Showing posts with label Rapport. Show all posts
Showing posts with label Rapport. Show all posts

Sunday, May 6, 2018

Resensie | Pieter Fourie – Bidsnoer (2018)

Pieter Fourie – Bidsnoer. Naledi, 2018. ISBN 978-1-928426-06-6

Resensent: Joan Hambidge

Bidsnoer is die tweede bundel van die bekende en bekroonde dramaturg Pieter Fourie wie se digterlike debuut Knapsekêrels verlede jaar verskyn het. Sy debuut is goed ontvang.

‘n Bidsnoer (op Engels rosary) aktiveer die aanslag van die digter met afdelings van toktokkie tot bidsnoer.

Die klein programgedig voorspel:

in ’n string
tussen voorvinger
en duim
gly sonder verset
dekades verby
in prewelgebed:

En hierdie dubbelpunt maak dan die verskillende afdelings oop vir die leser. 

Die tweede bundel is ‘n bliksem en party digters word beslis van Pegasus afgegooi. Hier gebeur dit nie. Die digter is vaardig in sy erns en guitigheid; in sy speelsheid en hartseer. Party lesers mag dalk voel die bundel is nie ‘n genoegsame vooruitgang of verdieping nie. Basta. ‘n Digter doen wat hy of sy kan doen en die onmenslike eis van “vernuwing” is vir min van onse digters beskore. 

Hierdie bundel sluit duidelik aan by die reeks “los kraletjies” uit die debuut. Daar is reeds gewys op die aansluiting by die “klipwerk”-reeks, die gesprek met Boerneef en die bewaring van ‘n ou, amper vergete kultuur en die nostalgiese verlange na 'n verlore jeug.

Boerneef se berggansveer word direk aangespreek in die gedig “misterie” (10).

misterie

(vir boerneef)

sy’t male sonder tal
skimpskaam
hoog bo wupperthal
berggans gevra:
“het jy nie altemit
al weer ’n veer laat val?”
vergeefs
penorent
in waaisand
pronk ’n veer
kiertsregop
in ouvroutjie
se skoolinkpot

(22)

Eenvoudig, dog mooi.

En in "heildronk" weet die leser nou wié die aangesprokene in 'n nartjie of anys kan wees! 'n Heerlike gesprek rondom die drinkkultuur wat al gebloemlees is deur Daniel Hugo en Etienne van Heerden: Miskien sal ek die wingerd prys; ryme en gedigte oor wyn en sterk drank (Tafelberg, 1989).

heildronk

(vir d.j. opperman)

altyd
gewonder
wie sy is

vanaand
na ’n pernod op ys
kry ek snuf in die neus

besef
jý is
die iemand in anys

(6)

Die leser word weer eens van ‘n handige woordelys voorsien. Ahem keelskoonmaak: bloeskoptoon beteken kaalvoet-wintertone en gatwikkel dui op seksuele omgang. Mondpitte is tande en moot is ‘n drol!

‘n Sentrale gedig is die vers wat jou aan die keel ruk, "skadu" met sy behendige ryme. 'n Verwysing (subtiel dalk) na Van Wyk Louw se goeie hond wat trap in jou spoor in "Ballade van die bose"?

skadu
met my eerste lig
het ons ontmoet

naelstring pas geknip
toe naelstring jy
skaduwee
voetstoots vir my
lewenslank geboei

en so kon jy
plat parasiet
my kom en gaan
ongenooid  geniet

sonder om ooit
’n woord te sê
’n eerste beweging
hoe gering ook al
te maak

sonder om
asem te haal
pyn te dra
of self ’n druppel
bloed te giet

lanterfanter
later gedog
ons ken tog
elkander

in laaste asem
sal ons groet
mekaar verlaat
onvergenoegd

(77)

“kwint” (65), “wat is die dood?” (53), “veldgebed” (67) en “raaisel” (49) is verse wat hierdie leser altyd sal bybly.

Hoe jammer dat so ‘n mooi bundel berderf word deur onooglike setfoute: op die binneflap kort ‘n vers 'n deelteken; op bladsy 24 lanbou-weekblad in plaas van landbou-weekblad; eksra in plaas van ekstra op bladsy 29.

Dis ‘n pragtige bundel, maar miskien is die “nuutheid” nou minder “nuut” omdat die boek te na in die skadu of lig van die debuut staan?

Maar steeds volksryme wat in hul speelsheid en eenvoud bekoor.

Van die kleiner ryme word wel in die lang bidsnoer gelaai met betekenis en implikasie.

En pasoppa, die eenvoud van hierdie verse is bedrieglik! Wat hierdie bundel bewys, is hoe Boerneef en die volksvers weer terugkeer na jare se vergeet (selfs by moderne digters soos Breytenbach en Johann de Lange) en van die krag van hierdie soort onopgesmukte vers. Antoinette Olivier se Optelklippiessluit hierby aan.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport))

Sunday, February 18, 2018

Polemies | Joan Hambidge - Desmond Painter: 'n kanttekening (2018)

In sy resensie van Nuwe stemme 6 betrek Desmond Painter, sélf 'n nuwe stem wat nog nie as solo-stem gedebuteer het nie, mý in sy resensie (21 nuwe ‘liggies’ te verwelkom | Netwerk24Besoek 18 Februarie 2018).

Hier is veel om te geniet; selfs vir Joan Hambidge, skryf hy.


Painter se speelse dwarsklappie - iets waaroor ek my beslis nie geërger het nie - verswyg egter dat ek etlike nuwe stemme in Afrikaans begelei het as dosent in kreatiewe skryfwerk: Carina Stander, Aniel Botha, Karen Kuhn, Hendrik J Botha, Martina Klopper, Fourie Botha, Juanita Louw, Hennie Nortjé, Michèle Betty, om enkele name te noem. As 'n aanbieder van werkswinkels aan die UK, en elders, het ek al etlike jong mense gehelp en aangespoor. Soos Corné Coetzee, byvoorbeeld.

En ek sorg dat hulle elkeen 'n unieke stem ontwikkel.

Hy wonder of ek Bruce Springsteen sal raaklees as interteks? Inderdaad. Pas my Springsteen-memoir vir my buurman gegee.

Met ander woorde: om 'n debutant te resenseer, moet insigryk, aanmoedigend wees en die persoon reg inskat. Eerder nuttige wenke bevat as die aftakeling van Ruan Fourie se debuut deur 'n gunsteling noordelike kritikus (Woorde wat weeg/ Resensie | Ruan Fourie - ‘n Ope brief aan Dorian Gray, Protea Boekhuis: 2017).

Nie dat 'n mens alles voor die voet moet en behoort goed te praat nie. Back to the drawing board, is immers 'n goeie leuse, maar Painter se meewarige resensie laat my dink aan die Facebook-polemiek twee jaar terug oor wat Lacan nou juis te make het met ons studente-opstande. Wel álles. Lacan en Kristeva was simpatisante aan die Sorbonne vir die opstandige studente van 1968.

Maar dis net 'n tersyde. Lacan se "empty speech" is dikwels van toepassing in ons openbare diskoers.

Alvorens 'n mens nuwe stemme resenseer, moet jy dalk self 'n solo-vlug onderneem het?

En daar word relatief min gepubliseer in Afrikaans? Weer 'n aanvegbare opmerking, meen die uwe.

En vir die rekord: wanneer hetero mans in verkleinwoorde praat soos "liggies" dan wil ek gil. Dis daardie patriargale hovaardigheid wat uitgewis moet word.

© Joan Hambidge

Resensie | Leonhard Praeg – Imitation (2018)

Leonhard Praeg - Imitation. University of Kwazulu-Natal Press, 2018. ISBN: 9781869143749

Resensent: Joan Hambidge

Leonhard Praeg se roman Imitation beslaan 300 bladsye. Dit is 'n roman wat gepubliseer is deur 'n akademiese uitgewershuis en die skrywer is 'n professor in filosofie. Boonop tree dit in gesprek met Milan Kundera se beroemde roman Immortality (1990), en word ook betekenisvol opgedra aan Kundera as 'n geskenk.

Immortality vorm deel van 'n trilogie, te wete The Book of Laugher and Forgetting en The Unbeararable Lightness of Being.

Soos Kundera se roman hou dit nie by die gewone plot-konvensies nie. Dit is veral 'n roman van allusies en intertekste. Die leser word 'n toehoorder en onderrig in die betekenis van lees. Wat is lewe? Wat is dood? In Kundera se roman is daar 'n vriendskap tussen Goethe en Hemingway in die ander oord.

Praeg erken dat hy karakters en dialoog oorgeneem het - soos Professor Avenarius.

Hierdie roman begin traag, maar wanneer dit jou beetpak en jy die sleutel waarin dit geskryf is, snap, word dit 'n besonderse leeservaring. Dit bevat selfs sketse van die St Peters basilika (p. 100 -103). Hier word daar kommentaar gelewer op Our Lady of Peace in Yamoussoukro, Cote d’Ivoire, 'n nabootsing van die oorspronklike, maar groter as die eerste.

President Houphouët-Boigny het dit as 'n geskenk aan die pous gegee wat nie geweet het wat om daarvan te maak nie. Hieroor word daar boeiende kommentaar gelewer: oor die kwessie van 'n armoedige land wat sulke uitspattigheid aanbied, oor magsverhoudinge, oor hubris, en veral oor die numineuse (p. 210 - 211).

Die roman is dan uiteindelik 'n besinning oor die skryfproses en hier was Roland Barthes (1975/1977) deur (par) Roland Barthes, daardie outobiografiese roman-cum-teoretiese handleiding van nut.

Ten spyte van die "akademiese" aanslag, is dit 'n boek wat 'n mens emosioneel raak.


Kundera se roman is in 7 afdelings verdeel. Praeg besin oor sy roman via dié van Kundera:

"A novel shouldn't be like a bicycle race but a feast of many courses. I am really looking to Part 6. A completely new character will enter the novel. And at the end of that part he will disappear without a trace. He causes nothing and leaves no effects. That is precisely what I like about him. Part 6 will be a novel within a novel, as well as the saddest erotic story I have ever written." (Books of the times: The Novel Re-examined In a Novel by Kundera | The New York Times | Book ReviewBesoek 18 Desember 2017).

The 'imitations' of A Sentimental Journey are uniformly disastrous - turgid, farcical and insipid, skryf Iain McGilchrist in Against Criticism (Faber & Faber, 1982, 151) oor Sterne se nabootsings in Tristram Shandy. Dit is egter nie die geval hiér met die nabootsing en herskrywing van Kundera se uitstekende roman nie.

Praeg sit iets by. Hy wys hoe die skrywer karakters kan terugbring in taal (p. 265) en hoe die menslike bestaan, dikwels een van gefnuik begeerte, is. Die omgekeerde pi is eweneens tersaaklik, so ook Oedipus te Colonus is: "What is best of all is utterly beyond your reach: not to be born, not to be, to be nothing. But the second best for you is - to die soon" (p. 256).

'n Besondere studie oor Imagologie en nabootsings. Die kwessie van imagologues neem ons weer terug na Barthes se Image, Music, Text (1977) om die samehang tussen verskillende diskoerse oop te maak. Van die geskiedenis van die kerk tot Nietzsche, Marcel Proust, Milan Kundera, die staat (hier te lande en elders), die liefde, die dood, herinnering, plenitude ...

Daar is 'n bibliografie vir verdere navorsing. Ek voorspel dosente in die filosofie sal dit voorskryf. Oor die rol van die panteon onder andere. En die skrywer maak uiters subtiele opmerkings oor die rol van die moderne akademikus aan Suid-Afrikaanse universiteite - iets waarmee hierdie leser sterk kon identifiseer.

In hierdie dae van die Steinhoff-skandaal wat bewys hoe maklik alles op niks gebou kan word, is hierdie roman uiters tydig. Eweneens in 'n tyd waar die moeilik-toeganklike roman minder aandag geniet as die werklik komplekse teks.

Die boek is 'n huldeblyk aan Kundera.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport

Monday, December 11, 2017

Rubriek | Joan Hambidge - Is die Kanon in sy kanon?


Die meester-diskoers oor wat ’n “goeie” gedig is, word hier en elders te lande gedekonstrueer en herbesoek. Vier nuwe digbundels by Naledi.


I

In sy gesaghebbende studie oor kanonisering, The Western Canon: The Books and School of the Ages (1994), skryf Harold Bloom ons leef in die tyd van onsekerheid en kan nie nou al bepaal watter stemme binne die Engelse letterkunde oor ’n dekade die toon sal aangee nie.

Dieselfde geld die Afrikaanse digkuns, waar soveel uiteenlopende digters tans publiseer. Lina Spies het onlangs verminderend hierna verwys as “op die lopende band”, maar die paradigma van die Groot Kanoniseerder (soos D.J. Opperman of André P. Brink) word deur hierdie menigte aanslae ondermyn of ondergrawe – van Kaaps tot korrekte Afrikaans; van die gedig as fotostaat tot praatvers; van postmoderne verse tot estetiese verse; van die gedig-as-knapsekêrel tot loodsware erns . . .

Bo en behalwe NB-uitgewers het Protea Boekhuis en veral Naledi die afgelope tyd sterk bundels gelewer, soos Knapsekêrels van Pieter Fourie, Sulamiet van Spies en ’n nuwe Daniel Hugo-bundel, wat in 2018 verskyn.

Die “kleiner” uitgewer buite die tradisionele hoofstroom het inderdaad ’n plek en bestaansreg. Dink maar aan Wilma Stockenström wat indertyd by De Reijger-uitgewers (van Wilhelm Grütter) verskyn het totdat Opperman haar raakgesien het.

Wat volg, is ’n bespreking van tendense soos dit na vore kom in vier bundels wat die afgelope maande by Naledi verskyn het. (Lees in hierdie verband ook Hein Viljoen se insigryke bespreking in Stilet 22(2) van September 2010. Dit verskyn ook op Versindaba (www.versindaba.co.za) – tik “Groot avonture in die onlangse Afrikaanse poësie” by die soekbalkie in.)

Hier sowel as in die buiteland word die meester-diskoers van wat ’n “goeie” gedig is, gedekonstrueer en herbesoek. Vir elke sytak – postkoloniale diskoers, gay-diskoers, eko-gedigte, politieke verse, of wat ook al – is daar inderdaad ’n ander manier van lees.


II

Op die vingerpunte van die heelal deur René Bohnen. Prys: R175

René Bohnen debuteer in 2000 met Spoorsny en volg dit op met In die niks al om (2011). In haar jongste bundel, wat handel oor die natuur en wetmatighede, spreek die digter sowel die plasma om die son en sterre aan as die votum en meditasie. Ook opvallend is die verwysing na digterlike vorms en tegnieke (onder meer koeplette, rondeel, kwatryne, sonnet, metafore, groen gedig . . .) wat ’n tematiese lyn vorm én ’n bemoeienis met die digkuns illustreer.

Verder is die digter voyeur, sy skryf oor reiservarings en die dood, en lewer sterk ekokritiek. Daar is ook verse oor die kunsteorie en fotokuns, en vir die digter is kuns ’n manier van gedigte nader roep.

Dit is ’n bundel van terugkyk en terugflitsverse wat nie-chronologies, bykans in sirkelgang, gelees moet word. Amanda Lourens som dit klinkend op in haar resensie op Versindaba: Sy wys daarop dat ons in hierdie dae van soveel debatte oor wat “goed” of “sleg” is, eerder na die hartklop van elke bundel moet luister.

Hier gaan dit om die “eilandjies van stilte” en, meen hierdie leser, ook om ’n spirituele ervaring van die lewe wat die digter wil deel:

want in die vakmanskap se sirkelgang
teken gedigte net
die grade van vryheid aan (bl. 36)


III

Vuurvas deur Carel Anthonissen. Prys: R190

Carel Anthonissen se debuutbundel, Vuurvas, met ’n mooi voorblad van ’n vuurlelie wat groei te midde van (of as gevolg van) brande, bevat religieuse sowel as aardse verse. Op die agterflap beskou Marlene van Niekerk dit tereg as ’n meditasie en ’n belydenis. Ook loutering . . . inderdaad word niks gelouter of gesuiwer sonder pyn nie, wat Van Wyk Louw se “Vroegherfs” oproep.

Vir hierdie leser is die mooiste verse die eenvoudige oomblikke wanneer meditasie, belydenis en loutering saam plaasvind, soos in die gedig “Wete” (bl. 80):

vanoggend met die dag se
aankoms in die stad –
die stad met sy gedrang
wéét ek opeens hoe diep
Jy reeds in my sisteem
geskag is
ook deur my bloedstroom 
vloei

Daar is ’n hand vol verse in Vuurvas wat beslis nie verminderende resensies verdien nie: “Bergklimmer” (bl. 29) met die gespook van alleenwees, die gesprekke met die vader en die afskeid aan die moeder asook die aangrypende “Wintersaandgebed” (bl. 73) sal in die onthouboek van die digkuns – of sekerlik myne! – opgeteken bly.

An Appetite for Poetry (1989) deur die Britse literêre kritikus Frank Kermode, wat al deur Nina Auerbach die “psalmis van literatuurteorie” genoem is, sal belangrike sleutels vir hierdie bundel verskaf.


IV

Die Goddelike komedie deur Dante Alighieri, vertaal en verwerk deur Cas Vos. Prys: R175

Cas Vos se vertaling van Dante se Die Goddelike komedie is uiters ambisieus. In Afrikaans vind ons Dante terug in motto’s of intertekste, onder andere by Leipoldt, Van Wyk Louw, Opperman, Blum, Cloete en Pirow Bekker.

Verskillende vertalings van hierdie magistrale gedig word aangestip waarvan Robert Pinsky se Inferno (1994) vir my ’n hoogtepunt bly. Net soos in Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte raak die vertaler te geselserig in sy inleiding, soos op bl. 41: “Soms, net soms, kan daar dalk ’n vars briesie trek.”

Die digter situeer die gedig histories en wys op die geskiedenis van Florence en presies dít waarteen Dante gepolemiseer het. Insigryk word die leser herinner aan die struktuur van die canto’s en die canticas: “Inferno”, “Purgatoria” en “Paradiso”. Die ingewikkelde terza rima is by Vos aangepas. Sy tersines is in ’n aba-cdc-efe-rympatroon vertaal.

In die middel van ons lewensreis
het ek my in ’n donker woud bevind –
ek het die regte pad van die hand gewys.
Ag, hoe moeilik om woorde te vind;
alles so wild en woes, so donker en dig
as vrees my met elke gedagte verblind!

Die bundel bevat aantekeninge vir die speurende leser wat verdere navorsing wil doen. Soos die digter skryf: “soveel sinne, soveel gode”, en die leser kan dit vergelyk met ander vertalings binne die letterkunde. In Afrikaans was daar Delamaine du Toit, wat sy boeke self moes uitgee, maar later deur die Akademie bekroon is, en as jong student het ek die Italiaans vergelyk met Dorothy L. Sayers se vertalings.

Ten slotte is daar drie gedigte van Vos opgeneem: “Die stryd van Aleppo”, “As die gode afdwaal” en “Jesus en Dietrich Bonhoeffer” waar die noot hoog ingesit word.

Hier vind ons reëls soos:

Vlieë vroetel behaaglik met hul voetjies
aan sy wonde en slurp sy bloed (bl. 118)

Die vertaling is dus sterker as die oorspronklike gedigte.


V

Oop sirkel deur De Waal Venter. Prys: R175

De Waal Venter is ook bekend as vertaler en kortverhaal- en jeugboekskrywer, en sy nuutste digbundel, Oop sirkel, volg op Kiem (1963), Klawer (1966, saam met D.P.M. Botes en Menno Stenvert), Pols (1975) en die Engelse bundel Entangling States of Mind (2010). Volgens publisiteitsmateriaal moet die titel van die nuwe bundel só gelees word: “’n Sirkel het geen punt wat as ‘voor’ of ‘agter’ beskryf kan word nie. Enige punt op ’n sirkel het presies dieselfde status as enige ander punt.”

Afdeling I en III handel oor die persoonlike geskiedenis, terwyl die tweede afdeling oor die liefde handel. In die vierde afdeling kom filosofie en wetenskap aan bod, die vyfde en sesde afdelings betrek humor en ironie, en die sewende handel oor die digkuns. Die laaste afdeling bevat prosagedigte.

In J.C. Kannemeyer se beknopte Die Afrikaanse literatuur 1652-2004 word verwys na die ek-gesentreerde poësie van hierdie digter, wat nie ’n wesenlike beswaar mag wees nie. Hy verwys na die “weinig beelding” en swak liefdesverse.

Van die geslag waartoe Venter behoort het ten tyde van sy debuut, het Breyten Breytenbach die sterkste na vore getree, terwyl Wilma Stockenström op haar beurt ’n besonderse stempel afgedruk het. Venter se verse sluit aan by die losser gestruktureerde verse uit die 1960’s en ’70’s wat assosiatief werk en wentel om opsetlik disparate én teenstrydige beelde. En so moet dit ook benader word.

In Oop sirkel is opwindende idees, veral oor die wetenskap en die gedig wat op sigself inbuig, te bespeur, maar daar is selde vuurwerk. Dikwels is dit net verkapte prosa omdat die digter ’n slim idee wil oordra, soos “Droom muskiete van elektriese skape?” (bl. 73) en “Onbekende digter” (bl. 109), wat só klink:

Hendricus van Laatmijgen
is geheel en al onbekend
in die geskiedenis van die Nederlande
van die sewentiende eeu. . .

Op bl. 108 meen die digter “poësie is die ware taal van die ongetemde gemoed!” en probeer peil wát die ware gedig bepaal, maar selfs hier in die getob oor die kunsvorm bly dit dikwels net stelling. Dieselfde geld “Poësie as ’n organisme” (bl. 103) waar ons die lewenskrag mis van die gedig.

Ons vind ook talle selfbewuste of narcistiese verse wat handel oor die digterskap in ’n voortdurende soeke na die “ware gedig”. Hier is Kermode nogmaals tersaaklik: In die genoemde teks tree hy in gesprek met Culler dat literatuurkritiek voortdurend aannames moet ondersoek oor wat goed/sleg in die digkuns behels.


VI

Persoonlik verkies hierdie leser die gedig met min woorde. Die tyd van onsekerheid, van onrus in Bloom se terme, maar die kleiner uitgewer bring die wins van vergelyking.

© Joan Hambidge


(Hierdie rubriek word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)