Michael Chapman. Southern African Literatures. University of KwaZulu-Natal Press, 2003. ISBN 1 86914 -28 1.
Resensent: Joan Hambidge
Teenoor die ouer
literatuurgeskiedskrywing wat die bepaalde letterkunde se geskiedenis en
polemieke en strominge weergee (soos Dekker en Kannemeyer in Afrikaans) staan
Chapman se nuwe benadering: multi-kultureel. In plaas van ‘n letterkunde eerder
dan Suider-Afrikaanse letterkunde. Alles goed en wel, maar wie is werklik
genoegsaam ingelig om die verskillende SA letterkundes se ontstaan of tradisies
na behore weer te gee?
Michael Chapman is in die
verlede gestriem vir sy praktyk. Van ons voorste Afrikaanse teoretici het
beswaar gemaak teen sy oorsigte. Trouens, sy onlangse versameling van SA-digters is eweneens aanvegbaar
in sy groeperinge, opsommings en uitlatings. Digters wat vertaal of bekend is,
geniet voorrang bo die minder bekendes.
In my bespreking gaan ek dus
net let op dit waarvan ek iets weet, naamlik die Afrikaanse letterkunde. En nou
is dit maar eenmaal so: as jy nie ‘n samesteller kan vertrou op die gebied
bekend aan jou nie, hoe kan jy hom met ander oorsigte laat voortgaan? Is dit
nie miskien raadsaam om verskillende kenners/outeurs aan te stel, in plaas
daarvan om pa te staan vir een groot oorsig vol hiate?
Die volgende
stellings/uitsprake vra om hersiening of is gewoon aanvegbaar:
* die
skamele bio oor Karel Schoeman
* ditto,
die skamele informasie oor Leroux;
* ditto,
die verkeerde informasie oor Eybers. Daar is ook etlike van haar gedigte
deur die digter self vertaal;
deur die digter self vertaal;
* Lady Anne is tog nie oorspronklik in
Kaapstad uitgegee nie?;
* N.P.
van Wyk Louw se Opstelle oor ons ouer
digters word ouer ‘over’;
* die
hele geslag ‘grensskrywers’ is ook nie hier te vinde nie.
Begin ‘n mens die studie met ‘n
spreekwoordelike luiskammetjie benader, is daar nog meer groteske en
in-die-oog-springende vergrype. Ons lees
byvoorbeeld dat Brink se ‘struggle’-tekste “are too easily swallowed into the
text of an erotic escapade”(p. 405). Dit is nie waar van al die tekste van
Brink in hierdie periode nie. Oor Schoeman word daar ook onbevredigend
geargumenteer: van wanneer af is ‘n skrywer se biografiese of ander werk sommer
‘n sleutel tot sy romankuns? J.M. Coetzee se persoonlike lewe en ‘n verlies
verduidelik sy ‘powerful meditation’ oor oudword en dood! Dit is werklik ‘n
uiters simplistiese gelykstelling.
Hierdie studie word ‘n oefening
in onbehaaglikheid. Die leser besef gaandeweg dat die samesteller te veel
inligting wou uitstal sonder dat dit in diepte ondersoek is of werklik goed
deurdink word. So gesien, word die hele boek ‘n ‘liquorice all sorts’.
“If the challenge is artistic,
it is also of course societal” (p. 407) is die soort van veralgemenings wat op
die leser losgelaat word. Dit is waarskynlik
een van die probleme wat onstaan wanneer ‘n skrywer alles binne ‘n keurslyf van
vooropgestelde idees of veralgemenings wil laat inpas.
So word daar sommer gespring
van Jeremy Cronin na Krog na Jeanne Goosen in een swiepslag wat enige subtiele verskil
negeer. ‘n Mens kan net die kop skud oor sy arrogante uitspraak dat Lady Anne geen ‘anxiety of influence’
verraai en geen verwysing na die Dertigers, die modernisme, openbaar nie (p.
416) Òf hy verstaan Harold Bloom sleg (wat onder meer meen dat die verhulling
of wegskryf van die interteks ook tersaaklik is) òf hy maak ‘n grap. En dis
hierdie slordige soort teoretisering wat my die keel uithang: dis clap trap
Marxisme, vrot dekonstruksie en halfgebakte paradigma-teorie waarteen ‘n mens
moet vaslees.
My rooi pen het geloei asof dit
‘n werkstuk is van ‘n student wat niks regtig begryp nie en versoek sal word om
die hele essay oor te skryf. Hoe dan
anders as ‘n mens feminisme (in plaas van feminismes) onder een noemer plaas
met kinderliteratuur, en die sogenaamde ‘indigenised intellectual” (p. 417).
Hoe kan ek hierdie outeur
vertrou met Xhosa of Afrika-letterkunde is die foute oor my letterkunde so
potsierlik en blatant is? My kollega, kenner in Afrika-letterkunde, was
eweneens gesteurd oor die foute, mistastinge en veralgemenings.
Michael Chapman is haas besig
om sy reputasie as letterkundige ernstig aan te tas met hierdie ambisieuse,
ondeurdagte oorsigte wat vir die leser van ‘n bepaalde letterkunde uiters
problematies en kontensieus is. Die mini-kongres indertyd by Unisa waar bekende
akademici Chapman gekritiseer het, het kennelik nie vrugte afgewerp nie. As hy
navorsers aangestel het, moet hy hulle subiet in die pad steek.
As Komparatisme is die nuwe
modeverskynsel is, dan moet dit met groter kundigheid benader word. Southern African Literatures ‘n bydrae
of skande? Besluit self. Om die leser ook van die kwaadwillige persoonlike
aanvalle in te lig en dat die vorige uitgawe die gesogte Bill Venter-toekenning
verower het, kon my nie oortuig nie. ‘n Langer bespreking van hierdie studie
sal elders verskyn.
Wanneer ‘n resensie ‘n
fundamentele herskrywing word, is daar werklik ernstige fout te vind met ‘n
boek.
[Hierdie resensie word met vriendelike
vergunning van Die Burger geplaas.]