Showing posts with label 2017. Show all posts
Showing posts with label 2017. Show all posts

Sunday, January 13, 2019

Filmrubriek | The Square (2017)

I

Ruben Östlund se film The Square(2017)is ‘n film wat die kyker tref: in die maag en tussen die oë. Dit is ‘n hooggestemde film wat oënskynlik oor die kunswêreld handel. Hierdie kyker was onder die indruk sy is skokbestand. Toe nie. Dit begin met Christian (Claes Bang) kurator en bestuurder van die museum wat beroof word deur sakkerollers. 

Dit lyk na ‘n vrou wat hulp behoef met iemand wat haar gaan aanrand, maar uiteindelik word Christian mislei. En sakkerollers, emosioneel en intellektueel, is waaroor hierdie film handel – met Dominic Westin pakke wat lyk soos pyjamas?

Sleuteloomblikke belig Christian se uitgelewerdheid:

·       Christian plaas briewe in woonstelle se posbusse om die vermeende dief vas te trek en ons sien hoe hy trappe op en af klim;
·       ‘n pakkie keer terug met die gesteelde goedere nadat ‘n google-soektog die adres oplewer;
·       ‘n jong ontstoke kind konfronteer Christian in sy woonstel omdat hy van diefstal beskuldig word en Christian soek in die reën tussen vullissakke na sy selfoonnommer;
·       hierdie kind in ‘n vrugtelose soektog, verdwyn egter adresloos;
·       daar is ‘n YouTube-video van ‘n jong kind wat opgeblaas word as sosiale kommentaar op haweloses;
·       ‘n man met Tourette-sindroom maak ontoepaslike opmerkings, terwyl ‘n gehoorlid sy regte beskerm as iemand wat “abnormaal” is, maar mag aanspraak maak op regte;
·       ‘n one night stand met ‘n joernalis (Elizabeth Moss) wat sy semen probeer kaap in ‘n kondoom omdat sy waarskynlik haarself wil bevrug en later aandring op ‘n regte verhouding;
·       ‘n kunsaand met ’n kunstenaar as ‘n aanvallende aap (Terry Notary in ‘n angswekkende vertolking) wat werklik mense aanval, is nog ‘n tema. Dit word voorafgegaan met die joernalis wat aap as huisdier het.

Dit is ‘n satiriese rolprent wat ‘n mens deur al die ellendes van ons tyd neem. Die kunswêreld as ‘n plek (hierom die titel!) waar enige snert as “kuns” verkoop kan word, en die moderne mens se weerloosheid in die aangesig van intellektuele terreur en #metoo-bewegings waar nuanses verlore gaan.

Christian stuur ‘n YouTube-apologie aan die kind wat hy te na gekom het (en wat verdwyn het) en selfs die bedelaars in hierdie film het regte. In ‘n skokkende oomblik in ‘n winkelsentrum verloor Christian sy kinders en ’n biddende Moeslem-man pas sy pakkies op...

II

En die titel?

The Squareis ‘n “kunswerk” van  Lola Arias wat soos volg tipeer word:  “The Square is a sanctuary of trust and caring. Within it we all share equal rights and obligations.” En daardie YouTube-video rondom die bemarking van die kunswerk lei weer tot die media wat vrae stel – en niks wat Christian doen, kan red wat daar te redde is nie. Uiteindelik word hy beskuldig van self-sensuur wanneer hy bedank. (Hier wil die resensent nie te veel verklap nie.)

Dalk ook ‘n toespeling op ‘n “square peg in a round hole” (vir iemand wat nie inpas nie).

Die markplein is immers die sentrum van ‘n stad waar mense ontmoet. En YouTube is die moderne markplein wat in ‘n ommesientjie tot 300 000 kykers kan bereik.

Humor is daar – soos dit in satire betaam. Grond-installasiekuns word per ongeluk deur skoonmakers opgevee. En Christian wat moet opmop – gelukkig is daar foto’s om alles na die “oorspronklike” vorm te herstel.

Dit is verfilm in Gothenburg, Stockholm en Berlyn. 157 minute van intellektuele en emosionele houe wat die regisseur uitdeel, verpak met puik spel van briljante akteurs.

Dit is ‘n film waarop Ingmar Bergman sou trots wees.

Dit is bekroon met die Goue Palm in 2017.

Absurd, snaaks, ontstellend en ‘n analise van die onrustige tyd waarin ons leef.

© Joan Hambidge 


Wednesday, May 16, 2018

Resensie | WAM Carstens & EH Raidt - Die storie van Afrikaans, uit Europa en van Afrika. Biografie van ʼn taal (2017)

WAM Carstens & EH Raidt - Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika. Biografie van ʼn taal. Protea Boekhuis, 2017. ISBN: 9781485300380
Resensent: Joan Hambidge
I
Hierdie fassinerende studie word gesien as ‘n biografie van ‘n taal. Dit heet Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika en die samestellers is W.A.M. Carstens & E.H. Raidt.
‘n Mens assosieer ‘n biografie met die lewensloop van ‘n mens, en in die besonder, ‘n bekende of beroemde mens. Afrikaans is inderdaad ‘n besondere taal: ten minste een van drie tale wat binne ‘n honderd jaar ontwikkel het van praattaal tot wetenskapstaal.
In hierdie studie word ‘n taal se ontstaan beskryf. In Deel 1 is die fokus op die Europese verlede, terwyl Deel 2 sal fokus op die Afrika-geskiedenis.
Afrikaans het op drie kontinente ontwikkel: in Europa met Nederlands as basisvorm vir Afrikaans; in Afrika waar die 17e-eeuse Hollandse dialek onder die invloed van verskillende invloede, Afrikaans geword het; en in Asië met die invloed van die taal van slawe.
In my loopbaan had ek die voorreg om met Roy Pheiffer en Hester Waher te werk, twee gedugte taalkundiges – saam met die literêre semantikus, Henning Snyman, wat in sy studies taalkunde en letterkunde versoen het.
My bespreking gaan net fokus op etlike, wel ten minste vir hierdie leser, interessante en tersaaklike uitsprake oor Afrikaans. Dit is dus nie ‘n taalkundige resensie nie – dit laat ons oor aan al die kundiges in die veld, soos Ernst Kotze of Christo van Rensburg, o.a. Ek skryf as letterkundige en liefhebber van tale. Vreemde tale en grammatika-boeke is een van my stokperdjies; nes die lees van woordeboeke.
Daar is min kwessies waaroor mense so heftig en driftig raak as Afrikaans en die toekoms van die taal. Vir sommige is die doodsklok aan die lui by ons tradisioneel-Afrikaanse universiteite; vir ander moet die  hoër funksies of die taal van die wetenskap, beskerm word.
Afrikaans sal oorleef. Die taal transformeer en verander voortdurend. ‘n Taal kan myns insiens net “uitsterf” as die sprekers van daardie taal dit onbewustelik en kollektief begeer. Terselfdertyd beteken dit nie dat ‘n mens argelose en slordige taalgebruik in koerante of tydskrifte moet verduur nie.

II
Ek gesels dan met my jong  taalkundige kollega, Ian van Rooyen oor hierdie boek. Oor Afrikaans wat volgens sekere geleerdes ‘n semi-Kreoolse taal is en oor die verskil tussen ‘n pidgin en kreools. Ook oor die invloed van nie-geskoolde Nederlands op Afrikaans.
Edith Raidt merk op dat Afrikaans die jongste en enigste Germaanse taal is wat in Afrika ontstaan het. Die taalkundige Ana Deumert, aan die Universiteit van Kaapstad, beweer dat Afrikaans veel langer geneem het om te ontwikkel as wat die meeste glo. Vir haar het die ontwikkeling van Afrikaans ongeveer 250 jaar lank geduur (439).
Vir die verskillende sieninge oor die ontstaan van Afrikaans en die polemieke hieroor, word die leser van ‘n handige tabel voorsien (428 – 430). Dit word alles begrond met die siening dat die taalhistorikus met werklike, konkrete navorsing moet werk om ontwikkeling te kan bewys (427).  Die kreoliseringsdebat is in die sestigerjare weer gestimuleer deur die sosiolinguistiek waarvolgens die verhouding van ‘n taal en sy gemeenskap ondersoek word (431). Dit bewys, m.i. tog dat teoretiese ontwikkelinge ‘n nuwe lig kan werp op navorsing. 

III
In die afdeling oor Nederlands word daar beweer dat Nederlanders ‘n sterk taaltrots het. Mense verkies om tegnologies in hul taal bedien te word. Nederlands het ‘n sterk kultuur van vertaling en wanneer ‘n belangrike teks elders verskyn, is die Nederlandse vertaling dadelik beskikbaar. Die dagboek van Anne Frank is die mees vertaalde Nederlandse boek en Harry Mulisch is in meer as 30 tale vertaal. Die Vlaming Hugo Claus is op sy beurt in sowat 20 tale vertaal.
Hoe gaan die invloed van “allochtone” (vreemdetaalsprekers) Nederlands raak? In Nederland, soos hier, is daar ook wanopvattings oor die taal soos dat Nederlands verengels; dat Nederlands bedreig word deur Europese eenwording en globalisering; dat Nederlands kan “verdwyn”. Van Sterkenburg spreek hierdie vrese aan, wat sterk resoneer met vrese hier te lande (400 – 401).
Die boikot teen Suid-Afrika en Afrikaans word ook aangespreek en diegene met ‘n goeie geheue sal onthou dat hierdie leser indertyd van mening was dat die Nederlanders ons versaak het. In daardie tyd, 1992 – en dit het wye reaksie ontlok – was my gevoel dat ons selfstandig ontwikkel het en ‘n aparte taal en kultuur gevestig het. (Dit was lank voor die dekolonaliseringsdebatte hier te lande.)
Dit was ‘n akademiese, politieke en kulturele boikot en in 1984 is daar selfs Afrikaanse boeke uit die biblioteek van die Suid-Afrikaanse Instituut (SAI) in ‘n grag gesmyt (404). “De overval” het groot skade aangerig en onvervangbare 18e- en 19e-eeuse werke het in die slag gebly.
Dit is egter so dat Nederlands – soos met enige boikot – sigself ook skade berokken het, omdat Nederlands stadig maar seker uit leerplanne verdwyn het. As jong student aan die Universiteit van Stellenbosch moes ons Nederlandse grammatika bestudeer en was ons blootgestel aan belangrike Nederlandse tekste, gedoseer deur mense, soos wyle W.E.G. Louw, wat die taal perfek kon skryf en praat.
Die venster op Europa (vir ons) en die venster op Afrika (vir hulle) is dus toegeklap. Dis eers die afgelope twee dekades wat die herstel van bande weer plaasvind en Afrikaans as “fluistertaal” of “skaamtaal”, opgehef word. Tog is Nederlands vir jong studente moeilik, omdat hulle nie van jongs af aan die taal blootgestel is nie.
Straattaal (‘n vermenging van Engels, Arabies, Turks, Sranan Tongo, ‘n taal wat gepraat word in Suriname, asook Papiamento (die taal van Curacao, Aruba en Bonaire) word egter in die algemeen deur Nederlanders afgekeur, aldus die studie (377).
Die hoofstuk oor die onstaan van Afrikaans – en die rol van taalverandering is eweneens boeiend.
Ons vind onder andere Hans du Plessis se opmerking dat in 1652 die Nederlanders en Khoi ‘n gemors van Nederlands gemaak het en daardie gemors se naam is Afrikaans (425).
Taalbeïnvloeding, taalkontak, taalversteuring en taalvermenging, is uiters insigryk. Soos Du Plessis se opmerking – in navolging van Trudgill – dat Afrikaans ‘n kreolied is, maar nooit ‘n pidgin was nie (434).
Die invloed van Khoi op Afrikaans (danksy die studies van J. du P. Scholtz) word gesien veral in geografiese benamings en by plant- en diername voor, soos:
Plekname:
Goudini, Hantam, Kamdebo, Karoo, Koup.
Plantname:
Boegoe, dagga, kanna, kambro, ganna, ghaap, noem-noem, norretjie, ens.
Diername:
Koedoe, kwagga, ghnoe, gogga, oorbietjie, noemetjie.
Ander:
Abba, aitsa, arrie, eina, hoeka, kamma/kamtig, karos, kierie.
Afrikaans is in Mei 1925 erken as amptelike taal. In 1933 verskyn die volledig vertaalde Bybel in Afrikaans en in 1937 die eerste Afrikaanse gesangbundel. ‘n Lang pad van die GRA (1875) tot Afrikaans as amptelike taal. Besonder relevant is die werk van ons ouer Afrikaanse digters (soos Marais, Totius en Leipoldt) wat steeds bakens binne die Afrikaanse digkuns bly. 

 IV
Dit is ‘n magistrale werk. Dit is boeiend geskryf en het my siening oor die ontstaan van Afrikaans verruim.
Dit beslaan 632 blasye en is ook as e-boek beskikbaar. 

(Word vervolg)

Monday, March 19, 2018

Resensie | Laurent Binet – The 7th function of language (2017)


Laurent Binet – The 7th function of language. Harvill Secker, 2017. ISBN 1357 9108642

In 1980 sterf die bekende teoretikus Roland Barthes toe 'n wasgoedlorrie hom omry. Barthes se bekende essay "The death of the author" (1967) is een van die belangrikste strukturalistiese tekste wat vra vir 'n fokus op die teks.

Die dood van die skrywer bedui immers die geboorte van die leser.

In 2017 verskyn 'n roman The seventh function of language van Laurent Binet waarin die dood van Barthes ondersoek word in 'n aweregse speurverhaal. Die roman is so geskryf dat sowel gewone lesers as teoreties-geskooldes dit sal geniet. Dit lees soos 'n hop on/hop off op 'n teoretiese bus met oogknippe na Umberto Eco se The role of the reader en Julia Kristeva se Desire in language. En Barthes se sieninge oor die skryflike en leesbare teks. Die roman lees soos 'n who's who van literatuurteoretici: Derrida, Jonathan Culler, Sollers, Searle, Judith Butler ...

Roman Jakobson se bekende sieninge oor die funksies van taal word hier verder gevoer: die sewende een behoort tot die domein van die okkulte. En waarom skeur Kristeva daardie nota op? Weet sy meer as wat sy te kenne gee?

Daar is 'n kongres by Cornell te Ithaca en die literêr-teoretiese dosent sal die roman kan voorskryf om al die strominge binne die filosofie en teorie te verduidelik.

Veral Barthes se vraisemblance (vrai = waar) is tersaaklik vir die lees van hierdie roman. Hoe sal die geskryfdes voel oor die stekies wat na hul uitgedeel word? Daar word soms intens persoonlike inligting openbaar en die venyn loop dik. Camille Paglia en Judith Butler loop erg deur. Soms wonder die speurder se adjunk of ons maar net karakters in 'n roman is. Maar dis die hele punt van die roman: as die postmodernisme alles tot teks verklaar is hierdie oorskrydings mos fyn?

'n Mens moet bepaald die skrywer bewonder vir sy enorme kennis en juistement het wyle Barbara Johnson 'n studie geskryf oor groot teoretici se lewens: Jakobson was 'n rokjagter; Barthes het saams in vroueklere die strate van Parys bewandel. Foucault was lief vir stoombaddens en drugs, glo.

Satires van die akademie is volop: David Lodge se Changing Places, o.a. en Malcolm Bradbury se tekste, soos Mensonge (Arena, 1987). Patricia Duncker se Hallucinating Foucault (Cox & Wyman, 1996) is eerder akademies-onthullend as satiries.

"All this must be considered as if spoken by a character in a novel”, skryf Barthes in sy outobiografiese -biografie Roland Barthes deur Roland Barthes, daardie baken uit 1977.

Bekende politici (en hulle gekonkel) vorm deel van die plot: Giscard d'Estaing en Mitterrand. En selfs tennis, o.a. Lendl versus Borg ...

Jacques Bayard en sy assistent Simon Herzog (wat resoneer met Saul Bellow se karakter Moses Herzog) is op 'n soektog na die verlore dokument. Indien Barthes wel so 'n belangrike dokument by hom gehad het, wat dan?

Die roman resoneer met die moderne wêreld se beheptheid met samesweringskomplotte. En dit vra belangrike vrae oor wat as alles maar net 'n floating signifier is.

Hoekom word daar 'n hand afgekap? Is dit dalk 'n verwysing na Barthes se beheptheid met die skrywershand? Of is die motto van Jacques Derrida dalk die wenk? Dat ons almal interpreteer vanuit ons eie ruses – dalk met die idee om te kroek? En hoe gemaak as jy 'n karakter in 'n roman is en die wrede verteller knou jou af?

Dit is 'n paper chase van formaat. Teen die einde raak dit 'n bietjie iets van af-show-ery. Apokaliptiese einde (selfs distopies) wanneer dit afspeel in Napoli.

Die vertaling van Sam Taylor lees vlot.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Monday, February 12, 2018

Resensie | Gilbert Gibson - Die sin van die hut (2017)

Gilbert Gibson - Die sin van die hut. Human & Rousseau, 2017. ISBN-13: 9780798176934

Resensent: Joan Hambidge 

Die sin van die hut is die vyfde digbundel van Gilbert Gibson wat in 2005 gedebuteer het met Boomplaats. Hierna volg Kaplyn in 2007, oogensiklopedie in 2009, [vii] in 2013 en vry- in 2015. Hy is bekroon met die Proteaprys vir poësie en die Elisabeth Eybers-prys. ‘n ATKV-Woordveertjie en SALA is aan hom toegeken.

‘n Hut is ‘n skuilplek, ‘n outydse huis; meer spesifiek: iets van Afrika. En hier begin ons alreeds met die leesproses wat hierdie soort digkuns opeis: assosiasies, nadink, naspeur …

Die bundel se motto is van Gaston Bachelard: "The house, from cellar to garret. The significance of the hut.” Die huis kom telkens in verskillende vorme na vore in die bundel. Die huis as simbool van die self, soos Jung en vele psigoanaliste meen. Bachelard, ‘n rasionalis en wetenskapsfilosoof, is bekend vir die epistemologiese breuk of hindernis en sy invloed, o.a. op Jacques Derrida se siening van uitgestelde betekenis of différance, is oorbekend. Die teks wat altyd aanspraak maak op die buite-teks.

Bachelard La Poétique de L’Espace( The Poetics of Space) uit 1958 en die filosoof F.J. Engelbrecht se studie oor die huis (die drempel) word dus geaktiveer. Hoe die huis ook iets verraai van die self. Die vensters, die deure, die kamers ...

Titels word tussen parenteses geplaas en twee verse, (luister) en (kyk) (64 – 65) praat met mekaar. Intertekste is daar vele, soos Wallace Stevens (10), en Emily Dickinson (77) o.a. Stevens se beroemde “Anecdote of the jar”.

Behalwe vir die sterk intertekstuale spel met ander digters, is daar eweneens self-verwysings wat aan bod kom.

In die slotvers "(bouval)" (78), word daar nommers langs elke reël geplaas en ja, daar is 14. Dit speel dus met die struktuur van die sonnet. Die leser moet voltooi en vrye assosiasie is hier aan die orde van die dag. Dit verwys ook na die gedig getitel [14] wat in ‘n eerste weergawe so klink:

[14]

jou oë lê soos dooie vullens bokant
jou wange na ‘n uitbraak van perdesiekte
die wenkbroue daaroor die kleur van brommers
in die son. soos klippe in die veld
lê jou oë, en ‘n wind wat die aanheg
van gras tot skaduwee roer, waai deur jou mane.
jou oë dryf in die bloed onder jou voorkop
die wimpers geril tot inkennigheid
ek wil jou ribbe inval soos runderpes, die lyf
infekteer en stilletjies wegsluip voor die vlerkklap
van aasvoëls. ek neem jou besit soos ‘n slaak
van verligting, jou oë ‘n gestorwe graal:
jou keel is blinkvos
jou mond ‘n splinternuwe saal


Die leser herken die liedjie “Blink vos perd” wat verïroniseer word as ‘n (dooie) Pegasus, dalk, en ‘n spel met die sonnetvorm.

So klink ‘n ander gedig:

(drumpel)

Soos ’n wang oor ’n mond.
Neem jy stelling in teen die loopgrawe
van meubels wat oor die drumpel
bal en klou om later die res
van die huis met onrus te vul.
Buite blaf die honde jou
hande talm oor my hande.
Jou koel vingers die natuur van ’n leunstoel
wat uit die oorsprong
van kussings jou naels dof laat flikker.
In jou oë blink die vloer
en kalm dink ek dan kalm
geen onnodige roering roer

Hierdie soort gedig loop dan ook die gevaar om soms in vreemde assosiasies (dryfsand?) vas te val.

Soos:

Jou koel vingers die natuur van ’n leunstoel
wat uit die oorsprong
van kussings jou naels dof laat flikker.

Wanneer ‘n mens die gedig met die voorafgaande gedig lees, snap jy die angs van ‘n paranoïese spreker (dalk?) Of die veldslae van die liefde (dalk?) in “(dampskerm)” op bladsy 50.

Dis vir Gibson-aanhangers en ook vir dosente wat hierdie soort intellektuele vers moet behandel. Die leser wat die teks as scriptible (skryflik, her-skryf) eerder as lisible (oop-lees) (in Roland Barthes se terme) benader.

In sy studie oor Seamus Heaney (Methuen, 1982) skryf Blake Morrison oor die digter se werkswyse: "Heaney is aware of the charge that there is perhaps something unhealthy about this constant brooding on dead languages and cultures.” Dieselfde geld hierdie bundel met sy tob en nadink oor taal, oor assosiasies met die taal en sy kultuurgoed.

Dit is ‘n bundel wat die bemoeienis met die digkuns as ‘n taal-konstruk vooropstel. Hermeneuties, slim, uitdagend – vir sommige is die hart van die poësie uitgeruk. Vir hierdie leser nié.

In die hut van die digkuns is daar immers baie wonings …

Emily D. was die groot beoefenaar van die parentese (dash); Wallace Stevens die maestro van die semantiese geheim.

Ons sal wel vra wat hierdie digter volgende gaan doen met sy taalspel.


 (Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)