Showing posts with label 2009. Show all posts
Showing posts with label 2009. Show all posts

Wednesday, April 17, 2013

Loftus Marais - Staan in die algemeen nader aan vensters (2009)



Loftus Marais. Staan in die algemeen nader aan vensters. Tafelberg Uitgewers, 2009. ISBN 978 624 04725 4.

Resensent: Joan Hambidge

Met hierdie debuut voel die leser dat jy bekend gestel word aan ’n jong digter wat sowel tegnies vaardig as tematies dwingend is. Dit is ’n seker stem. Dit is ’n jong persoon wat sonder skroom sy standpunt maak: teen die werklike vader, die familie, die genealogie van digters soos Harold Bloom dit beskryf in The anxiety of influence. Seksualiteit, “sonde” en veral ontluistering kom aan bod.

Die spreker reken af met ’n tradisie, maar hy bestendig dit terselfdertyd. Staan in die algemeen nader aan vensters stel jou voor aan iemand wat teen Van Wyk Louw se beiteltjie indig:” ek het ’n fokken lugdrukboor” (Die digter as rockstar, 40) en Opperman se “bottelskippie” word verwoes in ’n "Pleidooi vir vinniger kuns" (41).

Marais is dus een van die nuwe stemme wat werklik nuut is, wat die gevormde kuns ontvorm en uitmekaar ruk.

Agter die woedende opstand is daar weerloosheid. In die hartgrypende gedig oor die vader, val die kind, maar die vader beveel dat hy nie mag huil nie. ’n Sentrale gedig, wat die machismo van manwees aan die kaak stel en uitwaaier na ander gedigte. Hy ervaar die vuil hande van ’n vader as oorlogsverf op sy gesig. Hierdie bewapening of voorskrif gebruik hy teen die vader. Hy loer voyeuristies na ooms, ontmasker manlikheid en in ’n gedig oor die wederkoms is daar ’n catsuit wat fire-resistant is langs die vanity case!

Die sterk-manlike verse van Johann de Lange speel in die agtergrond, maar hier het ons die stem van die sagter man.

Hy weet ook dat poësie ’n perversie is (Op soek, 42) en heel dikwels word die leser holderstebolder aangespreek of sommer aan die keel gegryp.

Hy tipeer homself as die Ander: as draadtrekker, dief, voyeur, loerhoer, ontluisteraar, koppesneller. (Hy was immers die man wat Melanie Grobler van plagiaat aangekla het en die hele kanon dwarsklappe gegee het in die destydse Insig. In ’n latere onderhoud wel erken hy was dalk te gung ho.)

Die leser se gemoedstoestand by die lees van hierdie verse is een van bewondering vir die onopgesmuktheid, die indig tot die essensie, die afskil van (voor)oordele. Deurgaans bly jy tog bewus van weerloosheid onder die voorgee soos verwoord in Op soek (42). Die digter stap oor ’n mangat en onder draai die duiwels rond . . . Dit is ’n belangrike metafoor vir die werksaamhede in die bundel. (Die begrippe metafisika en onbewuste word in gedagte gebruik.)

Die filosofiese titel dui al op ’n skerp bewussyn met die “dinge”, soos dit in die fenomenologie heet. Die tuindwerg gee sy waarneming of blik op mense. Die meeste gedigte gee ’n vreemde blik op die gewone dinge: Sklovsky se ostranenie of die vervreemding van die digterlike aanslag kom ter sprake. Alles staan in die teken van die aweregse, die nuwe aanslag.

Die digter weet wat agter verse skuilhou in ’n gesprek met die broer: Die onsigbare word hier dikwels vir ons sigbaar gemaak.

Daar is stryd met die kanon, met stellingname, met wegskryf van die mooie en die “skone”. Daar word gekyk na uitskot en graffiti. En die liefde word gedekonstrueer in ’n aangrypende aubade.

In “Platteland-fantasie” (26) word die digkuns weggeklap en eerder na die sterre soos Braille gekyk. Die plattelandse landskap word ontluister en boertig beskryf. In ’n kroeg word ’n ou gay se sinisme sekuur beskryf.

’n Klein kragtoer is die gedig Siel (39):

hoekom dink almal die siel is inwendig?
verborge soos jou beendere, maar kleiner
soos ’n klier of juweel
of ’n teug helder lug vir ewig ingehou…
vir my’s dit eerder ’n soort peignoir
vloeibaar, satyn en stralend
gedra wanneer ek hare kam
my fopdos-kleed, my gewyde kamerjas
waarin ek vroom rondstap
soos ’n jong gloria swanson….

’n Bloekomboom staan in ’n gelyknamige gedig soos Scarlett O’Hara!

’n Windpomp is ready-made Duchamp!

Dit is ’n leeservaring van opwinding. Terselfdertyd is dit goed wanneer ’n mens ’n nuwe digter ontdek wat werklik iets om die digterlike lyf het. Wees gewaarsku: Die gedigte in die bundel is gevaarlik. Dis soos pakkies dinamiet en al is sy gedigte nie polities-betrokke nie, is dit verse met ’n “edge”.

Inderdaad breek hy sy gedigte oor ons koppe soos ’n “rockstar” dit doen (Die digter as rockstar, 40).

’n Uitstekende balans tussen tegniese vaardigheid en iets om te sê, word hier aangetref.

Ons word gewaarsku dat feite verdraai en opgemaak is. ’n Gedig is immers nie ’n getuigskrif nie; ’n goeie gedig praat vir sigself. En in die spel met gevaar, die gedrewe soektog na inspirasie (soos beskryf in “Lightning safety tips – what you should know”, 63) word gekoppel aan pyn, verlatenheid, straf . . .

Hierdie bundel het my teruggeneem na Bloom se The breaking of the vessels en die slot van Freud se Interpretasie van drome waar die droom werklikheid word.

In die droom wat Freud beskryf, ervaar die vader verlies aan die kind; hier word die gegewe omgedraai en ervaar die kind angs oor die dood van die vader. In die onbewuste ervaar hy waarskynlik ook skuld / aandadigheid en hierom dat hy bestraffing soek.

Dis ’n besonder goed afgeronde bundel.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Volksblad geplaas.]


Thursday, February 7, 2013

Pieter Fourie - Jasmyn (2009)



Pieter Fourie. Jasmyn. Protea Boekehuis, 2009. ISBN 978 1 86919 260 0.

Resensent: Joan Hambidge

Pieter Fourie is ‘n gedugte dramaturg. Sy naam staan in die ligte saam met P.G. du Plessis, Bartho Smit, Adam Small, Deon Opperman, onder andere. Deur die jare het hy die drama vernuwe en eksperimenteel-ondersoekend gewerk. Sy jongste teks heet Jasmyn, met ‘n hoofkarakter Beulah (gay sleng vir pragtig) en in hierdie teks ondersoek hy op ‘n vernuftige wyse die lot van die ouerwordende ouer vrou. Hoe voel dit om soos Brigitte Bardot oud te word? Marilyn Monroe se skoonheid bly bewaar omdat sy vroeg gesterf het.

Jasmyn is ‘n bedrewe teks, geskryf deur iemand wat dialoog ken en vir my gevoel is hierdie teks belangrikste interteks ‘n terloopse verwysing na Tennessee Williams se Sweet bird of youth, daardie briljante dramaturg wat besondere analises van veral die vroulike psige kon gee. En Yerma van Lorca ook, as ‘n tersyde. ‘n Slim verwysing want hierdie drama is al ‘n teks van fertiliteit en steriliteit genoem, die twee asse waarop Jasmyn draai.

In Jasmyn is daar etlike verwysings na ander tekste soos Scent of woman, daar is boerewyshede, skunnighede (“Die Kaap is op horings”), Grace Kelly is hier saam met Nefertiti en Cleopatra. Joan Collins en Miss Piggy. Mae West. Brigitte Bardot (die verrimpelde ou pelsjashater.) Ons lees van Paris Hilton en ander skoonhede, werklik en gesilikoniseer. Ook mans maak hier ‘n draai: Jack Palance, Rock Hudson, James Stewart, o.a. Te veel om op te noem. Die teks het in sy oorvloed van tekste en name ‘n kamp-aanslag in die sin wat Susan Sontag dit gebruik het.

"Indeed the essence of Camp is its love of the unnatural: of artifice and exaggeration. And Camp is esoteric -- something of a private code, a badge of identity even, among small urban cliques" (uit “Notes on camp”, 1964).

Ons bly bewus van ‘n teks wat sy gemaaktheid wil vooropstel.

Die verhaal handel om Beulah se erfporsie. ‘n Afgestorwe minnaar laat ‘n klomp geld agter, mits sy ‘n minnaar vind wat twintig jaar haar junior is. Daar is dan ‘n verjongingsprogram en met liggaamlike en geestelike manipulasie. Daar is eweneens ‘n nuwe skoonheidseep, Beulah Jasmine, wat internasionaal bekend gestel word. My opsomming laat nie reg geskied aan die plot nie (p. 16). Waarskynlik sal hierdie teks in die hande van Marthinus Basson ‘n interessante en opwindende teaterervaring kan word.

Dalk is hierdie teks op papier gedagteteater, maar in Basson se hande kan ek my voorstel gaan hier wonderlike OTT (over the top) karakters wees. Fourie kan toor met woorde en hy kan wissel tussen hoë en lae registers.

Vanuit ‘n genderperperspektief is dit tersaaklik dat ‘n man hier ‘n vrou skep. In hierdie opsig lewer die drama fassinerende metakommentaar: Beulah is uitgelewer aan die wense van haar oorlede minnaar wat op sy beurt die skepping is van die man, Pieter Fourie.

Fourie se taalspel is heerlik: kunshaarknoetsie byvoorbeeld en die dialoog op bladsy 57 tussen Beulah en matrone is ‘n gil. Indien ek die regissseur sou kon wees, sal Beulah deur ‘n bonkige rugbyspeler vertolk word. Almodóvar, eat your heart out.

Van Pieter Fourie is daar al gesê:

“As dramaturg het veral vier soorte mense in sy skryfwerk belang gestel: die toneelliefhebber, die resensent, die akademikus en die sensor. Met die lojale en entoesiastiese ondersteuning van die toneelliefhebber het hy die ander drie seëvierend oorleef. “ Hierdien wyse woorde is geuiter deur Daniel Hugo wat die huldigingswoord gespreek het met die toekenning van die Hertzogprys aan hierdie dramaturg. ‘n Mens gaan verder akkoord met die stelling dat Fourie aan die begrip volksteater ‘n besondere diepgang gegee het.

Vir die werk van hierdie dramaturg – hy is al vir veertig jaar op die toneel – kan ‘n mens net die hoed lig!

En vir die werk by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees.


Bron:
Pieter Fourie se biografiese besonderhede is beskikbaar by:
Erika Terblanche. LitNet | Pieter Fourie (1940 - ). Litnet.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Monday, February 4, 2013

Wynand Coetzer - Skerpioen (2009)



Wynand Coetzer. SkerpioenLapa uitgewers, 2009. ISBN 978 0 7993 4498 1.

Resensent: Joan Hambidge

Op die buiteblad van hierdie debuut word die boek aangeprys as ‘n juweel van ‘n roman. Iewers het ‘n resensent dit glo met Etienne Leroux vergelyk.

Ons beleef nou ‘n tyd waarin Dana Snyman met Raymond Carver in dieselfde asem genoem word. Twee resensente het alreeds hoog opgegee oor hierdie roman: Skerpioen van Wynand Coetzer en dis waarom ek dit gelees het.

Dit is ‘n roman met ‘n swaar mitologiese ballas wat die storielyn ondermyn eerder as verhelder. Daar is verwysings na die 1001 Nagte, die tarot, Freud, Lilith, Persiese towerspreuke, Die Boek van die Dood, Isis en Osiris, en wat nog. Karakters se name is Siegfried, Nimrod en Anahita. Waar Leroux met ‘n mitologiese verwysing die storie ‘n tweede betekenislaag gee, word die mitologiese stramien hier ‘n belemmering. (Terloops, die toepassing van die tarot op bladsy 260 is foutief.  Afhangend van die ligging van die kaarte tot ander kaarte, en of dit na bo of onderstebo lê,  word betekenis uitgewerk. Dit word dan weer ondermyn deur te beweer dis nie regtig ‘n tarotsessie nie!, 261. En dis dan presies wat hierdie roman doen: dit gebruik kennis, maar sonder ‘n diepgaande toepassing of begrip daarvan. Webwerwe paradeer hier as belangrikste en nie aanvullende bronne. Die tabel agterin bedui dat hierdie roman bedoel is vir iemand wat werklik niks weet nie. Geweet die Weegskaal staan ook bekend as Libra?)

Anahita, die sielkundige, moet die vermeende moordenaar, Nimrod, se lewenstorie aan ons onthul. Natuurlik word die rolle omgeruil en ons beweeg na die sjamanistiese dimensie. Sy is ‘n Boesmanmeisie (sic!) van die Kalahari en verder word die verhaal deur ‘n aanslag onderstreep wat dikwels onverwagse en onbedoelde komiese effekte het.

“As ‘n man ‘n Lamborghini koop. Weet ek hoe hy voel,” argumenteer hy heftig. “Glo my. Ekself is ‘n Ferrari-man. Gee my die pronkende perd…” (30).’n Hond word ingespan om die binnespraak weer te gee, soos onder andere op bladsy 36.

Daar is ‘n bronnelys en etlike erkennings. Kyk hier is gestudeer, hoor! Die cannelloni wat berei word, is glo losweg gebaseer op ‘n resep uit Peter Veldsman se Suid-Afrikaanse Seekos-Banket. En dan? Dink die skrywer iemand gaan na die lees van hierdie boek die resep beproef? As ons J.Hillis Miller se ‘”reading as eating” inspan, moes die skrywer meer aandag gegee het aan die bestanddele in die teks.

Gaan lees eerder Etienne Leroux vir die ragfyne hantering van die mitologie. Of lees Thomas Pynchon vir ‘n behendige hantering van verwysings. Of Ingrid Winterbach vir kostelike vermenging van die sublieme en alledaagse.

“In Afrika se onmeetlike gewesenheid” (369) verneem ons. En ja, die roman lewer kommentaar op die ordentlike man se begeerte na die hoer.

Dit is ‘n roman wat onder ‘n sterker redakteurshand iewers kon kom.

Ek voel om die bos gelei deur die hoogtastende uitsprake van mede-kritici.

Dit is ‘n roman in ‘n drukkoker: te veel, te vinnig.

Daar skuil te veel stories en mites in hierdie boek wat uitasem vertel is.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Peter Ackroyd - Venice: Pure City (2009)



Peter Ackroyd. Venice: Pure CityChatto & Windus, 2009. ISBN 978 0 701 17285 5.

Resensent: Joan Hambidge

Venezia la bella. Die stad van water. Verewig in die kunswerke van Bellini en in Afrikaans (onder andere) in die voortreflike gedig van Sheila Cussons “Verlief in Venesië”. In die film van Nicolas Roeg, Don’t look now (1973) word ‘n parapsigologies waansinnige gegewe uitgespeel teen die ‘back-drop’ van hierdie magistrale stad (met Julie Christie en Donald Sutherland in die hoofrolle) en ja, in vele films (veral James Bond) word daar jaagtonele oor die waters uitgerommel. Dit is ook die stad van Ian McEwan se The comfort of strangers  (1981)– lieflik verfilm met ‘n kamera wat iets bedrukkends van al die stegies maak.

Daar is maar een Peter Ackroyd: voortreflike biograaf (van onder andere T.S. Eliot in 1984) en optekenaar van stede soos Londen en nou Venesië. Dit is ryk studie en in die afdeling “Death in Venice” verwys hy na belangrike skrywers se reaksies op hierdie stad – ‘n mens dink hier aan Thomas Mann en Henry James – en hy beskryf die stad se persoonlikhed as psigopaties en een met hoë angsvlakke (341).

Dit is egter ‘n stad van liminaliteit: een van grense tussen water en land. Ackroyd wys op die peste wat die stad getref, op die mites (soos dat mans wat vroue verkrag het net na sewe dae in die tronk en ‘n geldelike vergoeding weer kon voortgaan; dat hierdie selfde vrouens liefs “vuur”uitgeroep het as “verkragting” ten einde aandag te trek) en verdigsels wat róndom die stad gebou is en steeds in die geheue bly voortleef.

Daar is Marco Polo en sy fantasieë, wat waarskynlik wáár kon wees. Daar is verhale van publieke teregstellings met vars lyke wat weer en weer opgehang word om mense te waarsku teen oortreding: hoogverraad. Dit was 1498. Daar is bloedstollende inligting oor teregstellings en hoe flink daar teen oortreders opgetree is.

Dit is ook ‘n stad van karnaval. En dit is ‘n lewenswyse soos ons aflei uit ‘n brief van Byron. En ons weet ook uit die studies van Bakhtin dat die karnavaleske dui op transformasie en verandering. Soms het dit selfs vir solank as ses maande geduur: onder andere om te vergeet van die bitter koue.  Dit is ‘n tyd van “universal madness” en almal – weens die maskers – is volgens Ackroyd “at liberty”. Die implisiete verband tussen die feestelikheid en die dood by so ‘n karnaval is eweneens relevant. Die karnaval is ook die groot gelykmaker – almal dra maskers en word deel van ‘n soort anonieme broederskap. In ander stede mag die karnaval dalk lei tot opstand en rewolusie. Hier gebeur dit nie, omdat dit mense herinner aan waarom hulle hier kom woon het in die eerste plek.
Glasblasers, akrobate, musikante, noem maar op.

En dobbel, natuurlik. Volgens Ackroyd deel van die psige van The merchants of Venice.
My digbundel Ewebeeld is ten dele hier geskryf, omdat dit ‘n stad is wat soveel verkennings opeis.

“It is a city of doubleness, of reflections within reflections, in every sense” (246).
Niks in hierdie stad het ‘n enkel-betekenis nie. Alles is uitgestel, moeilik dekodeerbaar. Dit is ‘n stad van uitdagings en aggressie. “Wheels within wheels” heet ‘n afdeling. (Daar is ook ‘n mite dat speelkaarte hier begin is en studies oor die tarot verwys na die gypsies as die diewe van die tarocchini.)

Tog is dit ‘n stad wat eerder belangrike tekste gelewer het oor die geografie en hidroliese sisteme. Hier het dit eerder om oorlewing as geleerdheid gegaan as in ander Italiaanse stede (215). Hierom dalk is die humor in hierdie stad dikwels grof en word daar dikwels verwys na uitskot.

(Ishiguru se openingsverhaal in Five stories of Music and nightfall speel ook hier af.)
Peter Ackroyd se ryk geskakeerde studie is ‘n werk waaruit ‘n mens telkens ‘n stelling, ‘n waarneming, ‘n wysheid wil deel maak van jou bespreking; om die waarheid te skryf, sou ek dalk die hele boek moes óórskryf om daaraan reg te laat geskied. So lees dit gerus. Dit is die grootste én mees omvattende boek wat ek hierdie jaar gelees het. Die mooi afdrukke van kunswerke verdien eweneens vermelding.

Ek wil iewers vorentoe met hierdie boek gaan sit op die San Marko. Hierdie ryk geskakeerde studie kos net R450.

Vir my is dit ‘n stad van terug-kaatsing, van self-refleksie, van af-beelding.
 Vanaand gaan ek kyk na Visconti se Morte a Venezia (1971) kyk met Dirk Bogarde.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Dana Snyman - Op die toneel (2009)



Dana Snyman: Op die toneelHuman & Rousseau, 2009. ISBN 978 0 7981 5121 4.

Resensent: Joan Hambidge

Dit is waarskynlik ónnodig om ‘n boek van Dana Snyman te resenseer. Hy het reeds so ‘n groot aanhang met sy stories wat op ‘n onpretensieuse wyse die lotgevalle van die gewone mens opvang. “Die mens is die storie, die storie is die mens”, volstaan die raconteur. Hy kyk na die eenvoudige mens sonder om hulle uit of af te lag en die agterflap praat tereg van die verhale as eerlik en eg.

Toe hierdie leser hom die eerste keer in Beeld ontdek het en daarna sy ontwikkeling meegemaak het, het ek ‘n bietjie my hart vasgehou. Gedink die aandag, bekronings en loftuitinge gaan hom bederf.

Inteendeel. Hy het sy vertellinge al hoe sterker en meer vaartbelyn gemaak. In die nawoord gee die skrywer erkenning aan waar hy stories “geleen” en herskryf het. Twee titels is by onderskeidelik Chris Barnard en J.C. Steyn geskaai. En ja, waarskynlik moet ons dan ook besef dat van die verhale wat ons lees, is al iewers gehoor, gesien en opgeskryf. Die orale teks is allemansgoed. As iemand vir jou ‘n storie vertel en jy skryf hom oor, is dit ‘n ander vertelling as die een wat jy gehoor het. Dit word verwerk deur die skrywer en kry sy eie stempel. Dis soos Boeregrappe wat permutasies beleef van grappe uit Ierland en elders.

In “Groet” ( 9) kom die boeregroet onder die loep. En wat dit alles beteken. En ons lees van Oupa wat taisis in die myn gekry het en een valstandlose nag in 1999 in die plaaslike hospital dood is. Kweek spartel steeds uit die tuinpaadjie en die gevoelige leser sien soms ‘n digter aan die woord.

Die vertellinge is nie essays nie. Hulle wil net stories wees en niks anders nie. Maar jy onthou hulle. Vir die humor, die skerp waarneming, die ingeboude ironie en die lekkerte van lees aan hulle.

“Die lewe is eenvoudig” (157) verduidelik dat die lewe nie eenvoudig is nie.

In “Die dag toe ons agtergekom het dis nie oorlog nie” (49) word ‘n snydende blik gegee op die politieke opposisies in hierdie land, met humor en deernis. Die papegaai kan nie AWB reg uitspreek nie!

Dalk sou ‘n mens Dana Snyman ten beste kon opsom as ‘n beoefenaar van nostalgie en sy beskrywing van ‘n nagmaalfees op Soebatsfontein (135) kan as een van die sterkste voorbeelde hiervan gesien word. 

Hy het hierdie wêreld verlaat, maar hy kan in die fynste besonderheid elke optrede registreer met deernis en hy lag nie hierdie mense uit nie. Hy beskryf alles met erbarming, terwyl hy homself as waarnemer en optekenaar daarstel.

Sonder om kommentaar te lewer, maak hy ‘n Boereoom na wat vra dat die “ou skepsel” moet mooi kyk na alles en juis hierom word die vertelling ‘n skrynende verslag van rassisme én neerbuigendheid.

Hierdie vertelling word meer gelade wanneer dit saamgelees word met “Regstellende aksie” (58) en mense se kommentaar, van binne en buite, hierop. 

Dana Snyman is die optekenaar, ironies, sardonies. Hy skryf tydsdokumente wat vir Jan en Alleman bedoel is.

Alles word beskryf in helder, sober Afrikaans en wanneer hy Engels inspan is dit met woorde soos “sideboard” wat sy plek in die volksmond gekry het. In ‘n verhaal word hy as “kleindominee” aangespreek (43) en wanneer hy met sy pa gesels is daar vergifnis en begrip. Dana Snyman het ‘n natuurlike talent. Sy vertellinge sou ‘n mens as oefeninge in die nostalgie kan beskou, ‘n ewige terugkeer na dit wat nou vir altyd verby is. Maar deur hierdie uit-die-hart-uit stories gee hy ‘n nuwe lewe aan gemoedelike lokale realisme waarop daar al neergesien is. Tereg word daar dikwels gevra en geïmpliseer: wie onthou nog dit of dat?

Dalk doen hy met P.G. du Plessis wat P.G. met Mikro gedoen het? Hulle hou daardie vertellyn lewendig! Soos ‘n plaastelefoon.

‘n Mens mag nie die plek van Jaco Kirsten, Johannes Bakkes en Dana Snyman in ons vertel- en rubriekkultuur onderskat nie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Alice Munro - Too much happiness (2009)



Alice Munro. Too much happinessRandom House, 2009. ISBN 978 0 701 183059.

Resensent:  Joan Hambidge


Beste Alice Munro

Geluk met die Man Booker Internasionale prys wat jy ontvang het vir jou werk. ‘n Bekende uitgewer het op ‘n keer die uitspraak gemaak dat dit onsinnig is om boeke te resenseer wat nie deur buitelandse skrywers verstaan kan word nie. Hy het waarskynlik vergeet dat Afrikaanse lesers wél ingelig wil word oor buitelandse publikasies en dat Engelse skrywers al resensies in vertaling gelees het. Die mag van die internet! Jou werk ontlok lof by jou landgenoot, Margaret Atwood en selfs Jonathan Franzen is gaande oor jou jongste teks, Too much happiness. Jy is ‘n belangrike skrywer en op ‘n kort besoek deur Kanada het ek iets ervaar van die landskap wat jy so dwingend en helder beskryf. Dis waarom ek reis: sodat ‘n mens die land of gemeenskap wat beskryf word, kan knoop aan ‘n baken, hoewel die verbeeldingswêreld van die skrywer uiteindelik die deurslag gee aan ‘n geslaagde of goeie teks. As jy skryf oor die wind in Toronto, weet ek presies wat jy bedoel. Dieselfde geld natuurlik jou beskrywing van Vancouver of hoe mense op taalmisverstande reageer.  Ek lees jy woon in Ontario, naby Lake Huron.

Ek hou van jou kortverhale. Hulle is nie verliteratuurd of vol foefies nie. Jy skryf oor die menslike kondisie op ‘n unieke en aangrypende wyse. Jy kan  by uitstek die dubbelspel tussen mense vasvang soos in “Free radicals” waar ‘n ou vrou gekonfronteer word met ‘n moordenaar; of in “Face” waar die wreedhede van kinders intens beskryf word en die een kind as’t ware die ander een se ellende oorneem deur self-mutilasie. En die pyn van die man in “Wood” is outentiek. 

In jou titelverhaal verwys jy na die mag van fantasie in wiskunde via Sophia Kovaleski.
Jou karakterisering en vermoë om die spreekwoordelike “mense van papier” lewendig te maak, is opvallend. ‘n Mens kan die vet Rus hier sien. En jy klim onder die vel in van ‘n werklike figuur, sowel romanskrywer as wiskundige.  Jy bely hoe jy toevallig op haar lewensverhaal afgekom het toe jy na ander inligting gesoek het! Hierdie stukkie sinkronisiteit – dalk toeval? – bewys weer dat ‘n verhaal op die regte tyd na ‘n skrywer toe kom. Jy beskryf immers die verhouding tussen die twee mense met soveel insig. Dis net ‘n vroueskrywer wat daarop sal wys dat ‘n vet man in die bed ligvoets sal wees, nie waar nie?
Ek skryf hierdie brief net nadat bekend geword het dat ‘n onbekende skrywer bekroon is met die Nobelprys vir letterkunde. Wat maak jy hiervan?

En ja! Jou manier waarop jy kommentaar lewer namens ‘n karakter wat gekonfronteer word met domheid het my laat glimlag: Her ignorance woke a pleasure that melted on his tongue, like a lick of toffee.''

Glo jy regtig dat letterkunde die lewe beter maak soos sommige van jou karakters glo? Of dat romans vir vrouelesers bedoel is?

Jy laat ‘n karakter Heine lees om iets beter te begryp. Op ‘n ander plek vertroos ‘n verdrietige gedig.

Jy maak ook ‘n opmerking oor die waarde van die kortverhaal, ‘n genre wat vele lesers dikwels as minderwaardig beskou, terwyl groot skrywers juis in hierdie kortkuns al by uitnemendheid groot werk gelewer het. Jou kortverhale, soos die genoemde slotverhaal, is eintlik meer as kortverhale. Dit is amper novelles.

Ek het jou die eerste keer in die New Yorker ontdek waar jy beskou word as die Kanadese Tsjekof. Nogal ‘n kompliment: want dit is immers hy wat die bewussynstroom-tegniek begin het en atmosfeer kon skep in sy verhale.

Dit presteer jy ook. In “Deep-holes” analiseer jy spanninge in ‘n gesin en die afbraak van ‘n persoonlikheid. Wanneer hierdie seun toevallig deur sy suster op TV raakgesien word en die moeder weer vir Kent ontmoet, lewer subtiele kommentaar op hoe mense dikwels iets anders wil wees as wat die ouers van hul verwag. Jy laat aan die leser oor om te besluit: was hierdie optrede aanvaarbaar? En so sny jy op jou leser se eie familiegeskiedenis en – herinneringe in.

Daar is immers al tien uitgebreide studies oor jou gedoen én ‘n kritikus het van jou geskryf dat jy soos ‘n goeie adres is; niemand wonder meer oor jou nie.

Jy werk puik met die geheim, of dit wat die vertelling veral in vrouefiksie voortstu. ‘n Mens kan nie help om te wonder wáárom die kamerbediende nie met mense wil praat nie!

Groete,

Joan Hambidge


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]