Showing posts with label Cate Blanchett. Show all posts
Showing posts with label Cate Blanchett. Show all posts

Wednesday, December 16, 2015

Filmresensie: Joan Hambidge skryf oor Carol (2015)

Rooney Mara & Cate Blanchett

Met Cate Blanchett, Rooney Mara, Sarah Paulson, Kyle Chandler. Regisseur: Todd Haynes

Die film Carol, bekwaam geregisseer deur Todd Haynes, ondersoek die liefde tussen vroue. Die film is oor 'n periode van elf jaar geskiet.

Britte en Amerikaners het hierdie projek saam ontwikkel. Vicki Christina Barcelona en Julia is intertekste.

Vir ons doeleindes: Cate Blanchett is hier. Een van daardie vroue met 'n vreemde skoonheid, wat aberrasie goed kan vertolk soos in Woody Allen se Blue Jasmine.

Die ontmoeting tussen twee vroue, Carol en Therese, vind plaas in 'n speelgoedwinkel wanneer Carol (Blanchett) vir haar dogtertjie 'n pop wil koop vir Kersfees. Die winkelmeisie stel 'n treinstel voor.

'n Lesbiese verhouding ontwikkel tussen haar en die jonger Therese, wat haar agtergelate handskoene terugbesorg.

Dis New York in die vyftigerjare. Kerstyd. 'n Ryk, welvarende vrou wat 'n jonger meisie se lesbiese aard ontdek. Dis 'n film van ambivalensie. Carol se vorige verhouding met 'n vrou maak haar man jaloers. Hulle staan op skei. Die man ontsien nie vuilspel wanneer hy 'n speurder aanstel (wat poseer as 'n verkoopsman) om hulle te agtervolg op 'n ontvlugtingsreis wég van NY nie. Daar is 'n eertydse minnares wat biegmoeder en redder speel.

Die film werk met heteroseksuele eise ('n huwelik met 'n kind wat die pion word in die slordige skaakspel), psigoterapie (Carol moet "genees" word), paranoia, Eisenhower praat op 'n tv-skerm, die leuen van huweliksgeluk, rykdom versus armoede en verleiding versus samespel.

Carol is die klassieke lipstiek dyke, 'n mooi vrou wat lesbies is, maar vasgevang is in 'n hetero-wêreld en ten slotte in 'n prokureurskantoor weier om teen haar grein in keuses te maak. Therese promoveer van winkelassistente tot fotograaf. 

Die storie is maar ylerig, Toegegee, dit wil 'n bepaalde periode vasvang en die kostuums en periodestukke is perfek nagevors. Van 'n haarstyl tot 'n kamera. (Therese neem graag foto's van haar geliefde Carol.)

Maar wát dit werklik 'n voortreflike rolprent maak, is in die spel tussen die vroue. Blanchett en Rooney Mara speel uitstekend as die twee geliefdes. Die jonger vrou ontwikkel van 'n meisie sonder agentskap tot een wat haar lewe beheer en 'n besluit kan neem. En die bordjies verhang. Blanchett se oë, haar stemspel en hoe sy rook, vertel alles van haar karakter.

Die sekstonele is nogal eksplisiet en dis meer as 'n gekafoefel in die donker. Is hier werklik gewoeps op die stel of nie, soos daar beweer word oor Don't look now?

En die mans, aan beide kante, staan magteloos voor die vroue se verbintenis met mekaar.
Dis 'n film wat lank na die kyk daarvan 'n mens bybly oor die pyn wat mense ervaar wanneer die samelewing sterker word as die private begeertes.

Daar is beweging tússen ordes; goed gesimboliseer deur daardie treinstelletjie in die speelgoedwinkel.

En kyk in watter dorp is die motelkamer!


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Die Burger)

Sunday, April 27, 2014

Woody Allen: Blue Jasmine en A street car named desire


Cate Blanchett is bekroon met 'n Oscar en Bafta vir haar uitstaande spel in Blue Jasmine. Haar voortreflike vertolking van die verloopte Jasmine French, vernoem na die blom wat na middernag blom, is een van Woody Allen se allerbeste films. Dit vertel die verhaal van Jasmine wat na die dood (en bankrotskap) van haar man, San Francisco toe vertrek om by haar suster Ginger (vertolk deur Sally Hawkins) tydelik oor te staan. Hier ontvou haar grimmige verlede: haar man, Hal (vertolk deur Alec Baldwin) is weens bedrog tronk toe en die bestaan in Park Avenue, New York word verruil vir 'n troostelose bestaan in San Francisco. Sy is verslaaf aan pille, alkohol en praat met haarself. Dit blyk dat sy 'n senu-ineenstorting beleef het na die tuimeling van haar man, wat in die tronk selfmoord pleeg. In 'n briljante toneel verduidelik sy hoe hy dood is: en dat hy homself opgehang het in die tronk en dat sy nek gebreek het. Sy ken die grusame besonderhede van sy selfdood.

Met Woody Allen se bekende satiriese aanslag is daar baie snaakse momente: 'n toneel waar die tandarts haar teister (en vertel dat 'n mens se tande jou persoonlikheid verraai) en Ginger se nuwe "loser boyfriend", soos sy hom beskryf, vertel vir Jasmine presies wie sy is. Sy ontmoet op 'n party 'n nuwe man, 'n diplomaat (Peter Sarsgaard), wie se vrou oorlede is en in sy nuutgevonde liefling 'n toekoms sien. Alles sou uitgewerk het vir Jasmine, wat nie eintlik heeltemal lieg nie, maar net halwe waarhede vertel. Sy word ontmasker deur Ginger se eksman, Augie (Andrew Dice Clay) wat haar voor die diplomaat beskuldig dat sy hom en sy eksvrou beroof het van die geld wat hulle met 'n lotery gewen het. Jasmine se toekoms is daarmee heen en die kyker beleef 'n pynlike toneel met haar stiefseun (eens trots op sy vader en aan Harvard studeer) wat haar kwalik neem vir sy vader se dood. Inderdaad so. Sy het in jaloerse woede die FBI gekontak en van sy bedrogskemas ingelig. Hy word dan op straat in hegtenis geneem en die hele kaartehuis tuimel inmekaar.

Die verlede word in terugflitse vertel en die "down and out" Jasmine werk by 'n tandarts, maar wil graag 'n "interior decorator" word. Die film lewer skerp kommentaar op die leegheid van 'n rykmansbestaan.

Haar selfverloëning duur egter voort. Sy erken nie aan Ginger dat die verhouding met die diplomaat verby is nie. Sy vertel dat sy op pad Wenen toe is en dat haar tasse gehaal sal word, terwyl Ginger (dronk en giggelend) met die "grease monkey" op die rusbank sit en vry.

Jonathan Rhys Meyers in Match Point. Die film se eksplorasie van die noodlot word hier suggereer deur Dostojwski.

In 'n navrante slot sien ons  'n troostelose Jasmine - sonder grimering - wat met haarself eers met 'n vrou praat, wat wegstap en dan met haarself. Uiteindelik spreek sy ons, die kykers toe. Ons is die getuies van hierdie drama soos in Matchpoint waar Allen selfs Sofokles byhaal oor die menslike lot, om die moord te verduidelik.

Die film se briljantheid is egter geleë in ander intertekste of dan buite-tekste, te wete Blanchett se vertolking van Blance DuBois uit A streetcar named desire in Sydney (in 2008) en die toespelings op Tennessee Williams se gelyknamige voortreflike drama. Baldwin het in 1992 die rol van Stanley Kowalski op Broadway vertolk. Sy rol in hierdie film word eweneens gelaai met sy slopende egskeidingsdrama met Kim Bassinger en 'n vreemde insident van teistering deur 'n Kanadese aktrise, Genevieve Sabourin.

Vivien Leigh (Blanche DuBois) en Marlon Brandon (Stanley Kowalski)

In die Elia Kazan-film, met Marlon Brandon as Blanche se anatagonis, word die kyker meegesleur in die stadige ontknoping en verwoesting van Blanche, vertolk deur Vivien Leigh. Hierdie film was vir 12 Oscars benoem indertyd en bly steeds 'n uitstaande film, 'n film wat Williams as uitmuntende dramaturg gevestig het.

Blue Jasmine begin met 'n jazz-deuntjie wat al klaar 'n duidelike kode is dat Allen inspeel op 'n klassieke teks. A streetcar named desire se musiek aan die begin is bykans bedreigend.  Jasmine (eintlik Jeanette) is vernoem na 'n blom en in San Francisco is daar kleurryke blomme in die diplomaat, Dwight, se huis. (Blanche noem haarself ‘n lenteboord…) So word haar troostelose bestaan by haar suster in opposisie geplaas met die lewe waarvoor hy staan. Hy beloof haar 'n nuwe lewe in Wenen met sjokoladekoek en weelde. Blanche hou van operettes.  In Allen se film is die mans van Jasmine se suster "losers": sowel Augie as Chili vertel Jasmine haar fortuin. Augie vervul die funksie van Kowalski wanneer hy haar ontmasker voor 'n juwelierswinkel waar sy 'n verloofring uitsoek met haar nuutgevonde geliefde.  In beide films is die verhouding tussen die susters van sentrale belang: Stella verlaat Kowalski nadat hy Blanche ontmasker en vernietig het en Jasmine se suster vergeef haar vir die ellendes wat hulle deurgemaak het ná die verlies aan geld. Boonop vertel sy nie haar suster van haar man se ontrouheid nie; 'n vriendin is die een wat dit doen en sy eie nalatigheid laat hom in die pekel beland. Hy vergeet sy Rolex in 'n hotelkamer in Parys en die hotel bel terug en so vind sy vrou uit van sy ontrouheid.

Sy is Jasmine French: hoe ironies dat haar man haar in Frankryk verneuk het met 'n au père en tipies in Allen se dekonstruktiewe aard is daar 'n liedjie waarin besondere vrot Frans gesing word. A good man is hard to find.

In 'n stadium bely sy teen die einde van die rolprent het sy die woorde van Blue moon geken, die liedjie waarmee Hal haar oorrompel het. Haar lot sal uiteindelik dieselfde wees as Blanche DuBois s'n: "I've always depended on the kindness of strangers".

Allen se film lewer skerp kommentaar op materialisme, maar veral op selfbedrog.  Dalk dat gierigheid lei tot selfbedrog? Stanley Kowalski se aftakeling van Blanche het juis te make met sy woedebui, omdat hy vermoed Blanche het haar suster uit die familie-erfporsie verneuk, en die helfte volgens hom as haar eggenoot in New Orleans, kom hóm toe.

Die tragedie in Matchpoint het ook te make met gierigheid: Chris wil nie die nuutgevonde rykmanslewe versaak nie en hierom vermoor hy sy swanger geliefde wat in sy pad na sukses staan. Streetcar en Blue Jasmine lewer felle sosiale kommentaar op mense se posisies in 'n samelewing.

Beide films werk met Franse pretensie. Die verlore huis in Streetcar heet Belle Reve en met elke herkyk doen vele intertekste op soos die Dame van die Kamelias. Albei vrouens se lewens ontaard in nagmerries. Allen gebruik musiek wat inspeel op Kazan se film.

*


Blue Jasmine het eweneens kritiek ontlok, om 'n verdere buite-teks aan te stip,  van Mia Farrow se dogter wat akteurs die verwyt gemaak het dat hulle in 'n rolprent van Allen optree, 'n persoon wat transgressief is en van molestering aangekla is.  Blanchett het haarself goed verdedig. Sy het die hoop uitgespreek dat die familie, wat al soveel ellende beleef het, hul verskille sal uitsorteer.

Woody Allen se film is gelaai met sub-tekste: Baldwin se komplekse geskiedenis met sy eksvrou en natuurlik sy eie troebel verhouding met Mia Farrow speel 'n rol in ons vertolking van hierdie film wat ek al vier keer gekyk het. (Matchpoint al ses keer. Dit bly waarskynlik se Allen allerbeste in jare.) Van 1947 (toe dit as teaterstuk opgevoer is) tot nou beleef ons ‘n boeiende gesprek tussen die tekste. Eweneens is daar Pedro Almodóvar se All about my mother (1999) wat ook praat met Blanche, die verloopte Southern Belle, wat verlief was op ‘n jong seun en haar waansin en alkoholisme probeer besweer in die Elisian Avenue in New Orleans.

Daar is geen buite-teks, het Derrida opgemerk. Daar is nét buite-tekste, illustreer Woody Allen.