Showing posts with label Genugtig Uitgewers. Show all posts
Showing posts with label Genugtig Uitgewers. Show all posts

Tuesday, February 26, 2013

Marlize Hobbs - Flarde, ‘n novelle (2005)



Marlize Hobbs. Flarde, ‘n novelle. Genugtig! Uitgewers, 2005. ISBN 0 9584604 4 2.

Resensent: Joan Hambidge


Flarde, van Marlize Hobbs, is ‘n klein juweel. ‘n Eenvoudige, dog slim gestruktureerde vertelling van ‘n maatsakplike werkster se ervaring van ellende, armoede, verkragting in ‘n klein gemeenskappie, Ganyesa.

Die leser word terselfdertyd betrek by die ek-verteller se poging om ‘n roman te skryf en soos dit dan dikwels die geval is in die sogenaamde meta-roman, word die leser deel gemaak van hierdie fassinerende spel tussen roman-werklikheid en skryf-werklikheid. 

Tussendeur is daar jeugherinneringe, ‘n shrink, J (die mentor) wat help orden aan die vloed van emosies, herinneringe en neuroses. Die ek-verteller as skrywer laat ook háár perspektief resoneer met dié van die swart mense wat haar besoek. Dit verduidelik dan die titel van die novelle: ons beleef ‘flardes’, nie ‘n geheel nie. 

Die vertellende instansie is ook nie altyd betroubaar nie – sy beleef intense epileptiese aanvalle, is verslaaf aan valiums en waarsku die leser ook subtiel dat sy verskillende selwe kan skep – onder andere sien ons dit in haar optrede in Sênet, die gesprekskamer van Litnet. Vir die ernstige prosaleser is dit ook ‘n boek wat vele herlese en nadenke inhou. Vir diegene wat dit gewoon as ‘n storie wil lees is dit ook aan te beveel.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]

Thursday, February 14, 2013

Jeanne Goosen - Elders aan diens (2007)



Jeanne Goosen. Elders aan diens. Genugtig!, 2007. ISBN 978 0 9802606 6 3.

Resensent: Joan Hambidge

Jeanne Goosen is nie net ‘n groot prosaskrywer nie. Of satirikus nie. Nee, sy is ook ‘n digter wat in die swentigerjare bekendheid verwerf het met bundels soos ‘n Uil vlieg weg (1971) en Orrelpunte (1975). Maar dit was binne ‘n tyd toe die Afrikaanse digkuns geswalk het onder vrye verse en dikwels tuglose, bandelose verse waaraan hierdie leser nie veel erg had nie. Tog kom daar in hierdie tyd Wilma Stockenström, Antjie Krog, Stephan Bouwer, en Goosen na vore.

Goosen wat dig oor waansinnige rugby-wedstryd en die verlange na die geliefde wat net droefheid tot gevolg het.

Die jongste bundel heet Elders aan diens, ‘n treffende titel om die digkuns te reguleer tot iets buite die normale, die grensoorskrydende. Ook om dit te tipeer as iets waarmee jy besig is terwyl jy ‘n ander werk behartig. Bykans soos ‘n persoon wat in ‘n Ongevalle-Afdeling werk. Of vir ‘n nooddiens. Goosen skryf dan dikwels oor die persoon wat buite die normale orde beweeg en as “waansinnig” of “bossies” verklaar word. Die verskoppeling, die afwykende, die verdrukkende, die stemlose, die vernederde – aan hierdie mense gee sy stem. Terselfdertyd verfoei sy valsheid, napratery, die Regering, Onnoselheid. Haar kennis van die wetenskap en musiek is kenmerkend van haar rubrieke.

Dit is gedigte wat jou tref met ‘n reël soos:

wanhoop het feller as die lied van liefde geword

‘n Mens bly deurgaans bewus van die breekbaarheid van alles. “Wat sag is vergaan”, het Goosen op ‘n keer gedig en Johann de Lange het tereg hierdie weergalose reël vir ‘n bundel gebruik.

Die digkuns is vir die meeste mense nutteloos – dit is soos afval in swart vullissakke
“By Copernicus leen ek ‘n slim slypglas” speel in op Wilma Stockenström se onvergeetlike gedig oor die mens as vernaamdoener “Ecce Homo” uit Spieël van water (1973). By Goosen is die verse kennelik bedoel om voorgedra te word. Dit is praatverse, bedoel vir die oor en hierom is daar duidelike truuks soos herhalings en wendings om die gehoor se aandag gevange te hou.

Dit gaan in hierdie bundel om die aweregse blik op die mens en hierom word toonlere agterstevoorom gefluit (“Ek is die voël / wie se knieë / potsierlik / andersom / buig”). Die gedigte het dikwels nie opskrifte nie en stroom as’t ware inmekaar in. Dit maak die leeservaring anders as by gedigte met opskrifte. Dit is asof die digter opsetlik die leser wil meesleur en wegvoer. Die proses van skryf word gelykgestel aan die (banale) beeld van eiers in bokse. Ek het selde ‘n bundel gelees waarin daar soveel reëls is wat ‘n mens wil uithaal, opvou, bêre, aanhaal. 

Dit is elke keer ‘n swenkslag van die waarneming wat jou tref. Dit is dan gedigte wat nie met ‘n intellektuele spel besig is of met intertekste woeker nie. Dit werk met die massiewe surrealistiese verbeelding van die eenmalige Jeanne Goosen. ‘n Mens vind in hierdie gedigte dieselfde kwaliteit as in Om ‘n mens na te boots (1975) waar die grense tussen verbeelding / werklikheid geproblematiseer en opgehef word. ‘n Mens word al lesende deel van die verbeeldingswêreld van die gedigte. Die leser bekend met Goosen se rubrieke in BY sal kodes terugvind in hierdie gedigte. Sy skep dus haar verwysingsraamwerk wat sy kodeer en dan weer ten gronde maak. Sy skep die stuk vervalsing en breek dit terselfdertyd af. Sy wonder oor die mens se onvermoë om net te wees. Sy kla die geliefde aan oor haar onbehendigheid om te kan liefhê. Dit is dan volledig poësie van ontnugtering, met sowel die self as met ander.

Die siel is skyn
die roede ook

Haar teikens is skynheiligheid. Die huwelik, sereremonies – alles wat pronk en praal en prul.

Die leser word gevra om liefs sy / haar bek te hou – want wie is after all die fokken poet hier? (p. 25)

liefde is luukse waansin

Die metarefleksie, bekend aan haar prosawerk, vind ons hier. Die gedig gebeur voor jou oë (p. 27). ‘n Vers soos “Irmgard dans” is Goosen-vintage: humor, musikaliteit en ontnugtering. Ai, Jeanne wie kan dans soos jy?

Die lykdig oor die pa (p. 35) wat ons al jarr lank ken, bly die roerendste aanklag teen God se stilte en die dwingende verlies wat Goosen vir ons karteer:

Maak U Genade aan hom duidelik – en ook U soort apartheid.

Hierdie gedig beweeg in die volledige nihilisme in. Dit is ‘n vers van aanklag en verwonding; opstand en negering.

Ek kan hierdie gedig nie lees sonder om ontroer te word nie. Die gedigte beweeg oor gevaarlike afgronde heen – maar stort nooit na benede nie. Trouens, in die vers opgedra aan Ryk Hattingh, wat tans in Nieu-Seeland woon, sien ‘n mens hoe sy dig. Verlange en verbeelding saamgevoeg. Sy kan volledig een word met iemand anders se eensaamheid en verwonding. Sy dra dan die dubbele las van daardie mens se pyn wat haar eie word.

Maar wat! Daar is ook humor. Nes jy nie meer kan lees nie, omdat jy verblind is deur jou eie trane, duik daar ‘n vers op wat jou laat skaterlag soos oor die oupa wat wyksouderling en ‘n deutrapte rassis is.

Die Bybel dreun dikwels saam. Die religieuse aanhef en die debunking daarvan (“Glo”, p. 47) en die vers “Spesiale Kersaanbod” (p. 50) wat soveel ontsteltenis by lesers van dagblaaie veroorsaak het wat nie die konsep ironie onder die knie het nie.

Geluk is pilvormig.Plesier is chemies.
...
Skryf is ‘n persoonlike gevaar

Welkom terug Jeanne Goosen! Jy is en bly ‘n verstommende kreatiewe energie in ons letterkunde. Dis poësie wat ‘n mens roer, laat lag, laat huil en hoop gee: daar is lewe buite intellektuele spel. Ons het hierdie soort digkuns nodig. Broodnodig!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Leopard’s leap-leesmedalje vir Litnet geplaas.]

Wednesday, February 6, 2013

Elna Crouse - Gestaltes van ‘n dogter – in konfigurasie (2007)



Elna Crouse. Gestaltes van ‘n dogter – in konfigurasie. Genugtig! Uitgewers, 2007. 9 780980 260632.

Resensent: Joan Hambidge

Gestaltes van ‘n dogter – in konfigurasie is ‘n bundel van Elna Crouse. Dit het by Genugtig! Uitgewers verskyn en volgens die agterplat word daar in hierdie bundel ‘n volledige en tipiese beeld gegee van verkragting. Die klassieke simptome en verwerking daarvan, glo. Deborah Steinmair loof hierdie bundel as ‘n ongewone en merkwaardige versameling gedigte wat met verbysterende ambisie die haas onverwoordbare verwoord.

Verbysterende ambisie is dit nou helaas nie. ‘n Mens is strykdeur bewus van die persona se Hades en die worsteling met die ontstellende pyn.

Pyn, verwerping, ellende is egter geen waarborg vir goeie poësie nie. As dit so was, sou daar meer digters op aarde gewees het reëndruppels. Trouens, die bundel laat by hierdie leser die indruk van iemand wat nog met die eerste fase van gedigte werk. Dit is gedigte op soek na vorm, distillasie, afstand, beheer.

Dit is jammer dat die bundel in so ‘n rouvorm gepubliseer is. Die leser word bewus van ‘n Jungiaanse insig, naamlik dat daar geen lig sonder skadu kan wees nie, en geen psigiese heelheid sonder onafheid en pyn nie. ‘n Gedig soos “In die woud” (63) wys dat hier talent is. Die bundel beoordeel aan die eise van die digkuns faal egter.

Miskien moes dit eerder binne die private ruimte van ‘n sielkundige spreekkamer gebly het of as ‘n skryfstuk aan vriende en geliefdes.

Die mitologiese verwysings (Demeter, Hades, Persephone, ensomeer) kon met groter afstand die gedigte gered het.

Die verwysings na Nietzsche en Jung onder andere wil die gedigte anker in ‘n groter verwysingsveld, maar dit word niks meer as los motto’s rondom die gedigte nie.

Met die pyn en verwerking daarvan het hierdie leser wel eindelose erbarming.

Steinmair skryf verder: “Die gedigte is outentiek, eg en reverbereer tot in die rugmurg om dae lank by die leser te spook.”

Miskien het sy ‘n ander bundel gelees as hierdie leser. Nee wat. As ‘n mens psigiese geskondenheid en die verwerking daarvan in gedigte wil lees, tel liefs ‘n Sylvia Plath of Anne Sexton op.

Ongewoon, merkwaardig, verbysterend ensoaan is woorde wat vir werklike digters van formaat gebruik word. Anders word dit leë, niksseggende woorde wat later soos ‘n tafel se poot ‘n dooie metafoor is.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Karin Cronjé - Alles mooi weer (2008)



Karin Cronjé. Alles mooi weer. Genugtig! Uitgewers, 2008. ISBN 978 0 980 2606 8 7.

Resensent: Joan Hambidge

Die verskyning van Karin Cronjé se Alles mooi weer is ‘n prestasie vir die uitgewershuis Genugtig!. Nou onlangs het die skitterende Elders aan diens, ‘n digbundel, van Jeanne Goosen hier verskyn.

Die roman is ‘n besondere vernuftige verkenning van vertelstrategieë en binne die veld van die narratologie sal dit teoretici en gewone lesers boei.

Die verhaal van professor Hilette Barend, ‘n professor in die antropologie, se soektog na Pearl Poplin, ‘n hawelose is die oppervlak-verhaal.

Die leser beleef op ‘n unieke wyse die gemoedstoestand van die karakter. In Hettie Smit se Sy kom met die sekelmaan vind die gemoedskeiding plaas tussen Maria en haar skadukant, Marie. Hier, in die derdepersoon, is ons in die bewussyn van Hilette geplaas. Die roman begin:”Knap gedaan, Dame. Hier hardloop jy, aangepor deur die radio-omroeper se ontsteltenis, in jou geel uitrusting, op jou geel wankelende hofskoene, langs die grootpad”.  Sy word dus deur ‘n vertellende instansie agter die gegewe vir ons voorgestel. 

Deur die instansie se oë word daar kommentaar gelewer op die ‘profil perdu’. En later verneem ons haar kop klets (p. 11) en dan “jou kop klets. Bly ek. Geen mens het so ‘n deurmekaar gesprek nie. Man, elke mens onder die son praat so met homself. Hoe anders? Daar is hope ervarings waarop mens reageer”.

Sy is op pad Kaap toe vir ‘n gaslesing aan die UK en om ‘n vergadering by te woon oor die moontlike deïnstitusionalisering van geestesinrigtings te ondersoek, Klaus Hufnagel te sien en om Pearl Poplin op te spoor. En ook om van die ma (en dus haar verlede) te probeer ontvlug. Hierdie aspek word as’t ware die dinamo wat alles voortdryf: ons verneem later van ervarings met die broer. En ander jeugindrukke.

Sy droom van ‘n vinnig-spinnende aardbol en die leser beleef die gemoedstoestand van ‘n uiters gespanne vrou op ‘n ‘edge’.

Verbonde aan die Department Antropologie en Ontwikkelingstudies en hiermee word die politieke dimensie van die roman eweneens gelaai: van volkekunde tot ontwikkeling- of diversiteitstudies. Die ewige spanning tussen ons / hulle (polities) word uitgespeel in die opposisie tussen Hilette en Pearl.

Die opwindende aspek van die vertelstrategie is dat die leser gekonfronteer word met ‘n Banier wat lees:

Die vrou sit in eersteklas. Teen ‘n onbetaamlik hoë koste bekom. Sy neem haar lewe in oënskou.

Dit is baniere buite die bewussyn van Hilette, amper soos onthou-stiekertjies op ‘n mens se yskas.

Hierdie baniere beweeg reg deur die roman en kan gelyk gestel word aan ‘n soort ouktoriale instansie wat die vertelling beheer of manipuleer.  In die negentiende en twintigste eeuse romankuns word dit gebruik as ‘n opsomming vir die verhaal. Voor die hoofstuk begin, word daar vir die leser vertel wat gaan gebeur. Die romans van Thackeray, byvoorbeeld. In moderne romans word dit geparodieer. Daardie instansie is nie die skrywer nie. Dit is ‘n vertelinstansie wat die verskillende gegewens bymekaarhou en dikwels didaktiese kommentaar lewer op die doen en late van die karakters.

In hierdie roman is dit ‘n soort beheer oor die psigiese ineenstorting of transformasie wat die hoofkarakter gaan beleef. Sy dra immers die tekste van Pearl in haar gemoed. Deur Pearl kom sy onder andere tot ‘n ander siening van haarself en kan sy tot ‘n nuwe lewe kom: een sonder hoop of vrees.

Nec spe nec metu (nóg met hoop nóg met vrees) lui die motto.

Dus net soos dit is.

“Ek voel. Ek kyk af.

Uit my naeltjie groei ‘n sprietjie. ‘n Langneksprietjie, kyk, die moedige wasgroen blaartjies. Waai liggies op die sprietjiepunt. In die nuwe maan. Nóg met hoop, nóg met vrees” (p. 228).

Teenoor die hoogs gesofistikeerde taalgebruik van Hilette, is daar Pearl se gebruik van taal. Spelfoute, verskrywings, maar direk uit die bewussyn. En van Pearl se aliase is Maria!
Die roman se ondersoek na die middeljarige, maskerlose vrou wat ‘n intreerede moet lewer se sterk politieke kommentaar beweeg dwarsdeur die roman. Wat sy dink en sy uiter oor ons vrese, oor die spanning tussen toe en nou, word uitgebou in die verhouding met die afwesige Pearl. (Ek sou die klag van die student oor die appropriasie van materiaal sterker uitgebou het.)

Die Latynse uitsprake regdeur die roman is ander manier waarop die hoofkarakter orde probeer skep in haar gemoed. Die rol van Birdy en die verdringing van die seksuele eksperimente verdien verdere ondersoek in ‘n roman waar Hilette se verhaal met Pearl s’n gesinkopeer word. In die brief oor Hilette se ervaring van ECT (p. 212) word die leser aan ‘n mediese analise onderwerp en haar optrede – wat grens aan die obsessionele – verder onthul.

Volgens Gerrit Olivier is hierdie roman “die mees volgehoue uitbeelding in Afrikaans van ‘n persoonlikheid op die rand van rasionele beheer oor haarself”. 

Dit is inderdaad ‘n kragtoer, veral wat die unieke hantering van die vertelstrategie betref. En die gebruik van erotiese woordeskat.

Lesers wat belangstel in die narratologie, sal hierdie ‘n fassinerende teks vind waar die spanning tussen vertellende instansie en fokalisator (die een wat sien) voortreflik uitgebou word.

Die roman is voortreflik versorg deur Ria Barnard.

Dit is ‘n stunning boek.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Leopard’s Leap Mini-resensie Litnet geplaas.]