Showing posts with label Jerzy Koch. Show all posts
Showing posts with label Jerzy Koch. Show all posts

Sunday, March 19, 2023

Resensie | Jerzy Koch | Polkadraai | Turskvy, 2022

Jerzy Koch – Polkadraai. Turskvy, 2022. 110 bladsye, R250. ISBN: 978-0-6397-2418-8

 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Die vertaler, digter, bloemleser en literatuurgeskiedskrywer se tweede bundel, Polkadraai, gepubliseer deur Turksvy Publikasies, is ‘n beduidende en aangrypende teks.

 

Hierdie digter – verbonde aan die Mickiewicz Universiteit in Poznań, Pole – is ook navorsingsgenoot aan sowel Stellenbosch as Vrystaat Universiteite. Vir sy vertalings is hy bekroon met die M. Nijhoff-prys.

 

Die digter beskryf homself as olea europaea / subspecie africana.

 

Alles relevante inligting oor ‘n digter wat hom op verskillende vlakke met Afrikaans bemoei. Sowel leermeester as kanoniseerder wat skryf oor die verhouding tussen die sentrum en die antwoorde hierop. Hy hou hom besig met zenofanie.

 

Een van die beste artikels oor Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan is deur Koch geskryf.

 

Hierdie leser het die tweede bundel as ‘n soort alternatiewe literatuurgeskiendenis in digvorm benader. Die digter wat van buite kyk na Afrikaans, maar ook die landskap en mense van binne beleef. Van die mooiste en mees aangrypende natuurgedigte is hier te lese, omdat die reisende digter met ‘n onbevange blik waarneem. Denne, naaldbome, pere, fynbos, ‘n bergpas, die polkadraai in Stellenbosch, Jonkershoekweg teenoor die Poolse landskap o.a.



II


Die blik van buite versus die blik van binne is opvallend in hierdie bundel wat reeds in die epiteks (dit wil sê, die buitekennis) saamspeel met die buiteblad: woorde wat vir die leser sleutels gee om die bundel mee te benader of oop te maak. Boegoe, kamma, kierie teenoor decrescit, assumptio, interludium (o.a.). Ek kyk vas in glissandi. ‘n Glissando in musiek beteken ‘n opwaartse en afwaartse beweging. ‘n Verandering van “pitch” of toonhoogte. En die vreemdeling praat dikwels ‘n nuwe taal in ‘n ander tongval. Koch is sowel vlot in Nederlands as in Afrikaans en in Polkadraai is hy soos ‘n musikant besig om musiek te maak, terwyl sy lesers ‘n polka dans of ‘n outydse wals uitvoer. Soms selfs jazz.

 

Daar is drie afdelings: Literatuurgeskiedenis, Grendeltyd en Onder Andere.

 

Die skryfproses is deurgaans ‘n belangrike motief in hierdie bundel nes die ontginning van die klankmatige aspek. Die digter maak aanspraak op die leser se kennis soos in die gedig “wakker word in afrikaans” (92, 93) waar die refrein hier verander anders as in die volmaakte rondeel. Hy vertaal ook Wisława Szymborska impromptu in die gedig “voordrag” (24).

 

In die eerste afdeling is daar besinnings oor die dubbele negatief wat ‘n digter kan pootjie, en daar is pragverse oor Olga Kirsch en Boerneef wat tans deur vele digters besing word. In die tweede afdeling word die verskillende seisoene beskryf en weer eens bly die leser bewys van hoe die digter die klank-aspek ontgin. Maar daar word ook gekyk na ‘n Escheriaanse universum met ‘n oog en oor wat versadig is (36). Dit is ‘n belangrike kode vir hierdie bundel: twee wêrelde wat saam bestaan.


Die Slawiese wêreld is hier aanwesig. In “hoekom poësie” (94), speelse grammatika-les, neem hy die leser na die verskille tussen sý taal en Afrikaans. Die sewe naamvalle (met nominatief, genitief, datief, akkusatief, instrumentalis, lokatief en vokatief) word hier in sy taal voorgestel – in Afrikaans loop dit elke keer uit op dieselfde woord poësie; in sy taal is die uitgange anders.

 

Pools is skynbaar die enigste Slawiese taal waar nasale of neusklanke nog voorkom. So beskou, fokus hierdie leser juis dieper op hoe sy gedigte se klankspel werk.

 

Hy dwing jou dus om stip te lees in hierdie bundel wat ook her-kanoniseer.



III

 

As literatuurhistorikus is daar ‘n parateks. Endnote en verwysings na bekende gedigte waarop ingespeel word. ‘n Implisiete verwysing na Peter Blum en vir my, ‘n andersoortige Die grammatika van liefhê.

 

Anders as by Steyn, steek hy dikwels die grammatika-speletjies weg, maar dwing jou om op te soek.


Die impak van die oorlog en die Russiese wêreld word beskou. Ook in die skrynende “truitjie” (57) die weefwerk van die geskiedenis wat in die herinnering ‘n trompe-l’oeil word.

 

Die oog wat kyk; die oog soos by Escher wat na verskillende vlakke geneem word.

 

Visuele illusies wat in “droom” (99) ‘n pynlike besinning is oor die dood.

 

Van Wyk Louw is is die digter wat die Afrikaanse leser hier sal hoor onder die oppervlak van ‘n gedig.

 

Koch is die meester van grensoorgange tussen tale en verskillende ars poeticas.



IV

 

Soos hy dig in die tweede strofe van “ferweelskrif” (102) hoor ons Anjie Krog se Verweerskrif:

 

die nag is die weduwee

van die dag, sê die ou digter

en sien, in daardie lanferdonker

sweef jy tussen die sterrebeelde

en die supersoniese vliegtuig

bring jou anderkant

die berge

na vreemde landskappe

verre strande en

ander tale

 

Dis ‘n bundel vir die egte poësieliefhebber. Slim, maar ook hartgrypend. Speels en ernstig. ‘n Groot sprong na Pleks van plaas (2020).

 

Joan Hambidge is ‘n navorsingsgenoot (Fellow) aan die Universiteit van Kaapstad. Haar jongste bundel heet Sanctum.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Monday, July 6, 2020

Resensie | Jerzy Koch Pleks van plaas | Naledi, 2020

Jerzy Koch - Pleks van plaas. Naledi, 2020. ISBN 978 1 9285 18 36 5

Resensent: Joan Hambidge

Hierdie bundel is geskryf deur die bekende Poolse akademikus, Jerzy Koch wat bekendheid verwerf het vir sy vertalings van Antjie Krog en Breyten Breytenbach se gdigte. Hy het ook 'n eiesoortige literatuurgeskiedenis van Afrikaans geskryf en 'n uitstekende analise van Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan gemaak (A History of South African Literature Jerzy Koch gesels met Daniel Hugo (in Afrikaans) - YouTubeBesoek 5 Julie 2020).

Hierdie digdebuut werk met die opposisie tussen plek en plaa(t)s. Ruimte dus en in van plaas van (dalk)? In die gedig "maja" (25) skryf hy oor die vestida / desnuda, oftewel die naaktheid en gekleed wees in Goya (1746 - 1828) se beroemde skilderye. Hierdie leser beskou die gedigte as emosionele vertalings van 'n nie-moedertaalspreker: naak versus gekleed. Soms te oop, ander kere weer dig verweef. Hoe sou die verse byvoorbeeld in die Pools klink? Di is immers Robert Frost wat beweer het dat die essensie van 'n gedig juis dit is wat in die vertaling van een taal na 'n ander "verlore" gaan.

In die beste verse is daar 'n mooi spel met klanke soos "sy merkwaardige meganika van melancholie" (3), 'n sleutel vir die oopmaak van hierdie gedigte.

Die digter is deurgaans bewus van beperkings én inperkings rondom die skryf van 'n vers - hy werk met foto's, piktogramme, taferele, o.a. opgevang in herinneringe tussen twee landskappe; hier en in die buiteland. In die eerste afdeling (Rekenskap) is daar intieme herinneringsverse - o.a. oor die vader en die vader wat vertel van die gestorwe moeder. Die gedigte aktiveer 'n "onfotogeniese wrede wêreld". 'n Foto uit September '39 vertel van 'n ander oorlog wat die Pole moes verduur het:

maar bo die rivieroppervlak is 
daar slegs haar borsbeeld 
sigbaar en in haar oë 
skuil die oogopslag van ginczanka asof
my tante daar al geweet het 
hulle haal die roemeense grens 
nie voor die sowjets nie  ("swem in glas", 5)

Deur die digkuns word vele herinneringe geaktiveer:

ek reis na die ver-verlede-
vasteland, ek soek 
die lank vergete aardkluit op
karteer die landskap en vind 
’n tafereel in die verbeelding 
van die koorsige kind  ... ("huisie", 6).

En dis hierdie tafereel van verbeelding wat die eerste afdeling in hoofsaak bepaal.

In die tweede afdeling vind ons 'n eiesinnige literatuurgeskiedenis. Veral die korter reeks vir S.J. du Toit werk oortuigend, 32:

die bybellande deurreis

vir S.J. du Toit 

1
bo die land en sy harde klippe die wind 
wat alles skroei 
is sy asem 

2
bo mens, blom en skerpioen die son 
wat oor alles waak 
is sy oog 

3
aan hierdie land van rots en sand 
aan hierdie God met sy wraak
toorn en liefde behoort jy 
totus tuus

4
deur die rits in die hemel 
deur die huil van die reën 
het die woestynland hierdie jaar 
al sy beloftes groen gemaak 
daar kan nuwe boeke geskryf word 

Hierteenoor is die distigon vir Eybers te skommelrig met rymdwang op die koop toe ("die laaste nag", 41). Om in elk geval Eybers te probeer naboots moet jy haar strak prosodie onder die knie kry. Maar daar word weer ruimskoots opgemaak met die interessante vers oor en vir Van Wyk Louw wat heet "die vis in die hemel" (40). Hierin vind ons 'n spel met die gesigseinder en mikpunt, dus die pleks versus plaas.

Die slot aktiveer Louw se beroemde interpretasie van Leipoldt se gedig in een van sy opstelle:

Sekretarisvoël

Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou penne agter die ore styf,
Met jou stadige stappies,wat maak jy hier?

Sekretarisvoël met jou lange bene,
Met jou vaalgrys vere en lang, lang lyf,
Met jou groot, groot oë, wat maak jy hier?

In die digter se literatuurgeskiedenis word bekende literatore (soos J.C. Kannemeyer) en digters (soos Breytenbach)  beskryf en die een oor Peter Blum waar 'n literatuurmuseum in Sarajewo beskryf word (48). Blum, een van ons grotes, het immers ook van buite na die sentrum van die Afrikaans digkuns beweeg; en dit toe verlaat. Hier ontdek Koch dié digter wat bewaar word in 'n buitelandse museum met sy geil lote onder 'n golwende prieel.

Dis eweneens tersaaklik dat hier 'n vers oor Olga Kirsch opgeneem is: iemand wat in Afrikaans, Engels en Hebreeus gedig het en uitsonderlik aangrypende verse in Afrikaans gepubliseer het:

aan die jordaan se oewer

vir Olga Kirsch

by yardenit aan die jordaan se oewer 
begin jou gedagtes ver te dwaal 
en skielik verskyn kuruman 
dieselfde water se kleur 
enerse oewer se groen
en die oog wat altyd traan 

(47)

Die gedig oor Waenhuiskrans (9) is 'n sentrale gedig in sy ikonisiteit en die nadink oor taal en assosiasies:

geswelde plooie in spelonke 
waar galmende eggo’s uitmond 
van konsonante waar 
klikklanke mondskelm lug 
suig en grootpraat 
is dit my tong? 
en is dit my mondskerm hierdie? 

Dit is 'n bundel van antipodes én opposisies. Die digkuns as eiesoortige literatuurgeskiedenis en bewaring in 'n tyd van onsekerheid.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Saturday, February 9, 2013

Jerzy Koch - Outsider onder de Zijnen (2007)



Jerzy Koch. Outsider onder de Zijnen: Vormen van Zenofanie in de Afrikaanse roman. Wydawnictwo Uniwersytetu Wroclawskieg, 2007. ISBN 83 229 2250 7.

Resensent: Joan Hambidge


Jerzy Koch is ‘n bekende Poolse literatuurwetenskaplike wat hom al geruime tyd onderskei het as ‘n besonderse kenner van die Afrikaanse letterkunde. Verbonde aan die Universiteit van Wroclaw en Poznan het hy ook al geweldig baie gedoen vir die verbintenis tussen Afrikaans en Pole en ‘n digter soos Fanie Olivier het dan ook in sy departement waardevolle werk gedoen. Koch is ook bekend as vertaler wat bekroon is met die gesogte Nijhoffprys (1995) en is tans navorsingsgenoot aan die UOVS.

Sy studie Outsider onder de Zijnen karteer die belangrike aspek van ‘n verbintenis met die buiteland en die blik van buite. Die venster op Europa het deur die jare oopgegaan, toegegaan en is tans weer oop vir Afrikaanse skrywers – maar let wel, net vir sekere geroepenes.

In ons probematiek, meen Koch is die spanning tussen ons/hulle, hier/daar, binne/buite sterk aanwesig. En so is dit dan ook in een van die oeroue spanninge in die romankuns, naamlik die opposisie tussen stad en platteland.

Dit is nie binne die orde van ‘n resensie moontlik om op al die kwessies te wys wat hier aangeraak word nie. Dus net ‘n paar tersydes by dit wat my interesseer. Ek dink een van die hoogtepunte is die beskouings rondom Sy kom met die sekelmaan wat hy tereg lees as ‘n boek wat gekanoniseerd gebly het ten spyte van die feit dat dit nie aan die latere ideologiese eise voldoen het nie. En, meen Koch in navolging van Mieke Bal, dat daar geen feministiese metode van kritiek bestaan nie; alleen die vraagstelling kan hoogstens feministies wees.

Hy beklemtoon die aspek van outo-terapie in hierdie roman en die fyn konstruksie van die ‘n metarefleksiewe teks wat die leser in een sentrale brief kan vind.

Benewens vir hierdie skitterende analise van ‘n roman wat die toets van die tyd deurstaan het, imponeer die skrywer se kennis van die geskiedenis van die literatuurkritiek: Dekker, Schoonees, Malherbe, Antonissen, Kannemeyer, en andere word histories korrek geplaas. In hierdie opsig is H.P. van Coller se siening dat die skrywer nie werklik ‘n “outsider” is nie, maar die circuits, periferale diskoerse  en buite-literêre kwessies ken. Wel moet daar verskil word van sy siening dat Koch hoflik en nie polemies verskil nie. ‘n Polemiek hoef nie ón-hoflik te wees nie.

Elke resensie/bespreking verraai immers ‘n bepaalde literatuursiening, -smaak wat eweneens binne ‘n bepaalde tydsgees geplaas kan word.

‘n Mens kan toe-oog ‘n resensie uit die tagtigerjare o.a. aanhoor en die politieke onrus van hierdie tydperk optel.

Ander tekste wat o.a. onder die loep geneem word, is Na die geliefde land van Karel Schoeman, Die son struikel van Dolf van Niekerk en Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins
.
Laasgenoemde teks is uiteraard ‘n goeie toetsgeval vir enige kritikus weens al die “woordstorms” rondom die boek.

Hy gebruik o.a. vertelinstansie teenoor kykinstansie (fokalisator) om die komplekse ideologie van die teks vir die leser oop te maak. En waarom ‘n boek “moreel” moet wees, verraai eweneens ‘n sekere historiese bewussyn binne die letterkunde tydens die publikasie en die resepsie van kundige literatore èn Jan en Alleman. Leroux se komplekse skryfstyl en die optrede van die meturgeman sou ‘n interessante vergelyking met die resepsie rondom Nabokof se Lolita kon uitlok.

Wanneer hy oor Na die geliefde land skryf – veral met die relevante opmerkings van J.M. Coetzee en Ampie Coetzee – wys hy tereg daarop dat die belangrikste romansiers in Afrikaans hul hand gewaag het aan die sogenaamde plaasroman! Etienne van Heerden het ontken dat Toorberg dit is – ja, sou ‘n mens kon opmerk: die roman is ‘n plaasroman, maar veel meer. Dit is ook ‘n boek oor marginalisering. Oor “othering”. ‘n Mens is deurgaans bewus van Koch se enorme belesenheid en vergete essays en artikels word uitgehaal en afgestof om ‘’n belangrike punt te illustreer.

Elize Botha se prosakronieke is uiters belangrike prosa-essays, en ja, laat dit nou maar eenmaal hard en duidelik geskryf word: daar is min stiliste soos Botha wat jou op ‘n reis deur ‘n belangrike boek neem en al verskil jy van haar oordeel, bly jy bewus van haar kundigheid en ingeligtheid.

Na die geliefde land, in navolging van McHale, is historiese fantasie, apokriewe geskiedenis of pseudo-profesie en P.A. du Toit het dit uitgewys vir ons.

Om te woeker met die bekende retoriese strategie van Jerzy Koch: die Afrikaanse letterkunde is te belangrik dat dit net in die hande van Afrikaanse literatore en lesers gelaat kan word.

Kundigheid en enorme navorsing is die oorwegende indruk wat hierdie boek maak. Dit hoort op die rak van elke Afrikaanse dosent en literator. Papier is geduldig en uitsprake gemaak deur literatore van toentertyd en nou word opgediep. Selfs besprekings waarvan ‘n mens al vergeet het soos Marlene van Niekerk se satiriese reaksie op ‘n intreerede.

Bierdajiew se siening van die ‘sobornost’ word raak beskryf met verwysing na Carry van Bruggen en Colin Wilson, natuurlik.

Van Bruggen se programma kan die leser van nut wees.

Ek ken min moderne literatuurtekste waarin kanonisering, gender en grenre so behendig saamgesnoer en geteoretiseer word. Die toespassings is fyn.Dit is ‘n belangrike verwysingsboek wat neffens Perspektief & Profiel op jou rak moet staan.

Die studie is boonop in ‘n toeganklike taal geskryf.

Bestel van marketing@wuwr.com.pl

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]