Showing posts with label Reisrubriek. Show all posts
Showing posts with label Reisrubriek. Show all posts

Monday, July 13, 2020

Reisrubriek | Die nuwe normaal | 2020


Maandag, 6 Julie 2020 – Maandag, 13 Julie 2020

Twee speurreekse wat uitsonderlik is: Trial & Retribution en Spiral. Albei te siene op BBC. Albei puik verhale, skitterende akteurs. Boonop maak beide van jou, die kyker, 'n speurder. Eersgenoemde werk met die sogenaamde split scene (die skrywer Linda La Plante se tegniek) sodat jy kan sien wat op verskillende plekke gebeur. (Hierdie reeks aangekoop toe 'n DVD-winkel in Kaapstad moes sluit.)

David Hayman as knorrige Mike Walker met sy twee vroulike assistente: DI Pat North, Kate Buffery en in die opvolgreeks: DCI Róisín Connor (Victoria Smurfit).

In hierdie reeks word verskillende moorde ondersoek en opgelos. En die onderliggende verhaallyn is natuurlik (in die eerste reeks met sy vier episodes van 3 uur lank) dat Mike Walker betrokke raak by Pat North, uitmuntend vertolk deur die voormalige Shakespeare aktrise, Kate Buffery.

Wanneer die professionele sake begin oorspoel in hul verhouding raak alles ingewikkeld. Boonop word sy in die vierde episode bó hom bevorder wat tot 'n bitsige reaksie lei. Is dit equity vra hy? Hy is jaloers op haar en die dood is in die pot; veral wanneer sy betrokke raak by die herbesoek van 'n saak waar hy die hoofondersoeker was.

Hy noem haar sarkasties "the Boss" en "Miss Marple". Die kyker weet hoe hierdie verhouding gaan eindig.

Boonop gaan dit om 'n gay-man wat lewenslank tronk toe gestuur is vir moord op sy minnaar. Walker se oordeel was reg dat die man skuldig was, maar helaas word hy as homofobies uitgewys met die gebruik van terme soos "sausage jockey". Die spanninge in die verhouding met Pat word vererger deur haar swangerskap en sy moeder se siening van hul verhouding as buite-egtelik. Sterk gender-analises in hierdie piekfyn-reeks. Met wyle Corin Redgrave, Vanessa Redgrave se sibbe, 'n voormalige Shakespeare akteur wat die rol van die regsgeleerde puik vertolk.

Nog meer morsig is Spiral. Engrenages. Die titel aktiveer letterlik spiraal, maar ook engrenage de violence of gearing. Letterlik intensivering.

'n Magistraat se vrou wil skei; hy slaap by die polisievrou; sy beste vriend (in wie se woonstel hy bly, is 'n pimp); sy skoonpa is betrokke by die vriend en een van die polisiemanne snuif coke. Boonop is daar 'n giftige vroulike prokureur wat vuilspeel en inligting kry by 'n prokureur wat van die rol geskrap is. In die eerste reeks begin dit met 'n meisie wat 'n dubbelbestaan voer: sy is 'n nagraadse student maar ook 'n gesellin. Sy word vermoor en haar lyk word so erg geskend dat sy onherkenbaar is.

En nes jy dink jy het elke kinkel in die kabel gesien, kom daar nog een by. Hierdie Franse reeks is op BBC gewys en het my 'n hele dag weggevoer na 'n wêreld van bedrog. 'n Produk van Alexandra Clert en Guy-Patrick Sainderichin.

Speurverhale aktiveer altyd die donker kant van die menslike psige.

En groot speurverhaalskrywers se lewens het dikwels donker kante. Ons dink hier aan Georges Simenon, die Belgiese skrywer van die puik Maigret-reeks, wat beskuldig was van 'n sielkundig-bloedskendige verhouding met sy dogter, Marie-Jo wat op 25 selfmoord gepleeg het. Glo met 'n rewolwer en met aanwysings in een van sy romans. John Goldschmidt se The Mirror of Maigret (1972) gee 'n grimmige beeld van die skrywer as rokjagter, obsessioneel – maar met oor die 500 romans 'n gedugte speurverhaalskrywer met Rowan Atkinson wat 'n TV-reeks Maigret vertolk.

Volgens Simenon kon hy niks opmaak nie; hierom moes hy dikwels bontstaan met lastereise van mense wie se name hy gebruik het in sy stories. Eerstejaar Frans in my vorige lewe moes ons Le clochard lees en daardie roman sal my altyd bybly. Die man wat sy familie verlaat en 'n boemelaar word; tydelik hulle weer opsoek vir 'n begrafnis en dan weer terugkeer na sy lewe onder 'n brug.

En Sondagaand word ons meegedeel deur die prez dat alle drankverkope subiet gestaak word. Gevaarlik vir die virus wat nou die hoogte inskiet. Gelukkig het my derdeoog my gewaarsku en hier is genoeg whizza vir die volgende maand. (En alweer 'n aandklokreël: na nege moet jy tuis wees ...)

En uiteet sonder wyn is die nuwe normaal. Soos leë restaurante. Hoe hierdie nuwe drakoniese wet die reeds steierende bedryf gaan verander, weet nugter alleen. Restaurante kan nie oorleef sónder drankverkope nie. Mense bly dan eerder tuis as om uit te eet sonder ''n ottermaklottertjie. En ander het nie meer geld in hierdie donker dae nie.

Cependant

Al my steierwerk steier / stelte
val af / alles waaraan ek
vasgeklou het / is water / geBarnard
Gilliland / die nuwe normaal /
is abnormaal / maskers / verweerskrifte /
gaan my nie verby o heiland /
die hoogland was my woning /
nou Wayne Koestenbaum se hotelkamers
flikker / verliese / 'n klein stap van hier
tot in die gestig / ek check nou elke dag
in / nie meer uit nie / my temperatuur 36.1 /
vlakke skuif / in hierdie tyd van swart swane /
terug tot in die doofpot / o hoor my aan o hoor my aan


© Joan Hambidge

Sunday, July 5, 2020

Reisrubriek | Die vierde muur | 2020


Sondag, 28 Junie 2020 tot Sondag, 5 Julie 2020


Die heilige dag begin met met ‘n selfoon wat ek via wifi moet opdateer. Dit neem meer as ‘n uur om al die nuwe bykomstighede in te werk. My buurman help met eindelose geduld en ek kyk saam met hom en sy vrou kerk via die internet. Die verhaal van die Emmausgangers en die onsigbare gas tref my. Die predikant van die NG-kerk in Tamboerskloof beklemtoon die ontsettende nood wat ons daagliks beleef.

Later die middag toe ons buite sit en braai is daar ‘n man wat oor die heining roep. My buurman neem vir hom kos en tee. 

Ons beleef ‘n middag van kontak – verby al die virtuele gesprekke wat ons tans het. Ek mis mense van vlees en bloed. Die aand kyk ek na Damnation (Kárhozat) van Béla Tarr, die Hongaarse filmmaker se film uit 1988. Hy het dit gemaak saam met László Krasznahorkai. ‘n Week terug het ek nie die krag gehad vir hierdie film oor liefdesobsessie nie. Karrer (Miklós B. Székely) is ‘n depressiewe man wat verlief is op ‘n getroude sangeres (Vali Kerekes) wat by die kroeg, die Titanic, sing. Die vrou verlaat die man wat sy wil graag ‘n naam maak vir haarself. 

Die film betrek smokkelhandel en Karrer gee van sy werk aan haar man Sebestyén (György Cserhalmi). Die man is vir ‘n ruk uit die pad uit, maar dan is daar verraad. Te donker, te morbied. Karrer gee hom aan by die polisie en in pynlike slot stoei Karrer met ‘n swart hond. Tipies van Béla Tarr is daar danstonele wat in werklike tyd afspeel. Drank en dans. ‘n Akkordeon. Donker, depressief en deprimerend. En ‘n film wat jou altyd sal bybly. Boonop geskiet in wit-en-swart. Met desperate liefdestonele.

Gaan ons terug na Vlak 5, wonder almal?

Ek gaan eet pizza by my gunsteling-pizzaplek Col’Cacchio Maandagaand. My temperatuur word gemeet, my hande ontsmet en al my besonderhede moet ek invul op ‘n vorm. Die kos is lekker. Die restaurant het twee tafels. Daar is net dooie energie. En alkoholvrye bier.

Vroegaand ry ek huis toe. Die nuwe normaal is nie normaal nie.

Nicholas Roeg se Bad Timing is ‘n uitsonderlike film wat afspeel in Wene, Freud se stad. Die psigoanalisdosent, Alex Linden (Art Garfunkel) word verdink daarvan dat hy sy vriendin Melena Flaherty (Theresa Russell) tydens ‘n koma seksueel misbruik het. Die kyker weet dit is so en die speurder, Inspekteur Netusil (Harvey Keitel) vermoed dit. Hy dwing ‘n belydenis af van Alex wat dit ontken. 

Alles werk met tyd en die kyker sien in terugflitse hoe sy in ‘n ambulans gelaai word. Die wakker speurder weet dat hy tyd verspil het, want hy weet dat Alex se karradio ná twaalf op ‘n program ingeskakel was. Melena vertel ook nie die waarheid oor haar eks-man nie. Stefan Vognic (Denholm Elliott) is uiteindelik ook in die slottoneel om ons mee te deel sy het die operasie oorleef. Wou sy werklik selfmoord pleeg met ‘n oordosis pille? Of wou sy Alex uitlok?

Liefdesobsessie word ontleed en die twee geliefdes ontmoet selfs in die Freud-museum waar Alex navorsing doen. Ons sien hulle op die bekende sofa en Freud se siening van die kind as voyeur word tydens ‘n lesing verduidelik aan studente.

Netusil is die voyeur wat op sy beurt inkyk op die lewe van die twee gedoemde geliefdes. Háár blik is vernietigend en afwysend wanneer hulle mekaar jare later weer raakloop in New York.

Die film is gelaai met kodes. Daar lê ‘n eksemplaar van Harold Pinter in ‘n motor en ‘n kopie van The sheltering sky. Die mens is altyd in isolasie, meen Alex, en ons elkeen beleef geboorte en dood op ‘n unieke wyse. In ‘n kafee hang daar ‘n foto van Garfunkel. As sanger? Of as dosent?

Die skilderye van Klimt raam die vertelling met Alex wat opmerk dat die geliefdes in die skildery gelukkis is omdat hulle mekaar nog nie ken nie. Dan sing Tom Waits An invitation to the blues.

Daar is ‘n reis na Tunisië en Bernardo Bertolucci se film The sheltering sky glimmer in my geheue. Hier vertel Alex vir haar van ‘n baken in sy jeug: ‘n huis oorkant Central park, besit deur ‘n ryk, eksentrieke man. Rondom word nuwe geboue opgerig en eendag vertrek hy vir ‘n dae Boston toe en wanneer hy terugkeer, is die gebou weg.

Daar is talle grense in die roman. Die eksman woon in Bratislavië. Die grense tussen wat aanvaarbaar en wat toelaatbaar is in ‘n verhouding word ondersoek.

Is dit toevallig dat Egon Schiele se skilderye ook hier te siene is?


Egon Schiele: Selfportret met Physalis

Kloustrofobies toegedruk
bedompig die mense om jou

laat jou op ‘n trein vlug
op sestien met jou suster

weg van jou vader bedruk
sketsboeke met treine vernietig

hy, daardie man wat skeef
uitkom in elke selfaansig

Tree of Life (Terrence Malick) is ‘n rolprent wat werk met assosiasies. Hierom is die dialoog tussen karakters dikwels onhoorbaar wanneer die ouer broer, Sean Penn terugkyk op sy lewe na sy broer se dood. Die vader, vertolk deur Brad Pitt, is ‘n streng patriarg wat dikwels bots met die middelste kind wat gesterf het.

Met beelde van bome en water word die boom van die lewe en groei geaktiveer.

Die film begin met hierdie motto:
“Where were you when I laid the foundations of the Earth?... When the morning stars sang together, and all the sons of God shouted for joy?” (Job 38: 4, 7) 
’n Mens word gedwing om die film assosiatief te ervaar, eerder as om ‘n storielyn te volg. Die musiek waarna die vader luister, die kind wat kitaar speel; die ouer broer, die argitek, wat terugkyk en onthou: ‘n kind wat verdrink het, ‘n ander een het verbrand.

As die vader (Brad Pitt) dalk ‘n musiekloopbaan gekies het, sou alles anders verloop het?

Malick se films werk nie met stories of plot nie; dit werk eerder met assosiasies en vrae wat hy by jou laat oor die lewe en dood. Die broer (wat dood is) kom by die familie uit. Is dit ‘n droom? Hierdie regisseur laat drome, herinneringe en verskillende dimensies saamvloei in ‘n aangrypende rolprent.

Donderdag, na 100 dae van inperking, sien ek my kollega Ron vir middagete in Rondebosch. ‘n Heerlike viering!

A Late Quartet (2012) van Yaron Silberman ontdek ek in my filmoteek. Wyle Philip Seymour Hoffman met Catherine Keener en die nooit volprese Christopher Walken is ‘n kwartet met Mark Ivanir.

Rondom hul vertolking van musiek (Beethoven se Opus 131) bars die bom toe hulle ontdek hul vriend, Peter Mitchell (Walken) het Parkinson se siekte. Dan breek die spanning tussen die eggenote (Hoffman en Keener) en boonop het die dogter, Alexandra, ‘n affaire met die medespeler, Daniel (Mark Ivanir). ‘n Resep vir ‘n ramp.

Ogden Nash (“Old Men”) en T.S. Eliot (Four Quartets) is hier in ‘n koue Manhattan. Met Anne-Sofie von Otter as oorlede vrou van Peter. Ons sien (en hoor) haar vlugtig waar sy Marietta se lied sing uit die Die tote Stadt van Korngold.

‘n Viermanskap wat breek weens siekte. Die moeder klap die dogter wat ‘n affaire het met haar voormalige liefdesobsessies; die vader bliksem die man wat sy dogter bykom; die tjellis jaag almal uit sy huis uit, moerig oor hul grensoorskrydende gedrag.

Agter die gedrewe musici se interpretasies skuil daar onvervulde verhoudings en woede. ‘n Man wat sy vrou beskuldig van afstandelikheid; ‘n kind wat voel sy moes altyd tweede viool speel in hul loopbaan.

Musiek dra die storie vorentoe. Vir alle kreatiewe mense is hierdie film ook ‘n handleiding van hoe jy met kreatiwiteit omgaan en die opoferinge wat dit opeis.

Saterdagmiddag is ek in die Hussar Grill in Mouillepunt. Heerlike kos, gawe bediening. Die see is in vloed. Buite wemel dit van mense met honde op die promenade.

Laatnag kyk ek weer na The Talented Mr. Ripley (1999) oor ‘n man wat per ongeluk ‘n ander een se identiteit oorneem wat afspeel in die vyftigerjare. Alles gaan in hierdie film oor die Princeton-baadjie wat Dickie se pa, meneer Greenleaf interpreteer asof Tom Ripley (Matt Damon) ‘n Princeton-man is. Die pa stuur hom na Italië (Mongibello) om sy seun terug te bring. Ripley se talent is om ander mense te kan naboots, handtekeninge te vervals en leuens te kan vertel. Later is dit sy verslete baadjie wat deur weldoener se seun vervang moet word. Hy mag sy klere dra – totdat Dickie (Jude Law), te laat besef wat die gevolge is van hierdie vriendskap met sterk homoseksuele ondertone. 

Dickie maak ‘n jong Italiaanse meisie swanger wat selfmoord pleeg. Freddie Miles (Philip Seymour Hoffman) besef van meet af aan dat Ripley ‘n leuenaar is, maar hy – soos Dickie – word vermoor. Marge (Gwyneth Paltrow) weet dat Ripley haar verloofde vermoor het, ofskoon die speurder dink hy is onskuldig weens Dickie se verlede. 

Meredith (Cate Blanchett) is die ander vrou, die dubbel wat Ripley misbruik om sy leuens te verdoesel. Marge se vriend, Peter word uiteindelik Ripley se nuwe geliefde, maar wanneer Meredith hom ten slotte op die skip op reis na Griekeland as Dickie herken, vermoor hy die nuwe geliefde uit vrees dat sy werklike identiteit sal uitkom. ‘n Lacaniaanse meesterstuk oor nabootsing, méconnaissance van die self, identiteite wat vervals word, ‘n selfmoordnota (geskryf deur Ripley) – puik geregisseer deur Anthony Minghella.


© Joan Hambidge

Sunday, June 28, 2020

Reisrubriek | Verbode stad | 2020


Sondag, 21 Junie 2020 tot Saterdag 27 Junie 2020

Damnation (Kárhozat) is Béla Tarr, die Hongaarse filmmaker se film uit 1988. Hy het dit gemaak saam met László Krasznahorkai.

Nie 'n wyse stap om hierdie troebel film op 'n donker Sondag met Solstitium te kyk nie. Karrer (Miklós B. Székely) is 'n depressiewe man wat verlief is op 'n getroude sangeres (Vali Kerekes) wat by die kroeg, die Titanic, sing. Die vrou verlaat die man want sy wil graag 'n naam maak vir haarself. Die film betrek smokkelhandel en Karrer gee van sy werk aan haar man Sebestyén (György Cserhalmi). Die man is vir 'n ruk uit die pad uit, maar dan is daar verraad. Te donker, te morbied.

Op my rak staan The last emperor van Bernardo Bertolucci het in 1987 verskyn as: L'ultimo imperatore. Dit vertel die verhaal van Puji, die laaste Chinese keiser vanaf sy troonbesetting tot politieke gevangene. Ons sien dus die ontwikkeling van China vanaf die ou geskiedenis tot die Kommunisme met Mao. Wat 'n aangrypende epiese rolprent met John Lone as Puji en Peter O'Toole as die skrywer van hierdie merkwaardige man se geskiedenis. Ons sien sy verhouding as jong kind met sy nanny en hoe hy aan haar bors drink ter troos. Gedeeltes van die film is in die Forbidden City geskiet – uiteraard met toestemming – en met ongelooflike aandag vir besonderheid word die geskiedenis weergegee. In 1924 word die jong keiser verban na Tientsin en gebeur die sogenaamde Beijing Coup. Hy word 'n dekadente playboy en kies die Japannese se kant in die oorlog. Tot sy nadeel.

Wenxiu skei van hom en die ander geliefde Wanrong word 'n opium-verslaafde. Bertolucci wys gewelddadige films oor wat in Japan gebeur het. In 1943 word hy heerser in Japan; maar ook dit loop sleg uit vir hom. Hy word 'n politieke gevangene weens hierdie verbintenis met die Japannese en word in 1959 vrygelaat: 'n verpletterde man en 'n tuinier tydens die kulturele rewolusie.

Daar is pynlike oomblikke soos wanneer hy sy kampkommandeur probeer red van vernedering tydens 'n anti-rewolusionêre parade. En wanneer hy as 'n toeris later die Forbidden City besoek, vertel hy vir 'n jong kind wie hy werklik is. Hy gee vir die jong kind – as bewys – 'n kriek wat hy persent gekry het by Sjen Boagen toe hy gekroon is as keiser.

Hy verdwyn egter voordat die kind met hom kan praat. Die kyker begryp meteens al die ironieë van so 'n slot: mense, selfs keisers, verdwyn gewoon net tydens 'n nuwe orde.

In 'n ander sleutel is Stealing Beauty (1996) met Liv Tyler as Lucy Harmon wat handel oor 'n jong meisie se ontmaagding tydens 'n vakansie in 'n Toskaanse villa. Hier word sy ook gekonfronteer met haar werklike, biologiese vader. In die hande van 'n mindere filmmaker sou die film gewoon potsierlik geraak het, maar Bertolucci ondersoek seks,verhoudings, siekte en jeug op 'n uitstekende manier. 'n Danstoneel op Nina Simone se beroemde My baby just cares for me verskaf 'n kode. Uitbundige dansers op 'n vakansieplek waar mense dikwels buite die strukture van 'n normale bestaan “oortredings” begaan. Alex Parrish, vertolk deur Jeremy Irons, is 'n skrywer sterwend aan 'n onbekende siekte. Die kyker vermoed wel dis VIGS. In die film word daar opgemerk dat jong mense VIGS vrees en daarom seksueel minder uitbundig is.

Lucy ontdek in die skryfwerk van haar moeder, 'n digter en model, die ware identiteit van haar vader.

Die ensemble-spel is opvallend. Mense wat op mekaar aangewys is in 'n vakansiehuis waar hulle eenvoudig net te veel van mekaar se privaatlewens weet.

En om op Blow up (1966) van Antonioni na al die jare weer te kyk, is eweneens 'n ryke filmervaring. Die bruisende sestigerjare met wilde partytjies. Verruklik mooi is Vanessa Redgrave en Sarah Miles in die verhaal van die modefotograaf (David Hemmings) wat in 'n foto-sessie per toeval 'n moord afneem. Daar is vreemde vinjette: die fotograaf koop 'n propeller van 'n vliegtuig in 'n antiekwinkel en ten slotte is daar tennis wat gespeel word deur akteurs wat alles in stadige bewegings soos in 'n Marcel Marceau-produksie naboots. Die verhaal is gebaseer op Julio Cortázar se Las Babas del Diablo.

Veruschka en Jane Birkin is ook hier.

Bergman wat gewoonlik negatief was oor sy films het hierdie een 'n meesterstuk genoem.  Ek gaan akkoord. Dit is 'n film waar elke oomblik betekenis dra. Was daar 'n moord? Of is dit verbeel? Kyk na die geruis van die blare aan die begin van die film.

My video-eienaar skryf Unforgotten voor. Ek kyk die twee eerste reekse in ademlose bewondering. Chris Lang en Andy Wilson se misdaadreeks met twee Londense speurders DCI Cassie Stuart en DI Sunny Khan is regte binge-TV. Nicola Walker en Sanjeev Bhaskar los moorde op waar persone verdwyn het en mense lieg om hulle basse te red. Elke persoon is op 'n manier aan die verdwene persoon verbind. En Cassie en Sunny is ménslike speurders - soos ons beleef in die tweede reeks waar die impak van kindermolestering ondersoek word. En die moordenaars (is hulle werklik moordenaars of gewoon net verweerders?) toegelaat word om met hul lewens voort te gaan. 'n Hele Saterdag, 'n yskoue wintersdag, na hierdie reeks gekyk. Diep onder die indruk van die spel, die storielyn en die hantering van omstrede kwessies soos rassespanninge en genderkwessies.

Verder is daar stapels boeke wat gelees moet word. Die opstand van Poppie Nel deur Hans du Plessis, nuwe digbundels van Jerzy Koch, Lynthia Julius en die aangrypende tweede bundel van Eunice Basson. 

Verder verpak ons nou resensies vir FineMusicRadio per Whatsapp. Die ateljee laat nie buitemense toe weens die virus nie.

Gister lees ek Zirk van den Berg se Ek wens, ek wens wat by Kwela verskyn het en sopas die WA Hofmeyr gewen het. 'n Klein boek met 'n impak soos 'n donderhou. Dit herinner aan Saul Bellow se Seize the day, meen my buurman.

Van den Berg se vertelling handel oor Seb se lewe: 'n lykbesorger wat lyke balsem en organe moet terugpak in afgestorwenes se lyke. Die boek se motoriese moment is wanneer die sterwende seuntjie, Gawie, saam met sy ma 'n kis kom uitsoek. Hierna ontdek Seb sy huwelik is verby én sy werkplek gaan sluit. Dramatiese gebeure soos in die film Butley waar die hoofkarakter se lewe in een dag inmekaartuimel.

Rondom die kinderstorie oor die drie wense: die wens op die bord en die wors op die neus, word die menslike ennui beskryf. En die derde wens wat alles neutraliseer.

Die verhaal heet in die Frans Les Souhaits ridicules – oftewel drie belaglike wense – van Charles Perrault in 1697. Jupiter gee die arme houtkapper drie wense. By die huis wens hy vir wors op die tafel – sy nydige vrou is woedend oor dié wens en hierom wens hy dat 'n wors op haar neus sal land.Uiteindelik word die derde wens gebruik om die wors van haar gesig te verwyder.

(Die boek word op die buiteblad deur Marita van der Vyver aangeprys ...)

Hier is die wete dat die lewe 'n toevallige hel is. Jou fata is bepaald nie uitgedink of beheer nie. En die Rubik-blokkie word as matriks gebruik om die vertelling, 'n Sprokie vir ons eie tyd, te orden.

Daar is helaas in die lewe geen maklike oplossings.

Butley – met Alan Bates – is in 1974 vervaardig met Harold Pinter as regisseur. Hieroor het Pinter geskryf:
Simon Gray asked me to direct Butley in 1970. I found its savage, lacerating wit hard to beat and accepted the invitation. . . . The extraordinary thing about Butley, it still seems to me, is that the play gives us a character who hurls himself towards the destruction while living, in the fever of his intellectual hell, with a vitality and brilliance known to few of us. He courts death by remaining ruthlessly – even dementedly – alive. It's a remarkable creation and Alan Bates as Butley gave the performance of a lifetime.
Dit is 'n film wat my altyd sal bybly: die alkoholiese akademikus wat sy vrou en manlike minnaar op een dag verloor. Bykans alles speel af in sy kantoor en sy verhoudings met ander mense is - om dit sagkens te stel - onaangenaam. 'n Siniese, sarkastiese man met 'n enorme kennis van Eliot en Beatrix Potter.

© Joan Hambidge

Sunday, June 21, 2020

Reisrubriek | Prysloos | 2020


Woensdag, 17 Junie 2020

Dr Dlamini-Zuma het in ongeveer 500 bladsye (voorgelê in die hof) om te probeer verduidelik waarom sigarette verbied moes word. Dis glo die regering se plig om ons te beskerm. En omdat dit 'n nuwe siekte is, weet sy ook nie altyd wat waar of wat wolhaar is rondom Covid-19 nie.

En veral weerloses moet beskerm word. Mag so wees, maar sigarette, die weet alle rokers, het 'n kalmerende effek op mense.

Nogmaals: dit bly my demokratiese reg om te rook.

*

Vers & Vrou (red. Karen de Wet) verskyn binekort by Human & Rousseau. Ons word gevra om gedigte op WhatsApp op te neem vir 'n plasing op die internet. Die bekendstelling kan nie gebeur nie, maar die gedigte sal wel vir lesers / luisteraars beskikbaar wees. Dit is altyd goed om 'n digter sélf gedigte te hoor voorlees.

'n Stil avontuur om die verse op te neem. Die korter gedigte werk beter op WhatsApp as die langer verse.


Donderdag, 18 Junie 2020

N.P. van Wyk Louw is gebore in die koue Sidderland op 1 Junie 1906, en oorlede op 18 Junie 1970. Talle herdenkings asook  die Louw-gedenklesing deur Jeremy Veary aan UJ is aanlyn beskikbaar op Litnet.

Op Versindaba verskyn daar etlike gedigte vir die digter. Verskillende perspektiewe kom na vore – met 'n uitstekende gedig van Jan Swanepoel.

In Tydskrif vir Geesteswetenskappe van 2 Junie 2020 word gedigte van my opgeneem.

Ignatius bid vir sy orde
– ’n palinode

Dat pyn bestaan, wás nodig, Wyk,
om my te puur van spotspraak:
om so mý deurdink en inpraat
die vloei van invloed te ontwyk.
Wit wolwe van ’n rooflied,
laat ons in die looggat inkyk:
dat pyn bestaan, was nodig, Wyk,
om woorde op te vang in mý lied.
Om my te puur van grootpraat,
of in jou woorde gewoon net na te praat.
Dat pyn bestaan, was nodig, Wyk,
vir dieper priem én fyner kyk.
Dat pyn bestaan, dat pyn bestaan ..

Palinodes, pastiches, parodieë verskyn daar in hierdie dae oor hierdie gerekende digter wat soveel erkenning bly afdwing.

Die verskillende reaksies bewys sy belangrikheid soos die akademiese artikels sy relevansie bevestig.


Vrydag, 19 Junie 20202

Ongeveer 80 dae in grendeltyd in klim ek in my motor en ry Stellenbosch toe om koffie te drink met 'n kollega.

Iemand wat ek bykans elke drie weke gesien het, sit nou voor my. Ons gesels oor die afgelope tyd en ons ellendes. Van ingeperk wees. Ons gesels ook oor professor Nattrass en die openbare debat rondom haar gewraakte kommentaar. Hoe nou verder?

Hoe gaan nuanses nie tans verlore nie. Leon Schuster se films word nou diep geberg, omdat dit aanstoot mag gee. Showmax se intromingsdiens dink dis dalk ras-onsensitief. You must be joking! (1986) is een van die gemerktes.

Wat?

Ek onthou meer as tien jaar gelede 'n busrit tussen Kimberley en Pretoria met 'n Schuster-film op die Greyhound en jong swart weermagoffisiere wat brul van die lag.

Humor is immers oordrewe en dit werk met stereotipes wat ons almal herken.

Lag is die groot gelykmaker. 

Lag verlos ons van spanning.

En hierdie denkepolisie onderskat mense se sintuig vir ironie en humor.

Die rit na Stellenbosch Vrydagmiddag is 'n verlossing. Skielik kyk jy anders na die natuur: die lug vol helder wolke, die kalfies en babavarkies op 'n plaas tussen Kaapstad en Stellenbosch verlos my uit die grendeltyd. 

Wanneer is hierdie outjies gebore?

Daar is lewe na grendeltyd.


Saterdag, 20 Junie 2020

'n E-pos brom in 'n inboksie rondom die Johannesburg Review of Books se kritiek teenoor die Media24 Boeke Literêre Pryse en die feit dat al die wenners wit mense is.

My reaksie per e-pos aan Rapport:
'n Ingewikkelde kwessie. 
Maar in alle regverdigheid: NB uitgewers het die afgelope paar jaar geweldig baie gedoen om swart skrywers te bemagtig. Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal, Jolyn Phillips, Lynthia Julius (wat sopas met Uit die kroes gedebuteer het) word deur NB-uitgewers gepubliseer. 
Trantraal skryf selfs ‘n rubriek in Kaaps in Rapport. 
Trouens, hierdie skrywers kry ongelooflik baie geleenthede om buitelandse geleenthede en feeste by te woon. 
Antjie Krog doen baie agter die skerms om swart skrywers te bemagtig. So ook Kwela uitgewers. Annari van der Merwe het jare gelede baie gedoen om swart skrywers publikasiegeleenthede en ‘n stem te gee. 
Hoe kan ‘n mens eis dat boekpryse demografies verteenwoordigend moet wees? 
Dit stel ‘n eis asof die skryfproses beheer en voorspel kan word. 
Ras- of gendereise wanneer dit by kreatiewe prosesse kom, is politieke eise. 
Moet ons Philip Roth van ‘n kortlys afhaal omdat hy vroue uitbeeld wat vir ‘n vroulike kritikus aanstootlik is? Of nie meer Updike lees nie?  
Groot boeke is dikwels politiek inkorrek – want onthou: jy kan die stem IN die teks nie gelykstel aan die werklike skrywer nie. 
Nou ja: die wenners en beoordelaars is wit. Kan van hierdie swart kritici Afrikaans lees en reg laat geskied aan die proses?
*

Wayne C. Booth se beroemde teks The rhetoric of fiction (1961) moet weer deur hierdie kritici gelees word.

'n Teks (film of boek) gebruik retoriese strategieë om 'n storie te vertel. Hier is die sogenaamde implied author relevant: die sogenaamde tweede self van die werklike skrywer wat in die teks 'n bepaalde boodskap oordra. En daardie boodskap, mag verskil van dit wat die werklike mens dink of predik.

Hierom is die sensurering van films en boeke tans uiters problematies. Dit beteken nie die skrywer dink dis "reg" nie. Daar is ingeboude strategieë wat kommentaar lewer op mense se oordele en vooroordele.


© Joan Hambidge

Wednesday, June 17, 2020

Reisrubriek | Windroos | 2020


Sondag, 14 Junie 2020

Martin Scorcese se Who’s knocking at my door? is sy filmdebuut. Oor hierdie film is daar geweldig baie geskryf soos dat Harvey Keitel dalk die dubbel is van Scorsese (Who’s That Knocking at My Door/ How the world met Martin Scorsese. Besoek 15 Junie 2020).

Wat vir hierdie kyker relevant is in 2020 is die genderpolitiek. Die vroue word naak gewys en Keitel word nie ge-full frontal nie. Dis eers met Bad lieutenant en Jane Campion se The piano wat ons alles sien. Eers in die negentigerjare dan.

Ongelykhede dus in genderkwessies.

En die hantering van die vrou se verkragting is ontstellend. Hy dink dis haar skuld dat saam met die man in die motor was en hierom het dit met haar gebeur.

‘n Sogenaamde low budget-film, maar steeds ‘n baken in die filmkuns.

*

Die winter byt. Elsa Joubert is oorlede aan Covid-19.

Elsa Joubert vir Media24:
Die eerste werk wat ek van Elsa Joubert meegemaak het, was Die Wahlerbrug in my eerstejaar aan die US in 1975. Hierna Ons wag op die kaptein (1963), Die swerfjare van Poppie Nongena (1978) en Die reise van Isobelle (1995) wat ek as hoogtepunte beskou. Ook haar reisvertellings – as solo-vroulike reisiger deur Afrika o.a. – het my beïnvloed. En Spertyd– haar laaste teks – wat verslag lewer van oudword en eensaamheid is ‘n uitsonderlike teks: iewers tussen fiksie en waarheid. Ingeperk in ‘n aftree-oord. Nou gaan ons in hierdie dae weer na die ryk, geskakeerde oeuvre kyk. Bonga (1971) verdien ‘n herlees.  
Haar bydrae het ‘n impak gehad op die politiek (ek dink hier aan Poppie Nongena), maar sy het eweneens die rol van die bevryde vrou wat buite die patriargale orde dink en skryf, verteenwoordig.
*

Wegneem-etes begin nou byt. Ek bel ‘n restaurant, laat weet ek is 6 nm daar om die kos op te tel. Reël alles met die bestuurder. 

So by my kool – hulle neem net kontant. Dus: tot by die ATM, terug vier blokke – tuis by die huis moet die kos opgewarm word. Beslis sien hulle my nie weer nie.

Restaurante sal in ‘n ander sleutel moet begin dink. Dis kos is duur, die afleweringsfooi ook.

En kommunikeer duideliker.


Maandag, 15 Junie 2020

Dial M for Murder. Hitchcock op sy stukke. ‘n Man (Ray Milland) wil sy vrou vermoor en kry ‘n kennis (Anthony Dawson) uit sy studentedae in Cambridge met vele aliasse om dit namens hom te doen. Afpersing, want hy wis dat die man geld gesteel het. Hitch is hier. Ons sien hom aan tafel sit by die reünie ongeveer 13 minute wanneer die film begin het. Die vrou (Grace Kelly) se minnaar, die Amerikaanse misdaadskrywer ene Mark Halliday (Robert Cummings) waarsku egter: in die lewe is daar nie ‘n perfekte moord nie. Iets loop altyd skeef.

Die man wat wil wraak neem op die ontroue vrou en haar geld wil bekom, word getroef deur ‘n slim speurder (Chief Inspector Hubbard vertolk deur John Williams).

Wanneer die beeldskone Gracy Kelly uitgaan met haar minnaar, dra sy rooi. Tuis is sy in wit.

En alles wentel om ‘n sleutel. En los note wat vir die afpersing weggebêre is.

*

Dis ‘n pakkende film wat ek twee aande na mekaar kyk.

Die man en vrou eet ontbyt. Dan sien jy in die koerant dat haar geliefde per skip aankom uit die VSA. Dan fokus die kamera op die deur – ‘n belangrike kode want die dief het haar sleutel, wat haar man daar geplant het – gebruik om die deur oop te maak.

Die man haal die sleutel uit die betreder se sak, neem sy sleutel. Alles op die moordtoneel.

En die speurder ruil sy jas met die man s’n om. En so kan hy dan die man fnuik wanneer hy probeer om die deur oop te maak met die verkeerde sleutel.

Uiteindelik word die vrou se lewe gered, want weens die afpersing van die betreder (wat haar man gehuur het), het die jurie haar skuldig bevind aan moord.

Aliasse, voorstellings, bedrog, afpersing, dryf die verhaal vorentoe. As die vrou nie ‘n minnaar had nie, was sy dalk onskuldig bevind?

En as dit nie vir die slim speurder was nie wat meer weet as die misdaadskrywer, was die minnares dood. En as hy nie ook geweet het van die klomp kontant in die man se hande waarmee hy die moordenaar wou betaal nie, kon hy nie die man vaspen nie.

Lacan/Derrida se polemiek oor E.A. Poe se The purloined letter is ter sake. Die verwisseling van geld/briewe is in Dial M for murder tersaaklik.


Dinsdag, 16 Junie 2020

North by Northwest is in 1959 deur Hitch gemaak. En hy is aanwesig aan die begin van die film by die bus waar die deur gesluit is en hom dus uitsluit.

Hierdie film het my in Meditasie geïnspireer om ‘n gedig te skryf:

North by Northwest

Eva Marie Saint, in ‘n dokumentêr,
(of is dit nou Eve Kendall?)
vertel alles oor Hitchcock
se North by Northwest. Ou potjierol
se film oor paranoia en vals identiteite.
Ouer as die skone Eve, lap sy geheime uit:
Cary Grant was nie haar minnaar, en nee,
by Mount Rushmore sou sy nie kon afval
(daar was stutte en stellasies), en Cary
moes in ‘n ateljee koes en swenk voor 
‘n vliegtuig se giftige sproei.
Eat your heart out, Sigmund Freud, Sigmund Freud.
Mount Rushmore was ‘n Hollywood-replika:
‘n afdruk van George Washington op ‘n eendollar-noot.
Hy was immers die eerste president, nes Alfred H.,
die koning is van vrese só irrasioneel (jy kan die stof
ruik op Thornhill se pak koesend, duikend).
‘n Trein deur ‘n tonnel? Bid jou dit aan!
Dit staan reeds in Shakespeare, 
Hierdie North by Northwest.
By Paramount bly die crop-dusting-toneel ónnabootsbaar
nes ‘n eenmalige aanraking of one-night-stand.
Eendag mag jy dalk ook voor die kameras staan
en die ongerymdhede uitlek en bely hoe ál my gedigte
(veral oor ons stiekem verhouding) blote maakwerk was.

*

Nou fokus hierdie kyker net op die pakkende rolprent oor ‘n man, Roger Thornhill, aangesien word vir ene Kaplan (Cary Grant). Hy word ontvoer en dan verander sy lewe in ‘n nagmerrie.

Hoewel die nasionale intelligensie die fout agterkom, wil hulle hom nie red nie. Hy moet self opsnork, omdat hulle Vandamm (James Mason) wil uitrook.

Eva Marie Saint is die vrou (en dubbel-agent). ‘n Film wat suspension of disbelief tot groot hoogtes voer, maar die kyker aanvaar dit. Met Mount Rushmore waar Roger vir Eve Kendall red. Soveel kinkels in die kabel wat net deur Hitchcock beheer kan word.

Met ‘n herbesoek, is dit opvallend hoe die treintoneel al gekaap is deur ander filmmakers. Hier word die man weggesteek. By James Bond in From Russia with love (1963) word die vrou in bo-kajuit weggesteek.

*

In Die Burger is daar ‘n tersaaklike polemiek oor blokraaisels en sogenaamde “Engelse woorde” wat sekere lesers irriteer.

G. (Ollie) Olwagen het gelyk in Die Burger van 6 deser dat alles wat Engels klink, nie uit Engeland kom nie. Wyle Johan Combrink, ‘n voorste taalkundige, het ons geleer dat jy alleen oor anglisismes ‘n uitspraak durf maak, indien jy Nederlands tot in die sewentiende-eeu sou ken.

In hierdie dae van inperking, stof ek weer my Franse en Italiaanse grammatika af. Wat lesers eweneens as Engels sien, kom uit Frans, en uiteraard uit Latyn.

En hy het gelyk dat hierdie sinonieme ons taal verryk.

Oor blokraaisels het hy eweneens gelyk (DB, 15 deser). Vir die een te maklik; vir die ander weer te moeilik. Wanneer ‘n mens woordeboeke lees, kom jy dikwels agter hoeveel woorde daar in jou eie taal opgeteken is, wat jy nie ken nie. En waarom nie neologismes help skep nie? Wat van hoogtartend vir iemand wat hooghartig en uittartend is?

En ‘n leser se probleem met die woord virtueel vir vergaderings, steur my nie. Omdat hierdie vergaderings nie die regte ding is nie. Soveel van die gesprek gaan verlore. Met ‘n onderhoud kan jy die mens nie werklik takseer nie. Klein sub-tekste gaan dus verlore soos die knip van ‘n oog (senuweeagtig) of ‘n hand op die been.

© Joan Hambidge