Showing posts with label Amanda Botha. Show all posts
Showing posts with label Amanda Botha. Show all posts

Sunday, August 5, 2018

Onderhoud | Met Amanda Botha rondom The coroner’s wife (2018)

Foto: Philip de Vos

Sedert die digter Joan Hambige in 1985 met Hartskrif gedebuteer het, het meer as 25 digbundels uit haar pen verskyn.Vier vertalers het meegewerk om ‘n keur uit haar oeuvre in Engels te vertaal. Die bundel, The Coroner’s Wife, het pas by Dryad Press verskyn. Amanda Botha het aan haar uitgevra.

Waarom het jy hierdie bundel met vertalings uitgebring?

Dis 'n projek wat sover strek as 2000. Ek het in die vorige millennium navorsing gedoen in die VSA en was eindeloos bekoor deur die werk van Robert Pinsky wie ek ook ontmoet het. Ofskoon my tekste in die Harvard-biblioteek staan, kan net 'n handvol mense dit daar lees en dit is vir my belangrik om ten minste my werk te kan transporteer na 'n ander taal sodat mense by kongresse my werk begryp. 

Die gedig "In the Garden of Emily Dickinson" het ek vertaal vir 'n kongres in Vergelykende Letterkunde wat plaasgevind het in Wene in 2016. Na my vyf pogings het Douglas Reid Skinner dit reg getimmer. Maar die verskillende weergawes gee tog iets weer van die "lost in translation"-proses.

In Emily Dickinson’s Garden
Every day, Emily D believed
she heard the sounds of birds
in her tree-filled, lush, green garden.
It was here, in her garden of happiness,
as Judith Farr explained,
that she experienced the widest link
between poetry and gardening: from love to hate;
envy against virtue; death and eternity
dug into flowerbeds.
Planted wild fig marigolds, jasmines
and daisies. And picked a bouquet
each day for herself. And each flower
– even the gardenia –
looked up in flower encyclopaedias
– Campanula, Columbine, Aquilegia –
and therafter explored Webster's fields
as a traveller keeps track of her itinerary
in a strange country. Every
symbol precise, exactly understood.
O enigmatic woman in your white dress,
I visited your garden in the spring:
stood there and wondered
if you ever talk in the Garden of Eternity 
with the other gardener of Amherst,
with her, Sylvia, whose death
keeps on blooming like a black arum lily?


In die tuin van Emily Dickinson

In haar boomryke, lowergroen tuin
het Emily D glo daagliks
geluide van voëls ingeklank.
Hier het sy in háár tuin van geluk,
soos Judith Farr beduie,
die ruimskootse verband tussen dig
en tuinmaak beleef: liefde teenoor haat;
nyd teen deugsaamheid; dood en ewigheid
in blombeddings ingespit.
Wildevygies, jasmyne en madeliefies
geplant. En daagliks ‘n ruiker
vir haarself gepluk. En elke blom
– selfs die katjiepiering –
in blomensiklopedieë opgesoek
– klokblom, koningsklokkie, arendklou –
en die Webster se akkers hierna verken
soos ‘n reisiger in ‘n vreemde land
haar direktief opteken. Elke
simbool nougeset, sekuur herken.
O enigmatiese vrou in jou wit rok,
jou tuin het ek in die lente besoek:
hier gestaan en gewonder
of jy ooit in die Tuin van Ewigheid
met die ánder tuinier van Amherst praat,
met haar, Sylvia Plath, wie se dood
soos ‘n swart aronskelk bly blom?

(Uit: Indeks)

Wat verloor en wen 'n mens in vertaling?

My vier vertalers, Skinner, Johann de Lange, Jo Nel en Charl JF Cilliers, het ook bewys hoeveel 'n mens "wen" met 'n vertaling. Goeie vertalers kan iets anders vind. Woordsnyer word "word sleuth".

Hoe het jy besluit op watter gedigte jy gaan opneem?

Daar is geweldig baie verse waaruit ons kon kies. Ek en my uitgewer, Michèle Betty van die Dryad Press, het gedigte rondom temas saamgesnoer: stede, liefdes en familie, ars poeticas, tyd en ewigheid, eerder as om chronologies te werk. So kry gedigte in hierdie bloemlesing in 'n nuwe bundel ander betekenisse. 

Wat wil jy met hierdie bundel bereik?

Ek wil graag wanneer ek na buitelandse kongresse gaan of vreemde plekke besoek ten minste iets vir 'n kennis kan gee. Dit was terselfdertyd vir my 'n intellektuele oefening deur self ook 'n handvol verse te vertaal het wat in hierdie bundel opgeneem is.

Dink jy daar behoort meer vertalings te wees?

Absoluut. Ek was bevoorreg om met vier uitsonderlike vertalers te werk. Hulle was soos buiksprekers vir my. In Afrikaans was daar 'n bloemlesing In a Burning Sea. Petra Müller is vertaal, soos bv. Wilma Stockenström, Krog en Breytenbach. Op die internet sweef daar verskillende vertalings van digters.

Ek dink die wêreld het al hoe meer 'n "global village" geword en digters word al hoe meer blootgestel aan ander (vreemde) landskappe.Die kanon het verander. Ons leef in 'n tyd van onsekerheid (soos Harold Bloom dit tipeer) en daar gaan waarskynlik al hoe meer reise na ander ruimtes wees. Dit is immers 'n proses van dekolonisering/dekanonisering, nie waar nie?

The Coroner’s Wife deur Joan Hambidge kan bestel word by http://dryadpress.co.za/

Sunday, September 11, 2016

Amanda Botha gesels met Joan Hambidge: Op 60 kyk sy al skrywend terug

11 September 2016

Vandag – 11 September –  vier die digter en literator Joan Hambidge haar 60ste verjaardag en ook word haar 25ste bundel, Indeks, vandeesmaand bekend gestel. Amanda Botha het haar oor haar werk uitgevra.

Joan Hambidge: “ ’n Mens skryf verse in die donker ure 
wanneer die krag van inspirasie af is.” Foto: Philip de Vos

Sedert haar debuutbundel, Hartskrif, in 1985 verskyn het, het sy dikwels in een jaar twee titels gepubliseer en twee jaar agtereenvolgend – 1989 en 1990 – elke jaar drie bundels die lig laat sien. Sy het in Afrikaans ’n ongeëwenaarde publikasierekord. In dieselfde tyd het sy ook ses romans uitgegee en twee literêre werke.

In 1986 ontvang sy die Eugène Maraisprys vir haar bundel Bitterlemoene en in 2012 die ATKV-Poësieprys vir haar bundel Visums by verstek. Die Litera-prys vir ’n gedig oor Eugène Marais in Lykdigte is ook aan haar toegeken.

Indeks het pas verskyn en bied ’n geleentheid vir terugskoue en bestekopname van jou lewe en digterskap. Wat is vir jou spesiaal aan die mylpaal-verjaardag en ’n 25ste digbundel?

Dat ek kon aanhou dig en die voorreg kon hê om gepubliseer te word met soveel kundige raadgewers en uitgewers! Henning Snyman (as leser), dan mense soos Etienne Bloemhof, Martjie Bosman, ­Charles Fryer, Connie Nel, Hettie Scholtz, Marietjie Coetzee, Frederik de Jager, Hester Carstens, Ampie van Straten, onder andere, in onalfabetiese volgorde!, dog elkeen op ’n unieke manier, fyn lesers.

En dan kritiese verslae van A. P. Grové en T. T. Cloete of Heilna du Plooy – literatore wat kundig inspeel op ’n teks.

En ja, resensente wat meen jy skryf te veel (haha Merwe Scholtz) of dink jy banaliseer die liefde (hoho tydgenote).

Terugskouend het jy verskillende temas oor die jare verken. Brei uit oor die temas wat jy meen jou digterskap voed?

Verlies, familieskap, reis, portretverse, ekfrastiese verse, die parodie, religieuse verse . . . Nee, genugtig, vra ’n kritikus eerder.

Jy is losweg die produktiefste digter in Afrikaans. Wat laat jou steeds dig? En indien wel, hoe beplan jy ’n bundel?

Wat laat ’n mens dig? Komplekse vraag. Indien ek presies sou weet, sou ek waarskynlik nou ophou. Ek beplan ’n bundel rondom ’n reis of ’n aflegging: in my jeug ’n verhouding; nou die inkyk op die herinnering aan soveel ervarings, mense, bestemmings . . .

Foto: Philip de Vos 

My paspoort

Noodgewonge in ’n landing site beland
Argentina teenoor Republika Hrvatska,
Nam Phi neffens Beijing se groot muur-visum.
My boekie propvol en net op één blad staan jy,
skeef gestempel, my paspoort na oraldeur.
Nee, ek lieg, dis twee: Zanzibar en Egipte.
Stone Town blakerend en stinkend;
Kaïro se piramides en kamele en gidse.
Op al die plekke sonder jou, daar was jy:
Tokio, Los Angeles, Santiago de Chile,
onsigbaar, ongesiens, ongehoord
in die omtes van my reisende hart
van kontinent tot kontinent in nood,
in al die o-klanke van aftrek en optel.

En hierdie gedig, uit Astrak, sal ek later verander in ’n propperse sonnet.

Sou jy uit jou oeuvre ’n bundel kan uitsonder wat vir jou besonder spesiaal is?

Dad. Die bundel oor my vader – my ou Dad wat my deur die jare aangemoedig het. Ook Hartskrif. My eersteling. En Verdraaide raaisels wat my eerste kennismaking met Suid-Amerika registreer – wat nou, in Indeks, saamgesnoer is. Sedert 1989 het ek hierdie landskap vyf keer besoek. In Argentinië was ek twee jaar terug; Chili verlede jaar oor Desember en Januarie. Met die Andes as die simbool wat ’n skeidslyn is tussen die mens wat ek was en nou is.

In “Ars poetica”, die eerste gedig in Indeks, bely jy dat daar ’n tyd was dat ’n versreël of inval “sonder slag of stoot” hom kon aanmeld en dat daar dalk nou ’n “beurtkrag met die digterlike proses” is. Sal jy dalk meer toeligting bied?

Die ouer digter is waarskynlik meer tegnies bedrewe. Jy kan ’n gedig ten spyte van jouself of ellendes “skep”. ’n Gedig spring nie meer uit jou uit nie. Maar jy kan dit tegnies laat werk . . .

Die politieke en ekonomiese troebelhede (van ons land) speel saam, nie waar nie?

’n Mens skryf verse in die donker ure wanneer die krag van inspirasie af is.

Jy bied ’n afdeling aan as ’n inventaris van verdriet/verlies. Jy hou in digreëls herinneringsmomente van ’n lewe vas. Wil jy uitbrei oor die verrekening van verlies in jou werk?

Verlies is die voedingsbron van my digkuns. Die dood van geliefdes (my vader, geliefdes). Ek is waarskynlik ’n romantikus. Ek word so maklik teleurgestel, maar terselfdertyd bly ek voortbeweeg. Driftig, enersyds dromend; andersyds krities, gedistansieerd.

Foto: Philip de Vos

As jy bestek opneem wie teken jy aan as invloede of deur wie sou jy digterlik gevoed word?

Ek word digterlik gevoed deur verskillende digters, maar my vriendskap met Johann de Lange moet ek uitsonder as ’n digterlike voedingsbron. Hy is ’n besondere digter en iemand wat my verse lees, objektief en altyd met belangrike aanwysings.

Jy het al genoem dat jou studente in kreatiewe skryfwerk onder jou leiding ’n eie stem moet vind – jy duld nie epigone nie.

’n Mens moet wanneer jy skryfskole aanbied jong digters begelei om hul eie stem te vind en nie blote naskrywers te word nie. Hulle moet hulself ook in ’n stadium ontheg en losmaak van my as mentor en voortbeweeg. Hopelik dan al die raad onthou en dit toepas. Soos: lees soveel moontlik, kyk of jou beelde klop, kan jy iets bydra . . .

Jy’s reeds weer aan die werk. Soos jyself sê jou telling is “sixty-love”. ’n Roman en nog ’n bundel aan die kom?

’n Nuwe bundel, Astrak, is in wording en ’n roman, Begeerte, wat afspeel in Wene. Freud, Klimt, The Third Man, Sabina Spielrein en die Riesenrad is die intertekste. Opvallend ook dat mense vergeet dat ek ook romans skryf.

Hambidge se bundel Indeks word op Donderdag 22 September om 18:00 by die Book Lounge in Kaapstad bekend gestel.

(Hierdie onderhoud word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)