Tuesday, June 28, 2022

Resensie | Douglas Reid Skinner – A Short Treatise on Mortality | uHlanga, 2022

Douglas Reid Skinner – A Short Treatise on Mortality. uHlanga, 2022. ISBN 9780620986892 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Hierdie is gedigte geskryf deur ‘n sterk digterlike hand wat tegnies in beheer is. Die digter het nog altyd besondere aandag gegee aan vorm en die bundel word begelei met die woorde: “a lifetime of writing becomes the writing of a lifetime.” Ons beleef ‘n bestekopname, soos die titel waarsku, van ‘n digter wat terugkyk op sy lewe en vele geliefdes en vriende moes afstaan aan die dood. 

 

Douglas Reid Skinner, ‘n boorling uit Upington, is die redakteur van Stanzas en die Engelse redakteur (en vertaler) van die AVBOB-poësie projek. Dit is dan ‘n digter wat die digkuns van buite en binne ken. Hy is tans woonagtig in Surrey. Hy is ook ‘n “fine wine trader”.

 

Poesie Scelte: Selected Poems sy vertaling uit die Italiaans van Marco Fazzini se gedigte is hiervan ‘n bewys: hy transporteer die gedig wonderbaarlik na ‘n nuwe dimensie soos die taalkundige konsep dan dit beskryf:  transpreter. 

 

Hy vertaal en interpreteer. En ‘n gedig by uitnemendheid is dan ook ‘n vertaling van emosies, herinneringe, wandelinge wat die digter oordra in taal. Hierdie leser beskou die bundel as ‘n anatomie van die digkuns, soos Marjorie Boulton dit beskryf het in haar klassieke teks uit 1953.

Universele en persoonlike temas, soos Mark Revelle meen op die skutblad: An oberserver’s testament, but an observer observing self as much as the elements.” Die voorblad is ‘n wasige strandtoneel: aankoms en vertrek; ‘n boot en ‘n skip; migrante en locals. In sy digkuns vind ons dan telkens ‘n dubbelblik oor sy verlange en herinneringe terug na sy herkoms en die belewenis van die hier-en-nou.

 

Is die digter se werklike biografie sy digkuns soos daar via Brodsky beweer word? Eweneens ‘n digter wat in die vreemde ‘n nuwe “staning onder die sterre” moes vind. Dikwels het hy al oor liminaliteite of tussentoestande geskryf.

 

Inderdaad vind ons ‘n verwysing na Kaappunt (“Thirty-Four South, Eighteen East”), maar ook gesprekke met klassieke digters, ouer digters (Coleridge en Wordsworth, o.a.) wat die “biografiese”, letterlike aspek problematiseer in hierdie bundel. Biografies ja, maar iets meer soos W.H. Auden waarsku in sy beroemde essay “Writing” (Selected essays, 23) dat die digkuns weens die talige aanbod altyd meer word as byvoorbeeld die matematiese bedryf.

 

II

 

“Out of the Blue” (26) is ‘n terugreis deur die ontdekking van ‘n gedig wat die digter indertyd geraak het en steeds raak. Maar dis meer as ‘n gedig wat “ontdek” word. Die digter word hiermee ook herinner aan ‘n vergete verhouding. “In the wide and dark landscapes of time” staan dit opgeteken in “Two Minutes” (18): wat word onthou, wat gaan verlore?

 

Humor en ironie is daar ook: ‘n fisant lyk soos Beau Brummel (16) en “The Book That’s Now Being Read” (44) handel oor die ouers wat amper nie getrou het nie; en gelukkig het Auntie Meg ingetree. En in hierdie gesprek met die digter dekonstrueer die spreker die digkuns en familieskap van verse: as hulle nie getrou het nie, was broer en suster nie hier nie en die boek wat jy nou lees ook nie hier nie!

 

“In the Wide and Dark Landscapes of Time” (82) word ‘n lykdig vir Chris Mann ‘n treurvers oor ander vertrekkende digters (Douglas, Don, Guy, Syd). Hy gebruik sterk landskapbeelde – bekend aan Chris Mann (1948-2021) se werk om hierdie innerlike proses te vergestalt. “Sunday” (83) met ‘n implisiete kopknik na Wallace Stevens wys hoe die gedig paradoksaal gebeur uit die niks, uit verlamming. Ofskoon hy die weg ken en dit al vantevore ervaar het, artikuleer hierdie gedig die liggaamlikheid van die skryfproses. 

 

In die tweede strofe van Stevens se gedig:

 

II 

 

Why should she give her bounty to the dead? 

What is divinity if it can come 

Only in silent shadows and in dreams? 

Shall she not find in comforts of the sun, 

In pungent fruit and bright, green wings, or else 

In any balm or beauty of the earth, 

Things to be cherished like the thought of heaven? 

Divinity must live within herself: 

Passions of rain, or moods in falling snow; 

Grievings in loneliness, or unsubdued 

Elations when the forest blooms; gusty 

Emotions on wet roads on autumn nights; 

All pleasures and all pains, remembering 

The bough of summer and the winter branch. 

These are the measures destined for her soul. 

  

Pynlik is die onvoltooide gesprek met die moeder “On a Conversation Never Had”:

 

                 ….Now, there’s nothing left

Except echoing words, an empty hand,

A departed dream, the draining sand … (75)

 

Hierdie gedigte artikuleer die besef: dat terwyl ons beplan en werskaf, gebeur die lewe (“It takes the Biscuit”, 68) wat ‘n aweregse gesprek met Proust se Madeleine-koekie voer. “Out Of Breath” (51) speel met Elizabeth Bishop in ‘n heerlike dansvers waar Tony Voss ook aangespreek word. ‘n Puik parodie, nee eintlik palinode waarin hy Bishop voltooi. Die verlies aan kuns is hier ter sprake en humoristies ontluister word. 

 

Geoffrey Hill, Eugenio Montale, Cavafy, Borges en klassieke meesters soos Tacitus is hier. Tony Voss, Johann de Lange maak ook ‘n buiging.

 

“In Which We Examine the Idea of Progress” (60) is ‘n briljante politieke vers, universeel en lokaal. “Paradise” (62) lewer metakommentaar op Faure se In Paradisum via Brueghel se Aardse Paradys, implisiet Auden met Hollywood se suspension of disbelief. ‘n Kragtoer hierdie vers.

 

Die vertaling van Catullus (Catullus. Selected lyric poems) saam met die klassikus Richard Whitaker was uitnemend.

 

III

 

Hierdie bundel is soos ‘n goeie bottel Malbec: jy teug en proe en teug.

 

Pragtig uitgegee deur uHlanga uitgewers.

 

Bibliografie

Auden, W.H. 1956. Selected Essays. Londen: Faber.

Boulton, Marjorie. 1953. The Anatomy of Poetry. Londen: Routledge & Kegan Paul.

Sunday, June 19, 2022

Resensie | Celesté Fritz – Verdeelde stand / Divided Stance | Hemel & See Boeke, 2022

Celesté Fritz – Verdeelde stand / Divided Stance. Hemel & See Boeke, 2022. ISBN 9781 998 958856 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Hierdie digbundel sit die noot hoog in op die agterblad. Daar word beweer die digter neem verskillende stemme aan en die gedigte is nie vertalings of herwerkings van mekaar nie. ‘n Hibriede bundel saamgestel uit verskillende tale, kulture, seksualiteite, uit die diverse Suid-Afrikaanse werklikheid.

 

Nou skep hierdie parateks ‘n leesverwagting by die leser. En ons word nie teleurgestel of gefnuik nie.

 

En laat ons dit onomwonde stel: in hierdie dae van ‘n tsoenami van bedenklike bundels en eendagvliegies is hierdie ‘n belowende debuut. Die digter het gelees (Auden, Eliot, Frost, Louise Glück, MacLeish, Neruda, Szymborska …) en sy beskou liefdesverhoudings, vriendskappe, haar relasie met haar ouers, die dood van ‘n dier, landskappe van buite en binne.

 

Twee belangrike vrouedigters begelei die verse: Glück wat pakkende verse oor die einde van ‘n huwelik geskryf het en liggaamlikheid, en Wisława Szymborska wat taal in ‘n gedig so goed navigeer. Ja daardie vrou met die lornjet.

 

II

 

Op ‘n koue wintersaand begin ek dit lees. Die reën suis op ‘n deurskynende glasdak. Die intensiteit hiervan word opgetel in die verse in sowel Engels as Afrikaans.

 

“A Silverfish Swallowed my Mother” (29) gee die spreker se weergawe van die moeder in ‘n herinneringsreis. Die moeder as tuisteskepper en wat die dogter van raad bedien:

 

I have tried to trace your stitches

analyse the thread leading to

a diminishing dialogue …

 

Helaas is die herinneringe opgevreet deur motte.

 

Daar is humor en politieke besinnings. Landskapverse. Daar is afskeide (van vriende en geliefdes) en ‘n lykdig oor ‘n Maltese hond, “Vy” (51).:

 

ek gee vir haar ‘n manjifieke

bruidskat uit die tuin

gepoleer en kortstondig soos glas

hang dit om haar vertrekkende hals.

 

Hierdie digter lewer verse waarin die emosie teruggehou word (soos sy leer via T.S. Eliot) en in die slotvers “Selfisolaat” (96), ‘n behendige ars poetica, tref sy die leser met die verskillende vlakke wat sy saamdig: ouderdom en oudword en wat dit alles behels.

 

In “vergelding” (80) blaai sy deur ‘n digbundel in ‘n boekwinkel en ontdek ‘n ooghaar. Wie was dit? Die geliefde dalk? ‘n Heerlike stuk ironie oor aan wie behoort ‘n gedig nou eintlik en hierdie vers moet saamgelees word met “Once, in Love” (81).  Implikasies en ironie. En subteks.

 

Die verdeelde stand aktiveer eindes, vertrek (“Afskeidsdroom”, 75), maar ook verskillende tale soos ons lees in “Divided stance” (68) oor die taal van die vader verpak met die verskille tussen Engels en Afrikaans. En die geskiedenis van “donkie-ore” wat jy moes dra in ‘n Engelse skool in die 1940’s.

 

Die liefdesverorbering word ‘n opeet van die gedig deur die geliefde in “Onskuld” (73) wat die tegelykertydsaspek van die geslaagde gedig illustreer: daar gebeur meer as wat jy dink jy sê …

 

In die aangrypende “Refleksie”(72) word die hande van die geliefde beskryf en hoe die spreker uitgelewer is aan die geliefde.

 

Covid en die liefde in hierdie tyd word direk aangespreek (54, 55, 84). 

 

III

 

In “Delusion” (42) word die klassieke herdig: Cocytus, Acheron, Charon en Styx. Tussen die lewendes en die dooies word dan ‘n ander “verdeelde stand”. “In ‘n ry na die wederkoms” (41) neem  die spreker afskeid van Ouma Dina wat “klein pikkewyn in haar kis” lê op Avbob se stoep.

 

Daar is vele stemme in hierdie bundel met die wete wysheid ‘n vroulike vorm het vir hierdie digter (37). Daar is mooi beelde soos ‘n kaktus se vredesteken (25), “In oom Paul se bebronsde baard stol / duiwemis soos psigedeliese insekte” (16) om ‘n paar uit te sonder.

 

IV

 

Daar is endnote om gedigte te kontekstualiseer. Die bundel beslaan 102 bladsye.

 

The Perks of Being a Wallflower van Lien Botha op die omslag gee die kodes weer: die weerlose kind versier met blomme agter doringtakke. ‘n Ander leser meen dis nie doringtakkies nie. Besluit  maar self.

 

‘n Bundel met ‘n handvol sterk verse wat ons laat uitsien na ‘n opvolg.

 

Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad waar sy ook ‘n Genoot is. Haar digbundel Sanctum verskyn in Augustus by Protea.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

 

Saturday, June 11, 2022

Rubriek | Geloof | 2022

I

Nou onlangs kyk ek weer na The Night of the Iguana (1964) gebaseer op Tennessee Williams se uitsonderlike drama. Die verhaal van die priester (vertolk deur Richard Burton) wat gedwing word om die kerk te verlaat weens grensoorskrydende gedrag en dan ‘n bustoerleier word. Hierdie komplekse film gebruik metafore van geloof: die fantasie teenoor die realiteit en Hannah Jelkes (Deborah Kerr) “red” die priester van ellende. Dit speel af in die hotel van Maxine Faulk (Ava Gardner) in Meksiko met die iguana as die simbool van die primordiale of dalk die dierlike?

 

Lawrence T. Shannon gee sy kruis aan Hannah Jelkes wanneer sy die hotel verlaat met die opdrag om dit te verpand wanneer sy geld nodig het. Maar dis Williams, die uitsonderlike dramaturg, wat telkemale daarop wys dat jy nie die geloofswêreld waarin jy groot gemaak is, kan ontglip nie. Skuld en boetedoening dus.

 

Die Slegte Nuus van die Evangelie – my reis na verlossing (Naledi) gee die reis weer van Johan Retief.  Hy bely hieroor in Rapport: Oud-dominee word ’n ateïs: ‘Jammer ek het julle mislei’.

 

Ons lees van die spasmas in die oud-prediker se keel en hoe Calvinisme lei tot “religieuse depressie”. Christene is dan ook die mees onverdraagsame mense, lees ons verder. Werklik? En godsdiens lei ook tot ‘n onderdrukking van die mens se rasionele vermoëns glo.

‘n Wedergebore ateïs aan die woord dus.

 

II

Natuurlik worstel mense met geloof. Maar alte dikwels is dit mense wat hulle laat worstel en ontspoor.

 

In my lewe het ek beweeg van die NG-Kerk tot ateïsme en danksy die Boeddhisme by iets anders uitgekom. Terug by my siening en ervaring van die Christendom.

 

Van die grootste boeke op aarde is spiritueel en kan jy net begryp as jy Die Bybel ken. Dante onder andere. ‘n Groot intellektueel en rasionele denker soos Harold Bloom skryf oor Bybeltekste. Frank Kermode, ‘n besondere literatuurwetenskaplike, in An Appetite for Poetry. Essays in literary interpretation (Fontana Press, 1989) analiseer eweneens Bybeltekste. Jona is al deeglik beskou en afgestof en metafories verklaar. Kyk na die invloed van die Bybelvertaling op Afrikaans.

 

Kan ons enigsins Van Wyk Louw of Opperman begryp as ons nie die Christendom en Calvinisme verstaan nie?

 

III

In Sanctum my jongste bundel wat later vanjaar verskyn, ondersoek ek spiritualiteit in verskillende lande en kulture.

 

Tans skryf ek elke dag ‘n oggendmeditasie, ‘n soort gebed om tot stilte te kom:

 

Oggendmeditasie 1


Die nag ‘n oorvol asbak

met besoeke van en na

verre plekke, ontmoetings

met vergetenes, vertrekkendes.

 

Vrese tot die dag breek:

‘n stil gebed soos Eugenio Montale

soekend na die stil punt van die wêreld

nes Eybers in haar winter-surplus.

 

Daardie Stil punt van die aarde,

soos my vriend dig, nou onmoontlik

met modderrampe en ‘n oorlog

op ons klein en silwerige planeet.

 

In hierdie concordia discors

onthou ek Pase by my ouers,

my vader se studeerkamer

‘n atlas-van-die-wêreld.

 

Toe was alles ver en in beheer

met “Vroegherfs” ‘n gebed

vol hoop en verlossing …

Nou smag ons na berusting.

 

IV

Geloof en wetenskap sluit nie mekaar uit nie. Dit is verskillende kante van een munt. Die een kan nie sonder die ander bestaan nie.

 

Die filmweergawe van The Night of the Iguana deur John Huston is aanskoulik mooi (en soms skreeusnaaks). Wanneer Hannah vir die ou dronklap poppiesaad-tee gee en met hom praat oor geloof, getuig dit van soveel wysheid. Hannah, die wandelende skilder wat so aan die lewe bly, saam met haar ou vader, die digter wat in die hotel sterf wanneer hy sy laaste gedig voltooi.

 

As jy worstel met ‘n iguana, moet jy dit dalk lossny? Hieroor moet elke mens maar self besluit.

 

Maar soos hulle seg: van my beste vriende is ateïste. Ek voel genadiglik anders.

© Joan Hambidge

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van BY)

 

Gedig | Bitterbessie dagbreek vir oulaas | 2022

Bitterbessie dagbreek, bitterbessie son

O aarde, die spieël het gebreek

tussen al die tekste oor onse Ingrid 

met soveel parodieë al besing.


Soek ek in Groot verseboek na haar,

loop maar in sirkels rond vervaard:

eggo’s en herkenning, selfs pryse

na haar vernoem, lê sy op bladsy


462 (Deel II) van haar beminde,

self al saliger, se bloemlesing verbind.

Nes Dirk-der-Duisende, koggelaar 

in sy Kuns-mis en Komas sowaar.


Wie se bitterbessie-pyn, wáár klink

die bitterbessie-stryd nou op: krink

‘n eggo, nog ‘n antwoord, voltrek 

‘n palinode: dié dennebos vertrek?


© Joan Hambidge

Sunday, June 5, 2022

Resensie | Carien Smith – Bot. Tafelberg, 2022


Carien Smith – Bot. Tafelberg, 2022. ISBN: 978-0624- 092872  

Resensent: Joan Hambidge



I

 

Bot is die debuut van Carien Smith wat al geruime tyd aandag vestig as pryswenner en skrywer met belofte. En met haar debuut doen sy hieraan gestand. 

 

Tydens die dood van Ursula K. Le Guin is hierdie leser in Bogóta in Colombië saam met die concierge verdrietig oor haar vertrek. Dis 2018. 

 

Hierdie leser onthou ‘n verhaal van Le Guin waar mense op ‘n vreemde planeet ontmoet, seks het en die ervaring word alles toegezip – met geen pyn of verlange nie. Anders as op aarde.

 

In 1979 verskyn Patrick Parrinder se studie Science fiction by Methuen. Asimov tot Frank Herbert. Utopia tot distopia. Jules Verne en H.G. Wells en natuurlik die meester, Ms. Le Guin word ondersoek, verduidelik en gekontekstualiseer.

 

2001: A Space Odussey is Stanley Kubrick se epogmakende rolprent uit 1968 het die grense verskuif in die filmkuns. Gebaseer op Arthur C. Clarke se The Sentinel ondersoek hierdie film ‘n reis na Jupiter met HAL, die gevoelige komputer.

 

Ons dink verder aan Andrei Tarkofski se belangrike film Solaris (1972), wat waarskynlik een van die grootste films binne hierdie sub-genre is. In Afrikaans is Skepsel van Willem Anker ‘n enorme prestasie wat subtiliteit en die ontginning van ambivalensie betref. Dat hierdie versameling nie die kortlys vir die Hertzogprys vir prosa gehaal het nie, het vele lesers laat frons.

 

II 

 

Bot is die skrywer Carien Smith se debuut met 16 kortverhale. Hierdie debuut gee ‘n kopknik na die kodes van die sub-genre en in die teks word daar selfs nagedink oor wat hierdie skryfwerk behels (96-97). Die teks wys op en analiseer die bestaan in ‘n ander ruimte met die mense wat hulself as klone of simulate ervaar. Tydreise, aliens, parallelle universums (die sogenaamde multiversum), oorloë tussen planete, teleportasie, en wat nog, kom aan bod. In Andrei Tarkofski se Solaris word die wetenskaplike besoek deur sy vrou wat selfmoord gepleeg het. Die psigoloog wat gestuur word na die ruimtestasie wat om Solaris, die planeet sirkel, besef daar heers groot depressies en angs. Hier is gerepresseerde emosies wat losgemaak word met ‘n kopknik na Freud. Die water op die planeet word ‘n brein wat almal manipuleer en intimideer. Slavoj Žižek analiseer hierdie klassieke film aanskoulik in The Pervert’s Guide to the Cinema rondom die kwessies van ont-vlugting en vervolging.

 

Wanneer ‘n mens scifi-verhale en -films bekyk is dit altyd relevant om te sien hoe die wetenskap die tyd vooruit is. Lees ons vandag Asimov is dit gedateer, maar ‘n goeie storie bly, ten spyte van die “veroudering”, steeds relevant, soos die film The Matrix, die Wachowski's se film van 1999, bewys.

 

Om dus binne hierdie sub-genre jou merk te maak, stel bepaald eise. So gaande was ek oor Frank Herbert se Dune (1965) dat ek die film eerder vermy het.

 

III

 

Carien Smith sluit by hierdie komplekse distopiese tradisie aan waar die menslike bestaan ont-mens word. Hier is klone, simulante, vreemde verskynsels en die skrywer betrek verder die ekologie en klimaatskrisis wat tans heers.

 

In die slotverhaal “god die robot” word die belangrikste aspekte van hierdie soort skryfwerk opgesom: “Ons leef om ons intelligensie, / Ons verstand, ons denke, ons algehele IK” (145). Dit is ‘n aanhaling uit die Heilige Robot-liedereboek. 

 

Distopiese tekste werk altyd met die ómgekeerde van die utopiese wêreld. Tegnologie word alles en die geskiedenis van wetenskapsfiksieverhale bewys die vooruitgang van die mens. Ons almal van ‘n bepaalde ouderdom, onthou immers die eerste maanlanding. Ons onthou ook hoe geskok ons  was toe Garry Kasparof, die skaakmeester, getroef is deur ‘n robot. Dit was 1996 toe Deep Blue, die IBM-superkomputer, hom oorwin het. Hy was weer verslaan in 1997 tydens ‘n tweede toernooi en dit is alles te siene in Game Over: Kasparov and the Machine, ‘n dokumentêr van Vikram Jayanti in 2003.

 

“Alles is ‘n leuen / niks is ‘n leuen nie” waarsku die agterblad. In die verhaal “Vakuum” word ene Zaré Waenhuis aangekla dat sy ‘n simulant is. Die verhaal word binne ‘n kerk geplaas wat dan ‘n hofsaal word. Die verteller verplaas dikwels een simboliese ruimte na ander een: kerk na hofsaal en dit aktiveer die rituele in die leser se gedagtes wat dan opsetlik gedekonstrueer word.

 

Hier het die persoon buite die raamwerk opgetree en haar man aangeval. En so word moraliteit bevraagteken. Dit neem die leser dan na die belangrike motto as rigtingwyser van David Benatar Better Never to Have Been:  The Harm of Coming into Existence (2006) en die asimmetriese verhouding tussen pyn en plesier. Ook in Smith se verhale word die “family romance” een van versaking en pyn. Trouens, dit vind ons ook by Le Guin: dat die (her)skepping van ‘n alternatief, is juis nodig, omdat die hier-en-nou so ondraaglik is.

 

Evolusie word aangespreek en hoe alles reeds verander het. 

 

In “Agentskap” word die “wonderkind” met die “regte merkers” gesatiriseer (27). Die moeder wat spog met die wonderkind op sosiale media met ‘n woordeskat van vierduisendvyfhonderd-en-dertig woorde. Op vyf-en-‘n-half maande. Op drie kan sy lees en speel soos ‘n Mozart klavier. Oordrywing. Fantasie.

 

“Gesprek met ‘n hologram” (108) is uitstaande goed geskryf met die ontsluiting van die titel van die bundel. Die voorblad met blomme in ‘n ruimtevaarder se helm word ‘n soort rangskikking?

Die ruimte teenoor die aarde? Is die blomme reeds dood?

 

Telkens word politieke dimensies en hoe ons deur Facebook en realititeitsprogramme ingesluk word, beskryf. “Keeping up with the Clones”, die WVK en Covid op sy kop gedraai in “O2”. Net diegene wat inentings gekry het, kry suurstofpakke in ‘n sidderende verhaal (129). Dit is ‘n sentrale verhaal in hierdie bundel.

 

Hierdie verhale bewys dat die “ek-verteller” distansie skep, meer as die derdepersoon of sogenaamde personale verhale. Die verhale is klinies, gedistansieerd vertel; juis hierom is die impak van die stellings oor oorbevolking, klimaatsverandering, gebrek aan erbarming des te groter.

 

“Nuwejaar” (18) wys hierdie kollektiewe onrus uit en onder draai die paranoiese duiwels rond.

 

En voor ons vergeet: daardie baken in die moderne romankuns en uitnemende digter, Margaret Atwood het ook belangrike werk gelewer binne hierdie sub-genre. Veral Oryx and Crake (2003) het my begeester wat beteken dat vroueskrywers se aanwesigheid ‘n feministiese debat open. 

 

Le Guin en Atwood had ook in ‘n polemiek hul verskille oor wat die genre behels.

 

En hiervan is Carien Smith duidelik bewus in die gesprekke tussen karakters.

 

Hierdie debuut is vir alle Scifi-liefhebbers (of spekulasie-fiksie) én vir lesers van die kortverhaal kan dit aanbeveel word. Om te vlieg met ‘n solodebuut, dit doen sy oortuigend. En om al hierdie ander skrywers op te roep, wys sy ken haar vak met ‘n balans tussen vertelling en spekulasie.

 

Miskien bly die aliens al tussen ons?, sal sekere wetenskapfiksie-liefhebbers beweer.

 

Dis al ‘n lang pad van E.T. phone home, nie waar nie?

 

Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad waar sy ook ‘n Genoot is. Haar digbundel Sanctum verskyn in Augustus by Protea.