Showing posts with label P.J. Haasbroek. Show all posts
Showing posts with label P.J. Haasbroek. Show all posts

Sunday, February 3, 2013

P.J. Haasbroek - Die ander vennoot (2009)



P.J. Haasbroek. Die ander vennoot. Human & Rousseau, 2009. ISBN 978 0 7981 5041 5.

Resensent: Joan Hambidge


Op pad terug van Johannesburg sit ek langs Germiena Groenblaar, die bekende feminis. Sy lees P.J. Haasbroek se Die ander vennoot.

Ek is sopas klaar daarmee.

“Wat dink jy hiervan?”, vra sy.
“Haasbroek se boek val in  drie dele uiteen. Anders as Patrick White se The solid mandala. Die storie van Herklaas Pretorius en John Heckrodt, in die ou Suidwes. Stories oor ‘n beesplaas, mooi beskrywings van die natuur, ‘n ametismyn en safaris. Dan ‘n beskrywing van die ”struggle”-jare en hulle entrepreneurskap. En ‘n blik op geweld en swart ekonomiese bemagtiging.”

“Ja,” sê Germiena,” die man kan die natuur raak beskryf. Hy weet kennelik baie van die veld. Maar vaderland, moet ons lees van presies hoe hy sy karakter van ‘n sweetpak laat ontslae raak en ‘n vrou bydam? Of  hoe ‘n hings ‘n merrie bestyg?”

“Kyk, Germiena. As ons Antjie Krog en ander vroue se lyflike details mag beleef, kan ons sekerlik ook die macho-blik verduur, nie waar nie?”

“Ja, die maskuliene-aanslag het waarskynlik sy plek in die letterkunde, maar wil ek lees van ‘die verpleegster met die tollende tiete’, soos John ‘n vrou noem op bladsy 222? Of die manlike geslagsorgaan as ‘n soldaat ervaar?”

Ons sitplekgordels is nou al vas.

“Germiena, ek hoor jou. Maar dis hoe sulke karakters dink en praat. Kyk byvoorbeeld na die feit dat die karakter as Pretorius droom van Martia en nie as Herklaas nie. Dis ‘n boek vir die manne dié. Jy sien dit in vele vinjette: die braai van ‘n koedoefillet op gloeiende kole. Met ‘n dik sny bruinbrood en botter smaak dit vir hom lekkerder as enige biefstuk in ‘n snobrestaurant in Pretoria. Daar word baie gesmul en brandewyn gedrink in hierdie boek.”

“Ja. En die manlike blik op die vrou in die gimnasium. Ons het beslis ‘n ‘male gaze’ hier.”

“Dis ‘n boek wat kommentaar lewer op geldmaak: ek dink jy moet dit lees saam met
Carel van der Merwe se Geldwolf / Shark en Jaco Kirsten se Om na ‘n wit plafon te staar. Dan kry ‘n beter prentjie op ekonomie en die kommentaar op swart bemagtiging wat die roman wil maak, Germiena.”

“Ja, die negatiewe kommentaar op Tswane in die derde afdeling bevestig dit. Plaasmoorde. Geweld. Gierigheid. Diefstalle.”

“Haasbroek was op sy dag ekonoom, jy sien. Maar hy is ook ‘n closet digter. Sy Heupvuur, ‘n kortverhaalbundel, werk met kragtige metafore.”

“Wat probeer jy sê, dat hy eerder kortverhale moet skryf?”

“Daar was al drie romans vantevore. Hy het ‘n langasem. Dit gaan eerder of die tema van die politiek en ekonomie vir die leser boeiend is. Soos verkies jy Moby Dick bo Fear of flying.” Die lugwaardin bedien koffie. Dis nog te vroeg vir polisiekoffie.

“En is daar intertekste?”

“O ja vele. Herakles, die seun van Zeus, wat deur koning Euristheus twaalf onmoontlike take opgelê is. En jy as leser moet dan hierdie verwysingsknoop maak en besef Herakles speel in op Herklaas. En daar is toespelings op James Bond, jy weet. Diamante wat gesteel word deur ‘n boef. Martia verwys na “Oktobermaand, die mooiste aand”’. Gaan kyk net wat alles gebeur op bladsy 304. Dorslandtrekkers. My boek sit vol donkie-ore.”

“En die Moldau wat soos ‘n rivier vloei – wat weer inspeel op die Kunene en die Gariep.”

“Germiena, wat maak jy van die slot? Dit is oop, verskillende interpretasies is hier moontlik.”

“Ek het iewers gelees dit het die AfrikanerBond-prys gewen.”

“Dit is die 300 jaar Africander-prys. Die skrywer het glo verkies om dit nie op die agterblad te vermeld nie.”

“Hoekom nie?”

“Glo om polities gevoelige lesers nie af te skrik nie, Germiena.”

“Ja, wat ‘n karakter sê – ek dink aan die raspejoratief van ‘n karakter in ‘n toilet – kan seker nie op ‘n outeur se rekening gesit word nie. Of kan dit?”

“Germiena, gun elke diertjie syn ou plesiertjie. Die werklike skrywer skep karakters hier wat hul blik gee op die oorgang van die ou Suid-Afrika na die nuwe Suid-Afrika.

Van Suidwes na Namibië.”

“Ken jy die woorde van die Suidwes-lied?”

“Germiena, ons gaan binnekort land.”

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Thursday, January 31, 2013

P.J. Haasbroek - Kruispunt (2010)



P.J. Haasbroek. Kruispunt. Human & Rousseau, 2010.

Resensent: Joan Hambidge

Die skrywer P.J. Haasbroek het veral as kortverhaalskrywer ‘n besondere bydrae gelewer binne die Afrikaanse letterkunde. ‘n Mens dink hier in die besonder aan bundels soos Heupvuur (wat bekroon is met die Eugène Marais-prys) en Roofvis. Aan sy romans het hierdie leser min erg. Die verhale is uitgesponne en die simboliek dikwels te swaar vir die teks. Maar dit is ‘n persoonlike voorkeur en lees is ten minste ook gekoppel aan persoonlike smaak.

Maar sy kortverhale. Dit is nou werklik iets besonders. Haasbroek vermag in die korter kortverhaal iets magies en dit is asof hy in ‘n bykans poëtiese sfeer inbeweeg en die tegelykertyd-aspek van die gedig laat gebeur. In die openingsverhaal van sy jongste bundel met die titel Kruispunt word ‘n jong seun se ervaring van stereotipering en verlies aan onskuld so netjies saam-vertel dat ‘n mens met elke herlesing ‘n nuwe interpretasie-moontlikheid terugvind in die verhaal. Dit heet “Ahmo se perd” en word geplaas naby die Neretvarivier. Ons beleef ‘n oorloggeteisterde gemeenskap se ervaring van ‘n Kroatiese tenk en die letsels van ‘n oorlog. Die jong seun dink die perd gaan deur ‘n sigeuner dood gemaak word en in sy onskuld, probeer hy die perd red. Die ontknoping van die verhaal is besonder slim weergegee: dit berus op ‘n misverstand; terselfdertyd ontdek die seun die lyk van ‘n soldaat, die broer van Rutko, wat in die oorlog vermis geraak het. Haasbroek se vertelling is besonder gelade: die seun op die drumpel van volwassenheid word gekonfronteer met klas-stereotipes, vooroordeel, die leed van oorlog en geweld. Wat ‘n boeiende verhaal met ongelooflike onderstrominge. 

In die tweede verhaal, “Tilapie”, vang Petrus ‘n wyfiekurper en omdat die “blouweer begin grom het”, neem hy die kurper huis toe en sit haar in die bad. Gewoon omdat hy nie lus het om haar te slag nie. Weer eens: ‘n verhaal oor ‘n vis in ‘n bad wat ‘n ongelooflike analise word van ‘n troebel psige. Uiteraard kan die vis nie daar bly nie (want troeteldiere word nie in die woonstelblok toegelaat nie!) en uiteindelik gooi hy die vis terug in die water.

Iewers het ‘n resensent geskryf dat die slotte van hierdie bundel hom gepla het. Maar lees nou hierdie slot en ek dink ons hoef nie saam te stem nie: “Op pad na die woonstel in Altebella Heights koop Petrus vis en skyfies by ‘n padkafee. Hy voel alreeds beter.” (31) Navrant, sou ek meen. En sterk!

In “Die kap van die byl” word die tegniek van twee vlakke ontgin: die hede/verlede versus liefde/politiek. In hierdie raamvertelling word daar gekyk na jeugdige hartstog en of ‘n mens weer so ‘n verhouding kan hervat? Die liefde in hierdie geval kan nooit weer opvlam nie weens die politieke geweld wat die private binnedring. (Dit is ook ‘n knap spel met die outobiografie: die verteller is ene Piet, maar ondersoek ‘n moordsaak.) Haasbroek is bekend vir sy machismo en dit word sterk ontgin in “Ontmoeting in Bagdad” waar die verteller se wellus gefnuik word. Dit blyk toe nie ‘n vrou in die burka te wees nie, maar ‘n man met ‘n kromlem-dolk.

Elke verhaal in Kruispunt is goed vertel en die skrywer gee die wêreld van die macho-man weer. Machismo is egter dikwels net die masker: agter al hierdie jagstories en grootbek-verhale word ons dikwels getref deur weerloosheid soos in die verhaal, “Saam”, waarin die leser die effek van ‘n man wat sy seun aan die dood afgestaan het, verhaal word. Dit is ook in hierdie verhaal waarin die titel verduidelik word: “’n oog in die kruispunt van die visier” (89). Die skrywer as jagter dus, as waarnemer van pyn en ellende en dit word vir ons verhaal aangrypend weergegee. Daar is min verhale waarin die impak van verlies so dwingend geteken word. Die verlies as leegheid word in hierdie verhaal pynlik-eerlik vertel.

“Die wind waai heen en weer daaroor, maar dit vul nooit met sand nie.

Dit is bar en klipperig en die middaghitte gloei tot ná sononder nog daarin, of in die winter dam die koue daar.

Die holte lê heeltyd daar en wag, en jy kan watter draaie loop, maar bly dit onthou, dat dit op jou wag.”

Daar is verhale van verraad, liefdesverraad spesifiek, soos “Langs die Suiderkruis se onderpunt” waarin Haasbroek nie alleen daarin slaag om die hele Mosambiekse leefwêreld oortuigend weer te gee nie, maar die leser gevange te hou oor hoé die navorser deur sy minnares en opponent die loef afgesteek word. Op ‘n keer word daar vanuit ‘n perd se perspektief vertel in ‘n droom!

Elke verhaal is puik gekomponeer. Dit is ‘n boek wat ‘n mens eenvoudig nie kan neersit nie. Haasbroek se besondere vermoë om jou binne ‘n bepaalde omgewing te plaas, moet vermeld word. Hy ondersoek die duister psige van die mens, wat hier én elders afspeel. Hy ondersoek die onbewuste en dit is ‘n bundel van primordialiteit. Hy gebruik o.a. die cowboy-verhaal en Tarzan, maar dit kry ironiese eggo’s binne ‘n verhaal waarin manlikheid dikwels as broos weergegee word.

Hy word tereg as ‘n deurwinterde skrywer beskou.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]