Showing posts with label Harry Kalmer. Show all posts
Showing posts with label Harry Kalmer. Show all posts

Thursday, September 12, 2019

Resensie | Harry Kalmer – In 'n land sonder voëls (2019)

Harry Kalmer – In 'n land sonder voëls. Penguin Random House, 2019. ISBN 9781485904014

Resensent: Joan Hambidge


In 'n land sonder voëls is die laaste roman van Harry Kalmer, 'n gerekende romanskrywer en dramaturg, wat met die gesogte Barry Ronge-prys bekroon is vir sy roman oor Johannesburg, 'n Duisend stories oor Johannesburg (2014), in vertaling.

Dit heet A Thousand Tales of Johannesburg. In hierdie verhaal word Totius seTrekkerswee opnuut belig en Kalmer se blik op die geskiedenis is eweneens belangrik, o.a. sy drama oor Bram Fischer.

Kalmer was 'n uiters produktiewe skrywer. 'n Onmiskenbare stem met gestroopte prosa. Soos Ryk Hattingh, is dit vreemd dat hulle nie genoegsame erkenning in hul tyd geniet het nie. En hierom is dit goed om nou, by die lees van die laaste roman, ook te kyk na die bydrae van hierdie skrywer wat waarskynlik in die skadu van Koos Prinsloo gestaan het.

Die laaste roman van 'n skrywer wat jy lees wetend dat hy sopas oorlede is, kan uiteraard nie objektief of gedistansieerd benader word nie. 

As dramaturg, kopieskrywer en romansier het hy 'n merk gelaat. Die laaste teks is 'n distopiese roman. Dit is 'n roman oor inperking met 'n Korporasie. In die vyftiende jaar van die Ekonokrasie. Demokrasie is iets van die verlede. Die natuur is buite beheer.

“Fladdering”, “Vlug” en “Land” heet die drie afdelings. Die vertelling beweeg in ‘n sirkelgang tussen droom en onthou …

Dis 'n distopiese roman en sluit tegnies aan by Alettie van den Heever se Stof en Lien Botha se Wonderboom

Adam ('n simboliese man) se dogter Jemima het weggeraak. Sy vrou Sybille is eweneens weg. Dis 'n roman van versaking en verlatenheid. Die skrywer gebruik ook die troop van die swaksiende man om die inbeweeg in fisiese en psigiese donkerte te karteer.

Hierdie roman bewys volledig dat 'n mens nie hierdie teks kan loslees van die skrywer se dood nie. Daar is vele kodes ingebed oor hoe die werklike outeur worstel met die aanvaarding van sy eie dood. Die transponering van die verlies van sy vrou en kind is in Jungiaanse terme sy anima én verwonde kind.

Dit is ‘n roman waarin die skrywer op 'n sober wyse afskeid neem van sy eie lewe. En steeds kritiese kommentaar lewer op 'n samelewing waar demokrasie al hoe meer 'n abstraksie word. Die eko-politiese kommentaar is eweneens relevant.

Dit is ‘n boek wat as ‘n laaste teks gelees moet word: ““Nog nooit so hard gewerk om 'n boek klaar te maak. A deadline that can't be moved.” Dit staan opgeteken in die aangrypende huldeblyk deur Erika Murray-Theron (Harry Kalmer, ’n persoonlike huldigingLitNet. Besoek 10 September 2019).

Binne sy uitgebreide oeuvre is dit ‘n kleiner werk, maar steeds beduidend oor die temas wat dit aansny. 

Die boek is 'n bittersoet elegie en die slot sny pynlike verliese aan. Dit word opgedra aan die skrywer se lesers. Daar is 'n innerlike samehang tussen die kursiewe gedeeltes en die gewone vertelling. Die roman begin omineus – en dit gooi 'n skadu tot die einde in die ekonokrasie en politiek wat geprivatiseer is.

Die boek artikuleer 'n taal van onthou.

Die slot is oop:
Ek leun terug in my stoel en vryf my oë. Staar lank na die swart letters op die skerm. Die einde van een storie is maar net die begin van 'n ander. In die vertrek langsaan begin musiek speel. Dit is die vierde deel van John Coltrane se A Love Supreme. “Psalm.” 31 Desember 2018Sterrewagkoppie
En daardie werk van die jazz saxofonis bly in die gemoed draal.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Monday, August 11, 2014

Harry Kalmer - 'n Duisend stories oor Johannesburg (2014)



Harry Kalmer : 'n Duisend stories oor Johannesburg. Queillerie, 2014. ISBN 978 0 7958 0080 1
Resensent: Joan Hambidge

I

Wat kom na postmodernisme?, is die vraag by vele literatuurteoretici. Nie dat modernisme en postmodernisme so eenvoudig geskei kan word nie, maar ek is van mening dat Harry Kalmer se jongste roman, 'n Duisend stories oor Johannesburg hierdie vraag ten dele beantwoord. Daar kom 'n terugbeweeg  na die belangrikheid van die storie.

Hierdie roman is 'n simfoniese roman wat die leser aanspoor om die teks in enige volgorde te lees, soos Julio Cortázar se Hopscotch (1963/1966). Hiermee wil die teks dus die chronologie van die roman met opset ondermyn. Hierdie leser het inderdaad die boek begin by Deel sewe wat heet Die digbundel. Bosman Hiemstra se blik-op-sake.

Maar die roman begin letterlik by die Anglo-Boereoorlog en die belangrike interteks van hierdie roman wat tipeer word as stadsroman, is Totius se Trekkerswee. Daardie belangrike e-pos in Afrikaans wat deur D.J. Opperman herdig word in sy voortreflike gedig "Ballade van die grysland" en waar Opperman Totius as motto gebruik:

Die vroegre boere-paradijs
is nou één molshoop, groot en grijs.
Totius (Trekkerswee)

Die leser kan die teks van Totius se gedig Trekkerswee op die Gutenberg.org-webwerf aflaai. Met die Pierneef-etse daarby.

Die titel aktiveer uiteraard die beroemde 1001-en-een-Nagte met die vertel van stories wat die dood uitstel. Hierdie stadsroman bekyk die invloed van Le Corbusier en die veranderende argitektuur van Johannesburg / Egoli / Jozi, wat in hierdie roman 'n skiso-stad beskryf word, met ander woorde, wat sowel die oue as die nuwe berg. Die roman lewer ook kommentaar op die periode van tagtig toe Kalmer op die toneel verskyn het, die invloed van Stet, Koos Prinsloo, grensliteratuur en hoe almal in hierdie tydperk deur die postmodernisme beïnvloed is. Daar is tersydes - in die mond van 'n karakter, uiteraard - oor Prinsloo se onoorsponklikheid en hoe mense in hierdie tydperk deur aanhalings en geykte tekste gevorm is. (Kalmer was weer op sy beurt dalk 'n karakter in 'n Koos Prinsloo-verhaal in Jonkmanskas.) 

Die implisiete outeur in hierdie roman haal eweneens uit vele bronne aan - en Italo Calvino se epogmakende Invisible cities (1972) - wat weer 'n bepalende invloed gehad op Opperman tydens die skryf van Komas uit 'n bamboesstok - is 'n ander sleutel tot die leesaksie. Boonop is daar in 'n skrywersnota belangrike erkennings na invloede en wat op 'n karakter se boekrak staan! (Vide bladsy 315 en 316). Die boek moet ook as 'n pendant gelees word van Ivan Vladislavic se Portrait with keys - 'n boek met 138 genommerde verhale oor Johannesburg wat in 2006 verskyn het. Ons verneem ook dat stories opgeteken word en dat mense nie die waarheid vertel in Kalmer se roman (139). Hierdie roman is 'n storie-projek met verwysings na Ferris Malouf, die drag queen, wat opdress en verskillende historiese karakters vertolk.

En 'n roman mag die waarheid buig of verdraai, merk 'n ander karakter op. Hayden White sou hierdie roman as besonders ervaar en die optrede van 'n amateur-digter sorg vir humor. Net soos die grappies dat iets "semioties diep" is (187). 'n Bloedskendige verhouding sorg vir onrustigheid en die roman beweeg tussen grap en erns en die Vlieger-rubrieke indertyd in Rapport was goeie vingeroefeninge vir hierdie roman. Clive Chipkin, David Goldblatt en Charles van Onselen se werk as biograwe word ook vermeld in die nawoord, soos ander jonger stemme.

II

Die roman maak van jou as leser 'n stadsbeplanner. Wat jy saamplaas, verraai hoe jy hierdie boek lees en waardeer. Vir my handel dit o.a. oor die betekenis van taal, die oplet van taalfoute en die hou van 'n joernaal om trauma te verwerk (33). Die hantering van 'n traumatiese dood van 'n geliefde en die terapeut se aanwysing om alles in die hede op te teken, is op die roman van toepassing: alles word nou beleef, selfs die dood van sy grootouers, en dus ook, die geskiedenis van sy land.

Zweig wat die seun van 'n boekhandelaar is wat boeke moet neem vir Bram Fischer. Die ander belangrike aspek van hierdie roman is die politieke verloop (ABO, die struggle, die bevryding, die nuwe Suid-Afrika en slopende geweld) wat soos myntonnels gevolg kan word. 

Moby Dick, Waiting for the barbarians, die toespelings op Jeanette Winterson, die uitmuntende hanteerder van die simfoniese teks, is stutte wanneer jy in hierdie boek se myntonnels ingaan. Elke leser sal 'n ander storie "foreground". Daar is Jakob se verhaal, Cherie s'n; dié van Richard, Bosman, Dubček, e.a. Daar is "in"-grappies: 'n digbundel word genoem Die irritasie van simboliek in 'n roman vol simbole.

Le Corbusier speel 'n uiters belangrike rol, nes Ovidius se Metamorfoses en hoe ironies dat Le Corbusier ook sý naam verander het!

Daar is 'n sirkelgang te bespeur en die verwysings na die Arabiese wêreld word slim geaktiveer met 'n ikoon (die teken as teiken!) wat die vertellings opbreek. Dalk 'n ewigheidsteken ten slotte?

Soos Le Corbusier se Oop Hand-monument, moet hierdie boek gelees word as 'n teks wat sý hand oophou vir verskillende betekenisse en interpretasies.

Dalk te veel slimmighede? Te veel verwysings? Uiteindelik werk dit vir hierdie leser.

Is Johannesburg 'n nuwe Ninevé? En so is ons terug by Totius en Opperman.

Johannesburg jy's waarlik ja
die glorie van Suid-Afrika  (Trekkerswee).

Bronne:



MARTIENSSEN was the leader of what LE CORBUSIER dubbed 'le Groupe Transvaal', the so-called Transvaal Group on receipt of a copy of zerohour in 1933 from MARTIENSSEN who was again in Europe, where in Paris he visited LE CORBUSIER. LE CORBUSIER introduced MARTIENSSEN to the work of Leger which influenced MARTIENSSEN's attitude to modern European art. In December 1937 MARTIENSSEN married Heather Bush, a talented student at the School of Architecture. Together they spent about six months in Europe, enjoying further meetings with LE CORBUSIER and with Leger. In 1936/1937 FASSLER visited Europe and met LE CORBUSIER in Paris in 1937, where he acquired one of his paintings. LE CORBUSIER dedicated the second volume of the Ouevre Complet to the Transvaal Group. The sketch book, "LE CORBUSIER" of Ken BIRCH lodged at the UNISA Library, contains a sketch made by the architect when they met for the first time in Paris, 1936.

In 1939 le Corbusier wrote to MARTIENSSEN from a threatened Paris enquiring about possible work for him in Johannesburg and Martienssen had to discourage him from any such hopes, proposing instead a three week lecture tour by Le Corbusier in South Africa, sponsored by subscription in South Africa. Nothing was to come of this proposal, partly due to the outbreak of the Second World War.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music Radio)

Monday, March 25, 2013

Harry Kalmer - Die man met die dertien kinders (1998)



Harry Kalmer. Die man met die dertien kindersQueillerie Uitgewers, 1998. ISBN: 1 874901 81 3.

Resensent: Joan Hambidge

So 'n jaar gelede het ek pragtige 'n Italiaanse novelle gelees wat groot Italiaanse pryse losgeslaan het. Dit heet Silk en dis geskryf deur Barrico. Ofskoon klein in omvang, lees 'n mens dit weer en weer. So 'n boekie is Harry Kalmer se Die man met die dertien kinders, 'n soort minimalistiese novelle. Met vele sub- en supra-tekste.

Die begin en die einde skakel in mekaar, hierdie storie van Jos Goosen, sy vrou Matilda en hul dertien kinders. Hulle woon in die sogenaamde “biltong-belt” aan die rand van die Bosveld. Jos drink te veel; sy vrou en kinders stel eise.

Breedweg handel hierdie boekie oor verspeelde kanse en mense se drome. Dit is 'n boek oor ontnugtering, oor mislukking.

Die grootste wins is dat dit so ondergestem aandgebied word dat dit juis meer effek het op die leser in hierdie dae van “big bang”-prosa.

Dit is geskryf in dieselfde siniese, verminderende trant as die romans van Kurt Vonnegut. (Hier is ook 'n prentjie afgedruk - van 'n man met dertien kinders - soos 'n mens by Vonnegut kry.)

Tog is daar onder alles iets wat vibreer, 'n soort ontnugtering wat van hierdie boekie iets besonders maak. Daar is ook humor: die beskrywings van Lemoenkop Fortuin wat in die kattebak van 'n oranje Cortina bly en wie se kantoor 'n straattelefoon is in 'n oranje skulp is werklik snaaks.

En ja, verdriet: in hierdie verband is die tekening van die moeder se besoeke aan Hillbrow 'n raak beskrywing van 'n geslag Afrikaanse vrouens wat hul lewens moes opoffer aan 'n patriargale orde. Met kinders wat hul drome moet uitleef.

Ook aggressie: die rusies oor Mathilda se ontrouheid.

En veel is daar te geniet aan die Jos se waarnemings van sy lewe, sy musieksmaak en sy emosies. Daar is 'n aweregsheid wat van ontsettende vernuf getuig. Ook die sinne is kort (sulke standerd-vier-sinne), maar gelaai met geweldige skop.

Daar word eweneens sosiale kommentaar gelewer; al is dit dikwels sommer so in die verbygaan. Maar bysake kan dikwels hoofsake word, die weet ons soos die dood van 'n karakter wat 'n hoofkarakter beïnvloed. En sy vrou se ontrouheid.

Jos Goosen vat dop. Hy's 'n man wat hou van drink en hierdie verhaal lewer navrante kommentaar op die effek wat drank op hom en hoé dit sy waarnemings aantas.

Die boek is in 'n soort sirkel geskryf (dit begin en eindig met 'n Mars-bar) waarin 'n mens dan allerhande geleerde dinge kan raaksien oor self-ontwikkeling, ensomeer. Ook meen ek dat die boekie 'n soort grootmens-kinderboek wil wees wat gebruik maak van die tegnieke van die kinderverhaal, maar dit dan telkens ondermyn deur 'n angel in 'n gegewe raak te sien.

Hierdie leser is besonder bly vir Kalmer se jongste; veral na die mindere X-ray Visagie en die vingers van God. Ook omdat 'n mens gevrees het dat die outeur se talent deur die reklamewese befoeter word.

D.J. Opperman het mos vas geglo dat G.A. Watermeyer deur die reklamewêreld opgeslurp is. Maar dit was in die dae voor e-pos en internet, nie waar nie?               

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Sunday, March 24, 2013

Harry Kalmer - Kniediep (1998)



Harry Kalmer: Kniediep. Human & Rousseau, 1998. ISBN: 0 7981 3843 2.

Resensent: Joan Hambidge

Dit was Umberto Eco, die Italiaanse teoretikus en skrywer van die roman The name of the rose, wat by geleentheid geskryf het oor die liefde: ek het jou lief; soos in 'n Barbara Cartland-roman. By die lees van Harry Kalmer se Kniediep dink hierdie leser: ek skryf 'n spanningsverhaal; soos Leonard.

'n Gewone spanningsverhaal - wel gewoon wat die plot betref - word die hele tyd ondermyn deur 'n siniese outeurstem wat die kodes van hierdie soort verhaal bevraagteken. Dit word dan 'n skrynende verhaal, want gewoonlik is die helde in spanningsverhale - dink maar aan James Bond - karakters sonder emosies. Altyd slaggereed vir 'n nuwe avontuur.

Doelbewus word daar gestruikel en in dieselfde asem verwys na James Bond! Ook is Strijdom Benade', 'n suksesvolle sakeman, 'n man met 'n vader-konflik. Hy is op soek na die moordenaar van Tash, die dogter wat hy help grootmaak het.

Sy broer heet Malan en die beskrywing van sy begrafnis is waarskynlik een van die mees skrynende stuk vertellings in hierdie roman wat 'n blik gee op dwelsmsmokkelary, korrupsie, die betekenis van familie. Bloedbande is vir baie mense ontoereikende bande - lees byvoorbeeld die vader se reaksie op sy seun se begrafnis; ook weier hierdie vader om sy seun te help om sy boete te betaal wanneer hy gearresteer word met 'n dronkbestuur-klag.

Waarskynlik hierom is die self-geskepte familie so belangrik vir Strijdom, 'n man wat nie emosioneel opgewasse is vir dit wat op hom wag nie: onder meer moet hy (saam met sy vader) sy broer in 'n bordeel uitken; hy word teen mespunt van sy Rolex beroof. En nog veel ander ervarings wat die leser sal meemaak.

Vir my is een van die sterk kwaliteite van hierdie vertellinge dat dit ook 'n blik gee op die emosionele geweld wat Afrikaanse kinders moes deurmaak in die apartheidskole. Kalmer se beskrywings - enigsins 'n terloopse opmerking of beskrywing - maak dan van hierdie roman ook 'n belangrike tydsdokument. 'n Mens kan sien hoe 'n nuwe geslag terugkyk op daardie ervarings wat vandag bykans 'n stuk absurde teater word in sy obsessie met rassisme, volkswaarhede, en dies meer.

Die ek-karakter is boonop HIV-positief; ook word sy komputer deur 'n virus bedreig. Hierdie metafoor is waarskynlik tersaaklik; betekenis word ondermyn. Daar is geen vastigheid of (betekenis)sekerheid nie. Dit noop 'n mens om ook weer te kyk na Susan Sontag se Aids and its metaphors en in welke mate Vigs ook al op 'n taalvlak binnegedring het.

Dit is dan 'n spanningsverhaal wat meer word as 'n blote spanningsverhaal. Die kodes van hierdie vertelling word ondermyn, opgeblaas en bloot-gestel sodat 'n mens op twee vlakke die verhaal meemaak.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]

Thursday, February 7, 2013

Harry Kalmer - Groceries (2006)



Harry Kalmer. Groceries: 56 Stories oor huishoudelike produkteLapa Uitgewers, 2006. ISBN 0 7993 3639 3.

Resensent: Joan Hambidge

Onder die versamelnaam Groceries word 56 stories opgeneem of in die verbeelde inkopiesak gepak.  Dis Harry Kalmer se jongste boek waarin ‘n verhaal langs ‘n skildery/kunswerk geplaas word en sodoende aan betekenisse wen, meerduidig inspeel op die leser se herinneringe uit sy/haar jeug. Kalmer is waarskynlik – soos die Amerikaners Richard Brautigan en Kurt Vonnegut – die meester van die sub-teks.

Hy skryf op die oog af toeganklik, maklike verhale, maar onder draai die duiwels rond van weerlose mense uitgelewer aan hul drifte, verlangens, onvervuldhede, transgressies en dies meer.

Verhale word in bykans kinderlike standerd drie-sinne aangebied – gaan lees weer Trout fishing in America (1967) – maar dis alles ‘n blufspel waarmee die skrywer die leser om die bos lei en dikwels word ‘n mens psigies só ontroer deur ‘n insident  soos ‘n bloedskendige oomblik tussen vader en kind wat lei tot die spieëls wat in die huis gebreek word, omdat die vader homself nooit weer in die gesig sal kan kyk nie; ‘n pynlike wete dat die persoon met wie jy jou lewe sou wou sluit nie daar gaan wees nie en hierom kan daar ja gesê word vir  jou tweede keuse. Daar is nog meer (en ek wil werklik nie die leser se leesplesier bederf nie) soos ‘n man wat terugkyk na sy digter-vader wat hom as kind versaak het, ‘n tweede keer in die digkuns verraai en die derde keer finaal weggaan. (“My pa was nog altyd goed as dit by verdwyn kom”). Die verteller herhaal egter onbewustelik ‘n soort afstandelikheid met sy eie kinders wat hy net op Kersfees en op verjaarsdae bel (“Die man op die stoof”, p. 11).

Die verhale is vinjette wat verwys na groter oomblikke in lewens. Nie alles is is egter hoogdrawend of pynlik nie. Daar is skreeusnaakse humor ook te vinde, soos die “waarsegster” wat aangesê word om van teeblare na teesakkkies oor te skakel.

Ek lees tans Margaret Atwood se jongste teks Moral disorder waarin sy verskillende stories, verhale of uitinge probeer saamsnoer in ‘n eiesoortige roman. Wat Atwood wou doen, kry Kalmer reg. Sy verhale speel in op ander verhale en word ‘n bonte mengelmoes van indrukke, ervarings, teleurstellings wat die idee bevestig dat die lewe dit is wat gebeur, terwyl jy planne beraam om elders te wees òf iets anders te doen.

Vir my persoonlik is die retro-aspek van die versameling boeiend. Kalmer verwys na verdwene kultuurbakens (soos ‘n roadhouse met ‘n Dagwood, langspeelplate, radioverhale). Hierdie versameling het my teruggeneem na Brautigan se In watermelon sugar (1968), daardie aweregse blik op die Amerikaanse kultuur, wat op sy tyd ‘n “counterculture” stelling was. Almal het ‘n plek in die geskiedenis, het Brautigan op ‘n keer opgemerk: myne is die wolke.

By Kalmer is daar ‘n gevoelige analise van die invloed van die grensoorlog op ‘n gemeenskap. In ‘n “n Moontlikheid” word dit pyn en verontrusting van hierdie ervaring beskryf uit die perspektief van ‘n broer en moontlik is die boer nie dood nie, omdat die plek op die kaart nie gevind kan word nie. Di verteller kan dus nie dood verwerk van hierdie briljante broer nie. Gesinkopeer met die ellendes van die nuwe-Suid-Afrika (dwelms, moord, diefstal, werkloosheid) kry ‘n mens ‘n blik op ‘n skrywer – soos Raymond Carver – wat nie skroom om die “dirty realism” van ‘n gemeenskap te ontbloot nie. Dikwels in onskuldige onthou-oomblikke (‘n onderwyseres wat mal word; ‘n man wat sy laaste brekfis maak voordat hy sy vrou verlaat; ‘n oorledene wie se pen uit die hospitaal gesteel word sodat die waarnemer sy erfstuk kwyt is) word met wyer implikasies weergegee. Brautigan was ook digter voor sy ontydige selfmoord en Kalmer se kort-kortverhale het dieselfde kompleksiteit as ‘n gedig wat rondom sekere motiewe uitgebou word.

Dikwels moet jy ‘n tweede keer lees om te besef dat jy reg verstaan het. “Jammer” (p. 114) met ‘n koki-skets van die outeur, kan as ‘n soort skrywerscredo gelees word.

Hoe die simmetrie van beplanning deur die lewe se verloop omvergegooi word, uiteindelik.
Dit is verhale wat nie met ‘n maaghou tref nie, eerder met ‘n pynprikkie wat indrukke wat jou bybly, onrustig maak en jou laat terugkeer na verhale. Boonop met prag-kunswerke langsaan: selfs ‘n Ingrid Winterbach en Diek Grobler is hier te vinde!

Brautigan, soos Kalmer, het met verskillende genres geëksperimenteer. Ek is van mening dat hierdie boek ook by Kalmer se navolgers sal aanklank vind. In “As van die liefde” word ‘n Huisgenoot-gegewe met nuwe betekenisse gelaai.

En dis waarskynlik die grootste krag van die vertellinge: dat dit wat aan ons almal bekend is (o.a. die vloed van waansin wat ons hier te lande beleef en ervaar het) op ‘n aweregse, dwars en menslike wyse beskryf word.

Hoe lyk jou inkopiesak? Wat weeg dit? Koop jy vars kos of ingelegde vrugte? Koop jy by Pick & Pay of Woolworths?

Enige psigoanalis se droom om iemand se inkopiesak uit te pak en te beloer. 

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]