Showing posts with label Tafelberg. Show all posts
Showing posts with label Tafelberg. Show all posts

Friday, September 1, 2023

Resensie | Annemarié van Niekerk – Onder ’n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika: ’n Memoir | Tafelberg, 2023 * P.P. Fourie – Ons skulde. Queillerie, 2023

Annemarié van Niekerk – Onder ’n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika: ’n Memoir. Tafelberg, 2023. ISBN: 9780624093596 * P.P. Fourie – Ons skulde. Queillerie, 2023. ISBN: 9780795710834 

Resensent: Joan Hambidge

 

I

In Styles of Radical Will (1969) verwys wyle Susan Sontag, die Amerikaanse kultuurkritikus, na die sogenaamde “pornographic imagination”. By die herlees van Sontag se bekende teks Regarding the Pain of Others (2003) lees ek Annemarié van Niekerk se memoir Onder ‘n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika. Terselfdertyd ervaar ek ook die roman van P.P. Fourie wat heet Onse skulde.

 

Die term “pornografie van geweld” is presies dit wat ons daagliks in hierdie land beleef. 

 

II

By Van Niekerk is dit ‘n memoir oor geweld: ‘n teks aangebied as “werklikheid”; met duidelik gefiksionaliseerde passasies en naamsveranderinge. By Fourie ‘n roman, gebed in die werklikheid wanneer ‘n mens onderhoude met die skrywer lees oor sy jeug.

 

Die grense tussen fiksie en werklikheid vervaag dikwels in die moderne, postmoderne en nou: metamoderne era. Vertellers gebruik en verdraai die waarheid (“die sogenaamde waarheid gelieg”) of bied ‘n teks aan as die werklikheid. Van Niekerk erken dat haar teks gebaseer is op historiese, biografiese én outobiografiese gegewens: gefilter deur die geheue en verbeelding. Ons moet dit lees as faksie. Geprekke is óf fiktief óf gebaseer herinneringe óf ontleen aan bestaande bronne, bely sy. Sekere aspekte van haar lewe is weggelaat. Uiteraard omdat dit ‘n “verhaal” word.

 

Beide Van Niekerk en Fourie se tekste is belangrike kommentare en kritieke op ons samelewing. Van Niekerk, gebore in Suid-Afrika en woonagtig in Nederland, gee vir ons die blik van buite. Die paradokse van liefde en geweld. Kinders wat deur ouers aangerand is met lyfstraf in die naam van liefde. Fourie kyk na die impak van alkoholisme en seksuele geheime op families. En die romantisering van kindwees wat die buitestaander-kind as ‘n leuen ervaar. Die blik van binne.

 

Van Niekerk keer terug na haar land van herkoms en die verwerking van die moord op Ruben en sy ma. Ons ken almal iemand in hierdie land wat vermoor is, of iemand wat iemand ken wat vermoor is.

 

Van Niekerk is op ‘n speurtog om die “bloedrooi hemel” te probeer begryp. Fourie – soos Agatha Christie en die Skandinawiese noir-speurverhaalskrywers – gee vir jou leidrade om moord op te los.

 

Jy word ‘n Hercule Poirot wat agter die moord na motiewe soek. Dikwels ‘n afgetekende of mishandelde kind wat diep trauma beleef het. Vals leidrade en afdraaipaadjies laat jou dieper soek.

 

Veral die filmreeks met David Suchet as Poirot word ‘n boeiende analise van emosionele vraagstukke met Captain Hastings (Hugh Fraser) en Scotland Yard Chief Inspector James Japp (Philip Jackson).

 

Met Poirot wat gebruiklik iets wat onder die oppervlak broei, snap. By Fourie is daar ‘n onthulling van ‘n buite-egtelike verhouding wat lei tot Simon se dood lei. Emma reis na Clarens om haar man se as te gaan strooi en ontmoet vir Vera. Hier word die leser aan veelvuldige leuens en verdoeselinge blootgestel.

 

By Van Niekerk is daar reise. ‘n Werklike reis uit Nederland en dan verskillende emosionele reise terug ín die tyd wat jou meestal aan die hart gryp. Die outopsie-verslae word skrynend-eerlik beskryf, nes die hofverrigtinge. Dié moord wat plaasvind in 2015 (op ‘n plaas in die Oos-Kaap) neem haar terug na haar werk aan die Universiteit van Transkei in die 1980’s. Die struggle-jare.

 

En haar politieke ontwaking en haar stryd met haar vader word beskryf. En haar latere verhouding met ‘n swart intellektueel en ‘n lewe in Hillbrow wat meedoënloos beskryf word, gryp aan die hart (en keel).

 

Die memoir wissel tussen hewige emosionaliteit en totale afstand en kilheid. Dit is geskryf in uitstekende prosa wat soms poëties word. Dat dit bekroon is met die gesogte Henriette Roland-Holst prys verklap alles. Ook die loftuitinge van kritici en skrywers onderstreep hoe belangwekkend hierdie teks is. Geskryf in Nederlands en vertaal deur Daniel Hugo.

 

III

Fourie bekyk geweld uit ‘n ander invalshoek. Van Niekerk se Vrouevertellers 1843 – 1993 (1994) was ‘n belangrike feministiese antologie soos latere versamelings ook. Fourie lewer kommentaar op die patriargie en toksiese manlikheid. Vaders wat seuns versmoor én psigies vermoor.

 

Dit is twee tekste wat mekaar komplementeer en aanvul. 

 

“Terug op Efata hang depressie soos ‘n winterjas om my skouers”, skryf Van Niekerk op bladsy 260.

“Dalk is ons almal se lewens maar net die verhaal van hoe ons vrese verwerf”, skryf Fourie via ‘n karakter op bladsy 52.

 

Vrees en boetedoening beskryf met verwysings (o.a.) na Nathaniel Hawthorne se The Scarlet Letter.

 

Beide tekste, onafhanklik van mekaar, kyk na die lot van die vrou wat teen die patriargie opstaan. Twee boeke wat snydend kyk na kollektiewe skuld. En kollektiewe skisofrenie aanspreek, soos Van Niekerk dit klinkend beskryf (249).

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Sunday, August 27, 2023

Resensie | Pieter Odendaal – ontaard | Tafelberg, 2023

Pieter Odendaal – ontaard. Tafelberg, 2023. ISBN 9780624093930  

Resensent: Joan Hambidge

 

I  Die wêreld is wyd en vol verlange

 

In Pieter Odendaal se bundel ontaard, wat sopas by Tafelberg verskyn het, word vrae gevra oor herkomstuiswees en heengaan, soos die omslag verduidelik. Ook: waar kom ons vandaan? 

 

Die titel is veelkantig: ontaard beteken ook dekadent; pervers. In die sinoniemwoordeboek staan daar: agteruitgaan, versleg, verbaster …

 

Dis ‘n ekologiese bundel wat die mens se verhouding met die natuur beskou en verskillende ruimtes word besoek: Peru, die Vrystaat, Makhanda, en Australië, onder andere. Die komplekse verhouding met grond word onder die loep geneem van ‘n jong kind wat tuin maak tot die hele kwessie van grondbesit en -onteiening.

 

Dis eweneens ‘n spirituele reis (terug in die tyd en in drome) waarin die verhouding met die vader (‘n boereman en ’n jagter) geanaliseer word. Die jong kind, ‘n gay-seun, probeer sy eie identiteit teenoor die vader s’n plaas. Dus manlikheid in al sy geledinge. Geliefdes is hier en herinneringe aan ‘n jeug waar die kind se kweer-gedrag bespot is, word ook beskou. Hier is werklik ontroerende verse oor hoe jong seuns wat “anders” is geboelie word soos in “scenes from a gay childhood” (16).

 

Daar word egter deur gedigte na ‘n ander orde beweeg. ‘n Vers oor reiniging beskryf dit uitstekend (62). Een van ‘n bewussyn dat ‘n mens jou eie identiteit kan vind en veral in die gedigte oor die Suid-Amerikaanse landskap gebeur dit.

 

Daar is verlatings en vrese. Pyn en ontnugtering. Maar verheldering in gedigte wat boei met ongelooflike versreëls:

 

kom waai my woede weg, dra my stem ver (66)

anderkant / die sandberg tease die see haar platinum hare (60)  

korreltjies fake sand steek spelde in die wind (60)

as die son ons insluk

en wolke van ons maak (50)

vroemôre lê stompies soos

abandoned soene op die dek (49)

die aand / is ‘n wond vol vreesbevange sterre (23)

soos uitroeptekens van vergeet (11)

 

Daar is odes en lykdigte. Refreine en vrye verse. Melancholiese verse en gedigte wat getuig van vormbeheer veral in die soektog na primordialiteit. Die lykdig “ons wat agterbly” (17) is pynlik-ontroerend.

 

Die bemoeienis met die digkuns as kuns loop reg deur die verse. Gesprekke met Elizabeth Bishop of die maan wat soos ‘n koel, ronde gedig oor die slagveld skyn (47). Die ode aan lug – waar die woede weggewaai word – is eweneens treffend (66).

 

II

Hier is ‘n gedig wat die hele kwessie van die onomatopee of klanknabootsing analiseer. 

 

freelance muse

 

ek maak die app oop na doomscrolling

oor nuwe variante en hotspots

profielfoto: golwende landskap stinkhoutbome

                      die see doer uitgeblou

 

             wordsmith wanted

             worth his weight in wood

             self-aware, flame in the mirror

             hoe meer tale hoe meer vreugde

 

             meta4s 4 days

             no stanzas attached

             paarrym, kruisrym, vrye vers

             into onomatopoeia

 

ek message ‘n kwatryn vol klank en beelde

groen middae, sypaadjies, stof en sweet

slaapkamervensters knetter in die wind

lywe commune tussen lakens in die goue uur

 

ek stort en was die droewe dag weg

wag vir my muse om sy location te stuur

 

Inderdaad: hoe meer tale hoe meer vreugde. Oftewel: hoe meer klanke hoe meer vreugde.

Die kwatryn is vol “klank en beelde” en die leser beleef die boodskap dus hier in die metavers.

 

III

Asof geen berge ooit  hier gewoon het nie (2018) was die digter se bekroonde debuut waarop hy voortbou. Hy is indertyd vereer met die Ingrid Jonker-prys.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio)

Tuesday, February 8, 2022

Resensie | Ruan Kemp – Wit leuen | Tafelberg, 2022

Ruan Kemp – Wit leuen. Tafelberg, 2022. ISBN: 9780624092322

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Ruan Kemp se tweede roman heet Wit leuen. Bemark soos volg:

Richter het 'n verlede, maar dis die hede wat hy ontglip. In die krake van dinge beweeg hy, systap hy die gesagte en die laspostenare, al die bakhand tentakels van die unitêre staat, Uiopa. Toe hy mis trap, moet hy vlug. Saam met Margaret reis hy deur 'n nagmerrielandskap 'n bisarre avontuur in

Die roman is, soos die modewoord lui, ‘n distópiese roman waarin ‘n mens nooit seker is wat die karakters werklik beleef en wat fantasie, droom, hallusinasie of skryfwerk is nie. Dit is onder andere uiters belangrik dat hierdie roman op dieselfde tyd verskyn as die pakkende roman van Jaco Alant  wat heet Is mos oos (Protea). Beide romans gee ‘n blik op ‘n versplinterde werklikheid. By Alant word daar na moderne filosowe soos Deleuze & Guattari verwys.
 

Kemp se Wit leuen ondersoek op ‘n onthutsende manier die hele kwessie van die leuen in ‘n samelewing wat by Kripke en Tarski die leuen-paradoks heet. Kort en klaar besluit die verteller op bladsy 26: “Die leuen versteek nie die waarheid nie – dit is die waarheid wat die feit verskuil dat daar nie een is nie. Die leuen is waar.” 

 

Verder terug in die Afrikaanse letterkunde is daar die skitter-werk van R.R. Ryger en onder andere Beertjies en sy boytjies(1991). Pretoria-Wes. Geweld. Opstand teen die (skool)sisteem. Humor wat wrang en uitsigloos raak. Dit handel oor Beertjie Booyse wat sy drie seuns grootmaak na sy vrou se dood. Andreas het uit die weermag gedros, Ketter wil biltong steel en Sugar, die bokser, is verlief op die skool se slet. Dit speel af in die noodtoestand van 1986. Die roman is destyds bemark as “rioolkultuur”.

 

Ryger se roman het ek destyds vir ‘n kollega oor die foon voorgelees: lam van die lag – tot die einde jou tref …

 

Kemp se roman werk met klassieke tekste. Van Rilke tot Camus. Van die Bybel tot visvang. Ons lees in ‘n hoofstuk “Tob sewe vanaf vers nege” en daar is bloed aan die kosyne, omdat dit eers ‘n slaghuis was. Simson wat gestoot of getrek het. Die verhaal van die Verlore Seun is ook ingebed.

 

En ‘n toespeling: What a friend we have in leashes.

 

Albert Camus is hier soos Robert Pirsig se Zen and the Art of Motorcycle Maintenance (1974) is ‘n belangrike skaduteks. “Zen and the art of caring for your Cortina”, lees ons op bladsy 55.

 

Douglas Adams se The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy (1979) wat die moderne samelewing satiriseer, sal jy uitdiep soos die duiker in die roman. Nes Tarantino se 2003 film: Kill Bill. 

 

Gholf word gesien as ‘n vorm van meditasie en terapie. Suip en rook is ontspanning.

 

‘n Karakter meen: “Wat ek van heteroskedasitieit en kurtosis weet, kan jy by ’n hond leer blaf . . . Wat? Foucault jou Marcuse in jou Soros in op!” (168) ‘n Satiriese antwoord op heteronormatiwiteit en al die gonswoorde van ons tyd word op die kop gedraai.

 

Hierdie roman is nie vir weekhartiges nie. Die abjekte en geweld is hier. ‘n Wonder oor ‘n vrou se private dele na aanleiding van ‘n vishoek in haar lip, word banaal beskryf. Plat woorde soos Gezarra, boekkakdronk raak, vind ons hier: “’n Huis sonder ’n stoep is soos ’n pis sonder ’n poep” (36).

 

‘n Versameling van oorwas. Opera word toeparra. Eisj.

 

Distopia impliseer altyd dat ‘n mens die utopia of paradys verlaat het.

 

“Jy kan ’n boom aan sy vrugte ken, Irene. As jy tussen die lyne lees, merk jy die lyne is op. Niks meer oor om die leuens te keer nie.” (274)

 

Ons is hier in Uiopa, die nuwe unitêre staat, met Tempelbult as hoofstad.

 

Daar is tonele in hierdie roman wat hierdie leser nooit sal vergeet nie. Paddaman Neal wat ‘n handpik bewaar in sy vertoonkas. Daardie handpik wat nog vas is aan ‘n man se hand, wat gesterf het.

 

“Hy het amper die man ook uitgeduik, toe sien hy die man moes die pik se steel deur ’n gat in ’n rots gedruk het, en toe die pik se lus om sy pols styfgetrek het. Nagmerries gehad dat hy die man sou kon red, want hy was nog vars, niks seelewe op hom nie, al het sy bene soos seebamboes in die stroom gewaai. Homself getroos hy het die man sy wens gegun …” (71)

 

As daar agter distopia utopia skuil, geld dieselfde vir satire en parodie. Hier kan ‘n mens melancholie raaklees. Die suffering joker, soos Malcolm Bradbury hierdie soort karakter tipeer. Babyface se joernaal is iets anders. Die name van die karakters en plekke wys alreeds uit dat jy moet versigtig trap: Burokonome, Panty Fly,  Professor Paskwil, Oom-erik (die stommerik), Anomie …

 

Dis kognitiewe dissonansie soos ‘n karakter iewers opmerk. Vierkantige albasters en ‘n karakter in rolstoel.  Of ‘n Viking-snor.


Comnnonsense, ondermyn die teks se aanbod. Eat your heart out, Jacques Derrida.

Hierdie roman behoort al die skeptici wat indertyd gemeen het sy debuut, Gedeeltelik bewolk (2019), was nie sy eie werk nie, se monde finaal snoer. Hy bou voort op sy eiesoortige styl. 

 


Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die UK waar sy ‘n Fellow is.

 

Tuesday, December 14, 2021

Resensies | Wilna Adriaanse – Vlug | Tafelberg, 2021

Wilna Adriaanse – Vlug. Tafelberg, 2021. ISBN: 9780624092605

Resensent: Joan Hambidge

 

Die speurverhaal het enorm belangrike vroueskrywers opgelewer soos Agatha Christie, P.D. James, Patricia Cornwall, Ruth Rendell, o.a. Ook hier te lande het vroue al hoe dringender begin stem dik maak in hierdie oorspronklike manlike ruimte. Christie het twee bekende speurders geskep: Hercules Poirot en Miss Marple as ‘n antwoord op Edgar Allan Poe dalk? Wanneer jy Christie stip lees, is dit opvallend hoe sy werk met die identiteit van dubbelspel. ‘n Voorgee wat ontmasker word.


Mense wat dikwels wegvlug van ‘n verlede …

 

Wilna Adriaanse het ‘n roman geskryf met die titel Dubbelspel. Tydens die lees van haar jongste roman Vlug kyk ek na die Deense reeks, The Killing met ‘n vrou as speurder. Sarah Lund (vertolk deur Sofie Gråbøl) ondersoek die dood van die jong vrou. Daar is vele red herrings en die kyker word op verskeie dwaalspore gelei. Hierdie uitsteltegniek maak van die reeks iets uitsonderliks en jy word voortdurend ge-dupe. Musiek word eweneens ingespan in hierdie series van  Søren Sveistrup wat in 2007 begin het, om die spanning te verhoog.

 

In Murder by death word die kyker deur ‘n slim regisseur aan die neus rondgelei. Dit gaan hier om al die vals leidrade en dan ten slotte ironiese kommentaar oor inligting wat nooit van die begin af aangebied is nie. Bekende figure tree hier op soos Colombo en Truman Capote is op sy stukke in hierdie Neil Simon - Robert Moore-produksie (1976).

 

Speurverhale in boekvorm het nie musiek wat help om sub-teks te skep nie. Dus: die skrywer moet ander tegnieke inspan.

 

Adriaanse skep spanning met Milla Roux, ‘n veearts wat werk by ‘n rehabilitasiesentrum vir sjimpansees in die DRK. Sy vlug letterlik van haar verlede waar haar man en kind doodgeskiet is in ‘n mislukte motorkaping. Die twee wêrelde (hede teenoor verlede) en die nuwe geweld wat sy ervaar met ‘n oorlog en opstand van rebelle, maak haar psigies weerloos. Die gewonde Milla vlug met dokter Graham Saunders en drie sjimpansee-wesies.

 

Inderdaad: diereregte, motorkapings, Kongo (DRC), Dokters sonder Grense, verledes waarvan gevlug moet word, skep hier intrige en intense spanning. Ons beweeg vorentoe, maar terselfdertyd, as lesende speurders, ook agtertoe om leidrade op te tel. In hierdie tyd kyk hierdie leser na die Crime & Mystery-kanaal met ‘n program oor ‘n vrou wie se sjimpansee haar beste vriendin takel en bykans doodmaak. Sy doen ‘n ooginfeksie op, word blind en na sjirurgiese konstruksie word sy ‘n aktivis teen die aanneem van sjimpansees. Haar vriendin, die “moeder”, van die dier sterf egter. Dit wys hoe relevant en eietyds Adriaanse se roman is.

 

En een van Adriaanse se spanning-kurwes is dat sy die werklikheid en wetenskap aanwend om die verhaal en plot te dryf. Haar karakterisering is eweneens geloofbaar.

 

Milla is menslik. Sy is geen papiermens nie. Haar emosies is eg en die trauma word oortuigend vertel. Haar teenspeler of antagonis, het eweneens ‘n verlede en ofskoon hy haar “redder” blyk te wees, het hierdie vroulike hoofkarakter agentskap. Sy dikteer byvoorbeeld dat sy meer van hom verlang.

 

Graham Saunders wat behoort aan die organisasie Dokters sonder Grense, is meer as die dokter of dr Marius Hugo in ‘n populêre liefdesverhaal. Adriaanse skep ‘n balans tussen die kodes van die liefdesverhaal en die speurverhaal; sonder dat eersgenoemde steurend inwerk op die leser wat spanning ervaar en hoop hulle sal oorleef.

 

Die roman is besonder helder en konkreet geskryf: ‘n mens beleef die werklikheid en die landskap. Jy kan die impak van sowel die psigiese as fisiese pyn voel. Aftakeling word eerlik weergegee en verflenterde klere werp lig op ‘n psige wat uitmekaar val. Uitstekende besonderhede oor kos en motors en septisemie.

 

Adriaanse se roman beweeg buite die grense van die konvensionele speur- en spanningsverhaal, omdat dit kommentaar lewer op oorlog, diereregte en ons bestaan in Afrika, wat vanuit ‘n vliegtuig na ‘n groen smarag lyk.

 

Die impak van trauma word eweneens goed beskryf, met al die wisselende emosies so bekend aan diegene, wat al die impak van hierdie lyding moes ervaar.

 

Van trauma (en die nagevolge) kan jy helaas nooit weg-vlug nie. Dit bepaal wie jy is. Alice in Wonderland is ‘n ingebedde kode. En ‘n slim toespeling op die sogenaamde AIWS-sindroom (Alice in Wonderland-sindroom), ‘n neurologiese toestand met visuele verwringings, ‘n tyddistorsie en vreemde liggaamservaring, neem die roman na ‘n ander vlak.

 

Met hierdie kennis, weet jy dat Wilna Adriaanse begryp hoe om die letterkundige speurder op nog ‘n roete te neem. Net soos Agatha Christie, die meester, se verhale dit ook by uitstek kon doen. En steeds doen.

 

In “The purloined letter”, waaroor Lacan en Derrida uitgebreid geskryf het, staan die gesteelde brief reg voor jou en hierom kan jy dit nie sien nie. By vroue-speurverhaalskrywers word leidrade meestal weggesteek.

 

Die motto “Diaspora Blues” van Ijeoma Umebinyuo raam hierdie roman goed.

 

 

Diaspora Blues 

Ijeoma Umebinyuo

 

So,

here you are

too foreign for home

too foreign for here.

never enough for both.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Wednesday, September 8, 2021

Resensie | Francois Smith – Die getuienis | Tafelberg, 2021

Francois Smith – Die getuienis. Tafelberg, 2021. ISBN 978-06240-92360

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Van die eerste oomblik wat hierdie leser begin het om Die getuienis van Francois Smith te lees, was sy onder die indruk van die vaart en drif van hierdie roman. 

 

Dit het die tweede plek in die groot romanwedstryd verower.

 

Dit word bemark as ‘n egpaar se verslag van ‘n reis. ‘n Verslag van drome en visioene, van wonderwerke en vloeke, van bloedverwantskappe en sluimerende woede. Aldus die agterplat.

 

Die motto is ‘n aanwysing: Toe sê Hy: Neem jou seun, jou enigste wat jy liefhet, Isak, en gaan na die land Moría en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys.” Génesis 22:2.

 

Rondom geloof en simboliese offergawe – met ‘n uitkoms wat die leser kan voorspel – word twee karakters, Retha en Gerbrand “Valkie” Killian, se binnespraak vir ons weergegee. Hulle geloof en hoe dit alles bepaal is die ondergrond van hierdie pakkende roman.

 

Twee karakters se binnespraak word teenoor mekaar geplaas.

 

Hulle reis na Ventershoop en die teks kan as ‘n peregrinasieverhaal beskou word. Reis beteken immers ‘n verplasing van een ruimte na ‘n volgende een. Hier is dan ‘n terugkeer na die verlede en die ruimte Ventershoop, waar Gerbrand groot geword het, is bepalend. Naboomspruit en Nylstroom is eweneens hier.

 

Twee figure, ‘n man en vrou, se verbintenis word ondersoek. Bedrog van die vrou, maar alles word deur die geloof “reggemaak”. Ons beleef hul bewussynstroom en verskillende interpretasies op ‘n lewensreis. Sy kom uit die Ooste van Pretoria; sy vestig haar saam met die man in Pretoria-Wes, hy werksaam by Makro. Daar is twee seuns. En ‘n vele teenspelers wat hul “happy clappy”-geloof bevestig. Retha se vader was bang dat Gerbrand (“bokka”) ‘n “evil spirit” is. Daar is orals verwysings na die mag van Satan.

 

Haar bedrog en misbruik van sy kredietkaart lei tot ellende. Die balju is voor die deur. 


Op ‘n fassinerende wyse word Bybeltekste vervleg deur hierdie teks (“Nogtans sal ek jubel”, Habakuk 3:18) en ‘n verwysing na Pilatus se vrou se droom wat waarsku oor die verkeerde besluit oor die kruisiging van Jesus.

 

Ruan, die seun sien in ‘n droom ‘n G wat verwys na Gerbrand, gebed en getuienis. Die droom word ‘n vooruitwysing vir die simboliese offergawe. Teenoor die Bybelse verwysings is daar Vicki Leandros se liedjie oor drome (Dreams are good friends - Vicky Leandros - YoutubeBesoek 8 September 2021).

 

Tydens die lees van hierdie teks kyk ek weer na The Exorcist van William Friedkin (1973), daardie film oor demoniese besetting van Regan, die twaalfjaaroue kind. In ‘n analise van die film (‘n ekstra tot die DVD) erken Friedkin die mag van spiritualiteit en dat die Goeie die Bose oorwin in hierdie film.

 

In Katinka Heyns se rolprent Paljas (1997) vertolk Marthinus Basson die rol van die predikant wat die gemeenskap moet beskerm teen die bose. Hoe die kerk teen mense wat anders of buitestaanders is optree word knap weergegee. Met Marius Weyers as die stasiemeester wat beproef word deur sy huislike omstandighede (‘n stom kind en die aankoms van ‘n sirkus). Die paljas en towerkunsies bevry sy kind van stomheid. En die gemeenskap se onvermoë om buite die voorspelbare indoktrinasie te kan dink en optree, word skitterend ontleed.

 

En In Die getuienis word hierdie selfde onkritiese oorname van God se Woord ondersoek. Die dorpie in Paljas is Toorwater; in Die getuienis is dit Ventershoop. 

 

By Friedkin is die demoniese ‘n werklikheid en die priester Lankerster Merrin (Max von Sydow) met sy kennis van die argeologie bevind hom in Hatra (Irak) en sien ‘n beeld wat lyk soos Pazuzu, ‘n demoon. In hierdie ruimte sien hy ‘n beeld wat hom waarsku dat die bose gaan toeslaan. Hy is dan een van die priesters wat die jong kind moet eksorseer in Georgetown, VSA. Met die hulp van Vader Karras (Jason Miller), ‘n priester wat sy geloof verloor het, word die kind van haar demone bevry, ofskoon albei die priesters sterf tydens die proses. Die film analiseer die verskille tussen geloof en sielkunde. Vele besoeke aan dokters en sielkundiges kan helaas nie die kind van demoniese besetting bevry nie. Geloof en rites alleen kry dit reg.

 

In hierdie roman moet die leser self besluit of die Goeie die Bose troef. Dwaal ons dalk vra ‘n karakter, omdat ons nie die Skrifte ken nie en die krag van God misken, aldus Matthéüs 22 vers 29? Aldrie hierdie uiteenlopende tekste ondersoek immers dat jy aan die bestaan van Iets moet glo alvorens dit ‘n impak het? Of nie?

 

Regan se hele lyf skud immers weens die poltergeeste wat haar oorgeneem het. By Smith word skisofrenie beskou as een van die ergste en duidelikste tekens van die bestaan van Satan (95). En daardie Satan, meen die naïewe belyer, kan by ‘n klein gaatjie inkom, al is dit so klein soos ‘n koeëlgaatjie.

 

Die otchitka word steeds in die Rooms-Katolieke kerk beoefen. ‘n Gebed deur die priester wat water sprinkel oor die persoon moet die duiwel(s) verdryf. Trouens, die priester verduidelik dit vir die moeder in The Exorcist.

 

Francois Smith teken hierdie tafereel helder.  Hy is nie satiries oor sy karakters nie. Jy is oortuig van sy karakters se lewensfilosofie: van Junior wat uitgelewer is aan ‘n jesebelgees; van gedagtes wat soos vlermuise vlieg; van God se post-traumatiese stres, omdat sy Seun lank voor hom gesterf het … (155).

 

By Smith handel dit oor Bevrydingsgodsdiens en lekeprediker; In Paljas sien ons die NG Kerk in aksie en in The Exorcisten die Rooms-Katolisisme wat demone kan eksorseer.

 

Elke teks reageer uniek op die Bose met die geloof dat die Goeie in die Onsienbare dimensie sal oorwin. (KYK WEER/ Francois Smith gesels oor sy verslag van drome en visioene | Netwerk24Besoek 6 September 2021).

 

Harold Bloom se boek Angels in America (2005) ondersoek eweneens die impak van hierdie soort geloof. Daar is ook The American Religion: The Emergence of the Post-Christian Nation (1992). 

 

‘n Roman wat baie goed werk met implikasie, subteks en verwysings. Hierdie mense bestaan wel. Hulle eet Doredo pizzas, kry aalmoese van ander en jare terug het so ‘n lekeprediker teenoor my opgemerk dat depressies van die duiwel is. As Harold Bloom die impak van hierdie soort geloof op die gemeenskap analiseer, dan weet ons dat ons moet kennis neem.

Monday, May 10, 2021

Resensie | Bernard Odendaal – Nootvat.Kwashaal.Stapel | Tafelberg, 2021

Bernard Odendaal – Nootvat.Kwashaal.Stapel. Tafelberg, 2021. ISBN 978 0624 092278

 

Resensent: Joan Hambidge

 

Om Nootvat.Kwashaal.Stapel. kort en kragtig op te som: slim én ontroerend. Bernard Odendaal se tweede bundel verskyn 14 jaar ná sy debuut Onbedoelde land.

 

Emosionaliteit word in ons samelewing veral gekoppel aan vrou(like) en vrouedigters. Die liriese uitstulpings word dus so gekodeer, maar gaan kyk maar na hoeveel manlike digters - in navolging van Opperman se tipologie - eg emosioneel dig: C.M. van den Heever, W.E. G. Louw, onder andere.

 

Odendaal boor 'n sterk emosionele aar raak in sy nostalgiese herinneringe aan 'n Vrystaatse jeug waarin daar vele ontnugterings en afleggings in die hede opgesluit lê. In die pynlike lykdig word 'n skoolmaat se lewe opgesom tot die onafwendbare einde van die mens wat sowel polities as emosioneel 'n buitestaander was. Dit heet ironies "Reünie" met die naam van die oorlede onderaan die titel: Daniël Craven Krause (09/01/1954 – 12/01/2017). So word die persoonlike aard van hierdie treurvers beklemtoon met die digter wat dit koppel aan 'n bepaalde mens. Die vers word terselfdertyd 'n stuk geskiedenis van die digter se lewensloop.

 

In "Apostroof" – met 'n kopknik aan Fanie Olivier – word die gestorwe ouers aangespreek:

 

Ou stylgreep, Pa, Ma:

dié aanspreek van afwesiges,

spookgesprek met dooies.

 

Die lykdig vir die bekende taalkundige Christo van Rensburg eindig met 'n treffende slot:

 

En hier sit ek nou.

Remme aangeslaan met die nuus oor jou.

Pletterreste, soos van insekte, teen die voorruit.

 

Want hierdie man se taalkennis laat die digter sy vers so begin:

 

Saam met jou was reis ook woordkoersvat.

Jóú pad het gerinkel van name en komvandane:

 

Die vers oor Olga Kirsch word méér as literatuurgeskiedenis. Die digter vereenselwig hom met haar lot as buitestaander verlangend na die vaderland. Dit is opvallend hoe hierdie digter telkens deur vele digters tans vereer word; waarskynlik omdat sy iets simboliseer van onbegrip, van verydeling en verlange na 'n vervloë wêreld in hierdie dae van onsekerheid.

 

Die emosionele aspek word met 'n intellektuele aanslag gesinkopeer. Die digter is aanbieder van kreatiewe skryfwerk, en vele gedigte analiseer die komplekse prosesse van hoé die digter sy jong leerders van raad moet bedien. In hierdie opsig sluit sy digkuns aan by J.C. Steyn se Die grammatika van liefhê, daardie briljante digbundel uit 1975, waarin grammatika en taalkonstruksies die onderwerp van die digkuns word.

 

Daar is vertalings en ómdigtings van bekende verse. Eweneens vind ons swermgedigte en gedigte geskryf vir installasies by 'n kunstefees. Daar is selfs blokverse, met ander woorde, gedigte in blokke geplaas. Daar is pragtige sms-haikoes, met daardie skettertaal so bekend aan ons:

 

stormwatrpypvonds:

jweelstukke & vrminkte

jnkvroulyk

*

“lyk” na j gvind

duikrs in ’n puttoilet

brokkis been v kind

*

boer mt ystr doodgslaan,

2de mt ’n graaf

toe vee werkr stoep

 

Telkens word die grense tussen gedigte geproblematiseer en die vers self word 'n reisiger in 'n diasporiese wêreld pynlik geïllustreer in die her-besoek van "Chicago", daardie ikoniese vers van Carl Sandburg, seun van Sweedse immigrante, eerste VSA-digter vir wie Engels ’n tweede taal was, lui die onderskrif.

 

Taal word nuut besoek: die probleme rondom die dubbele nie in Afrikaans (met erkenning aan Hester Waher, die taalkundige onlangs oorlede)  en ons vind selfs 'n gedig wat heet "kleitrap met die verlede tyd". Hierom is sowel Steyn as Wallace Stevens (die groot Amerikaanse modernis) rigtingwysers vir die speurende leser. Van Wyk Louw word herbesoek en gehuldig in "Valsbaai". Geliefde en ontslape digtervriende soos TT Cloete en IL de Villiers word aangespreek en daar is gesprekke met digters uit die Lae Lande.

 

"Let's get real" is 'n aweregse ars poetica waar die begeleier van die digkuns homself aanpraat oor waar 'n geslaagde gedig nou eintlik vandaan kom. Die langer prosaverse word soos die praatverse met konkrete beelde verbind. Die grafika van verse word goed benut soos die digter ons waarsku in die motto's en illustreer in "Swemgala-toeskouer" waar 'n  Wallace Stevens-bundel amper uit die digter se hande val.

 

Jacques Brel word ingeweef en die spel met die rondeau-vorm bewys die digter se liriese aard. Andersyds debunk hierdie bundel die idee dat 'n gedig net spontaan gebeur:

 

Alle poësie en melodie

was mooitjies mááksel  ("5. Uit die bloute")

 

Die digter skep 'n multiversum en die gedigte word 'n palimpses van tekste wat verwys na ander tekste.

 

Die Sehnsucht en nostalgie loop soos 'n swart draad deur hierdie bundel oor alles wat weggefletter het en word puik verwoord in "Die wanhopiges" na Jacques Brel se “Les désespérés”.

 

Hierdie bundel werk soos Terence Malick se film Tree of life (2011) met Sean Penn en Brad Pitt waar 'n pynlike familiegeskiedenis saamgesnoer word in herinnering en fantasie. Harold Bloom se studie oor die Kabbalisme is eweneens hier tersaaklik, Kabbalah and Criticism (1975), waarin die mistieke dimensie in ouer tekste behandel word. Die sogenaamde ‘revisionary ratios’ beteken immers 'n terugkeer na die bekende, ouer tekste. 

 

Bernard Odendaal het met sy tweede bundel die noot hoog ingesit, maar nêrens word 'n vals klank geuiter nie. Dit is kwashale (konkrete beelde) wat hier van stapel gestuur word. En in die lang bronlys verduidelik hy die begrip stapel soos volg: die intertekste wat naas eie skeppings in die gedig gestapel sit. Stapel soos in opstapel: verskillende gedigte uit verskeie publikasies en mediums is nou in een boek te vinde.

 

Hierdie bundel kan as metamodernisties tipeer word, 'n samesnoering van die modernisme en postmodernisme. Dalk uiter hierdie bundel 'n soeke terug vóór die ooglopende spel met tekste? Hierom dalk die verlange terug na oorspronklikheid met die wete dat die finale vers uit soveel ander tekste "gevorm" is? Teensange en palinodes kenmerk die aanslag.

 

Die intellektuele leser word gedwing om weer na te dink en vir die liefhebber van die digkuns is hier gewoon hartgrypend-mooi gedigte.

 

Dit is 'n pragboek.

 

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

 

Thursday, January 17, 2019

Resensie | Hans Pienaar - Die Generaal (2018)

Hans Pienaar - Die Generaal. Tafelberg, 2018. ISBN: 978 0624 085812

Resensent: Joan Hambidge

I

Hans Pienaar is 'n bekende joernalis en onderskatte digter. Die taal van voëls het in 2002 verskyn. In 1992 was hy die ontvanger van die Rapportprys vir Nie-Fiksie vir Die derde oorlog teen Mapoch, oor die staat se geheime veldtogte teen die Ndebele-stam. Die Trojaanse Perd: Onderhoude oor die noodtoestand in die Kaap 1985, saam met Hein Willemse, bly 'n belangwekkende teks. Dit het indertyd by Taurus verskyn.

Sy pas verskene roman Die Generaal is werklik 'n besondere toevoeging tot die grensliteratuur in Afrikaans waar skrywers soos Alexander Strachan ('n Wêreld sonder grense), Koos Prinsloo, Etienne van Heerden, o.a. beduidende werk gelewer het.

Die roman het einde verlede jaar op my tafel beland en dit was aanvanklik nie die soort leesstof waarvoor hierdie leser met 'n reeds donker jaareinde en etlike slopende gebeure in Suid-Afrika wou of kon aandag gee nie.

Wat 'n verrassing was hierdie roman nie toe ek dit begin lees!

Dit is geskryf met 'n vaardige hand: gedistansieerd, in beheer, emosioneel sonder om sentimenteel te wees én boeiend.

Die Grensoorlog is ons Viëtnam-oorlog. Dit is so dat daar etlike briljante films gemaak is,  deur onder meer Francis Ford Coppola en Stanley Kubrick, wat vanuit verskillende perspektiewe probeer om die impak van die oorlog op die psiges van jong Amerikaners te begryp. 

Hieroor het ek uitgebreid geskryf in 'n digterlike verslag na 'n reis in hierdie landskap (Woorde Wat Weeg/ Viëtnam – ‘n digterlike reisverslag. Besoek 17 Januarie 2019).

II

Die Oorlog het jong mense se lewens verwoes. Die sinneloosheid en futiliteit daarvan is al by herhaling uitgewys. Nou onlangs het Alexander Strachan ’n verslag oor die lewe van ’n  recce gepubliseer. Dit heet 1 Recce, die nag behoort aan ons en het ook by Tafelberg verskyn (1 Recce, die nag behoort aan ons/ ’n LitNet Akademies-resensie-essay | LitNetBesoek 17 Januarie 2019).

Dit sou inderdaad relevant wees om die verskillende kante van dieselfde munt te beskou: fiksie teenoor harde werklikheid met tekste wat albei by Tafelberg uitgewers verskyn het.

Pienaar bely dat aspekte van prosedures, regulasies en fasiliteite en operasies aangepas is ter wille van die verhaal. Maar terselfdertyd skryf hy dat dit op ware gebeure gegrond is. 

Daar is nog kodes dat die leser dit as fiksie moet benader. Die sub-titel lees: 'n roman.

Skrywers van romans bemark iets as 'n roman  en dis hoe ons dan hierdie teks moet benader. Dit vertel die verhaal van Johan, bloedjonk, kwalik negentien, wat gestuur word na die Zambesivallei om onreëlmatige praktyke rondom ontgroening te ondersoek. (Suspension of disbelief, natuurlik! Sou daardie butch mans hulle gesteur het aan enigiets grensoorskrydends?) Die konvensionele, godsdienstige Johan teenoor sy neef wat grense oorskry, lewer ook 'n belangrike opposisie; net soos hede teenoor verlede; reg teenoor verkeerd – met die skrywer wat as beleë mens met afstand na die gegewe kan kyk. Johan weet ook dis "ons storie" – sy verhaal is verweef met Ben s'n, omdat hy hom bewonder het. Sy neef was 'n klein god daar in die Militêre Akademie op Saldanha. Later Pretoria; die ou Rhodesië ...

Angola.

Predikant staan op die arme Johan se voorkop geskryf, pruil 'n tante...

Dit is die buitelyn van die verhaal. Maar onder draai die duiwels rond, want die leser word ingeslinger in die verteller se binnespraak. Ben, sy neef, wat 'n soort alter ego word, die seun van Die Generaal, rebels en gay. Deel I handel oor Ben en die ellendes van sy dood, terwyl Deel II sy ervarings met Annie weergee.

Dit is ’n boek oor inisiasie. Eers in die Weermag-wêreld en dan op 'n werklik liggaamlike ervaring.

Die verhaal wil ek nie verklap nie, want 'n mens lees dit met wydoopgesperde oë.

Dus 'n paar belangrike punte. Pienaar ontmasker maskuliniteite en hy wys op die weerloosheid van manne ágter uniforms.  

Trouens, in hierdie binnespraak word die leser bewus van rolle wat aan mans toegeken word en waaraan hulle nie kan ontkom nie.

Daar is slim intertekste: musiek van die tyd ("Pretty Belinda", die Moody Blues, die Beatles, Bob Dylan, o.a.), Sad Sack, Sartre, Wittgenstein se taalfilosofie (ons leef in borrels, 245), André P. Brink se Miskien nooit, om enkeles uit te wys.

Die verteller hoor verkeerdelik "Knights in white satin" in plaas van "Nights in white satin", want hy is immers 'n inconnu en die taalspel wys op die spanning in sy gemoed: die harde weermag teenoor die soeke na liefde en koestering.

Daar is oomblikke in hierdie roman wat 'n mens nooit sal vergeet nie. Die verwildering in die oë van 'n vrou in die oerwoud in Chirundu.

Annie wat lyfstraf moes verduur van haar vader.

Dit is 'n tydsdokument. 'n Herinneringsroman. Miskien ook 'n afrekeningsroman?

Op 'n plek praat hy van 'n selfdebat – kenmerkend van die belydenisroman.

III

Philippe Lejeune se bekende artikel "The autobiographical contract" (opgeneem in Tzvetan Todorov se French Literary Theory Today - A Reader (Cambridge University Press, 1982) wys op die kompleksiteite róndom 'n roman wat speel met die kodes van die outobiografie.

Lejeune verwys tereg na die "ambiguous intermediate region" van 'n teks waar die skrywer nie dieselfde naam as die verteller het nie, maar waar die leser dink (vermoed en die kwytskelding dit suggereer) die teks is op 'n werklike ervaring gebaseer. Die littérature intime kan eweneens gebaseer wees op verskillende vorme: briewe, dagboeke, memoirs (204 - 206).

Hier kan 'n mens byvoeg: die werklike belewenisse word gefiksionaliseer. Dit word bemark as 'n roman en dis hoe ons dit moet benader.

En waarom hoor die verteller "Knights in white satin"? En waarom is die rol van Wittgenstein so belangrik? En verraad? En wat is die rol van die generaal se vrou?

En die slot sluit weer aan by die begin.  Dis 'n boek oor grense, letterlik en figuurlik.

Hans Pienaar se ervaring as joernalis het hom waarskynlik geweldig gehelp met die skryf van hierdie roman.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio