Showing posts with label Alfred Hitchcock. Show all posts
Showing posts with label Alfred Hitchcock. Show all posts

Wednesday, June 17, 2020

Reisrubriek | Windroos | 2020


Sondag, 14 Junie 2020

Martin Scorcese se Who’s knocking at my door? is sy filmdebuut. Oor hierdie film is daar geweldig baie geskryf soos dat Harvey Keitel dalk die dubbel is van Scorsese (Who’s That Knocking at My Door/ How the world met Martin Scorsese. Besoek 15 Junie 2020).

Wat vir hierdie kyker relevant is in 2020 is die genderpolitiek. Die vroue word naak gewys en Keitel word nie ge-full frontal nie. Dis eers met Bad lieutenant en Jane Campion se The piano wat ons alles sien. Eers in die negentigerjare dan.

Ongelykhede dus in genderkwessies.

En die hantering van die vrou se verkragting is ontstellend. Hy dink dis haar skuld dat saam met die man in die motor was en hierom het dit met haar gebeur.

‘n Sogenaamde low budget-film, maar steeds ‘n baken in die filmkuns.

*

Die winter byt. Elsa Joubert is oorlede aan Covid-19.

Elsa Joubert vir Media24:
Die eerste werk wat ek van Elsa Joubert meegemaak het, was Die Wahlerbrug in my eerstejaar aan die US in 1975. Hierna Ons wag op die kaptein (1963), Die swerfjare van Poppie Nongena (1978) en Die reise van Isobelle (1995) wat ek as hoogtepunte beskou. Ook haar reisvertellings – as solo-vroulike reisiger deur Afrika o.a. – het my beïnvloed. En Spertyd– haar laaste teks – wat verslag lewer van oudword en eensaamheid is ‘n uitsonderlike teks: iewers tussen fiksie en waarheid. Ingeperk in ‘n aftree-oord. Nou gaan ons in hierdie dae weer na die ryk, geskakeerde oeuvre kyk. Bonga (1971) verdien ‘n herlees.  
Haar bydrae het ‘n impak gehad op die politiek (ek dink hier aan Poppie Nongena), maar sy het eweneens die rol van die bevryde vrou wat buite die patriargale orde dink en skryf, verteenwoordig.
*

Wegneem-etes begin nou byt. Ek bel ‘n restaurant, laat weet ek is 6 nm daar om die kos op te tel. Reël alles met die bestuurder. 

So by my kool – hulle neem net kontant. Dus: tot by die ATM, terug vier blokke – tuis by die huis moet die kos opgewarm word. Beslis sien hulle my nie weer nie.

Restaurante sal in ‘n ander sleutel moet begin dink. Dis kos is duur, die afleweringsfooi ook.

En kommunikeer duideliker.


Maandag, 15 Junie 2020

Dial M for Murder. Hitchcock op sy stukke. ‘n Man (Ray Milland) wil sy vrou vermoor en kry ‘n kennis (Anthony Dawson) uit sy studentedae in Cambridge met vele aliasse om dit namens hom te doen. Afpersing, want hy wis dat die man geld gesteel het. Hitch is hier. Ons sien hom aan tafel sit by die reünie ongeveer 13 minute wanneer die film begin het. Die vrou (Grace Kelly) se minnaar, die Amerikaanse misdaadskrywer ene Mark Halliday (Robert Cummings) waarsku egter: in die lewe is daar nie ‘n perfekte moord nie. Iets loop altyd skeef.

Die man wat wil wraak neem op die ontroue vrou en haar geld wil bekom, word getroef deur ‘n slim speurder (Chief Inspector Hubbard vertolk deur John Williams).

Wanneer die beeldskone Gracy Kelly uitgaan met haar minnaar, dra sy rooi. Tuis is sy in wit.

En alles wentel om ‘n sleutel. En los note wat vir die afpersing weggebêre is.

*

Dis ‘n pakkende film wat ek twee aande na mekaar kyk.

Die man en vrou eet ontbyt. Dan sien jy in die koerant dat haar geliefde per skip aankom uit die VSA. Dan fokus die kamera op die deur – ‘n belangrike kode want die dief het haar sleutel, wat haar man daar geplant het – gebruik om die deur oop te maak.

Die man haal die sleutel uit die betreder se sak, neem sy sleutel. Alles op die moordtoneel.

En die speurder ruil sy jas met die man s’n om. En so kan hy dan die man fnuik wanneer hy probeer om die deur oop te maak met die verkeerde sleutel.

Uiteindelik word die vrou se lewe gered, want weens die afpersing van die betreder (wat haar man gehuur het), het die jurie haar skuldig bevind aan moord.

Aliasse, voorstellings, bedrog, afpersing, dryf die verhaal vorentoe. As die vrou nie ‘n minnaar had nie, was sy dalk onskuldig bevind?

En as dit nie vir die slim speurder was nie wat meer weet as die misdaadskrywer, was die minnares dood. En as hy nie ook geweet het van die klomp kontant in die man se hande waarmee hy die moordenaar wou betaal nie, kon hy nie die man vaspen nie.

Lacan/Derrida se polemiek oor E.A. Poe se The purloined letter is ter sake. Die verwisseling van geld/briewe is in Dial M for murder tersaaklik.


Dinsdag, 16 Junie 2020

North by Northwest is in 1959 deur Hitch gemaak. En hy is aanwesig aan die begin van die film by die bus waar die deur gesluit is en hom dus uitsluit.

Hierdie film het my in Meditasie geïnspireer om ‘n gedig te skryf:

North by Northwest

Eva Marie Saint, in ‘n dokumentêr,
(of is dit nou Eve Kendall?)
vertel alles oor Hitchcock
se North by Northwest. Ou potjierol
se film oor paranoia en vals identiteite.
Ouer as die skone Eve, lap sy geheime uit:
Cary Grant was nie haar minnaar, en nee,
by Mount Rushmore sou sy nie kon afval
(daar was stutte en stellasies), en Cary
moes in ‘n ateljee koes en swenk voor 
‘n vliegtuig se giftige sproei.
Eat your heart out, Sigmund Freud, Sigmund Freud.
Mount Rushmore was ‘n Hollywood-replika:
‘n afdruk van George Washington op ‘n eendollar-noot.
Hy was immers die eerste president, nes Alfred H.,
die koning is van vrese só irrasioneel (jy kan die stof
ruik op Thornhill se pak koesend, duikend).
‘n Trein deur ‘n tonnel? Bid jou dit aan!
Dit staan reeds in Shakespeare, 
Hierdie North by Northwest.
By Paramount bly die crop-dusting-toneel ónnabootsbaar
nes ‘n eenmalige aanraking of one-night-stand.
Eendag mag jy dalk ook voor die kameras staan
en die ongerymdhede uitlek en bely hoe ál my gedigte
(veral oor ons stiekem verhouding) blote maakwerk was.

*

Nou fokus hierdie kyker net op die pakkende rolprent oor ‘n man, Roger Thornhill, aangesien word vir ene Kaplan (Cary Grant). Hy word ontvoer en dan verander sy lewe in ‘n nagmerrie.

Hoewel die nasionale intelligensie die fout agterkom, wil hulle hom nie red nie. Hy moet self opsnork, omdat hulle Vandamm (James Mason) wil uitrook.

Eva Marie Saint is die vrou (en dubbel-agent). ‘n Film wat suspension of disbelief tot groot hoogtes voer, maar die kyker aanvaar dit. Met Mount Rushmore waar Roger vir Eve Kendall red. Soveel kinkels in die kabel wat net deur Hitchcock beheer kan word.

Met ‘n herbesoek, is dit opvallend hoe die treintoneel al gekaap is deur ander filmmakers. Hier word die man weggesteek. By James Bond in From Russia with love (1963) word die vrou in bo-kajuit weggesteek.

*

In Die Burger is daar ‘n tersaaklike polemiek oor blokraaisels en sogenaamde “Engelse woorde” wat sekere lesers irriteer.

G. (Ollie) Olwagen het gelyk in Die Burger van 6 deser dat alles wat Engels klink, nie uit Engeland kom nie. Wyle Johan Combrink, ‘n voorste taalkundige, het ons geleer dat jy alleen oor anglisismes ‘n uitspraak durf maak, indien jy Nederlands tot in die sewentiende-eeu sou ken.

In hierdie dae van inperking, stof ek weer my Franse en Italiaanse grammatika af. Wat lesers eweneens as Engels sien, kom uit Frans, en uiteraard uit Latyn.

En hy het gelyk dat hierdie sinonieme ons taal verryk.

Oor blokraaisels het hy eweneens gelyk (DB, 15 deser). Vir die een te maklik; vir die ander weer te moeilik. Wanneer ‘n mens woordeboeke lees, kom jy dikwels agter hoeveel woorde daar in jou eie taal opgeteken is, wat jy nie ken nie. En waarom nie neologismes help skep nie? Wat van hoogtartend vir iemand wat hooghartig en uittartend is?

En ‘n leser se probleem met die woord virtueel vir vergaderings, steur my nie. Omdat hierdie vergaderings nie die regte ding is nie. Soveel van die gesprek gaan verlore. Met ‘n onderhoud kan jy die mens nie werklik takseer nie. Klein sub-tekste gaan dus verlore soos die knip van ‘n oog (senuweeagtig) of ‘n hand op die been.

© Joan Hambidge

Friday, January 10, 2020

Filmrubriek | Parasite (2019)

I


Gewoonlik wanneer films te veel applous en akkolades ontvang, staan ek tru. Wag totdat die geraas verby is, maar Parasite van Bong Joon-ho, 'n Suid-Koreaanse film van verlede jaar, verdien al die erkenning. Dit is sopas bekroon by die Golden Globes as die beste buitelandse film.

Die verhaal gegewe is oorbekend reeds: 'n down-and-out gesin betree 'n rykmanshuis met identiteite wat aangeneem word as tutor, kuns-juffrou, sjef en chauffeur.  

In 'n uiters realistiese toneel sien ons hoe hulle ondergronds leef. Daar is geen wifi nie en hulle "steel" van die inwoners bó hulle vir 'n verbintenis.

Vir 'n lewe vou hulle pizza-bokse. Maar dit werk nie uit nie, want hulle verbrou die fyn aanwysings. Voor hulle beskeie tuiste urineer 'n man gereeld.

En dan. Die boetie neem sy vriend se posisie in as tutor en skep (via die internet) vals grade. Die sussie is nog slimmer. Sy besef die jong kind wat sy moet leer het 'n kunsprobleem en via die internet leer sy van kunsterapie. Die ma word die sjef wanneer hulle leuens oor die huidige sjef vertel en haar verdag maak by Meneer en Mevrou Parks: dat sy tuberkulose het en die pa gaan selfs na die Mercedes garage om alles uit te vind van moderne motors.

Hierdie swendelaars plaas 'n broekie in die ryk man se motor sodat die chauffeur gefire word en alles loop flink. Hulle trek almal wol oor die oë.

Die kenner van plotlyne vermoed dat die jong kind (hy heet Da-song) wat buite alle grense leef, die leuens sal ontmasker. Hy word deur sy ouers op die hande gedra, slaap selfs op die gras in sy Rooihuid-tentjie en manipuleer die ouers vandaar met 'n walkie talkie. Sy sussie speel tweede viool.

Hy het selfs eenkeer 'n spook gesien ... (Die kyker weet egter wié hierdie spook is ...)

Die dénouement is onverwags - selfs vir hierdie ou filmkyker.

Die baas en sy gesin het gaan uitkamp.

Die huis is in chaos. Die parasiete lê weg aan die whiskeys en die tutor (Ki-woo) lees selfs sy student se dagboek.

Die voormalige sjef daag onverwags een nag op, lui die voordeurklokkie en die vier swendelaars moet die deur oopmaak. 

Sy het iets vergeet in die huis.

En dan?

Daar is 'n bunker in die huis. Heeltemal geloofwaardige binne daardie wêreld waar mense moes wegkruip tydens oorloë. 

As jy die film wil gaan kyk, moenie verder lees nie. Dit gaan 'n spoiler wees.

Die vier verneukers ontdek 'n man (die voormalige sjef se man) ondergronds wat via morsekodes met die buite-wêreld kommunikeer. (Hy skuil hier om van loan sharks weg te kom.)

'n Bloedige twis ontstaan. 

En dan keer die gesin onverwags terug want die kind het nie die kamp geniet nie ...

Die huis word blitsig opgeruim en die sjef moet ook 'n eksotiese dis maak vir die kind.

Soos in Hitchcock se Psycho is daar dan verskillende vlakke in die huis.

Gelukkig kan hulle wegvlug van die huis, maar helaas is hul tuiste deur vloedwaters verswelg.

Die nag slaap hulle - saam met ander huisloses - in 'n gimnasium.

Die volgende dag word hulle deur hul werkgewers, die Parks, vir 'n verjaarsdagparty van die jong kind genooi.

Hulle gaan.

En 'n orgie van geweld breek los. Ki-woo betree die bunker met 'n rots, maar Geun-sae uitoorlê hom. Waneer die kind Geun-sae weer sien, is hy getraumatiseer deur die besoek van die spook. Meneer Parks en sy dogter word vermoor in 'n pornografie van geweld.

Ki-woo word wakker nadat hy in 'n koma was en word skuldig bevind aan bedrog. Hy lag ook onvanpas - waarskynlik weens die breinbesering.

Die vader (Ki-taek) oorleef nou in die bunker - en met die besoek van sy seun, sien hy die morsekodes.

Die slot aktiveer verskillende lesings. Is die tutor nog in die tronk? Fantaseer hy dat hy eendag so 'n huis gaan besit? Gaan hy eendag wel sy vader uit die bunker kan red?

Die film lewer kommentaar op die verskillende klasse in hierdie land en hoe die rykes uitermate ryk is en die armes sukkel om kop bo water te hou.  Dalk hierom dat water en oorstromings so 'n belangrike kode is?

Daar is baie humor. Swart humor soos Meneer Parks wat kommentaar lewer op hoe die werkers in sy huis stink. En tydens die geweldorgie gril hy weer vir hoe hulle ruik. En dit lei dan tot die aanval op hom en sy dood. 

En tydens die oorstroming in die beskeie tuiste spuit vuil water uit die toilet.

II

Psycho (1960) van Hitchcock het ook verskillende vlakke en die bloedige aanval op die speurder, Milton Arbogast en Marion, word ook deur hierdie film geaktiveer. 

En die moeder wat in die kelder weggesteek word, maar ontdek word as 'n mummie, is ook 'n verdere interteks.

Marion wat geld steel en dan wegry en Norman (haar fata) ontmoet en vermoor word in die beroemde storttoneel.

Die Bates-motel met Norman wat vir Marion vertel sy ma is psigies siek, teenoor die ryk huis van die Parks. Ons weet egter hy is die siek een wat Marion vermoor en die gesteelde geld (met haar lyk) in die nabye moeras instoot. Die soektog na Marion vind plaas en die speurder word deur 'n donker figuur doodgemaak. (Žižek in The pervert's guide to the cinema wys op hoe skokkend hierdie toneel is weens die onverwagsheid daarvan.) Wanneer daar ook na die speurder gesoek word, plaas Norman sy moeder se lyk in die kelder. 

Lila en Sam se soektog na Marion en die speurder lewer niks op nie en Lila is geskok wanneer sy Mevrou Bates se lyk in die kelder vind. Norman - met 'n pruik en in vroueklere - probeer Lila doodmaak met 'n sjefmes, maar Sam keer hom gelukkig.

In die gedaante van sy moeder, maak hy mense dood. Hy het indertyd uit jaloesie sy moeder en haar minnaar vermoor. En die psigiater wat Norman moet verdedig verduidelik in die hof hoe sy gesplete persoonlikheid funksioneer. Uiteindelik word die motor - met Marion se lyk daarin - uit die moeras gehaal.

'n Duideliker simbool van die donker onbewuste kon sekerlik nie gevind word nie.

III

J. Hillis Miller verwys in sy bekende artikel oor die parasiet en die gasheer hoe tekste op mekaar teer in Deconstruction & Criticism (1980). Staan dit in hierdie teks of is die kritikus ook 'n soort parasiet wat op ander tekste teer?

Die regisseur van Parasite sou bepaald kennis geneem het Anthony Perkins en Janet Leigh se vertolkings.  Hier is eweneens 'n Lacaniaanse "Chinese whisper" aanwesig en die verwringing van die oorspronklike boodskap, soos dit oorvertel word.

Parasite is 'n uitsonderlike film wat kommentaar lewer op die konstruksie en nabootsing van die self, soos Lacan dit beskryf in sy Ėcrits (1966).

Alfred Hitchcock as Norman Bates se ma


Joan Hambidge

Sunday, October 23, 2016

Café Society: Woody Allen

Woody Allen
I
Ek is 'n Woody Allen-aanhanger en selfs Allen se "swakste" rolprente maak belangrike stellings oor die filmkuns. Sy jongste - met 'n louwarm ontvangs - heet Café Society en stal die bekende Allen-hebbelikhede uit: sy Joodse agtergrond, sy kritiese blik op Hollywood, die gebruik van die film noir (soos ook in Matchpoint) om die verhaal verder uit te dra en grappige one-liners. In die genoemde Matchpoint word die liefdesintrige tot 'n dramatiese moord uitgebou met die moordenaar wat wegkom weens 'n gelukskoot. 'n Dief word gevang met die ring van die vermoorde buurvrou wat hy in die Teems probeer gooi het. Dit het egter teruggebons (soos 'n tennisbal) en die dief wat dit optel en inbreek word dan "geframe" vir Chris se moord op sy beeldskone minnares.

In die jongste is daar weer 'n liefdesdriehoek: Bobby Dorfman (Jesse Eisenberg) en sy oom Phil (Steve Carell) is verlief op dieselfde meisie. Hy werk vir sy oom, 'n talentontwikkelaar in die filmbedryf. (Dit speel af in die dertigerjare.) Veronica (Vonnie), vertolk deur Kristen Stewart maak Bobby touwys en hy ontdek dat sy ook die minnares is van sy oom. Uiteindelik na 'n bietjie werklike tou-wysery tussen Bobby en Vonnie, val sy egter vir die ryker, ouer man. Daar is selfs 'n brief as geskenk van Vonnie aan Phil, geskryf deur Rudolph Valentino. Dit is dan die ontdekking van hierdie brief wat Bobby laat besef sy geliefde is éintlik sy oom se minnares.

Hartgebroke keer hy terug na NY, waar hy 'n nagklub-eienaar word. Sy gangsterbroer Ben (Corey Stoll) verskaf die geld en hy doen die harde werk. Hier ontmoet hy 'n beeldskone, geskeide Veronica (Blake Lively) wat dieselfde naam het as sy eerste meisie. Opsetlik? Bepaald. Allen wil kennelik hier 'n kanttekening maak oor liefdesobsessies en waarskynlik hoe sy verhale altyd maar dieselfde storie vertel. Hy trou met sy tweede Veronica, word 'n vader. Todat die eerste Vonnie weer opgedaag in die nagklub vir rykes. Hulle gaan wandel in Central Park met haar (waarskynlik net 'n verskoning vir Allen om sy liefdesverhouding met NY weer uit te stal).

Dat Allen besig is met 'n satire op die Amerikaanse samelewing se obsessie met geld, sukses en kitsrykdom, is duidelik. Ben se donker dade word aan die kaak gestel en hy word skuldig bevind aan moord. Die elektriese stoel is sy voorland. (Sy hulp aan sy familie gaan nie ongestraf verby nie en hier lewer Allen lieflike kommentaar op die Marxistiese intellektueel van die tyd en die Rosenberg-geval.) Weens die omstredenheid van sy broer se einde word die nagklub net gewilder. (Verdere siniese kommentaar van Allen.)

Die een se dood is die ander se brood. Bobby word alleeneienaar, vertrek na LA om 'n Hollywood-weergawe te begin van sy suksesvolle NY-nagklub. Hy sien weer vir Vonnie die eerste (sy vrou droom dat hy haar verneuk) en sy bely dat sy en Phil eersdaags NY sal besoek.

Beide besef dat dit beter is om mekaar liefs nie weer te sien nie.

Op nuwejaarsaand is Vonnie by 'n Hollywood-party; Bobby in NY in sy nagklub.

Albei alleen te midde van ander mense. 'n Film sonder closure en wat jou as kyker laat nadink: 'n oop slot wat dalk 'n ander rolprent gaan inspireer? (Woorde Wat Weeg/ Woody Allen. Besoek 23 Oktober 2016).

II

Ek het sopas ook gekyk na Hitchcock/Truffaut (2015) - regisseur Kent Jones - oor Truffaut se beroemde boek oor Hitchcock toe hy hom in 1962 oor 'n periode van agt dae besoek en uitgevra het oor hoe hy films maak. Hierdie uiters belangrike dokumentêr waarin ander filmmaker soos James Gray, Martin Scorsese, Paul Schrader, Wes Anderson, David Fincher, Arnaud Desplechin en Olivier Assayas kommentaar lewer, is ook op Allen van toepassing. (Hitchcock/Truffaut (film) – Wikipedia. Besoek 23 Oktober 2016).

Hitchcock se opleiding as ingenieur het hom ten goede gekom. Hierom is sy films so matematies-presies uitgewerk. En hy het verskillende modelle gebruik vir die storttoneel in Psycho om nie alles te onthul nie.

Soos Hitch en Truffaut, is daar 'n obsessie met die filmkuns. Soms nostalgies, soms self-refleksief. Ons leer uit die gesprek met Hitch en Francois: ons wil dikwels te gou na die bekendstelling van 'n film 'n kritiese uitspraak daaroor maak. Dikwels neem dit tyd om 'n film reg in te skat. Veral waar daar ook 'n outeur-filmmaker aan die werk is.

© Joan Hambidge

Tuesday, July 23, 2013

Blom van die baaierd: Opperman en Hitchcock

(c) Photo by Philippe Halsman vir Vogue

In hierdie artikel word D.J. Opperman se gedig “Blom van die baaierd” en Alfred Hitchcock, die bekende filmmaker, se tekste as speurverhale van die Onbewuste gelees. In hierdie twee outeurs se werk vind die leser / kyker tekens van paranoïa. Terselfdertyd is daar ‘n spanning tussen die verbeelde, simboliese en die Reële vlakke, ‘n komplekse Lacaniaanse verhouding, wat betekenis aanstig én uitstel. Hierom dan dat beide Opperman en Hitchcock ‘n stille aanwesigheid word in hul tekste, vermoedelik om ‘n soort ouktoriale oplossing te probeer verskaf.  As die Onbewuste die begeerte tot die Ander is, bly die teks ‘n spieëlteks of parallaksteks, soos die Sloweense teoretikus Žižek dan uitwys. Die artikel illustreer deur middel van lexias die breuke en ónmoontlikheid van ‘n volledige representasie van die Onbewuste.


    Literature is the unconscious of psychoanalysis.
    Shoshana Felman

    Maar boos bly boos in Brakfontein of Neo-Baäl,
    en goed is goed by Golgota of Brussel;
    en deur die eeue is dit reeds bepaal:
    die plek en spelers sal voortdurend wissel
    maar die spel word telkens in die tyd herhaal.
    D. J. Opperman

I.

D.J. Opperman se gedig “Blom van die baaierd” (opgeneem in Blom en baaierd, 1956) kan as ‘n speurverhaal gelees word. Hierdie epiese gedig is ‘n besondere komplekse teks waarin die paranoïese, soos wat die Franse psigoanalis, Jacques Lacan, dit tipeer, na vore kom. [1]

Gelees vanuit – of teen ‘n Lacaniaanse “back-drop” – maak hierdie teks ‘n boeiende leeservaring. Die paranoïede self val sigself aan, argumenteer Lacan in sy bekende doktorale proefskrif oor hierdie onderwerp. Die negatiewe of bestraffende is dan ‘n aanval van die ego op sigself, geprojekteer asof dit ‘n mag van buite is.

II.

Alfred Hitchcock se vele films vertoon eweneens ‘n patroon van paranoïa – karakters is dikwels op vlug soos in Saboteur of word van ‘n misdaad (verkeerdelik) verdink. In Rear Window, met James Stewart, is die oorlogsfotograaf vasgekeer in ‘n woonstel weens ‘n gespalkte been. Hy neem hy ‘n moord waar, maar sy vriend, die private speurder, sien dit as ‘n blote vlug van die verbeelding. Danksy sy fotografiese toerusting kan hy diep(er) inkyk in die toneel van die moord.

Eers maak hy gebruik van ‘n verkyker en later neem hy alles waar deur middel van ‘n telefotoskopiese lens om soos ‘n betreder die intieme ruimte te skandeer.

Die kyker bly bewus van die afgesperde ruimte en Stewart is die fokalisator; ons kyk deur sy oë na die ruimte. Die film begin ook met ‘n kamera wat flits na die verskillende woonstelle.

III.

In “Blom van die baaierd” word die gedig gesitueer binne die speurverhaalopset:

Bloedhonde vat met fyn getjank die spore
tussen wrakhoute en geraamtes aan die Dodekus,
verby dwergstruike die kalkbulte oor;
en in dié streek, van elke been en wiel bewus,
gaan geen teken of beweging ooit verlore.

(strofe I, Afdeling I)

Die verwysing na die “geen teken of beweging” wat ooit verlore gaan nie, aktiveer die Onbewuste, ‘n ruimte waarin niks verlore raak nie. Die area waarin die drama afspeel, is ook afgesper (“die onbewoonde kamp”):

’n Binnelig uit God se eerste daeraad
lê nog beslote in derduisend diamante,
afgekamp tussen versperrings doringdraad
waar rooi geverf staan op groot planke:
“Streng verbode! Niemand word hier toegelaat.”

(Strofe 2, Afdeling I)

IV.

In Rear window stuur James Stewart sy vriendin (vertolk deur Grace Kelly) om die toneel van die moord te besigtig. Sy word egter betrap en wanneer Stewart die polisie bel om haar te red, word sy in hegtenis geneem. As lokvink het sy egter die ring van die vermoorde vrou in die woonstel ontdek. Dit is volgens haar die bewys dat die vrou wel vermoor is: geen getroude vrou sal op reis gaan sonder haar trouring nie.

V.

Die boggelman, ou Skewe Koen, se teenspeler of antagonis is Broeder Ben, die sekteleier. Weens sy konneksie met die metafisiese aspireer hy in Lacaniaanse terme tot die Reële.

Isabel (die slet / aardsmoeder) aktiveer die seksuele dimensie teenoor Koen wat gebreklik is en sy Meester versoek dat hy genees moet word. Vir Lacan is die knoop in die psige (“knoppe van my vlees”) daar waar die Onbewuste sig aanbied. Die Koen-figuur se fisiese geskondenheid is die rede vir sy verkeerde optrede. Dit stu die gebeure voort soos Hitchcock se aanwending van die MacGuffen-tegniek: die voortbeweeg van gebeure wat spanning by die kyker veroorsaak.

Skewe Koen is eweneens digter en die leser sien die gedig wat hy aan Broeder Ben gegee het. Die ars poëtiese dimensie word gekoppel aan begeerte (désir), dus die diamant wat moet vers word:

Ek moet een nag die flonkerende steen
van mag en kennis wat U my misgun,
uit die verbode kamp van doringdrade neem.

"We realize, of course, the importance of these imaginary impregnations (Prägung) in those partializations of the symbolic alternative which give the symbolic chain its appearance. But we maintain that it is the specific law of that chain which governs those psychoanalytic effects that are decisive for the subject: such as foreclosure (Verwerfung), repression (Verdrängung), denial (Verneinung) itself – specifying with appropriate emphasis that these effects follow so faithfully the displacement (Entstellang) of the signifier that imaginary factors, despite their inertia, figure only as shadows and reflections in the process. (Jacques Lacan, "Seminar on The Purloined Letter").

Dit aktiveer eweneens die digter, D.J. Opperman se bemoeienis met die skryfdaad as ‘n raaisel.

VI.

Dit is bekend dat Hitchcock dikwels in sy films ‘n klein buiging maak. In The birds is hy die man wat met twee honde uitstap by ‘n dierewinkel. Ook Opperman is aanwesig in hierdie gedig, naamlik in  die vorm van die asterisk aan die slot van die gedig:

*

En hulle vind hom waar hy takkies breek
en bid om sy en Brakfontein se sonde,
om dié van Brussel, Jerusalem en elke streek …
waar hy rooi kappertjies in al die wonde,
die halfoop oë en neusgate steek.

In beide gevalle is daar dan ‘n ouktoriale verteller wat intree om beheer oor die gegewe uit te oefen. Die ouktoriale verteller, teenoor die personale of derdepersoonverteller, herinner die leser daaraan dat hy die skepper is van sy karakters en lewer soos in die romans van Thackeray kommentaar op hul hebbelikhede. In die Opperman-gedig dui die asterisk op ‘n oorgang na die Reële, of dit wat dan buite woorde lê. 

VII.

“’n blom fan di bajert, ferberg in di nag”

(Strofe 4, Afdeling II)

In hierdie gedig, “Liid fan di Diamant”, vind ons die begeerte tot die vrou, Fransinne. Alleen die siel ontvang die vermanende woord, omdat dit aan die ewigheid behoort (“’n kasteel waaruit God se lig skyn”) en in die Rynse hospitaal is Koen sewe jaar gelede genees. Die “blom” (diamante) waarmee handel gedryf word, is ‘n oortreding van die Wet. Die wet (die naam van die vader / “nom du père”) hou sowel die simboliese as verbeelde ordes in beheer. ‘n Oortreding hiervan lei dan tot bestraffing.

Ben verkoop die diamante aan Koen onder die voorwendsel dat hy ‘n kerkie met die geld wil koop. Broeder Ben word egter verraderlik vermoor. Ná die moord wens Koen hy is weer die ou Koen vol knoppe. Die kappertjies bloei op ‘n ashoop: dit is dan ‘n andersoortige blom van die baaierd.

Die religieuse verwysings in hierdie gedig en na Jesus se kruisdood is met ironie gelaai. 

VIII.

Slavoj Žižek, die Sloweense filmkritikus, is ‘n Marxistiese sosioloog, kultuurkritikus en Lacaniaanse filmleser. Hy het psigoanalise bestudeer aan die Universiteit van Parys VIII met Jacques-Alain Miller. Žižek se lesings van Hitchcock en sy filmanalises in The perverts guide to the cinema gee ‘n besondere unieke perspektief op die onbewuste van films.

Bewussyn is vir hom óndeurdringbaar en hy argumenteer dat die doodsdrif  (Freud se thanathos-drang) sterker funksioneer as die lewensdrif (eros). Dit is die doodsdrif wat volgens hom deurbreek en kommentaar lewer op die Reële. In sy analise van The birds van Hitchcock sien hy die aanval van die voëls as ‘n representasie van die opgedamde libido. Daar is ook die verhouding tussen moeder en seun wat bedreig word deur die binnekoms van die vroulike besoeker.

Die film manifesteer ‘n spanning tussen eros en thanathos: die onderwyseres sterf na ‘n aanval van een van hierdie voëls en in die hele dorp word geteister daardeur. Daar is onder andere ‘n verwoestende brand wat hierdie spanninge intensiveer.

IX.

Dit is bekend dat Hitchcock se vader hom as ‘n jong kind na die polisiekantoor gestuur het met ‘n nota. Die nota het gelui: “Sluit hom toe vir ‘n paar minute weens ‘n klein oortreding” [2] 

Hierdie insident het ‘n geweldige impak gehad op sy lewe en verklaar waarskynlik die gevoel van beklemming wat die kyker dikwels in sy films aantref. Sy films verskaf vir die psigoanalitiese leser jouissance weens die spanning tussen die verbeelde en die simboliese fases. Dubbelidentiteite, soos in The man who knew too much en uitspeel van die spanning tussen die simboliese en verbeelde vlakke, aktiveer ‘n ewige spel tussen analis en analisand. Die films ten slotte analiseer vir die kyker ‘n je/moi parlêtre.

Hierdie breuk in die self  is ‘n manifestasie van die méconnaissance (mislesing) van die self – die onvermoë om sigself volledig te ken. [3]

Hierdie manqué à être is gekoppel aan ‘n gestolde narcissisme wat by Freud lei tot die herhalingsdwang. 

Hitchcock beweeg telkens terug na sy eie “moordtoneel”, te wete die vader se bestraffing en die opsluiting van die jong kind in die polisiesel wat hy in film na film ondersoek. Dit is dan die knoop in sy psige, die onopgeloste sinthome. Karakters het dikwels net ‘n semblance van ‘n identiteit of word vir die verkeerde persoon aangesien.

X.

Beide Opperman en Hitchcock beweeg in die domein van die ongehoorde of transgressiewe. Vir Lacan is die rol tussen analis en analisand nie stabiel nie. Die magspel verander voortdurend. Ook in die interpretasie van tekste is die leser nie die finale kenner of interpreteerder nie; die teks kan sigself as analis voorhou (as ‘n soort streng verbode / niemand word hier toegelaat). In sodanige gevalle is die teks  óndeurdringbaar, geheimsinnig.

Juis ómdat hierdie prosesse in wese ‘n voortdurende spel tussen vlakke impliseer, is ‘n intieme  verhouding tussen analis en analisand ongehoord en ‘n taboe. [4]

Selfs al word terapie opgeskort, en al verloop daar ‘n tyd van neutraliteit, bly die verhouding steeds vóórtbestaan in die onbewuste as ‘n verhouding tussen analis (terapeut) en analisand (pasiënt).

XI.

Voorwete / verdringing / ontkenning / transferensie blyk die kodewoorde te wees in  sowel Freudiaanse as Lacaniaanse tekstualiteit. Die onbewuste kan net deur refleksies of nabootsings werk. Dit is die parallaks (in Žižek se terme); die skadu’s en nabootsings (aldus Lacan). "Eat your Dasein."

‘n Kodewoord of “pass” in Lacan se terme.

Beide Opperman en Hitchcock aktiveer al hierdie kodes in hul tekste waar die Onbewuste die teks word en die teks die Onbewuste. 

“Blom van die baaierd” het drie onderafdelings:

I. Vlermuis, II. Lokvink, III. Vuurvlieg.

In die eerste afdeling word die “oerbewoonde kamp” beskryf met sy duine wat met karabyne bewaar word. Daar is Ovambo’s en boodskappe wat van “bult tot bult” geskree word na Brakfontein, ‘n universele dorp.

Die gedig is filmies in aanbod. Met ‘n skoot wat eers die omgewing weergee en dan uiteindelik beweeg na “Die Blink Skoen” waar die boggelman en rympiemaker Skewe Koen hom bevind.

Jong kinders bring vir hom ‘n blikkie met steentjies wat die leser onmiddellik vertolk as smokkelary.

Hierna verskyn Broeder Ben, om kollekte in te vorder en die leser word voorgestel aan Isabel. Die pyn van Skewe Koen word in ‘n monologue intérieur weergegee. In sy geding met God is daar ‘n versugting na die “flonkerende steen / van mag en kennis wat U my misgun”. Die werklike diamante word metafories verplaas as stene van mag en kennis.

In die tweede afdeling word die fokus geplaas op Broeder Ben. Hy lees die gedig, “Liid fan di Diamant” voor in argaïese Afrikaans wat die gedig situeer aan die einde van die negentiende, begin twintigste eeu.

Die spreker in die gedig is ‘n diamant (“met myn eerste lig sy glans nog ni kwyt / so mooi as foor Adam syn tyd in myn prag”). Die mens is by wyse van spreke ‘n kasteel van kristal waaruit God se lig skyn.

Hier word die genesende operasie van Koen beskryf en die diamantsmokkelary weer na vore gebring.

Die goddelike dimensie (Syn) straal in al sy vlakke oop vir Koen. 

Broeder Ben wil egter die Brakfonteiners teen die Bose waarsku en hulle red. Die asterisk dui ‘n breuk aan in die gedagtegang. Ten spyte van Boeder Ben se versugting, wil hy dat Koen van hom diamante koop sodat hy ‘n kerkie kan bou. 

Tydens die ontmoeting word Broeder Ben doodgeskiet en die kruiswoorde (“Lama, lama sabagtani…”) wil ‘n soort verheiliging hier ironiseer. Ben wil deur smokkelhandel of dus diefstal ‘n kerkie bou wat die kruisdood verïroniseer.

In die derde afdeling, “Vuurvlieg”, word daar teruggespeel op die “vuurvlieg”- en “lokvink”-motiewe. Ons vind hier dat Koen skuldig voel oor die dood van Broeder Ben en wens dat hy weer ‘n boggelrug had en kon voortgaan met sy dagtaak.  In hierdie monoloog kom die stem ooreen met die digterstem van “Liid fan di diamant”.

Dit is ‘n spreker oorspoel met skuldgevoelens en oorbewus van die “wanhoop van die liggaam”. Die “verbond met die magte van die hel”, aktiveer die bewuswees van die spanninge tussen goed en boos wat onderliggend aan hierdie teks is.

Daar is ‘n oproep na God se “towersteen” en “fonkelende graal” sodat die lot van die self aanvaar kan word.

God is altyd regverdig aanwesig bó die donker, primordiale skepping.

Die insig kom by Koen dat elke mens sy boggel of leed het. 

Koen kan as voortvlugtende vir ‘n tyd die gereg ontglip, maar hy besef dat daar uiteindelik ‘n oordeel oor hom gevel sal word:

“Jy het weerstrewig die verbode steen gevat
en op ‘n nag my dienaar teen die bult vermoor”.

In die slot, na die asterisk, vind ons ‘n beskrywing in die derdepersoon waar Koen rooi kappertjies in al die wonde, die halfoop oë en neusgate steek, wat dan dui op ‘n toestand van waansin. In hierdie komplekse gedig word ‘n gedig binne-in die gedig geplaas, te wete “Liid fan die Diamant”.

Dit kan dus gelees word as die blom van die baaierd: die digter wat ‘n gedig skep oor ‘n gedig en karakters skep om ‘n voorstelling te gee van die verskillende pynlike en paranoïese prosesse (of vlakke) waardeur sy inspirasie beweeg het.

Die drie afdelings dui ook ook ‘n beweging tussen die drie vlakke: verbeelde, simboliese en die reële. Die blinde vlermuis (met sonar) dui op die verbeelde fase en die simboliese fase is die lokvink (verraad), terwyl die vuurvlieg verwys na die Onsienlike. 

XII.

Camille Paglia wys daarop in ‘n lesing van Hitchcock (“An eye for the birds”) hoe die seksuele spel tussen die filmmaker en sy aktrises ‘n besondere erotiek tot gevolg gehad het. Maar wanneer hy wel in die werklikheid hieraan probeer uiting gee, soos tydens die verfilming van The birds in sy obsessie met Tippie Hedren, lei dit nie alleen tot spanning in die werklikheid nie, maar is dit asof die erotiese drif in die film verdwyn. 


Sienna Miller as Tippi Hedren in The Girl, waarin Alfred Hitchcock 
uitgebeeld word as 'n seksuele  roofdier. Foto: BB/David Bloomer

XIII.

Janet Malcolm argumenteer in “The patient is always right” (“In the purloined clinic”) oor die komplekse verhouding tusen pasiënt en terapeut en veral transferensie kom hier te berde. Dit wat nie onthou kan word nie of verdring is, word uitgespeel deur die Onbewuste. Sy verwys dan na Stuart Schneiderman se belangwekkende studie oor Lacan: The death of an intellectual hero.

Schneiderman, ‘n Amerikaanse letterkundige, het na Parys gegaan om Lacaniaanse terapie te ondergaan ten einde dit beter te kon begryp.

Hy vertel van sy eie ervaring van die sewe minute-terapie-sessie, met ander woorde, ‘n lang terapie-sessie wat onverwags onderbreek word sodat die analis toegang kan verkry tot die verdringde materiaal. In hierdie studie skryf hy vanuit die perspektief  van ‘n teoretikus wat analisand was; hy kompliseer dus voortdurend die rolle tussen analis en analisand en lewer teoretiese kommentaar op hierdie verhouding, een wat in Lacaniaanse terme onstabiel is. Dieselfde geld die rol van die leser wat binne ‘n psigoanalitiese model eweneens voortdurend verander. Wat die leser (oor)interpreteer of beskou as tersaaklik in ‘n teks, reflekteer eweneens ‘n spanning tussen die verbeelde, simboliese en reële vlakke.

XIV.

Die “objet petit a” representeer vir Lacan die ónvervulde of ónbereikbare begeerte. Hy stel dit voor as ‘n algebraïese teken juis omdat dit (on)vertaalbaar en (on)voorstelbaar is. Hierdie term is in 1957 gemunt deur Lacan in sy bekende seminaar Les formations de l’inconscient en verder verfyn in The four fundamental concepts of psychoanalysis. Vir Žižek is Hitchcock se MacGuffin-tegniek die objet a. Dit is die niksheid / leegheid wat die film voortdryf. Die oplossing van die raaisel, wat aan die basis lê van sowel “Blom van die baaierd” as ‘n Hitchcock-film, laat die leser interpreteer. Die leser word dus deel van die soektog of “paper chase”.

XV.

As die Onbewuste in Lacan se terme soos ‘n taal funksioneer, dui die breuke of lexias, in Barthes [5] se terme reeds hierop. Reeds die breuke, die onderafdelings, die disparate samevoeging van die oënskynlik teenstrydige genres en werkswyses in hierdie artikel, wil die Onbewuste oopvlek in ‘n parallaksteks. In sy teks My teaching beklemtoon Lacan hierdie aspek in sy beskrywing van ‘n parallellisme.

Die Onmoontlike is in hierdie teks probeer besê. [6] Ten slotte word die ars poëtiese dimensie van hierdie gedig ook belangrik: die digter Opperman praat deur die karakters in hierdie gedig: 

Maar boos bly boos in Brakfontein of Neo-Baäl,
en goed is goed by Golgota of Brussel;
en deur die eeue is dit reeds bepaal:
eie plek en spelers sal voortdurend wissel
maar die spel word telkens in die tyd herhaal.

In hierdie komplekse gedig word die struktuur van die speurverhaal en die kruisigingstoneel om ‘n verhaal van Koen en Broeder Ben te vertel. Die halfvergete vers “Liid van die Diamant”, wat Broeder Ben lees, aktiveer die spanning tussen goed en kwaad soos verbeeld in “Ballade van die grysland” (uit Negester oor Ninevé, 1947) wat weer inspeel op Totius se Trekkerswee


Endnote:

1. Vir ‘n uitgebreide interpretasie van Lacan se sentrale konsepte verwys hierdie skrywer die leser na my tweede doktorale proefskrif, Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde:’n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk (UK, 2000) en Ellie Ragland se Essays on the pleasures of death. From Freud to Lacan. Routledge, New York. 1995. In my bespreking van Dirk Jordaan se roman Die Jakkalssomer op Litnet, word sentrale begrippe ook verduidelik.

Lacan se doktorale proefskrif Paranoid psychosis and its relations to the personality (1932) bespreek die vorming van die objek en deur die proses van paranoïa te ondersoek (telepatiese kommunikasie en vervolging), kan die stappe waardeur die ego gaan, duidelik gesien word. 

2. Hieroor word geskryf in die biografie oor sy lewe: HitchDie leser word verwys na ‘n rubriek oor films, Flikkertyd in Die BurgerBY 22 Desember 2007:

Alfred Hitchcock  

As Ingmar Bergman die taal van die filmkuns volledig begryp het met beelde wat psigiese toestande van karakters “vertaal”, dan het Alfred Hitchcock by uitnemendheid geweet hoe om ‘n verhaal te vertel gelaai met suspensie. Angs en onsekerheid. 

‘n Onregverdige moordklag. ‘n Persoon wat toevallig vanuit ‘n agterste vertrek sien hoe ‘n moord gebeur. ‘n Moord in ‘n stort, terwyl die kyker magteloos toekyk hoe die vrou vermoor word. (Met die wete dat sy ‘n voortvlugtende is wat geld gesteel het.)

Voyeurisme en ekshibisionisme in ‘n absolute kontrak gesluit. Hitchcock, so is dit algemeen bekend, is as jong kind vir ‘n klein oortreding na die plaaslike polisiekantoor gestuur met ‘n briefie van sy vader. Hy is vir slegs tien minute opgesluit, maar regdeur sy oeuvre loop die bloudruk van hierdie insident: onnoembare angs vir ‘n klein ruimte.

Straf en boetedoening.

Hy is verder bekend vir sy kortstondige binnetrede in films. Soms ‘toevallig’: selfs ‘n gestremde wat op ‘n rolstoel sit en skielik opstaan en wegstap by ‘n trein… Dis ‘n lekker speletjie: wanneer sien ons vir Hitchcock?

Hy het ‘n ryk geskakeerde oeuvre met vele hoogtepunte.

Om net sy films te vermeld, sal ‘n hele rubriek in beslag neem. Ons volstaan dus by ‘n paar hoogtepunte soos The 39 Steps (1935), The lady vanishes (1938), Rebecca (1940), Spellbound (1945), Notorious (1946), Dial ‘M’ for murder (1954), Rear window (1954), The man who knew too much (1956), Vertigo (1958), North to Northwest (1959), Psycho (1960) en The birds (1963).

Sy invloed op alle misdaad-, speurverhale en thrillers kan aangestip word. ‘n Filmmaker soos Roman Polanski se Chinatown leun swaar op Hitchcock-tegnieke.

Wat maak Alfred Hitchcock, daardie groot balie van ‘n man, so ‘n verstommende filmmaker? Jare gelede het Camille Paglia in die New York Times geskryf dat daar ‘n soort liefdesverhouding tussen hom en sy aktrises via die kamera gebeur. Hierom die liefdevolle wyse waarop  hy Grace Kelly verfilm en toe hy, volgens Paglia, in sy latere jare buite die film óm met aktrises – dit was Debora Kerr en Tippie Hedren – begin flirteer het, was die erotiese spanning afwesig in die film. (Hierdie essay het ek gelees op ‘n trein in New York, en helaas, die bron kan ek nie meer opspoor nie!) Spellbound heet die titel van een van sy films tereg: hy hou die kyker se aandag en selfs by herkyke verloor hy nooit jou aandag nie.

In filmkursusse is psigoanalitiese interpretasies van sy films aan die orde van die dag. Die oog wat kyk na jou en jy die kyker, wat terugkyk (Psycho); die klein besonderheid wat ‘n sleutel word vir die groter geheel; die ontginning van die patologie van die alledaagse lewe…

Norman Bates in Psycho is deur Hollywood in reekse tot lewe geroep en in die herskeppings kan ‘n mens juis sien wat Hitchcock só goed maak: hy flap nie uit nie. Hy laai alles met suggestie en innuendo en laat die kyker sélf tot ‘n slotsom kom.

Die montage-tegniek in die storttoneel in Psycho is al deur vele filmkenners geanaliseer en uitmekaar geskroef. Die gil, die kap-beweging en die uiteindelike stilte. En soos met alle groot films gesteld, is dit al geparodieer deur Mel Brooks in High Anxiety (1978) en Brian de Palma het dit probeer kopieer, onder andere in Dressed to kill (1980). Trouens, Hitchcock is waarskynlik die mees geparodieerde filmmaker!

Nou onlangs kyk ek weer na twee bekende Hitchcock-films: The lady vanishes en The man who knew too much. 1938 en 1956 onderskeidelik.

Hoewel die tyd beide films ingehaal het, is die volgende aspekte wel belangrik vir die kyker: die ongelooflike vermoë om die aandag te hou al is die gegewe vir die moderne kyker ‘n bietjie dik vir ‘n riksdaalder of gewoon nou met moderne tegnologie, belaglik.

In The man who knew too much, gebruik Hitch ‘n tandartstoneel om die kyker se angsvlakke te lig. Die kyker sien hoe die tandarts naderkom met ‘n tang en die lig skep paniek en angs vir sowel karakter as kyker. Wat Hitchcock hier regkry, is om te wys dat mense nie maklik sterf nie.

Camille Paglia het ‘n uitgebreide studie oor The Birds gepubliseer in 1998.



Bronne:

Vir sy lewensloop is die Wikipedia geraadpleeg. Daar is vele inskrywings oor hom en sy werk op die internet.

John Russell Taylor: Hitch. Abacus, Londen.1978.

William Wolf & Lillian Kramer Wolf: Landmark Films – The cinema of our century. Paddinon Press Ltd, New York. 1979.

3. Die objet petit a ('n konsep wat volgens Lacan onvertaalbaar is) kan as volg geïnterpreteer word: die A verwys na die Autre (Ander); die petit a (klein a) differensieer die objek van die groot A. Dit is vir hom 'n algebraïese teken om die onvertaalbaarheid van hierdie begrippe voor te stel.

4. Freud het Jung verwyt vir sy verhouding met Sabina Spielrein en dit gesien as die mees basiese oortreding van die Eerste Reël van psigoanalise, omdat die projeksies van die pasiënt nie opgelos kan word nie. Jung het dus haar simboliese Vader geword en so veroorsaak dat sy nie tot genesing kon kom nie. In hierdie opsig is dit relevant om weer na The Freud archives van Malcolm te gaan. 

5. In S/Z word die teks in lexias opgebreek om nuwe betekenisse te onthul. Roland Barthes se lesing van Balzac se Sarrasine lees die teks teen sy bedoeling. Hierdie teks is eweneens gestruktureer rondom ‘n somber onthulling en vrees vir die bekendmaking van die waarheid. 

6. Tydens die skryf van hierdie artikel sien ek op TV ‘n vinjet. ‘n Vrou staan op ‘n leer tusen twee boekrakke. Sy probeer haarself balanseer. Helaas, val die leer met haar en daar is tuimelende boekrakke… Die film is klaarblyklik The mummy.

Teenoor die siening van die onbewuste as ‘n kelder vir Freud, herdefinieer Lacan dit as die begeerte tot die Ander. Die Onbewuste is soos ‘n taal gestruktureer. Hierteenoor is die onbewuste vir Derrida soos ‘n argief, sonder ‘n sisteem of verwysingspunt. Lacan gebruik die konsep topografie om die Onbewuste voor te stel in die bekende algoritme  S/s.

Die effek van signifikasie is vir Lacan poëties (Écrits, 1977, 165).

Ook sy bekende uitspraak is tersaaklik naamlik om te weet dat ek (je / moi) dieselfde is as dit waaroor ek praat / skryf… 

“Blom van die baaierd” tree ook in  gesprek met ‘n ander teks van paranoïa in Opperman, te wete “Ballade van die grysland”. Ook in hierdie gedig word die vrees van die moderne mens ondersoek. Die “kringe van die stad” aktiveer ‘n Danteske hel. Die vrees en die vlug is die draai-asse van die gedig waarin Opperman se besondere metaforiek gestalte kry. Soos die neonligte wat blom…


Totius

Ballade van die grysland
D. J. Opperman

   Die vroegre boere-paradijs
   is nou één molshoop, groot en grijs.

   Totius, "Trekkerswee"

I
Uit tonnels van die nag tuur
ek oor rook en mis as ysterspore
my in kringe van die stad instuur.
Teen dakke en skoorstene blink
die son, soos in ’n leeggeloopte dam
op bottelskerwe en geroeste sink.
Eers in slote langs die straat,
met blou koffiekan en pik
het ek verbygangers beny, gehaat.
Toe het ons tot ’n staaldriehoek
die leë olievate opgestapel –
bye aan ’n nat bruin heuningkoek.
En haar hande, soos oor ’n klavier,
gryp en vou en gryp en vou
stukke sjokola in blinkpapier.
Draaisae gil en in my ore
klink die geklets van beitels,
die geneul van swart motore.
Uiteindelik valse syfers neergekrap,
kon ek uit vet van viskafees
na ’n paradys ontsnap.

II
Na tuine van die nag, waar neonligte blom,
het ek met haar gevlug; maar by my was
die vrees – die rekenmeester kom.
Bo na sterre, soos die grootwiel,
van sterre na die aarde,
duisel elke vrou my siel.
Bioskoop en dans, draak en die fisant
dra ons op die mallemeul
nagliks na ’n Feëland.
’n Pennieslotmasjien se kake
spoeg ’n kaartjie na my uit:
“Wees veral versigtig met geldsake.”
O die vrees! as die rekenmeester kom
hoe sal ek kan verantwoord
en verslag gee van sy eiendom?
Die dag breek grou: ‘op tafelblad’
links in my smalle kamer
‘staan leë bottels in hul nat’.
O week na week gebonde
’n haas aan die ovale kring
en agter my ses honde.

III
Die hospitaal is wit-gevlak en koel
as die glaspypie water uit my tap …
tot ek die vrees weer voel.
Smiddags groei ’n oog uit elke kwas
en in die nanag gryp ’n vlermuis
my dae soos ’n tros lukwarte vas.
’n Knop het in my keel gekom
die oggend toe die peerboom
in die steenkoolerf wit blom.
O as die rekenmeester kom!
wat sal ek van sy wêreld
nog kan wys aan hom?
Deur tralies wat die tuin omsluit
kyk ek en my verwarde broers
verlangend na die stad nog uit:
hoe deur die reën en laaste lig,
krukkig soos nat voëls
loop elke jas met sy gesig.
Blinkpapier, mallemeul en wiel,
’n laphaas en ses honde
óm en óm … die dun spil van die siel.
as die stedeligte in jou siel bly skitter.

Films:

Alfred Hitchcock:

Rear window. 1954. James Stewart. Grace Kelly. Wendell Corey. Thelma Ritter.
Saboteur. 1942. Robert Cummings. Priscilla Lane. Otto Kruger, e.a.
The birds. 1963. Rod Taylor. Jessica Tandy. Tippi Hedren.  
The man who knew too much. 1956. Doris Day. James Stewart.

Stephen Sommers:

The mummy. 1999. Brendan Fraser. Rachel Weisz. Arnold Vosloo. 


Gedigte:

D.J. Opperman se Groot verseboeke is geraadpleeg. En A.P.Brink se Groot verseboek wat in by Tafelberg Uitgewers in 2000 verskyn het.


Bronne:

Barthes, Roland. 1970/1974. S/Z. An Essay. Vertaal deur Richard Miller. Hill and Wang, New York.

Hambidge, Joan. 2000. "Gender-konstruksies in die Afrikaanse letterkunde:                          
'n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk". UK, PhD.

Kermode, Frank. 1989. An appetite for poetry. Essays in Literary Interpretation. Fontana Press, Londen.

Lacan, Jacques. 1966/1977. Écrits - a selection. Vertaal deur Alan Sheridan. Tavistock, Londen. 
Lacan, Jacques. 2008. My teaching. Vertaal deur David Macey. Verso, New York.
Lacan, Jacques. 1932. Paranoid psychosis and its relations to the personality. (De la psychose paranoïaque dans ses rapports avec la personalité). Doktorale proefskrif, Sorbonne. Parys, Le Francois. 
Lacan, Jacques. 1973/1977. The four fundamental concepts of psycho-analysis. Vertaal deur Alan Sheridan. Penguin, Londen. 

Malcolm, Janet. 1983 / 1997. The Freud archives. PaperMac, Londen. 
Malcolm, Janet. 1992. The purloined clinic. PaperMac, Londen.

Meyers, Tony. 2003. Slavoj. Žižek. Routledge, Londen. 

Opperman, D.J. 1987. Versamelde poësie. Tafelberg/ Human & Rousseau, Kaapstad.

Paglia, Camille. 1993. Sex, art and American culture. Viking, New York.
                 
Ragland, Ellie. 1995. From Freud to Lacan. Routledge, New York.

Schneiderman, Stuart. 1983. The death of an intellectual hero. Harvard University Press, Cambridge, Mass.

Taylor, John Russell. 1978. Hitch. Abacus, Londen.

Totius (J.D. du Toit). 1977. Versamelde werke, dele 10 en 11. Tafelberg, Kaapstad.
 Žižek, Slavoj. 2006. The pervert’s guide to the cinema. DVD.


Internet:

Hambidge, Joan:  "Die onopgeloste raaisel met spesifieke verwysing na Die Jakkalssomer van Dirk Jordaan". Litnet-Akademies.

Lacan, Jacques: Seminar on The Purloined Letter. Afgetrek op 10 Maart 2009.


Artikels:

Paglia, Camille: “An eye for the birds", Sunday Times Lifestyle, 19 Julie  1998.
Paglia, Camille: “Highbrow peep show will grace New York", Sunday Independent, 12 Julie 1998. 


Hoe is U as ek deur 'n ander liggaam kyk?
Ken 'n uintjie U? Hoe sou die rant se boog,
die maan wat opkom, en 'n miershoop lyk
deur oop glasholtes van 'n perd se oog?



    Ek dink waar ek nie is nie, daarom is ek waar ek nie dink nie.
    Jacques Lacan



(c) Joan Hambidge, Professor in Kreatiewe Skryfwerk en Afrikaanse Letterkunde, UK.
Februarie / April 2009, Bygewerk 2012.