Showing posts with label Modjaji Books. Show all posts
Showing posts with label Modjaji Books. Show all posts

Tuesday, July 10, 2018

Resensie | Annette Snyckers – Remnants Restante Reste (2018)

Annette Snyckers – Remnants Restante Reste. Modjaji Books, 2018. ISBN: 78-1-928215-59-2
Resensent: Joan Hambidge

In Remnants Restante Reste word daar in drie tale gekyk na die lewe van 'n vrou wat haar waarnemings en emosies weergee. Soms selfs sinesteties.

In Suid-Afrika het Wopko Jensma in twee tale gelyk gedig en vele Afrikaanse digters is al vertaal.

Die bundel handel oor verwantskappe met mense, tale en landskappe. Soos Danie Marais dit stel op die agterblad: “...her place in the family of things and all the conflicting things of family”.

In hierdie bundel beweeg die leser dikwels tussen vertalings van dieselfde gedig en jy moet besluit watter een die meeste met jou praat. Op dieselfde vlak beklemtoon dit ook hoé tale verskil en hoe moeilik dit is om in verskillende tale dieselfde emosie oor te dra.

‘n Sentrale vers binne die bundelopset is “Language lesson” (20) waar die spreker die skoonmoeder se taal moet aanleer sodat sy nader aan haar kan beweeg – sy het immers haar seun lief. Die Duitse weergawe heet “Sprachstunde” (21) (“Meine sprache war nicht die Ihre”) en die twee verse resoneer met Eybers se “Taalles”, ‘n gedig wat ook in drie strofes uitval.

‘n Behendige vers is die pantoem “Writing in the Afternoon (A Pantoum)” op bladsy 64 waarin die digkuns gesien word as ’n paradoks van onthou en vergeet.

Agter hierdie ingehoue verse, skuil daar tog iets. In die Maleisiese versvorm word kwatryne herhaal. Dit beslaan gewoonlik vier stanzas. In die finale stanza word reëls een en drie teruggebring, ofskoon daar afwykings op hierdie reël bestaan.

Waarna sy terugkom, is onthou (remember wat indirek die titel aktiveer).

In ‘n gedig word daar verwys na “oggendstap”, terwyl die Afrikaanse leser eerder oggendwandeling sou verkies (57), ‘n gedig wat eweneens iets van Kirsch aktiveer – “dit ruik na molm en aarde”.

Die mees opvallende aspek van hierdie bundel, naamlik dat die leser bekend gestel word aan die reis tussen tale, is uiteindelik dít waarby ’n mens stilstaan. Olga Kirsch het van haar beste werk in Afrikaans, nie in Engels of Hebreeus nie, gelewer.

’n Herwaardering van Olga Kirsch se oeuvre: Identiteit, moederskap en ballingskap aan die hand van die psigoanalitiese teorieë van onder andere Sigmund Freud, Jacques Lacan en Julia Kristeva deur WFT Minnaar (PhD, UK, 2012) ondersoek al hierdie kwessies sinvol.

Die eerste gedig deur Snyckers (“Tong”, “Tongue”, “Zunge”) aktiveer hierdie probleem van 'n ander tongval. Vir my is die mooistes in Afrikaans, soos “Die blik vol knope” (61), maar 'n Engelse leser verskil van my en beklemtoon hoe belangrik “The Final No” (19) resoneer met die tematiek van die wet-van-die-vader; van vaders wat dogters se tonge simbolies uitsny.

Vir my gevoel is die aanrypendste verse in hierdie bundel in Afrikaans geskryf soos “Klein-Karoo” (52) met die soeke na elders/iewers wat so eindig:

Koel Karookamer
onder riet en balke,
buite die besies,
die bossies, die son –
hierbinne half-lig agter luike,
sing stilte en somer –
die blom van ledemate
ontvou in die soelte.

Die verhouding met die vaderfiguur is ‘n sleutel tot die begryp van die verse. Die vers “Geknip” (14) word ‘n manifestasie van hierdie proses. Die vader, deur die sny van die dogtertjie se hare, tem haar. Sy is die wilde vul en omdat die vader dink dat “klein duiwels” hul tuismaak in die maanhare, snipper hy haar hare. 

Die vertroebelde verhouding tussen digter-dogters en -vaders (’n mens dink hier aan Ingrid Jonker, Sylvia Plath en Anne Sexton), skend die dogter vir ewig. Hierteenoor kan die vader wat meer begrypend en liefdevol is, ook die dogter red van ondergang, soos by Olga Kirsch.

Dit is getemperde verse, sjarmant in hul eenvoud. Met elke herlees, word jy as leser bewus van diep emosies wat onder die verse skuil.

Van sibilante wat sis en spat. Van doodloopgesprekke op ’n doodlooppad ...

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Sunday, August 28, 2016

Isobel Dixon – Bearings (2016)


Isobel Dixon – Bearings. Modjaji Books, 2016. ISBN 978 1 928215 29 5
Resensent: Joan Hambidge

Met Weather Eye, A Fold in the Map en The Tempest Prognosticator het Isobel Dixon haar gevestig as ‘n gerekende digter waaroor hierdie leser al uiters positiewe resensies geskryf het. Haar vierde solo-bundel Bearings is eweneens uitstekend. Dit is ‘n bundel waarin veral die blik van buite en die blik van binne op ‘n uiters oorrompelende wyse saamgedig word. Die digter is woonagtig in Engeland, reis dikwels na verre streke, maar keer ook terug na Suid-Afrika.

Alles in die bundel werk op twee vlakke: die hier versus die nou; onthou teenoor vergeet; lewe en dood – met die digter as dubbelganger, soos beskryf in die sentrale gedig “Doppelgänger” (70) met die motto: “I have doomed to such a dreadful shipwreck: that man is not truly one, but truly two”. Die digter as Jekyll en as Hyde dus. In hierdie besonderse gedig is daar ‘n verwysing na Werner Herzog, die magistrale filmmaker, wat op sy beurt hierdie proses uitstekend verwoord het in sy verbintenis met Klaus Kinski: My Best Fiend.

Die bundel sny vele temas aan soos jeugherinneringe, die dood van ‘n geliefde vader, die reis na Japan of Egipte, en sterk politieke verse soos "Trade Matters" (34) en  "Late Knowledge" waarin die geskiedenis wat ons op skool geleer het, ontluister word (27). "Pickings" (32) verduidelik die titel; ten spyte van al ons grense en drade is die voëls vry ...

"Nouns" (54) skop jou in die maag met sy woordekonomie oor die waansin van oorlog. 'n Stad se brûe sien sy as "twisted synapses"!

Gedigte het sterk mitologiese ladings ("Finsong", 11) en in "Dream Song for John" (13) word hierdie ikoniese digter besing. "A part of Me is Gone" (14) is 'n lykdig, waarin die geliefde vader 'n teenspeler word vir die dogter. 'n Ring wat verloor word in die see in "Treasure" (18) speel in op die Faraos wat dit mag vind! "Pinball Electra" (15) neem standpunt in teen die manlike orde wat vrouens hul stem misgun. Ons vind dan ook skerp beelde in gedigte oor stilte ("don't give me your Easter Island stare", 17). Cleopatra word 'n simbool en teenvoeter vir mans se siening van vroue as onderdanig. In die kort reeks wys die digter op die argetipes van ons lewens waar dominansie so 'n gegewe word dat mense in patrone bly dink en optree. Hierom die toespeling op Gilbert & Gubar se The Madwoman in the Attic (24). Die digter probeer om die gesigslose vrou te word; die gedigte maak egter deure oop vir haar.

In hierdie ryk geskakeerde bundel gee sy kodes waarmee ons die bundel kan ontsluit. Een so 'n leeskode is die trompe l'oeil om die "wondrous and absurd" van die lewe te ontsluit (22).

Die reisgedigte is iets besonders: Egipte, Dubai, Seville, Japan, Jerusalem, Gaza ...

Die bundel bevat ook endnote wat verse met nuwe en sterker implikasies laai soos die gedig “Beyond the fragile geometry” (61) wat verwys na Nicholas Roeg se film Don’t look now (gebaseer op Daphne du Maurier se verhaal). Teks wat skuilhou agter ander tekste. Dixon het ook al meegedoen aan ‘n projek waarin Hitchcock se Psycho saam met mede-digters digterlik verwoord word. Hierdie multi-media-projek heet Psycho Poetica.

In 2013 het sy saamgewerk met die Italiaanse komponis Roberto Rusconi aan Doppelgänger, wat deur  Schubert se Der Doppelgänger geïnspireer is en aan Dark Matters vir De Materia Nigra et Obscura. In 2014 het sy met die komponis Stephen Montague The Brewdog Howls geskep. Dit is tersaaklik vir die lees van hierdie bundel waar gedigte met teenstemme geplaas word in kursief.

J. M. Coetzee en Kylie Thomas (van Open Stellenbosch-faam) prys die bundel aan. Dit is twee verdere asse waarop ons die bundel kan benader: enersyds digterlike beheer; andersyds as sosiale en politieke kommentaar.

'n Digbundel wat in my geheue 'n soort opera word met stemme en teenstemme.

'n Mens ontdek met elke herlees 'n ander dimensie!

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)

Monday, June 29, 2015

Elisa Galgut - The Attribute of Poetry (2015)



Elisa Galgut - The Attribute of Poetry. Modjaji Books, 2015. ISBN 978 1 928215 02 8

Resensent: Joan Hambidge

I
Elisa Galgut is ‘n dosent in filosofie aan die UK. In die begeleidende nota vooraf verduidelik sy die filosoof Spinoza se siening oor die natuur en die tydruimtelike universum se wette. Aan die Natuur het Spinoza oneindige aspekte toegeken; aan die mens slegs twee, te wete ekstensie (die liggaamlike) en die attribuut van denke (ons gedagtes, ons “mind”).  Dalk beweeg die digkuns buite om hierdie beperkinge heen, meen die digter.  Dat dit dalk een van daardie oneindige attribute van die Natuur is wat ons die geleentheid bied om na te dink oor ons lewens.

En dit is dan presies wat hierdie lieflike debuut doen. Dit gaan verby die digotomie tussen die lyflike en die denkwêreld. Dit beweeg in die wêreld van die droom, die fantasie, die mitologiese, begeerte, pyn, liefdesverdriet, die dood.

Elke gedig aktiveer en daag die grense van betekenis uit. Hoe ons met filosofiese sekerhede iets kan weet of verstaan en hoe die gedig met sy epifaniese oomblik elke sekerheid kan uitwis. En nuwe insig kan bied. Verskeie teoretici wat al gskryf het oor digterlike inspirasie en die skryfproses (Julia Kristeva se die chora-gedagte of Jung se argetipes) is weliswaar eensgesind oor een kwessie: die digterlike proses wat sig in woorde manifesteer, kan dikwels nie finaal onder woorde gebring word nie.

II

In hierdie genoeglike debuut word filosofiese konsepte nooit ‘n belemmering vir die digproses nie. Die bundel sluit met ‘n toespeling op Wallace Stevens se digkuns, daardie groot modernis, versekeringsmakelaar en digter, wat in sy sterk verse die paradokse van menswees kon versoen. En altyd bewus was Wallace Stevens van die gewoonheid van ‘n aand in New Haven wat hy op ‘n uiters on-gewone manier kon beskryf.” Not ideas about the thing but the thing itself …” skryf hy immers in ‘n gedig. [1]

In Galgut se slotvers – wat die bundeltitel dra – is daar dus sleutels na haar spesifieke wyse van omgaan met die digterlike onderwerp.

“A chorister  whose C preceded the choir”, skryf Stevens. En dit is presies wat hierdie bundel op verskeie manier doen. Die onnoembare, die onverwoordbare word telkens op ‘n verrassende manier aan bod gebring. “Not a love Poem” (34) beskryf hoe die spreker gelos word.

But loss lies beyond any speaking of it
‘Fuck' will do nicely. (34)

Die gedig representeer die verlies. Die ikonisiteit van die eerste paar reëls stel die ontreddering voor. En dan die effek op die liggaamlike, die skryf van ‘n gedig oor hierdie proses en die lees daarvan in ander se gedigte … met die besef dat die proses buite woorde lê, en hierom sal die vloekwoord genoeg wees. En ironies genoeg het die inhoud van die woord iets anders behels tydens die verhouding.

III

Dit is 'n bundel wat sterk staan in die teken van verlies en herinneringe aan 'n jeug. Aangrypend is die besoek aan 'n hospitaal en meer spesifiek 'n kankersaal wat die purgatorium aktiveer. Die herinnering aan 'n afgestorwe moeder is so helder beskryf in twee treursange: die eerste gebeur in 'n droom, die ander is die besef dat die moeder vir altyd weg is en begrawe is tydens die spreker se afwesigheid. Hierdie twee in memoriam-verse is uitstaande (22, 23). Daar word op verskillende maniere gekyk na "the space that loss created" (15) of die "vocabularies of grief" (20). "The Tyranny of the Past" (20) is gewoon 'n gedig wat daardie pynlike verwerking van die dood van 'n geliefde of kennis akuut verwoord: "since the dead cannot forgive ..." en al die rituele van die verwerkingsproses uitstal.

Filosofiese besinning, die TRC, die holokaust word onder die loep geneem - telkens met 'n verrassende blik of wending. Eurydice praat nou terug ("Eurydice and the TRC", 13).

Maar nie alles is net pynlik of loodswaar nie. Die digter het ook die vermoë om speels met die muse te gesels:

My muse

Likes cupcakes and coffee,
Hates chamomile tea.
Is not crazy about fiction,
But adores poetry ... (32)

Die muse is "resigned and amused" en die skryfproses word al spelende aan die leser voorgestel.

In "The Accuracy of Letters" (35) word die binneskap/buiteskap van die gedig vergestalt aan die hand van Wallace Stevens se bekende artikel opgeneem in The Necessary Angel: Essays on Reality and Imagination en hoe die digter moet soek na die woord wat die realiteit presies kan opvang. Woorde wat deursigtig en duister is terselfdertyd. Hierdie bundel het my dan ook weer teruggeneem na Stevens se digkuns en sy filosofie van en oor die digkuns. Vir die virtuele stapper kan die roete wat Stevens gevolg het van sy huis tot sy kantoor gevolg word op die internet.

'n Skitterende beelddig is "Humphrey Bogart's Cigarette" (31) waar die rook van 'n sigaret gelaai word met vele subtekste: begeerte, identiteit, en, die sterk verbintenis tussen die twee akteurs: Lauren Bacall en Bogart. Hy het haar weliswaar 'n sterk persona gegee - en sy was selfs ná sy dood steeds aan hom verknog en deur hom gedefinieer.

'n Ander goeie beelddig handel oor "Helen Martins" (37) waar Martins se kunswerke as kinders gesien word. Weliswaar van klip en dus doof ...

Vir die speurende leser is daar verwysings na Wittgenstein, Moore, Oscar Wilde, en ander skrywers en filosowe. Derrida se absence/presence-beginsel is ook hier te vinde: die afwesigheid wat juis deur die skryfproses negeer word. Ek lees hierdie kontinentale filosofoof hier in, natuurlik.

IV
Met min woorde, maar met ryk suggestie en toespelings lewer hierdie debuut 'n belangrike bydrae tot die digkuns. Veral die fyn balans tussen filosofie en lewenservaring getuig van 'n sterk digterlike beheer. Inderdaad gee sy ons 'n nuwe blik op die werklikheid.

________________

Not Ideas About the Thing but the Thing Itself
Wallace Stevens

At the earliest ending of winter,
In March, a scrawny cry from outside
Seemed like a sound in his mind.

He knew that he heard it,
A bird’s cry at daylight or before,
In the early March wind

The sun was rising at six,
No longer a battered panache above snow . . .
It would have been outside.

It was not from the vast ventriloquism
Of sleep’s faded papier mâché . . .
The sun was coming from outside.

That scrawny cry—it was
A chorister whose C preceded the choir.
It was part of the colossal sun,

Surrounded by its choral rings,
Still far away. It was like
A new knowledge of reality.