Showing posts with label Jaco Kirsten. Show all posts
Showing posts with label Jaco Kirsten. Show all posts

Wednesday, December 25, 2019

Resensie | Jaco Kirsten – Nadraai (2019)

Jaco Kirsten – Nadraai. Tafelberg, 2019. ISBN 978 0 624 08783 0

Resensent: Joan Hambidge

I

Nadraai, 'n roman, sluit aan by die tradisie van grensverhale en die impak van die oorlog op die psige van die voormalige soldaat. In Afrikaans het Alexander Strachan met 'n Wêreld sonder grense die oorlog en die impak daarvan uitstekend ontgin. Daar was ook My Kubaan van Etienne van Heerden en verhale van Koos Prinsloo, e.a.

Jaco Kirsten verpak die oorlog met die hede en sluit aan by die tradisie van spanningsverhale wat tans so gewild is. Ene Rocco de Witt, 'n Kaapse argitek met 'n beeldskone Duitse verloofde, het 'n donker geheim. Destyds tydens die Bosoorlog het hy tydens 'n Swapo-operasie sy bewussyn verloor. Skielik word hy gekonfronteer met hierdie verlede. Sy plaas Nadraai in die Tankwa-Karoo word skielik 'n vreemde en bedreigde ruimte.

Die roman wentel om opposisie. Rocco se gay-vriendin, ook 'n argitek, se pa was 'n polisieman, terwyl sy vader 'n afgetrede mediese professor in 'n rolstoel is. Hede word telkens teenoor verlede geplaas (en die herinneringe aan die oorlog word in 'n ander lettertipe aangebied). Verder lewer Rocco kommentaar op argitektuur met verwysings na etlike plaaslike bakens, wat dikwels as wysneusig oorkom. Dieselfde geld die opmerkings oor restaurante: La Perla se naam word selfs vir die leser verduidelik. Verder word 'n koffieplek in Groenpunt se dekor beskryf. Egte bestanddele moet hier meeding met mensgemaakte stowwe soos silikoon en botox (125). Hier is dit die verteller wat die karakter se bewussynstroom binnedring en satiriese en ongevraagde kommentaar lewer.

Is dit relevant binne die raamwerk van 'n spanningsverhaal?

Omdat die gegewe deur die derdepersoonverteller gebeur, word dit steurend.


II

Waar die verhaal wel uitmunt, is die spanning wat geskep word rondom die donker verlede. Posttraumatiese stres én angs word deeglik en dwingend beskryf soos paranoia en padwoede.

Die effek van alkohol word oortuigend beskryf en 'n besoek aan die hospitaal (met die onsekerhede wat dit inhou) oortuig. Die gesprek tussen pasiënt en terapeut word eweneens geanaliseer.

Dieselfde geld 'n besoek aan Mavericks en die mans se ervarings van paaldansers. Die geveg na die ervaring, is eweneens oortuigend - met vuige woorde - en 'n duidelike verwysing na die problematiek van Kaapstad: karwagte wat betrek word by meer as karre oppas.

In die kroeg word die banaliteite van die manlike deelnemers weergegee en Rocco se besoek is meer besadig. Hierom die konfrontasie buite Mavericks.

Die roman wentel rondom binariteite; hede versus verlede; sekerhede versus onsekerhede; rykdom versus armoede ...

Deur sy Duitse minnares as metgesel, word etlike kwessies ondersoek: hoe ons politieke verlede uiters vreemd is vir buitelanders en hoe dit moeilik is om Engels te praat voor jou ouers (die minnares ontwille), omdat 'n mens Afrikaans is.

III

Wat hierdie roman veral dwingend en relevant maak, is die genderanalise van manlikheid (masculinities).

Veral wit manlikheid wat reeds geaktiveer word deur die hoofkarakter se naam en werkplek. Maar ágter die machismo van oorlog, gevegte, Swapo, valskermbataljonne en Recce's word die broosheid van manlikheid uitgewys. Manlikheid was kultureel gedetermineerd en nou word dit gekritiseer. Dit is dan die nadraai van ons politieke skuld.

Hierom is die voorblad so belangrik: wie is nou in die visier?

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Wednesday, February 6, 2013

Twee rubriekskrywers - Jaco Kirsten & Rachelle Greeff (2008)


Jaco Kirsten. Mý kant van die saakTafelberg Uitgewers, . ISBN 9780624 046394



Rachelle Greeff. Alles behalwe die geheim van my whiskiesHuman en Rousseau, . ISBN 978 0 7981 4937 2

Resensent:  Joan Hambidge

Twee onderhoudende rubriekskrywers binne die Afrikaanse dagbladpers is Rachelle Greeff en Jaco Kirsten. Kirsten se loopbaan het ek begin volg toe hy as motorrubriekskrywer week na week in Die Burger op ‘n Donderdag my aandag kon hou. Rachelle Greeff skryf deesdae insigryke letterkundige rubrieke, soos in Rapport. Nou onlangs het sy nie geskroom om Imraam Coovadia aan te vat oor sy enigsins bitsige en oningelige resensie oor ‘n Breyenbach prosateks nie.

‘n Mens koop ‘n koerant om ‘n rubriekskrywer te lees. Hoeveel rubriekskrywers kry dit reg om ‘n leser te wen vir sy / haar saak?

En hoeveel rubriekskrywers se tekste kan die toets van die tyd deurstaan? Ek dink een so ‘n tydlose, belangrike rubriekskrywer is Audrey Blignault. Haar essay oor die rooi rok of die vertelling van die tante wat geva het dat sy een dag onderstebo begrawe moet word sodat sy die ou mal, deurmekaar wêreld kan verstaan, is so ‘n een. Op sy dag het André P. Brink sout en peper gesprinkel en vele mense die harnas ingejaag.

Hier te lande is David Bullard se satire in die Sunday Times misgelees en sy mond gesnoer. Elke week gaap daar ‘n afwesige grafsteen waar Bullard moes staan en ons lees mindere talente se politiek korrekte menings.

‘n Goeie rubriekskrywer moet wel, goed kan skryf.

Beide Kirsten en Greeff kan dit doen.

Dit sit nie in almal se rubriekbroek om week na week kopie te lewer wat die toets van die tyd sal deurstaan nie òf ‘n leser sal boei nie. Op die Jaco Kirsten voorblad staan daar ‘n Elvis Presley-kloon wat ‘n voorstelling is van ‘n ander rubriekskrywer, Emile Joubert, wat klappe kan uitdeel, maar hulle nie kan vat nie.

‘n Goeie rubriekskrywer het ‘n mening. Al is dit dwars, aweregs, selfbehep, stroom-op, ikonklasties soos Koos Kombuis).

Maar dit mag nie niksseggend wees nie.

Kirsten is deur Tafelberg gepubliseer en Greeff deur Human & Rousseau.

Kirsten is pittig. Sy CV verraai ‘n loopbaan van wydlopende ervarings van brandweerman tot veiligheidswag; reklameman tot kopieskrywer en joernalis.

Greeff is ‘n kortverhaalskrywer en romansier.

Marita van der Vyver beskryf die Greeff-versameling as sjokolade wat jy as ‘n lekseltjie op ‘n slag kan benader. Maar as jy alles op een slag verorber, maak dit nie vet of veroorsaak skuldgevoelens nie.

Kirsten se tekste kan waarskynlik met ‘n bier-beeld verduidelik word as ‘n mens die kroeg-buiteblad in ag neem.

Met ‘n rubriekskrywer is dit soos met ‘n digter of ‘n sanger. Jy moet van die stem hou en dan kan daar maar enigiets uitgepak of opgedis word.

Natuurlik is hier ‘n gender-konstruksie ter sprake: waarskynlik sal die manne eerder Kirsten aanskaf.

‘n Letterkunde het sy rubriekskrywers nodig, veral diegene wat dwars, aweregs of stroomop is.

Vanselfsprekend is die bestes in so ‘n versameling die tekste wat verby die onmiddellike of partikuliere indruk / belewenis /insident handel. Greeff se “Wie wil anyway piepie soos Parker Bowles?” gee ‘n verslag van toilette, en die verskille tussen Afrika en Londen. Nou weet elke leser dat ‘n koerant / tydskrif ‘n maksimum van 800, dalk ‘n 1000 woorde duld. Die rubriek moet dus binne die kort bestek sy draai gooi en sy punt maak.

Soms sou ‘n mens meer wou hoor…

Kirsten se “Twee wêrelde langs mekaar” lewer verslag van hoe min ons weet van mekaar in hierdie land. Dit sou uiteindelik eendag as ‘n tydsdokument gelees kan word van verblyf in Londen, terugkeer na Afrika en ons skisofreniese land.

“So gemaak of so gebore?” sal waarskynlik in ‘n eksamenvraestel vir jong skoliere land. Greeff skryf hier as ma: sarkasme is uit, humor is in.

Jaco Kirsten se humor het my nogal gekielie.

Hy is onpretensieus, op die man af en macho.

By Greeff is daar weer ‘n feministiese / vroulike blik.

‘n Goeie rubriekskrywer skep sy / haar lesers.

En dit is die getroue lesers wat hierdie boeke gaan aanskaf.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]

Saturday, February 2, 2013

Jaco Kirsten - Om na ‘n wit plafon te staar (2009)



Jaco Kirsten. Om na ‘n wit plafon te staar. Tafelberg Uitgewers, 2009. ISBN 9780624047117.

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie roman word tipeer as ‘n reguit roman. Reguit? Dis bepaald wat dit is. Op die man af. Sonder draaie of swaaie. Dis ‘n satire van Naspers en die media. Dit vat regstellende aksie en die lot van die wit man aan in die huidige onseker Suid-Afrika. In hierdie opsig is die plafon van ‘n dubbelsinnige titel. Dit dui op iemand wat net staar na die plafon, maar ook die plafon van sy loopbaan bereik het. Hy kan nie hierdeur breek nie.

Die basiese storielyn handel oor Lourens se poging om ‘n roman te skryf: polities-inkorrek en in die oë van talle aanstootlik en onaanvaarbaar. Hy is die skrywer van die motorbylaag (nes die werklike skrywer op sy dag was!) en wil eintlik aan almal rondom hom bewys dat hy ‘n ernstige skrywer is…

Die eerste gedeelte beland per ongeluk op die ombudsman se lessenaar wat egter in staat is om die skryfsel te sien vir wat dit is: satire.

Die roman wentel tussen herkenbare en onherkenbare figure. Die leser kan dikwels mense herken en name is net effens aangepas of verwring.

Is dit nodig? Ek bedoel waarom het hy nodig om die grense so aan te lê? Dit is juis die punt van die roman, om hierdie spel met Barthes se vraisemblance vol te hou.
Die uwe word sommer by die naam genoem.

Ek haal graag aan:

“Ja, man, kak soos intertekstualiteit en so aan. Ek het mos paar jaar gelede ‘n kursus in skeppende skryfkuns op varsity gedoen. Jy maak heeltyd sulke side-ways verwysings na goed in ander boeke. Die resensente is mal daaroor en dit laat hulle slim voel as hulle dit raaksien. Veral Joan Hambidge is goed daarmee en miskien gooi sy ‘n bietjie van Umberto Eco en die semiotiek in. En as jy gelukkig is, dan fok sy jou nie op met ‘n verwoestende resensie nie!”(p. 64).

Aan die woord hier is MJ (Emile Joubert?) die bekende wynskrywer en kortverhaalskrywer wat die uwe eweneens in ‘n verhaal opgestuur het en toe nie die pak slae in ‘n resensie kon vat nie.

Umberto Eco se Travels in hyperreality kom hier handig te pas, net soos sy spel tussen die oop/geslote teks vir die leser relevant sal word.

Party sal meen hy gaan te ver; ander sal glimlag en hard lag oor die opstuurdery.
Die punt is ons maak die roman-in-wording mee en is uitgelewer aan Kirsten se galgehumor.

Die boek, Transformasie-medikasie, word weergegee en al die clichés en bekgevegte rondom boeke en bemarking word aan die kaak gestel. Ook hier is herkenbare figure wat die spit afbyt.

Maar van lekkerlag, kom lekkerhuil. Soos dit dikwels gesteld is met goeie satire, draai hierdie boek teen homself en haal die werklikheid van regstellende aksie mense in.

Daar is selfmoord en moord.

Meer durf ek nie verklap nie.

Op bladsy  149 wonder die skrywer of ek hom uitmekaar gaan ruk? My besluit:
Hy kan skryf. En vertel. En dus die hele punt.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]