Showing posts with label 2008. Show all posts
Showing posts with label 2008. Show all posts

Thursday, February 7, 2013

Fred de Vries - The Fred de Vries Interviews. From Abdullah to Zille (2008)



Fred de Vries. The Fred de Vries Interviews: From Abdullah to ZilleWits University Press, 2008ISBN 978 1 86814 469 3.

Resensent: Joan Hambidge

I.

‘n Goeie onderhoudvoerder is ‘n buikspreker. Of ‘n puik vertaler. Of ‘n verkleurmannetjie. Daar is waarskynlik nog veel meer metafore om hierdie soort deugsame persoon te beskryf, maar ‘n mens dink byvoorbeeld aan die onderhoud wat Edmund White met Truman Capote gevoer het in New York. Hy beskryf Capote tydens ‘n hittegolf in New York waar die lugreëling af is. En hoe sy bril toewasem, terwyl hy elke nou en dan badkamer toe vlug om ‘n knertsie te gaan skink.

In White se woorde:

“He took off his glasses and stared at me with two perfectly clear blue eyes, the pupils tiny as gnats in the poisonous yellow light” (98).

In die onderhoud stel hy Capote so op sy gemak, dat Capote sy mond verby praat. Hy vertel hoe hy eenkeer saam met sy Puerto Ricaanse bediende gaan koekeloer het hoe lyk die huis van ‘n ryke. Daar raak die twee so weggevoer dat hulle sommer beginne dans. Metsdese kom die Madam en Meneer terug met funeste gevolge vir Capote en Mary Sanchez.

Capote was ‘n egter kunstenaar. Hy het mense aan die kaak gestel in sy laaste roman en terselfdertyd was hy verontwaardig toe die rykes en gesienes hom nie hul deftige partytjies wou nooi nie. Die onderhoud heet: “Sweating mirrors: A conversation with Truman Capote” opgeneem in The burning library (1994).

In hierdie fantastiese onderhoud sien ‘n mens die kwintessensiële aard van ‘n goeie onderhoudvoerder: hy/sy staan terug en die objek van ondersoek word as’t ware gedissekteer. Daar moet ook ‘n vars blik wees op die persoon, ‘n betrokkenheid en genoegsame kennis van wat die persoon se bydrae (of vergryp) is sodat jy hom goed kan voorstel. ‘n Resepmatige onderhoud waarin die persoon in die slotsin verneder of verminder word, begin op die lange duur die leser verveel.

En ‘n objek wat jou nie interesseer nie,  maar gewoon as opdrag uitvoer, wys soos ‘n ‘home-perm’.


II.

Edmund White is Edmund White. Sy studie oor Jean Genet het grense verskuif. So ook sy werk oor Rimbaud, Proust, essays oor Marguerite Yourcenar, Tennessee Williams.

‘n Goeie onderhoudvoerder vertel vir jou wat jy behoort te weet en verras jou met ‘n nuwe insig. ‘n Goeie onderhoudvoerder probeer nie ‘n gek maak van sy / haar onderwerp nie. Dit slaan altoos deur. André le Roux het op sy dag puik onderhoude gevoer met skrywers en sy een oor Karel Schoeman is onvergeetlik.  Hy weet waar ‘n skrywer se Achilles-hiel sit sonder om die mes te draai.

Murray La Vita doen eweneens goeie onderhoude in sy “Oop kaarte”. Fred de Vries is ‘n Nederlandse reisskrywer, joernalis, outeur, en in sy eie woorde, ‘n “coffee shop intellectual”. Hy probeer in sy versameling ‘n representasie gee van die kulturele scéne van ‘n post-apartheid Suid-Afrika.

Hy is ten eerste joernalis in hierdie onderhoude. Die boek word in verskillende afdelings ingedeel: “The Strings”, “The Office”, “The Pen”, “The Brush”, “The Pamphlets”.
Dit sou uiteraard onmoontlik wees om by elke onderhoud stil te staan en hierom sal daar eerder gelet word op sy tegnieke.


III.

Hy stel sy subjek in sy eie woorde aan ons voor. Adam Levin bely:”As a travel writer I’m more of an irresponsible vagabond than a flâneur who sits on a terrace with a notebook” (298). En skielik kan jy hierdie reisskrywer se werk beter begryp.

Ná die kort teks, vind ons ‘n handige CV en ‘n siening oor wie die helde en invloede is / was.

De Vries is nie ‘n Steve Hofmeyr-bewonderaar nie en hy probeer dit nie wegsteek nie.

Hy word egter oorrompel deur die man se sjarme en eerlikheid.

De Vries gee hier ‘n besondere blik op ‘n komplekse man. Of jy hou van hom of nie: Steve is nie enkellynig nie. Punt. (Jammer dat daar staan “wit owerheersing” in plaas van oorheersing, 292).

Een van my gunstelingskrywers Kleinboer kom ook aan bod. Dit is ‘n skitter-onderhoud waarin die ware aard van hierdie skrywer na vore kom wat begin skryf het ná die dood van sy hond. Dit is ‘n besonder ontroerende onderhoud: eerlik, maar veral met die wete dat sy vrou onlangs oorlede is, verander ‘n mens se siening van Kleinboer se verhoudings. (En natuurlik sal Tom Waits en Pink Floyd sy helde wees; maar Beethoven en Chopin is ook daar.)


IV.

Ek is nie persoonlik bekend met Adam Levin nie; so die onderhoud met hom was vir my interessant. Die uwe is wel bekend met sowel Steve H. as Kleinboer en by hierdie onderhoude kan ‘n mens skryf: waarheidsgetrou. Dis presies hoé ek hierdie twee persone ervaar. Ons weet Kleinboer is in Benoni gebore en dat hy met Kontrei iets vermag het waarvan die meeste skrywers net kan droom.

En dat hy taalgevoelig is.

En al ken jy ‘n persoon, moet die onderhoud tog iets ‘nuuts’ bybring. Ek onthou jare gelede toe Sandra Prinsloo die media se ikoniese liefling was van die mooi blondine wat kan ‘act’, het elke onderhoud presies dieselfde inligting verskaf.  Dus ‘n goeie onderhoudvoerder moet iets nuuts bybring en dit doen De Vries dan. Of (fabrieks)geheime verklap: soos dat Ingrid Winterbach se helde/invloede Saul Bellow is met Philip Guston (die skilder) en Louise Bourgeois (die beeldhouer).


V.

Natuurlik sou ‘n mens ook jou mond vol kon hê oor wie nie daar is nie. Maar terselfdertyd is dit belangrik om te beklemtoon dat daar leersame (ten minste vir hierdie resensent) onderhoude was. Soos oor Toast Coetzer en sy ‘band’. Wie en wat Marlene van Niekerk beïnvloed het, is aangrypend.

En terloops: Ivan Vladislavic noem Muhammed Ali!

Dit is boek met ‘n veelheid van onderhoude en ‘n aangename leeservaring.

Die boek is pragtig uitgee met ‘n illustrasie van Lorcan White.

Bronne:
Edmund White: The burning library. Writings on Art, Politics and Sexuality 1969 – 1993. Picador, 1994.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]

Michiel Heyns - Bodies Politic (2008)



Michiel Heyns. Bodies PoliticJonathan Ball, 2008. ISBN 978 1 86842 298 2.

Resensent: Joan Hambidge

Michiel Heyns binne ‘n kort bestek ‘n ryk geskakeerde romankuns tot stand gebring soos The Children’s Day, The Reluctant Passenger en The Typewriter’s Tale, my gunstelingroman, waarin die Henry James-gesprek met ander tekste uitvoerig bespreek is. As vertaler is hy al bekroon en hy word deur die meeste romanskrywers as ‘n gesogte en verantwoordelike vertaler beskou. Sy jongste roman heet Bodies Politic en in die nawoord erken hy die bydrae van Lynda Gilfillan se redigeerwerk en dat hierdie roman sy ontstaan gehad het binne die kreatiewe skryfkursus van Marlene van Niekerk aan die US.

Die roman leen sig tot besondere genderanalises. ‘n Manlike skrywer skryf ‘n roman oor stemreg vir vroue en drie vroue se lewens word onder die loep geneem. Emmeline Pankhurst, die leier van die Vrouebeweging; haar dogter Sylvia, die “weeping suffragette”; en Helen, wat betrokke was by Harry, die seun van Emmeline en die broer van Sylvia. (In ‘n mindere mate is Christabel ook daar.)

Die titel Bodies Politic is ‘n slim gekose titel, omdat daar in die militante feminisme alreeds ‘n saak uitgemaak word oor die politiek van die liggaam. ‘n Mens dink hier aan die Nederlandse uitspraak van “baas in eigen buik” en veral ‘n Amerikaanse feminisme wat sterk glo aan die politiek rondom liggaamlike waarin die private keuses alreeds as ‘n ideologiese posisie gesien word.

Heyns se métier is om die historiese gegewe te herinterpreteer en te fiksionaliseer soos hy in die skitterende The Typewriter’s Tale gedoen het. Hy gebruik James se lewe as uitgangspunt, maar hy vul vir die leser in en gee interessante wendinge aan dit wat dikwels net by bespiegeling bly.

In die voorwoord word ons bewus gemaak van die gebruik van Martin Pugh se The Pankhursts en Sylvia Pankhurst se The Suffragette Movement. Vir die navorser is hierdie waardevolle wenke en daar word ‘n verdere bronnelys verskaf. Boonop bely die outeur dat hy insidente uitgelaat het wat nie noodsaaklik was vir sý vertelling nie. Hy skryf: "This was to prevent cluttering my narrative with characters and incidents not germane to my purpose”.

In The Typewriter’s Tale is alles waargegee deur die oë van die tikster Frieda Wroth. Nou buikspreek Heyns as’t ware deur ander vroue; ‘n tersaaklike genderkwessie vir navorsers.
Heyns kan vertel. Van die eerste oomblik af betrek hy jou by sy karakters se lot en die roman bevat ‘n handige “stamboom” met karakters sodat jy nie deurmekaar raak nie.
Die belangrike toets vir ‘n roman wat op historiese gegewens / feite steun, is dat dit ook die leser wat nie die fyner nuanses van die geskiedenis ken of verstaan nie, moet boei. Die inconnue en ingeligte moet dus eweveel plesier aan die storie hê. Dit beteken dan die skrywer as’t ware die gegewe so moet distilleer dat alles op ‘n storievlak sin maak en véral boei. Ek is dikwels langtand wanneer dit kom by historiese romans, veral as die atmosfeer bedompig is. Maar Heyns beweeg hiervan weg. Hy fokus op die innerlike stryd tussen die karakters en die hiate wat ontstaan tussen die persoonlike en die politieke dimensies. Wat gee mee of word opgeoffer in ‘n politieke stryd? (Die omhelsing van die moeder word met ‘n “pillar of salt” vergelyk om die verbittering te beskryf, 187).

Uiteraard het hierdie feministe geweldig baie tyd spandeer aan die aanspreek van sosiale ongeregtighede sodat kinders en die gesin in die proses verwaarloos is. Tronkbesoeke, onder andere, het die gesinslewe verander.

“You know that I must weigh up what you call my role as a mother against my public function. I cannot simply ignore the fact that my duty is now in America” (61) is ‘n kernuitspraak in hierdie roman.

Gesprekke rondom die viering van ‘n verjaarsdag of ouderdom word ter wille van die saak as irrelevant afgemaak.  Alles die saak ontwille. In die stryd is moeder en dogter kamerade; agter die skerms teenstanders (197).

Van Emmeline se perspektief, beweeg die roman na Sylvia se weergawe wat as ‘n boek aangebied word. Die tyd het beweeg van 1928 na 1952. In die slotvertelling (“Helen”) is die tydsduur die sestigerjare.

Hierdie perspektiefwisseling en tydsverandering bring uiteraard korreksies en nuanses op ervarings. (In hierdie verband het Patrick White in The solid mandala die ekstreme gedoen waar twee ekke mekaar so weerspreek dat die leser die eerste een as ‘n leuenaar beleef en afmaak.) Op ‘n interessante wyse word Shakespeare, en veral King Lear, gebruik as ‘n interteks om verdere drakrag aan die verhaal te gee. En Dickens word gebruik om te wys hoé moeilik dit vir ‘n jong mens is om te sterf.

Die beskrywing van ‘n sekstoneel met ‘n sieke (268) is ‘n hoogtepunt in die roman en die implikasies wat hier gebeur en die effek op die mede-karakters. Die roman se slot is ‘n hoogtepunt: die stryd tussen Helen en Emmeline wat uitgespeel word in die verhouding met Fred.

‘n Man wat nie kon deel wees van die WSPU (Women’s Social and Political Union) nie.
En nou vertel ‘n man vir ons hierdie komplekse geskiedenis en hy doen dit uitmuntend. En, wonder ‘n mens saam met Fred ten slotte:

In welke mate het die vroue se militantheid die stemreg vir vroue uitgestel?

‘n Boeiende roman wat veral siekte besonder goed uitbeeld.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Wendy Woodward - Love, Hades & Other Animals (2008)



Wendy Woodward. Love, Hades & Other AnimalsProtea Boekehuis, 2008. ISBN 978 1 86919 249 5.

Resensent: Joan Hambidge

Op die voorblad van Wendy Woodward se digbundel Love, Hades & Other Animals is daar ‘n freskoe. Dit heet “Fresco in die house of the Golden Bracelet, Pompeii”. Dit is ‘n voorblad wat onmiddellik die leser se aandag trek  en die bundel word soos die titel aandui in drie afdelings verdeel.

In die derde afdeling staan daar ‘n gedig “Gare du Nord” (61) waarin die dood van ‘n vrou op die platform beskryf word. Die gedig egter fokus op die hond se “unutterable loss”. En dit is wat die meeste van hierdie gedigte kenmerk: ‘n nuwe blik op die reeds bekende, geykte ervaring.

En dit is waarskynlik na al die jare nog steeds die waarborg vir ‘n goeie gedig: om ‘n nuwe of vars aanslag vir die leser aan te bied.

In “Who speaks for the Jaguar?” (61) en in “The Pain of Crickets” (60) draai sy eweneens die konvensionele blik op sy kop: die jong kind, syself, lees boeke van oorwinnings, onbewus en afgesluit van die krieke se pyn.

In die natuurwaarnemngs aktiveer sy verliese. Is dit byvoorbeeld haar vader se gees?, wonder sy en hier is in die bundel verwysings na karma en reïnkarnasie. Die verse word gedra deur ‘n sterk gevoel van spiritualiteit.

“Dog in an Empty House (55) tree in gesprek met Wislawa Szymborska se “Cat in an Empty Apartment”, ‘n interessante tweeluik ontstaan dan op hierdie manier.

Die leser raak bewus van die digter se konneksie met “ancient-almond hemispheres / of my life”(52). Sy karteer haar verhoudings met haar ouers, haar metgesel, ‘n kind, die diereryk, die natuur en ons posisie alhier. Die gedigte aktiveer ‘n spanning tussen die aardse en die metafisiese; ons bly deurgaans bewus in die verse van die twee hemisfeer, by wyse van skrywe.

So gelees word die gedigte, soos sy skryf, ‘n totem. In die aangrypende “Dog Day Afternoon” (51) word die verlies van ‘n hond in die herinnering geroep. Wat is werklik, wat is gefabriseerde leuen of verdraaiing in die herinnering? Die bundel aktiveer ‘n sterk Freudiaanse verwysingsveld soos in die reeds genoemde “Object Relations (15) met die spel tussen Fort / Da – Freud se interpretasie van verlies en die hantering daarvan – alreeds aantoon.

In “Water Buffalo at Tashi Jong, Himachal Pradesh” (46) sien ‘n mens ‘n verbluffende beskrywing van spiritualiteit en ‘n besef van hoe van waar mense inpas teenoor die is-heid van die waterbuffels:

I prefer the older buffalo teachings –
their enlightened sentience
beyond human egos,
their absolute presence
in each growing moment.

In hierdie bundel word vreemde landskappe gekarteer en die digter werk op ‘n briljante wyse met Freudiaanse verwysings oor verlies soos in die gedig “Object relations” (15), omdat verlies waarskynlik een van die grootste dryfvere is vir die skryf van gedigte. Die digter gee ‘n besondere feministiese perspektief op haar jeug en konneksies met haar verlede:

Reaching further into the dark
I find other things
that I bring from the backs of drawers,
my grandmother’s once-silver mirror
Now in two pieces,
my mother’s heirloom ring
missing a diamond

Ons bly eweneens deurgaans bewus van ‘n spirituele blik op die lewe – die verwysings na karma onder andere – en in ‘n gedig soos “Reading the bones”(19) en “Going against Tao” (16) word dit besonder helder beskryf.

I know what the Tao says
about change,
that it’s the essence of life itself

Die titelgedig is waarskynlik eern van die mees uitstaande verse in hierdie bundel en die knap hantering van die mitologiese verwysings is indrukwekkend.

Die digter is ook die outeur Van The Animal Gaze in Southern African Narratives, ‘n teoretiese studie wat by die Witwatersrand University Press verskyn het.

Dit is ‘n helder, deurgekomponeerde bundel waarin die digter met filosofiese kwessies op konkrete, digterlike wyse omgaan. Dit bring eweneens ‘n tematiese vernuwing binne die Engels-Suid-Afrikaanse digkuns.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Linda Joubert - Meulenhof se mense (2008)



Linda Joubert. Meulenhof se menseHuman & Rousseau, 2008. ISBN 13 978 0 7981 4912 9.

Resensent: Joan Hambidge

I.

Hierdie roman word bemark as eg menslike, tydlose verhaal wat vandag nog steeds helder tot die leser spreek. As ‘n mens net verby die soet voorblad kan kyk van ‘n Leefstyl-troufoto – want dit is Linda Joubert / Henriette Grové beslis nie – bly hierdie teks ‘n aangename, sober leeservaring. Die roman het oorspronklik in 1956 in Sarie verskyn en is ‘n briefroman.

Dis 1904 en Annemarie Herbst kom uit die Karoo in die Boland aan om skool te hou. Die dorpie heet De Rust en sy loseer by drie oujongnooisusters wat weens finansiële probleme gedwing word om haar in te neem. Sy betaal drie pond per maand vir haar losies.

Meulenhof is ‘n Ou-Kaapse opstal en hiermee waaier die teks uit (onbewustelik) na die Springbokradio-verhaal Die geheim van Nantes en al die mitologieë rondom die Bolandse bestaan.

Annemarie vertel vir haar kêrel die verhaal van Meulenhof en alles wat hier uitspeel.
Sarah se se verlowing van vyftien jaar gelede, die verbreking van die verlowing aan ‘n paddastoeldelwer uit Kimberley en die impak wat hierdie gebeurde op hul lewens gehad het. “Unrequited” of onbeantwoorde liefde, of liefde wat misgeloop het, is een van die belangrikste temas van die belydenisroman waaroor ek my eerste akademiese studie geskryf het! Ons dink hier aan die briefroman Dangerous liaisons en die gelyknamige film en by die lees van hierdie roman wag ons op ‘n volwaardige e-pos-roman waarin alles per e-pos onthul of vertel word.

Die roman verwys eweneens na Sy kom met die sekelmaan van Hettie Smit, daardie onnabootsbare, pynlike en hartvergrypende roman oor onbeantwoorde liefde en hartstog. Waarskynlik een van die grootste mylpale in Afrikaans betreffende die belydenisteks.
Hier word die hartstog egter deur ‘n buitestaander vertel of ‘dikteer’ en die roman leen sig tot relevante psigoanalitiese diskoerse weens die aanwesigheid van bekende simbole soos die maan, die spieël, die huis (eers ‘n gevangenis) wat later brand.


II.

Daar is skitterende vinjette in hierdie roman waarvan die dobbeltoneel tussen die twee mans wat die hele problematiek as ‘n klassestryd uitbeeld.

Die Bolandse meerderwaardigheid teenoor die Ondervelder uit Kimberley wat dus nie kan aanspraak maak op dieselfde stand nie. (Die roman sou ook herskryf kan word as’n rasverskil tussen die twee mans).

Nordien teenoor Malan du Toit. Die outeur gebruik Bybelse verwysings om die teks te laai soos Josef die dromer en Jacob wat veertien jaar vir Lea gewag het.

Die liefde wat misgeloop het, word vergeld deur die eiendom wat nie meer bekostig kan word nie. En hier word die verhaal behendig vertel in die briewe van Annemarie aan Jan. Die intrige word in brief na brief verduidelik tot met die dénouement wanneer Meulenhof se verband oorgeneem word deur die eens vernederde Ondervelder en die huis wat brand. Dit word dan ‘n simbool van die gekoesterde wrok wat as’t ware aan die psige vreet. Die huis is dikwels ‘n voorstelling van die self in die psigoanalise.

Die intrige tussen die twee geliefdes word gesinkopeer met Nellie se verbintenis met sy neef.


III.

Die verband word deur die verstote, afgewysde man word gekanselleer met sy woorde aan haar: “Bly in Meulenhof, Sarah, tot in lengte van dae. En alle voorspoed. Jy sal dit nodig hê, Sarah, in die lang jare wat voorlê, want die haat is ‘n bar bedgenoot” (p. 124). Hoor ons die slotwoorde uit Gone with the wind? “

“Frankly my dear, I don’t give a damn…”

Die roman speel vernuftig in op die kodes van die liefdesverhaal en hoe afgelope passie dikwels oorgaan in haat en ontnugtering.


IV.

Die roman is oorspronklik in 1961 gepubliseer en dit bly ‘n lofwaardige teks: beheersd geskryf en met subtiele toespelings op die konvensies van sowel die liefdes- as belydenisroman. Die roman word na die Boereoorlog gesitueer en die drie oujongsusters was eens gesiene Vermeulens. Sarah se wrok, Nellie se verlange na ‘n krygsgevangene op Bermuda en die borduurwerk van Pauline word weergegee deur Annemarie aan haar liefste Jan, wat haar al vyf jaar ken en haar briewe vanuit De Rust versend.

Dit begin met ‘n kraak wat sy raaksien in die muur. ‘n Soort waarskuwing vir dit wat kom, naamlik die opstal se vernietiging.

Sy is nog bitterjonk (22 jaar oud) en kry ook inligting van Bill. Vir my gevoel is haar skryfstyl en insigte dikwels te gelade vir so ‘n jong persoon en dis waarskynlik die implisiete outeur wat hier deurslaan. Maar dis ‘n klein beswaar.

En die hoedjie met die parmantige veer kry later ‘n nuwe aanslag in die roman Niggie!
Dit was vir my ‘n aangename leeservaring.


Bron:

Hambidge, Joan. 1982. "Die ek-verteller in die belydenisroman". MA, UP.  (Studieleier: Elize Botha).


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]

Izak de Vries - Byna Liefde (2008)



Izak de Vries. Byna LiefdeTafelberg Uitgewers, 2008. ISBN 978 0 624 04684 4.

Resensent: Joan Hambidge

Byna liefde, die tweede bundel van die kortverhaalskrywer Izak de Vries ondersoek die liefde in al sy (haar?) vorme. Is die liefdesverhaal net die domein van die vroueskrywer? Of kan mans ook liefdesverhale skryf? Teoretici soos Umberto Eco het immers al oor die struktuur van die liefdesverhaal geskryf – en belangrike opmerkings gemaak dat wanneer ons liefde verklaar dan is dit teen die agtergrond van ‘n Cartland-roman. En een van die belangrikste teoretiese tekste oor die liefde is Roland Barthes se A lover's discourse. Dié Franse teoretikus wys op liefhê as ‘n semiotiese tekensisteem wat jou oorweldig: die Geliefde word jou hele universum waarin elke teken jou herinner aan hom / haar.

Byna liefde is geskryf deur ‘n man oor die problematiek van liefhê. In die openingsverhaal “Die engelman” is daar ‘n verwysing na Eco (‘n besliste kode hier) en die verhale dekonstrueer die geykte liefdesverhaal op verskillende wyses. Onder andere deur die verhale dikwels metafiksioneel te maak (soos in “Haar verlange”) sodat ‘n spanning ontstaan tussen skrywer en skryfwerk. Bekende temas van die liefdesverhaal soos die ongehude moeder en ander kodes van Tryna du Toit se Groen koring word in nuwe gedaantes hier aangebied.

Ons het almal menings oor en ervarings van die liefde.

Selfs ‘n afwys van die liefde, is ‘n erkenning van die mag daarvan. Byna liefde neem standpunt in teen die populistiese siening van vir-altyd-en-altyd. Wat gebeur agter die skerms? Of: die verliefde paar moet werk met sweet en moegheid, al sien ander hul aan as ‘n wittebroodpaartjie.

“Die sagkant van ‘n vrou” is ‘n seminale verhaal in hierdie bundel waarin verskillende kulture teenoor mekaar geplaas word. Dieselfde geld “Diepblou”. In die verhale word die leser dikwels gekonfronteer met ‘n weerlose man wat huil of emosioneel voel wanneer omstandighede hom dwing om sy vrou te verneuk. Hier is dus geen Me Tarzan – You Jane-aanslag nie, maar ‘n besondere verwikkelde blik op die man as ‘n gevoelige persoon wat uitgelewer is aan gender-verwagtings waaraan hy nie altyd kan voldoen nie.

Die skrywer ontgin die moontlikhede van die kort-kortverhaal en dit word besonder behendig gedoen in die verhaal “Los kruit” met sy dubbelsinnige titel. Die hele bundel bevat eksplisiete verwysings na manlike en vroulike seksorgane en die skrywende instansie maak telkemale ‘n punt daarvan om daarop te wys dat manlike tepels (byvoorbeeld) ook as ‘n erogene sone gesien moet word. Of hoe die manlike geslagsorgaan daar uitsien tydens die seksuele spel. Dit is duidelik dat die De Vries hier in gesprek tree met buitelandse ‘chick lit’ waarin ons dikwels verneem hoe dinge gesteld is met die vroulike geslagsorgane. 

Pornografies is dit egter nie. Dit is net ‘n eerlike verkenning van presies wat gebeur in die sogenaamde liefdespel. In “‘n Poelpetaterpastei” word die metafiskionele dimensies van die skryfaksie ondersoek na aanleiding van ‘n liefdespel en die leser word uitgenooi om soos in ‘n Koos Prinsloo-verhaal die werklikheidsdimensie te betree, of dit as ‘n blote poets af te maak. Dis ‘n vernuftige verhaal juis omdat verskillende dimensies oormekaar geskuif word en die werklikhede én verswygings (fiksionaliserings) aan bod kom. 

“Once threw a party” woeker met Elvis en gayseksualiteit. Leuens, bedrog, falsifikasies teen die mite dat Elvis dalk nog lewe word knap ondersoek. In die verhaal “Transgressie” bekyk die skrywer die skryfproses en die grensoorskrydende aard daarvan. ‘n Karakter uit ‘n vorige verhaal word as ‘n moontlike karakter gesien wat hierdie verhaal dan as werklik wil aanbied. Maar dis nie net ‘n verhaal nie. Dis ‘n verhaal waarin daar nagedink word oor ‘n film en die problematisering van werklikheid en fiksie, bekend aan die postmodernisme, word hier ondersoek.

Geslagsverandering – natuurlik met ‘n verwysing na Pedro Almodóvar – vra vrae oor wat begeerte behels.  

Byna liefde is ‘n manlike antwoord op Rachelle Greeff se Die rugkant van die bruid.

Verskeie van die verhale het alreeds elders verskyn, soos onder andere in Die mooiste liefde is verby (1999), wat destyds verpulp is weens ‘n plagiaataanklag teen ‘n verhaal in die bundel. Verhale saamgesnoer in ‘n bundel kry egter ‘n nuwe betekenis in ‘n bundel wat maskuliniteite op gedurfde en sensitiewe maniere ondersoek. Dis uiteindelik ‘n boek oor begeerte in al sy gedaantes en selfs internet-‘dating’ en die liefde as ‘n konstruksie word betrek. (En ‘n man getroud met ‘n lesbiese vrou op soek na Ware Liefde. Of is dit begeerte?)

Daar is kragwoorde, maar dit pas in die mond van die karakter of spreker.

In die slotverhaal tree karakters uit verskillende verhale saam op in ‘n ‘after-party’ om die manipulasie rondom skryfwerk te beklemtoon.

Dit is ‘n versameling kortverhale waarin etlike verhale lank na die lees in jou gemoed nawerk. By ‘n handvol sou ‘n mens selfs briljant kon skryf.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

h. Parker - The Interloper (2008)



h. Parker. The Interloperihilihili press, . ISBN 978 1 920 103 07 1.

Resensent: Joan Hambidge

Die roman vertel die verhaal van ‘n mislukte romanskrywer wat na haar dood ‘n skrywersgroep ontmoet met Olive Schreiner, Katherine Mansfield en die Brontë-susters.
Die roman word tipeer as ‘n interaktiewe roman met ‘n bymekaarplasing van ‘n veelheid van tekste soos essays, kortverhale, herinneringe en wat nog.

In die voorwoord tref ons alreeds ‘n persoon aan met haar tong diep in haar kies en sy verwys na alles wat in verlede verdwyn het: soos ‘n skool wat toegemaak het en ‘n universiteitsdepartement waar sy gewerk het waar die naam verander het. Boonop besef sy dat haar skryfwerk niks tot gevolg gehad het nie: sy het nie pryse gewen nie, nog minder is sy genooi na skrywersfeeste of boekpromosies.

Nog nooit is sy gevra om iets te te teken nie – behalwe verkoopslippies!

Vir hierdie leser is ‘interaktiewe’ romans of roman wat begaan is oor die skryfproses ‘n aangename leeservaring. Op die voorblad is daar ‘n familiefoto: die getroudes staan egter op die agterblad en nie die voorblad waar die leser hul sou verwag nie.

Dieselfde geld die vertelling met sy onverwagse draaie, maar die leser wat belangstel in metafiksie á la Barthelme is hierdie soort wendings presies wat die teks wil wees.

Hierdie soort roman werk altyd met die oog-knip of ‘in’-grappie. Op bladsy 25 verneem ons dat dit ‘work in progress’ is en die teks voorveronderstel o.a. ‘n kennis van Katherine Mansfield se lewe en tekste om die pastichering daarvan te begryp.

Daar is ook ‘n e-pos met aanwysings van wat lesers verwag van ‘n boek: lesers hou nie daarvan om ge-cock-tease te word nie. Maar party van ons hou wel van hierdie soort spel. Die ‘roman’ wat ons lees, is self uitgegee en die skrywende verteller neem die hele proses in oënskou.

Jane Austen word deur Katherine Mansfield beskou as die ‘chic-lit dolly from the Regency Period’ en die roman sit vol van hierdie soort  kostelike opmerkings. Of Mr Foster wat opmerk oor resensente: “One grows accustomed to being praised or blamed, or being advised, but it is unusual to be understood”(p. 169). Plek-plek is die boek myns insiens te selfkoesterend en sou dit by beter redigering of verkorting gebaat het. Maar die konsep is knap en tersydes interessant.

Die roman bevat ‘n uitgebreide verwysing na die Brontës, Charles Dickens, Mansfield, Beatrix Potter en Karel Schoeman se studie oor Olive Schreiner.

Ons vind ook ‘n verduideliking van wat ‘circle dance’ behels. Daar is sterk spirituele onderbou in die teks met verwysings onder andere na karma.

Daar is selfs ‘n resep om seep te maak op bladsy 77 , foto’s, familiebome en verwysings na werklike mense. Die Kaapse leser sal sekere bakens herken en retro-ervarings soos vrye liefde, die ontdekking van die pil en The twist.

Of die roman uiteindelik getipeer kan word as ‘faction’ is die uwe nie so seker van nie.
Lees die boek gerus as jy van selfrefleksiewe prosatekste hou, maar ‘n sterker redigerende hand sou die roman sterker kon maak.

Interloper in die sin van indringer, smokkelaar, onderkruiper ja.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]