

Vir my is die blik (die oog) in hierdie teks relevant. 


Die Lacanian 'gaze', die blik, die oog, kan verder as uitgangspunt geneem word, omdat dit meesterskap / beheersing / oorwinning insluit met verskillende karakters wat buikspreek vir die verteller  wat juis hierdie oorheersing dekonstrueer of bevraagteken.


Dis ‘n fassinerende roman wat verskillende disparate modi saamplaas en telkemale die leser verbyster met ‘n nuwe aanslag. Die vrae oor die verteller word “opgelos” in die slot: Benna werk aan ‘n roman in sy swart A-4 hardebandboek.


‘n Roman wat soveel wêrelde saamsnoer en oopbreek. Veral die landskap van die psige word besonder kompleks verbeeld.


Joan Hambidge

Julie 2024

 

Bronne:

 

Abrahams, Shatley. 2009. Older than language: comics as philosophical praxis and heuristic for philosophical canon. UCT, PhD. (Studieleier Joan Hambidge).

Hambidge, Joan. 2000. Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde: ‘n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk. UCT, PhD. (Studieleier H.J. Snyman).

Hillis, Miller J. 1980.  Deconstruction & Criticism. Londen: Routledge.

Lacan, Jacques1966/1977. ÉcritsLonden: Tavistock. Vertaal deur Alan Sheridan.

                                     1973/1977. The four fundamental concepts of psycho-analysis. Londen: Penguin. Vertaal deur Alan Sheridan.

Leader, Darian. 1996. Why do women write more letters than they post? Londen: Faber and Faber.

Singer, June. 1977. Androgyny - towards a new theory of sexuality. Londen: Routledge & Kegan Paul.

 


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van FMR)


 

 

 

Monday, June 28, 2021

Onderhoud | Ingrid Winterbach | 2021


Hartlik geluk met jou jongste roman Voorouer. Pelgrim. Berg wat 'n tour de force is.

 1. Jy is, wat hierdie leser betref, een van die belangrikste romanskrywers werksaam in Afrikaans. 'n Mens sou jou ten beste kon vergelyk met die filmmaker Federico Fellini se filmkuns in die hantering van verskillende stylsoorte, die wisseling van toonaard, die samesnoering van die religieuse en primordiale. Hoe voel jy?

 

Om met die grote Fellini in een asem genoem te word, is ‘n groot kompliment. Ek het met verskillende stemme/toonaarde gewerk, maar oor die samesnoering van die religieuse en primordiale kan ek helaas nie oordeel nie.

 

2. Jy is ook 'n skilder. In jou tekste is daar verwysings na beeldende kunstenaars. Hoe voel dit om in twee wêrelde te werk?

 

Ek het albei nodig, hoewel daar vreemd genoeg min tematiese oorvleueling tussen die twee is. Soms voel ek wel dit sou makliker wees as ek net in een van die twee werksaam was – my aktiwiteit sou dan minder verbrokkel wees. 

 

3 Jou kennis van die Bybel en die apokalips speel jy moeiteloos af teen die einde-van-die-tyd wat tans ons almal so beproef. Is die menslike lewe uiteindelik – evolusionisties gesproke – nie maar min werd nie? Ek verwys nou na 'n karakter se opmerking in Klaaglied vir Koos, jou aangrypende debuut van 1984.

 

In die groter evolusionêre prentjie stel die menslike lewe sekerlik min voor. Maar ons menslike lewens is ons enigste werklikheid – dit het vir ons ewe veel betekenis en gewig as die ganse heelal met sy big bangs en sy supernovas en sy multi-heelalle en sy elf dimensies en sy kabbelende uitdyendheid. See if we care as ons sleg migraine het, byvoorbeeld. 

 

Jy skryf – soos Philip Roth en Saul Bellow – waarskynlik aan een groot teks. 'n Soort katedraal waar elke bieghokkie of brandende kers (of die orrel) ter sake is. Hoe voel jy oor hierdie twee romanskrywers?

 

Ek is ‘n onbeskaamde Bellow fan-girl. Daardie skrywer het my waarskynlik al meer plesier verskaf as alle ander skrywers saam. Ek het onlangs weer Roth herlees (nou nie sy ganse uitgebreide oeuvre nie), en dit minder indrukwekkend gevind as wat ek verwag het. Selfs met Sabbath’s Theatre, allerweë as ‘n hoogtepunt beskou, het ek gedink: Nee! Sny! Te veel! Hier is ‘n goeie redakteurshand nodig! 

 

5. Ons beleef tans 'n tyd van politieke korrektheid. Roth se biograaf, Blake Bailey, moes dit ontgeld en sy biografie is onttrek weens hangende klagtes van seksuele teistering.

 

His publisher, W.W. Norton, took swift and unusual action: It said on Wednesday that it had stopped shipments and promotion of his book. “These allegations are serious,” it said in a statement. “In light of them, we have decided to pause the shipping and promotion of ‘Philip Roth: The Biography’ pending any further information that may emerge.”

 

'n Beoordelaar, ene Carmen Callill, wou hom ook nie op die Booker-kortlys plaas nie weens beweerde misogonisme. Is hierdie gelykstelling van 'n lewe en skryfwerk aanvaarbaar vir jou?

 

Nee, heeltemal onaanvaarbaar. Daar gaan naderhand nie meer ‘n skilder, skrywer, komponis oorbly wat kosjer is nie. Om enkele voorbeelde te noem: Debussy en Picasso was monsters. Pound, Celine en Anton Webern het hulle by die fasciste geskaar. Wagner, Renoir, Degas en T.S. Eliot was anti-semiete. Balthus was waarskynlik ‘n pedofiel. Lucian Freud was ‘n ellendige pa. Foucault het onbeskermde seks gehad toe hy vigs gehad het. Althusser het sy vrou doodgewurg. Waar trek jy die grens? Wie bepaal wat die deurslaggewende oortreding is? (Eietyds is gender- en rasoortredings onvergeeflik). Gaan ons nog net fokus op die werk van reinlewendes, diegene wat ‘n onberispelike baanrekord het? (Ons eie Van Wyk Louw het owerspel gepleeg, as iemand dáárteen morele beswaar het.) 

 

https://www.nytimes.com/2021/04/21/books/philip-roth-blake-bailey.html Besoek 25 Junie 2021

 

6. Ek vind die gebruik van boerename veelseggend in jou tekste. Karolina Ferreira. Jy het ook geskryf onder die skuilnaam Lettie Viljoen. Dit is bykans asof jy 'n ou vergange manier van dink wil begryp. Het ek gelyk?

 

Ek hou van drie-sillabige vrouename – dit gee ‘n lekker gewig aan die karakter. Buitendien het meer eietydse name te veel assosiasies met mense wat ek ken.


7. In die uitsonderlike brieweboek van Saul Bellow skryf hy dikwels oor literêre kritiek en die impak daarvan op die skrywer. Fellini is smalend in die dokumentêr (Damian Pettigrew.2002. Fellini: I'm a Born Liar) oor kritiek; tog gee hy toe dat hy dit wél lees. Karel Schoeman het glo gevra dat hy geen resensies wil ontvang van sy uitgewer nie. Maar kan 'n skrywer (of filmmaker) werklik in 'n vakuum skryf of werk?


Nee, natuurlik werk kunstenaars nie in ‘n vakuum nie. Maar mens moet weet aan wie se kritiek jy jou wil steur. Negatiewe kritiek is soms nie sleg nie – dit laat mens jou sokkies optrek. Maar venynige kritiek – nouja. 

 

8. Jou romans is eerder metafories as metonimies (Roman Jakobson). Jou boeke ondermyn die konvensionele siening van plot. Is dit dalk die skilder wat hier intree en koekeloer oor die skrywer se skouer?

 

Nee, ek dink nie dis ‘n geval van enige inspraak deur die skilder nie. (Buitendien is daar heelwat skilders wat verhalend skilder.) Nee, dis meer ‘n geval dat my idee van plot nie ooreenstem met wat allerweë as plot beskou word nie. Daar is ander aspekte van die roman wat my baie meer as plot interesseer. 

 

9. Jou tekste sit vol Boeddhistiese en ander Oosterse verwysings, wat teenoor die Bybel geplaas word. Kan 'n Westerling ooit werklik die Oosterse denke "bemeester"? Ek dink hier aan Jung wat flou geword het by 'n eerste besoek aan Indië en die verskillende argetipes beskryf in sy tekste.

 

Soveel Boeddhistiese en Oosterse verwysings is daar ook nie in Voorouer. Pelgrim. Berg. nie! Die Dogon-aanhaling vind ek byvoorbeeld juis pragtig omdat dit so heeltemal ánders is as die Westerse manier van waarneem. Dis juis omdat dit so vreemd onverklaarbaar is dat dit my so aanspreek. 

 

There are mountains suspended in form; there are mountains suspended in emptiness.

 

10. Jy het onder Opperman 'n MA behaal (Analise van enkele struktuuraspekte van ‘Om te vlieg’ van Breyten Breytenbach) in 1973 en aan Wits studeer onder die grotes in Afrikaans en die kunstenaar Judith Mason. Kommentaar oor mentorskap en skryfskole. Is daar nie dalk te veel kitsskole wat skrywers laat dink hulle kan skryf nie? Jy satiriseer dit mooi in jou jongste teks.

 

Mentore kan van groot belang vir ‘n jong skrywer/kunstenaar wees - Etienne Leroux, John Miles, Ernst Lindenberg, Anita Lindenberg, Robert Hodgins, Cecily Sash, was elkeen op sy/haar eie manier belangrik in my eie ontwikkeling.

Wat skryfskole betref: die talentvolle skrywers gaan in elk geval skryf – of hulle nou skryfskole bywoon of nie. Soms is ‘n skryfskool juis goed vir aspirantskrywers omdat dit hulle laat besef watter soort commitment van ernstige skrywe vereis word, sodat hulle hulself kan afvra of hulle daarvoor kans sien.

 

11. Landskap speel 'n belangrike rol in jou werk. Ek dink hier aan die pragboek Landskap met vroue en slang (1996). Kommentaar.

 

Ja, landskap is belangrik. Dit is die eerste keer ná Belemmering dat ek weer uitgebreid oor berge geskryf het. Maar dit voel vir my ek het met hierdie roman anders na die berge gekyk – miskien in die hoop dat ek piepklein pelgrims daarin sien beweeg, hoog om hoog en hand aan hand?

 

© Joan Hambidge

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Media24)

Monday, June 7, 2021

Resensie | Ingrid Winterbach – Voorouer. Pelgrim. Berg | Human & Rousseau

Ingrid Winterbach - Voorouer. Pelgrim. Berg. Human & Rousseau, 2021. ISBN 978 0 7981 8194 5 

Resensent: Joan Hambidge

 

Ingrid Winterbach is wat hierdie leser betref 'n skrywer wat kan kers vashou by groot internasionale romanskrywers. Hierdie teks - met sy vreemde titel Voorouer. Pelgrim. Berg - laat die kop duisel. Nie alleen oor al die verwysings wat sleutels gee vir die verstaan van die roman nie, maar veral om die verbluffende stylverskille en die verandering in toonaard.

 

Die roman is melancholies, intellektueel, banaal en selfs satiries by tye. Met die eerste lees was hierdie leser oorweldig deur die humor en grappe. Soos in Saul Bellow se Herzog (1964) waar die hoofkarakter 'n jeuggrap onthou waar die Shakespeare-akteur 'n hoerhuis besoek en wanneer sy broek val, fluit die hoer vir hom. Hy antwoord:

 

Madam, I come to bury Caesar, not to praise him ...

 

Hier word gespot met 'n dominee op huisbesoek wat so oorweldig word deur die gevloekery dat hy sy jy-weet-wat in die botter wil druk.

 

Katerina Steenkamp is 'n skrywer. Nie sommer so 'n (prul)skrywer nie, want sy lewer ook kommentaar op die hele skryf- en leesbedryf soos dit nou daar uitsien. Die roman Vlam van wraak (haha) is haar maaksel-in-wording. Maar soos by Sebald, is die vertellende instansie en die karakters-in-wording aan die beweeg. Sy reis (moeiteloos) terug in haar verlede met 'n mislukte huwelik, 'n kind, 'n broer (wat kan palms lees en glo in voorvadergeeste) en die mans uit haar verlede is haar pelgrims. Die berg het 'n Boeddhistiese aangesig. Wie kyk en wat word nie alles gesien nie? Die oop slot en die galery storievertellers soos Joydene, Boedie, Vossie en Jakobus gee vir haar stories deur, nes die besoekers aan WAYOO.

 

Van die politieke onrus en die noodtoestand tot die dwalendes en dolendes nou. Met besoeke aan 'n dating site waar die emosioneel behoeftiges hul bevind tot 'n werklike ontmoeting met 'n virtuele gespreksgenoot wat jou lagspiere uitmergel. Hier in die coffee shop word sy gekonfronteer met 'n man, Gysbert, wat glo dat hulle uitverkorenes is en wag op die elliptiese tuig wat hulle sal wegraap.


Katerina is ook bewus van 'n asteroïede se koms wat van hierdie roman 'n apokaliptiese teks maak. Die waterskaarste en die Dag Zero word ingebed met haar huidige genoot in die kunswêreld en hier word 'n paar lieflike taai klappe uitgedeel oor al die opskeppers in hierdie bedryf.

 

Georges Perec, W.G. Sebald, Saul Bellow - en natuurlik Etienne Leroux - kalibreer hierdie skitterteks. Die leser bekend met haar uitgebreide oeuvre as Lettie Viljoen en Ingrid Winterbach sal kopknikke na Erf (1986) en Die boek van toeval en toeverlaat (2006) raaklees. En ook na Die benederyk (2010) wat handel oor die kunswêreld. In die teks word Harold Bloom se revisionisme as sleutel gegee vir hierdie bestekopname.

 

Van knalhumor tot 'n bardo, van kommentaar op hoé Katerina skryf en ander tekste interpreteer, maak van hierdie roman 'n soort metaroman. Trouens, ons sien haar skryf en uitwis (148) en die roman Vlam van wraak nooi ons in die skryfkamer in. Sy gee vir ons telkens parallelle wêrelde en Julia Kristeva se siening van die politeks is 'n sleutel. Via die semiotiese (die dooies met hul unieke taal, die voorouers, palmlesers, "channeling", die I Ching) tot die simboliese orde van slim toespelings en verwysings na Werner Herzog en Lars von Trier se Melancholia (2011). Kristeva se transposisie van sisteme dus.

 

Ook die naamgewing is belangrik. Boerename word afgestof en die voorouers bekyk. Die implisiete outeur se enorme kennis van die wetenskap, astronomie en evolusie word netjies vervleg. Die Bybel (Esegiël tot Openbaring) word teen die Boeddhisme geplaas. Die vis in die God Vishnu is relevant.  In die Hindoeïsme is Vishnu die beskermheer wat ons teen uitwissing beskerm.

 

Die paling (as simbool)  om met die oerouers kontak te maak, neem jou dieper in die wêreld van die primordiale. Die teks werk met Jungiaanse argetipes.

 

En Anne Carson se Plainwater (1995) is waarskynlik die teks wat 'n mens opnuut moet besoek. Michael Ondaatje het haar immers beskryf as die mees oorrompelende digter wat tans in Engels skryf en Plainwater plaas tekste in jukstaposisie. Katerina het die morfologie bestudeer en haar fantasie het geen Edms. Bpk. nie. Sy stel dit onomwonde dat sy hou van skrywers wat gevaarlik skryf.

 

Kunstenaars soos Titiaan, Goya, Kerry James Marshall, George Gittoes en Louise Bourgeois neffens Edmund de Waal, aktiveer die rol van die moeder in ons bestaan en die onafwendbaarheid van die dood. Teenoor die spirituele gebed (Hesigasme) staan die banale sekspoppe. Die innerlike, kontemplatiewe gebed geplaas teenoor die sintuiglike en sondige. Die virtuele ruimte neffens die werklike een laat jou anders na landskap kyk.

 

Die vroulike hoofkarakter soek na tathata en dinglikheid. Ek ken min boeke waar verdriet oor óngeleefde lewens so helder beskryf word en waar die erkenning aan die grootouers as gidse so skerp verbeeld word.

 

Lewe teenoor dood; die abjekte teenoor die spirituele; die hede teenoor die verlede word alles behendig saamgesnoer. Al verstaan jy nie al die verwysings nie, is sy besig om met jou kop te smokkel soos Thomas Pynchon met sy Oedipa Maas in The Crying of lot 49 (1965) met 'n waansinnige samesweringsteorie. Die broer Daan, die skisofrene Boedie, die verdrietige Maria en die flâneur word swerwers in haar lewe soos Jakobus nes haar uitgebreide familie.

 

In hierdie dae waar resensente dikwels boeke te vinnig as uitstaande beskou, kan hierdie leser met groot stelligheid beweer dat Ingrid Winterbach se jongste roman al die lof verdien. Soos daar 'n mandala in sand gebou word, vee sy telkens 'n betekenissisteem dood en jy moet van vooraf begin. Dit is 'n polifoniese, visionêre roman waarin die skrywer ook telkens terugkeer na haar eie tekste. Laatwerk dus. 

 

Meedoënloos, manjifiek, meesleurend. Die oop slot laat jou wonder: gaan sy die roman voltooi soos sy versoek word?

 

Sunday, October 21, 2018

Resensie | Ingrid Winterbach - Die troebel tyd (2018)

Ingrid Winterbach - Die troebel tyd. Human & Rousseau, 2108. ISBN 978 0 7981 77 66 5

Resensent: Joan Hambidge

Winterbach het die Groot romanwedstryd in 2018 gewen met Die troebel tyd. Hierdie roman neem sy plek in langs die lang galery van akademiese romans: Mary McCarthy se The Grove’s of Academe (1952); Saul Bellow se The Dean’s December (1982); Philip Roth se The Human Stain (2000); en natuurlik David Lodge se parodiese romans oor die akademie. 
In ons tydsgewrig beleef die akademie ‘n tyd van onrus en politieke verandering. En politieke korrektheid. Maar al hierdie veranderinge resoneer met die studenteopstande van 1968 in Parys waar groot intellektuele hul merk gemaak het in die sosiologie, linguistiek, literêre teorie en psigoanalise. In hierdie roman onder andere opgemerk hoe akademici hulle wêreldjies en insigte verdedig.

In die radioprogram U eie keuse luister die hoofkarater na die Akademiese Fees Ouverture, ofskoon die roman buite die grense van die konvensionele akademiese roman beweeg.

Magrieta Prinsloo, 'n soöloog, beleef ‘n krisis. Sy beledig haar departmentshoof en raak vervreem van haar kollegas. Sy aanvaar ‘n pos by die Buro vir Voortgesette Onderrig. (In laasgenoemde moet die leser dus alreeds iets satiries vermoed. Studente word aanlyn onderrig.) Die snydende opmerkings oor die akademie, oor taal, oor Afrikaanse musiek is uiters belangrik. Net soos haar herinneringe aan haar rebelse jeug, haar moeder wat haar met stilte straf; haar vader, die biologieonderwyser en amateurfotograaf, by wie sy leer om stip na die natuur te kyk. Daar word na walvisse en erdwurms gekyk wat simboliese betekenis het vir die roman. Jona was immers in die walvis; Jung en Harold Bloom het hieroor geskryf. J. Hillis Miller gebruik die erdwurm as 'n troop vir tekste wat nuwe, ondergrondse lewens kan vind.

Die leser vind bekende stylgrepe van Winterbach in hierdie roman: die gebruik van boerename; die blik op die absurde; die oog vir die litteken of afwykende; die meegevoel met die lot van die ontheemdes; ewolusie; moderne wetenskap; kunsmatige intelligensie; kwarks; ingebedde intertekste soos William Blake, Benjamin Britten, Beckett, graffiti met boodskappe ('n tersluikse spel met Thomas Pynchon se The Crying of Lot 49 van 1966), Moritz Rugendas, die kunstenaar en etnograaf oor wie César Aira's in 2000 'n roman geskryf het An Episode in the Life of a Landscape Painter, Von Humboldt,  Houellebecq, Pascal, Quignard, Sjiva, Kali, ensoaan.

Die boek is ook 'n satire van speurverhale en soeke na oplossings. (Kyk na die bom in 'n hotel.) Oor ongeleefde lewens. Potsdam het aan Cambridge studeer, maar sy belowende akademiese loopbaan onderbreek. (Die redes word later in die roman onthul.)

In daardie beroemde film Magnolia (1999) van Paul Thomas Anderson, word die rol van toeval ondersoek en hoe mense se lotgevalle met mekaar verweef word. Soms snaaks; soms pynlik. Winterbach doen dit ook: ‘n karakter word onder meer gesien as ‘n dubbelganger vir Billy Bob Thornton in die televisiereeks Fargo. Noah Hawley is die hoofskrywer vir die reeks gebaseer op die film van die Coen-broers uit 1996. Dubbelgangers is eweneens ‘n belangrike kode in hierdie teks en karakters verwys na figurante uit vorige romans. 'n Ander karakter lyk soos 'n Nana Mouskouri gone wrong. Of op Björk. Potsdam is 'n Joodse teenspeler, net soos Mogoerane dit is. Haar man Willem probeer haar uitbarstings hanteer, want haar depressie-pille faal haar. Die naamlose vrou vergestalt haar verdriet. Bestaan sy of is sy 'n blote opgeefsel uit die fantasie van Magrieta? Die toevalselement is iets wat hierdie roman ondersoek (154) en die Vereniging vir die Bewaring van Walvisse en die Genootskap van die Vriende van die Walvis is 'n satiriese dwarsklap!

Droefheid, weemoed, melancholie is die grys draad in hierdie roman wat Julia Kristeva se Black Sun: Depression and Melancholia (1992) aktiveer. Vroulike depressie is kannibalisties, aldus Kristeva en gaan altyd gepaard met ‘n verlies aan identiteit. Magrieta het immers van beroep verander en in haar werk by die Buro ontmoet sy “agente". Haar depressie word in sterk en woedende passasies beskryf in haar verhouding met haar moeder en rebelsheid as aweregse kind.

Die beskrywings van 'n walviskarkas en die simboliek is kragtige prosa. Verlatenheid (die Engelse woord abandonment verwoord dit beter) en stilte word in alles verweef.

Dis ‘n moderne  quest-roman wat praat met The Adventures of Augie March (1953) daardie unieke pikareske roman, geskryf deur die onbesonge meester Saul Bellow.

Daar is ook 'n selfgesprek met Klaaglied vir Koos (1984) en my gunstelingroman Die aanspraak van lewende wesens (2012). Skulpe aktiveer weer Die boek van toeval en toeverlaat (2006).

Sinne sit vol poësie: "Die skedel is haar banier, die dood se oppermag haar wapenskild."

Don de Lillo se Underworld (1997) is eweneens ter sake.

Die dubbelganger-aard is die belangrikste kode: ágter alles skuil daar iets anders.

Die verteller lewer soms kommentaar op die karakter wat narratoloë ook sal besighou: van personaal na ouktoriaal. Laasgenoemde sort verteller lewer dan ook kommentaar op Magrieta se sieninge.

Soos die slot met die godin, Kali wat aansluit by die begin. 

In hierdie uitstekende, weemoedige en pynlike roman draai die duiwels (en die walvisse) onder rond wat onse letterkundige agente moet naspeur; ook oor die kwessie van die apokalips-fatigue.

'n Boek van ontstemmenis wat Winterbach-lesers sal bekoor.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Thursday, June 5, 2014

Trits: Psigoanalise en fiksie

Carl Jung en Sigmund Freud in A Dangerous Method (2011)


Is psigoanalitiese kritiek (Jung en Freud) nog relevant? Nou onlangs was daar 'n polemiek op die Versindaba oor Jung.

Miskien kan ons dit illustreer aan die hand van drie uiteenlopende, dog boeiende, en op ’n manier ooreenstemmende, tekste wat sig besighou met die ondergrond van die bestaan:

Tirza Arnon Grunberg
Vertaal deur Lina Spies
Protea
ISBN 978 1 86919 824 4
Sagteband 
507 bladsye













The white hotel D.M. Thomas
Penguin
ISBN 0 14 00 6088X
Sagteband 
240 bladsye














Die aanspraak van lewende wesens Ingrid Winterbach
Human en Rousseau, 2012.
ISBN 978 0 7981 5706 3
Sagteband
355 bladsye













I

Arnon Grunberg se roman Tirza en D.M. Thomas se The white hotel is twee tekste wat op verskillende wyses die psige van die versteurde person aanspreek. Tirza, ‘n besonder lywige roman, moes ek resenseer en The white hotel het weer toevallig by my begin spook toe ek moes nadink oor die verhouding tussen Freud en Jung, wat in hierdie roman ter sprake kom. Hoe benader ‘n mens Freud en Jung vandag? En pas jy hul teorieë toe op letterkundige tekste? En hoe reageer ‘n mens op die voortslepende misverstande róndom hierdie belangrike figure wat deur sielkundiges as passé afgemaak word en deur wetenskaplikes as onbetroubaar en wetenskaplik verdag verdoem word? Sowel Freud as Jung lewer belangrike bydraes tot die literatuurteorie en tot die begrip van transgressiewe of normdeurbrekende tekste.

II

Arnon Grunberg se roman Tirza (2006/2014), sy agtste roman, is in Afrikaans deur Lina Spies vertaal. En die toets van ‘n goeie vertaling – veral as dit kom by ‘n lang roman – is dat die teks vlot moet lees. Hierin slaag Spies bepaald. ‘n Mens voel deurgaans dat die storie in vlot Afrikaans vertel word en nêrens is daar die haakplekke so bekend aan vele vertalings nie. Geen moeilike woorde of verkeerde vertalings nie. Miskien behalwe nou vir rondjie (339) wat ek eerder as rondetjie sou vertaal? En op bladsy 267 moet ky kyk wees.

Dit is my eerste kennismaking met die werk van hierdie romanskrywer wat skynbaar in Nederlands ‘n bekende en omstrede figuur is.  Op die buiteflap word die boek aangeprys deur J.M. Coetzee. Hy prys die skrywer vir sy “wit and sardonic intelligence”. Ek het hierdie roman begin lees en onmiddellik roep die obsessionele Jörgen ‘n vergelyking op met Vladimir Nabokof se Lolita, daardie briljante roman van 1955 wat tereg al uitgesonder is as een van die grootste romans van die twintigste-eeu. Waar Nabokof se roman met verskeie verwysings en rame werk (ook die voortreflike film van Stanley Kubrick uit 1962 presteer dit) is Grunberg se roman “oper”. Hiermee is uiteraard niks verkeerd nie. Miskien verraai dit eerder hoe moderne lesers na romans kyk en dat die oper, vlotter struktuur verkieslik is bó die ingewikkelde verwysings van ‘n Nabokof-roman.

Jörgen Hofmeester is inderdaad ‘n boeiende figuur. Die begin van die roman beloof reeds iets: die oopsny van die tunavis wat die latere tragedie eggo. Obsessioneel is hy inderdaad in sy waarneming. Die verhouding met Ibi - wat elke maand die huurgeld by die huurders op die boonste verdieping gaan afhaal - is 'n belangrike vinjet vir die begryp van hierdie streng en krenterige karakter. Die geld word belê in 'n verskansingsskema en uiteraard verloor hy dit. Die teks is kennelik satiries in aanbod. Ons beleef alles vanuit Hofmeester se perspektief en sy verhouding met sy twee eiesinnige kinders, en sy vrou wat hom verlaat het en onverwags opdaag by die party wat hy vir Tirza gee. Tirza gaan hierna op reis na Afrika met haar vriend. Ibi bedryf 'n gastehuis in Frankryk en leef met 'n blas man. Hy sien Tirza se vriend aan vir die 9/11-terroris, waarmee die implisiete outeur die paranoïa en kleinburgerlike bestaan van die hoofkarakter verder wil beklemtoon. Hy is ontslaan as fiksieredakteur van buitelandse tekste en sy gevoel van nutteloosheid maak hom waarskynlik ontoerekeningsvatbaar. Maar sy obsessionele gedrag word goed voorberei in sy verhoudings met sy kinders, wat in die intieme gesprekke oor hul seksualiteit en 'n eetversteuring, grensoorskrydend is. Daar is oorgenoeg beskrywings van aanraking  en gesprekke wat beslis transgressief is. Sy reaksie op Ibi se seksuele avontuur dui dit aan; nes die seksuele aanraking by die party met 'n klasmaat van Tirza. Die metafoor van eet/kook is besonder behendig ingebed met binnegedagtes dat hy nie weet hoe 'n mens se vel lyk wanneer jy dit braai nie (242) wat onheil voorspel. Sy beheer in die kosmaakproses dui ook daarop: die leser word uitgebreid voorgestel aan hoé hy kosmaak en wat hy dink van die politiek en die lewe in die algemeen.

Die roman val in drie dele uit: Die huur, die offer, die woestyn.  Die laaste gedeelte beskryf ‘n Nederlandse landskap en ‘n besoek aan Namibië in sy soektog na Tirza en haar vriend. Hierdie laaste gedeelte het eggo’s uit die filmmaker Antonioni se The passenger (1975) met die besoek aan ‘n warm landskap.

Tirza het ‘n Marokkaanse vriend, en Hofmeester se reisgenoot is Kaisa, ‘n swart meisie. Dus word daar dus subtiele politieke kommentaar gelewer. Hofmeester is ‘n afgedankte fiksie-redakteur -moet ons die moorde as fantasie of werklikheid beleef?

Al sy beperkinge en teleurstellings (sy afdanking, sy benarde finansiële posisie, sy vrou wat hom verlaat het) word geprojekteer op Tirza se vriend, die Ander. Hy heet Choukri, maar vir Hofmeester is hy Mohammed Atta …

Boonop is Tirza anoreksies en haar vader lees vir haar voor uit Madame Bovary en Don Quichot. En Dostojefski se Notas uit die ondergrond. Die insestueuse verhouding tussen vader en dogter word op verskillende vlakke uitgewerk. Sy is sy sonkoningin …

Ook in hierdie naam draal daar al prospeksies van wat die leser te wagte kan wees. Op uiters subtiele wyses plant die implisiete outeur sleutels vir die leser: hoe 'n tunavis oopgesny word resoneer met die uiteindelik skokkende onthulling, al mag dit 'n verwronge fantasie wees. Die besoeke aan Schiphol-lughawe beklemtoon eweneens sy obsessionele aard.

III

Die drie afdelings (Die huur, die offer, die woestyn) aktiveer alreeds 'n triadiese verbintenis so bekend aan die psigoanalise. Freud se id, ego, superego en Lacan se verbeelde, simboliese, Reële dimensies kan dus betrek word. Die triadiese verbintenisse skep immers die persoonlikheid by Freud en by Lacan dui die drie dimensies op die konstituering van taal. Die verbeelde is dit wat voor betekenis bestaan en die simboliese orde dui op die tekensisteem met die Reële wat nooit bereik kan word nie.  Hoe ironies dan dat hy Tirza dus nie in die woestyn kan vind nie.

In Freudiaanse terme dui die slottoneel op die superego of die Orde: hy moet verantwoording doen vir sy dade. Die "bees in hom" (die dier) is nou tot orde geroep. Hy bel egter Tirza se selfoon om vir laas haar stem te hoor: 'n blote representasie van iemand wat egter nie meer bestaan nie. Die roman lewer genoegsame bewyse dat so 'n psigoanalitiese lesing gestaaf kan word. Dit bevat notas uit die "ondergrond" met siniese kommentaar op die Freudiaanse familie-romanse. Die vaderfiguur oortree grense van intimiteit (o.a. ook in sy seksuele optrede teenoor 'n jong skoolmaat) en is by twee geleenthede aanskouer, dus voyeur, van sy dogters se seksuele aktiwiteite. In beide gevalle tree hy gewelddadig op. Die eerste optrede met Ibi se minnaar is dan 'n prospeksie vir die latere toneel waar hy Ibi en haar vriend sien. In Jungiaanse terme projekteer hy sy skadu op ander (sy dogter en haar Minnaar) en die jong, swart meisie is in wese sy alter ego wat hy aanspreek om tot klaarte te kom.

IV

Op bladsy 376 word daar verwys na die oorlog in die boekbedryf. Die stryd om die leser. Die boekeoorlog. En dit is dan ook waarop Tirza sydelings kommentaar lewer: die behoefte van die leser. Hofmeester onthul sy dade aan die jong kind in Namibië. Is dit waar of gewoon 'n verdere verbeeldingsvlug? Dit is eweneens ironies: sy toehoorder is nege en nie in staat om die gevolge te interpreteer nie. Die e-pos aan Tirza waar hy inbreek op haar stelsel, bewys egter die ergste vir die speurende leser wat uitgelewer is aan 'n "spel met gevolge" (494). Vir hierdie kind laat hy dan Tirza se iPod en die manuskrip van die outeur uit Azerbeidjan, wat hy op sy desperate reis en soektog na Tirza met hom saamdra.

Die slot knoop alles vas en die fantasie waarvoor 'n mens sou hoop, dui op iets anders. Die dier is nie oorwin nie. En al het hy die irrasionele verafsku (20), het dit hóm oorwin. Die roman lewer satiriese kommentaar op die moderne Nederlandse samelewing nes die geslag na-oorlogse literatuur dit gedoen het.

V

D.M. Thomas se The white hotel het in 1981 verskyn, dus geruime tyd voor Grunberg se roman in 2006.  Dit is die verhaal van Lisa Erdman, 'n geskeide operasangeres wat erge psigosomatiese pyn en hallusinasies ervaar. Sy vertel in 'n lang gedig en joernaal van 'n fantasie waarin sy met Freud se seun seksueel verkeer. Alles vind plaas op 'n trein en in 'n wit hotel wat deur erge rampe geteister word. Vir Freud word sy 'n geval, te wete Frau Anna G. en in sy analise ontdek hy dat haar toestand verduidelik kan word deur die verhouding wat haar moeder had met haar oom. Thomas gebruik dus die Dora-saak as 'n spieëlteks om hierdie verhaal te vertel. Na terapie trou sy weer en sy skenk geboorte aan 'n Joodse seun in Rusland na die Tweede Wêreldoorlog. [Foto: D.M. Thomas © Mac Dunlop]

Hierdie roman het sewe afdelings: Prologue, I Don Giovanni, II The Gastein Journal, III Frau Anna G., IV The Health Resort, V The Sleeping Carriage, VI The Camp. 

Die proloog bevat gefiksionaliseerde briewe (o.a. Sandor Ferenczi en Freud), 'n lang erotiese gedig van die Erdman en haar joernaal (dit behels afdelings II en III) en in die derde afdeling kom Freud aan die woord: "In the autumn of 1919 I was asked by a doctor ..." (83).
Epstein, 'n manlike resensent, konsentreer op die volgende verhaalelemente: sy was eers 'n danseres, gebore in Odessa en word as kind bewus van die buite-egtelike verhouding van haar moeder wat later saam met haar minnaar verbrand. Haar vader verwerp haar (ook hier hoor ons die Dora-saak, j.h. ) en sy begin 'n verhouding met 'n anargis in St Petersburg. Sy raak swanger en tydens 'n dans verloor sy die kind. In Wenen begin sy 'n tweede lewe as operasangeres en sy tree kortstondig in die huwelik met 'n anti-Semitiese Oostenryker. Lisa tree uiteindelik op as operasangeres in Milaan wanneer 'n ander operasangeres - wat ook 'n kind verloor  het - en laat dus al haar ellende agter haar. Maar dit is van korte duur, want in Kiev word al die Jode van die tyd na Palestina verban ...

In die slotafdeling fantaseer Lisa dat sy Freud in die strafkamp gewaar.

Ofskoon hierdie gedeelte gelees moet word as ‘n uitgebreide fantasie – sy versoen immers met die dooies – lewer die roman dus sodoende skerp kommentaar op die funksie van psigoanalise in ‘n wêreld geteister deur politieke onreg. Volgens Leslie Epstein in die New York Times (A novel of neurosis and historyBesoek 2 Junie 2014) is dit die swakste gedeelte van die roman. Hy beweer:

“But Mr. Thomas runs into more serious problems when he tries to duplicate an actual case history. What is so compelling about the real Freud's cases, apart from his brilliance in interpreting them and his great skills as a writer, is that we always know that the dream fragments and the experiences are authentic.”

Hiermee moet ek verskil van hierdie deurwinterde resensent, want juis as jy Freud se tekste weer lees, kan jy die uitsonderlike prestasie van Thomas, ‘n uitstekende vertaler van Achmatova se digkuns, bewonder. Hy “vertaal” en transporteer Freud dus van die wetenskap na die ruimte van fiksie. Die afdeling “Frau Anna G.” word ook voorsien van voetnote so bekend aan Freud se werkswyse. Daar word soms vreemde woorde vertaal (soos “niederkommen”) wat hierdie gedeelte ook die allure van ‘n redigeerder of redakteur gee. ‘n Duidelike mîse-en-abyme. Dat Freud se mees seminale teks, Die interpretasie van drome (1900) hier ter sprake kom, is eweneens duidelik. Treinreise – so verduidelik die karakter Freud op bladsy 95 – is dikwels aanduidings van ‘n naderende dood. Bekend aan Freud se werkswyse, is die gebruik van metafore. Hy waarsku haar teen die terugkeer van simptome, maar “that we are moving closer to the light at the end of the tunnel” (109).  Charcot word ook betrek” “La théorie c’est bon, mais ca n’empêche pas d’exister” (111).

Dit is 'n komplekse roman wat my waarskynlik voorberei het op die volgende baken in die Afrikaanse letterkunde. Dit is 'n baken omdat dit op 'n gesofistikeerde wyse, soos die twee voorafgaande tekste, in gesprek tree met komplekse psigoanalitiese teorie.

Hierdie resensie staan opgeteken in my blog: Woorde wat weeg.

VI

Die aanspraak van lewende wesens van Ingrid Winterbach is bekroon met NB-uitgewers se eerste prys in Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2012. Die roman word tipeer as “komies, hartroerend, meditatief, verruimend”. En ‘n mens sou kon byvoeg: melancholies. Die roman is aangrypend geskryf en speel terug op ‘n vroeëre besinning, naamlik Klaaglied vir Koos. Winterbach vertel twee stories, te wete die verhaal van Karl Hofmeyr, wat moet raad vind vir sy broer Iggy se geestesongesteldheid. Hierteenoor het ons die besinning van Maria Volschenk oor haar lewenslot en hantering van haar suster se dood. Die karakters se paaie kruis op ‘n plaas, surrealisties beskryf, in Kaapstad waarin die outeur dus sydelingse en ironiese kommentaar lewer op die tradisie van die plaasroman in Afrikaans. Ene Josias Brandt, ‘n soort katalisator in hierdie roman, is in ‘n stryd met Iggy (Ignatius) gewikkel.

Winterbach se romans interesseer hierdie leser nie om die verhaallyne nie. Dit intrigeer eerder om die digte verwysingsveld en die sterk metaforiek. Die jongste roman is ‘n lament en die titel “die aanspraak van lewende wesens” aktiveer ook die ander kant van die munt, te wete die aanspraak van gestorwenes. Soos in vele romans, roep die teks ‘n sterk psigoanalitiese verwysingsisteem op. Hierdie teks vra vir ‘n saamlees met Freud se “Rou en Melancholie” (1917).

Die “vroeë verwonding en verdriet” (40) van Maria word ondersoek. Die verteller neem ons terug na die skooljare as ‘n sleutel tot die intense ervaring van leegheid en die familie is ‘n ruimte van verwonding. Dit is ‘n verhaal wat psigiese kennis ondersoek en die verwysing na die Id aktiveer die kelder van die onbewuste. Taboes (soos kinders wat ‘n kaal lyk sien) en ‘n DVD (waarna Maria en Vera kyk) waarin psigiaters meen skaamte en vrees lotsbepalend is, neem ons na verdere betekenislae. Soos in vroeëre tekste is die “dierlike impulse” en die mens se lot verbind aan groter patrone. Dit is ‘n roman vol selfverwysings: die “frostbite” aktiveer Die benederyk en Klaaglied vir Koos se ondersoek na evolusie kom aan bod. Dit wat buite die rasionele lê, word ‘n fokus. Die Sitra Achra, die Sheddim, Stabat Mater, Heavy Metal, films (soos The Big Lebowski, o.a.), Wagner, eis ‘n Barthesiaanse benadering op soos beskryf in S/Z (1970) van kulturele en persoonlike kodes. Met die leser as die waarsêer.

Die verwysings na skaak neem ons terug na Nabokof.

Die suster, Sofie, se ongewone blik word ‘n belangrike sleutel vir die emosionele ruimte waarin Maria haar begeef. Deur haar nalatenskap word Maria bewus gemaak van die spirituele domein. Die suster, ‘n digter, wil haar hande nalaat aan haar suster; ‘n slim troop vir hoe die suster se lewe uiteindelik Maria se lot bepaal. Karl se pakkie bevat eweneens inligting oor sy broer wat ‘n deur ‘n spirituele hel gefolter word en glo dat hy ook fisies transformeer. Twee parallelle verhale dus; ‘n parallaks, in Žižek se terme. Die roman aktiveer ook die Gnostiek: Maria word deur haar suster bewus gemaak van die tien hekke van spirituele wysheid (125). Iggy se brief aan sy broer aktiveer eweneens hierdie gegewe en dit sal die leser loon om die Ofiet-diagramme en die Boek Esegiël saam te lees. Die voorblad aktiveer immers sowel die Bybel as die wetenskap. Syfers speel ‘n belangrike rol in die roman: Maria is ‘n syfermens en Karl is obsessioneel oor getalle. ‘n Sielkundige torring aan Maria: watter geheim het die moeder van haar weerhou? Hierdie aspek neem ons weer terug na die moeder in Die benederyk.

(Nes die verwysing na Louise Bourgeois). ‘n Terugkeer na Stellenbosch word bykans intratekstuele kommentaar op die skrywer se eerste werke. Daar is min passasies wat so vindingryk geskryf is in enige letterkunde as die ontmoeting met twee bergies (die vrou ‘n palmleser) in ‘n begraafplaas. Daar is die optekening van die natuur: sprinkane, spinnekoppe, ensomeer, as ‘n beswering van depressie.

Daar is vele verwysings na beeldende kunstenaars wat eweneens die teks (onbewustelik) laat voortstu. Die natuurbeskrywings is digterlik en ‘n mens kan hier die hand van die beeldende kunstenaar sien in haar konkrete beskrywings van die ruimte. Psigiese inhoude word nie blote abstraksies of ‘n intellektuele getjommel nie; die leser beleef dit in die krisisoomblikke van ‘n karakter wat onverwags geskiet word of ‘n kind wat meen sy lewe is in gevaar. Die dialoog is vindingryk en snaaks. Die verskillende hoofstukke impliseer ‘n ouktoriale vertellershand wat te midde van chaos tog orden. Die oog vir détail imponeer: van ‘n karakter se bo-lip tot ‘n vrou se oog kan jy sién.

Die roman het ‘n sterk verhaallyn met ingewikkelde kodes en toespelings: wetenskap teenoor spiritualiteit; vooruitgang teenoor kataklisme. Weemoed wissel humor en aksie af. Klein tersydes word ‘n kulturele kode.

Binne ‘n bestek van bykans drie dekades het Winterbach haar gevestig as een van die belangrikste romanskrywers van ons tyd. Dit is loflik dat sy telkens binne ‘n kort bestek ‘n nuwe roman skryf sonder om gehalte in te boet. 

Dit is is ‘n briljante roman. Sedert publikasie het ek dit driemaal gelees. En elke keer iets nuuts raak gelees. Daar is min slotte in enige roman wat ek ken wat my tot sulke weemoed gedryf het as die einde van hierdie boek.

Met stilte as die grootste ellende wat ‘n mens kan tref; nie skaamte en vrees soos die Nederlandse psigiaters in die roman meen nie. Dit is opgedra aan wyle Paul Cilliers, die filosoof.

En in navolging van Charcot: teorie is goed, maar dit verhoed nie dinge/sake om te bestaan nie. En hierom (waarskynlik) is Jung die afgelope paar dekades uit literatuurkompendiums geweer, omdat die Franse Strukturaliste en post-strukturaliste met die groter aanspraak op “wetenskaplikheid” die literatuurbedryf binnegedring het. Maar dit is jin en jang. Die verskillende benaderings hoef mekaar nie uit te sluit nie.


Bibliografie:

Cain, William, E. 1964. The crisis in criticism - Theory, literature, and reform in English Studies.  Baltimore: The Johns Hopkins University.

Die volledige Freud is uitgegee deur die Pelican library.

Jung, C.G. 1962. Memories, dreams, reflections. Londen, Collins.


Endnoot:

Die volgende is 'n reaksie op 'n polemiek op Versindaba:

Freud en Jung is relevant vir die literatuurteorie en lankal nie meer vir die empiriese wetenskappe nie waar albei aanvanklik aspirasies gehad het. Om ‘n denker of skrywer nadoods uit te vang as anti-Semities gebeur al om die hawerklap. Die geval Paul de Man is bekend. En Derrida se verdediging van hom. ‘n Mens kan egter nooit die belangrikheid van Blindness and insight of Allegories of reading ignoreer nie. Trouens, ek is die mening toegedaan dat De Man juis vanweë sy ingewikkelde persoonlikheid in staat was om Rilke se ellendes te begryp. Terloops, ‘n digter wat geweier het om psigoanalise te ondergaan en die digkuns as self-terapie gesien het.

Jung is ‘n komplekse intellektueel en ek het die afgelope semester indringend oor hom klasgegee. Waarom is hy onder meer die afgelope paar dekades uit literatuurteoretiese kompendiums gehaal? Ten spyte van navolgers soos Maud Bodkin en Northrop Frye.
Sy siening van argetipes – wat dui op primordialiteit – kan wel van toepassing gemaak word op ‘n skrywer soos Etienne Leroux. Wanneer jy ‘n teks analiseer met begrippe soos argetipe, skadukant, projeksie, mandala (ons onthou immers Patrick White se The solid mandala) aanvaar jy sy teoretiese raamwerk vir die eise wat ‘n bepaalde teks stel. Net soos Jungiane – en ek het al van die lesings van besoekende geleerdes bygewoon in Kaapstad – kwessies mag ontsluit. Dieselfde geld D.M. Thomas se The white hotel, ‘n puik roman, wat ‘n fantasie róndom psigoanalise uitwerk. Ons vind hier ‘n gefiksionaliseerde Sigmund Freud en indien ‘n mens die geskiedenis van Freud se lewe teenoor die roman plaas, word dit ‘n fassinerende kommentaar op Freud se denke, erotiek en tekste soos Die wolfman en die Dora-saak. 

Waar Dominique Botha se roman Valsrivier eindig met ‘n gedig, begin hierdie roman met ‘n gedig na ‘n briefwisseling. Botha se roman is ‘n Bildungsroman en ek dink The white hotel (my kopie val al uitmekaar) sou ‘n mens as ‘n briefroman kon beskryf met ‘n dosis historisisme. Botha se teks fiksionaliseer eweneens haar lewe; trouens, dit is meer as haar lewe en die “valsrivier” is die onbewuste … 

In sy voorwoord tot sy roman skryf Thomas dat ‘n mens nie die terrein van histerie kan besoek sonder om van Freud kennis te neem nie. Hy skryf: “Freud becomes one of the dramatis personae, in fact, as discoverer of the great and beautiful myth of psychoanalysis. By myth, I mean a poetic, dramatic expression of a hidden truth …” Hy verwys ons verder na volumes 3, 8 & 9 van die Pelican Freud library. Oor die “scietific validity” verskil ek van hom. Die roman handel ook oor die holocaust en die vraag is: waarom die soektog na die “hidden”, dit wat weggesteek is. Die film Caché (Hidden) van Michael Haneke gee waarskynlik weer ander sleutels oor dit wat ons represseer of berg, net om iewers uit te spring … (Hieroor gesels Haneke uiters insiggewend in ‘n onderhoud.)

Kommentators binne die moderne sielkunde is geregtig op hul afwysing van Freud en Jung. Sy relevansie lê in die transportasie van en na die letterkunde en filmkuns. 

© Joan Hambidge