Showing posts with label Umuzi. Show all posts
Showing posts with label Umuzi. Show all posts

Tuesday, August 15, 2023

Resensie | Johann Rossouw – Sluitstuk | Umuzi, 2023

Johann Rossouw – Sluitstuk. Umuzi, 2023. ISBN: 9781415210031 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

Sluitstuk word beskryf as ‘n elegiese roman oor verlange, verlies, wraak en versoening. Dit handel oor die komplekse verhouding tussen mentor en student. En ‘n biograaf en ‘n skrywer. By die dood van ‘n geliefde – veral as die verhouding kompleks was – word die rouproses immer ingewikkeld.

 

As Jacques Lacan geskryf het dat die rolle tussen analis en analysant voortdurend omgeruil word en nie stabiel is nie, illustreer hierdie teks dit uitstekend. Johann Rossouw is filosoof en priester van die Afrikaanse Ortodokse Kerk. Met die uitbreek van die Oekraïne oorlog het hy ‘n insigryke analise van die Russiese Ortodokse geloof gemaak en vir lesers verduidelik wat hierdie geloof alles behels. Daar is min rubriekskrywers wat ‘n leser só laat nadink oor filosofie, geloof en die Onsienlike. Oor taalpolitiek is hy eweneens ‘n relevante kommentator. 

 

Raak betrokke in ‘n polemiek met hom (byvoorbeeld oor René Noël Théophile Girard, die filosofiese antropoloog) en hy wys vir sy skoorsoeker daar is nie werklik diepgaande gelees nie.

 

Hierdie verhaal navigeer die verbintenis met Karel Schoeman en ‘n biograaf van Nederlandse afkoms wat die verteller uitvra oor Schoeman. Driejaar ná sy dood. In een nag word die biograaf en skrywer van hierdie teks teenoor mekaar geplaas. Wie was die groot skrywer, ‘n kluisenaar, wat ‘n uitsonderlike spel met aanhangers gespeel het, wérklik? Waarom het hy die skrywer van Sluitstuk so diep geraak? Hoekom het hulle vervreem geraak? En tog weer ontmoet op sy sterfbed? Die spreker Markus praat oor Rudolf met die biograaf. Beide had ‘n verbintenis met hom wat onder die loep geneem word. 

 

Vaders kom ter sprake. Was Markus dalk op soek na ‘n vaderfiguur in die skrywer weens sy komplekse verhouding met sy gewelddadige vader? Is sy aangetrokke tot die verhaal oor die skrywer weens háár verwonding deur die skrywer? (Hier wil die resensent nie ‘n spoiler pleeg nie, omdat die spel tussen verhulling en onthulling so delikaat hanteer word.)

 

Wat behels die naam-van-die-vader tog nie alles nie?

 

II

Karel Schoeman is ‘n groot skrywer en sy oeuvre is indrukwekkend. Sy stemme-romans is alreeds bestempel as klassiek in Afrikaans. Vir my is allergunstelinge: Op ‘n eiland (1971), ’n Ander land (1984), Hierdie lewe (1993)  Die uur van die engel (1995) …

 

Schoeman is ‘n meester van implikasie, suggestie én sub-teks. Van stiltes en óntroosbaarheid. Oor verliese het hy veelvlakkig geskryf. En oor onbeantwoorde liefde uitsonderlik. Min skrywers kan atmosfeer skep soos hy. ‘n Gesprek oor ‘n hek tussen twee mans gelaai met verhulde begeerte; ‘n besoek aan ‘n eiland; ‘n eensame sterfbed.

 

Daar is verder historiese romans en biografiese tekste. 

 

Die roman aktiveer Reise met Schoeman (2020) van Ria Winters, ‘n Nederlandse navorser se korrespondensie met die skrywer. 

 

III

Sluitstuk is faksie. Dit speel ‘n bedrewe spel met die leser tussen feit en verdigsel. Romans, so verneem ons van die skrywer, skep vir die skrywer ‘n nuwe werklikheid met karakters wat selfs sy lewe beginne dikteer. 

 

Sluitstuk lewer verder skerpsinnige kommentaar op dit wat ons dink ons weet van Schoeman, kluisenaar én manipuleerder van die resepsie van sy werk (aldus die fiktiewe biograaf hier) en sy romans. Ons onthou immers sy droewige einde. Lewe en tekste word hier slim vervleg.

 

Dit word eweneens ‘n boeiende analise van psigoanalise van die pratende subjek (parlêtres) en die verhoudings binne só ‘n ruimte wat onstabiel is.

 

Meer nog: dit word ‘n verslag van ‘n spirituele reis deur die Zen-Boeddhisme vir die gefiksionaliseerde Markus wat sý gewaarwordinge rondom erbarming en helderte beskryf. Rudolf se sieninge van die Boeddhisme is eweneens verhelderend. Schoeman het immers ‘n Stil gemoed van Rob Nairn in 1997 vertaal, ‘n studie oor Boeddhisme en meditasie uit 1993: Tranquil mind: An introduction to Buddhism and meditation.

 

Dit is verder ‘n klad- of werkboek oor die skryfproses. Die lêer wat Markus uithaal met briewe en aantekeninge en aan die biograaf stuksgewys openbaar, lewer kommentaar op skryf-as-proses. Ervaring moet daar eers wees voordat jy kan skryf; en dan die oorgawe aan die ritme van taal …


En skryf ons dalk om verlies (‘n onafwendbaarheid van die lewe) te probeer hanteer?

 

Alle skrywers, ook Rudolf (Schoeman), is afhanklik van hul lesers. Of dalk veral Schoeman (Rudolf)?

 

Daar is (en was) net een Schoeman. En met hierdie dubbelportret gee Johann Rossouw ‘n binneblik op een van Afrikaans se mees merkwaardige romansiers.

 

Louise Cilliers se pragtige vertaling van Kavafis se “Ithaka” is ook hier opgeneem uit Konstantinos P. Kavafis: Van Alexandrië na Ithaka wat vanjaar by Naledi verskyn het.

 

En dis waarskynlik die belangrikste sleutel vir hierdie boek: die lewe as ‘n reis. ‘n Mens dink na oor die volgende wat by jou spook nadat jy die boek voltooi het:

 

Epifanieë bly onverklaarbaar; die vermorsing van kosbare energie op illusies wat by nabaat so sinneloos lyk; stemme wat stil word en nooit in boeke tot uiting kom nie; die asimmetriese verhouding tussen mentor en dissipel; die self wat gevind word wanneer jy ophou soek; erbarming as die weg van die Boeddha; die skryfproses: eers ervaring, dan die ritme, dan die woorde.


En jong skrywers wat aan “nabootsingskoors” lei op soek na ‘n eie stem, moet baie geestelike afleggings maak. Inwaarts die stilte en Virginia Woolf (eweneens oorlede in selfdood) wat Schoeman bewonder het. Die rol van Maria wat Markus by die skrywer se sterfbed uitbring: Rudolf Eksteen. Ek – steen : want ‘n sluitstuk is ook ‘n steen in ‘n gebou.

 

‘n Besinnende boek vir (her)lees. My eksemplaar sit vol onderstrepings en kommentaar in die kantlyn. (Vir die herdruk: p. 26 moet dokter eerder doktor wees.)

 

In Ewige gedagtenis sluit die teks vir Schoeman. Is daar uiteindelik sluiting in die jonger man se gemoed? Is daar ooit closure of moet ons eerder hier verwys na anti-closure?

 

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Monday, May 8, 2023

Resensie | Sven Axelrad - Buried Treasure | Umuzi, 2023

Sven Axelrad - Buried Treasure. Umuzi, 2023. R290.00, 222pp (Sagteband) | ISBN 9781415211083 

Resensent: Joan Hambidge

 

Wat ‘n roman! Buried Treasure van Sven Axlerad smokkel met jou kop. Slim, fantasmagories en briljant is hierdie roman wat meesleur via Bob Dylan (“A Hard Rain’s A-Gonna Fall”) en veral Roberto se The Savage Detectives (1998).

 

Hierdie Chileense skrywer se verhaal vertel die storie van die soektog na die Meksikaanse digter, ene Cesárea Tinajero wat in die 1920’s geleef het. Twee digters uit die sewentigerjare, ene Arturo Belano en die Meksikaan, Ulises Lima soek na hom. Cesárea Tinajero was die stigter van sogenaamde Visceral Realism. Bolaňo is eweneens die skrywer van 2666 (2004), geskryf toe hy ‘n lewersiekte gehad het. Oor 1000 bladsye lank. Waansinnig. Stories-binne-stories. Axelrad is kennelik bekoor met hierdie skrywer se flinke spel met fantasie en werklikheid.

 

In Axelrad se roman is daar ‘n karakter Arturo, die hoofkarakter Mateus se vader. Karakters soos Felip (centre forward for Real Marquez). Alejandro en Mick Jagger en Margaret Thatcher …

 

Agterin vind ons ‘n lys van karakters (lewend en dood) met ‘n skadu (die sogenaamde Stabber). Elke hoofstuk word begelei met hoofstukindelings. ‘n Alwetende verteller wat tong-in-die-kies kommentaar lewer met opmerkings soos “We are a collection of everything thas happened to us, which is to say we are stories” (152). Dus ‘n manipulerende, ouktoriale verteller.

 

Mateus leef in Vivo. Hy het ‘n hond. Hy moet mense begrawe, maar die dooies het ‘n lewe (en bewussyn). Mense beland in verkeerde grafte, omdat Mateus nie meer goed sien nie. Alto heet sy vader. Die hond se naam is …

 

Daar is ‘n Iets (‘n Skadu) wat amok saai en doodmaak …

 

Daar is ‘n professor wat begeester is met boeke en biblioteke.  ‘n Soort huldeblyk aan Umberto Eco se siening van biblioteke en argiewe. ‘n Roman wat as ‘n kussing dien vir Novo, ‘n huislose (en weerlose) persoon.

 

Daar is duiwe wat boodskappe stuur. ‘n Telefoonhokkie wat meer as ‘n hokkie is. Kennelik ‘n verwysing na Umberto Eco se The Role of the Reader (1979) se voorblad. Sherlock Holmes en dr Watson in ‘n telefoonhokkie wat ‘n Superman T-hemp in die hokkie vind.


Eco is ook die skrywer van Die naam van die roos (1980), ‘n briljante speurverhaal. William of Baskerville is die speurder in Die naam van die roos, ‘n toespeling op Middeleeuse filosowe.


Die Rottevanger van Hamelin, St Augustinus, die tarot, Isabel Allende se siening van die dooies en die Apostasie, speel eweneens in op hierdie knap roman wat eweneens Jung se siening van die kollektiewe onbewuste en die skadu oopmaak. Die mite van Sisiphus en Cerberus. Die betekenis van ‘n clairvoyant en die impak van die hangover. Nomenklatuur en hagiografie (die biografie van ‘n heilige) word teenoor mekaar geplaas.  Augustine, die blommeverkoper, word gekanoniseer.

 

Die verlating van die religieuse teenoor die eskatologiese. Lamentasies teenoor guitige humor. ‘n Lesing van wat gebeur wanneer jou liggaam ‘n lyk word. Die impak van wurms op ons lewe. En krieke.

 

Die roman is ‘n besinning oor die metafisika, oor hoe ons stories beleef (en vertel) en ons vrees vir die dood. Kierkegaard is hier as Kierkergoal.

 

Uiteindelik ‘n roman oor die betekenis van die lewe (en dood) waaroor ons maar net kan bespiegel. ‘n Hoofstuktitel lui: “Life, the Ultimate Abbreviation”. 

 

Die titel sinspeel op iets kosbaars wat ontdek word.  En dit staan opgeteken in Mattheus 13 vers 44: “Verder is die koninkryk van die hemele soos ‘n skat wat verborge is in die saailand …”, en in vers 52 word daar verwys na die skat waar nuwe en ou dinge te voorskyn gebring word.

 

En toevallig dat die karakter Mateus heet? 

 

Die skrywer is in Nieu-Zeeland gebore. Sy vader is ‘n Franssprekende Brit en sy moeder Suid-Afrikaans. Hy is woonagtig in Durban waar hy werk as ‘n rekenmeester.

 

Bepaald ‘n talent om dop te hou. In hierdie dae waar middelslag romans aangeprys word, kan ‘n mens hierdie een loof vir die tekstuur én uitstekende navorsing. In Eco se terme is hierdie leser waarskynlik die modelleser. 

 

Magiese realisme en metamodernisme.

 

Gewoon net op ‘n storievlak al heuglik. Umuzi moet geluk gewens word met hierdie roman. Kort in omvang, maar lank in implikasie, toespelings en erudisie.

 

Geskryf in sprezzatura, oftewel: bestudeerde nonchalantheid. Dalk kan ook ‘n erkenning aan Gabriel García Márquez se 100 jaar van Eensaamheid (1967)?

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Monday, September 5, 2022

Resensie | Bronwyn Law-Viljoen – Notes on Falling | Umuzi, 2022

Bronwyn Law-Viljoen – Notes on Falling. Umuzi, 2022. ISBN 978-1-4152-1074-1 (PRINT)

Resensent: Joan Hambidge

 

Op die voorblad van hierdie komplekse teks is daar ‘n foto van New York deur Michael Jödicke: West Side Elevated Highway uit 1979.


Die woord segue is waarskynlik die beste manier om hierdie simmetriese teks op te som: een oomblik beweeg na die volgende; of een karakter in een rol of vertolking stap oor na die volgende.

 

Die verhaal handel oor abandonment, oftewel verlating, ‘n tema wat tans in die letterkunde hoogty vier: Abandoned. Deposited. Dropped off. That’s how I thought about it. Delivered, maybe. On a good day.’ ‘By the stork.’ ‘Who flapped off immediately with no forwarding address. (bladsy 283)

 

Die boek word tereg as volg bemark: Notes on Falling is about the hope that art will challenge perceptions and orthodoxy so that the world can be reinvented through new forms. It is also about trying to reconcile the large pictures of history with the small snapshots of our individual lives.

 

Inderdaad. ‘n Navorsingsverblyf in New York roep herinneringe op aan Kaapstad (met sy onvoltooide brug), Johannesburg, die Oos-Kaap. Die klein mens se lewe wat altyd deur historiese en politieke oomblikke verander of vernietig word.

 

Hierdie vertelling word ‘n soektog na wie jy is: die hoofkarakter, Thalia teenoor die dansende moeder. Hierdie moeder wat haar verlaat het vir ‘n dansberoep in die VSA (waar sy haar Suid-Afrikaanse identiteit moet verswyg), laat die kind by die vader. Daar is etlike ander karakters met wie sy in aanraking kom wat kommentaar lewer oor fotografie, dwelms, verhoudings en stede.

 

Die teks is ‘n besinnende werk en nie ‘n konvensionele roman nie, ofskoon daar vele karakters is wat dit bevolk.

 

“The first instant of any fall is crucial” (bladsy 184) dui al die betekenisse van val: dansers wat val …

 

Thalia, die fotograaf en sielkundige argivaris. Met pragbeskrywings oor stede: 

She thought of Johannesburg’s east-bound motorway: the view of the city on one side, and on the other, the yellow-and-tan remains of the mine dumps lumped along the margins of the metropolis. There, she could fit almost all of downtown into a wide-angle lens. This was much vaster: the city stretching away into the smoggy distance, elevated highways spooling out across it. Over it all hung the drifting smoke from Makoko, the floating wooden city that Thalia knew she did not want to photograph. (bladsy 40)

Hierdie roman kan beskryf word as tussentoestande of liminaliteite. Pynlike en kreatiewe oorgange wat Thalia registreer, hetsy in herinnering of in die oomblik.

 

Dis ook ‘n stadsroman met kopknikke na ander tekste in hierdie sub-genre: ‘n Mens dink hier aan Harry Kalmer se 'n Duisend stories oor Johannesburg daardie pakkende roman waarin Totius se Trekkerswee betrek word oor Jozi / Egoli. Teenoor die parallel met New York (die Big Apple). Ook Port Elizabeth.

 

Die simmetrie word behendig hanteer met ‘n verwysing na die Poolse filmmaker Krzysztof Kieślowski. Die film Dekalog (1988) wat afspeel in Warskou-gebou behels tien kortfilms, gebaseer op die tien gebooie.

 

Om tye en veranderinge aan te dui, is daar slim kodes ingebed: Nixon, Richard Avedon, die Fransman wat op 'n koord tussen die Twin Towers gestap het in 1974. Oor hierdie Philippe Petit is daar ‘n film gemaak in 2008 Man on wire. Hiermee dan iets van Law-Viljoen se komplekse skryfstrategieë waar tekste na ander tekste verwys.

 

Dit is ‘n komplekse roman wat jou stadig maar sirkel laat val en opstaan. ‘n Nabootsing-van-‘n-nabootsing net soos ‘n foto dalk iets opvang, maar nooit die werklikheid kan weergee nie.

 

‘n Fotograaf wat mense van bó afneem en nie die volledige mens nie.

 

Elke vinjet word iets van dégagés en hoe jy letterlik van een voet na die ander moet beweeg.

 

Hoogs leersaam met vele intertekste en toespelings en karakters: 

I was at a performance once, it was Steve Paxton’s Satisfyin’ Lover. All they did was walk across the stage. That was it. A whole bunch of people – men, women, children – walking across the stage. It was unbelievably simple and yet absolutely riveting. There were maybe twenty people watching, and at the end of it, Gordon Matta-Clark, who was in the audience, stands up and says, There are more people in the performance than in the audience, and then he says he’s having a party in his loft and we’re all welcome. It was an invitation to be on the inside. And you know a lot of the people in that audience ended up in other performances. (bladsy 172)

Die verhouding tussen tyd, afstand en plekke en die verskille tussen fotografie, films, joernalistiek en dans word ondersoek. Peter Hujar se subversiewe foto’s neem jou as kyker ook na verre plekke (6 Images that Define Peter Hujar’s Subversive Photography Practice | Artsy).

 

Sy foto van Susan Sontag in 1975 neem ‘n mens uiteraard na haar studie On Photography (1977) oor hierdie kunsvorm.

 

Daar is eweneens toespelings op die tarot met die betekenis van ‘n kaart wat verander of dit na bo of onder uitval.

 

Die stories van Thalia, Paige en John met ander karakters wat hul stories bevestig. Soos Sylvia en Robert en die leser wonder saam met die verteller oor hul lewenslot.

 

Opvallend hoeveel tekste tans, fiksioneel en outobiografies, die kwessie van ouers wat kinders verlaat aanspreek. En jongelinge wat soek en wil uitvind waarom. In 2018 het hierdie outeur die gesogte Olive Schreiner-prys verower vir The Printmaker. Hierdie teks is in Duits en Frans vertaal.

 

‘n Wonderbaarlike roman wat nie dadelik al die geheime prysgee nie. Lees Notes on Falling.

 

Joan Hambidge is ‘n Genoot aan die Universiteit van Kaapstad.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

 

Monday, March 1, 2021

Resensie | S.J. Naudé – Dol heuning | Umuzi, 2021

S.J. Naudé – Dol heuning. Umuzi, 2021. ISBN 9781415210796

 

Resensent: Joan Hambidge

 

In hierdie uitdagende kortverhaalbundel staan daar die volgende woorde opgeteken: "Toe hy ’n slag opkyk, bemerk hy in een van die mure se houtpanele ’n deur. ’n Soort ge­heime opening waarvan die oppervlak die reliëf voortsit, en sonder ’n hand­vatsel. Hy gaan druk daarteen en dit klik oop."  En dit is presies wát van die leser verwag word in 'n boek met vele verwysings en toespelings. Jy moet fyn kyk agter die geheime openinge in. In een verhaal is daar 'n verwysing na die camera obscura.

 

Verhale speel in op mekaar met uiteenlopende temas soos rykdom, die soeke na identiteit, die korporatiewe lewe, begeerte, teisterende herinneringe, mense wat verdwyn op ski-vakansies, verskillende kulture wat mekaar nie begryp nie en hoe rykdom jou inperk, eerder as bevry. Verder word verhale gelaai met subteks en interteks. In 'n liefdesverhaal "Die wonderwerk" bly 'n man in 'n ryk apartment in New York waar Julia Roberts vertoef. So aktiveer hy die film Pretty woman (1990) en natuurlik ook La Traviata. Die leser weet die einde gaan sleg afloop; tog tref die ónafwendbaarheid van alles jou steeds in die maag.

 

C.G. Jung se Memories. Dreams, Reflections (versorg deur Aniela Jaffé) het in 1961 verskyn by Random House. In hierdie besinnings oor die lewe (en dood) word die leser teruggeneem na prosesse wat hier verbeeld word: die psigiese parallellismes én die konneksie tussen ervarings, tussen toe en nou; die sogenaamde hierosgamos. By Naudé kry karakters bykans 'n mitologiese status, soos die moeder-kind-verhouding (skitterend vertolk in "Twee libretto's") of  Lev wat die bose word. Die Maria-beeld word geplaas teenoor 'n sterk, aardse moeder in Namibië met die twyfelende Thomas, die seun as waarnemer.

 

Daar is 'n verwysing na die liggaam van Ötzi, ’n man van 3 300 of wat voor Christus, in die vroeë 1990’s in die ys gevind is. Iewers tus­sen Italië en Duitsland dateer Ötzi uit die Kopertydperk, maar hy het merkwaar­dig behoue gebly (181). Dit is 'n bundel van grense en liminaliteite, oorgange van lewe na dood.  Ervarings kry telkens simboliese betekenis. Sand wat waai van die Sahara oor na Griekeland en Turkye. Wat deur die atmosfeer opgesuig word en oor die Alpe neersak elke vier, vyf jaar ...

 

So bely die verteller in 'n bykans poëtiese binnespraak die volgende: "Haar drome, raai hy, is van die blinde, abstrakte soort. Visioene van silwerwit lugleegtes, van halfdeurskynende wande, van helder skeure lig, van ’n duisend yskeëls teen die son."


Die boek is simmetries en elke verhaal werk met fyn toespelings en motiewe wat in 'n slot saamgetrek word. 'n Soektog na die self wat dikwels faal: die binne-reis wat eensaamheid en teleurstelling inhou, word in somber verhaal na donker verhaal opgeteken. Die abjekte word gekoppel aan die dood met verwysings na La Faune des tom­beaux en La Faune des cadavres van Jean-Pierre Mégnin en hoe insekte gebruik word om die geskiedenis van kadawers te interpreteer. Belangrike kunswerke is eweneens sleutels soos Caravaggio wat droë vuurvlieë fyngemaal en met sy verf gemeng het.


Jeff Koons, Louise Bourgeois, Berlinde De Bruyckere, Ryan McGinley ("The Pied Piper of the Downtown Art World") en  Herman Nitsch se ritualistiese kuns laai die tekste verder met implikasies. Grond, ondergronds, bo-grond, agtergrond, barre grond en droogte is woorde wat die leser telkens raaklees. Jy word hier gedwing om telkemale terug te keer en weer na 'n subtiele, bykans weggesteekte motief te kyk. Onder draai die duiwels  bepaald rond.

 

Klere verraai ook karakters se ingesteldheid: mans in speedo's teenoor vroue in joekatas. Ontwerpersklere word 'n snelskrif om 'n karakter te verstaan. 'n Man met grys hare het geen liggaamshare nie. Waarom?

 

Jong kinders se argwaan met hul ouers word eweneens goed vertolk. 

 

In "Fawzi al-Junaidi" word ras- en genderdiskoerse geplaas teen die wye doek van politieke ongeregtighede met skuldgevoelens wat soos bamboese groei. Twee mans het 'n seun en die ervaring van hierdie pa's (in 'n eenderse geslag-verhouding) word uitgespeel teenoor 'n swart huiswerker en háár seun wat die omgekeerde van wit bevoorregting ervaar. Naamlose, ouerlose seuns kan net in 'n fantasie versorg en beskerm word.

 

In "Dol heuning" word misverstande en kultuurstereotipes op hul kop gedraai en in "Wonderwerk" kan jy die hele plattegrond van New York voor jou oë sien tot by Tribeca. Hierdie dramatiese verhaal werk soos installasiekuns; selfs met 'n motor wat in 'n swembad land.

 

In "die dal van doodskaduwee" word die moderne paranoïese bestaan in Johannesburg met keeltoetrekkende vaart vertel. Geweld met sambokke word later 'n s&m-geweld binne 'n gesofistikeerde omgewing. "Warm kompos" is waarskynlik my gunsteling met sy beelde van ondergrondse vuur wat alles verwoes gekoppel aan sieninge oor die heilige gees en spiritualiteit. "Landskappe met figure" is onvergeetlik ryk geskakeer met 'n verhaal wat soos 'n mini-opera werk.

 

Soos Valerie Shaw uitwys in haar analise van Tsjekof in The short story - a critical introduction (Longman, 1983) vermy die Rus melodrama in sy distansie. Tog is hy nie onbetrokke as verteller nie. Dieselfde geld Naudé in hierdie verhale met sy artistieke distansie én stilistiese beheer.

 

Naudé is kortverhaalskrywer en romansier. Die derde spoel was 'n uitdagende leeservaring oor verdwene films uit die dertigerjare en Walter Benjamin. Sy debuut Alfabet van die voëls, 'n kortverhaalbundel, was eweneens goed en het sy transkontinentale aanslag ingelui.


 Naudé is bekroon deur die Akademie vir sy debuut en 2014 het hy die Jan Rabie / Marjorie Wallace-toekenning ontvang. Tereg is Die derde spoel met die Hertzogprys bekroon. 


Hierdie bundel bewys hoe verkeerd diegene is wat dink die kortverhaal se tyd is verby. Ons lees immers steeds Tsjekof, Alice Munro en Hennie Aucamp. En wonder  oor hierdie kortetjie van Hemingway: 

For sale: baby shoes, never worn.

Verruklik, uitdagend, melancholies; 'n leeservaring wat jou ontstem én begeester. Dis 'n boek wat die verborge verbande saamsnoer en die fabels van toe en nou interpreteer oor rituele vernederings en bestaanswoede.

 

Sublieme ambag.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Monday, March 25, 2019

Resensie | Ivan Vladislavić – The distance (2019)

Resensie | Ivan Vladislavić – The distance. Umuzi, 2019. ISBN 9781415210260

Resensent: Joan Hambidge

I

So word die roman bemark:

In the spring of 1970, a Pretoria schoolboy falls in love with Muhammad Ali. He begins to collect cuttings about his hero from the newspapers, an obsession that grows into a ragged archive of scrapbooks. Forty years later, when Joe has become a writer, these scrapbooks both insist on and obscure a book about his boyhood. He turns to his brother Branko, a sound editor, for help with recovering their shared past. But can a story ever belong equally to two people? Is this a brotherly collaboration or a battle for supremacy?

This is an intricate puzzle of a book by a writer of lyrical power and formal inventiveness. Against a spectacular backdrop, the heyday of the greatest showman of them all, Vladislavić unfolds a small, fragmentary story of family life and the limits of language. Meaning comes into view in the spaces between then and now, growing up and growing old, speaking out and keeping silent.

II

In 1980 het Robert de Niro die rol vertolk van Jake LaMotta in Martin Scorcese se Raging Bull, ʼn onthoubare film waarin De Niro gewig moes optel om soos hierdie bokser te lyk. Jare gelede het ʼn kollega in die Regte my bewus gemaak van die nuanses van hierdie sportsoort. 

Ek was ʼn bewonderaar van Muhammed Ali en het, toe hy oorlede is, selfs ʼn gedig oor hierdie fenomeen geskryf. Norman Mailer se studie The Fight (1975) is ʼn belangrike studie oor die 1974 geveg tussen Ali en George Foreman in Kinshasa: die sogenaamde “Rumble in the Jungle”.  Mailer, sélf ʼn bokser op sy dag wat ook nie geskroom het om sy vuiste vir ʼn letterkundige opponent te lig nie, is ʼn moet vir die leser van Ivan Vladislavić se briljante roman The Distance.

III

Joe is ʼn skrywer wat terugkyk op sy jeug en sy notaboeke – en sy aantekeninge deurgaan. Sy bewondering (en obsessie) met Cassius Clay (Ali) vorm die basis vir sy sieninge van skryf. Net soos De Niro vir jare daarna gesukkel het om gewig af te skud na die vertolking van sy rol as Jake, kyk die ouer skrywer terug op sy jeug wat hy nie kan afskud nie.

Trouens, die skrywer soek na ʼn “punchy metaphor” vir die skryfaksie wat die leser soos ʼn linkerhou op sy kaak moet tref (74). En: “I go on writing, like a slugger who isn't smart enough to stay in his corner when he's beaten, who wants to go the distance” (269). Die kommentaar van Branko en die hulp wat hy gegee het, word kantlyn-kommentaar op sy broer se manuskrip. Hiermee dan die vraag: wat behoort aan wié in die skryfproses?

Die broer is bewus van sy broer se skaduboks wanneer hy gaan slaap. (“Ja, I say, float like a bumblebee,” 10).

Die gebruik van ʼn boks vol knipsels en die stories róndom die Grootbek Bokser is ʼn belangrike gegewe. Nie alleen in die skaduboks wat die skryfproses impliseer nie, maar deur die gebruik van hierdie komplekse ikoon, word die apartheidsjare van Suid-Afrika opgeroep. Daar was nie televisie nie en vandag kan ʼn mens al hierdie wedstryde op google aktiveer wat op ʼn afstand anders lyk as wat dit in die werklikheid was.

Twee broers aktiveer die oppervlak-verhaal. Joe die skrywer teenoor Branko die klankingenieur. Hulle is uiteenlopend en hierom sal hulle waarnemings of herinneringe verskil. Weliswaar nie so dramaties soos in Patrick White se The solid Mandala (1966) nie. Nietemin “doubles” van mekaar. Ego en alter-ego. Bokser en opponent. Soos wat Muhammad Ali teenoor Joe Frazier geplaas word.

Branko Blahavic teenoor Joe is dan die twee broers. Die roman is gesitueer in die sewentigerjare, aanvanklik in Pretoria. Dit gaan oor boks en rofstoei. Visvang en ʼn ma wat brei. 

Werklike plekke soos Verwoerdburg, Club View, Pretoria-Wes en die Bon Accord-dam, suid van Louis Botha-rylaan, Von Willich, begrond die roman. En die gebruik van Afrikaans soos “Jissimpie” en “voetstoots”, die LM-hit parade, Reader's Digest-boeke, rofstoei, ysskaats, die walvis-skelet voor die museum in Pretoria, die Perm, maak hiervan ʼn realistiese teks. 

Pulpfiksie en fotoboekies word ingeweef en ontluister. Mark Condor met sy E-Type Jaguar is hier aanwesig as ʼn hoenderboer (58, 59). Ek wil nie die leesplesier hier bederf nie, maar dit is ʼn wonderlike vinjet vir die spel tussen werklikheid en fiksie.

Walter Battiss is ʼn ander belangrike kode. En die breimasjien van die moeder aktiveer die skryfaksie as een van samesnoering. Nes die verwysing na Woody Allen se onderskatte Scenes from a mall.

Die moeder met ʼn voorskoot (as tweede seks, as onderhorige) verbrand haar notaboek (“dreambook”), terwyl die skrywerseun toekyk. So ʼn tersyde-moment: die stemlose word weer stilgemaak gemaak (116 - 117). (Haar seun teken wel haar pyn op.)

Ons weet nie wat sy in daardie droomboek opgeskryf het nie; ons kan net raai.

Vanuit ʼn agternaperspektief met ʼn Pres Les Boks vol knipsels oor Muhammad Ali, oftewel Cassius Clay, word die roman in 15 hoofstukke opgedeel met die twee broers telkemale afwisselend aan die woord. Daar is knipsels as motto's uit The Star en The Pretoria News.

Sportskrywers soos Norman Canale en Alan Hubbard, o.a. word erken. En goeie sportskrywers soos Michael Green en Louis de Villiers tans is eweneens gerekende romanskrywers.

Vladislavić kyk terug op ʼn ou bestel: die 1976 Soweto-opstande word op televisie verbied.

Die “fight of the century” het anders afgeloop as wat voorspel is; nes die politiek van hierdie land. In 1993 het Ali die land besoek op dieselfde dag wat Chris Hani vermoor is.

Die aanhalings van Ali-die-digter (Hoofstuk sewe) en verwysings na Cinema Paradiso, George Plimpton en Hunter S. Thompson gee verdere resonansie aan hierdie geskakeerde teks.

Ek ken min romans waar die slot so behendig al die drade saamtrek. Dis ʼn roman wat jou soms laat lag; ander kere is jy hartseer oor die lot van die outsider en immigrant. 

IV

En anders as wat Michiel Heyns meen in Rapport (“‘Boksverslag’ oor 1970’s is ʼn uitklophou”), is hierdie nie ʼn postmodernistiese roman nie.

ʼn Postmodernistiese roman skep ontologiese onsekerhede en breuke.

Dit is ʼn roman met vyftien rondes. En ek is uitgetel ...


Cassius Marcellus Clay (1942 - 2016)

Muhammad Ali,
wêreldkampioen driemalig,
glo meer binnegoed as bek,
het ge-Rumble-in-the-Jungle,
ge-Thrilla-in-Manila;
selfs buite die kryt óm
geveg, baklei, geboks
vir vryheid van spraak.
“No Vietcong ever called
me a Nigger”, byt hy terug.
Gestroop van titel en eer;
selfs bokslisensie op
vyf-en-twintig verloor
toe hy Viëtnam kets.
Driejaar lank die kryt belet:
hierdie god van die harpuis.
Met tronkstraf opgeskort bly
hy “float like a butterfly,
sting like a bee”
teen swartlyste in:
dié vrypostige, allemin-
tige, vreeslose Louisville Lip.
Totdat ʼn groter,
venyniger opponent
as Foreman, Frazier,
Liston of Norton
hom ont-
troon, planke
toe stuur:
Parkinson,
ʼn skadu-bokser,
se kris-kruis:
een-twee-drie …

© Joan Hambidge

Ivan Vladislavić, foto Minky Schlesinger

Saturday, June 2, 2018

Repliek | S.J. Naudé se Die derde spoel

I

In hierdie dae waar 'n jong digter vergelyk word met Gertrude Stein, is die bekroning van S.J. Naudé se Die derde spoel met die UJ-prys verfrissend gebalanseerd.

In die woorde van kollega Helize van Vuuren wat dit 'n uitstekende roman noem, die volgende:

Dié drie afdelings sluit intiem aan by die titel se “derde spoel”. Op die heel eerste begripsvlak vorm die roman ‘n speurverhaal, met ‘n soeke na ‘n verlore Duitse film uit 1933, gebaseer op Walter Benjamin se 1932-herinneringe aan sy kinderdae in “Berlynse kroniek” (in streng-verwerkte vorm uit 1938 na sy dood gepubliseer as Berliner Kindheit um 1900 [Berlin childhood around 1900]). Die eerste twee dele van die verlore film word gevind na intensiewe speurtogte deur die hoofkarakter, Etienne Nieuwenhuis. Die eerste filmspoel kom te voorskyn uit ‘n buffet in die bouvallige Londense woonstel van Axel se sterwende oupa, Ariel. Hy was een van die Joodse filmmakers indertyd in die Weimar Republiek (1918–1933) wat (soos Walter Benjamin, wie se werk sentraal figureer in Naudé se roman) uit Berlyn moes vlug toe Hitler en sy Nasionaal-Sosialiste aan bewind gekom het. Die tweede spoel moet Etienne koop by sy minnaar se stiefpa, Volker, in Wes-Berlyn, nadat die houer daarvan, Axel se ma Mariel, selfdoding gekies het deur verdrinking in die Baltiese See. Later blyk dit Etienne se passie vir navorsing en spesifieke belangstelling in verlore films is slim gevoed deur sy Duitse minnaar, Axel. Die derde spoel kom nie in Buenos Aires te voorskyn by Axel se hoogsbejaarde, blinde ouma, Irmgard, nie, maar bly verlore. Axel se ouma, wat meegewerk het aan die film in 1933, is kinds, kan dus niks sinnigs vertel nie. Die roman vorm uiteindelik die derde spoel van die film – ‘n nuut-gefabriseerde spoel, ’n andersoortige “spoel” wat “vloed”, deluge, vernietiging impliseer (Die derde spoel deur SJ Naudé/ 'n resensie | LitNet. Besoek 2 Junie 2018).

In die "commendatio oor" (sic!) skryf Bibi Burger insigryk oor die roman op Litnet:

Ook wat Die derde spoel betref, verwys my medebeoordelaar Sonja Loots na die roman se “panoramiese reikwydte”. Frederick Botha lys van die roman se motiewe: “argitektuur, filmkuns, musiek, seks, apartheid, Vigs en die grensoorlog”. Hierby kan gevoeg word: industriële musiek, Walter Benjamin en tuinmaak (UJ-pryse 2018/ Commendatio oor SJ Naudé se Die derde spoel | LitNet. Besoek 2 Junie 2018).

Tereg betrek sy Sluiper (Stalker) van Tarkofski as 'n ander belangrike interteks. Inderdaad die spoke van 'n verlore toekoms ...

Ek meen Tarkofski se films - soos Žižek in The Pervert's Guide to the Cinema uitwys, ondersoek uitsigloosheid - inderdaad dat daar geen hoop kan wees nie. Ingmar Bergman het Tarkofski uitgesonder as die grootste filmmaker van ons tyd (Woorde Wat Weeg/ S. J. Naudé – Die derde spoel (2017). Besoek 2 Junie 2018).

"Die siklus van desperaatheid", in die woorde van Gershom Scholem, vriend van Walter Benjamin, kom in Die derde spoel sterk na vore.

Angelus Novus, 1920 © Paul Klee

Die Angelus Novus is eweneens 'n belangrike kode vir die teks. Ondertussen lees ek weer Benjamin se werk. In September 1940 pleeg hy selfmoord, en sy vriend Gershom Scholem erf die skets, iets waarmee Benjamin sterk geïdentifiseer het. Die engel van die geskiedenis wat 'n melancholiese blik gee op die geskiedenis as 'n siklus van wanhoop (Angelus Novus - WikipediaBesoek 2 Junie 2018).

II

En Gertrude Stein? Die digter van "a rose is a rose is a rose", vriendin van Picasso (pragtig deur haar geskilder) en kunsversamelaar, het kunstenaars in haar salon op 27 Rue de Fleurus ontvang. Sy was vriende met Ezra Pound, Ernest Hemingway, F. Scott Fitzgerald, Sinclair Lewis, Sherwood Anderson, Henri Matisse en vele ander. Haar minnares was Alice B. Toklas wat 'n lieflike kookboek geskryf het.

Van die groot name van die modernisme, het by haar aangedoen.

Hemingway was glo verlief op haar, onwetend dat sy lesbies was; todat hy eendag ongenooid opgedaag het en 'n rusie aangehoor het tussen haar en Alice.

The Autobiography of Alice B. Toklas bly 'n klassiek. 'n Ryk Amerikaanse Jodin vasgevang in die WO II met vele vrae oor hoe sy hierdie tydperk oorleef het. Was sy beskerm deur samesweerders of nie?

"There is no there there", kan 'n mens net iemand toevoeg wat 'n jong digter vergelyk met Stein.

The Adventures of Picasso van Tage Danielsson is 'n Sweedse film van 1978 wat ek indertyd as student gesien het (The Adventures of Picasso - Wikipedia. Besoek 2 Junie 2018).

"Art is a lie that leads us closer to the truth." Hierdie woorde open die film.

Die film is 'n heerlike parodie met Gertrude Stein wat deur 'n man vertolk word.

In die film sê sy by 'n uitstalling: "Alice, be talkless" aan haar vriendin. 

© Joan Hambidge


Sunday, June 11, 2017

S. J. Naudé – Die derde spoel (2017)

S. J. Naudé – Die derde spoel. Umuzi, 2017. ISBN 978-1-4152-0747-5 (Druk) | ISBN 978-1-4152-0748-2 (ePub)

S.J. Naudé se roman is 'n gebeurtenis, 'n enorm, pakkende roman. Daar is enkele kwessies wat ek in hierdie bespreking wil aanraak.

Dit is 'n roman wat op verskillende wyses kommentaar lewer op kuns en hoe kuns resoneer in die mens se gemoed. Op bladsy 338 dink Etienne na oor Axel se kuns:
Namate Etienne al meer kuns in die museums en galerye van Lon­den en Wes-Berlyn gesien het, het die aura begin kwyn. Axel probeer te hard, het hy besluit. Sy werk dra óf die hart op die mou óf is te obskuur. Wat dit kortkom is flitse van vreemdheid én herkenning wat gelyktydig by mens tuiskom.
Op bladsy 238 van S.J. Naudé se pas verskene roman verskyn die beroemde gedig van D. J. Opperman getitel "William Blake":
William Blake
 Hy het veronrus in die late
nagte deur Londen se strate
rondgedwaal; en is vereensaam van die mens
teruggedryf tot by die grens
waar hy gesels met blom en dier en gees;
maar weet dat God in iedereen moet wees
met eienskappe ingeperk
teenstrydiglik in tand en vlerk,
in wurm en die roos, die lam, die tier;
dat Hy die hartstog is, maar ook die vuur
wat alles lok tot daardie gulde gang
waarna die moeë sonneblom verlang.
Dit is 'n baie belangrike kode vir hierdie roman wat o.a. afspeel in Londen.

Opperman se bekende dictum oor die digter wat moet wegskryf van homself, is hier tersaaklik. Dit is wat in hierdie roman ook gebeur. Alles word 'n metafoor vir iets anders ...

'n Mens word as leser eenvoudig meegesleur deur die digterlike aanslag van hierdie aangrypende roman (Die takke rimpel soepel saam met senings. 112) en ek ken min boeke waarin verlore liefde so pakkend en pynlik beskryf word. Etienne se soektog na die verlore Axel sal hierdie leser altyd bybly. Sý film heet immers Om in Axel se wêreld wakker te word.

Die storie handel oor 'n jong man, twee-en-twintig jaar oud, met 'n boelie-vader. Hy vlug uit Suid-Afrika om diensplig te vermy in 1986. In 'n kunstenaarkommune raak hy verlief op Axel, 'n Duitse kunstenaar, wat hom bekendstel aan eksperimentele kuns. Hy raak obsessioneel betrokke by hom en die verdwyning van Axel (en Etienne se soektog) word aangrypend vertel. Meer wil ek nie verklap nie; ook nie oor die reis na Buenos Aires en die konfrontasie met die ou vrou wat weet waar die derde spoel is nie. Die brief waarop oor en oor getik is:
Alles wat sy oor dekades op haar eie in ’n Argentynse woonstel aan niemand kon sê nie. ’n Swart kreet. Die geskiedenis op een bladsy saamgepers. ’n Biblioteek op ’n vel papier. Plek-plek begin dit disinte­greer soos ’n ou gordyn. (335)
Die vakuum van ink. Alles in hierdie teks neem 'n mens na Jacques Derrida se Writing and Difference. 'n Teken wat staan in die plek van 'n ander teken. Die onbewuste as 'n biblioteek of argief sonder 'n sisteem.

Etienne is 'n student in filmkuns, ontdek die eerste van drie spoele wat tydens die dertigerjare in Duitsland verfilm is. Die soektog na die spoele word gesinkopeer met die soeke na die geliefde. Dit word besonder akkuraat beskryf en die liggaamlike dimensie is helder.

Die geliefde oorrompel hom volledig (Om in Axel se wêreld wakker te word. 112)

Die hoofkarakter beweeg tussen die verskillende ruimtes van Berlyn.

Die roman lewer egter sterk politieke kommentaar en uiteraard is daar verwysings na Leni Riefenstahl.

Die roman is eweneens 'n stuk filmkunde. Films word 'n metafoor vir die onvermoë om direk te vertel of bely.

So begin Hoofstuk 7:
September. Etienne neem inleidende kursusse in kamerawerk en kinematografie, regie, draaiboekskryf en filmredigering. Hy het ’n keuse tussen filmteorie en -geskiedenis. Daarby neem hy ’n seminaar genaamd “Verlore kontinentale films”. “’n Filmverhaal is ’n reeks voortdurend veranderende beelde wat gebeure vanuit ’n verskeidenheid oogpunte uitbeeld,” lui sy Amerikaanse filmtegniekhand­boek. Hy lees van visuele beplanning. Oor storieborde. Objektiewe en subjektiewe kamerahoeke. Die bepaling van kamerahoogte en -hoeke. Hoe om naby-, lang en mediumskote optimaal af te wissel. En van komplekser kamerabewegings, op dollies of vanaf hyskrane.
 Hy hou van die ultralang skoot, die wye lens wat epiese taferele in­neem. Sy handboek demonstreer dit met rame uit cowboy-flieks: drie eensame ruiters op die vlaktes, ’n trop bisons wat voor ’n stofwolk dreun. Of ’n veldslag met sneuwelende soldate. Sy ander gunsteling is die “Dutch tilt” – ’n lae kamera wat teen ’n skerp hoek op ’n speler gerig word. Dit disoriënteer die kyker, verduidelik sy handboek, en suggereer die speler is gedisoriënteer, dronk of ontsteld. In extremis.
Ook die filmmaker Andrei Tarkofski (wat dood is aan longkanker, omdat hy Sluiper gemaak het in ou fabrieke, naby chemiese aanlegte in Estland ) én films verloor het, is 'n ander belangrike sleutel. Siekte en dood loop immers regdeur hierdie teks.

Die kinematograaf se toon is pedanties, deklamerend: “Ná Tarkofski se dood het sy produksiebestuurder vertel hoe hulle een oggend in die 1970’s, toe hy aan Sluiper gewerk het, ’n toneel in ’n grasveld moes ver­film. Die vorige aand het Tarkofski die landskap uit elke denkbare hoek bespied. Toe hulle begin skiet, spring hy op en waai met sy arms. ‘Sny, sny.’” Die kinematograaf maak verspotte wuifbewegings; die teoretikus frons. “Oornag, blyk dit toe, het ’n paar veldblommetjies oopgegaan. Die assistente moes sywaarts deur die gras beweeg, soos krappe, om niks te versteur nie, en elke laaste blommetjie pluk. Eers tóé kon die skoot voortgaan.”

Die les is nie vir Etienne ooglopend nie. “Ja,” sê die redigeerder, “en daarna is die materiaal verwoes in ’n Sowjet-laboratorium wat nie ge­weet het hoe om die Amerikaanse Kodak-film te ontwikkel nie. Tarkof­ski moes van voor af begin. Hy het in totaal meer as 5 000 meter film gebruik.” (113).

En Tarkofski se Spieël is hier - nes die implisiete verwysing na sy puik Notalsghia, 'n film wat werk met droom en werklikheid; waansin en normaliteit.

Die Joodse filmmakers in Nazi-Duitsland en hoe pornografie in ou films daar uitgesien het, word insigryk vertel.

Die beskrywing van Axel se siekte word so pynlik-eerlik vertel met 'n kopknik na Eben Venter se Ek stamel ek sterwe. Ook die moeder se siekte gryp aan die keel.

Dit is 'n boek oor verlies en die soektog na dit wat behoue gebly het in die drie spoele. Maar met die refrein dat kuns (musiek, beeldende kuns, films, skryf) ons enigste behoud is. Soos die bevrore paddas wat kan oorleef in die winter met harte wat ophou klop, bloed wat vries, organe wat stop ... (261).

Die kommentaar op Oos- en Wes-Berlyn, die geskiedenis van toe, die vlymskerp analise van die Afrikaanse patriarg, is eweneens boeiend. Nes die bestaan in kommunes en road trips.
Soos die woord vuurvliegie in die naaldprik van fosfor in 'n Berlynse muur. So is hierdie roman.

Dit is kosmopolitiese roman wat verskillende ruimtes verken: Londen, Berlyn, Buenos Aires, Suid-Afrika ...

Bibliografie:


Derrida, Jacques: Writing and Difference. Vertaal deur Alan Bass. Routledge & Kegan Paul, Londen. 1978.

S. J. Naudé