Showing posts with label 2 Dae in Mei. Show all posts
Showing posts with label 2 Dae in Mei. Show all posts

Thursday, February 14, 2013

Jungfrau and other short stories (2007)



Jungfrau and other short stories (The Caine Prize for African Writing, 7th Annual Collection). Jacana, 2007. ISBN 978 1 77009 367 6.

Resensent: Joan Hambidge

Die wenner van die sewende Caine-prys vir Afrika-skryfwerk is Mary Watson met die verhaal getiteld “Jungfrau”. Dit is dan die openingsverhaal uit verhale van regoor die kontinent. Die ander kortlys-wenners Sefi Atta van Nigerië, Darrel Bristow-Bovey van SA, Muthoni Garland van Kenia, Laila Lalami van Marokko.

Dit is nie die eerste keer wat die Suid-Afrikaanse letterkunde so goed vaar nie. Hierdie keer was die bekende skrywer Ben Okri die keurder wat die hoop uitspreek dat hierdie prys mense se persepsies oor Afrika sal verander.

‘n Paar kanttekeninge oor die bydraes. Die meeste van die verhale is sterk gepolitiseer, soos onder andere “Looking for Biko” deur Véronique Tadjo. Die verhaal spring dan weg met ‘n belydenis dat hulle gewoon op reis wou gaan en toe meer ontdek het as waarvoor hulle gesoek het. Navigasie en die ontdekking van die suiderland deur ‘n buitelander wat alles plaas teen die ervaring van Burkina Faso en hoe politieke stryders gehuldig en uiteindelik vergeet word, maak van die verhaal iets aangrypends.

Wat ‘n reisgids vermeld vir die reisiger en die keiharde werklikheid van die begaafplaas van ‘n (politiek) beroemde, is twee dinge.

Is dit byvoorbeeld anders gesteld met Thomas Sankara se graf?

Hierdie verhaal wentel rondom etlike vinjette wat Afrika representeer in ‘n lang geskiedenis van bevryding en kolonistiese verdrukking.

Darrel Bristow-Bovey bewys: daar is lewe na ‘n aanklag van plagiaat en met sy verhaal “A Joburg Story” lewer hy ‘n tipe neo-joernalistieke kommentaar op lewe in moderne Egoli.
Sewende laan, televisie en paranoïa is deel van die mengsel in ‘n verhaal met ‘n moderne aanslag.

Die wenverhaal, “Jungfrau”, van Mary Watson bevat al die elemente van ‘n aangrypende verhaal geskryf uit die perspektief van ‘n kind: ‘n vermenging van ironie en erns (omdat die ouer fokalisator oor die ‘waarheid’ beskik), ‘n konkrete beskrywing van die jong kinders met hul snotneusies wat deur die stomende sop gesmelt word en sensitiewe waarneming van wat toelaatbaar en wát oortreding is.

Trouens, hierdie verhaal wentel rondom skuldgevoelens wat uiters subtiel inspeel op die gemoed van die jong figuur en wat die leser al dwingende meemaak. Die ontknoping herinner sterk aan die briljante kinderperspektief-verhale van Henriette Grové waar die verlies aan onskuld eweneens op ‘n dramatiese slot afloop.  Dit vra eweneens vir ‘n saam-lees met Truman Capote se eerste (kind)verhale.

“The last trip” van Sefi Atta is in volledig ‘n ander toonaard aangebied: die smokkel van heroïene na Londen. Dit is een van die sterkste verhale in die bundel. Nie alleen word die leser gekonfronteer met die besonderhede van smokkelreis nie, maar die skrywer onthul die verskille tussen die Britse en Afrika-kultuur op ‘n sardoniese wyse. BA-vlugte is nooit laat nie en die stand van ‘n Afrika-land se netheid (volgens Westerse standaarde) word beskryf. Dus nog ‘n kode oor Afrika: die agteruitgang, die armoede en die dwelmbedryf as ‘n wyse om te oorleef. Of, wonder ‘n mens, wil hierdie verhaal dalk sydelingse kommenaar lewer op wat met mense gebeur wanneer hul kultuur verpand word en as ‘minderwaardig’ afgemaak word?

Die relevansie van hierdie boek vir die leser is dat dit ‘n mens laat wonder nie alleen oor die leefwyse op die Donker Kontinent nie – wat Bristow-Bovey se karakter probeer dekonstrueer nie -, maar dat dit ‘n mens terselfdertyd laat peins oor die aard van die streek-kortverhaal en hoé ‘n verhaal uit Afrika verskil van sê nou maar, ‘n verhaal uit Japan. So gelees is dit duidelik dat vele van die verhale by implikasie werk met die beginsels van die orale tradisie, met storie-vertel, dikwels ter stigting en lering. (Nou onlangs het ek weer die verruklike Dwaalstories gelees en dit is die as waarom hierdie vertellnge wentel.)

Wat is die belangrikste kenmerk van ‘n goeie kortverhaal: ekonomiese skryfstyl en ‘n insident – gewoonlik met een belangrike karakter binne een transformerende situasie – maar veral: ‘n goeie kortverhaal bly jou by. Lank nadat jy dit gelees het, byt dit nog aan jou soos ‘n ete met knoffel of piri-piri.

Verder is die uwe van mening dat ‘n knap kortverhaal jou sommer met die intrapslag aan die keel gryp: en as Pettina Gappah skryf dat dit die kinders was wat eerste besef het daar is fout met die hoofkarakter, dan lees jy verder. Dieselfde geld die verhaal “The first time I said fuck” van Bristow-Bovey, ‘n onthutsende analise van die ou-Suid-Afrika rondom Beaty en ‘n pas.

Dit geld vir ‘n handvol van die verhale in hierdie versameling, vir Watson en Sefi Atta, in die besonder.

Die versameling beslaan net so oor die 200 bladsye en vir die kortverhaal-liefhebber is dit ‘n belangrike boek gedruk op herwinbare papier (aha, alle stories is tog hersirkulasies nie 
waar nie?) met ‘n mooi omslag van Diana Ong wat heet: Four Seasons.

En of Ben Okri se siening, naamlik dat persepsies getransformeer moet word, deur hierdie boek sal gebeur, val te betwyfel.

Letterkunde gee nooit eenvoudige antwoorde nie.   

Okri is gekant teen die klassifikasie van Afrika- of Swart Letterkunde. Feit bly staan: dit hoef nie as ‘n minderwaardige etiket / noemer  beskou word nie.

Aartsbiskop Tutu gee ook sy seënwense aan die boek.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Jaco Fouché - 2 Dae in Mei (2007)



Jaco Fouché. 2 Dae in Mei. Umuzi, 2007. ISBN 978 4152 0039.

Resensent: Joan Hambidge

‘n Roman oor alkoholisme. Dit is basies waaroor Jaco Fouché se roman 2 dae in Mei handel. Alkoholiste Anoniem in Belville.

‘n Volwasse onderwerp van ‘n jong skrywer wat die interaksie tussen ‘n drinker-wat-probeer-ophou en Elna, die hoof van AA, word weergegee. Robert, Elna, Jim.

Die foltering, die leuens, die verwoeste lewe wat agter die persoon lê, word in die vlotvertelde roman weergegee.

Op die buiteblad staan daar die outeur ‘n vakman is wat jou hart ongesiens kan breek. Dis ‘n bietjie sentimentele praat oor ‘n roman wat júís op ‘n on-sentimentele wyse ‘n problematiek probeer aanspreek. In vergelyking met sy tydgenote soos Jaco Botha (Miskruier) en Tom Dreyer (Equatoria) is hier ‘n bepaalde volwassenheid aanwesig wat nogal imponerend is vir so ‘n jong skrywer.

Die skadukant en leuens waaronder die alkoholis gebuk gaan, word goed verwoord. Dit is immers soos ons almal weet, ‘n siektetoestand en nou onlangs het ek selfs ‘n Jungiaanse analis, ene Linda Leonard, ‘n belydenis hoor maak oor haar verlede. (Een van haar tekste heet The wounded woman). Die deurbraak om  uit verslawing te beweeg, het haar op ‘n ander kreatiewe roete geplaas. Die belangrikste aspek van hierdie roman – behalwe vir die vlot en onderhoudende vertelling – is die gedeeltes waar daar by implikasie kommentaar gelewer word op die skryfproses. Hoe die kuns as’t ware terugspeel op die lewe. (“Maar die kuns ploeg op sy beurt weer materiaal in die lewe in”, bladsy 71) maak van die stuk vertelling dus ‘n konstruksie. 

Ons word immers herinner daaraan dat dit twee dae in Mei is. Gebeur daar soveel in twee dae? Kan ‘n mens ooit werklik getrou die lewe “naboots”? ‘n Dag in die lewe van, vind ons by Russiese skrywers en James Joyce het in Ulysses één dag probeer weergee. Maar dit bly altyd ‘n voorstelling en dit is onmoontlik om ‘n representasie weer te gee. Trouens, ‘n volledige afdruk sou vervelig wees. Dus hier, waarsku die skrywer die leser, dat ons besig is met ‘n artefak. ‘n Soort meta-kommentaar, as u wil.

Die swerfboek waaruit Jim lees, is On the road van Jack Kerouac. ‘n “Racy”, vinnig-geskrewe kultusteks, enig in sy soort.

In die erkenningslys word daar eweneens verwys na die literatuur van die AA.

In my bespreking gebruik ek woorde soos “vlot”, “goed geskrewe”, “onderhoudend”, ensomeer. Dit kan ‘n mens uiteindelik alles van hierdie roman sê.

Dit is egter nie ‘n boek waaroor ek so hoog gaan opgee as Koos Kombuis wie se Raka – die roman vir my meer om die lyf gehad het.

‘n Mens lees dan aan ‘n vlotgeskrewe roman oor die wanhoopstoestand van alkoholiste wat elke dag as ‘n klein oorwinning beleef.

Fear and loathing in Las Vegas se pendant is dit.

Nog minder het dit die versnelde pas van ‘n Beat-teks.

Wanneer ‘n mens die onderhoud van Jaco Fouché op Litnet lees, dan besef jy wat die skrywer wou doen, en wat uiteindelik hier tot uiting kom, is twee dinge.

‘n Verdienstelike teks, beslis ja.

Maar ook ‘n bietjie vervelig.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]