Showing posts with label Stephen Watson. Show all posts
Showing posts with label Stephen Watson. Show all posts

Tuesday, October 25, 2016

Helize van Vuuren - A Necklace of Springbok Ears – /Xam Orality and South African Literature (2016)



Helize van Vuuren: A Necklace of Springbok Ears – /Xam Orality and South African Literature. SUN MeDIA Stellenbosch under the SUN PRESS imprint, 2016. ISBN 978-1-920689-89-6 | ISBN 978-1-920689-90-2 (e-boek)

Resensent: Joan Hambidge

A Necklace of Springbok Ears is 'n belangwekkende studie geskryf deur Helize van Vuuren. Sy dra dit op aan Hennie Aucamp, Francois Pauw (vriend en mede-bergklimmer) en aan Barend J Toerien, ook kenner van hierdie tradisie. Al drie vriende wat oorlede is.

Die verhale, mites en digkuns van die /Xam en ander Boesmans word ondersoek en veral die ideologiese dimensies van die tekste word ontsluit.

Dis onmoontlik om op al die komplekse aspekte van hierdie studie klem te lê, maar waarskynlik is die belangrikste afdeling die Watson/Krog-debat.

Die verskillende hoofstukke word netjies saamgeweef soos 'n halssnoer van springbokoortjies. Trouens, elke hoofstuk speel in op die daaropvolgende. Wanneer ‘n mens onder andere die hoofstuk lees “Cultural appropriation: Antjie Krog, Stephen Watson, and Eugène Marais” besef jy hoe die kulturele tradisie geminag en ontken is deur Watson. Hy, op sy beurt, is weer indertyd met die publikasie van Return of the Moon beskuldig dat hy die gegewe gebruik het asof hy ‘n trofeejagter is. Hy het eweneens nou saamgewerk met Pippa Skotnes.

Kulturele transplantasie eerder as plagiaat was dit en sy wys op die verskillende figure wat al met hierdie tekste gewerk het.

En waar negatiewe aantygings gemaak word in hierdie verband wanneer tekste gebaseer is op mondelinge tekste, word die gegewe uiters kompleks, aldus van Vuuren (158).

Aanklagte – en sy betrek Tristia wat met verhulde tekste funksioneer – het myns insiens waarskynlik te make met ‘n tydsgees wat verander. (Post)moderne digters verskaf deesdae endnote vir lesers, vermeendelik om aanklagte te systap. Maar tereg is die debat tussen Krog/Watson eerder ‘n komplekse debat oor oraliteit wat be-skryf word.

Van Vuuren maak ‘n geldige punt in haar studie dat alle skrywers van hierdie oertekste meer erkenning moet gee aan die oorspronklike in hul teensange. En dat hulle name meer prominent op die voorblaaie van bundels of bloemlesings behoort te staan.

Hoewel sy uiters krities staan oor Watson se aanklagte en die “long, distasteful and unnecessary controversy”, maak sy ‘n geldige punt: “… it is also evident that the stature of an established poet is enhanced when drawing from this vital source. In the end material from oral traditions are invariably ‘tapped’ for their vitality by living writers. And the dead cannot speak …” (179).

Haar ekskursies deur al die tekste maak die tersaaklike punt dat hierdie tekste ‘n interdissiplinêre benadering opeis ten einde die oertekste ten volle te begryp (109). Gaan kyk onder andere hoe sy ‘n misinterpretasie van die “uintjie”-lied begrond en hoeveel digters in Afrikaans het al gedigte oor Boesmankuns geskryf: Ernst van Heerden, Boerneef, Barend J. Toerien, Lucas Malan, Johan van Wyk en Hennie Aucamp. (Die gedigte is uitstekend vertaal o.a. deur Douglas Reid Skinner wat die dit vir die buitelandse leser toeganklik maak.) Die uintjie-gegewe speel in op ‘n Toerien-gedig.

Die werk van die romanskrywer Piet van Rooyen word uitstekend onder die loep geneem weens sy besondere gesprek met die Boesmankultuur. Sy was tereg daarop dat kritici (onder andere met Gif) in gebreke gebly het om die identifisering met die Boesmankultuur raak te sien. Die verskillende karakters representeer verskillende fases van kulturele en tegnologiese ontwikkeling: die primitiewe teenoor die Westerse ontwikkeling; gewone, koloniale waarnemers wat geplaas word teen ‘n manlike protagonis wat identifiseer met die kultuur en ‘n “Boesman” word (147). Hierdie waardevolle ontleding is van nut vir die leser wat na dieper insigte soek.

Van Vuuren kan die opposisies – bykans soos ‘n moderne Vladimir Propp – uitwys, omdat sy die kodes ken. ‘n Paar jaar gelede het ek ‘n kursus oor die verskillende dierefigure in Marais se Dwaalstories aangebied rondom die bestaande Afrika-tarot.

Primordialiteit en sjamanisme is belangrike kwessies wat in hierdie kursus bespreek is.

Die generiese term “San” – wat politiek-korrektes gebruik – is ‘n negatiewe woord wat “vabond” of “tramp” beteken in Khoi. Die woord Boesman is tans meer aanvaarbaar en Robert J. Gordon en andere wil die begrip weer “rehabiliteer” (155).

Soos altyd die geval met hierdie soort studie is die bronnelys en endnote van onskatbare waarde vir die speurende leser. Byvoorbeeld, die herinnering aan Rialette Wiehahn se artikel oor al die verskillende interpretasies van Wilma Stockenström se “Die eland”. Verder is daar belangrike kodes wat elke navorser sal inspireer vir verdere leeswerk.

“Man as fire beast” is gebaseer op haar uitstekende D. J. Opperman-huldigingslesing ‘n paar jaar gelede te Stellenbosch. Opperman se “Vuurbees” word uitstekend gelees via onder andere Changeaux se jongste navorsing dat kreatiwiteit sterk interne reëls volg (186).

Op ‘n persoonlike vlak het hierdie leser die stuk oor die lewe en werk van G. R. von Wieligh ontroerend gevind. Die ou verroeste trommel as ‘n metafoor vir sy ellendes: huweliksprobleme, finansiële nood, swak sig, ‘n enkelkamer by sy broer in sy laaste jare …

Die sentrale elemente van sy lewe was: taal, die bestudering van verskillende kulture en reis (40). Die einde van sy loopbaan, in 1895, was in konflik gehul toe hy beskuldig was van sogenaamde wanadministrasie as landmeter. Maar daar kon ook politieke motiewe gewees het. Daar was aanvalle teen Kruger en sy manier van doen in die Transvaal. Van Vuuren plaas briewe van Von Wieligh, selfs ‘n telegram op 13 Oktober 1895 waar hy desperaat is vir werk.

Ongeveer 1898 nadat sy vrou en kinders hom versaak en na die Kaapkolonie vertrek het, verbrand al sy dokumente en daarmee is die soektog na die verlore /Xam-dagboeke verby.

Helize van Vuuren

A Necklace of Springbok Ears is ‘n boek geskryf deur ‘n kundige wat jarelange navorsing vir die leser saamsnoer. Helize van Vuuren het met hierdie boek ‘n kleim afgesteek. Niemand sal ooit weer kan skryf oor enige aspek van Boesman-letterkunde sonder ‘n verwysing na hierdie teks nie. Op dieselfde wyse as wat sy ‘n onbetwisbare outoriteit is oor Van Wyk Louw en Breyten Breytenbach.

Agt hoofstukke wat ‘n mens op enige plek kan begin lees. Elke hoofstuk is inderdaad ‘n oortjie in die enkelsnoer soos die pragtige voorbladfoto - Percival R. Kirby se Bushmen ankle-rattles made from springbok ears - reeds aandui.

Dit is gepubliseer deur SUN MeDIA.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Rapport)


Friday, February 15, 2013

Patrick Cullinan & Stephen Watson (Reds.) - Dante in South Africa (2005)



Patrick Cullinan & Stephen Watson (Reds.). Dante in South Africa. Centre for Creative Writing, UCT, 2005. ISBN 0 620 35549 2.

Resensent: Joan Hambidge

Jare gelede had ek die voorreg om Judith Mason se Dante Bestiary te sien by wyle Casper Schmidt wat dit vir my en Johann de Lange gewys het in Pretoria. Asemsnakkend. 

In daardie tyd was daar ook ‘n boek wat sy rondom ‘n Stockenström-gedig gedoen het en na Schmidt se dood, was vele van die sketse glo soek. Inmiddels onder die bekwame leiding van Patrick Cullinan en Stephen Watson het ‘n boek verskyn met die titel Dante in South Africa. En hierin is daar dan van Mason se sketse opgeneem. So uiteindelik gaan niks werklik verlore nie.

Patrick Cullinan skryf uiters onderhoudend oor hoe dit gekom het dat hierdie projek sy beslag gekry het en die behoefte vanuit Ravenna (waar die digter in 1321 begrawe is) om Dante wêreldwyd te promoveer. In The Western Canon argumenteer Harold Bloom tereg dat Dante een van die hoogtepunte is en bly in die Westerse letterkunde en die veelheid artikels, onder andere deur Italiaanse kenners soos Lawrence Kabat en Wilhelm Snyman, word die digter se enorme bydrae tot die letterkunde ondersoek en bekyk. Stephen Watson lees Eliot se The Waste land saam en as digter reageer hy primordiaal op Dante via Eliot. Hy sluit af met ‘n gedig at die invloed van die Florentyn karteer op sy lewe en digterskap: ‘n oomblik van die epifanie word só vergestalt.

Delamaine du Toit is hier die verteenwoordigende Afrikaanse stem met sy prosaiese vertalings.

Daar is natuurlik Opperman se “Ballade van die grysland” (uit Negester oor Ninevé van 1947) waarin Dante ‘n interteks is. Onlangs het ‘n literator verkeerdelik gemeen ‘n mens moet terugkeer na die manuskripte om te sien in welke mate Opperman die Dante-verwysings verander en uitgehaal het. Die gedig aktiveer dit alreeds.

Die aller-hoogtepunt van hierdie boek is wat my betref Judith Mason se sketse met haar begeleidende konfessie oor die ontdekking van Dante op die Richtersveld en hoe ver die twee wêrelde uit mekaar lê. Haar intelligente verduideliking van hoe die simboliek werk, is vir enige leser ‘n openbaring van hoe die beeldende kunstenaar ‘vertaal’ wat die woordkunstenaar skryf. Veral waar sy skryf oor hoe ‘n mens met die bose moet omgaan en die presisie waarmee dit geregistreer moet word: "This apprehension of evil imprints itself on the reader’s sensibility, so that, like Dante’s she-wolf , it becomes central to one’s own mythology – an example of how the worst of images need to be conveyed by the most precise of means”.

Dan is daar Pippa Skotnes, self ‘n uitmuntende kunstenaar se vertolkings wat alreeds die besit van hierdie boek ‘n moet maak vir die kunsliefhebber.

Die belangrikste bydrae van hierdie mooi uitgawe is dat dit sowel kunstenaars as digters en akademici insluit met hul spesifieke interaksie met die werk van Dante. Don Maclennan se “Two poems & a note” illustreer ‘n gesprek vanuit ‘n agnostiese posisie. Soos by Watson is dit altyd openbarend om digters te hoor in die onbewaakte oomblik. Maclennan verwys na die eerste ervaring van Dante en hoe dit uiteindelik neerslag vind in sy werk. Dit is dan die skakels wat die digter maak, die verwysings na ander tekste en ervarings wat eweneens nuwe lig werp op ‘n digterskap van die grote Dante en in hierdie geval dan Maclennan.

Intellektuele beskouings soos Cullinan se “Ironies: Notes on three poems from the Divine Comedy” getuig van belesenheid, vakmanskap en ‘n besonderse respek vir die tradisie van die letterkunde.  Trouens, dit is met ‘n welbehae wat die leser hierdie essay lees en bewus word van ‘n respek vir letterkunde en welke verwysings in die oer-teks skuilhou. Die digter se reaksie op Dante se invloed op sy lewe en digkuns word met ironie verwoord. P.R. Anderson in “A murmuration of starlings: On an image in Dante & others” ondersoek die eenmalige aanwesigheid van die “sturnus vulgaris” in die Heilige Komedie.

Anderson, self digter, neem die leser op ‘n uitgebreide en fassinerende reis deur Dante en ander tekste en die aanwesigheid en betekenis van voëls en hul simboliek word uitmuntend beskryf.

Guy Butler se lang gedig “On first seeing Florence” word aangebied as ‘n uittreksel. Geleerdheid en wysheid straal uit die gedig. Die volgende wonderlike beeld bly eweneens in my kop draai:

“Nun’s fingers tell habitual beads to still
the heart for timeless prayer...”

Dan Wylie oortuig met sy redes vir hoekom ons steeds Dante bestudeer (ek deel sy ekstase oor Robert Pinsky se vertaling van Dante). Chris Mann & Julia Skeen se refelksies oor Dante is insigryk.

700 jaar na Dante se dood, is ons steeds besig om hom te doseer en oor hom te skryf. En dit is die grootste bydrae van hierdie boek wat die nalatenskap van ‘n groot figuur beskryf. Daar is ‘n grappige Gus Ferguson-cartoon agterin (hoe dan anders).

‘n Digter soos T.T. Cloete het Italiaans geleer om Dante te kon lees in die oorspronklike en ‘n mens sou ook in sy werk vele Dante-tekste kon raaklees wat sy gedigte vergesel; soos onder andere in die voortreflike Monroe-verse, ‘n eietydse ‘donna angelicata’.

Hoe spyt is ek nie dat ek weens werkdrukte nie kon deelneem aan hierdie pragboek nie!

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Wednesday, February 6, 2013

Stephen Watson - The Light Echo and Other Poems (2007)



Stephen Watson. The Light Echo and Other PoemsPenguin, 2007. ISBN 978 0 143 02 553 5.

Resensent: Joan Hambidge

I

Die geskiedenis van weemoed, melancholie sou die beste opsomming kon wees vir die liefdesverse in Stephen Watson se The Light Echo, die digter se sesde bundel.

In hierdie bundel word die metafoor van die ‘light echo’ gebruik om die impak van ervarings tussen mense, weer te gee. “A phenonomenon in space that occurs when light from a star that has erupted, sometimes several years ago, continues propagating outwards through the cloud of dust surrounding that star. The light reflects or ‘echoes’ off the dust and then travels to Earth”.

In spaars, onopgesmukte reëls karteer hy die moderne liefdesverhouding soos James Dickey en Anne Sexton op hul beste. Die ‘modern love’ waar mense mekaar ontmoet, saamwoon, maar altyd wag op iets beters, meer uitdagends of opwindend as die verhouding wat beleef word, soos skitterend verwoord in “How things turn out” (p. 10).  Daar is reisgedigte, geskryf in Bellagio – soos “Confiteor’’, p. 47 - in ‘n skrywers-retreat, wat meer word as ‘n reisvers: dit word ‘n meedoënlose afrekening met ‘n ouer, selfsugtige self. Dit is wat die leser voortdurend opval in hierdie bundel: die vermoë om agter maskers in te klim en leuens of konvensies aan die kaak te stel.

In hierdie verband is “The Light Echo” (p. 50 ) ‘n soort ars poetica. Watson is by uitnemendheid ook ‘n digter van die landskap (“The Gift”, p.64), maak selfs van die liggaam na die liefdespel ‘n soort landskap in die verruklike “The Imminence’’ (p. 65). Die digter benoem stilte en afwesigheid ( “a metaphysics of the atmosphere’’) in gedigte wat die onsêbare en die ‘unheimliche’ wil opvang.

Die mens se verwondering voor die grootsheid van die landskap word geëggo in natuurbeelde en die spreker word één met dit wat hy beskryf.

II

Die verse oor die San speel terug op verse in Return of the Moon met “The House of the Dream” as ‘n absolute hoogtepunt:

When
a Bushman
dies,
he becomes
a dream.

The house
of that dream
is small, a
bird’s house.

It wears
a little apron
like a Bushman’s
apron; it wears
a black dress
of mouse’s skin (p. 77….)

Droom en dood word een in hierdie verruklike vers waar die digter op ‘n behendige wyse die tegelykertyd-aspek illustreer van die digkuns: die dood ‘n droom word deel van die aarde, die konkrete. En in hierdie folklore word dit van alle boosheid ontkrag deur dit te begrawe. Direk na hierdie verse is daar reise na eksotiese ruimtes, speels beskryf as ‘travelogue’, maar in die reis is daar ‘n konfrontasie met die vreemde én bekende. Hierdie gedig word ‘n ars poetica en spirituele waarneming van die skryfdaad via Dante, Eliot, Borges, e.a.

Inderdaad oor “the nameless transits of life” word hierdie gedig ‘n metafisiese ondersoek na die betekenis van lewe en dood. Dit word ‘n spirituele aanvaarding dat ons Jungiaans deel word van ‘n soort kollektiewe onbewuste ná ons dood.

Daar is elegiese verse teen die einde van die bundel en hierdie lykdigte reflekteer eweneens die stand van die digkuns: die gedig word ‘n poskaart gelaat in verlate plek (“Relic’’, p. 116). Die bundel sluit met twee gedigte oor die Himalajas, sowel reis- as spirituele verslag met die sluiting die ervaring van sneeu, en dalk, die dood.

  
III

Dit is ‘n bundel wat die reputasie van Stephen Watson as digter gestand doen, ‘n digterskap waarin stad en natuur, die binnelandskap met besondere helderheid gekarteer word.
Dit is ‘n bundel wat helder voor die geestesoog staan met onthoubare reëls en insigte oor menswees.

Die sekelmaan wat lyk soos ‘n skyfie suurlemoen; die geliefde se begeerte wat met sy begeerte sinkopeer; ‘n blik op die geliefde voordat hulle verlief geraak het, bekyk met ‘n kliniese skildersoog.

Dit is opwindend, aangrypend. Watson is tans binne die Engels-Suid-Afrikaanse digkuns, ‘n uitstaande digter wat hoogs emosionele onderwerpe beheersd weergee.
Dit is ‘n lywige bundel, wat met elke lesing geheime prysgee.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]