Showing posts with label Praag. Show all posts
Showing posts with label Praag. Show all posts

Monday, March 4, 2013

Lydia van Eeden - Die verlore saak. Outobiografiese vertellings (2004)

Lydia van Eeden. Die verlore saak. Outobiografiese vertellings. Praag, 2004. ISBN 0 9584635 2 2.

Resensent: Joan Hambidge

I.
Uit die Praag-stal het daar sopas ‘n roman met die subtitel “outobiografiese vertellings” verskyn. Dit is Lydia van Eeden se Die verlore saak wat die verhaal vertel van die jonge Ingrid wat werk vir NI. Sy beland in Parys om die indertydse ‘aanslag’ van die ANC af te weer onder die vals naam Monique de Villiers. Hier beland sy in vele beddens en in vele intrigues met Leon Strydom, ‘n Boere-James Bond as haar hanteerder. Die roman wil kennelik vrae vra oor die posisie van die agent en hoe so ‘n persoon in grys gebied beland wat op die duur ‘n slopende uitwerking het op hul gemoedslewe.

Dit is egter uiters oordrewe om die leser te mislei met die uitspraak dat hierdie roman ons laat kennis maak ‘skadukant’ en die ‘onbekende’. Ook verneem ons “In geen riller is dit nog ooit so getreou uitgebeeld nie…”. Hierdie leser is ‘n kenner en liefhebber van die thriller-genre en terloops ‘n riller is nie dieselfde as die woord thriller nie.

Waarskynlik het hierdie roman te kort op die hakke van die oorrompelende Moltrein verskyn wat ‘n goeie beskrywing gee van Parys en die Franse leefwêreld. Verder word die roman van motto’s voorsien wat dikwels nie sin maak nie. Die belangrikste beswaar is egter teen die feit dat dit nie ‘n dwingende verhaal of storie word nie. Om ‘n teks as ‘outobiografies’ te tipeer, beteken nie dat dit ‘soos dit is’ weergegee kan word nie. 

In Kleinboer se Kontrei word die leser ook voorgestel aan die outobiografiese, maar daar gebeur iets tussen die werklikheid en die storie wat vertel word. Die skrywer fiksionaliseer, oordryf en neem die leser op reis. By Van Eeden is dit gewoon net ‘n relaas wat nie vertelling word nie. Dit is jammer, want die teks word oorhaastig uitgegee en ‘n mens dink indien sy iets sou byvoeg (of wegneem) kon dit oortuigend geraak het.

II.
Oor die struktuur van die spanningsverhaal of thriller het ek al uitgebreid geskryf en die James Bond-verhaal waarin ‘n vroulike karakter binne die domein van die manlike skaduwêreld intree, sou ‘n interessante roman kon oplewer. Ek verwys kortliks na my studie oor gender (2000).

In Jerry Palmer se Thrillers - Genesis and structure of a popular genre  (1978) word die genese van dié genre ondersoek. Palmer verwys na paranoia as 'n belangrike element van hierdie genre in die afdeling "Competition and conspiracy: Paranoia as ideology". Aksie beteken alles vir hierdie soort held en as daar niks gebeur nie, is hierdie held (soos James Bond) volledig identiteitsloos. ‘n Mens vind iets van die paranoia in die Van Eeden-teks, maar dit word nie genoegsaam ontgin nie.

Die James Bond-verhaal funksioneer rondom binêre opposisies en Umberto Eco in "James Bond: une combinatoire narrative" het die volgende opposisies uitgewerk: opposisies van karakters soos held/skurk; held/vrou - opposisies van waardes soos geldmag/idealisme; programmering/risiko. Bond is dan by uitstek in staat om telkens te kan improviseer binne 'n moeilike situasie, soos Palmer aantoon(1978, p. 7). Bond steek 'n sigaret aan en glip die pakkie in sy bo-sak wat uiteindelik verhoed dat 'n koeël hom tref. Hy maak asof hy dood is en vind dan 'n mes digby sy baggasie wat hom uit hierdie netelige situasie red. Hy dra dus altyd 'n "bag of tricks" met hom saam wat wys op die gevare wat as't ware voorsien of geprogrammeer is. As Van Eeden dan ‘n vrou in hierdie wêreld plaas, aktiveer sy al hierdie kodes en keer sy dit as’t ware op hul kop. Maar, sy stal dit net uit en neem dit nie ver genoeg nie.

Ook sy vyand het hul stel planne wat daarop ingestel is om Bond s'n te neutraliseer. Wat wel tersaaklik is, is dat Bond telkens staatmaak op vorige missies waarop hy dan improviseer binne 'n moeilike of dreigende situasie.

Palmer(1978, p.14) meen egter dat Eco se klassifikasie nie voldoende is nie. Hy verwys na die amateur/professioneel/burokraat as 'n handiger sisteem.

Volgens Palmer is die amateur en burokraat nie in staat om uit ervaring te leer nie. In die wêreld van die burokraat is daar niks nuuts en onverwags om te ervaar nie. Alles bestaan soos wat dit behoort te bestaan. Dr. No is 'n voorbeeld van só 'n figuur en hierom kan James Bond hom volledig uitoorlê. Bond bring 'n hyskraan (met 'n vrag vol guano) nader en versmoor Dr. No hierin.

Ook die amateur kan eweneens nie uit ervaring leer nie, gewoon omdat alles nuut is. Hierteenoor is die professioneel, soos Bond met sy licence to kill, in staat tot improvisasie. In vele Bond-romans en -films is dit juis hierdie aspek wat die leser/kyker betrek. In die jongste Bond-films is die spesiale effekte onder meer al so aanskoulik dat selfs die BMW waarin Bond ry met afstandbeheer werk en by implikasie Bond se kragte oorgeneem het. Die oortreding van reëls of aanwysings word dikwels in Bond-tekste gevind omdat dit die enigste manier is wat hy werklik sy vyand kan uitoorlê. Palmer (1978, p. 63) betrek tereg Casino royale (1953) waar Bond van dobbeltafel na dobbeltafel beweeg ten einde meer te wete te kom oor sy vyand.

Tog herhaal die films telkens dieselfde struktuur wat herinner aan Vladimir Propp se Morphology of the folktale (1913) waarin die optrede van dieselfde figure telkens teruggevind kan word: die held of doener; die Prinses of "sought-after person"; die boef, en dies meer.

Elkeen van hierdie karakters het volgens Propp spesifieke funksies. Palmer wys ook daarop dat die skurk byvoorbeeld betrokke raak by 'n situasie weens wraak, geld of 'n maglus (soos in die geval van dr. No)(1978, p. 16). Om die eksotiese lewenstyl uit te leef, moet die skurk dus beweeg in die wêreld van die ondergrond of die onwettige bestaan. In hierdie opsig is Fleming se skurke in wese parodieë op onderwêreldse mens of primitiewe krag, soos dikwels in feëverhale aangetref word. Hulle leef selfs onder die see of in luukse skepe; in tombes van staal wat dit uiters moeilik maak vir die held om hierdie gevaarlike onderwêreld (ook 'n manifestasie van die onbewuste) te betree.
Palmer voorsien dan ook die volgende tabel:

Professionalism            Amateurism
           Bureaucracy


Reciprocity                      Ectopia
                    One-way information flow


Experience                 Arrogance
      Incompetence


Participation              Isolation

James Bond-verhale maak ook spesifieke gender-stellings wat die leser/kyker nie kan negeer nie. Bond met sy Aston Manor en beretta het 'n licence to kill. Hy drink sy Martini's "shaken and not stirred" en hy is bestand teen moegheid of enige nagevolge van sy liefdesavonture. Hy word voorgestel as 'n super-man en vroue is eweneens nie bestand teen sy sjarme nie.

Hulle is dan dikwels die prooi ten einde 'n missie suksesvol af te handel. Maar die vroue gebruik Bond ook weer vir húl doeleindes wat die kritiek dat Bond misogonisties is, bevraagteken. Ook is dit so dat hierdie teks hul gender-rolle oordryf en bykans parodieer. Dit wat vergroot word (die term blow up uit Umberto Eco se The role of the reader, 1978) moet uiteraard weer beskou word.

Die uitstal van James Bond se machismo is sowel die Fleming-tekste as die films maak 'n spesifieke gender-stelling. Op die oog af lyk Bond misogonisties en sou die leser/kyker selfs kon kommentaar lewer op die seksisme waaroor verskeie feministiese kritici al kommentaar gelewer het. Die vroue is egter ook spioene wat Bond soveel misbruik as wat hy hulle gebruik.

Bond se machismo word geëwenaar deur vroulike lis of geslepenheid. Hierdie vroue vertolk net oënskynlik die rol van die "tweede seks". In wese is hulle gelyk aan hom en manipuleer hulle hom soveel deur middel van seks as hy vir hulle.


Bronne:

Hambidge, Joan: Genderkonstruksies in die Afrikaanse letterkunde’n Ondersoek in kultuurstudies, literêre teorie en kreatiewe skryfwerk. Phd, UK. 2000.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Spilpunt geplaas.]

Dan Roodt - Moltrein (2004)



Dan Roodt. Moltrein. Praag, 2004. ISBN 0 9584635 8 1.

Resensent: Joan Hambidge

In aansluiting by sy uitstekende debuut Sonneskyn & Chevrolet, is Dan Roodt se jongste roman Moltrein ‘n teks waarin skryf- en leeskonvensies op die kop gekeer word. Anton du Preez, die hoofkarakter, word deur ‘n wasseryfirma se afleweringswa doodgery – ‘n subtiele toespeling op die grote Roland Barthes se einde. (Roodt het ook ‘n MA-verhandeling oor Barthes voltooi.)

Wiele/ry/ beweging (rota= wiel) is die basiese energie wat hierdie teks voortstu. Dit is ‘n roman wat Barthes se ‘nulpunt van skryf’ tot die outobiografiese-biografie, Roland Barthes deur Roland Barthes, ontgin en heraktiveer. Du Preez se storie word gered deur sy broer wat dit dan oorhandig aan dr. Dan Roodt, taalaktivis en agent provocateur van die Afrikaanse letterkunde.  Metafiksie en narratiewe truuks vorm part en deel van hierdie teks wat sterk psigoanalities gelees wil word. (Is hierdie teks die manifestasie dat Roodt ‘n anargis is soos hy telkens bely oor sy taalpolitieke uitsprake? Maar ons los die werklike Roodt vir die duur van hierdie roman uit.) Moltrein is ook ‘n reis deur die onbewuste en Jacques Lacan se bekende essay van die trein wat op twee stasies stop, kom ook aan bod. Wie kyk? En na wie/wat word gekyk? is ‘n ander belangrike tema in hierdie roman met Carole Bouquet, die Bond-meisie as ‘n ikoon en lusobjek vir die fokalisator, Anton du Preez, ontheemde in Parys, musiekonderwyser, Afrikaner…

‘n Hele galery van bekende skrywers soos Proust, Balzac, Flaubert, e.a. word hier uitgestal. Brink se Die ambassadeur en sy reistekste word aangespreek en ‘n minder romantiese beeld van Parys en die hoerebuurt word geskilder. Die teks is ten beste nostalgies in aanbod. Daar is ‘n verlange na die verlede (Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria waar die karakter o.a. Latyn bestudeer) en die leesgewoontes van ‘n jong kind.  Die enorme kultuurverskuiwings in ons land word hier van buite bekyk. 

Die liefdeslewe van Du Preez en Erika de Ruiter word geil en heerlik beskryf. Hulle fluister Afrikaanse vloekwoorde in mekaar se ore om die krag van Afrikaans in Parys te beklemtoon. Geen suggestie of  innuendo nie. Roodt gaan al die pad.  Sy verhouding met die ryk vrou (ook ‘n omkering van die ‘sugar daddy’-beginsel) word knap hanteer. ‘n Ski-vakansie eindig sleg vir die hoofkarakter wat met ‘n beseerde knie moet voortbeweeg en sy geliefde versaak hom. Wanneer hy via Rooi Rose ontdek dat sy getroud is met ‘n ryk Stellenbosse wynboer, rugbyspeler (ook ‘n konvensie uit die liefdesroman wat sneuwel), word nog ‘n klomp tekste vir ons oopgemaak.  Barthes se stelling dat ‘n geslaagde roman soos ‘n vertikale krag deur alles beweeg en dat die leser soos ‘n waterwyser kragpunte moet raaktrek (S/Z), kom eweneens aan bod. 

Houellebecq se Atomised klop ook verskillende dimensies en tekste saam, die ongehoorde en onaanvaarbare veral.  Moltrein kan ook net gelees word as ‘n storie; maar die uitsnuffel van al die intertekste – soos ‘n weggooi verwysing na die mistisisme – maak dit vir die letterkundige leser ‘n plesierrit. Die roman bewys dat tekste buite die sisteem – soos Kontrei van Kleinboer – hoogs noodsaaklik is, omdat dit die stereotipe idee van wat ‘n goeie of groot roman nou eintlik behoort te wees, afbreek. Boonop soos in Atomised en Platform is die skrywer vreesloos voor die stereotiepe of die polities-korrekte versugting.

Waarskynlik sal lesers wat nie van Roodt se taaalpolitiek hou nie, negatief ingestel wees teenoor die roman. Die roman bewys egter Barthes/Foucault se se stellings oor die ‘dood van die outeur’ reg: die teks het sy eie drif, beweging of energie, onafhanklik van die werklike of konkrete outeur. I was gob smacked.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Thursday, February 14, 2013

Luuk Gruwez - Bandelose Gedigte (2007)



Luuk Gruwez. Bandelose Gedigte. (Vertaal deur H.P. van Coller). Praag, 2007. ISBN: 1920123 050.

Resensent: Joan Hambidge

Vroeër vanjaar by die Woordfees op Stellenbosch daag hierdie digter, ene Luuk Gruwez,  op en saam met sy vertaler, die akademikus Hennie van Coller, word sy gedigte in ‘n duet voorgedra. Van Vlaams na Afrikaans.  Die gehoor is ekstaties, meegevoer – lag selfs, want hierdie versameling gee ‘n blik op ‘n besondere digterskap wat sowel geestig as ernstig is. Terselfdertyd lyk en klink die verse toeganklik, maklik, selfs “oop” – tot jy fyner lees en besef: die digter werk met fyn tegnieke soos die elliptiese beeld of einde wat ‘n dubbele negatief bevat wat met ‘n herlees eintlik dan op niks neerkom nie.

Dit is ‘n bundel wat Praag gepubliseer het wat onlangs die gedenkbundel van Eugène N. Marais gelewer het onder redakteurskap van Johann Lodewyk Marais. Die belangrikheid van ‘n digterlike invoer- en uitvoerproduk hoef nie beklemtoon te word nie: Daniel Hugo het Herman de Coninck en Gerrit Komrij vir ons vertaal; Johann de Lange se vertalings, nou onlangs, van Wilma Stockenström, imponeer sowel die Engelse as die Afrikaanse lesers.

Die bundel is “unputdownable”, soos die Engelse opmerk. ‘n Mens lees die hele bundel gulsig, omdat jy nie kan wág om te sien wat ‘n volgende vers sal bied nie. Is dit dalk ‘n Vlaamse karaktertrek? Hierdie mengsel van melancholie en aweregse selfspot? Ons vind dit ook by De Coninck en Tom Lanoye. Waarom is sekere digters meer guitig as ander?   
In ‘n vers soos “Tafereel” word Du Perron betrek: om ‘n werkswyse tussen toe en nou uit te werk en ‘n stelling oor die lewe daarbuite te maak. Ons vind dikwels hierdie spanning in die digter se gedigte: daar word oënskynlik speels na die wêreld daarbuite gekyk, maar dan lewer die gedig op ‘n metavlak kommentaar op die ewige spanning tussen Lewe en Skryf.
Die gedigte gebeur as’t ware voor jou: dis asof die digter ‘n stellng maak oor die lewe en dit dan wil reg of verkeerd bewys.

In “Ars Armandi”, die kuns van die liefde, verneem ons:

Nulliteite met hul letters,
maar bedrewe met hulle lippe
en briljant, soms, in hul kroeë: digters.

Hulle is boonop “kletsers, praters, flaters van God” en hierom moet ons van die digters gered word!

Die slot van hierdie heerlike vers waarsku dat die liefde vir ’n gedig opgeoffer sal word:

- Raak desgewenes maar aan hul vrouens,
Raak nooit te nimmer aan hul kommas.

Al spelende en dekonstruerende, maak die digter verse soos ‘n jongleur.

Hy skryf oor die dood van ‘n geliefde, aangrypend oor die verlies van ouers, hy stel God aan die woord, kyk na hoere se doen en late, parodieer vet mense, ensomeer. Daar is deurgaans ‘n ironiese blik en nie om dowe neute nie, word ‘n bundel Allemansgek genoem.  Die sjarme van die gedigte word opgesluit in die oënskynlike eenvoud – as jy dieper naspeur, beoefen hy die Rondeel en daar word aandag gegee aan klanke en onverwagse wendings.

Die versamelbundel – Bandelose gedigte – kry ‘n ander betekenis vir ons in Afrikaans, omdat die verse met Afrikaanse lesers ‘n band smee. Dit is ‘n bundel wat met elke lees meer plesiere bring.  Ek dink sy hantering van die lykdig verdien eweneens vermelding en die lang relaas van die “tweegeveg” wat die geliefde met kanker beleef het, word werklik besonder goed weergegee. (Interessant dat die digter afwyk van die dekorum van die lykdig en die rede vir die dood vermeld.)

‘n Ander gunsteling is “Taksidermie”, ‘n spotvers oor masturbasie (p. 87) en die gedig oor verlies, “Samehorig” (p. 81) verdien eweneens vermelding:

Daar moet ‘n wêreld van verlore dinge wees
waarin ‘n handskoen, inderhaas vergeet,
saamhoort met ‘n ou koerant,
‘n serp, ‘n sakdoek of ‘n kam.

En dan die slot:

..............
En voorgee dat jy alles kan vergeet,
ofskoon jy, stomverlore soos ‘n mens,
alleen in die heelal moet wees.

Dikwels is daar Vlaamse woorde wat ek meen nie vir die gewone leser bekend sal wees nie en waarskynlik sou ‘n voetnoot vir die leser van waarde kon wees. Maar dit doen nie afbreuk aan die leesplesier nie. (Nou desgewens of awery is ook van daardie woorde, wat jy dink jy ken, maar nie heeltemal ken nie.) Plek-plek is die vertalings stomp – veral wanneer ‘n mens die verse hardop voorlees, besef jy dat die Afrikaans iets meer úitstuwend verwag het. Soos die dubbele negatief wat ‘n mens verwag, o.a. by “Tweegeveg” (p. 94).  Is “boze” byvoorbeeld kwaai? (p. 94).

Een setfout (niet in plaas van nie, p. 121) het deurgeglip en kan reggestel word.

Maar dit is ‘n boek vir die toegewyde leser van die poësie en ook vir diegene wat dikwels mor dat die digkuns net vir ‘n handvol geleerdes geskryf word. Dis pret en hartseer. Poësie van die sourdino en die uitbundigheid.

Gaan onmiddellik na die naaste boekwinkel en koop hierdie bundel!


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]