Showing posts with label Otto e mezzo. Show all posts
Showing posts with label Otto e mezzo. Show all posts

Thursday, June 10, 2021

Filmrubriek | Fellini se Otto e mezzo

I

Fellini se Otto e mezzo word inderdaad beskou as een van die klassieke films van ons tyd. Die afgelope tyd het verskillende films van Fellini my weer bekoor.

 

Hierdie handel oor 'n filmmaker wat besig is om 'n film te maak en terselfdertyd verslag te doen oor sy lewe, die vroue in sy lewe en sy jeug. Hierdie terugkeer na die jeug is waarskynlik een van die belangrikste temas in sy werk: die siening van ouers, die grootword jare in Rimini, die invloed van die Rooms-Katolieke kerk en 'n besinning oor die rol van die filmkuns.

 

Otto e mezzo (81/2) dui op die middeltyd van sy lewe. 'n Tyd tussen films. Dit is 'n metafilm met 'n kyker (jy /ek) wat sien hoe die filmmaker (Marcello Mastroianni) in 'n filmhuis sit en kyk na die film wat gemaak word. Die film is vrygestel in 1963 en ek het dit eerste keer gesien by die Stellenbosse filmvereniging in 1979.

 

Hierna het ek dit telkemale weer bekyk en met die jongste ervaring weer geluister na die filmkritici wat sinryke kommentaar lewer oor die produksie van die film.

 

Die kamera en die kyker se bewuswees van die kamera, maak van die kamera die hoofkarakter.

 

Die spieëltekste is eweneens belangrik: Mastroianni speel (asof) hy Fellini is en die gerinkink met vroue aktiveer sowel akteur as filmmaker se vele verhoudings met vroue. Daar word deur hierdie kritici belangrike informasie gegee oor werklike akteurs en hul verhouding met Fellini. Boonop is die slottoneel op die strand verfilm presies waar Pasolini vermoor is. Op die strand in Ostia is Pasolini 2 November doodgemaak. 

 

Ons word eweneens vertel van Fellini se werk as komiekstripkunstenaar. Kyk mooi wanneer Luisa (Anouk Amée) haar man se minnares in die straatkafee sien hoe sy jaloerserig haar neusgate wikkel en hoe die eggenoot aan sy neus vat asof hy 'n Pinocchio is. Alles in hierdie film werk rondom waarheid en verdigsel. Konterfeitsels dryf die film vorentoe.

 

Guido, die filmmaker, ly nie net aan 'n filmmakerblok nie; hy is 'n narcistiese, selfbehepte vrouejagter, wat beskuldig sou kon word van 'n inflasie van die ego in Jung se terme. Maar dit word sjarmant en speels vertel. In die toneel waar hy die verskillende vroue - op die maat van Wagner se Walküries - met 'n sambok in beheer probeer hou, sal waarskynlik vandag se kykers vervreem oor die misogonisme. Maar dit word egter satiries hanteer deur die wérklike fillmaker Federico. Kort voor hierdie toneel word ons teruggeneem na sy jeugjare wat hierdie toneel verduidelik en kontekstualiseer.

 

Guido se fantasie oor die singende hoer (Eddra Gale) op die strand, laat hom in die moeilikheid beland by die priesters en sy moeder, veral is verwytend. Boonop verklap die kommentators dat hierdie vet vrou - 'n argetipe - 'n werklike operasangeres in Chicago was. Fellini is al die verwyt gemaak dat hy sy jeug fetisjeer. In die toneel voor die priesters - vertolk deur vroue-akteurs - sien ons egter hoe straf die jong kind vir ewig gekwes het.

 

Die priesters word vertolk deur vroue, verneem ons, omdat mans van daardie ouderdom - deur drank verwoes -  nie so goed lyk as vroue nie.

 

En in 'n toneel hoor ons dat Fellini teen intellektuele kommentaar op sy films was. Is dit dan, wonder ons saam met die kommentators, hoekom hy die kritikus ophang en nie laat sterf nie? Kunstenaars behoef immers kritiese reaksie.

 

II

 

Die film begin met 'n droom waar Guido in 'n motor sit en probeer uitkom. In die motor langs syne is sy minnares besig om seks te hê met 'n man. Dan vlieg hy in die lug op en land op die strand voor sy agent. Die filmkommentaar beklemtoon dat Fellini telkens sy karakters werkliker maak as wat hulle was. En die film werk met die verlede, hede en "conditional time", die sogenaamde tyd van moontlikhede en fantasie.

 

Dit is relevant om te weet dat Fellini in hierdie tyd 'n Jungiaanse analis besoek het om sy werkblok te probeer ophef.

 

Fellinesque, daadie kwaliteit wat hy aan sy vrouekarakters gee, is vandag alom bekend. Hy werk teen die Neo-Realisme van Rossellini en beweeg soos Visconti en Antonioni in die wêreld van konstruksies en drome. Daar word beklemtoon dat ten spyte van sy sjarmante aanslag met akteurs, het hy dikwels mense gebruik en na die film voltooi is, nooit weer gesie nie. Donald Sutherland is uiters negatief oor Fellini as regisseur in My life as a liar.

 

Elke vinjet in hierdie rolprent dra betekenis. Die moeder (in die werklike lewe Vittoria de Sica se vrou) transformeer van moeder tot sy eggenoot in die film.

 

Die priester in die hysbak laat die kyker voel asof hy in 'n bieghokkie staan. Straf en boetedoening is ‘n belangrike motief in hierdie film.

 

Die gebruik van Matroianni as sy alter ego illustreer Fellini se kennis van Jung.

 

Die film sit vol kwinkslae - soos die horlosie as geskenk vir die vervaardiger, wys op Fellini se reaksie toe sy vervaardiger, t.s.v. al die geld wat 'n film gemaak het, net vir hom 'n horlosie as geskenk gegee het.

 

Otto e mezzo het eers La bella confucia geheet, 'n belangrike sleutel om die rol van al die argetipiese vroue in die rolprent te verstaan. Wanneer die kritikus in die film hom uitvra oor Marxisme, is dit met opset. Fellini se film lewer nie politieke kommentaar nie. Hy gaan in die primordiale in: asa nisi masa is die spreuk wat die jong kinders ken en die dansende goëlaar is in die werklike lewe 'n Sufi. Die film dui op 'n spirituele krisis in die lewe van Fellini en hierom is die film 'n soeke na harmonie en antwoorde. Hierom waarskynlik die konfrontasie met die kardinaal in die stoombad wat nie raad kan gee nie.

 

Net soos Guido geen draaiboek vir sy akteurs kan gee nie, was daar geen draaiboek vir die werklike film nie. Daar is elke dag geïmproviseer; iets waarop Sutherland ook wys toe Casanova vervaardig is.

 

Liefde, seks, die huwelik en vriendskappe is vir Fellini verskillende dele van sy lewe. Die een aspek het volgens die kommentator niks met die ander te make nie. Guido en Luisa is vasgevang in huwelik van stryd. Hierom dalk dat die twee vroue (eggenoot en minnares) met mekaar dans buite beheer van die man om geluk te vind?

 

III

 

Die tekstuur van die film word bepaal deur duplisiteit en 'n dubbel-lewe. Die slot sou eers 'n treintoneel gehad het, maar dit is verander na die ruimtetuig op die strand. Al die karakters kom hier byeen.

 


Die treintoneel was vermoedelik te negatief – met ‘n vorige bestudering van die film sou dit kon lyk asof die karakters almal sterf in die slottoneel.

 

IV

 

Hierdie film uit 1963 bly ‘n klassieke film wat resoneer met ander groot films. En die kritici se voice overs is uiters boeiend, veral wat betref die werklike mense, aktrises en intriges van daardie tyd in Italië.

 

 

Bibliografie:

Damian Pettigrew.2002. Fellini: I'm a Born Liar

 

© Joan Hambidge  

Monday, January 6, 2020

Filmrubriek | Otto e mezzo (1963) en Pain and Glory (2019)

I

Pain and Glory (Dolor y Gloria) van Pedro Almodóvar is bekroon by die Cannes-filmfees. Dit is genomineer vir twee Golden Globes vir Banderas as beste akteur en die prys vir beste buitelandse film. (Onelukkig het die beoordelaars anders besluit ...)

Antonia Banderas en Penélope Cruz is die twee hoofkarakters in 'n terugblik van die filmmaker vertolk deur Banderas. Hy herbesoek sy jeug in 'n semi-outobiografiese film met Cruz as die jonger moeder en die filmmaker se eie moeder as die ouer matriarg.

Dit is 'n fassinerende film wat eindig met Cruz en die jong kind onder kameraligte. Dit is dan ten slotte 'n metafilm. Dagboeke, herinneringe, gesprekke, 'n skildery wat later gevind word, aktiveer 'n naatlose spel tussen hede en verlede. 

Die film se ooglopende interteks is Fellini se Otto e mezzo (8 ½ van 1963). Vervaardig in die middel van sy loopbaan tydens 'n kreatiewe droogte. Soos wat Banderas 'n dubbel word vir Almodóvar, is Marcello Mastroianni (as Guido) 'n ewebeeld van Federico Fellini. Dit is 'n briljante film oor herinneringe aan 'n jeug en analises van die filmkuns.

Dit begin met 'n droomsekswens waar Guido vasgevang is in 'n motor. Sy minnares en haar man is in motor langs hom. (Later in die film kry sy 'n kamer in 'n spoorweghotelletjie en hy ervaar haar as 'n laspos.) Skielik vlieg Guido in die lug en twee mans – wat krities is oor sy werk – bring hom aarde toe en hy val in die see. Hy skrik skielik wakker.

Marcello Mastroianni & Eddra Gale

In gesprekke met sy kritikus en vervaardiger word die gebreke in sy films uitgewys. Hier die gesprekke tussen belewenis en vertelling word perfek weergegee met 'n herinnering aan sy jeug waar hy dans met 'n hoer (Eddra Gale).

Die film wat beoog, sal handel oor die liefde en die kerk. Hy word as kind gestraf vir hierdie grensoorskrydende dans. In 'n ander sekwens is daar 'n towenaar wat hom herinner aan die mantra van sy jeug: Asa nisi Masa. 

Al die vroue in sy lewe probeer hy met 'n sweep beheer. Ook hier is daar 'n spel tussen fantasie en werklikheid.

In die slottoneel stap al die karakters op die strand. 'n Ander slot plaas hulle almal in 'n trein – op 'n reis na die dood. (Daar is egter besluit op eersgenoemde einde wat meer positief sou wees.)

Soos by Almodóvar  skuif herinnering en werklikheid oormekaar in 'n kaleidoskopiese spel in 'n besinning oor die filmkuns.

II

Claudia Cardinale

Otto e mezzo is indertyd ook bekroon as 'n beste buitelandse film. Hierdie swart-en-wit-film bly gewoon 'n besonderse werk met Claudia Cardinale as die ideale vrou teenoor Anouk Aimée as sy huweliksmaat wat Guido verneuk met 'n plomp dommerd, Carla (vertolk deur Sandra Milo) wat seksuele speletjies met hom speel as 'n ligtekooi. Wanneer sy vrou opdaag op die filmstel, word die waarheid oor sy affaire openbaar. Hy kan net sy probleme in sy films – en dus in fantasie oplos – en hierom die harem-toneel waar hy die vroue probeer inperk.

In 'n gesprek met Rosella (Rosella Falk) praat hy oor wat hy in sy films wil regkry: die ongelooflike bagasie wat mens saamdra, wil hy begryp en agterlaat.

Die film se vervaardiger (vertolk deur Guido Alberti) neem hom ter take oor sy onvermoë om die film te voltooi. Sy onvermoë om lief te hê, blyk sy werklike  probleem te wees. Hy probeer die film stop en die joernaliste teister hom met vrae oor sy kuns. Hy skiet homself in die kop – nog 'n fantasietoneel? – en ten slotte is daar 'n perskonferensie: almal dans op die strand in 'n sirkustoneel ...

Die oorspronklike titel was La bella confusione, maar Otto e mezzo verwys na die aantal films wat Fellini alreeds geproduseer het. Woody Allen se Stardust Memories (1980) en The Great Beauty van Paolo Sorrentino in 2013, is waarskynlik die bekendste gesprekke met hierdie film voor Almodóvar se puik huldeblyk.

En in hierdie dae van politieke korrektheid, skroom onse Pedro ook nie om die waarheid in die oog te kyk nie: naaktheid, seksuele begeerte, dwelms ...

© Joan Hambidge