Showing posts with label Sofia Coppola. Show all posts
Showing posts with label Sofia Coppola. Show all posts

Tuesday, January 1, 2019

Filmrubriek | The Godfather (2019)

I

Francis Ford Coppola se The Godfather-films bly monumente binne die filmkuns.

Marlon Brando het indertyd die Oscar geweier. Hy was ongelukkig oor die wyse waarop Hollywood en televisie Indiane uitgebeeld het. Hy het Sacheen Littlefeather in sy plek gestuur om die redes vir die weiering bekend te maak.

Al Pacino op sy beurt was eweneens ongelukkig dat hy net genomineer was vir Beste Ondersteunende Akteur, terwyl hy meer op die skerm te siene was as Brando. Hy is wel genomineer as Beste Akteur vir The Godfather 2.

Sofia Coppola op haar beurt was benoem vir die Swakste Byspeler vir haar rol in die derde film. Twee Golden Raspberry Awards vir sowel die swakste byspeler as die vrotste nuwe ster. Waarskynlik meer ‘n aanval op die Coppola-dinastie as op haar.

Sy het haar aan hierdie snedighede afgesmeer en het later ‘n belangrike filmmaker geword, o.a. van Lost in Translation.

Hierdie wetenswaardighede daargelaat: met ‘n herbesoek het hierdie drie mylpale opnuut my aandag gehou.

Die temamusiek bly bekoor.

II

Hierdie trilogie van Francis Ford Coppola is met ‘n her-besoek uiters imposant.

In die derde een word Mascagni se opera Cavalleria Rusticana (1890) as ‘n interteks ingespan. Die opera is in Palermo in die Teatro Massimo waar Michael Corleone se seun sy debuut maak. Sy vervreemde ouers woon dit by saam met sy suster, Mary (Sofia Coppola).

Hierdie ingebedde verhaal is nie om dowe neute gekies nie. Dit is ‘n verhaal van kruisiging en verraad.

En wanneer Michael (Al Pacino) die trappe afstap en sy dogter onsteld uitroep na hom om uit te vind waarom hy haar verhouding met haar neef afkeur, word Michael geskiet. En sy dogter.

In die ensemble-spel tussen Pacino, sy vrou (Diane Keaton) en sy suster Connie (Talia Shire) beleef ‘n mens iets van ‘n Griekse tragedie. Die wenende, histeriese vroue teenoor Pacino wat eers woordeloos gil en dan huil met die droewe, melancholiese Intermezzo-musiek uit die Cavalleria Rusticana.

In hierdie oomblik word die fata van Michael Corleone se lewe beklink. Ten spyte van sy belydenis van sy sonde en soeke na absolusie by die pontiff, is die bose magte van weerwraak reeds geaktiveer. En die woorde van sy vrou gemaak in The Godfather 2 het waar geword: hy sal uiteindelik ‘n prys betaal vir sy dade.

Michael Corleone is ‘n verwikkelde karakter. Hy is sowel boos as goed en Coppola laat soms die kamera op Al Pacino se gesig rus: die een kant is donker, die ander kant vol lig.

Hy wil sy familie beskerm, maar is hy terselfdertyd gewetenloos. Hy laat sy broer Fredo vermoor en sy suster dink dit was ‘n ongeluk. Sy seun, die operasanger weet egter van beter. Inmiddels het hy diabetes en voel hy skuldig oor sy broer se dood.

Aan die einde van sy lewe probeer hy in Sicilië die magte tot ‘n einde bring. Maar dis onmoontlik. Hy het reeds die tafel gedek vir die magte teen hom ten spyte van sy 
$100 miljoen skenking aan die Katolieke Kerk vir die armes van sy dorp van herkoms in Italië.

In die slottoneel sterf hy alleen. Hy sit op ‘n stoel met ‘n dralende rondloperhond as sy enigste geselskap. Hy val om. 

Die kamera bly draal op hierdie toneel. Na regs is daar ‘n put met water. Geen ander mens in sig nie.

Dit is juis hierdie kompleksiteit van sy karakter wat Michael Corleone so ‘n aangrypende karakter maak. En Pacino het die vermoë om hierdie ambivalensie uitstekend op te vang en te vertolk.

III

Cavalleria Rusticana aktiveer ‘n belangrike kode. Turiddu byt Alfio se oor en hiermee word ‘n geveg tot die dood geaktiveer volgens die Sisiliaanse wette. Wanneer Connie Corleone vir Vincent (Andy García) voorstel aan Zasa (Joe Mantegna) byt hy sy oor, omdat hy hom uitskel as ‘n “bastard”. Hy is die buite-egtelike seun van Sonny.

Michael is weliswaar bekommerd oor sy humeur, maar neem hom tog in - wat uiteindelik daartoe lei dat hy moet afsien van Mary, sy dogter.

Die drie films kan elkeen afsonderlik beskou word. Wanneer die kyker dit egter saamkyk, is die herhalende temas en motiewe opvallend: familie, lojaliteit, wraak (en weerwraak), vreemdelingskap in New York, die rol van die patriarg (Michael neem oor by sy vader, vertolk deur Marlon Brando en gee sy posisie oor aan Vincent, omdat sy eie seun ‘n operasanger word), musiek en dans - en die rol van die kerk. Mario Puzo se roman is die basisteks. Die film verwys na die dood van Pous Johannes Paulus I in 1978 en die bankskandaal in  1981 en 1982 waar die Katolieke kerk se ongerymdhede aan bod gekom het. Michael is bewus van die Vatikaan se finansiële probleme, bied hulle $600 miljoen aan vir aandele in die Internazionale Immobiliare.

Die derde film begin met ‘n onthaal waar die kyker bewus word van al hierdie intriges en Michael se stryd met Zasa. Hierna is dit net wraak en weerwraak met die beroemde helikoptertoneel wat ‘n mens laat sidder. Alles bly in die slag.

Lucchesi, Gilday en Frederick Keinszig het helaas Michael om die bos gelei en die hele finansiële belegging val deur die mat. Hierna word daar twee magte teen mekaar opgestel: Michael Corleone versus sy vyande wat jag maak op hom in Italië. 

Die pous word vergiftig en Connie gee vir Don Altobello, haar peetvader en ‘n bose mafioso, gedokterde cannoli – en die kyker weet dit gaan sy einde beteken. Hy het immers vir Mosca gehuur om Michael te vermoor. En die pous is deel van die onderwêreld; hy sterf voordat hy Michael Corleone se onderhandeling kan beklink. En Michael bedrieg weer van sý gesante.

Op ‘n trein eet ‘n booswig sjokolade. Haal die boonste laag af en onder is daar ‘n rewolwer met patrone. Presies hoe hierdie rolprent funksioneer: onder elke laag is daar nog ‘n laag van betekenis of sub-teks. Nes die baasbrein, Michael wat in die hospitaal beland na ‘n beroerte.

Mense neem verskillende gedaantes aan: Die pous was Kardinaal Lamberto teenoor wie Michael sy sondes bely het. Mosca en sy gesant vermom hulle as priesters.

Vincent is die persoon wat Michael vertel van Don Altobello se verraad. So transformeer hy van ‘n blote humeurige man tot ‘n volwaardige godfather.

IV 

In die hande van ‘n mindere filmmaker sou dit melodramaties en vergesog kon raak.
Francis Ford Coppola konstrueer alles soos ‘n opera met vele rolspelers. Wilhelm Liebenberg maak my weer attent op George Steiner se The Death of Tragedy (Faber and Faber, 1961) se siening dat opera die moderne vorm van tragedie geword het.

Die brief wat Michael aan sy kinders stuur aan die begin van die film aktiveer die “strategy of hesitation”, soos Brian McHale hierdie tegniek noem in Postmodernist Fiction (Methuen, 1987, 137).

Tussen die figuurlike en die letterlike weifel alles in hierdie films.

© Joan Hambidge

Tuesday, December 11, 2018

Filmrubriek | Vertellers (2018)

I

Die openingskoot van Lost in Translation (Sofia Coppola, 2003) fokus op Scarlett Johannson se agterstewe. 'n Jonge Scarlett, nog maar net sewentien, lewer 'n sterk vertolking.

Hierdie film ondersoek die misverstande rondom taal ('n r wat in Japannees 'n l word), tydverskille tussen die VSA en Japan, en veral: verskillende aannames oor liefde en verhoudings.

Bob Harris (Bill Murray), 'n bekende Amerikaanse akteur, is in Tokio om 'n whisky-advertensie te maak waarvoor hy goed betaal word. In die hotel ontmoet hy vir Charlotte, 'n afgestudeerde filosofie-student van Yale wat saam met haar man hier is. Hy is 'n fotograaf en telkens op pad uit met suggesties dat hy 'n bekende filmster sien.

Charlotte (Scarlett Johannson) is geïsoleer en sy raak bevriend met Bob. Hy ontvang fakse en oproepe van sy vrou. Hy vergeet sy kind se verjaarsdag en in 'n foonoproep versoek hy haar dat hy gesonder wil leef en minder pasta wil eet. Hoekom bly jy nie sommer daar nie? vra die vrou. Die gesprekke handel dikwels oor oppervlakkige kwessies soos binnehuisversiering of die kleur van 'n mat.

Charlotte luister na oudio-boeke oor die siel, besoek tempels, onder meer ook 'n besoek aan een in Kioto.

Hulle raak vriende na 'n nag saam met Charlotte se vriende in 'n kroeg.

Charlotte is maar twee jaar lank getroud en ontnugter deur John, terwyl Bob na vyf-en-twintig jaar vir Charlotte kan raad gee: hoe kinders jou lewe onherroeplik verander en hoe jy uiteindelik by jouself uitkom.

Bob en Charlotte is beide slapeloos en deel hulle wedersydse frustrasies met mekaar. Hy weerhou hom daarvan om fisies by haar betrokke te raak.

Die kroeg in die Park Hyatt hotel is 'n sentrale fokuspunt en Bob slaap een nag met die sangeres in die kroeg. Dit ontstig Charlotte, maar na 'n alarmparade versoen hulle buite in die straat.

Wanneer Bob vertek, vra hy die taxi om te stop. Hy roep na Charlotte wat in die straat wegstap. Hy soen en omhels haar.

En laat haar agter.

Die kyker weet nie wat hy in haar oor fluister nie. 'n Belofte van 'n wedersiens?

Waarskynlik nie. Lost in translation: verlore in oorvertel of vertaling. Altyd net-net nie daar nie. Soos wanneer hulle in 'n karaoke-bar 'n bekende liedjie van die noot afsing.

II

So klink die dialoog wanneer die advertensie gemaak word:

Director (in Japanese, to the interpreter): "The translation is very important, O.K.? The translation."
Interpreter (in Japanese, to the director): "Yes, of course. I understand."
Director (in Japanese, to Bob): "Mr. Bob. You are sitting quietly in your study. And then there is a bottle of Suntory whisky on top of the table. You understand, right? With wholehearted feeling, slowly, look at the camera, tenderly, and as if you are meeting old friends, say the words. As if you are Bogie in Casablanca, saying, 'Here's looking at you, kid,'—Suntory time!"
Interpreter (In English, to Bob): "He wants you to turn, look in camera. O.K.?"
Bob: "...Is that all he said?"

En die verwysing na Casablanca hier is 'n kode oor hoe die film gaan afloop. Verydelde drome ...

III

Dit is tersaaklik dat hierdie film gemaak is deur 'n vrou en meer spesifiek, die dogter van een van die grootste filmmakers: Francis Ford Coppola. 

Sy is die dogter van Michael Corleone (vertolk deur Al Pacino) wat sterf in Godfather III in 'n wraakaksie teen haar vader.

Haar spel is destyds deur die media gestriem, maar Sofia Coppola het ondertussen 'n gerekende filmmaker geword.  Sy het in 1990 'n bitsige prys verower vir die Swakste Ondersteunende Aktrise.


Hieroor was sy neutraal, omdat sy nooit werklik 'n aktrise wou wees nie. En stellig was dit op haar posisie gemik as behorende tot wat beskou word as die Adel van Hollywood.

 Marie Antoinette (2006) en La Traviata (2017) is verdere uitstaande werk.

IV

Roland Barthes se L'Empire des signes verskyn in 1970, en in 1982 vertaal Richard Howard dit as The Empire of Signs. Dit verskyn by Farrar, Straus and Giroux, Inc. in New York.

Tokio as 'n stad sonder straatnommers en Japan as 'n semiologiese sisteem. Dit het Barthes goed begryp.

Soos Sofia Coppola wat die kyker voorstel aan die tekens van 'n frenetiese stad, Tokio met die Westerling wat interpreteer en verkeerd verstaan. Of uitgesluit voel.

Trouens, indien 'n mens in Japan op besoek was, begryp jy die ryk-van-tekens. 

Sofia Coppola jukstaponeer die Japannese tekens met die binneruimte van 'n hotelkamer waar die Westerling hom of haar afsluit van die semiologiese sisteem.

Treine en tempels. Neonligte en videospeletjies.

Manga en boeke.

Japan signifieer 'n ou en nuwe kultuur wat saambestaan.

V

Uiteraard is Casablanca die ondergrond van hierdie teks.

Kognitiewe dissonansie.

Twee kulture in stryd: die Duitsers en die Franse wat in die kroeg hul volksliedere teen  mekaar sing.

'n Liefde in Parys tussen Rick en Ilsa.

Wat nou weens die oorlog 'n herbesoek word van misverstande, verlating en verraad.

Hierdie 1942 film van Michael Curtiz - waaroor Umberto Eco so insigryk geskryf het in The Role of the Reader (1979) - bly 'n baken. Al geparodieer in advertensies met die lieflike Ingrid Bergman en Humphrey Bogart wat haar red. Woody Allen se Play it again, Sam (1972) aktiveer ook hierdie rolprent.

Politieke ambisies word gesinkopeer met persoonlike verbintenisse - wat nooit in die herinnering sal verbygaan nie, herinner Rick ons.

Rick's Café heet 'n restaurant in Tamboerskloof. Nie die regte Rick's Café Américain nie. In die film is die VSA nog neutraal teenoor die Franse Vichy's en die Duitsers.

Rick (Bogart) gee voor hy is neutraal en onbetrokke - maar hy word ten slotte uitgewys as 'n man wat 'n keuse moet maak vir sy geliefde. Al gee hy voor om net in homself geïnteresseerd te wees, bely hy immers aan Ilsa dat hul ervaring in Parys vir altyd sal bly bestaan. (As Time goes by...)

Dit is 'n film wat kommentaar lewer op mense se politieke betrokkenhede (Laszlo, Ilse se man was in 'n konsentrasiekamp) en is bewus van Rick se gevoelens vir Ilsa.

Met die herkyk, kan 'n mens net sê: Here's looking at you kid.

En die film kry telkens 'n nuwe lewe!

© Joan Hambidge