Showing posts with label Margaret Atwood. Show all posts
Showing posts with label Margaret Atwood. Show all posts

Wednesday, March 6, 2013

Margaret Atwood - Oryx and Crake (2003)



Margaret Atwood. Oryx and Crake. Bloomsbury, 2003. ISBN: 0 7475 6259 8.

Resensent: Joan Hambidge

Die Kanadese skrywer, Margaret Atwood is ‘n gesiene romanskrywer en ‘n behendige digter. Bekroon met die Booker-, Giller-, Premio Mondello-pryse het sy veral met Cat’s eye, Alias Grace and The blind assassin respek afgedwing as ‘n groot romanskrywer buite Kanada.

Die Giller-prys, wat ‘n soort Kanadese Hertzogprys is, besing ook haar statuur. As digter skryf sy dikwels intellektueel-afstandelike verse en sommige van haar romans word dikwels ook as te bloedloos en afstandelik beskou. Maar wanneer sy op haar beste is, soos in Cat’s eye, is daar volstrekte beheer tussen emosie en intellek. Die impak van daardie roman het sy waarskynlik nooit weer ge-ewenaar nie: hoe jou obsessie met ‘n jeuginsident en –vriend jou lewenslank kan wond, sonder die medewete van daardie persoon en wanneer die uiteindelike konfrontasie plaasvind, is die oomblik van regstelling en vergelding ‘n anti-klimaks.

Die jongste, Oryx and Crake speel in op The handmaid’s tale, ‘n futuristiese roman. Die verteller Snowman (oftewel, Jimmy), slaap in ‘n boom en treur oor die dood van sy vriende Oryx en Crake. Hy is besig om dood te gaan van die honger in ‘n ruimte van ‘pigoons’ en ‘wolvogs’. Crake was aan beheer van die Paradice Projek en die leser word langsamerhand ingelig oor die redes vir die uitsiglose bestaan.

Die verhaal gebruik die kodes van die science fiction-verhaal, naamlik die vreemd-bekende agtergrond, dikwels ‘n kataklismiese probleem wat opgelos moet word, die stryd tussen goed en kwaad, karakters wat herkenbare mense is, maar wat ook eienskappe van die bo-aardse of parapsigologiese dimensies vertoon.

Die roman is gelaai met ironiese toespelings: Jimmy en Crake het in hulle jeug ‘n komputer-speletjie soos “Kwiktime Osama” gespeel en na eksplisiete seksorgies op televisie gekyk. Die roman wil dus kommentaar lewer op die verval wat in ‘n gemeenskap kan plaasvind wanneer waardes onder verdenking geplaas word. Ook het Crake na die Watson-Crick kollege gegaan waar hy ‘n top bio-ingenieur geword het. (Ons vind byvoorbeeld in hierdie roman transgeneriese diere soos ‘pigoons’ en ‘wolvogs’). ‘n Vreemde speletjie, “Extinctathon” handel oor uitgestorwe plante en diere (‘n soort waarskuwing oor wat mense kan regkry) en bekende bakens uit ons tyd is dan ook uitgewis (soos die Taj Mahal, die Empire State…)

Ook vir studies voltooi aan die Martha Graham-kollege.

Ons lees ook van BlyssPlus wat die gebruiker teen enige vorm van seksueel-oordraagbare siektes sal beskerm, jou libido sal opwerk en ook ewige jeug sal verseker (p. 294). CorpSeCorps en ander vreemde name dui ook op waarmee die skrywer die hele tyd die gegewe wil laai met simboliese betekenis.

Wie of wat is Oryx?

Hulle het haar in hul jeug ontmoet toe hulle na ‘n program oor seks-slawe gekyk het. Ook hierdie beskrywings is grensoorskrydend, omdat die roman as sodanig kommentaar wil lewer oor die gevolge van morele verval en dat ons in ‘n tyd van kloning en generiese eksperimente ons eie posisie op hierdie planeet aantas. Soos in The handmaid’s tale is Atwood besig met skerp sosiale kommentaar.

Ook die binnespraak van die karakters – soos wanneer sy Oryx aan die woord stel binne die opset van die seksslawerny – word oortuigend gedoen.  Sy kry dit ook reg om haar verskillende karakters ‘anders’ te laat klink.

Ook die rekenaarbeheerde foto wil iets van hierdie dimensie verklap tussen dit wat ons herken en dit wat buite ons reikwydte of kennisveld lê.  As ‘n mens na verskillende weergawes van hierdie voorblad op die internet kyk, is dit duidelik dat dit ook ‘n rekenaar-foto van ‘n jong Margaret Atwood kan wees.

In die erkeningswoord gee Atwood vir die speurende leser belangrike inligting rondom die ontstaan van die roman: Virginia Woolf se To the lighthouse het ingespeel op die roman en Anne Carson se The beauty of the husband. ‘n Skatpligtigheid aan Beckett word ook bely en die eksperimente met woorde dui hierop.

Dit is ‘n roman wat aanvanklik ‘n leesweerstand bied, maar nadat ‘n mens ingetrek raak by die verhaalgegewe - ‘n meesleurende, onruswekkende storie -  is ‘n mens nogmaals uiters geïmponeer met die werk van hierdie produktiewe èn belangrike skrywer.

Met hierdie roman sluit sy by die utopia/distopia-debat aan.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Saturday, February 16, 2013

Margaret Atwood - The tent (2005)



Margaret Atwood. The tentBloomsbury, 2005. ISBN 07475 8225 4.

Joan Hambidge

Die bekende roman- en kortverhaalskrywer A.S. Byatt het ‘n klein boekie gepubliseer The djinn in the nightingale’s eye (Vintage, Londen, uitgegee in 1995) wat sterk herinner aan Margaret Atwood, digter en romanskrywer,  se jongste bundeltjie essays The tent

Dieselfde in formaat, met ‘n boeklintjie op die koop toe èn in hardeband. By Byatt is die verhale klein-metatekste wat verstommende insigte bied op haar skryfkuns; Atwood se essays wil bykans dieselfde soort kommentaar lewer. Dit tree ook in gesprek met haar vorige publikasie Good bones (1992).

Die ‘verhaaltjies’ in die jongste is kort-kort flitse, flenter verhale; dikwels met ‘n skop in die leser se gat of ‘n ironiese wending wanneer die skrywer kwansuis maak asof sy jonger skrywers goedgesind is en presies die teenoorgestelde dan blyk uit die slotakkoord. Lees ‘n mens hierdie boekie saam met The djinn in the nightingale’s eye, verraai die boekies sekere argetipiese patrone oor die ouerwordende skrywer. Hoe werk inspirasie; wat is die verhouding met jou familie (by Byatt ken ons die troebel geskiedenis tussen haar en suster Margaret Drabble); die eise wat beroemdheid stel, ensomeer. By Atwood is daar ‘n stywe skeut sinisme en satire te bespeur in die jongste teks, terwyl die metarefleksies by Byatt opvallend is. Op die koop toe word argetipiese patrone vir die leser openbaar, asof jy besig is om ‘n tarot-lesing te maak.

In “Take charge” is hierdie genotvolle stuk te lees oor die invloed van moderne tegnologie op ons lewens:

Sir, their diabolical worm virus has infected our missile command system. It’s eating the software like candy.
Don’t just lounge there, you dickhead! Get going with the firewalls, or whatever you use.
Sir, I’m a screen monitor, not a troubleshooter.
Shit in a bucket, what do they think we’re running here, a beauty parlour? If you can’t do it, where’s the nerdy-faced geek who can?  (p. 94)

In “Something has happened” word ‘n bykans melancholiese soeke na stilte verhaal, bykans asof dit ‘n gedig is. Miskien is dit nie die wêreld wat stil geword het nie, maar ons wat net gewoon doof is. Hierdie tema is terloops ook kenmerkend van haar oorrompelende digkuns.

En die titelverhaaltjie beskryf die tent wat van papier gemaak is. Haar analise oor die van belang van grafomania, ten spyte van die feit dat die tent metafories aan die brand kan slaan, moet gelees word deur veral diegene wat nie ‘n obsessie met skryf kan begryp nie. Of meen hulle is in die teks. Daar bestaan min tekste wat so indringend en bondig skryf oor die skrywer se ambivalente gevoel oor skryf: dat dit soos kers verhit, maar ook die tent kan laat brand. En die skryfdaad is beslis nie ‘n “armour” nie.  Juis dit sou die grootste illusie wees...

Wat aangrypend is “But it could still” waarin al die leuens oor die lewe (waarin ons moet glo ten einde te kan oorleef) afgeskil word...

Die leser moet maar self besluit of daar lewe na die Booker-prys is. Atwood, ‘n gesogte digter, het dit vir haar roman The Blind Assassin in 2000 verower en haar roman daarna, Oryx and Crake was om die minste te sê, nie vir my ‘n plesierige leeservaring nie.

Enkele van hierdie stories-cum-essays-cum-besielings sal altyd by my bly spook.

En oor skryfkompetisie?

“Fish are not the rivals of stones”, meen sy.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Friday, February 8, 2013

Margaret Atwood - Moral Disorder (2006)



Margaret Atwood. Moral Disorder. Bloomsbury, 2006. ISBN 07475 8162 2.

Resensent: Joan Hambidge

Margaret Atwood is die grande dame van die Kanadese letterkunde. Sy is voortreflike digter, uitstaande romanskrywer, gesogte kritikus en essayis. Haar romans – vanaf Cat’s eye tot The Blind Assassin (bekroon met die Booker) en Oryx and Crake – is bakens binne die Engelse letterkunde. Daar is gevoel dat sy vir die verkeerde roman bekroon is met die belangrike Booker-prys. Feit is, Atwood is soos Salman Rushdie: jy kan gewoon die Engelse letterkunde in al haar koloniale en post-koloniale gedaantes nie sonder hulle voorstel nie.

Die jongste roman heet Moral Disorder wat bestaan uit ‘n reeks kortverhale of stories wat ook as ‘n “roman” gelees kan word. Nou onlangs het Harry Kalmer se Groceries , ‘n versameling kortverhale, gepubliseer waarin die verhale eweneens inspeel op mekaar.

Sedert die sestigerjare het veral Amerikaanse skrywers begin eksperimenteer met kortverhale wat as aparte entiteite gelees kan word (Richard Brautigan o.a.), maar wat binne ‘n ander verband as ‘n roman getipeer kan word.

In Afrikaans het Chris Barnard se Duiwel-in-die-bos elemente van hierdie spel vertoon waar verhale kodes oordra na volgende verhale – die sogenaamde “eenheidsbundel” dan, ‘n voorloper van die postmodernistiese roman.

In Moral Disorder word elf verhale saamgesnoer.  In die uitgewersnota word die beeld van ‘n foto-album gebruik om die roman se aard op te som. Hierdie komplekse versameling waarin die toevallige oomblik en die geposeerde moment vasgevang word, is ‘n tersaaklike beskrywing vir hierdie boek. Daar is al veel geteoretiseer oor foto’s en die betekenisse van die medium. ‘n Mens dink aan Roland Barthes se konsep van die pinktum of punt van die verhaal; of Sontag se On Photography waarin sy die moraliteit van die foto bespreek: hoé regverdigbaar is dit om iemand sonder sy wete af te neem? Die  voorblad intimeer dat dieselfde persoon met verskillende klere ‘n ander rol vertolk.

Vir die skrywer is dit ‘n relevante vraag: mag private oomblikke in verhale gekaap of vasgevang word?

In “The Art of Cooking and Serving”  word ‘n verhouding tussen moeder en dogter geanaliseer.  Die kind se opstand teen die moeder – wat in geweld uitloop – het sowel skokkende selfontdekking tot gevolg as ‘n paradoksale bevryding tot gevolg.

Atwood gebruik hierdie intiem-vroulike aspek van die kombuis en laai dit met feministiese bevryding: die wegbreek van die konvensionele rol wat beteken dat die kind die moeder se rol moet kritiseer. Terselfdertyd verloor die dogter iets in haar kritiek op die moederfiguur. Atwood neem nooit ‘n “politieke” stelling in nie; sy plaas mense in komplekse lewensituasies waarin keuses, na watter kant toe, pynlike gevolge inhou.

Daar is min skrywers wat jeugervarings en die sadisme van kinders so goed kan verbeeld as Atwood (“The headless horseman”). Haar aangrypendste roman in my boeke bly Cat’s eye (1988) , die verhaal van Elaine Risley, ‘n suksesvolle skilder wat vyftigjaar oud is, terugkeer na Toronto en met jaar jeug wil vrede maak. ‘n Retrospektiewe uitstalling in die galery, Sub-versions, neem die leser na ‘n ander proses wat onder die oppervlakte skuilhou, te wete die emosionele leed wat sy aangedoen is as kind deur drie ander dogtertjies, by name veral deur Cordelia. Atwood analiseer die lewens van kinders tussen agt en twaalf op ‘n onthutsende wyse, maar veral wys sy vir die leser hoe onbetroubaar ons geheue is en hoe ons dikwels lewenslank letsels dra van dit wat ons meen ander aan ons gedoen het.

In ‘n onthutsende analise van die huwelik en die effek van skisofrenie, of  ‘n dergelike afwyking, van ‘n kind, word meesterlik geanaliseer in “White horse”.

Haar oog vir die kleinste besonderhede waarin ‘n huis beskryf word (“The entities”) speel in op die leser se begrip van wat gebeur tussen twee mense se verblyf en vertrek uit ‘n huis en die aanwesigheid van “spoke” of entities.

Hier word ‘n soort sardoniese humor ingebou: die huis kan met sy “entities” geadverteer word as ‘n bate.

By Atwood is daar nooit ‘n maklike oplossing nie. “The Labrador Fiasco” eindig soos volg:

“We’ll be fine,’ he says, but he sounds dubious. He doesn’t trust me, and he is right” (p. 231). 

Die vertellinge gee ‘n chronologiese ontwikkeling weer: van jonk wees tot ouerword met ‘n kind wat haar moeder se foto-album deurblaai om agter die kap van ‘n emosionele byl te kom (“The boys at the lab”):

“My mother loves happy endings. Earlier in her life – earlier in my life – any story that didn’t have such an ending was shelved by her as quickly as possible. I try not to repeat any of the sad stories” (p. 246). Dikwels met die wete dat die verhaal tussen foto’s lê.

Grepe, momente, vinjette uit Nell se lewe (met haar teenspeler Tig) vorm die basis van die elftal verhale. Ook dit wat uitgelaat word, moet die leser invul. Vir my persoonlik is die jeugervarings die sterkste, omdat Atwood ‘n métier het om die psige van die kind, in sy volledige skuldige onskuld, weer te gee.

Atwood is ‘n uiters produktiewe skrywer, vertaal in ander tale, bekroon in Kanada, Engeland en in Italië.

Sy erken in die nawoord dat Graeme Gibson, haar lewensmaat, ‘n roman begin het met die titel en dit aan haar geskenk het! Hoe sou sy onvoltooide roman daar uitsien?, wonder ‘n mens. En hier, meen ek, lê ‘n ander verhaal opgesluit oor die verhouding tussen twee kreatiewe persone wat saamleef en die een wat ‘n titel (boedel oorgee?) oorhandig aan die meer bekende en suksesvolle skrywer.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]