Monday, October 19, 2020

Resensie | Johann Lodewyk Marais – Ondertussen | Naledi, 2020

Johann Lodewyk Marais - Ondertussen. Naledi, 2020. ISBN: 978 1928518556

Resensent: Joan Hambidge

 

Johann Lodewyk Marais is 'n produktiewe en bekroonde digter wat terugbeweeg in Ondertussen na jeugherinneringe van die Oos-Vrystaatse landskap. Daar is reisverse deur Afrika en Europa. Liefdesverse en lykdigte. Ekologiese besinnings. Fragmente en langer verse. En politieke verse van langer terug en resente opstootjies.

 

Marais is eweneens samesteller van bundels oor die ekologie: Groen: Gedigte oor die omgewing (1990) en Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997, saam met die Amsterdamse digter en letterkundige Ad Zuiderent) en 'n bloemlesing róndom die gedig Winternag 100 wat in 2006 verskyn het. 

 

Die somer is ’n dag oud (1983), sy debuut, is bekroon met die Ingrid Jonker-prys en vir Diorama (2010) ontvang hy 'n SALA-toekenning. Daar is reeds elf digbundels op sy kerfstok en die leser bly bewus van 'n digter wat kennelik besig is om te bou aan 'n oeuvre waarin elke digbundel 'n onderdeel vorm.

 

Marais se verse is bekend om hul subtiliteit en suggestie. Die klein tersyde wat 'n mens altyd bybly: grootouers wat beskryf word róndom 'n skildery wat hulle nooit kon bekostig nie; 'n plaas in Harrismith waar die jeugherinneringe ópgevang word in 'n murasie; gesprekke met Pablo Neruda wat in die jongste bundel sluit met 'n vers wat Lorca en Neruda aktiveer. 'n Gedig oor Diego Maradona.

 

Landskapgedigte, so weet ons, handel dikwels oor 'n spanning tussen die buitelandskap en die binnelandskap. Die reisvers aktiveer 'n opposisie tussen bekend en onbekend. Die liefdesvers registreer (dikwels) 'n spel tussen verlange oor wat was en nou nie meer is nie.

 

Hierom die “ondertussen” van die digbundel se titel wat liminaliteite en oorgange aktiveer soos uitgespel in COVID-19: 

 

op die drumpel tussen lewe 

en nielewe het 'n organisme getalm 

 

Die bemoeienis met ekologiese kwessies (soos in AvesIn die bloute en Insektarium en ander gedigte) is opvallend en hy hou hom besig met “dinge”. Hierom dan die verwysing na J.H.H. van den Berg, die metabletikus se siening dat virusse en pandemies verband hou met ander sake. Toe Freud die onbewuste “ontdek” het, was Robert Louis Stevenson besig om Strange Case of  Dr Jekyll and Mr Hyde te skryf. Marais is fenomenologies aan die werk. Hy karteer jeugherinneringe en daar is 'n opvallende sirkelgang. 'n Soort mandala dus.

 

'n Mens sou hierdie bundel Jungiaans kon benader en nagaan hoe die digter hier tot heling en klaarheid kom.Van die oopsluit van herinneringe met die vader se bos sleutels (soos die programgedig “Sleutels” waarsku) tot die slotgedig “Ode” wat inspeel op Neruda en natuurlik, die vertaler, Uys Krige in Spaanse dans.

 

Harrismith, Afrika, Europa en die Ooste word in reisverse opgeteken. Dit word geplaas teenoor lykdigte en liefdesverse. In die lykdig oor die nooit volprese sinoniem-optekenaar en rymsamesteller, Louis Eksteen (wat hy waardig en hoflik as u aanspreek), skryf hy:

 

Die dood het baie/min sinonieme.

 

In Johann de Lange se jongste bundel Die meeste sterre is lankal dood, 'n tydgenoot, is daar soos by Marais 'n vers vir Elsa Joubert. Hier is daar 'n identifikasie met haar as reisiger, 'n tema wat regdeur Marais se digkuns loop. “Vroue van Bakavu” gee blyke van die digter se uitmuntende vormbeheer van die villanelle, 'n moeilike digvorm met 5 tersette wat sluit met 'n kwatryn.

 

Alles word in terme van die digkuns bepaal. In “Mate” word dit meer as mates neem vir klere; dit word 'n vers waar “presisie geld”. Hiermee bewys die digter sy vernuf om die tegelykertydsaspek van 'n gedig weer te gee: oënskynlik oor iets buite die waarnemer, maar ook implisiete ars poetica.

 

Die gesprek met Van Wyk Louw is eweneens hier aanwesig. Die debuut het dit reeds aangekondig en in die vers “Herinnering” is hierdie digter eweneens besig om in “sterre-en-helderte” na te skryf. “Versugting” is 'n palinode van Louw se bekende 

gedig “H. Petrus” in Tristia:

 

My land, my dor, verlate land:

iets wens olywe groei in jou:

dat alles klein, Latyns, gaan word

en kalk-wit kerkies bou.

 

So klink Marais se “Versugting”:

 

My geil, versaakte kontinent:

Iets wens olienhout groei in jou

dat alles Afrikaans sal bly

en kerk, tempel en moskee hou.

 

“Die lig boots die metrum van 'n vers na”, artikuleer hy verder sy bemoeienis met die digkuns in “Vuurtoringrit”.  

 

Waarom net W.S. by 'n gedig? Of wil die digter juis die leser uitdaag om die interteks reg in te skat?

 

Waar die laaste twee bundels dikwels te gestroop en spaars was, is hierdie bundel oorvloedig en aangrypend vir al in die jeugherinneringe. Die gedigte oor Afrika veral is besonders. As historikus gee hy dan 'n besonder interessante perspektief op Afrika wat 'n gesprek met Opperman aktiveer.

 

Daar is 'n handvol uitstaande verse in hierdie ryp, beleë digbundel.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Tuesday, October 13, 2020

Resensie | Catullus, vertalers Richard Whitaker & Douglas Reid Skinner | Crane River, 2020

Catullus: Selected Lyric Poems - Samestellers en vertalers:  Richard Whitaker & Douglas Reid Skinner. Crane River, 2020. ISBN 9780620888387

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Hierdie vertalings van Catullus is deur die gerekende klassikus Richard Whitaker – hy het Grieks en Latyn aan die universiteite van die Witwatersrand, Oxford en St Andrews studeer, en is tans Emeritus Professor van Klassieke Tale by die Universiteit van Kaapstad – en die digter Douglas Reid Skinner bekend om sy manjfieke vertalings van onder meer Marco Fazzini (2020), en ook vir sy redakteurswerk by die AVBOB-projek.

 

As digter word Skinner hoog geag (Woorde Wat Weeg | McGregor Poësie fees 2019 | McGregory Poetry festival 2019. Besoek 11 Oktober 2020)


Hierdie leser het dié teks letterlik in een sitting deurgelees. 88 bladsye gevul met gedigte vol humor, melancholie, wreedhede en kritiek op mededigters.

 

95

After nine winters and nine harvests since he began, 

         my friend Cinna, finally, has published his Zmyrna— 

while disgusting Hortensius has vomited up

          five hundred thousand verses in just one year.

 Zmyrna will reach even Satrachus, deep-channelled river, 

          and Zmyrna will still be read by distant generations. 

The Annals of Volusius, however, will perish in its Paduan

          birthplace, fit only for wrapping mackerel and chips.

 

Die grappige modernisering is skreeusnaaks – domestisering van die gegewe in die vertaalteoretikus Venuti se terme. Die teks word "huis toe" gebring sodat die leser dit kan verstaan.

 

95

Zmyrna mei Cinnae nonam post denique messem 

          quam coepta est nonamque edita post hiemem, 

milia cum interea quingenta Hortensius uno

          <versiculorum anno putidus evomuit.>

 Zmyrna cavas Satrachi penitus mittetur ad undas, 

          Zmyrnam cana diu saecula pervoluent.

at Volusi annales Paduam morientur ad ipsam 

          et laxas scombris saepe dabunt tunicas.

 

Die werk van Catullus word hier vertaal met die Latyn aan die linkerblad en die vertalings aan die regterkant. 

 

Ek doseer tans Tristia en die invloed van Latyn op hierdie digter se denke en skryfstyl is alombekend. Boonop lees die uwe elke dag Latyn sommer vir ontspanning om altyd die oorsprong van woorde na te speur. 'n Goeie breinoefening soos blokkiesraaisels. Op skool was Latyn 'n verpligte skoolvak tot standerd sewe, maar ongelukkig het 'n nuwe plattelandse skool dit nie tot matriek aangebied nie. Daarna was daar kort kursusse in Latyn. En een oor Catullus deur wyle Suretha Bruwer.

 

Die meeste lesers ken die volgend een van Catullus:

 

85

Odi et amo. quare id faciam, fortasse requiris?

        nesci, sed fieri sentio et excrucior.

85

I loathe and I love her. How so? you might ask. 

    I don’t know, I just feel it and I’m crucified.

 

II

Wie was Catullus presies? Hy het geleef 84 - 54 VC en word beskou as een die grootste liriese digters. Inderdaad gryp die gedigte mens aan. Jy lag soms hardop oor die opmerkings oor mede-digters (wat bewys dat gedigte literatuurkritiek-in-aksie is), ander kere voel jy ontroer oor die komplekse emosies oor die geliefde Lesbia wat hy haat én liefhet. Daardie odi et amo. Jy sien iets van die tyd raak en hoe mense geleef het.

 

Catullus het die tradisie van sowel die Romeinse as Griekse digkuns goed geken en sy gedigte speel in op verwysings na sy precursors in Harold Bloom se terme. (Die endnote help die leser om van die verwysings te snap.)

 

Propertius het van hom gesê:

 

Sexy Catullus also wrote erotic poetry

that made Lesbia even more famous than Helen. 

 

Lesbia is die pseudoniem van ene Clodia, 'n verbastering van Claudia, omdat haar ouers simpatie had met gewone mense. Catullus wat die stylfigure en retoriese strategieë goed onder die knie had, skryf vir en oor haar. Sy was ouer as hy en kennelik 'n baie wyse dame oor wie se doen en late allerlei skinderstories die rondte gedoen het. Cicero moes sy vriend Caelius in 56 VC verdedig oor insinuasies van pogings tot vergifting deur dié vrou. Dit het weer tot gevolg gehad dat sy "aangekla" is deur die orator van 'n bloedskendige verhouding met haar broer en dat sy moontlik haar man vergiftig het.

 

Waar of vals? Onmoontlik om te bepaal, maar ons weet Caelius was 'n opponent ...

 

Hierdie inligting is 'n obiter dictum, want wanneer ons fokus op die gedigte vind ons dieselfde psigologiese ambivalensie as in Petrarca se verse oor Laura. Norman O. Brown het immers beweer dat Petrarca haar "ontdek" het sodat hy kon dig in verse van liefde en verlating. Dieselfde geld die liefdesverse in Tristia waar die geliefde eroties besing word, maar ook weggegaan het en 'n silwer herberg in die sneeu bewoon.

 

Brown (1913 - 2002), 'n Amerikaanse klassikus en teoretikus, het insiggewende studies oor klassieke tekste geskryf soos Life Against Death: The Psychoanalytical Meaning of History (1959). Verder het hy mitologiese tekste gebruik om moderne kultuur te begryp en toeganklik te maak.

 

Die vertalers Richard Whitaker &  Douglas reid Skinner wys daarop dat Catullus in sy gedigte oor Lesbia die Saffiese stanza aanwend (vier reëls wat metries dieselfde is opgevolg deur 'n korter een). Gedigte 51 en 11 dan. Ons word verder ingelig oor die epyllion en hendekasillabes (Grieks vir 11 sillabes). En dat 'n manuskrip in 1300 in Verona gevind is. Gelukkig is dit gekopieer en bewaar. 116 gedigte. Met metabesinnings oor die funksie van die digkuns in gedig 50:

 

we had a ball scribbling in my notebooks

 

multum lusimus in meis tabellis

 

Wat 'n wonderbaarlike boek.  Richard Whitaker het ook die Iliad en Odusseia gelokaliseer in sy vertalings en dit word voorgeskryf aan vele universiteite. Mag hierdie boek dieselfde pad loop.

 

Pauci ex eis.

 

Saturday, October 10, 2020

Gedig | Joan Hambidge - Wallace Stevens | 2020

 

Jou sonderlinge staproete vind ons 

deesdae op die internet asof  

'n weergawe van hoe jy

soggens van huis na werk en terug beweeg

het na 'n studeerkamer met uitgestalde woorde 

op die eikelessenaar tussen werkseise: 

Not Ideas about the Thing but the Thing Itself ...

In 'n kladboek staan daar neergekrabbel:

Poetry represents failure ...

My blouversameling met jou gedigte

dra my deur hierdie virale dae:

The cry is part. My solitaria

Are the meditations of a central mind.

I hear the motions of of the spirit and the sound

Jou dae as versekeringsbaas in Hartford, Conn.

verklap dispute nes jou handtastelikhede

met Hemingway en Robert Frost.

Kennis van die afbeelding word nou

die nuwe-normaal, Mister Stevens.

Misverstand en misère met 'n vader,

vrou se apartleef én maagkanker,

maak Harmonium uiteindelik ongedaan.

'n Verering met 'n posseël in 2012

laat my wonder saam met Nick Cave  

hoe het jy verby hierdie troebelhede gekom

op jou verlate roetes op land en oor see:

And the waves, the waves were soldiers moving ...?


Monday, October 5, 2020

Resensie | Johann van der Walt – Parlement van uile | Naledi, 2020

Johann van der Walt - Parlement van uile. Naledi, 2020. ISBN 978 1928 518310

Resensent: Joan Hambidge

 

Hierdie debuut van die digter Johann van der Walt (uitgegee deur Naledi) heet Parlement van uile wat uiteraard Jeanne Goosen se 'n Uil vlieg weg (1971) oproep. En Sarina Dönges se In die tyd van uile (2004). Dit is 'n bundel wat getuig van baie lees en nadink oor die poësie. Uile as draers van wysheid; as aankondigers van die dood.

 

Dit is bekroon met die Ingrid Jonker L'Art Poétique-kompetisie van 2019, wat helaas iets anders as die gesogte Ingrid Jonker-prys is. Op die agterblad word ons ingelig dat dit "moderne benadering" gee tot die poësie en gedigte word "op 'n oorspronklike en teatrale wyse deurgegee". Ons word uitgedaag tot introspeksie en dan: die bundel daag die grense van die Afrikaanse poësie uit ...

 

Verder ignoreer dit reëls en "kloof sy unieke plek in die spektrum oop".

 

Met hierdie groot basuinwoorde tel jy die bundel op en wonder: wié het hierdie blakerteks geskryf?

 

Met 'n eerste lees het hierdie leser baie kanttekeninge gemaak en mooi beelde en pragtige flitse aangestip. Maar as geheel raak die meeste verse nog kant nog wal. Dit kort vormtug en gedigte beweeg alte dikwels verby die slot wat moet sluit. En terloops: die vrye vers het ánder bindmiddele wat die gedig laat "werk" soos klank, herhalende beelde, ensomeer.

 

En dis jammer dat 'n keurder of werkswinkel nie die verse wat ontspoor, kon regruk nie. 'n Digter met talent word bepaald nie 'n guns bewys met só 'n debuut nie.


Poësie breek reëls (kyk maar na gert vlok nel of Gilbert Gibson of verder terug na e.e. cummings), maar bittermin hiervan vind 'n mens aanwesig in hierdie gedigte. Johann van der Walt hét talent, maar bly weg van die uitgesponne beeld wat jy vir die leser verduidelik.

 

En daardie foefieslaaid-triek soos in "hoe om 'n digter te vermoor" waar die reël oor die bladsy afwentel, werk nie. 

 

'n Handvol mooi verse is daar wel. Beelde wat bly woeker in die onthou: 


toekoms lê kompak soos 'n sigaretboks in my hempsak


die groot maluti's staan spookagtig op die einder

argaïese pieke onder versiersuiker toegestrooi


hulle eet die winter uit leë potte


die verf gerasper tot vaalgroen parmesaanskilfers


bo my spoeg die son sy siklus


"die laaste dans" is goed soos "skoolverlaterskamp". Nes "sneeu" en "waar ek ook al gaan" en "sy dra die somer waar sy ook al gaan". Netjies en kompak.

 

Op bladsy 37 is 'n spasiefout.

 

Daar woed telkemale 'n polemiek op Facebook van diegene wat meen hoofstroomdigters is nydig en poësie moet toeganklik wees vir almal. Daarvoor gaan lees ons Boerneef of "Klipwerk".

 

Naledi speel 'n belangrike rol om digters wat nie by die hoofstroom kan uitgee nie, te publiseer.  Dis net jammer dat met elke goeie bundel daar drie minderes volg. Hierdie jong digter kán 'n bundel saamstel, maar hopelik sal hierdie aanwysings leiding gee vir 'n volgende een. Dis nooit lekker om 'n bespreking te skryf en iemand te ontmoedig nie, maar 'n gedig is nie net 'n stuk uitgesponne emosie nie.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)