Showing posts with label Louise Viljoen. Show all posts
Showing posts with label Louise Viljoen. Show all posts
Sunday, November 19, 2023
Tuesday, February 12, 2019
Resensie | H.P. van Coller, Helize van Vuuren & Louise Viljoen (samest.) - Afrikaans poems with English translations (2018)
H.P. van Coller, Helize van Vuuren & Louise Viljoen (samest.) - Afrikaans poems with English translations. Protea Boekhuis. 2018. ISBN 978-1-4853-0694-8
Resensent: Joan Hambidge
In Andrei Tarkofsky se Nostalgia (1983) lees die gids Eugenia ‘n vertaling van gedigte. Haar reismaat Andrei wys op die onvertaalbaarheid van alle kuns. Sy reageer en wys hom tereg daarop dat as dit nie vir vertalings was nie, ons geen groot Russiese skrywers sou kon lees nie.
Daar verskyn tans etlike vertalings van Afrikaanse gedigte: in 2015 verskyn In a Burning Sea (Marlise Joubert, red.), en sopas het daar ‘n derde uitgawe van Michael Chapman se The New Century of South African Poetry (Ad Donker / Jonathan Ball) verskyn. Daniel Hugo en Zandra Bezuidenhout is aktiewe vertalers van Vlaams en Nederlands. Haar vertaling van Alfred Schaffer se Mens dier ding is puik. Helize van Vuuren vertaal moeilike gedigte op Versindaba.
Hierdie hersiene weergawe van C.J.D. Harvey en A.P. Grové se bloemlesing Afrikaans poems with English translations wat in 1962 verskyn het, is behartig deur drie gesiene literatore: H.P. van Coller (o.a. die redakteur van Perspektief & Profiel), Helize van Vuuren (‘n deeglike Opperman en Breytenbach navorser) en Louise Viljoen, ‘n antoloog van Poskaarte saam met Ronel Foster; met gepubliseerde studies oor Krog en Breytenbach.
‘n Mens sal nie ‘n poësiekenner vind in Afrikaans wat nie by dié projek betrokke was op ‘n manier nie. Twee van my verse is opgeneem (ek verklaar my belange toe ek gevra word om te resenseer); ‘n ander kommentator het vrae gevra oor waarom sekere digters nie opgeneem is nie. Hierdie kwessie sou waarskynlik ‘n hele dagblad kon volmaak.
‘n Handvol digters het opname geweier en die bloemlesing is ‘n projek van die Akademie vir Wetenskap en Kuns (uitgegee deur Protea). Soms berus die kopiereg by eersgenoemde; soms by die skrywer.
Met Groot Verseboek wat alreeds drie kluiwe beslaan, sou ‘n nuwe uitgawe waarskynlik vier volumes opeis. En een leser sou in elk geval nie tans ‘n genoegsame oorsig oor ons poësietoneel kon hê nie. Ten minste vier kenners word benodig; dis nou te sê, as die kleiner uitgewers kopiereg verleen sónder die enorme onkostes hieraan verbonde.
Dalk moet ‘n mens eerder fokus op die vertalers en hoe die digkunstoneel verander en getransformeer het.
Vertalers wat hier hul merk maak, is uiteraard die Branfords, terwyl gesoute digters soos Guy Butler, Anthony Delius, Sheila Cussons, Charl J.F. Cilliers, en Ernst van Heerden (o.a.) ook behendige vertalers is. Daar is ook Tony en Gisela Ullyatt.
Lost in translation heet Sofia Coppola se film uit 2003. Wat fluister Bob Harris (Bill Murray) in Charlotte (Scarlett Johannson) se oor ten slotte?
En dis hoe ‘n mens ‘n bundel met vertalings moet lees. Elke vertaler (soos elke kyker) sal ‘n ander afleiding maak, oor wat gesegge word. Sekere digters word moeiliker getransporteer van Afrikaans na Engels, omdat die gedigte te idiomaties, boers; vol kwinte én kwinkslae sit. Byvoorbeeld Breytenbach en Krog. Hoe kan ‘n mens “ek skryf omdat ek woedend is” reg vertaal? Philander se “die bome is kiets” word vertaal as “upright” deur Andries Wessels (162). Die vertaler wou kennelik ‘n rympatroon behou, maar die woord “kiets” se betekenis gaan verlore.
“A lone goose dropped a feather light” het nie die ritme en musiek van “‘n berggans het ‘n veer laat val” nie. By Boerneef, ‘n volksdigter, is die gebruik van “thee” problematies, omdat hy juis so uniek modern was in sy outydsgeit (171).
“Hoe sal ek jou van hierdie volgehoue stilte red?” uit Petra Müller se klassieke elegie “Nico”, word “persistent anonimity” wat totaal iets anders is (246 - 247).
“Allogot!” word “Holy fuck!” (Marlene van Niekerk, 252) wat wys hoe woorde in verskillende tale anders resoneer.
“Krakeel” word “quarrel” (254). Vraagteken. C.M. van den Heever se “Voëls in die skemering” aktiveer een van die grootste probleme van die digkuns: klank. Hoe vertaal ‘n mens “Voëlgeklepper in die skemer / oor buigende riet” oortuigend? Dit word deur die Branfords vertaal as “In the twilight, birds alighting / on whispering reeds” (48-49).
Dieselfde geld die problematiek met gert vlok nel se unieke taal wat Leon de Kock aangedurf het. In “i sagte reën het agtermiddag” (286) word “uitgehol” dan “scooted out”. Tog presteer De Kock om die eiesoortige gebroke sintaksis in die Engels op te vang.
Lawrence Venuti se sieninge oor vertaling kom handig te pas. Moet die vertaler onsigbaar bly? Moet jy die teks huis toe bring of oorsee stuur? Of laat die vertaler maar altyd sy duimafdruk in die teks? (Ek is van mening dat die vertaler altyd tog maar aanwesig bly. Gaan kyk maar na D.M. Thomas se Russiese vertalings.)
Hierdie boek het my teruggeneem na Venuti studie The Translator's Invisibility: A History of Translation wat in 1995 verskyn het. Venuti on beteken tog come on!
‘n Goeie vertaler is soos ‘n goeie stemnabootser of ‘n komediant wat ander kan naboots. (Kevin Spacy kry dit volkome reg om iemand anders te word in sy komiese nabootsings. Maar ons weet dit is Spacy wat dit doen.)
Wat fluister Bill tog vir Charlotte?
Ander gedigte beweeg makliker, flinker en word verander in die vertaling. Loftus Marais klink lekker; Nathan Trantraal se egte Kaapse idioom werk nie in Engels vir my nie.
Die leser kry sowel die Afrikaanse as die Engelse weergawe. ‘n Wit bladsy sou ‘n opsie kon wees vir die lesende vertaler wat wil verskil of bywerk. ‘n Mens vergelyk onder andere die verskille tussen Harvey en J.M. Coetzee se vertalings van Ina Rousseau se “Eden” met ‘n kopknik na Coetzee op bladsy 157.
Maar kom ons fokus eerder op die landskap.
Om ‘n oorsig te gee van hoe die digkuns verander het: ‘n honderd van die mees betekenisvolle gedigte in Afrikaans, dit weet die samestellers, is ‘n saak van onmoontlikheid. ‘n Tradisie gewortel in Afrika en binne ‘n internasionale gesprek, danksy die internet, is hoe sake nou daar uitsien. Die probleme van ‘n klein mark en leesgehoor is terloops iets wat alle digters ervaar; aldus Paul Muldoon, die belangrike Ierse digter, werksaam in die VSA. En Muldoon met sy eg Ierse aanslag (en “slant rhyme”) het hom al uitgelaat oor hoe moeilik dit is om sy gedigte te vertaal.
Die indruk wat hierdie bloemlesing by my as leser laat, is hoe enorm gesofistikeerd ons ouer digters soos Marais, Totius, Leipoldt, Toon van den Heever, I.D. du Plessis en C.M. van den Heever al gedig het. En bly Celliers se “Dis al” nie maar ‘n klassiek nie!
Van formele gedigte tot die parlando; van ‘n standaard-Afrikaans tot kaaps; van rym tot vrye vers; van harde werklikheid tot droom; van artefak tot interteks; van punktuasie tot foefieslaaid; van Hoofletters tot kleinletters; van realisme tot surrealisme; van verhewe word tot vloekwoord; van intieme gedig tot woedende politieke aanklag; van ek-wou-nog-sê tot klaarpraat.
En hierdie volgende digter se verse verklap hoe mens soek na die regte grein.
“‘n skaap se derms vir die snare…”
…
skaapderm en boom plus perdehaar
kom in die geheim
in ‘n mensehart bymekaar.
Só praat T.T. Cloete (258). Nou probeer u liewe leser om bg. te vertaal.
Die landskap-omslag van Kristèl de Weerd is pragtig – dit dui ook weer iets aan oor die aard van hierdie land… ‘n pad wat kronkel, berge in die vertes, bome… Elke kyker sal iets anders hierin raaksien en waardeer.
Soos dit met hierdie bloemlesing gesteld is. Vir die hiate en oorsigte bestaan daar gelukkig ánder bloemlesings.
En ons sê almal so.
Labels:
2018,
Afrikaans poems with English translations,
H.P. van Coller,
Helize van Vuuren,
Joan Hambidge,
Louise Viljoen,
Resensie
Saturday, February 7, 2015
Louise Viljoen - Die mond vol vuur: Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach (2015)
Louise Viljoen - Die mond vol
vuur: Beskouings oor die werk van Breyten Breytenbach. Sun Press, 2015. ISBN 978 1 920338 83 1.
Resensent: Joan
Hambidge
Louise Viljoen het ‘n belangrike studie oor die werk van
Antjie Krog geskryf en sopas het daar by Sun Press ‘n uitgebreide studie
verskyn oor die werk van Breyten Breytenbach, ‘n voorste digter. Breytenbach is
‘n verwikkelde figuur om aan te pak: hy is sowel openbare figuur as uiters
private digter wat oor die dood en liefde dig; hy is skilder en
woordkunstenaar; hy is dramaturg, romanskrywer, optekenaar, ‘n
verkleurmannetjie …
Ook skryf hy onder verskillende name of konstruksies, onder
andere Buiteblaf (die hond en voël is
bekende gestaltes in sy werk). Die titel
van Viljoen se studie is ontleen aan die versamelbundel Die handvol vere (1995) en “die mond vol vuur” soos die vertalings
van Afrikaanse digters na Engels wat verskyn onder die titel In a burning sea (Protea) aktiveer die
enorme kreatiwiteit van hierdie digter. En dit verwys na die paradoks immer wat
aanwesig is in sy digkuns.
As Zen-digter en beoefenaar van die Surrealisme tot die
digter van die semiotiese ontginning van taaltekens soos (‘yk’) tot digter wat telkens
beeldend terugkeer na ou nostalgiese temas. Dit is tereg ‘n monumentale oeuvre
– soos Viljoen uitwys.
Viljoen bundel artikels wat oor ‘n lang tydperk verskyn het
en so word hierdie teks dan ook ‘n argief van die ontwikkeling van die
toepassing van letterkundige teorie hier te lande. Daar is tans byvoorbeeld ‘n
groter klem op ‘n Afrika-bewussyn en in die hoofstuk “Die naam van die digter”,
behandel sy die gebruik van eiename in sy poësie. Hier verwys sy dan na die tronkwerk en die verskillende
personas waaragter die digter skuilgehou het. Dit gee haar dan die geleentheid
om Derrida (en Culler) in te span oor die kwessie van vermenigvuldigende
betekenisprosesse (5) en hoe die leser met elke lesing ‘n ánder betekenis kan raaklees.
In die afdeling “Die digter en sy vaders” behandel sy die
kwessie van vaderfigure in sy digkuns. God-die-vader en digterlike vaders kom
hier aan bod. As leser betrek sy ook die outobiografiese dimensie, weliswaar
met omsigtigheid en dekorum, wanneer sy byvoorbeeld kyk na wie “oubaas “ kon
wees in die gedig “’n brief vir hulle vakansie”(33). Henning Snyman se analise
van hierdie gedig in Mirakel en muse
bly voortreflik.
Vir my is die afdeling oor “Die digter in Afrika” opwindend,
omdat ‘n mens hier ‘n nuwe blik op die digterskap vind. Een van BB se
digtersname is immers Jan Afrika en sy werk by die Gorée-instituut in Senegal dui op ‘n Afrika-betrokkenheid. Die
aansluiting met Afrika-opvattings oor voorvaders, die gebruik van die masker én die problematisering van grense
tussen kunswerk en leser (‘n mens dink hier aan kuns as allemansbesit), bied ‘n
nuwe leesstrategie vir die leser. Trouens, Breytenbach het nog altyd sy leser
uitgedaag oor presies wát poësie is. Vanaf sy debuut tot sy
laatwerk – ‘n mens dink hier aan Katalekte
– is hy voortdurend besig om die betekenis en funksie van die digkuns op sy kop
te keer. En al hierdie paradigmaverskuiwings vang Viljoen op.
In die afdeling “Intieme vreemdeling” betrek sy die tronkpoësie, waarskynlik van sy mees
ingewikkelde gedigte en verse waarin die postmodernistiese problematisering van
grense aangespreek word. In ‘n voetnoot op bladsy 86 – wat oorloop in 87 – maak
sy vir die jong navorser ‘n nuwe terrein oop met betrekking tot die betekenis
van sy oefenboeke vir hierdie bundels! In hierdie afdeling wys sy dan ook op
die “gelyktydigheid” wat hy met die leser wil bereik: skrywer en leser moet in
dieselfde ruimte byeen gebring word sodat kommunikasie kan plaasvind. En die
tegelykertydsaspek is immers die raamwerk van die geslaagde gedig wanneer
“innige oortuiging” in die leser se gemoed begin werk (93).
Ook die invloed van die parodie in sy werk word in ‘n
afsonderlike hoofstuk onder die loep geneem en Viljoen het al by etlike
geleenthede ‘n besondere oorsig gegee van gesprek, parodie en pastiche tussen
jonger digters en ouer digters, eweneens goed geboekstaaf in Poskaarte.
Binne versus buite, hier en globaliteit, liminaliteite
(grensruimtes), die digter as openbare figuur, digters in gesprek met BB,
uitwissing en bestendigheid word eweneens bespreek.
Dit is baie belangrike studie vir veral dosente en vir alle
liefhebbers van die digter se werk.
Dit is toeganklik geskryf met tersaaklike teorie as
onderbou. Die Lacan-verwysings, my
spesialiteitsgebied, is wel te oppervlakkig vir my gevoel. Die konstruksie van
die subjek sou hier met meer vrug ondersoek kon word.
Die boek bevat ‘n handige register vir die navorser en Sun
Press is besig om hulsef te vestig as ‘n belangrike navorsingsuitgewery
gedagtig ook aan Chris van der Merwe se Die
houtbeen van St Sergius.
(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Rapport)
Wednesday, February 6, 2013
Louise Viljoen - Ingrid Jonker (2012)
Louise Viljoen. Ingrid Jonker. Jacana, 2012. ISBN
Resensent: Joan Hambidge
Sopas het daar ‘n studie oor Ingrid Jonker by Jacana verskyn in ‘n reeks waarin kenners oor ‘n bepaalde persoon of denkrigting skryf.
Een van die mees mitologiese digters in Afrikaans is waarskynlik Ingrid Jonker. Sylvia Plath en Anne Sexton se lewens (en digkuns) skep eweneens dieselfde probleme. Hoe lees jy die gedigte los van die digter se lewe? Ons ken Alvarez se The savage god en Janet Malcolm se studie oor Plath: The silent woman: Sylvia Plath and Ted Hughes wat in 1995 verskyn het. Verskeie digters het in Afrikaans met Jonker in gesprek getree: “Ontvlugting”, “Bitterbessie dagbreek” en “Die kind” het reaksies ontlok van digters soos Antjie Krog, Johann de Lange, Joan Hambidge, Fanie Olivier, Lina Spies en Daniel Hugo. Fanie Olivier en Clinton V. du Plessis het “Die kind” ‘n nuwe stem gegee en die gesprek tussen Jonker, Plath, Tsjvetajeva vind ons in die digkuns van Lina Spies en Petra Müller, o.a.
Laurika Rauch, Ddisselblom en Chris Chameleon het musiekmakers aangespoor.
Dramaturge het eweneens oor haar tragiese lewe geskryf. ‘n Mens dink hier aan Ingrid Jonker: Opdrag deur Jana Cilliers en Ryk Hattingh in 1997 en Altyd Jonker deur Saartjie Botha in 2006. Daar is ook ‘n film in 2011 Black Butterflies deur Paula van der Oest met Carice van Houten as Ingrid Jonker, dokumentêre en inderdaad: ‘n Jonker-industrie. ‘n Kultusfiguur.
Die troebel lewe word in oënskou geneem en die turbulente en pynlike verhoudings met mans soos Jack Cope en André P. Brink word hier ter boek geplaas. Die komplekse en jaloerse verhouding met die suster, Anna, word gekarteer soos die impak van die gedig “Die kind”. Die verhouding met die ouers, veral die vaderfiguur, wat haar in die openbaar verwerp het, is al deeglik onder die loep geneem deur die digter Johan van Wyk in sy doktorale proefskrif. Dit was Van Wyk wat ons daarop attent gemaak het dat die “teks”-Jonker op die grafsteen staan: dit is alles wat tussen geboorte en dood gebeur het. Soos met Plath en Sexton kan ons die gedigte nie los lees van die lewe nie. Die lewe het die skryfproses en die siening van die digkuns bepaal: vir aldrie hierdie digters was dit ‘n ruimte van verlossing, ‘n plek van ontvlugting.
Daar word verwys na Norman N. Holland se seminale essay oor selfmoord en dat die suicidair agentskap het en ‘n bepaalde besluit geneem het: Literary Suicide: A Question of Style.
“Perhaps we can change our style and accept the fact that suicide, even literary suicide, for all that we can invest in it of the sacred, is still a human act. It embodies a choice among alternatives made through the same principles of human motivation as other choices, even though this is a choice to end choice itself,” beweer Holland (133, 134).
Lees hierdie boek. So lyk die inhoudsopgawe:
1. Writing Ingrid Jonker
2. Childhood and youth, 1933–1951
3. Early adulthood, marriage and motherhood, 1952–1958
4. Separation, divorce and a new relationship, 1959–1962
5. Prize-winning poet, 1963–1964
6. Last days, 1965
7. Afterlife
Dit gee ‘n goeie opsomming van waarom hierdie digter ons almal aanspreek:
Korreltjie sand
Korreltjie korreltjie sand
klippie gerol in my hand
klippie gesteek in my sak
word korreltjie klein en plat
Sonnetjie groot in die blou
ek maak net ’n ogie van jou
blink in my korreltjie klippie
dit is genoeg vir die rukkie
Kindjie wat skreeu uit die skoot
niks in die wêreld is groot
stilletjies lag nou en praat
stilte in Doodloopstraat
Wêreldjie rond en aardblou
korreltjie maak ek van jou
huisie met deur en twee skrefies
tuintjie met blou madeliefies
Pyltjie geveer in verskiet
liefde verklein in die niet
Timmerman bou aan ’n kis
Ek maak my gereed vir die Niks
Korreltjie klein is my woord
korreltjie niks is my dood
[Hierdie resensie word met
vriendelike vergunning van Fine Music
Radio geplaas.]
Labels:
2012,
Fine Music Radio,
Ingrid Jonker,
Jacana,
Joan Hambidge,
Louise Viljoen
Saturday, February 2, 2013
Louise Viljoen - Ons ongehoorde soort (2009)
Louise Viljoen. Ons ongehoorde
soort: Beskouings oor die werk van Antjie Krog. Sun Press , 2009. ISBN 978 1 920109
98 1.
Resensent: Joan
Hambidge
Louise Viljoen
is ‘n gesaghebbende literator en veral haar werk oor Antjie Krog en Breyten
Breytenbach kan as belangrike bydraes in ons literatuur beskou word. Ons
ongehoorde soort is ‘n versameling van artikels wat in boekvorm verskyn by Sun
Press. Op die buiteblad staan Lady Anne in ‘n koringveld: met ‘n das en baadjie
aan. Die foto som haar ambivalente posisie as digter op. Mannin en boerdogter
doer uit Kroonstad. Sy het immers op die skoolbanke al aandag getrek met haar
grensoorskydende, eerlike, kompromislose verse. Die jong dogter wat na die
onnie met haar seksuele ogies kyk, ‘n vers skryf vir haar ma en vanaf ouderdom
agtien die Afrikaanse digkuns verryk én verruim het met haar lyflike en
politieke gedigte.
Dikwels was daar
omstredenheid oor haar politieke posisie (hieruit vloei Relaas van ‘n moord);
‘n ovulasie-kaart laat feministe proes en die ouerwordende grootmoeder
gebruik die
p-woord en gooi haar pis in die blombedding.
Viljoen karteer
die volledige Krog in hierdie ryk geskakeerde en uitgebreide studie wat veral
op die digkuns fokus. As die leser nie vrede het met Krog se liggaamlike
uittogte nie, verduidelik Viljoen vir ons presies hoe dit inmekaar steek: die
groteske aldus Bakhtin en die abjekte volgens Kristeva gee vir ons sleutels.
Veral twee strome word in haar werk deur Viljoen gekarteer: die stryd teen die
Afrikanernasionalisme en die deelname aan die bevrydingstryd en dan die opstand
teen die mangesentreerde samelewing waarbinne sy haar bevind. (Hierom dan ook
die verse waar sy in opstand kom teen Opperman en die kanonisering van die
Afrikaanse digkuns.) Juis deur die vroulike liggaam as grotesk voor te stel,
soos in Verweerskrif gebeur, word die samelewing se siening van die vrou as
afwykende geparodieer, argumenteer Viljoen (220).
En dit is wat
hierdie studie so leersaam en nuttig maak. Viljoen knoop al die drade saam en
die Krog-leser (-liefhebber) kan dus deelneem aan ‘n gesprek oor hierdie
komplekse digterskap.
In die nege
afdelings word die vroulike tradisie; die geskiedenis, die teks as transparent;
identiteit in ‘n postapartheid Suid-Afrika; die reisende digter; vertaling(s);
die verhouding met die biologiese moeder onder die loep geneem.
‘n Boeiende, en
waarskynlik onbekende bydrae van Viljoen, is die vergelyking van ‘n gedigsiklus
van Leipoldt met ‘n siklus van Krog. Beide siklusse word teen ‘n prosateks van
die outeur geplaas en die verskille word vir die leser oopgemaak. Die reis met
‘n poësiekaravaan tot Timboektoe word ‘n ondersoek na mites en legendes. Dit
weer heraktiveer Leipoldt se sieninge van sy reis deur ‘n eksotiese landskap.
Skuldgevoel,
plig, begeerte, transgressie – alles psigologiese merkers van die reisende
digter, voer Viljoen aan in navolging van ander teoretici en sy kontekstualiseer
haar sieninge. Oraliteit is eweneens ‘n belangrike aspek van Krog se digkuns,
veral omdat sy bely in gedigte dat haar verse in klank(e) onstaan. Dit word
eweneens deel van ‘n hibridiese werkswyse. Krog is immers die Dogter van Jefta,
altyd buite die orde van haar samelewing én die nosie van aanvaarbaarheid.
Viljoen
verduidelik vir die leser die belangrikeid van ‘digter wordende’ in plaas van
digter wees / is. Dit is hierdie proses, hierdie durende soeke na identiteit,
wat die digkuns van Antjie Krog al vir soveel jare belangwekkend maak. Krog
verskuif telkens veilige grense en Viljoen verwys na die hoofkarakter in J.M.
Coetzee se Diary of a bad year (2007) se reaksie op ‘n Krog-voorlesing oor die
radio! (203).
“A brave
spirit”. Dis hoe ‘n mens hierdie digterskap kan opsom en danksy ‘n deeglike en
sober leesverslag van Louise Viljoen word die belaglike aanvalle (soos die
gebruik van vloekwoorde en “poetry”) op Krog se digterskap netjies onthoof.
Die studie is
voorsien van ‘n nuttige indeks wat die speurtog vergemaklik. Dit is ‘n teks wat
elke dosent behoort voor te skryf. Die studie is teoreties op datum en Sun
Press verdien alle lof. Ongehoord dan in die sin van wat nog nie gehoor is nie,
en waarvan nog nog nie kennis geneem is nie.
[Hierdie resensie
word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]
Labels:
2009,
Antjie Krog,
Die Burger,
Joan Hambidge,
Louise Viljoen,
Ons ongehoorde soort,
Sun Press
Subscribe to:
Posts (Atom)
.jpeg)












