Showing posts with label Dominique Botha. Show all posts
Showing posts with label Dominique Botha. Show all posts

Tuesday, March 3, 2020

Okkasie | Maar my voete loop na Wellington (2020)


Op 1 Maart het ek saam met Breyten Breytenbach en Dominique Botha gedigte voorgelees in die Bôrdienghuis te Wellington.

Ons het ook mekaar se verse voorgelees. Breyten het "Uitwaartse reis" vertolk en Dominique het "My pa" voorgelees uit Lot se vrou.

Stilte, die mag van woorde, die verhouding met ouers en landskap het in die verskillende gedigte opgeklink - met Breyten natuurlik as die meester. Sy onlangse gedigte staan op die Versindaba.

Konfessies, kaarte en konterfeitsels verskyn binnekort by Martjie Bosman se Imprimatur in Pretoria.

Hier is my gedigte. 

*

Onder nomadiese sterre

Ubi sunt qui ante nos in mundo fuere? 

So teen hierdie latenstyd 'n terugkeer
na konflik onverwerk; daardie onthoue
en afranselinge opdat jy anders was; 
'n muurblom immer uit pas
met die lewensdans se ritmes
opgeklop deur 'n sketterende simbaal.
Van kleinsaf eenspaaiig, eenrymend, 
stilte beleef, met sinne ópgeskerp:
suurlemoene op 'n bitter tong geproe.
Eerste woorde op 'n lei gekrabbel
en vandaar tot skryf- en kladboek beweeg
waar woorde vlerke klap: lysters op dor gras.
Ligusterbosse, akante, jakarandas gloei
in hierdie vlymende onthouboeke.
In die gebreekte spieël van die self
(iewers verbeeld tot poësie)
oorgange en rituele in reliëf berym.
Telkens 'n self verloor, soos 'n slang
vervel in die klein rondeau of villanelle
van 'n lewe vol sonsverduistering,
skending, smaad en sameswering.
Klein momente van lig en vuur
in woordtestamente bemaak
aan hulle wat ongesiens en ongehoord,
dit wat 'n hartenswoord was, sou verloën.
'n Kalligraaf geword om polisillabies
rooi vuurblomme in die moederstuin
te vertaal tot bloeiende, uitstulpende simbole.
Dáár waar die aarde met die lug dans
op die Hoëveld, een-sillabig, 'n lot beklink:
telkens gereis onder nomadiese sterre.



Bome

Oor bome, treurende bome, soos 'n wilger,
'n sipres, 'n bloekom op die walle van 'n rivier,
staan opgeteken in die familieboom van my gedigte.
Die jaarringe van my gedigbome verklap  
'n lewenshouding van voortvarend tot bloeiend.
Hoe het die lewe my nie gesnoei nie?
My weerbarstige, selfgerigte takke is afgekap
tot vuurhout vir kritiese en ongevraagde lesers.
Nou is dit net die bome, treurende bome, 'n wilger,
'n sipres, 'n bloekom op die walle van 'n rivier
wat nog staan vóór die finale inspit in 'n dennehoutkis.



Hierdie is nie 'n liefdesvers nie

Hierdie is geen liefdesvers nie,
dis 'n gedig oor 'n X
wat geen silwer herberg bewoon
in die sneeu nie, maar ewigdurend
sous rature bly in die aanwesigheid,
my deurkruising ten spyt.

En ja, spyt kom altyd te vroeg
met die eerste voëlgekletter, 
die Katolieke kerk se klokkespel,
'n muezzin se roep na Mekka
en my oggendgebed vergeef-my-
sondes-en-almal-wat- gesterf het.

Hierdie is nie 'n vers vir Fanie Olivier
se Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte.
Dit behoef 'n dubbel-negatief, 'n minaret
waarop ek staan-waar-ek-staan
roepend na jou, my gedig nommer X,
my afskryfvers: onoorspronklik, 'n spel.



Ignatia bid vir haar orde

Dat pyn bestaan is onnodig, Heer
vir wát moet lewe 'n pynboom word
met bitter vrugte van verdriet en afleer
in mý reaksie vol wrewel en ongeduld?

Vergeef my Heer: klontjies pyn
maak die lewe tans ondraaglik:
soveel maal gebid om klaarheid
in 'n soeke na dít wat tog sal rym.



Antigone

i

My verse herskryf ek 
soveel keer teen aanwysings in
van Creon, die kritikus alkriekend.

My tekste, 'n Polinices,
sal ek herbesoek en begrawe
al word ek honend bevlek.

ii

My naam bedui in die plek van my ouers
en nou word ek finaal die optekenaar,
nee buikspreker van my ouers
reeds weg na die ander oord.

Geo. Hambidge teken jy jou briewe
en op Sondag 5 Maart 1995:
"Ek bid elke dag vir ons almal ..."

En op 3 Februarie 1996 vertrek
sy Badplaas toe vir 'n vakansie
om uit te rus saam met my suster.

Elke brief, herinnering geliasseer
in hierdie klein geskiedskrywing
ook genaamd 'n veelgodedom.  

iii 

My pa, soos ek, was 'n opgaarder
'n versamelaar van seëls uit verre lande ...
In 'n brief van sy vriend, Ottie W. Reno
uit die VSA, vertel die afgetrede regter
van hoefysters en sy kinders en sy land.
Hierdie brief verklap 'n diepgaande vriendskap
oor twee kontinente heen tussen twee
ouwêreldse mense wat glo in God, 'n vlag
en 'n president op wie hulle kon vertrou.
Sy klein studeerkamer, 'n heiligdom, 
vol stapels dokumente en boeke: DF Malan
en JF Kennedy, langs 'n atlas van die wêreld.
Voor sonsopkoms betree ek in herinnering
weer daardie ruimte en wonder wáár op godsaarde
hang oom Ottie se geluksbringer nou? 

iv 

'n Lamentoso, 'n pynlike terugkyk:
gebore op 9/11, maar voorspel vir 9/9;
totdat die buurman, 'n astroloog verklaar
dat my ouers met húl sterkonstellaat 
nie 'n hermiet sou kon verwek nie.
Dit was in die Noord-Kaap, Aliwal-Noord
en hierna sou veral die landskap in Chili
my ontspoor in die wêreld van Pablo Neruda.
Soos Sappho onder die sewe gesterntes
afskeid geneem van haar, die geliefde;
by Macchu Pichu tot in La Paz
in vele verdraaide raaisels onder 
onder nomadiese sterre reeds uitgebrand.

v

Vandag word daar 'n nuwe planeet ontdek
en die maan is glo ouer as die aarde,
weet kenners te vertelle, en soos alles
nou draai om dié as en wanneer en as,
wonder ek waar julle jul tans bevind?



Nomaad

νομάδες

Gedagtig aan hulle wat nooit 'n staanplek 
onder die sterre vind vir die voet se holte
soos die Mbuti van die Ituri Reënwoud,
die Negrito's in Suid-Oos-Asië, die Adivasi
in Indië, die Nukuka-Makú in die Amasone:

eens op 'n tyd was hierdie nomaad flink
aan die reis van kontinent na kontinent
wég van ankers en vastighede aan die rinkink
in onveilige plekke ver van haard en huis
net met onrus as die dwingende kompas.

Te lank uit en tuis sodat die self soos die gedigte
altyd op soek was na nuwe, onbegonne weivelde.

(Uit: Nomadiese sterre)



Aflegging

Jou verjaarsdag vier ek sonder jou vandag
daar waar jy nou vertoef in 'n hemelse tuin,
versend ek hierdie boodskap, moeder:
Elke oujaarsdag was daar vieringe
rondom jou geboortedag op die jaarend.
'n Piekniek toe ons kinders was in Kirstenbosch
en later so op die oujaar, het jy klavier gespeel
in jou huis met 'n tuin vol blomme en struike.
Later al reisende het ek uit vreemde ruimtes
 jou opgebel en uit 'n koue New Haven 'n gedig 
gepos,'n hartskrif, ons verskille ten spyt.
Langs die corniche, verby Koeëlbaai bely
jy oor dít wat van jou jeug ons vir altyd sal bybly.
Die skrander kind van 'n Wellingtonse vrugteboer.
Iewers, dit weet ek, word die kind trooster,
optekenaar, bemoediger in 'n diftong van ek/jy.
Vandag sou ek al ons misverstande wou herroep
soos 'n mens 'n e-pos delete, 'n brief opskeur ...
En ek wat my so eindeloos op stilte beroep,
die tweeklanke van verlies verken, berym,
pleit om jou vir oulaas weer op te roep. 



Uitwaartse reis

In ’n droom staan ek en my moeder op ’n hoofbeuk
na ’n eksotiese ruimte, onbepaald en onbekend.
Ek verlaat die kabine op soek na my paspoort,
vind dit inderhaas by my stom reisagent.
By my terugkeer het die skip vertrek
op ’n tyd vroeër as getoon op die swart biljet.
Die kaptein weier toegang, maar ’n stuurman
neem my vervaard na die eerste punt, ’n hawe
waar ek opklim, vergeefs op soek na haar;
sy alreeds op ’n ander vaartuig aan die kim.
My paspoort ongeldig; die visums by verstek.
In hierdie droom was daar geen obool, 
net Charon wat my na Hades wou begelei.



Ons hou begrafnis, ek en jy

Was my taal ’n steppewolf
sou ek en jy nie begrafnis hou
in my verslete memorieboek.
In ’n helder droom staan jy
in ’n begraafplaas met blomme
vol maaiers en insekte,
bykans ’n David Lynch-film.
Ek hoor jou sing uit ’n ou Gesangeboek:
“O goedheid Gods hier nooit volprese”
met ’n opmars van miere en ongediertes.
Ek, die middelman, kyk toe 
hoe woordeboeke –  selfs ’n geelgoue Eksteen – 
saam met verseboeke die donker gat in
afgesmyt word sonder ’n kis
of ’n grafsteen met datums.

O ja, ek memoreer en treur bepaald.
Hoe dan anders? Die merkinke 
van ’n taal en sy mense
laat ’n lyster sy koppie skoppelmaai
“Tjou-tjou,” sing hy. “Kreools,
krioelende mengelmoes,” fluit 
hy verder, want die een ou spook 
was vet en die ander een gaan 
langsaam telluries dood.
Op watter vasteland ons boer,
dit wis daardie Peter Blum beslis.

(Uit: Konfessies, kaarte en konterfeitsels)



My pa

My pa
wou ons Sondae treat
met ‘n ete in die Masonic
of in oom Boetie Michaels se hotel,
ja, daardie hotel wat in die vloed bly staan het
toe sy ma op die boonste verdieping toekyk vanuit die Ark
en die off-sales besteel word en die Vaalrivier oor sy walle stroom.
Ek onthou die spyskaart van daardie Sondae:
Tamatie- of roomsop, vis en spaars gekerfde lamsboud
en doodgekookte groente. Met roomys of dadelpoeding en vla…
En my pa wat smak aan ‘n groen Grünberger Stein
Ek skryf hierdie vers in ‘n Italiaanse restaurant 
met ‘n eksotiese plakkaat van Venesië teen die muur:
hier kan jy jou eie menu saamstel:
Gnocchi of Capeletti, dalk Lam Tortellini
asof in ‘n vreemde land, daardie plek met sy water
en gondolas en water-taxi’s…
Hy het my nie alleen die vreugdes van uiteet
geleer nie, my pa, nee, hy het my véral wysgemaak:
die lewe is ‘n spyskaart,
een wat jý saamstel
met ‘n onbetaalbare rekening.

(uit: Lot se vrou: Human & Rousseau, 2012).


© Joan Hambidge 

Wednesday, February 26, 2020

Okkasie | Drie pare voete loop na Wellington (2020)


Kom luister Sondag 1 Maart 2020 om 18:00 in Die Bôrdienghuis-teater by die Breytenbach Sentrum in Wellington hoe Breyten Breytenbach, Joan Hambidge en Dominique Botha op innoverende wyse en om die beurt van hulle jongste gedigte voorlees. Hulle lees ook mekaar se gedigte. Joan se nuwe bundel, Konfessies, kaarte en konterfeitsels, verskyn later vanjaar en Dominique se debuutbundel, die mooiweer en warm koninkryk is binnekort op die rakke.

Kaartjies is R100 per persoon. Sitplek is beperk, so bespreek nou by Chris by teater@breytenbachsentrum.co.za of Jessica by 021 873 2786. Pizzas en wyn en ander drinkgoed is al van 17:00 te koop en weer na die tyd wanneer gesellig gekuier en gesels kan word.

Tuesday, February 3, 2015

Repliek: Psigiater reageer op Dominique Botha se roman Valsrivier


'n Anonieme psigiater reageer nou onlangs op Litnet op Dominique Botha se veelbekroonde en aangrypende roman ValsrivierValsrivier – 'n lesersindruk vanuit 'n sielkundige perspektief - Anonieme psigiater.

Ons verneem van hierdie kenner van die psigiatrie:

"Die skrywer sê dat sy die boek geskryf het om haar broer te onthou, waarin sy sekerlik suksesvol was, maar ook om iets uit die verlies van sy dood te maak, en dis hierin waar die teleurstelling van die roman vir my lê. Die beskrywings van die karakters se ervarings is uitgebreid en omvattend, maar daar word feitlik geen erkenning aan hulle emosionele belewenis gegee nie. Die karakter Dominique noem baie selde hoe sy voel, gee geen refleksie op wat sy dink ander voel, of wat sy dink haar broer se gevoelens mag wees nie."
Die probleem met die anonieme psigiater se uitspraak is dat hy hom verlaat op wat die skrywer sê in plaas van wat sy doen ... Dit is uiteraard altyd die probleem wat onderhoude in die pers en op televisie skep, is dat dit die resepsie of verwagting van die teks vertroebel en 'n skadu oor die ervaring van die teks kan gooi. (Ek gaan wel my resensie en onderhoud weer betrek.)

Vir my is die krag van die roman júis geleë in die distansie - met ander woorde, dat die enorme emosionele pyn afstandelik gehou word en dat sy ten slotte die teks afsluit met 'n kragtige lykdig. [1]

Wat Dokter Anoniem miskyk, is dat 'n mens twee stemme hier aantref, te wete die ouer, volwasse verteller wat die ervarings gedistansieerd weergee en sodoende juis die trefkrag van die emosionele pyn in understament weergee.

Lees is 'n subjektiewe en 'n uiters persoonlike reaksie, maar ek sou meer van 'n ingeligte sielkundige verslag van 'n psigiater wou sien as net 'n paar ek-voel-opmerkings.

Dalk iets oor die skryf van so 'n teks as heling, met ander woorde, die teks as terapie. Moderne psigoanaliste en -terapeute soos Adam Philips, gebruik letterkundige tekste om by sekere sielkundige "waarhede" uit te kom.

Philips resenseer dikwels vir die London Review of Books, maar dan insigryk en sinvol. En Philips se gesonde skepsis oor psigoanalise en sy skerp analises, maak sy werk uiters relevant. Hy sien dit ook nie as 'n wetenskap nie, maar gewoon net as 'n (lees: een) manier om by pynlike waarhede oor jouself uit te kom.

Promises, Promises (2000) is 'n lonende leeservaring.

Psigiaters en sielkundiges mag oor tekste skryf, maar dan moet daar werklik met die teks "gewals" word.

Byvoorbeeld: waarom het Valsrivier mense so ontroer? Dalk omdat die verteller / fokalisator iets onthul oor die ervaring van broederlike verlies en hoe die sogenaamde familie of gesin nie kinders kan beskerm teen die aanslae van buite nie, te wete, die ouers se politieke oortuigings wat tot gevolg gehad het dat die kinders uit die beskutte platteland moet weggaan en in 'n Engelse skool moet aanpas.

Daar is byvoorbeeld uiters subtiele passasies oor lyflikheid en die vader wat byvoorbeeld opmerk hoe maer die dogter geword het.

In 'n onderhoud met my in Die Burger merk die skrywer op:

"Vir 'n skrywer om te skryf, kan die persoonlike nie 'n leibeurt ontsê word uit die gemeenskaplike sluis van geskiedenis nie. 'n Skrywer dweil indrukke op en wring 'n narratief uit die oorloop." [2]

Sy bely ook dat sy die diep kreet van smart op 'n beheersde wyse wou weergee. Maar wat sy uiteindelik self bely, is nie werklik tersaaklik nie. Die roman doen dit. Sy besweer pyn en sy doen dit met 'n streng hand: afstandelik, soms met humor, met 'n vervlegting van waarheid en fiksie, prosa en poësie.

Die anonieme psigiater skryf ook:

"Die karakter Dominique beskryf haarself ook op 'n baie passiewe en amper afgestompte manier, asof sy nie 'n stem in die familie en lewe gehad het nie, byvoorbeeld die episode waar sy seks het met die doktersvriend van Paul. Dit laat die leser met dieselfde gevoel van hartseer en eensaamheid wat sy en haar broer moes ervaar het."

Kennelik het hy nie raakgesien dat die broer die hele familie oorheers het nie? Dat hy 'n soort wonderkind was en dat sy eers ná sy vertrek 'n eie stem gekry het.  So gelees, neem sy as't ware sy kreatiewe energie oor en verlos die hele familie van hul pyn.

Om te gil, kan jou leser doof maak. Die sagter, onderstellende manier van skryf, het 'n altyd groter impak.

Endnotas:

Hier is my resensie wat in Beeld en daarna op my blog verskyn het (Dominique Botha - Valsrivier, 2013):

[1.] Valsrivier deur Dominique Botha is ‘n prosateks wat beweeg tussen die grense van vertelling en poësie. Dit is ‘n hártgrypende verhaal wat die jeug van die verteller en haar sibbe in oënskou neem. Die leser begin die verhaal lees van die verteller / fokalisator (wat dieselfde naam dra as die outeur) en ‘n stuk Afrikaanse verlede ontplooi hier voor die leser se oë. Die lewe op ‘n plaas in die Vrystaat en hoe jong kinders reageer op ouers, skool, politieke verskille, diereslag, onreg – en wat nog word beskryf.

Dit behoort tot die genre waarin Carson McCullers en Truman Capote so uitgemunt het: die ouer verteller wat terugkyk asof hy/sy steeds die kind is wat alles beleef het. In hierdie soort vertelling skuif die ouer persoon en kind  se waarneming ooreen en die verlede word herbesoek. Die besonderhede van Valsrivier val die leser onmiddellik op  en die verhaal, wat as ‘n elegie beskryf word, is in die werklikheid gebed. Die sirkelgang en sluiting is opvallend. Hierom is tyd so belangrik in die roman (198):”ons reis deur die skyn van tyd” dui op die feit dat emosionele ervarings nooit weggaan nie…

Inderdaad laat die gees sy eie grafskrif, soos die motto van Paul Botha lui. En hy is die sentrale fokus van die verhaalopset: die dag nadat hy sy polse gesny het, word die droogte gebreek. Met die suster wat begrip het vir sy lot (146): sy sien hom nie as lafhartig nie.

Die roman begin met ‘n waarskuwing dat die suster te na aan die water (die onbewuste) staan en op die keerwal vrot die oog van ‘n dooie karp weg (7). Ook haar ellendes word weergegee (soos die ervaring van menstruasie en lyflike aftakeling), maar uiters subtiel vertel. Haar kat, Lietjiebet Lotriet, speel in op ‘n kinderverhaal van ‘n brandmaer weeskind (52). Hoe kinders op skool geïndoktrineer is (soos die Voortrekkerbabas wie se koppies teen wawiele stukkend geslaan is en die kommunisme), word goed weergegee (63). Die vreemde skool in Natal het wel wonderlike humoristiese oomblikke soos die Juffrou wat vir haar sê sy moet haar trane spaar vir werklike ellendes!

Daar is ‘n besoek aan Middenspruit by ‘n digter, Antjie Krog, wat raadgee vir die jong belowende Paul. Ons sien sy talent raak in die ingebedde tekste wat die suster vir ons gee.

Die verhaal word hortend, rukkerig vertel, want die fokalisator skryf oor haar broer en algaande besef die leser hoe hy “anders” was. Van jongsaf opstandig, slim, ‘n skrywer – en veral ‘n teëprater, met die suster as sy fiksionele biograaf of optekenaar. Dit is uiteindelik háár kreatiwiteit wat oorwin sodat die elegie verander in ‘n laus. Soos daar ‘n glasbottel met ‘n boodskap ontdek word in ‘n muur, so maak die leser die geheime boodskappe mee van hierdie roman (120).

Die impak van die politiek van die tyd en die broer se opstand daarteen, bring die Weermag en die ou-Suid-Afrika sterk na vore. Die ouers se linkse politiek word eweneens ‘n silwer draad wat regdeur die roman loop. En die emosionele verwoesting wat die ou Afrikaner politiek tot gevolg gehad het.

Dis beeldskoon, hierdie debuut. En op die agterblad reken Breyten Breytenbach dat moed nie normaalweg gereken word as ‘n literêre kenmerk nie. Hier is dit wel die geval. Dis ‘n boek oor die “vals” geheime van die geheue en hoe elke leser verwond is deur jeugervaringe.

Paul waarsku:”Jou herkoms brandmerk jou vir ewig. Skryf is ‘n oorblyfsel van waar jy jouself bevind. Van hoe die seisoene verloop.” (150).

Lees dit. Dis ook as e-boek beskikbaar.

Die boek eindig met ‘n beeldskone vers:


tyd rol en sloersoos ‘n muntstukkie gegooiop die kim van die naderende dag
jy het my altyd vooruit geloop


[2.] Onderhoud: Om te skryf is om afgesonder in 'n eggokamer voor 'n spieël te sit 

Joan Hambidge gesels met Dominique Botha, skryfster van Valsrivier

1. Baie geluk met jou aangrypende roman. Een van die belangrikste aspekte van die boek is dat jou broer se lewensloop en uiteindelike dood die tema is vir hierdie boek. Jy “voltooi” as’t ware sy kreatiewe impuls wat gekortwiek is deur sy dood. Kommentaar.

My boek is 'n protes teen vergetelheid. Die behoefte om die dood op sy plek te hou lê diep in die menslike natuur. Deur iets tasbaar agter te laat is 'n weerspreking van die "Paul-shaped hole in the universe", om die treffende doodsmetafoor uit Arundhati Roy se God of Small Things te leen. Nou bestaan die buitelyne van die verdwene mens en van sy gedigte op papier. 

Met nabetragting sou mens kon sê dat die kortwieking van my broer se kreatiewe impuls uiteindelik vleuels gegee het aan my eie stem. Ek neem die vertelling oor. Baie versigtig in die begin, maar soos die verhaal ontplooi, so beweeg die susterstem geleidelik weg uit die skadu van die ouer broer se talent asook uit die skadu van verlies.


2. Daar is herkenbare mense in die roman – soos onder andere Antjie Krog en jou familie. Hoe voel jy hieroor of dink jy die roman fiksionaliseer die gegewe genoegsaam?

Ek het in 'n innerlike tweestryd vasgeval oor my reg om sulke private geskiedenis op so 'n publieke manier te gebruik. Hoe verdiskonteer mens die wrywing tussen feit en fiksie? Is dit nie maar net 'n manier om 'n kombers te gooi oor die intieme vervlegting van verbeelding en geheue nie? Of die teks as verhaal of verhandeling ingedeel word is eintlik 'n ronddansery wat nie die kompleksiteit van 'n skrywer se etiese uitdagings verskraal nie. 

My oorgang van memoir tot roman was ook deels as  gevolg van 'n groeiende besef dat die volkome waarheid nie haalbaar is nie. Om 'n herinnering op te roep is ook om 'n eerste daad van fiksie te pleeg.  Skryf is ook 'n dissipline waardeur mens geleidelik van die sin van uniekheid van die self verlig word; 'n bevrydende gestrompel in die rigting van nederigheid. Nogtans mag lesers die mededeling kyklustig op sigwaarde interpreteer, want hulle lewe nog met die gewig en las van 'self'. Vir 'n skrywer om te skryf, kan die persoonlike nie 'n leibeurt ontsê word uit die gemeenskaplike sluis van geskiedenis nie.'n Skrywer dweil indrukke op en wring 'n narratief uit die oorloop. 

Ek het probeer om die gebruik van intieme familie geskiedenis met integriteit te benader, asook die herkenbare mense met eerlikheid en grasie te beskryf, en hoop dat die leser dit sal oordeel as 'n metafoor met 'n breë weerklank, verby die persoonlike gegewens van die verhaal.


3. Die boek lewer kommentaar op tyd en die boek is in ‘n siklus geskryf. Die begin en einde sluit bymekaar aan. Dink jy die onbewuste is ‘n soort tydlose ruimte waarin alles vir ewig geberg word?

Ek dink die onbewuste is 'n onveilige stoorplek met sy eie skeppende drange. Ons onthou op maniere wat ons wil onthou, merendeels in diens van die ego as noodwendig in diens van die waarheid. 

In jou resensie oor my boek trek jy 'n vergelyking tussen water en die onbewuste,  'n raakvatting wat ook in die titel Valsrivier weerspieëling vind. Die titel is 'n toespeling op die naam van die rivier wat deur die familieplaas vloei, met 'n verdere dieperleggende betekenis. Paul se groot literêre held Eugène Marais het geskryf oor die diep rivier, die donker stroom, wat  gesien kan word as 'n verwysing na sy eie stryd met morfienverslawing, asook die donker keersy van die skeppingsdrang, wat beide lewensgewend en doodsgevaarlik kan wees. Soos die siklusse van water wat kom en gaan, so maak die geheue binne die kontoere van die onbewuste. Niks is standhoudend nie.  Digters en skrywers is die watersoekers wat verborge strome moet opdiep.


4. Ek dink die begrafnistoneel is so goed beskryf. Hoe lank het jy aan hierdie teks gewerk en was dit deel van jou Kreatiewe Skryfskool-portefeulje aan Wits? Wie was jou mentor en hoe voel jy oor skryfskole?

Ek het ongeveer 3 jaar lank gewerk aan die teks. Leon de Kock, as hoof van die skryfskool by Wits het my baie aangemoedig, en toe onder verdere leiding van Gerrit Olivier en die res van die MA-groep het my boek  geleidelik gestalte gekry. Om te skryf is om afgesonder in 'n eggokamer voor 'n spieël te sit.  Skryfskole bied belangstellende lesers, kritici en sperdatums aan. Dié is van onskatbare waarde.

Die slot van die boek het eers na die afloop van die kursus opgewel. Ek dink dit het ontstaan uit 'n behoefte om 'n diep kreet van smart op 'n beheersde wyse vorm te gee en te besweer. 


[Hierdie onderhoud word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Thursday, June 5, 2014

Trits: Psigoanalise en fiksie

Carl Jung en Sigmund Freud in A Dangerous Method (2011)


Is psigoanalitiese kritiek (Jung en Freud) nog relevant? Nou onlangs was daar 'n polemiek op die Versindaba oor Jung.

Miskien kan ons dit illustreer aan die hand van drie uiteenlopende, dog boeiende, en op ’n manier ooreenstemmende, tekste wat sig besighou met die ondergrond van die bestaan:

Tirza Arnon Grunberg
Vertaal deur Lina Spies
Protea
ISBN 978 1 86919 824 4
Sagteband 
507 bladsye













The white hotel D.M. Thomas
Penguin
ISBN 0 14 00 6088X
Sagteband 
240 bladsye














Die aanspraak van lewende wesens Ingrid Winterbach
Human en Rousseau, 2012.
ISBN 978 0 7981 5706 3
Sagteband
355 bladsye













I

Arnon Grunberg se roman Tirza en D.M. Thomas se The white hotel is twee tekste wat op verskillende wyses die psige van die versteurde person aanspreek. Tirza, ‘n besonder lywige roman, moes ek resenseer en The white hotel het weer toevallig by my begin spook toe ek moes nadink oor die verhouding tussen Freud en Jung, wat in hierdie roman ter sprake kom. Hoe benader ‘n mens Freud en Jung vandag? En pas jy hul teorieë toe op letterkundige tekste? En hoe reageer ‘n mens op die voortslepende misverstande róndom hierdie belangrike figure wat deur sielkundiges as passé afgemaak word en deur wetenskaplikes as onbetroubaar en wetenskaplik verdag verdoem word? Sowel Freud as Jung lewer belangrike bydraes tot die literatuurteorie en tot die begrip van transgressiewe of normdeurbrekende tekste.

II

Arnon Grunberg se roman Tirza (2006/2014), sy agtste roman, is in Afrikaans deur Lina Spies vertaal. En die toets van ‘n goeie vertaling – veral as dit kom by ‘n lang roman – is dat die teks vlot moet lees. Hierin slaag Spies bepaald. ‘n Mens voel deurgaans dat die storie in vlot Afrikaans vertel word en nêrens is daar die haakplekke so bekend aan vele vertalings nie. Geen moeilike woorde of verkeerde vertalings nie. Miskien behalwe nou vir rondjie (339) wat ek eerder as rondetjie sou vertaal? En op bladsy 267 moet ky kyk wees.

Dit is my eerste kennismaking met die werk van hierdie romanskrywer wat skynbaar in Nederlands ‘n bekende en omstrede figuur is.  Op die buiteflap word die boek aangeprys deur J.M. Coetzee. Hy prys die skrywer vir sy “wit and sardonic intelligence”. Ek het hierdie roman begin lees en onmiddellik roep die obsessionele Jörgen ‘n vergelyking op met Vladimir Nabokof se Lolita, daardie briljante roman van 1955 wat tereg al uitgesonder is as een van die grootste romans van die twintigste-eeu. Waar Nabokof se roman met verskeie verwysings en rame werk (ook die voortreflike film van Stanley Kubrick uit 1962 presteer dit) is Grunberg se roman “oper”. Hiermee is uiteraard niks verkeerd nie. Miskien verraai dit eerder hoe moderne lesers na romans kyk en dat die oper, vlotter struktuur verkieslik is bó die ingewikkelde verwysings van ‘n Nabokof-roman.

Jörgen Hofmeester is inderdaad ‘n boeiende figuur. Die begin van die roman beloof reeds iets: die oopsny van die tunavis wat die latere tragedie eggo. Obsessioneel is hy inderdaad in sy waarneming. Die verhouding met Ibi - wat elke maand die huurgeld by die huurders op die boonste verdieping gaan afhaal - is 'n belangrike vinjet vir die begryp van hierdie streng en krenterige karakter. Die geld word belê in 'n verskansingsskema en uiteraard verloor hy dit. Die teks is kennelik satiries in aanbod. Ons beleef alles vanuit Hofmeester se perspektief en sy verhouding met sy twee eiesinnige kinders, en sy vrou wat hom verlaat het en onverwags opdaag by die party wat hy vir Tirza gee. Tirza gaan hierna op reis na Afrika met haar vriend. Ibi bedryf 'n gastehuis in Frankryk en leef met 'n blas man. Hy sien Tirza se vriend aan vir die 9/11-terroris, waarmee die implisiete outeur die paranoïa en kleinburgerlike bestaan van die hoofkarakter verder wil beklemtoon. Hy is ontslaan as fiksieredakteur van buitelandse tekste en sy gevoel van nutteloosheid maak hom waarskynlik ontoerekeningsvatbaar. Maar sy obsessionele gedrag word goed voorberei in sy verhoudings met sy kinders, wat in die intieme gesprekke oor hul seksualiteit en 'n eetversteuring, grensoorskrydend is. Daar is oorgenoeg beskrywings van aanraking  en gesprekke wat beslis transgressief is. Sy reaksie op Ibi se seksuele avontuur dui dit aan; nes die seksuele aanraking by die party met 'n klasmaat van Tirza. Die metafoor van eet/kook is besonder behendig ingebed met binnegedagtes dat hy nie weet hoe 'n mens se vel lyk wanneer jy dit braai nie (242) wat onheil voorspel. Sy beheer in die kosmaakproses dui ook daarop: die leser word uitgebreid voorgestel aan hoé hy kosmaak en wat hy dink van die politiek en die lewe in die algemeen.

Die roman val in drie dele uit: Die huur, die offer, die woestyn.  Die laaste gedeelte beskryf ‘n Nederlandse landskap en ‘n besoek aan Namibië in sy soektog na Tirza en haar vriend. Hierdie laaste gedeelte het eggo’s uit die filmmaker Antonioni se The passenger (1975) met die besoek aan ‘n warm landskap.

Tirza het ‘n Marokkaanse vriend, en Hofmeester se reisgenoot is Kaisa, ‘n swart meisie. Dus word daar dus subtiele politieke kommentaar gelewer. Hofmeester is ‘n afgedankte fiksie-redakteur -moet ons die moorde as fantasie of werklikheid beleef?

Al sy beperkinge en teleurstellings (sy afdanking, sy benarde finansiële posisie, sy vrou wat hom verlaat het) word geprojekteer op Tirza se vriend, die Ander. Hy heet Choukri, maar vir Hofmeester is hy Mohammed Atta …

Boonop is Tirza anoreksies en haar vader lees vir haar voor uit Madame Bovary en Don Quichot. En Dostojefski se Notas uit die ondergrond. Die insestueuse verhouding tussen vader en dogter word op verskillende vlakke uitgewerk. Sy is sy sonkoningin …

Ook in hierdie naam draal daar al prospeksies van wat die leser te wagte kan wees. Op uiters subtiele wyses plant die implisiete outeur sleutels vir die leser: hoe 'n tunavis oopgesny word resoneer met die uiteindelik skokkende onthulling, al mag dit 'n verwronge fantasie wees. Die besoeke aan Schiphol-lughawe beklemtoon eweneens sy obsessionele aard.

III

Die drie afdelings (Die huur, die offer, die woestyn) aktiveer alreeds 'n triadiese verbintenis so bekend aan die psigoanalise. Freud se id, ego, superego en Lacan se verbeelde, simboliese, Reële dimensies kan dus betrek word. Die triadiese verbintenisse skep immers die persoonlikheid by Freud en by Lacan dui die drie dimensies op die konstituering van taal. Die verbeelde is dit wat voor betekenis bestaan en die simboliese orde dui op die tekensisteem met die Reële wat nooit bereik kan word nie.  Hoe ironies dan dat hy Tirza dus nie in die woestyn kan vind nie.

In Freudiaanse terme dui die slottoneel op die superego of die Orde: hy moet verantwoording doen vir sy dade. Die "bees in hom" (die dier) is nou tot orde geroep. Hy bel egter Tirza se selfoon om vir laas haar stem te hoor: 'n blote representasie van iemand wat egter nie meer bestaan nie. Die roman lewer genoegsame bewyse dat so 'n psigoanalitiese lesing gestaaf kan word. Dit bevat notas uit die "ondergrond" met siniese kommentaar op die Freudiaanse familie-romanse. Die vaderfiguur oortree grense van intimiteit (o.a. ook in sy seksuele optrede teenoor 'n jong skoolmaat) en is by twee geleenthede aanskouer, dus voyeur, van sy dogters se seksuele aktiwiteite. In beide gevalle tree hy gewelddadig op. Die eerste optrede met Ibi se minnaar is dan 'n prospeksie vir die latere toneel waar hy Ibi en haar vriend sien. In Jungiaanse terme projekteer hy sy skadu op ander (sy dogter en haar Minnaar) en die jong, swart meisie is in wese sy alter ego wat hy aanspreek om tot klaarte te kom.

IV

Op bladsy 376 word daar verwys na die oorlog in die boekbedryf. Die stryd om die leser. Die boekeoorlog. En dit is dan ook waarop Tirza sydelings kommentaar lewer: die behoefte van die leser. Hofmeester onthul sy dade aan die jong kind in Namibië. Is dit waar of gewoon 'n verdere verbeeldingsvlug? Dit is eweneens ironies: sy toehoorder is nege en nie in staat om die gevolge te interpreteer nie. Die e-pos aan Tirza waar hy inbreek op haar stelsel, bewys egter die ergste vir die speurende leser wat uitgelewer is aan 'n "spel met gevolge" (494). Vir hierdie kind laat hy dan Tirza se iPod en die manuskrip van die outeur uit Azerbeidjan, wat hy op sy desperate reis en soektog na Tirza met hom saamdra.

Die slot knoop alles vas en die fantasie waarvoor 'n mens sou hoop, dui op iets anders. Die dier is nie oorwin nie. En al het hy die irrasionele verafsku (20), het dit hóm oorwin. Die roman lewer satiriese kommentaar op die moderne Nederlandse samelewing nes die geslag na-oorlogse literatuur dit gedoen het.

V

D.M. Thomas se The white hotel het in 1981 verskyn, dus geruime tyd voor Grunberg se roman in 2006.  Dit is die verhaal van Lisa Erdman, 'n geskeide operasangeres wat erge psigosomatiese pyn en hallusinasies ervaar. Sy vertel in 'n lang gedig en joernaal van 'n fantasie waarin sy met Freud se seun seksueel verkeer. Alles vind plaas op 'n trein en in 'n wit hotel wat deur erge rampe geteister word. Vir Freud word sy 'n geval, te wete Frau Anna G. en in sy analise ontdek hy dat haar toestand verduidelik kan word deur die verhouding wat haar moeder had met haar oom. Thomas gebruik dus die Dora-saak as 'n spieëlteks om hierdie verhaal te vertel. Na terapie trou sy weer en sy skenk geboorte aan 'n Joodse seun in Rusland na die Tweede Wêreldoorlog. [Foto: D.M. Thomas © Mac Dunlop]

Hierdie roman het sewe afdelings: Prologue, I Don Giovanni, II The Gastein Journal, III Frau Anna G., IV The Health Resort, V The Sleeping Carriage, VI The Camp. 

Die proloog bevat gefiksionaliseerde briewe (o.a. Sandor Ferenczi en Freud), 'n lang erotiese gedig van die Erdman en haar joernaal (dit behels afdelings II en III) en in die derde afdeling kom Freud aan die woord: "In the autumn of 1919 I was asked by a doctor ..." (83).
Epstein, 'n manlike resensent, konsentreer op die volgende verhaalelemente: sy was eers 'n danseres, gebore in Odessa en word as kind bewus van die buite-egtelike verhouding van haar moeder wat later saam met haar minnaar verbrand. Haar vader verwerp haar (ook hier hoor ons die Dora-saak, j.h. ) en sy begin 'n verhouding met 'n anargis in St Petersburg. Sy raak swanger en tydens 'n dans verloor sy die kind. In Wenen begin sy 'n tweede lewe as operasangeres en sy tree kortstondig in die huwelik met 'n anti-Semitiese Oostenryker. Lisa tree uiteindelik op as operasangeres in Milaan wanneer 'n ander operasangeres - wat ook 'n kind verloor  het - en laat dus al haar ellende agter haar. Maar dit is van korte duur, want in Kiev word al die Jode van die tyd na Palestina verban ...

In die slotafdeling fantaseer Lisa dat sy Freud in die strafkamp gewaar.

Ofskoon hierdie gedeelte gelees moet word as ‘n uitgebreide fantasie – sy versoen immers met die dooies – lewer die roman dus sodoende skerp kommentaar op die funksie van psigoanalise in ‘n wêreld geteister deur politieke onreg. Volgens Leslie Epstein in die New York Times (A novel of neurosis and historyBesoek 2 Junie 2014) is dit die swakste gedeelte van die roman. Hy beweer:

“But Mr. Thomas runs into more serious problems when he tries to duplicate an actual case history. What is so compelling about the real Freud's cases, apart from his brilliance in interpreting them and his great skills as a writer, is that we always know that the dream fragments and the experiences are authentic.”

Hiermee moet ek verskil van hierdie deurwinterde resensent, want juis as jy Freud se tekste weer lees, kan jy die uitsonderlike prestasie van Thomas, ‘n uitstekende vertaler van Achmatova se digkuns, bewonder. Hy “vertaal” en transporteer Freud dus van die wetenskap na die ruimte van fiksie. Die afdeling “Frau Anna G.” word ook voorsien van voetnote so bekend aan Freud se werkswyse. Daar word soms vreemde woorde vertaal (soos “niederkommen”) wat hierdie gedeelte ook die allure van ‘n redigeerder of redakteur gee. ‘n Duidelike mîse-en-abyme. Dat Freud se mees seminale teks, Die interpretasie van drome (1900) hier ter sprake kom, is eweneens duidelik. Treinreise – so verduidelik die karakter Freud op bladsy 95 – is dikwels aanduidings van ‘n naderende dood. Bekend aan Freud se werkswyse, is die gebruik van metafore. Hy waarsku haar teen die terugkeer van simptome, maar “that we are moving closer to the light at the end of the tunnel” (109).  Charcot word ook betrek” “La théorie c’est bon, mais ca n’empêche pas d’exister” (111).

Dit is 'n komplekse roman wat my waarskynlik voorberei het op die volgende baken in die Afrikaanse letterkunde. Dit is 'n baken omdat dit op 'n gesofistikeerde wyse, soos die twee voorafgaande tekste, in gesprek tree met komplekse psigoanalitiese teorie.

Hierdie resensie staan opgeteken in my blog: Woorde wat weeg.

VI

Die aanspraak van lewende wesens van Ingrid Winterbach is bekroon met NB-uitgewers se eerste prys in Die Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2012. Die roman word tipeer as “komies, hartroerend, meditatief, verruimend”. En ‘n mens sou kon byvoeg: melancholies. Die roman is aangrypend geskryf en speel terug op ‘n vroeëre besinning, naamlik Klaaglied vir Koos. Winterbach vertel twee stories, te wete die verhaal van Karl Hofmeyr, wat moet raad vind vir sy broer Iggy se geestesongesteldheid. Hierteenoor het ons die besinning van Maria Volschenk oor haar lewenslot en hantering van haar suster se dood. Die karakters se paaie kruis op ‘n plaas, surrealisties beskryf, in Kaapstad waarin die outeur dus sydelingse en ironiese kommentaar lewer op die tradisie van die plaasroman in Afrikaans. Ene Josias Brandt, ‘n soort katalisator in hierdie roman, is in ‘n stryd met Iggy (Ignatius) gewikkel.

Winterbach se romans interesseer hierdie leser nie om die verhaallyne nie. Dit intrigeer eerder om die digte verwysingsveld en die sterk metaforiek. Die jongste roman is ‘n lament en die titel “die aanspraak van lewende wesens” aktiveer ook die ander kant van die munt, te wete die aanspraak van gestorwenes. Soos in vele romans, roep die teks ‘n sterk psigoanalitiese verwysingsisteem op. Hierdie teks vra vir ‘n saamlees met Freud se “Rou en Melancholie” (1917).

Die “vroeë verwonding en verdriet” (40) van Maria word ondersoek. Die verteller neem ons terug na die skooljare as ‘n sleutel tot die intense ervaring van leegheid en die familie is ‘n ruimte van verwonding. Dit is ‘n verhaal wat psigiese kennis ondersoek en die verwysing na die Id aktiveer die kelder van die onbewuste. Taboes (soos kinders wat ‘n kaal lyk sien) en ‘n DVD (waarna Maria en Vera kyk) waarin psigiaters meen skaamte en vrees lotsbepalend is, neem ons na verdere betekenislae. Soos in vroeëre tekste is die “dierlike impulse” en die mens se lot verbind aan groter patrone. Dit is ‘n roman vol selfverwysings: die “frostbite” aktiveer Die benederyk en Klaaglied vir Koos se ondersoek na evolusie kom aan bod. Dit wat buite die rasionele lê, word ‘n fokus. Die Sitra Achra, die Sheddim, Stabat Mater, Heavy Metal, films (soos The Big Lebowski, o.a.), Wagner, eis ‘n Barthesiaanse benadering op soos beskryf in S/Z (1970) van kulturele en persoonlike kodes. Met die leser as die waarsêer.

Die verwysings na skaak neem ons terug na Nabokof.

Die suster, Sofie, se ongewone blik word ‘n belangrike sleutel vir die emosionele ruimte waarin Maria haar begeef. Deur haar nalatenskap word Maria bewus gemaak van die spirituele domein. Die suster, ‘n digter, wil haar hande nalaat aan haar suster; ‘n slim troop vir hoe die suster se lewe uiteindelik Maria se lot bepaal. Karl se pakkie bevat eweneens inligting oor sy broer wat ‘n deur ‘n spirituele hel gefolter word en glo dat hy ook fisies transformeer. Twee parallelle verhale dus; ‘n parallaks, in Žižek se terme. Die roman aktiveer ook die Gnostiek: Maria word deur haar suster bewus gemaak van die tien hekke van spirituele wysheid (125). Iggy se brief aan sy broer aktiveer eweneens hierdie gegewe en dit sal die leser loon om die Ofiet-diagramme en die Boek Esegiël saam te lees. Die voorblad aktiveer immers sowel die Bybel as die wetenskap. Syfers speel ‘n belangrike rol in die roman: Maria is ‘n syfermens en Karl is obsessioneel oor getalle. ‘n Sielkundige torring aan Maria: watter geheim het die moeder van haar weerhou? Hierdie aspek neem ons weer terug na die moeder in Die benederyk.

(Nes die verwysing na Louise Bourgeois). ‘n Terugkeer na Stellenbosch word bykans intratekstuele kommentaar op die skrywer se eerste werke. Daar is min passasies wat so vindingryk geskryf is in enige letterkunde as die ontmoeting met twee bergies (die vrou ‘n palmleser) in ‘n begraafplaas. Daar is die optekening van die natuur: sprinkane, spinnekoppe, ensomeer, as ‘n beswering van depressie.

Daar is vele verwysings na beeldende kunstenaars wat eweneens die teks (onbewustelik) laat voortstu. Die natuurbeskrywings is digterlik en ‘n mens kan hier die hand van die beeldende kunstenaar sien in haar konkrete beskrywings van die ruimte. Psigiese inhoude word nie blote abstraksies of ‘n intellektuele getjommel nie; die leser beleef dit in die krisisoomblikke van ‘n karakter wat onverwags geskiet word of ‘n kind wat meen sy lewe is in gevaar. Die dialoog is vindingryk en snaaks. Die verskillende hoofstukke impliseer ‘n ouktoriale vertellershand wat te midde van chaos tog orden. Die oog vir détail imponeer: van ‘n karakter se bo-lip tot ‘n vrou se oog kan jy sién.

Die roman het ‘n sterk verhaallyn met ingewikkelde kodes en toespelings: wetenskap teenoor spiritualiteit; vooruitgang teenoor kataklisme. Weemoed wissel humor en aksie af. Klein tersydes word ‘n kulturele kode.

Binne ‘n bestek van bykans drie dekades het Winterbach haar gevestig as een van die belangrikste romanskrywers van ons tyd. Dit is loflik dat sy telkens binne ‘n kort bestek ‘n nuwe roman skryf sonder om gehalte in te boet. 

Dit is is ‘n briljante roman. Sedert publikasie het ek dit driemaal gelees. En elke keer iets nuuts raak gelees. Daar is min slotte in enige roman wat ek ken wat my tot sulke weemoed gedryf het as die einde van hierdie boek.

Met stilte as die grootste ellende wat ‘n mens kan tref; nie skaamte en vrees soos die Nederlandse psigiaters in die roman meen nie. Dit is opgedra aan wyle Paul Cilliers, die filosoof.

En in navolging van Charcot: teorie is goed, maar dit verhoed nie dinge/sake om te bestaan nie. En hierom (waarskynlik) is Jung die afgelope paar dekades uit literatuurkompendiums geweer, omdat die Franse Strukturaliste en post-strukturaliste met die groter aanspraak op “wetenskaplikheid” die literatuurbedryf binnegedring het. Maar dit is jin en jang. Die verskillende benaderings hoef mekaar nie uit te sluit nie.


Bibliografie:

Cain, William, E. 1964. The crisis in criticism - Theory, literature, and reform in English Studies.  Baltimore: The Johns Hopkins University.

Die volledige Freud is uitgegee deur die Pelican library.

Jung, C.G. 1962. Memories, dreams, reflections. Londen, Collins.


Endnoot:

Die volgende is 'n reaksie op 'n polemiek op Versindaba:

Freud en Jung is relevant vir die literatuurteorie en lankal nie meer vir die empiriese wetenskappe nie waar albei aanvanklik aspirasies gehad het. Om ‘n denker of skrywer nadoods uit te vang as anti-Semities gebeur al om die hawerklap. Die geval Paul de Man is bekend. En Derrida se verdediging van hom. ‘n Mens kan egter nooit die belangrikheid van Blindness and insight of Allegories of reading ignoreer nie. Trouens, ek is die mening toegedaan dat De Man juis vanweë sy ingewikkelde persoonlikheid in staat was om Rilke se ellendes te begryp. Terloops, ‘n digter wat geweier het om psigoanalise te ondergaan en die digkuns as self-terapie gesien het.

Jung is ‘n komplekse intellektueel en ek het die afgelope semester indringend oor hom klasgegee. Waarom is hy onder meer die afgelope paar dekades uit literatuurteoretiese kompendiums gehaal? Ten spyte van navolgers soos Maud Bodkin en Northrop Frye.
Sy siening van argetipes – wat dui op primordialiteit – kan wel van toepassing gemaak word op ‘n skrywer soos Etienne Leroux. Wanneer jy ‘n teks analiseer met begrippe soos argetipe, skadukant, projeksie, mandala (ons onthou immers Patrick White se The solid mandala) aanvaar jy sy teoretiese raamwerk vir die eise wat ‘n bepaalde teks stel. Net soos Jungiane – en ek het al van die lesings van besoekende geleerdes bygewoon in Kaapstad – kwessies mag ontsluit. Dieselfde geld D.M. Thomas se The white hotel, ‘n puik roman, wat ‘n fantasie róndom psigoanalise uitwerk. Ons vind hier ‘n gefiksionaliseerde Sigmund Freud en indien ‘n mens die geskiedenis van Freud se lewe teenoor die roman plaas, word dit ‘n fassinerende kommentaar op Freud se denke, erotiek en tekste soos Die wolfman en die Dora-saak. 

Waar Dominique Botha se roman Valsrivier eindig met ‘n gedig, begin hierdie roman met ‘n gedig na ‘n briefwisseling. Botha se roman is ‘n Bildungsroman en ek dink The white hotel (my kopie val al uitmekaar) sou ‘n mens as ‘n briefroman kon beskryf met ‘n dosis historisisme. Botha se teks fiksionaliseer eweneens haar lewe; trouens, dit is meer as haar lewe en die “valsrivier” is die onbewuste … 

In sy voorwoord tot sy roman skryf Thomas dat ‘n mens nie die terrein van histerie kan besoek sonder om van Freud kennis te neem nie. Hy skryf: “Freud becomes one of the dramatis personae, in fact, as discoverer of the great and beautiful myth of psychoanalysis. By myth, I mean a poetic, dramatic expression of a hidden truth …” Hy verwys ons verder na volumes 3, 8 & 9 van die Pelican Freud library. Oor die “scietific validity” verskil ek van hom. Die roman handel ook oor die holocaust en die vraag is: waarom die soektog na die “hidden”, dit wat weggesteek is. Die film Caché (Hidden) van Michael Haneke gee waarskynlik weer ander sleutels oor dit wat ons represseer of berg, net om iewers uit te spring … (Hieroor gesels Haneke uiters insiggewend in ‘n onderhoud.)

Kommentators binne die moderne sielkunde is geregtig op hul afwysing van Freud en Jung. Sy relevansie lê in die transportasie van en na die letterkunde en filmkuns. 

© Joan Hambidge