Showing posts with label Brandwaterkom. Show all posts
Showing posts with label Brandwaterkom. Show all posts

Friday, July 3, 2015

Joan Hambidge - ‘n Nota by Alexander Strachan se Brandwaterkom



I

Alexander Strachan se roman Brandwaterkom is ‘n roman wat by my spook. Nie alleenlik is dit goed geskryf nie, maar die skrywer laat verskillende dimensies naatloos oor mekaar skuif. Die historiese gegewe van die ABO en die komplekse verhouding met joiners en hensoppers teenoor die grensoorlog van die tagtigerjare. Oor alles heen beweeg daar ‘n navorser wat lewe gee aan Vilonel. Die fiksionaliseringsproses word teenoor die historiese dimensie geplaas en daar is selfs ‘n moment van magiesrealisme met ‘n besoek aan Dwaalpoort.

Die kuns van ‘n geslaagde historiese roman is om so ‘n karakter ‘n mens te maak. Hierin slaag die skrywer. Vilonel se optrede is kompleks. Word hy ‘n verraaier omdat hy besef het die oorlog gaan die Boere niks in die sak bring nie? Of is dit sy verskeurde liefdeslewe wat hom laat aarsel? Is dit werklik hoogverraad dat hy manskappe oortuig het van die uitsigloosheid van die oorlog?

Arthur Blake se Boereverraaier is onder andere ‘n belangrike voedingsbron vir Strachan. Hoe kyk ons vandag na verraaiers? Daar is vandag ‘n demitologisering van die ABO en die eenvoudige spanning tussen Boer (heilig) en Brit (onheilig) word deur vele historici anders bekyk. Albert Grundlingh se studie oor die “hensoppers en joiners” kom eweneens na vore.
Gaan lees die gedeelte oor Hertzog se hantering van die Vilonel-saak.

In ‘n rubriek skryf Max du Preez insigryk oor hoe twee broers ook teen mekaar te staan gekom het in die oorlog. (Max du Preez oor die miskende Piet de Wet. Besoek 2 Julie 2015)

II

Strachan gee ‘n komplekse beeld van die man wat deur Hertzog as ‘n “skandvlek” op die Afrikanergeskiedenis uitgekryt is.

Hy laat die roman ook eindig sonder “closure” – die hoofkarakter sou in die werklikheid nog bly lewe en diens doen in ‘n gemeenskap.

En dis goed dat die roman eindig waar dit eindig. Die leser (selfs diegene wat nie die geskiedenis van hierdie dubieuse figuur ken nie) is so onder die indruk van sy verskillende fasette. En vir die liefhebber van die geskiedenis is daar dan ook vele tekste wat ‘n mens kan gaan lees. Met die uiteindelike gevoel van genoegdoening wat ‘n groot roman by jou laat: die skrywer het van ‘n historiese figuur ‘n mens gemaak, een met verskillende kante.

'n Werklike goed geskryfde romankarakter kan 'n mens nooit vergeet nie. Vilonel spook by my, soos Humbert Humbert in Nabokov se Lolita. Stanley Kubrick se filmweergawe van 1962  - stadig, afgemete in wit en swart met James Mason as Humbert Humbert - oortuig meer as die weergawe in 1997 van Adrian Lyne met Jeremy Irons in die hoofrol. Mason gee verskillende fasette aan die hoofkarakter; Irons is te veel van 'n houtpop.

Mieke Ball se Mensen van papier (1988) oor personasies in die literatuur, maak belangrike stellings oor die funksie van die romankarakter. Greimas, die bekende semioloog en narratoloog, verwys na die aktant en die rolle wat hy of sy vertolk binne 'n roman. Hy onderskei twintig funksies wat te make het met 'n quest. Die hoofkarakter moet vanuit 'n buitestaanderposisie iets "oplos" of 'n teenstand oorkom. Jonathan Culler skryf hieroor in Structuralist Poetics (1975) en hoe Greimas se werk gebaseer is op Vladimir Propp se Morphology of the Folktale.

In Strachan se roman is die quest sowel die oorlog as die problematiese liefdeslewe. Die herintegrasie wat gewoonlik teen die einde plaasvind, is by Strachan afwesig. En juis dit maak die roman so sterk. Die leser "voltooi" alles in die gemoed en gaan lees verder op oor hierdie komplekse figuur.

En wie, wonder 'n mens, sou Vilonel in 'n film kon vertolk en reg kon laat geskied aan hierdie figuur?



© Joan Hambidge

Sunday, June 28, 2015

Alexander Strachan - Brandwaterkom (2015)



Alexander Strachan - Brandwaterkom. Tafelberg, 2015. ISBN 

Resensent: Joan Hambidge

Alexander Strachan is ’n fyn stilis en vernuftige skrywer. Hy kan tekste konstrueer en oortuigend opbou. Sy tekste soos ’n Wêreld sonder grense is sowel ’n reeks kortverhale as ’n roman wat sleutels gee vir latere werk soos Die jakkalsjagter. Hy kan ’n los draad uit ’n vorige roman optel en verder voer.

Min skrywers het al oorlogsgeweld so pakkend soos hy beskryf en sy jongste roman, Brandwaterkom, snoer twee moderne neigings saam: die Anglo-Boereoorlog (ABO) en die optekening van geskiedenis in ’n tyd waar “slow violence” ’n nuwe modewoord geword het. Die roman roep ook Christoffel Coetzee se Wat het geword van Generaal Mannetjies Mentz? op.

Die ABO en die Grensoorlog is die twee asse van die roman met ’n skrywende, fiksionaliserende vrou wat ’n storie skryf oor kommandant Vilonel se dubieuse rol tydens die oorlog. Haar navorsing word ’n stuk historiografie, fantasie en daar is selfs momente van magiese realisme tydens ’n besoek aan Dwaalpoort.

Die skrywer as historiograaf is tans ’n opvallende neiging: ’n mens dink aan die werk van Karel Schoeman en Dan Sleigh. En Marié Heese. Willem Anker se grensverskuiwende Buys .

Wie se storie is ons besig om te lees? Esther van Emmenes se optekening? Of die verhaal van Vilonel? Of die boodskapper? Die verskillende stories skuif ineen: soos twee snellers wat afgetrek word, aldus die buiteblad – dalk eerder ’n dubbelloopgeweer. Wie vertel? Of word die verteller uiteindelik die vertelling self? Daar is ook die verhaal van Bullet – ’n korrektief dalk? Elke vertelling of belydenis word deur ’n ander weergawe “bevestig”. Net soos die geskiedenis oor die ABO ook deur orale vertellinge verander word en die werk van Bill Nasson lewer op sy beurt ’n ander blik op die swart mense se deelname . . . En daar is swart mense, weliswaar randfigure, in Strachan se roman.

Die skrywende verteller moet onder andere ’n jeug en kinderdae skep om dit vir die leser geloofwaardig te maak. En geloofwaardigheid is die grootste eis vir die historiese roman. Wanneer ons byvoorbeeld ’n danstoneel beleef, is die leser binne daardie tyd – en hierom is hy nie ’n “onthoofde mens” nie. Strachan maak van sy karakters “mense”, “vol karakters” om E.M. Forster se term te gebruik.

Die skrywende verteller se werkswyse verraai ook iets van die implisiete outeur se retoriese strategieë, om met Wayne C. Booth saam te praat in sy belangrike The Rhetoric of Fiction (1961). En hoe ’n karakter byna ’n obsessionele teenwoordigheid is vir ’n skrywer word insigryk beskryf. Esther van Emmenes se donker verlede gee haar begrip vir die ingewikkelde lewe van Vilonel. Alexander Strachan se kennis van sowel die ABO as die grensoorlog bring ’n verrassende (binne-)perspektief.

Die Anglo-Boereoorlog-wêreld en die terrein van die verraaier/joiner word onder die loep geneem. Die spanning tussen Boer en Brit, grappe, volkslegendes, die uitstal en opnoem van ou Afrikaanse idiome en die Jood op die dorp, word alles netjies verweef in ’n ryk tapisserie. Louis Botha, pres. Steyn, Hertzog en vele ander, is karakters. Soms net in die verbygaan, ander kere sterk soos Buller en Cronjé.

Die impak van runderpes en die oorlog het gesiene boere van aansien en plase gestroop en bywoners van hulle gemaak. Ons weet hoe die plase geplunder is deur die Engelse en hiermee is die lewensaar van kos vir die vegtende Boere afgesny.

Die reuk van die oorlog word konkreet beskryf. Ons sien hoe ’n koeël uit ’n been verwyder word. Redvers Buller word raak geteken met sy drang tot oorwinning en ’n vorige lewe van kaartspel, biljart en perde. Die roman neem ons terug na Ingrid Winterbach se Buller se plan en Strachan se beskrywing van dié figuur maak van hom ’n immer onthoubare karakter.

Die oorlogspanning word nou verweef met ’n liefdesintrige (en ’n vloek wat uitgespreek word): Dit dryf die roman vorentoe met sy sterk en onheilspellende sub-teks. En die skrywer skryf op die man af sonder om banaal te raak. Dit maak Vilonel ook mensliker, omdat hy nie net prokureur of man van die wet is nie, maar ’n begeerte het tot liefde.

Daar is momente wat ’n mens net nie kan vergeet nie: Tibbie Steyn wat haar man se beswete hemp vashou wanneer hy vertrek; Hans Dons de Lange se teregstelling; ’n swanger vrou wat vermoed haar man is ontrou. Die beskrywing van Cronjé as ’n knorrige ou bliksem is in die kol.

Die roman bevat ’n uitgebreide bibliografie en erkennings. Dit getuig van enorme navorsing oor perde, die veld, klere, gewoontes, taalgebruik, drank. Die oorlog self. Oom Paul versus Milner. Die rol van ’n doomnis en prokureur in ’n dorp. Hoe mense se rolle hul lewenslot bepaal. En Catharina Venter wat die geskiedenis van ’n familie oordra, die ongeskryfde geskiedenis van skande wat oor ’n familie kom en die tragiese nadraai daarvan.

Die troebel gemoed van Vilonel wat die hewige geweerskote uit Senekal hoor, bly in hierdie leser se herinnering draal. Net soos die slot waar die verraaier toekyk . . .

Dit is in ’n gestroopte, toeganklike styl geskryf met ’n roman wat swaar dra aan toespelings en verwysings oor sowel die geskiedenis as die skryfproses. Rudyard Kipling is natuurlik ook hier met ’n verwysing na “The Jacket”.

Lees hierdie uitstekende roman.