Showing posts with label Gilbert Gibson. Show all posts
Showing posts with label Gilbert Gibson. Show all posts

Monday, February 12, 2018

Resensie | Gilbert Gibson - Die sin van die hut (2017)

Gilbert Gibson - Die sin van die hut. Human & Rousseau, 2017. ISBN-13: 9780798176934

Resensent: Joan Hambidge 

Die sin van die hut is die vyfde digbundel van Gilbert Gibson wat in 2005 gedebuteer het met Boomplaats. Hierna volg Kaplyn in 2007, oogensiklopedie in 2009, [vii] in 2013 en vry- in 2015. Hy is bekroon met die Proteaprys vir poësie en die Elisabeth Eybers-prys. ‘n ATKV-Woordveertjie en SALA is aan hom toegeken.

‘n Hut is ‘n skuilplek, ‘n outydse huis; meer spesifiek: iets van Afrika. En hier begin ons alreeds met die leesproses wat hierdie soort digkuns opeis: assosiasies, nadink, naspeur …

Die bundel se motto is van Gaston Bachelard: "The house, from cellar to garret. The significance of the hut.” Die huis kom telkens in verskillende vorme na vore in die bundel. Die huis as simbool van die self, soos Jung en vele psigoanaliste meen. Bachelard, ‘n rasionalis en wetenskapsfilosoof, is bekend vir die epistemologiese breuk of hindernis en sy invloed, o.a. op Jacques Derrida se siening van uitgestelde betekenis of différance, is oorbekend. Die teks wat altyd aanspraak maak op die buite-teks.

Bachelard La Poétique de L’Espace( The Poetics of Space) uit 1958 en die filosoof F.J. Engelbrecht se studie oor die huis (die drempel) word dus geaktiveer. Hoe die huis ook iets verraai van die self. Die vensters, die deure, die kamers ...

Titels word tussen parenteses geplaas en twee verse, (luister) en (kyk) (64 – 65) praat met mekaar. Intertekste is daar vele, soos Wallace Stevens (10), en Emily Dickinson (77) o.a. Stevens se beroemde “Anecdote of the jar”.

Behalwe vir die sterk intertekstuale spel met ander digters, is daar eweneens self-verwysings wat aan bod kom.

In die slotvers "(bouval)" (78), word daar nommers langs elke reël geplaas en ja, daar is 14. Dit speel dus met die struktuur van die sonnet. Die leser moet voltooi en vrye assosiasie is hier aan die orde van die dag. Dit verwys ook na die gedig getitel [14] wat in ‘n eerste weergawe so klink:

[14]

jou oë lê soos dooie vullens bokant
jou wange na ‘n uitbraak van perdesiekte
die wenkbroue daaroor die kleur van brommers
in die son. soos klippe in die veld
lê jou oë, en ‘n wind wat die aanheg
van gras tot skaduwee roer, waai deur jou mane.
jou oë dryf in die bloed onder jou voorkop
die wimpers geril tot inkennigheid
ek wil jou ribbe inval soos runderpes, die lyf
infekteer en stilletjies wegsluip voor die vlerkklap
van aasvoëls. ek neem jou besit soos ‘n slaak
van verligting, jou oë ‘n gestorwe graal:
jou keel is blinkvos
jou mond ‘n splinternuwe saal


Die leser herken die liedjie “Blink vos perd” wat verïroniseer word as ‘n (dooie) Pegasus, dalk, en ‘n spel met die sonnetvorm.

So klink ‘n ander gedig:

(drumpel)

Soos ’n wang oor ’n mond.
Neem jy stelling in teen die loopgrawe
van meubels wat oor die drumpel
bal en klou om later die res
van die huis met onrus te vul.
Buite blaf die honde jou
hande talm oor my hande.
Jou koel vingers die natuur van ’n leunstoel
wat uit die oorsprong
van kussings jou naels dof laat flikker.
In jou oë blink die vloer
en kalm dink ek dan kalm
geen onnodige roering roer

Hierdie soort gedig loop dan ook die gevaar om soms in vreemde assosiasies (dryfsand?) vas te val.

Soos:

Jou koel vingers die natuur van ’n leunstoel
wat uit die oorsprong
van kussings jou naels dof laat flikker.

Wanneer ‘n mens die gedig met die voorafgaande gedig lees, snap jy die angs van ‘n paranoïese spreker (dalk?) Of die veldslae van die liefde (dalk?) in “(dampskerm)” op bladsy 50.

Dis vir Gibson-aanhangers en ook vir dosente wat hierdie soort intellektuele vers moet behandel. Die leser wat die teks as scriptible (skryflik, her-skryf) eerder as lisible (oop-lees) (in Roland Barthes se terme) benader.

In sy studie oor Seamus Heaney (Methuen, 1982) skryf Blake Morrison oor die digter se werkswyse: "Heaney is aware of the charge that there is perhaps something unhealthy about this constant brooding on dead languages and cultures.” Dieselfde geld hierdie bundel met sy tob en nadink oor taal, oor assosiasies met die taal en sy kultuurgoed.

Dit is ‘n bundel wat die bemoeienis met die digkuns as ‘n taal-konstruk vooropstel. Hermeneuties, slim, uitdagend – vir sommige is die hart van die poësie uitgeruk. Vir hierdie leser nié.

In die hut van die digkuns is daar immers baie wonings …

Emily D. was die groot beoefenaar van die parentese (dash); Wallace Stevens die maestro van die semantiese geheim.

Ons sal wel vra wat hierdie digter volgende gaan doen met sy taalspel.


 (Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Sunday, November 26, 2017

Resensie | Gilbert Gibson - Die sin van die hut (2017)

Gilbert Gibson - Die sin van die hut. Human & Rousseau, 2017. ISBN-13: 9780798176934
Resensent: Joan Hambidge

Die sin van die hut is die vyfde digbundel van Gilbert Gibson wat in 2005 gedebuteer het met Boomplaats. Hierna volg Kaplyn in 2007, oogensiklopedie in 2009, [vii] in 2013 en vry- in 2015. Hy is bekroon met die Proteaprys vir poësie en die Elisabeth Eybers-prys. ‘n ATKV-Woordveertjie en SALA is aan hom toegeken.

Deur die jare het ek telkens waarderend op Gibson se bundels gereageer. (Woorde Wat Weeg/ Gilbert Gibson - Vry-, 2015. Besoek 21 November 2017).

Die algemene  indruk wat sy bundels op hierdie leser maak, is een van ‘n toegewyde bemoeienis met die digkuns. Dit is gedigte wat heel dikwels handel oor die skryfproses, oor die soeke na betekenis, oor die hermeneutiek-van-skryf (en lees). Dit is daardie soort gedig, in Jonathan Culler se woorde in Structuralist Poetics, wat die verhouding tussen die paradigmatiese en sintagmatiese relasies uitdaag. Die leser weifel voortdurend tussen die korrekte lesing van ‘n gedig en al die moontlike implikasies wat ‘n gedig impliseer.

Die bundel se motto is van Gaston Bachelard: "The house, from cellar to garret. The significance of the hut.” Die huis kom telkens in verskillende vorme na vore in die bundel. Die huis as simbool van die self, soos Jung en vele psigoanaliste meen. Bachelard, ‘n rasionalis en wetenskapsfilosoof,  is bekend vir die epistemologiese breuk of hindernis en sy invloed, o.a. op Jacques Derrida se siening van uitgestelde betekenis of différance, is oorbekend. Die teks wat altyd aanspraak maak op die buite-teks.

Vir Derrida werk woorde met uitgestelde betekenisse en die arbitrêrheid van betekenis word vooropgestel.

Titels word tussen parenteses geplaas en twee verse, (luister) en (kyk) (64 – 65) praat met mekaar. Intertekste is daar vele, soos Wallace Stevens (10), en Emily Dickinson (77) o.a. Stevens se beroemde “Anecdote of the jar”:
I placed a jar in Tennessee,
And round it was, upon a hill.
It made the slovenly wilderness
Surround that hill.
 The wilderness rose up to it,
And sprawled around, no longer wild.
The jar was round upon the ground
And tall and of a port in air.
 It took dominion every where.
The jar was gray and bare.
It did not give of bird or bush,
Like nothing else in Tennessee.
Oor Stevens se modernistiese gedigte, het vele kritici al geskryf: die gedig wat inbuig, eintlik terugbuig op sigself en die wegbeweeg van die gedig wat op 'n een-tot-een-vlak iets oor die werklikheid moet sê.  Gibson vat dit verder in 'n postmodernistiese aanslag waar die gedig aanspraak maak op 'n veelheid van betekenisse. Sy gedigte is dan "groundless" en oneindig. Die gedigte is opsetlik gefragmenteerd en wil ook nie noodwendig iets sê oor die realiteit nie. "Dis al" word "Dis alles" ... (Postmodernism in poetry. Besoek 26 November 2017).

In die slotvers "(bouval)" (78), word daar nommers langs elke reël geplaas en ja, daar is 14. Dit speel dus met die struktuur van die sonnet. Die leser moet voltooi en vrye assosiasie is hier aan die orde van die dag.

John Ashbery se "The burden of the park" word opgeroep:
Each is truly a unique piece, 
you said, or, perhaps, each 
is a truly unique piece. 
I sniff the difference. 
It’s like dust in an old house, 
or the water thereof. Then you come 
to an exciting part. 
The bandit affianced 
to the blind man’s daughter. The mangel-wurzels 
that come out of every door, salute the traveller 
and are gone. Or the more melting pace of strolling players, 
each with a collapsed sweetie on his arm, each 
tidy as one’s idea of everything under the sun is tidy.  (...)
 (Jacket 2 - John Ashbery poem/ The Burden of the Park. Besoek 26 November 2017).

So lui nog 'n vers van Gibson:
(drumpel) 

Soos ’n wang oor ’n mond.
Neem jy stelling in teen die loopgrawe
van meubels wat oor die drumpel
bal en klou om later die res
van die huis met onrus te vul.
Buite blaf die honde jou
hande talm oor my hande.
Jou koel vingers die natuur van ’n leunstoel
wat uit die oorsprong
van kussings jou naels dof laat flikker.
In jou oë blink die vloer
en kalm dink ek dan kalm
geen onnodige roering roer
Terwyl ek hierdie bespreking skryf, haal ek die battery van my selfoon uit om dit in 'n ander meganisme te laai. Ek sien die buik van my selfoon en die simkaart.

Hierdie gedigte wys hulle binnegoed vir jou en jy as leser moet self alles weer inmekaar pas en die selfoon aanskakel.

"I sniff the difference", in Ashbery se woorde.

Dis vir Gibson-aanhangers en ook vir dosente wat hierdie soort intellektuele vers moet behandel. Die leser wat die teks as scriptible eerder as lisible (in Roland Barthes se terme) benader.

In sy studie oor Seamus Heaney (Methuen, 1982) skryf Blake Morrison oor die digter se werkswyse: "Heaney is aware of the charge that there is perhaps something unhealthy about this constant brooding on dead languages and cultures. He answers it through self-caricature, dramatizing himself as the most famous dramatic character of them all:
I am Hamlet the Dane, 
skull-handler, parablist, 
smeller of rot

in the state, infused 
with its poisons, 
pinioned by ghosts

and affections, 
murders and pieties, 
coming to consciousness 
by jumping in graves, 
dithering, blathering.
(Viking Dublin/ Trial Pieces - Seamus Heaney Poetry Analysis. Besoek 26 November 2017).

Iets van die kritiese besware neem ons ook van kennis in hierdie bundel. Maar dit is vir my 'n ryk, geskakeerde bundel.

Sunday, August 16, 2015

Gilbert Gibson - Vry- (2015)


Gilbert Gibson - Vry-Human & Rousseau, 2015. ISBN 978-0-7981-7053-6 | ISBN 978-0-7981-7054-3 (epub) | ISBN 978-0-7981-7055-0 (mobi)

Resensent: Joan Hambidge

Gilbert Gibson se gedigte bevat kenmerke van e.e. cummings en gert vlok nel. Dit is gedigte wat die skryfproses vooropstel en die leser lei in die proses van skryf: hierom vind ons aandagstrepe (//), ons vind verbrokkelde reëls, gedronge sintaksis, semantiese eilande en vele ander opsetlike speletjies wat die gedig verklaar tot halfklaar artefak. Die leser word uitgenooi om mede-skrywer (mede-speler) te wees. Soms is die geheimenisse obskuur; ander kere kan jy die gedig se sluiting vind in jou aweregse assosiasies.

Dis moeilik om hierdie bundel op te som. Vry – soos in Vrystaat, vryval, vry-wees, liefhê, en al die ander assosiasies soos vrye versvorm, word opgeroep in hierdie bundel.

Die gedig as gedig word in ‘n komplekse talige wêreld aan die leser voorgestel: soms huiwer dit in die droombestaan; ander kere voel dit vir (hierdie) leser asof ‘n mens in die studeerkamer staan van die digtende dokter wat sy eie siening gee van hermeneutiese poësie.

Hierom die vreemde belydenis, waarskynlik in komputertaal: dit neem ‘n tyd om tot verhaal te kom …

Die digter self is in ‘n droom bibliotekaris en salmvanger (“in my slaap is ek ‘n bibliotekaris”, 44) wat alreeds die komplekse toespelings verduidelik.

In “ek droom van jou ‘n laaste keer”, die slotgedig word daar verwys na ‘n vorige bundel wat Kaplyn heet. Hiermee word die leser dus teruggeneem na daardie bundel met die leesproses as ‘n kaplyn: die leser word spoorsnyer in die oorlogteisterde gebied waar die spore van die vyand presies verraai waarheen hulle op pad is, nes hierdie resensie wat my spore as leser verraai.

En spore (traces) aktiveer Jacques Derrida se siening van afwesigheid/aanwesigheid. Die programgedig is "sous rature", letterlik uitgewis. Hierdie gedig is dan 'n duidelike kode: moenie woorde op hul woord neem. Hulle kan verdwyn, uitgewis word of in ander vorme weer te voorskyn kom. Ook die poskaart-gedagte van Derrida word geaktiveer deur die voorblad met sy (Vrystaatse) seëls: die digter pos immers sy gedigte aan die leser wat met elke gedig besluite moet neem oor die tipografie.

'n Voorbeeld van hoe die digter werk: 

die vry-

die vry-
staat het ’n horison
waarvoor ek oor die stoep kan kyk
die horison is ’n verknoopte skoenveter
wat ’n mens deursny met ’n rooi knipmes
die horison is jou tong
die horison staan in die lug voor ’n fluitspeler,
maak jou vir slange bang
die horison is subtiel soos ’n sweempie
stof op ’n baadjie se skouer
dit herroep die droogskoonmaker
die horison lê soos ’n gevalle mas
wanneer die anker lig
lê bedaard soos ’n galg
en jy is die dood   (9)

Vele kere word die ervarings van iets as vertekend ervaar. Die onmag van woorde om die verlede te besweer of korrek weer te gee, kom telkemale aan bod. Die ouer digter wat die jeugjare herroep soos in'n Halley se komeet of reise na die Uvongo. Drome is telkens ruimtes wat die digter na vore bring om herinneringe neer te skryf, nes foto's eweneens merkers van die geskiedenis is.

'n Religieus-fundamentalistiese jeug word beskryf en vuur (lees ook die hel) word telkens gebruik om daardie wêreld te karteer. Hierom is "die skakerings van vuur is meer as wat ’n mens onthou" (18)

Gibson se gedigte is nie maklik nie. Hy skryf gekodeerde gedigte. In hierdie bundel tree hy in gesprek met die kanon: dikwels is daar net die voorletters van die digter (DJO of VWL of Sheila Cussons of GVN) wat aansluit by hul werk. Hy is immers soos gert vlok nel by uitstek 'n digter wat on-poëtiese gedigte skryf en die leser uitdaag om sy eie betekenis by te sit.

In hierdie bundel word daar ook 'n terugkyk na vorige bundels waarin die "oog" 'n sentrale plek inneem. Die gedig dus as "oogensiklopedie" met sy aandagstrepe, onvoltooide uitinge, enjambemente en kriptiek. Hy tree waarskynlik ook in gesprek met John Kinsella, die Australiese digter waarin die "skeleton weed" ook beklemtoon word (Skeleton weed/generative grammar - John Kinsella - Poem - Australian Poetry Library).

Dis 'n bundel vir die speurende leser. Dit is gedigte wat nie dadelik hul geheime prysgee nie, maar wanneer jy dit ontrafel, is dit 'n genoeglike ervaring.

By die Vrystaatse Kunstefees het die digter voorgelees. Hy ontgin die digterlike en die emosionele aspekte wanneer hy lees.

Dit handel oor die jeug en verlede en hoe 'n mens deur jou verlede geskep word. En deur ander digters gevorm word.

Ander bundels van die digter is:

Boomplaats (2005)
Kaplyn (2007)
Oogensiklopedie (2009)
[vii] (2013)

(Hierdie resensie word met vriendelike vergunnning van Rapport geplaas) 

Wednesday, February 27, 2013

Gilbert Gibson - Boomplaats (2006)



Gilbert Gibson. Boomplaats. Tafelberg Uitgewers, 2006. ISBN 0 624 04262 6.

Resensent: Joan Hambidge

So nou en dan word ek oorval met ‘n onvermoë om te kan slaap. En in een van hierdie tydperke, staan ek eenuur in die oggend op, loop kombuis toe, skakel die komputer en koffiemasjien aan en begin Boomplaats van Gilbert Gibson te lees. Wat ‘n verruklike, wonderbaarlike, oorrompelende leeservaring is dit nie. Dis later drieuur. Ek is nog steeds wakker en ek probeer bepaal: presies wat maak van ‘n gedig ‘n gedig?

In die vroeë oggendure formuleer ek dit dan so: die digter se vermoë om die onsê-bare te verwoord. Om die stilte wat agter alles lê, neer te skryf. Daardie primordiale iets wat onaantasbaar is, dit wat agter die vervlietende lê... Die mens se soeke na betekenis in ‘n lewe wat oorval word deur chaos, waansin, pyn, verwerping en verlies.

In die donker is alle katte grou en die volgende oggend, met die breek van die daglumier, herlees ek die verse en besef die digter het my nie in die donker nag mislei nie. Die verse is steeds helder en sterk.

Gibson het destyds in Nuwe Stemme 2 opgeval. Hy gebruik die Boere-oorlog, ou gesegdes, Totius om sy eie verse te laat lewe kry. Omdat hy medikus is, speel die mediese wetenskap dikwels ‘n rol in sy gedigte.

Daar is min digters wat so oortuigend die interteks op ‘n verhulde en terselfdertyd openlike manier aanwend as hierdie digter. Daar is soveel verse in hierdie bundel waarvan ek doodgewoon hou. Die slim spel met sy tradisie lei ons reeds af uit die titel wat natuurlik die Slag van Boomplaats op 29 Augustus 1848 aktiveer. Die mooi bandontwerp betrek ook gedigte: die omslag wys op die laaste oomblikke van iemand wat tereg gestel is en die voetspore is in die grond; net soos ‘n vers – in navolging van Van Wyk Louw, Cussons, De Lange – gewoon net ‘n natrek in die stof is.

Die Slag van Boomplaats kry eweneens ‘n ander ironiese wending wanneer ‘n mens weet dat die monument wat opgerig is, nou onlangs deur vandale beskadig is. By hierdie slag is die eerste Kaapse rebel tereg gestel na die geveg in die Trans-Gariep. Hierdie man is geskiet voor die Bloemfonteinse stadshuis. Terselfdertyd is daar bittermin oor die Slag geskryf. (Die digter gee ‘n plattegrond van die plek voor in die bundel.)

Waaroor het hierdie stryd gehandel? Natuurlik oor ‘n Britse goewerneur, ene Harry Wackelyn Smith wat die TransGariep geannekseer het en die Voortrekkers in opstand gebring het. Die Vrystaters het hulle teen hom verset. In hierdie stryd, onder leiding van Andries Pretorius, het ‘n senuweeagtige Boer ‘n voortydige skoot afgevuur en is die Boere dus bittergou afgeransel. Ene Thomas Hermanus Dreyer het weggehardloop en deur die Britte as krygsgevange geneem en in die krygshof tot rebel veroordeel. Hy is gefusilleer op 4 September 1848.

Op ‘n uiters subtiele wyse speel hierdie geskiedenis in op die gedigte sodat die leser as’t ware twee tekste voor hande het: die ouer, historiese teks en die nuwe, moderne lewe van ‘n internis wat gedigte maak. Die leser kan dus self die drade saamtrek van hierdie subtiele eenheidsbundel. Dit word nie oordadig en soos die Engelse sê “in your face” uitgespeel nie. Dit is juis die subtiele aanbod wat so puik werk. Vir die non-mediese kenner is daar ‘n handige glossarium wat van nut is.

Daar is uitstaande verse in hierdie bundel soos “schurveberg”, “stil huis; sutherland”, “’n mens kan ‘n plaas klein bêre”, “oom was ‘n sinjaleman”, “wildeals”, om enkeles uit te sonder. Vir my was dit lekker – om in die staat van insomnia – ouer digters raak te lees en te sien hoe hy veral met Totius werk en ‘n kniebuiging maak (o.a.) na gert vlok nel in “oom was ‘n sinjaleman” of die digter se verlange na kindwees en sy herinneringe vaslê in ‘n “n mens kan ‘n plaas klein bêre”.

Die bundel maak ‘n sterk stelling oor die stand van die digkuns en die digter se lot.
Die jongeliede wat so kla en kerm dat hulle nie uitgegee word nie en moet wag na hulle pogings in Nuwe stemme, kan gerus hierdie bundel gaan lees. Dit is iemand wat werklik die beloftes van ‘n groepsdebuut manjifiek bevestig. 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]