Showing posts with label Oggendmeditasies. Show all posts
Showing posts with label Oggendmeditasies. Show all posts

Sunday, May 29, 2022

Gedigte | Joan Hambidge - Oggendmeditasies | 2022

Oggendmeditasie 6
 
Paul Kruger eers gebalsem
toe in staatsie lê langs
Gezina in die heldeakker.
 
Perde in die ABO se geproes
verklap verkenners glo;
ry eerder fiets as equus.
 
Pegasus nou my perd, my saal,
my toom, my rym-ding so
in ‘n tyd vér van daardie museum:
 
Tom Claridge en Charles Clark,
se ontwerp op 59 Nkomo-straat
paar blokke weg van Kerkplein
 
waar Oom Paul staan waar
hy staan nes Barney Barnato
se leeus op daardie veranda
 
langs die knipmes sonder duim:
vér van die keil in die Rijksmuseum
tot die lyk sonder kram se lange terugreis.
 
 
Oggendmeditasie 7
 
Die meditasies van die hart
‘n spel met prosodie, posodinie
plus ‘n stel notaboeke en verseboeke.
 
Nagteliks besoek jy my in drome
verwonder soggens oor tathata
se onverwoordbaarheid: die skewe hoeke
 
van onthou word voor middernag
‘n kreeftevers: uitgespel en uitgespeel
in ‘n soort retrograde belewenis
 
dat die dag sal breek in voorwete:
onthou duur langer as vergeet,
verdring staan immer tru voor berou. 


Oggendmeditasie 9
 
Ek is ‘n tricoteuse wyl die koppe rol
nou staan my ghremmer eks op hol
 
als is reeds beskryf deur ander aksenawel
in die blouboek van Dirk met sy snawel
 
al die beelde oor die bovenstebeste
het Boerneef reeds geskep van die verste
 
punt tot hede, kyk onse digters meestal dood
selfs ou Mocke wonder oor wraak en nood
 
ja wit was dié wêreld vir W.E.G. Louw
wyl Nicolaas dig oor die wolfdoring se grou
 
nevvermaaind ek brei en rammel beswaard
speel op my ramkietjie met net een snaar
 
was vergifnis ooit ‘n maklike ding of kroes
op Peter Blum se vasteland waarop ons boer?
 
“Die bietjie wat Ek vra” in dié oordryf,
bly maar ou Hambidge se nurkse bedryf.


© Joan Hambidge 

Wednesday, May 18, 2022

Gedigte | Joan Hambidge - Oggendmeditasies | 2022

 Oggendmeditasies

 

Pase 2022

 

Die nag ‘n oorvol asbak

met besoeke van en na

verre plekke, ontmoetings

met vergetenes, vertrekkendes.

 

Vrese tot die dag breek:

‘n stil gebed soos Eugenio Montale

soekend na die stil punt van die wêreld

nes Eybers in haar winter-surplus.

 

Daardie Stil punt van die aarde,

soos my vriend dig, nou onmoontlik

met modderrampe en ‘n oorlog

op ons klein en silwerige planeet.

 

In hierdie concordia discors

onthou ek Pase by my ouers,

my vader se studeerkamer

‘n atlas-van-die-wêreld.

 

Toe was alles ver en in beheer

met “Vroegherfs” ‘n gebed

vol hoop en verlossing …

Nou smag ons na berusting.




Oggendmeditasie 2

 

‘n Dooie vlieg langs ‘n skuifspeld

tandestokkie neffens ‘n bril gebreek

laat my opnuut wonder oor jou vraag:

 

hoe bepaal ons die toon van die gedig?

Amper iets soos in ‘n droom kleurloos

waarin jy verskyn en steeds knieknik?

 

Iewers tussen hierdie beelde en ritmes

en hortende metrum met weefwerk bekyk

deur Ina Sintaksis en Henning Semantiek

 

hoor ek jou smalend lag oor die gedig-

as-literatuur-teorie en sien jou wegloop

met dié nikswerd-gedig nes ‘n dooie vlieg.

 

 

 

Oggendmeditasie 3

 

Die monodie in die Griekse tragedie,

‘n lament, oor die dood van ‘n ander.

George Steiner sou waarskynlik meen

nie sprake van soiets ná die 17e eeu.

 

Treurend oor jou in ons Ioniese drama:

Creusa versaak Ion en Hermes verklap

alles van Apollo se dade in ‘n grot …

Met ‘n terugkeer word ek dalk Pythia?

 

Jy verlaat my lank terug en voetspore

in ‘n herinneringsgrot die leidraad:

jou voete loop na ‘n Griekse eiland,

maar ek ontleed οἷα εἶναι δεῖ …

 

Euripides het dit reeds vertel: verraad

en versaking, immer met ‘n terugkeer

na die plek van skending of verminking:

in my grot van herinnering ‘n trenodie?

 

 

 

Oggendmeditasie  4

 

Verloor my Mont Blanc-pen, ‘n cadeau

van haar, vind dit op ‘n ander plek gestoor:

met hierdie pen in ‘n kroeg, einste seimste

‘n weddenskap gewen: ein Meisterstück

 

korrek vertaal, want sy was ‘n Duitse nooi

wat immer lag oor my grammatika-boeke

(hoog opgestapel langs my bed ‘n berg)

met Nachfüllung vir dié pen so woekerend.

 

En vandat sy weg is, is hierdie pen op stuk

van sake, in kompetisie met ‘n potlood

en skerpmaker, wat ek draai en draai

om die grein van haar stem te ont-hoor.



© Joan Hambidge