Showing posts with label Kerneels Breytenbach. Show all posts
Showing posts with label Kerneels Breytenbach. Show all posts

Monday, August 19, 2019

Resensie | Kerneels Breytenbach – Hond se gedagte (2019)

Kerneels Breytenbach - Hond se gedagte. Human & Rousseau, 2019. ISBN 9780798179294

Resensent: Joan Hambidge

Met Morsdood van die honger en Piekniek by hangklip het Breytenbach homself goed gevestig as ‘n aweregse roman- en kortverhaalskrywer. Hond se gedagte is ’n satire, dalk eerder ‘n versnit van die werklike outeur se kennis van musiek, rugby en kos. 

Hierdie roman aktiveer die twee belangrike rugbyromans in Afrikaans aan my bekend: Stywe arm van Braam van der Vyver (1994) en Louis de Villiers se onderskatte Karma-polisie ontmoet die bokke (2012) (Woorde Wat Weeg/ Louis de Villiers - Kaapstad Karma-polisie ontmoet die Bokke (2012) Besoek 17 Augustus 2019).

En die tv-reeks Getroud met rugby.

Dat rugby ‘n soort godsdiens is, is oraloor bekend. Trouens, sport is gelyk te stel aan afgodery en kyk maar net hoe word groot sportsterre soos gode hanteer. Toe David Beckham beseer is, het die poet laureate van Engeland, Carol Ann Duffy so oor hom gedig:

Achilles
(for David Beckham)

Myth's river – where his mother dipped him, fished him, a slippery golden boy – flowed on, his name on its lips. Without him, it was prophesised,

they would not take Troy.

Women hid him, concealed him in girls' sarongs; days of sweetmeats, spices, silver songs . . .

but when Odysseus came,

with an athlete's build, a sword and a shield, he followed him to the battlefield, the crowd's roar,

and it was sport, not war,

his charmed foot on the ball . . .

but then his heel, his heel, his heel . . .

En dit mag. Hier is ook ‘n digter: Pedrovene Smith.

Die titel aktiveer alreeds iets omineus.

Om wantrouig te wees, lui die idioom,  en gaan kyk net hoeveel idiome bestaan daar in Afrikaans vir hond in Spreekwoorde en waar hulle vandaan kom van Anton F. Prinsloo (Pharos, 2004)

Hond-se-gedagte aktiveer 'n Franse klug van Feydeau vertaal deur Nerina Ferreira onder dieselfde titel. 

Die storielyn klink so:

Fleur de Villiers is nie 'n kenner van rugby nie. Wanneer haar ou pel Maurice Kumalo haar vra om 'n biografie oor die Springbok-rugbykaptein Katstert Nel te skryf, is sy om die minste te sê teësinnig. Haar voorliefdes in die lewe behels eerder fynere dinge, soos ondersoekende joernalistiek, goeie kos en wyn.

En die leser wonder ook: wat weet sy tog van rugby op die vooraand van die wêreldbekertoernooi in 2025. Was daar nie toeka se tyd ‘n joernalis met dié naam nie?

Van rugby beweeg dit flink na die Corpus Christi met Jaap Schvantz en Krystle. Ook dubbelsinnige name, meen hierdie leser wat 'n rugby- en sokker-kyker is.

En Schvantz is Jiddisj vir penis. Aha. Breytenbach se voorliefde vir Thomas Pynchon se grappies en Etienne Leroux se simboliese name skemer deur.

‘n Man wat boonop sy adult nappies bevuil.

Kerk, kos, rugby en seks.

Soos sex, drugs and rock and roll.

Grappies wat onder die oppervlak skuil. Sub-tekste ingeplant. Popol Vuh. Socks Mulaudzi. (Jy hoor soms die verteller innig knor, brommend van genot.)

Wat ‘n mens herinner aan die grap van Dorothy Parker toe sy ‘n sin moes maak met die word horticulture: You can bring the whore to culture, but you can’t make her think.

Fleur (o blomtyd se Moses) is ‘n dolla wat egter kan dink. Boonop ontdek sy tydens die projek dat sy nie eintlik van mense hou nie. En ‘n artisjok as ‘n simbool word ingespan en afgeskil (189).

Daar is letterlike honde: honde wat ingeboek word in hotelle, hondbesetenes, internasionale hondeskoue, ensomeer. En daar is Dawk. 

Dok Craven word ge-channel (ek wil nie meer verklap nie).

En luislangbollie en die stank wat sulke slange in aanhouding skep. Vuilspel agter die skerms en bekkenluise laat jou verder gril.

Fleur se ma plagieer Emsie Schoeman se etiket-handboek en Die-regte-manier-om-te-lewe word opgestuur.

Voyeuriste. Mitologie (rondom honde, die nofret, Ikarus) en verwysings na J.M. Coetzee se slimmighede oor rugby, vra vir dieper kyk (228). 'n Filosoof van die viernaatbal is hy immers, bely die verteller.

Melancholie na 'n geliefde se dood is ingebed en vrae oor Fleur se troebel verhouding met haar ouers aktiveer oeroue kwessies. 'n Onverwagse dood aktiveer weer die reëls van 'n moord- of spanningsverhaal. 

Nes die verwysing na die briljante literator Réna Pretorius se Ryk domeine ander leeskodes aktiveer. En 'n tersluikse verwysing na wyle Harry Kalmer.

‘n Lekker analise van sosiale kodes en gewoontes. En hoe vinnig vriendskap kan oorgaan in vyandskap.

Elke hond kry sy dag; lyk soos 'n hond wat vet gesteel het; moenie slapende honde wakker maak nie is eweneens hier ter sprake.

'n Mix van speurverhaal en sosiale mores. Prisplooi en sekswerkers. Corpus Christi teenoor rugby. Die obsessie met Britse adel is ook hier en hul manewales wat die pers aan die lewe hou.

En die name: Katstert, Lektriek, Slapogie, Consuela, Pedrovene, Funky DD ...

Soveel siele, soveel gebede. Soveel spanne, soveel reëls. Soveel kaartjies, soveel parkeerplekke. Soveel lesers, soveel menings.

Veral rugby-kenners en -liefhebbers sal die roman geniet.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Fine Music Radio geplaas.]

Sunday, November 30, 2014

Brief: Paul Fouché oor 'Ester' van Kerneels Breytenbach



Taffie Kikillus

Brief: Die Burger 24/11/2014

Op 22 deser skryf Paul Fouché oor Kerneels Breytenbach se roman Ester: "Taffie Kikillus was nie op die trein nie". Hy wys dan daarop dat "ware feite" sou die nagedagtenis van dié ou meester tot eer kon strek. Hy het dit verder oor die "werklikheidsillusie" wat ooglopend 'n steunpilaar van die roman blyk te wees.

Hy vind dit eweneens jammer dat Breytenbach blykbaar net vir Ollie Viljoen as enigste bron vertrou het.

Indien meneer Fouché die opskrif van die onderhoud met Elmari Rautenbach gelees het ("Spioenasie-intrige deels ware verhaal") sou hy alreeds kon besef het dat die roman met feite toor. In die roman word die hoofkarakter se identiteit eweneens vervals sodat 'n leser wat hierdie roman met 'n geskiedenishandboek oor D.F. Malan sou lees, die oorgang tussen feit en fiksie sou miskyk.

Daar is ander romans soos D.M. Thomas se Flying into Love (1992) oor die Kennedy's en The Public Burning (1977) van Robert Coover wat eweneens hierdie spel tussen fiksie en feit volhou. In Afrikaans het Stephanus Muller se Nagmusiek sopas verskyn: 'n biografiese roman oor Arnold van Wyk, wat eweneens die leser laat nadink oor wat waar en wat wolhaar is?

Ek ontken nié die briefskrywer se enorme historiese kennis nie; ek dink net romans werk met ánder beginsels, selfs al is daar sprake van sogenaamde "werklikheidsillusies" of "vraisemblance". Met ander woorde, jy moet die geskiedenis ken om dit nuut aan te pak: die waarheid gelieg.

Joan Hambidge

Sunday, November 9, 2014

Kerneels Breytenbach - Ester (2014)


Kerneels Breytenbach - EsterHuman & Rousseau, 2014. ISBN 978-0-7981-6795-6.

Resensent: Joan Hambidge

I

Ester is Kerneels Breytenbach se roman na die besondere Piekniek by hangklip waaroor ek uitgebreid geskryf het. So word die roman bemark:

’n Meesleurende roman oor ’n verbode passie en ’n politieke intrige. Dis gebaseer op ’n werklike historiese insident, en die gevolge daarvan: Die ontmoeting in 1940 tussen Dr D.F. Malan en ‘n Duitse spioen, mev Thyra Denk. Nou, in 1946, kry Dieter Bergman, ’n senior polisieman, instruksies om mev Denk per trein van Windhoek na Kaapstad te vergesel, waar sy voor ’n Gekose Komitee van die Parlement moet getuig. As daar bewys kan word dat Malan met die Nazi’s meegewerk het tydens die Tweede Wêreldoorlog, kan hy van hoogverraad aangekla word en sal dit die einde van sy politieke loopbaan beteken. Tydens die lang reis per trein ontstaan daar ‘n verhouding tussen Bergman en die beeldskone spioen. Op die trein is egter ook ene adv Doerkstra. Sy missie: hy moet die spioen in die geheim te sien kry en haar oorrreed om nie met haar getuienis Malan se loopbaan te vernietig nie.

II

Hierdie knap opsomming gee die buitelyne van die verhaal weer en hierdie roman word deur Hettie Scholtz op die buiteblad tereg as volg beskryf: "Wat 'n plesier. Wat 'n leeservaring. Wat 'n plot!"

En inderdaad is die plot die indrukwekkendste aspek van hierdie spanningsverhaal waar identiteite ómgeruil is. Wie is Mevrou Denk nou eintlik? En waarom is Ester so 'n verleidster?

Die intense spanning tussen die twee manlike hoofkarakters, Bergman en Doerkstra, wentel rondom hul verskillende opdragte, maar uiteraard gaan dit ook om seksuele jaloesie en kompetisie. Dit word raak opgesom in 'n eettoneel (222) en hoe hulle na mekaar kyk in 'n tartingstoneel (214).

Teenoor die gesofistikeerde eetrituele is daar die treindrywer en stoker se etes. Hiermee word daar skerp kommentaar gelewer op die rol van die werkersklas wat juis deur Hitler gemanipuleer is.

Doerkstra in 'n eettoneel met Jurie Kimberley en Barkies verduidelik die klasverskille en dit is 'n belangrike vehicle om vir sowel húlle as die lesers 'n siening oor Smuts en die oorlog oor te dra. 'n Gesprek tussen die slim advokaat en die ongeleerdes word 'n kortpad om belangrike feite te belig. Die sogenaamde "politcal unconscious" van die teks, soos Fredric Jameson dit tipeer.

Op dieselfde wyse word gedeeltes uit Die Brandwag deel van 'n gesprek oor die lot van die spoorwegwerker (273). En gesofistikeerde sang teenoor volkse liedjies is 'n ander opposisie wat uitgewerk word (286). Die toneel van aanranding, die rol van die mes en aanhitsing en die feit dat die AO kan Duits praat met die spioen skep verskillende lae van betekenis. En ja Van Wyk Louw en Greshoff is eweneens in 'n restaurant aan't stry (300).

Daar is 'n paar belangrike aspekte wat in hierdie roman beklemtoon moet word. Die skrywer se kennis van musiek - wat die wending of dénouement tot gevolg het - en    kos as 'n ritueel kom handig te pas. Verder kan menige Afrikaanse skrywer by hom gaan kers opsteek oor hoe om oor die lyflike te skryf. 'n Sekstoneel in 'n kompartement gaan verby die boekerigheid wat meeste sekstonele bederf.

Die roman gebruik die historiese gegewe van Dr Malan en die Tweede Wêreldoorlog as die backdrop waarteen hierdie drama van verraad en dubbelspel gekaats word, maar sonder dat dit dordroog raak. Die meeste historiese romans raak op die duur vervelig, omdat die teks loodswaar raak onder die dorre feite. Buys van Willem Anker is juis uitstekend, omdat die skrywer fiksionaliseer en grense verskuif.

Ester is veerlig geskryf, maar met 'n sub-teks vol verwysings en toespelings soos na Marlene Dietrich (sien Marlene Dietrich - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 8 November 2014; kyk na die voorblad) en ander herkenbare figure soos Hendrik Susan, Karl Bremer, Chris Blignault, ensomeer wat die teks kompleks maak.

Die femme fatale wat mans se oordeel aantas, word deur die kode van Marlene Dietrich in die roman gedra. Ook die terloopse verwysings na Adolf Jentsch is relevant en die treinreis word besonder goed weergegee. Daar word telkens kommentaar op die landskap gegee; miskien te bewustelik op bladsy 294? Is dit die implisiete outeur wat hier deurslaan?

Net soos die ritueel van rook wat eweneens klasverskille aandui.

III

Breytenbach se kennis van musiek en kos (as gedugte musiek- en kosskrywer) word in hierdie teks maksimaal ontgin. Dit is letterlik 'n unputdownable roman.

Inderdaad is die duiwel 'n vrou. Dit is in ander sleutel as Piekniek by hangklip (2011) geskryf, wat met vele ingebedde tekste en toespelings werk. (Hieroor is daar 'n artikel in Stilet, 2012 gepubliseer en op hierdie blog te vinde).

Die geskiedenis van dr Malan - met sy weekdier oë, 136 - verduidelik waarom hierdie land 'n bepaalde rigting ingeslaan het. 'n Historikus sal kan wys op die spel tussen fiksie en werklikheid, maar vir die letterkundige leser is dit oortuigend as storie.

Die hoftoneel en veral die slot - uit die perspektief van die ouer juris - is aangrypend. Die verhaal van die frotteur, hier op 'n psigologiese vlak. (Sien Frotteurism).

Die enorme, goed verwerkte navorsing is indrukwekkend.


Kerneels Breytenbach

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunnning van Fine Music radio)

Wednesday, September 3, 2014

‘n Literêr-teoretiese speurtog: ‘n analise van Kerneels Breytenbach se Piekniek by Hangklip


Opsomming

Kerneels Breytenbach se Piekniek by Hangklip tree in gesprek met die tradisie van die speurverhaal wat sedert E.A. Poe se The purloined letter ‘n aktiewe speurder het. Hierdie roman is egter ‘n speurverhaal sonder ‘n speurder sodat die leser in die posisie van die speurder geplaas word. Daar is etlike tegnieke wat deur Breytenbach aangewend word om hierdie effek te bewerkstellig, te wete die toespeling op Peter Weir se bekende film, Picnic at Hanging Rock en die gebruik van ‘n ouktoriële verteller wat veral in die romans van o.a. Fielding na vore kom. Hierdie verteller is outoritêr en manipuleer die vertelling met opsommings en binnetredes. Daar is ook aandagafleiers (red herrings) in die roman wat die speurverhaal vérder parodieer, soos verwysings na bekende en minder bekende Afrikaanse gedigte en werklike mense. Terselfdertyd betrek die outeur ook strategieë van twee satirici, te wete Etienne Leroux en Thomas Pynchon. Beide hierdie skrywers het in Een vir Azazel (1964) en The crying of Lot 49 (1966) die konvensionele speurverhaal se struktuur verander. Uiteindelik word Piekniek by Hangklip ook ‘n besinning oor die funksie van fiksie binne ‘n geweldgeteisterde samelewing.

Abstract

Kerneels Breytenbach’s Piekniek by Hangklip subverts the tradition of the detective novel since E. A. Poe’s The Purloined letter where there is a visible detective. Piekniek by Hangklip is a novel without a detective thereby positioning the reader as detective. Breytenbach imposes certain techniques to achieve this, namely a reference to Peter Weir’s well-known film Picnic at Hanging Rock and the use of the authorial narrator as demonstrated in the novels of Fielding. The authorial narrator is authoritarian and manipulates the story through summaries and intrusions. The detective story is parodied further by means of red herrings, for instance references to well-known and obscure Afrikaans poetry and real persons. Simultaneously strategies of well-known satirists, namely Etienne Leroux and Thomas Pynchon are also employed. Both authors undermine the structure of the conventional detective story in Een vir Azazel (1964) and The crying of Lot 49 (1966). Piekniek by Hangklip could be read as a meditation on the the role of fiction in a society marred by violence.


1 Die speurverhaal

Die speurverhaal, sedert Edgar Allen Poe se The purloined letter, het altyd ‘n speurder wat die leser se interpretasies bepaal. C. Auguste Dupin tree in op Poe se klassieke verhaal, wat oorspronklik in 1844 in ‘n literêre tydskrif verskyn het. Die ander twee verhale waarin hierdie speurder ook ‘n rol vertolk, is The Murders in the rue morgue en The mystery of Marie Rogêt. Die verhale het oorspronklik in ‘n letterkundige tydskrif verskyn soos dit gebruiklik was in die laat negentiende eeu. Die naamlose verteller openbaar aan Dupin van die belangrikste sake en die hoof van die polisie wat by hulle aansluit, vertel dan vir Dupin van ‘n saak wat handel oor afpersing. ‘n Brief word omgeruil met ‘n ander een (die duplikaatbrief) en dit gee dan aanleiding tot die storie. Die soektog na die gesteelde brief word nie opgelos nie en hierom word Dupin gevra om hulp. Dupin vind die brief, ontvang die beloning van die polisiehoof (“Prefect”) en bely dan dat die dief besef het dat die speurders sou soek in verborge plekke en hierom is dit nie versteek nie, maar oop en bloot geplaas sodat niemand dit sou raaksien nie. Dupin besoek die minister in sy hotel. Dupin ontdek ook dat D- ‘n nuwe adres op die gesteelde brief geskryf en sy eie stempel daarop afgedruk het. Die brief is ook teruggevou. Dupin laat sy snuifdosie agter as alibi om die volgende dag te kan terugkeer na die hotel. ‘n Geweerskoot in die straat laat D- buitentoe gaan en Dupin ruil die brief om met ‘n duplikaat. Dupin herhaal dus die optrede van D-. Die speurder in hierdie verhaal is net so slu soos die dief en dupliseer sy optrede. In Kerneels Breytenbach se Piekniek by Hangklip daarenteen, weet die leser vanaf die openingstoneel wie die moordenaar is: Joshua Gumbo (van die Lucky Thirteen-sindikaat) skiet Sonja Griessel se ouers per ongeluk dood tydens ‘n mislukte kaping. [1] Sy soen haar kaper op die mond wanneer sy haar balans verloor tydens die kaping. Dit ontstig hom so dat Josua haar dan agtervolg. Hy het deur hierdie aksie sy mojo verloor. Sy vertrek Kaap toe om die traumatiese gebeure te verwerk en vestig haar op Pringlebaai. Die soektog na Sonja word deur psigologiese spanninge gekenmerk soos in Georges Simenon se Maigret-reeks waarin die speuraksie ondergeskik is aan wat tussen mense gebeur. ‘n Nuwe huis word vir haar ontwerp deur ‘n argitek en terwyl die moordenaar na haar soek, vermoor hy ook ander mense. Verskeie karakters, dikwels onbetroubaar, word aan die leser voorgestel, soos prokureurs, eiendomsagente, boukontrakteurs, swartbemagtigingsaktiviste, ‘n hermafroditiese literêre biograaf, onder andere, wat soos in ‘n Pynchon-roman die raaisel of soektog, kompliseer. (Hierop kom ons terug in afdeling 6.) Hierdie roman word egter beskryf as “’n speurverhaal sonder ‘n speurder”; daarom is die leser uiteindelik die speurder saam met die manipulerende ouktoriële verteller. (Hierop kom ons terug in afdeling 3.)
Die debat tussen Lacan en Derrida benadruk dat skryf en dood gelykgestel kan word. In hul analises van Poe se The purloined letter handel dit om die aleteia oftewel “unveiling” van verskillende maniere van interpretasie. Die doelwit van hierdie artikel is nie ‘n psigoanalitiese ontleding nie, maar eerder ‘n speurtog na die verwysings en spel met die speurverhaal. Die “Seminar on the purloined letter” opgeneem in Yale French Studies van 1972 wys op die verskillende interpretasies en Derrida se siening dat die brief (“die letter”) sowel Dupin as die psigoanalis se oog sal ontglip. Die speurverhaal se moontlikhede word steeds ontgin soos in die BBC se Sherlock Holmes-reeks waarin moderne tegnologie – soos blogs en selfone – help om die moordenaar vas te trek. Sherlock “sterf” ook in Deel II se laaste episode wat weer inspeel op Agatha Christie se Curtain: Poirot’s last case waarin Hercule Poirot aan die kaak gestel word. Verskeie reekse soos The killing wat in Seattle afspeel, werk met die kodes van die speurverhaal en vraisemblance met toespelings op werklike politieke gebeure. Umberto Eco se roman The name of the rose het eweneens in die tagtigerjare die speurverhaal ontgin met Sean Connery in die filmweergawe. Die speurverhaal word nie meer as ‘n mindere genre beskou nie en die tekste van ‘n gesiene teoretikus soos Eco bewys dit.

2 Die titel

Piekniek by Hangklip verwys na Peter Weir se rolprent Picnic at Hanging Rock (1975) met sy onseker einde. Wie is die skuldige? Die oop slot van die film laat die kyker teoretiseer oor die implikasies dat daar nooit sekerheid gevind sal word oor presies wat gebeur het nie. By Breytenbach word die skuldige van die openingstoneel aan ons bekend gestel. Ons is getuies wat toekyk hoe die verhaal ontvou. Weir se rolprent werk met ‘n oop slot en die kyker vind nie sluiting nie. Die tradisionele speur- of moordverhaal is gerig op sluiting (“closure”) met ‘n moordenaar(s) of skuldige wat deur ‘n slim speurder uitgevang word. [2] Die rolprent is gebaseer op Joan Lindsay se gelyknamige roman van 1967. In die publikasie van The secret of hanging rock verduidelik Lindsay haar sieninge oor die verdwyning. Die gegewe in die oorspronklike teks is egter sterker, omdat daar nie sluiting is nie en die misterieuse aspek beklemtoon word. Dalk het die meisies in ‘n ander tyd inbeweeg, naamlik ‘n ervaring van die primordiale wêreld van die oerinwoners (aborigines). Die verduideliking van die skrywer dekonstrueer ook die gegewe dat dit ‘n werklike verhaal is, wat sowel in die roman as in die film die gegewe besonder kragtig maak. By Breytenbach is daar ook ‘n werklikheidsdimensie ingebou in die toespelings op die geweld van die moderne samelewing en verwysing na herkenbare ruimtes en mense.

3 Die vertelinstansie: ‘n ouktoriële verteller

Die subtitel van die roman lui as volg: Die geskiedenis van die avonture van Joshua Gumbo en Sonja Griessel. Geskryf in vae navolging van Henry Fielding, outeur van Joseph Andrews. In een volume.

Breytenbach skep ‘n ouktoriële verteller wat van die leser ‘n medepligtige maak met uitsprake soos “boonop weet hy nie wat ons weet nie” en met hofies wat ‘n hoofstuk voorafgaan. Jy, dus die werklike leser, word ook as liewe leser aangespreek. Dit is dus ‘n vertelling wat deurentyd kommentaar lewer op die leesproses en die gebeurlikhede soos dit ontvou. En daardie “ons” is dan eintlik die leser-as-speurder. Henry Fielding (1707 – 1754) se Joseph Andrews is ‘n duidelike interteks wat die opsomming van die verhaalgebeure verduidelik. Fielding was magistraat; Sonja is prokureur. Daar is ook toespelings op die Pamela / Shamela-parodie, te wete die antwoord op Richardson se ernstige roman, wat deur Fielding ontluister en gesatiriseer word. Die roman speel in op Etienne Leroux se Een vir Azazel (1964) met die roman se eiesinnige aanpassing van die speurverhaal. ‘n Mens dink ook aan Erica Jong se Fanny (1991), wat met die tradisie van die Fielding-roman in gesprek tree. Die verhaal van Fanny Hackabout-Jones is ‘n parodie van Fielding se werkswyse. Die ouktoriële vertelinstansie, anders as die personale verteller (derdepersoon), maak die leser deurentyd attent op die fiksionaliteit van die teks, die roman-as-konstruksie. Die sogenaamde “suspension of disbelief” word telkens opgehef en die verhaalgang word ondermyn deur hierdie soort verteller wat breuke in die verhaalgang veroorsaak. In die filmkuns versteur die montage-tegniek die verhaalgang. Culler wys daarop in Structuralist poetics (1975) dat dit ‘n bekende tegniek is van die speurverhaal vir die karakters om die aard van die speurverhaal te bespreek. By Breytenbach is dit die verteller wat hierdie funksie vervul met sy meta-kommentaar en volgens Culler kan hierdie spel met genre-konvensies gesien word as pseudo-parodie, ‘n term van Empson (1975: 150).

4 Literêre toespelings en die implikasies van skryf

Daar is ‘n literator (hy is ‘n trassie) wat biografieë skryf, onder andere oor Abel Coetzee en Jan Senekal. Hierdie spel kry verdere ironiese dimensies veral sedert die afsterwe van J.C. Kannemeyer, die bekende biograaf, in Desember 2011. Op bladsy 414 word die spel ondermyn deur na die werklike biograaf, J.C. Kannemeyer (“die illustere J.C. Kannemeyer”) te verwys. Die verskil tussen die werkswyse van die karograaf en biograaf word hier verduidelik met die implikasie dat ‘n werklike karakter se optrede in ‘n roman fiksionele dimensies aanneem.

Karel Schoeman maak ‘n buiging, soos Barend J. Toerien met sy groot neus. Hierdie inspelings op werklike mense is eweneens ‘n tegniek wat die vraisemblance of werklikheidsdimensie van die verhaalgegewe versterk. Die leser word deur hierdie soort toespelings daarop attent gemaak dat hy/sy besig is met ‘n stuk werklikheid of reportage. Terselfdertyd is dit ook ‘n oomblik van ontluistering: ‘n biografie oor mindere letterkundige figure is onvoorstelbaar. En die verhale oor bekende skrywers soos Schoeman en Toerien (en die mites rondom hul lewens), maak van die skinderstorie ‘n feit, wat die leeservaring problematiseer. Wat is waar? Wat is verdigsel?  Op ‘n skerpsinnige wyse word die rol van die verteller en skrywende instansie geanaliseer en die talle verwysings na die bestaan van God, Boeddha, karma, die noodlot, word ‘n meditasie oor die implikasies van skryf. Flaubert se dictum oor die funksie en rol van die skrywer in ‘n verhaal, word gedekonstrueer. Die verteller meng die hele tyd in en is nooit afwesig nie, terwyl Flaubert se bekende dictum juis was dat die skrywer soos God in die natuur, orals aanwesig, maar nêrens sigbaar is nie.
Ons vind eweneens vreemde name vir karakters, so bekend aan Thomas Pynchon se werkswyse waar dit ‘n simboliese implikasie dra, soos Jaap Schvantz of Cas van Ryneveldt. (Oedipa Maas by Pynchon in The crying of Lot 49 gepubliseer in 1966, beteken: Oedipus, my ass). Daar is vele toespelings: na musiek, na kos, volksfabels en ander verhale wat bydra tot die werklikheidsdimensie van die roman.

Hierdie spel is eweneens bekend aan die filmkuns. Die films van Austin Powers parodieer James Bond en júis in sy satiriese antwoorde wys hy op die pornografie van geweld in Bond-films. Hierdie roman wil ons, soos wat Fielding gedoen het, attent maak op die werklikheid daarbuite. Hierom herken ons werklike mense, soos wyle Kobus Pienaar, aan wie die roman opgedra is. Terselfdertyd kry die karakters nuwe argetipiese status binne die opset van die roman. Die roman tree uiteindelik in gesprek met Sewe dae by die Silbersteins (1962) en veelal lewer die roman vernuftige kommentaar op die gesprek tussen Etienne Leroux en Thomas Pynchon. Fielding se siening oor hoé romans die werklikheid reflekteer. Die verwysings na Kafka en Henry James verdien verdere speurwerk oor hul sieninge van wat romans wil bereik. Nabokov is ook aanwesig: Pynchon was ‘n student van Nabokov aan die Cornell Universiteit en die bekende lesings oor die struktuur van romans soos, onder andere, Madame Bovary, Anna Karenina, Ulysses, word in die beroemde lesings verduidelik. Die roman verwys eweneens na Aristoteles se siening van oorsaak en gevolg, wat telkemale deur die verteller gedekonstrueer word.

Die roman betrek ook Die mugu (1959) en hoe toeval ‘n lewe kan verander.

Die vreemde name wat simboliese implikasies het, speel in op sowel Pynchon as Leroux se werkswyse. (Afdelings 6 en 7.) Elizabeth Dipple wys daarop dat sowel Umberto Eco as Borges die speurverhaal as ‘n “dominant metaphysical mode” sien:”the unraveling of which leads to major epistemological illustrations through which the author can impose his/her will, or at least demonstrate it to the reader” (48). So gelees, kan die speurverhaal gesien word as ‘n soort roman waarin sterk ideologiese kommentaar gemaak word in ‘n gemeenskap waar daar op ‘n daaglikse vlak uiterse geweld plaasvind en veral deur die media in besonderhede beskryf word. Plaasmoord (2010) is onder andere die titel van Karin Brynard se roman, terwyl daar ‘n toenemende aantal Afrikaanse romans binne hierdie sub-genre verskyn het die afgelope tyd, soos van Chris Karsten se Die Afreis van Abel Lotz (2012), Piet Steyn se Snoeiskêr (2008), Francois Bloemhof se Helse manier van koebaai sê (2011), Dirk Jordaan se Arendsnes (2012), om belangrike name uit te sonder. Jordaan skryf ‘n polisieroman waarin dossiere en prosedures gebruik word om die moord op te los. Die gewildheid van Deon Meyer se speurverhale, sowel binnelands as buitelands, bevestig watter belangrike plek hierdie sub-genre tans beklee nes die televisie-speurreekse soos Wallander (BBC), The Killing (VSA), Damages (VSA) en Sherlock Holmes (BBC). 

5 Aandagafleiers (Red Herrings)

Culler (1975:148) wys daarop dat die speurverhaal gesien kan word as ‘n “force of genre conventions” en dat die leesplesier opgesluit lê in die karakters se psigologiese intelligensie en ‘n oplossing in die slot waarin alles uiteindelik onthul sal word. Daar is ook ‘n patroon in hierdie soort teks, te midde van allerlei besonderhede; terselfdertyd erken hy dat hierdie patroon oortree (“violated”) of gesubverteer kan word. Die leser het wel ‘n verwagting in hierdie soort teks. Hy verwys na die vraisemblance van genre “whose fundamental device is to expose the artifice of generic conventions and expectations” (1975: 148). Die gebruik van toevallige en aweregse verwysings na die Afrikaanse digkuns, parodieer die rol van die leser as speurder vérder. In die eindnotas (erkennings) word daar verwys na Groot Verseboek, Martjie van Celliers en Opperman se Voëlvry. Die digkuns van Opperman werk ook met die speurverhaal-gegewe soos die gedig “Draaiboek” en “Blom van die baaierd”(uit Blom en baaierd, 1956).

Die slot van “Blom van die baaierd” word ‘n opsomming van die aard van die speurverhaal: ‘n analise van paranoïa en geweld in die moderne samelewing:

En hulle vind hom waar hy takkies breek
en bid om sy en Brakfontein se sonde,
om dié van Brussel, Jerusalem, en elke streek…
waar hy rooi kappertjies in al die wonde,
die halfoop oë en neusgate steek (1987: 225).

Op bladsy 16 van Piekniek by Hangklip sit die predikant, dominee Johann, sy arms om haar skouers en in sy binnespraak verwys hy na Totius (“Ons weet wat in sy gedagtes is, dat hy weet van die verlies wat soos ‘n pyl in haar brand, die Here alleen weet wat sy ly…”) wat op ‘n onluistering van Totius se bekende lykdig neerkom en met seksuele innuendo gelaai word.

Die pyn-gedagte

o Die pyn-gedagte: My kind is dood! …
dit brand soos ’n pyl in my.
Die mense sien daar niks nie van,
en die Here alleen die weet wat ek ly.
Die dae kom en die nagte gaan;
die skadu’s word lank en weer kort;
die drywerstem van my werk weerklink,
  en ek gaan op my kruisweg vort (...)


Die daaropvolgende verwysing na Ina Rousseau se gedig “Eden” oor die mensepaar:”Staan daar nog in Eden êrens die mislukte tuin” word geparodieer om die sinisme van die ouktoriële verteller te beklemtoon.

   Eden

Staan daar nog in Eden êrens,
verlate soos ’n stad in puin,
met poorte grusaam toegespyker,
deur eeue die mislukte tuin?
Word daar nog die swoele dae
deur swoele skemering en nag vervang
waar donkergeel en purper vrugte
verrottend aan die takke hang?
Sprei daar ondergronds ’n netwerk
soos sierkant deur die rotse heen:
die sware, onontgonne riwwe
van goud en onikssteen?
Vloei daar deur die natgroen struike
nog met kabbeling wat ver weerklink,
die viertal glasblink waterstrome
waarvan geen sterfling drink?
Staan daar nog in Eden êrens,
verwaarloos soos ’n stad in puin,
gedoem tot langsame verrotting
deur eeue die mislukte tuin?

In Culler se terme word die leser se verwagting gesubverteer (1975: 140). Die bekendheid met Afrikaanse gedigte word binne die konteks van die speurverhaal ontluister. Terselfdertyd kan dit ook gelees word as ‘n verlange na ‘n tyd vóór gewelddadigheid.

Kuberkrakers, dieetspeurders, argitektuur, Nietzsche, Latynse frases, spirituele debatte, die soeke na jou mojo (sleng vir “movement and joy”), vertrouenswendelaars in religieuse praktyke (soos die United Church of Zambia), maak van hierdie parodies-satiriese roman ‘n ervaring wat die leser enersyds amuseer (soos ‘n verwysing na gedekonstrueerde kookkuns!) en andersyds ontstem. Die leser is voortdurend in ‘n ondergrondse netwerk van verwysings en vals of vreemde toespelings. Die sogenaamde aandagafleiers of “red herrings” neem die leser na ‘n ander werklikheid buite die teks. Veral die toespelings op die gekanoniseerde Afrikaanse digkuns veronderstel ‘n ander letterkundige sisteem, wat ver verwyder is van die konvensionele opvattings oor die digkuns. Ironies genoeg, word onder meer ‘n gedig betrek van Totius wat handel oor die gewelddadige dood van sy dogtertjie waarmee die roman ontstemmende kommentaar lewer op die ooreenkomste tussen fisiese en psigiese geweld.


6 Die gesprek met Etienne Leroux

Die partytjie in Hoofstuk XX aktiveer Leroux se Sewe dae by die Silberteins (1962). Dit is veral Een vir Azazel (1964) wat die duidelikste interteks vorm vir hierdie roman. Die bekende Quis, quid, ubi, quibus auxiliis, cur, quomodo, quando? (Wie, wat, waar, waarmee, hoekom, hoe, wanneer?) word in hierdie roman verander na: Ubi?, Quid?, Cur?, Quis?, Quibus Auxiliis?, Quomodo?, Quando? omdat die struktuur van die speurverhaal gedekonstrueer word. Die speurder is die hakkelende Demosthenes H. de Goede.
Een vir Azazel speel op die Welgevonden-landgoed af. Jock Silberstein se plaas is geskenk aan die Stigting en die skoonseun Henry van Eeden-Silberstein woon nog op die plaas. Sy vrou Salome sterf by die geboorte van haar seun, die reus Adam Kadmon, ‘n idioot. ‘n Meisie, Lila word vermoor en Demosthenes H. de Goede, die hakkelende en filosofiese speurder, ondersoek die moord. Dr. Johns begelei en verduidelik alles aan die speurder en Adam, die reus, is die sondebok wat geoffer moet word. Die gegewe verwys na die Bybelse verhaal wat opgeteken staan in Levitikus 16. [3] Die Engelse vertaling van hierdie roman heet One for the devil wat die vergeldingsaspek sterker beklemtoon.

In hierdie roman word daar verwys na die kitsch op Welgevonden. Die plastiekswaan sal ‘n “stukkie kitsch wees op die kaggelrak van hul herinnerings” (1984: 137) en in Piekniek by Hangklip word die hele kwessie van argitektuur en kitsch eweneens te berde gebring in die gesprekke met die argitek.

“Dis die kwartaallikse piekniek by die forellemeer,” sê dr. Johns. “Psigoterapeutiese ontspanningsgenot.” (1984: 175).

Hierdie passasie dra die saad vir die latere roman, Piekniek by Hangklip, soos gevind deur die leser-as-speurder. Die Meturgeman, wat as intellektuele gids optree by Leroux word in Piekniek by Hangklip vertolk deur die ouktoriële verteller wat met kwasi-wysgerige en ontluisterende opmerkings die verhaal verduidelik aan die leser. Die hakkelende Demosthenes H. de Goede word in Breytenbach se roman geparodieer met die hakkelende Joshua: “d-dalk selfs ‘n derde” (2011: 113).

7 Die gesprek met Thomas Pynchon

Thomas Pynchon se The crying of Lot 49 (1966) word beskou as ‘n baanbrekende teks binne die Amerikaanse postmodernisme. Die verhaal handel oor Oedipa Maas se hantering van die stryd tussen twee posdienste, te wete Thurn & Taxis en die Trystero. Vanaf die agtiende eeu is hierdie twee posdienste in ‘n stryd gewikkel en daar bestaan ‘n stel vervalste seëls as “bewysstuk” van hierdie stryd wat Oedipa probeer oplos in die sestigerjare in San Francisco Bay Area. Oedipa is dus die speurder wat orals tekens sien van hierdie stryd.

Die briewebokse word verdoesel as vuilgoedblikke waarop W.A.S.T.E. gegraveer is:  We await silent Tristero’s empire met ‘n ikoon wat beskryf word as ‘n “loop, triangle and trapezoid” (1982:34).

Vir ‘n duidelike aanwysing van  al die karakters in hierdie komplekse roman, is die wikipedia handig (The Crying of Lot 49 - Wikipedia, the free encyclopedia. Besoek 19/1/2012). Tanner skryf eweneens oor die karakters in Thomas Pynchon (1982).

Trystero is ‘n kreatiewe skepping van Pynchon. Wanneer Oedipa se voormalige geliefde, Pierce Inverarity, sterf, word sy die ergenaam en ontdek as ‘n soort speurder dat alles nie pluis is met Trystero nie. 

Sy is getroud met Wendell "Muncho" Maas, ‘n platejoggie in Kinneret en ‘n LSD-verslaafde. Hy is onder andere gaande oor die musiek van Sick Dick o.a. Sy het ‘n verhouding met Metzger, ‘n prokureur wat haar help met die testament. Sy regsfirma heet “Warpe, Wistfull, Kubitschek and McMingus”. Daar is ‘n “band”, The Paranoids en deur hierdie name lewer Pynchon satiriese kommentaar. Oedipa se shrink heet Dr. Hilarius en in aansluiting by Nabokov, wie se minagting vir psigoanalise bekend was, skryf hy LSD aan haar voor. [4] Verder blyk dit dat hy ‘n Nazi-dokter in Buchenwald was. Hier het hy deelgeneem aan ‘n program om Jode tot waansin te dryf. John Nefastis en Stanley Koteks is twee wetenskaplikes wat iets weet oor die Trystero, wat Oedipa probeer ontfutsel. Randolph Driblette is die regisseur van die drama The courier's tragedy, die drama wat Oedipa meemaak, omdat sy weet dat Driblette haar van inligting kan voorsien. Hy pleeg egter selfmoord. Mike Fallopian wat sy in ‘n kroeg ontmoet, blyk wel oor inligting te beskik oor die Peter Pinquid-vereniging. Genghis Cohen, ‘n filatelis, verskaf leidrade oor die ontslapene se seëlversameling. Dit is ‘n belangrike kode, omdat in die gesprekke tussen hom en Oedipa die kwessie van vervalsing na vore kom, wat die roman plaas binne die postmodernisme as ‘n konterfeitsel van die werklikheid. Professor Emory Bortz, is ‘n dosent aan San Narciso (‘n samestelling van San Francisco en narcisme), wat ‘n kenner is van Wharfinger se werk, die drama wat Oedipa sien. Hy blyk ook iets te weet oor Trystero, wat verdere onsekerheid oor die misterie in die hand werk.

Tanner wys daarop in sy studie oor Pynchon (1982: 56) dat hierdie verhaal die speurverhaal ómkeer. Die verhaal se misterie vermeerder hoe vérder dit ontwikkel, terwyl die leser juis ‘n oplossing verwag. Die naam Oedipa Maas aktiveer die eerste speurverhaal in die Westerse literatuur, te wete die Oedipus-verhaal met die oplossing van die raaisel en ondermyn dit terselfdertyd, want Maas beteken ook “my ass” en kan gelees word as ‘n bekende karakteriseringstegniek by Pynchon:“The relationship between individual and name is deliberately problematized – and caricatured –in Pynchon’s texts” (1982: 60). Elkeen wat ‘n leidraad het, wil dit nie bekend maak nie of sterf. Die speurverhaal beweeg tot sekerheid; iets wat Pynchon deliberaat omkeer: alles word juis al hoe meer duister en ingewikkeld.
In die derde hoofstuk staan daar:”Things did not delay in turning curious”(1982: 29) en daar etlike semiotiese aanwysings en leidrade gegee vir die leser, onder andere ook ‘n ikoon (1982: 34).

Hierdie ikoon (die sogenaamde “muted post horn”) word beskou as ‘n wyse van kommunikasie met diegene met onortodokse seksuele begeertes (1982: 75), die sogenaamde Inamorati Anonymous (IA). Hier skeer Pynchon die gek met geheime organisasies en kentekens wat lede van so ‘n groep kenbaar maak, soos ‘n geheime handdruk.

Die teks lewer kommentaar op die leesproses:

“Behind the initials was a metaphor, a delirium tremens, a trembling unfurrowing of the mind’s ploughshare. The saint whose water can light lamps, the clairvoyant whose lapse in recall is the breath of God, the true paranoid for whom all is organized in spheres joyful or threatening about the central pulse of himself, the dreamer whose puns probe ancient foetid shafts and tunnels of truth all act in the same special relevance to the word, or whatever it is the word is there, buffering, to protect us from” (1982: 89).

Die metafoor word gesien as iets wat sowel die leuen as die waarheid ontbloot; afhangend van jou posisie (“inside, safe, or outside, lost”).  ‘n Pornografiese eksemplaar van die drama blyk in die Vatikaan beskikbaar te wees (1982: 105). Daar is eweneens ‘n speelse verwysing na Nabokov op bladsy 101.

Die roman wentel rondom misverstande en opsetlike foute. REPORT ALL OBSCENE MAIL TO YOUR POTSMASTER, sic. (1982: 30) signifieer die onbestendigheid van alles. Selfs die poskantoor maak ‘n fout, seëls word vervals en daar is telkens verwysings na hiërogliewe wat die leser (en karakters) moet ontsyfer. Die Trystero kan nie vertrou word nie (“trust”) (1982: 70) Verder word absurde insidente gebruik om die gegewe te ontluister soos ‘n snotgooi-kompetisie en sarkastiese opmerkings word gemaak oor homoseksualiteit (1982: 50) en psigoanalise wat politiek korrektheid ondermyn. In die slot van die roman is Loren Passerine ‘n poppemeester; die verteller in hierdie roman en by Breytenbach, is eweneens ‘n soort poppemeester.

8 Piekniek by Hangklip

In sy roman Piekniek by Hangklip roep Breytenbach die werkswyses van Leroux en Pynchon op: satiriese kommentaar op die samelewing, ontluistering van pretensie, die gebruik van simboliese naamgewing, die spel met ‘n kommentariërende verteller wat herinner aan Leroux se meturgeman en ‘n spel met die struktuur van die speurverhaal. Waar Leroux die tydsorde omkeer en Pynchon die oplossing uitstel, word die leser in Piekniek by Hangklip bekendgestel aan ‘n roman sonder ‘n speurder. Dupin of Poirot kon die leser lei en die meturgeman bied ook sekerhede met sy (pseudo)filosofiese opmerkings. By Breytenbach is daar geen sekerhede meer nie. Die leser is alleen. Die leser bevind sig in ‘n gewelddadige en vyandige werklikheid.

As Flaubert gemeen het dat die skrywer soos God orals aanwesig, maar nêrens sigbaar moet wees nie, is die leser in Piekniek by Hangklip uitgelewer aan ‘n ontluisterende verteller en ‘n ontologiese onsekerheid. Dit is inderdaad ‘n “unresolvable plot”, soos Dipple die moderne roman tipeer: die speurwerk kan nooit voltooi word nie, juis omdat die roman heenwys na soveel ander tekste en ‘n herkenbare Suid-Afrikaanse werklikheid. Die verskillende tradisies van die roman vanaf die laat negentiende eeu tot die modernisme en postmodernisme word in hierdie roman byeengebring sodat Piekniek by Hangklip ook gelees kan word as ‘n roman wat kommentaar lewer op die ontwikkeling van die roman tot ‘n besef dat alle interpretasies onbestendig en “oop” bly. Die tekstuele onbewuste van hierdie roman is een van ontluistering en van ‘n ernstige besinning oor die aard van die romankuns. Daar is geen speurder nie; die leser word hierdie posisie toegeken in ‘n fassinerende speurtog. Anders as by Pynchon is daar nie meer ‘n opsie van binne/veilig, buite/onseker nie. Alles in hierdie roman staan in die teken van onveiligheid en onbegrensdheid wat die leser neem na die “potustornnost”, of ander wêreld soos Nabokov dit benoem het.

Die teks is besonder positief ontvang, maar het geen bekronings ontvang nie. Gesiene kritici soos Louise Viljoen, Thys Human, Michiel Heyns en selfs in ‘n resensie-artikel op Litnet het Izak de Vries dit aangeprys.

Waarom hierdie roman nie ten spyte van die loflike ontvangs bekroon is nie, bly ‘n onopgeloste raaisel. ‘n Ironiese raaisel, wat inspeel op Weir se film waarin die kyker bly spekuleer. In ‘n speelse artikel op Litnet Akademies: Is Piekniek by Hangklip ’n kriminele oortreding? (Besoek op 17 Julie 2012) raak Izak de Vries onbewustelik aan van die probleme in hierdie teks: is dit omdat hy die reëls van die speurverhaal oortree? Is dit omdat die skuldige nie vasgetrek word en die goeie nie die bose oorwin nie?  Is dit dalk die afwesigheid van die speurder en die dekonstruksie van konvensies? De Vries verwys na die naam Schvantz as penis in Jiddisj (“prick”) wat dan aansluit by die naamgewing by Leroux en Pynchon soos hierbo uiteengesit. De Vries wys op die vreemde setwerk om die stotterende verteller se uitspraak op te vang as nog ‘n leesversperring. Soos hy dit dan opsom: “Breytenbach steek tong uit vir die leser, verál vir die leser wat ’n foutlose krimi soek.” Louise Viljoen bespreek die roman op Litnet: “Piekniek by Hangklip seepgladde plesier” op 8 September 2011 (besoek op 17 Julie 2012). Sy skryf: “Henry Fielding, wat eintlik ’n dramaturg was, het begin om romans te skryf toe hy wou reageer op die buitensporige sukses van Samuel Richardson se melodramatiese briefroman Pamela, or Virtue Rewarded van 1740, waarin die jonge Pamela Andrews ’n eindelose stryd het om haar kuisheid teen haar werkgewer te verdedig. Fielding se parodie met die titel An Apology for the Life of Mrs Shamela Andrews het gewys dat die kuise Pamela eintlik glad nie so voorbeeldig was nie.” Michiel Heyns, in "Op soek na sy mojo", resenseer die roman vir Beeld & Die Burger in Oktober (besoek op 17 Julie 2012) en wys eweneens op die pakkende gegewe in die roman. Thys Human se resensie heet “Tarantino in die Overstrand” in Beeld 9/10/2011 (besoek op 18 Julie 2012) is eweneens positief oor die aweregse aanslag van hierdie roman. Hy wys op die eksterne verteller se toetrede om van die raaisels in die verhaal op te los en ag die verwysing na Fielding as ‘n belangrike leidraad. 

In sy voorwoord tot dié roman gebruik Fielding die term komiese epos (“comic epic poem in prose”) om na die aard van die werk te verwys:

“[A] comic romance is a comic epic-poem in prose; differing from comedy, as the serious epic from tragedy; its action being more extended and comprehensive; containing a much larger circle of incidents, and introducing a greater variety of characters. 

It differs from the serious romance in its fable and action, in this: that as in the one these are grave and solemn, so in the other they are light and ridiculous; it differs in its characters, by introducing persons of inferior rank, and consequently of inferior manners, whereas the grave romance sets the highest before us; lastly in its sentiments and diction; by preserving the ludicrous instead of the sublime.”

Umberto Eco se slotwoorde in The name of the rose is hier tersaaklik: ”It is cold in the scriptorium, my thumb aches. I leave this manuscript, I do not know for whom; I no longer know what it is about: stat rosa pristine nomine, nomina nuda tenemus...”


Joan Hambidge Kaapstad Desember 2011 – September 2012


Bibliografie

Bloemhof, Francois. 2011. Helse manier van koebaai sê. Kaapstad: Human & Rousseau.

Brink, A.P. 2000. Groot verseboek 2000. Kaapstad: Tafelberg.

Bowers, Fredson (red.). 1980. Nabokov, Vladimir: Lectures on literature. Londen: Weidenfeld and Nicholson.

Breytenbach, Kerneels. 2011. Piekniek by Hangklip. Kaapstad: Human & Rousseau.

Brynard, Karin. 2010. Plaasmoord. Kaapstad: Human & Rousseau.

Christie, A., 1975. Curtain : Poirot's last case. 1983 ed. London: Fontana.

Con Davis, Robert. 1986. Contemporary literary criticism. New York: Longman.

Culler, Jonathan. 1975. Structuralist poetics. Structuralism linguistics and the study of literature. Londen: Routledge & Kegan Paul.

Derrida, Jacques. 2005. Sovereignties in question. The poetics of Paul Celan. New York: Fordham University Press.

Dipple, Elizabeth. 1988. The unresolvable plot: reading contemporary fiction. Londen: Routledge.

Eco, Umberto.1983. The name of the rose.Londen: Martin Secker & Warburg.
Jordaan, Dirk. 2012. Arendsnes. Kaapstad: Tafelberg.

Jong, Erica. 1981. Fanny. Being the true history of the adventures of Fanny Hackabout-Jones. New York: Granada.

Karsten, Chris. 2010. Die afreis van Abel Lotz. Kaapstad: Human & Rousseau.

Leroux, Etienne. 1984. Die Silberstein-trilogie. Kaapstad: Human & Rousseau.

Lindsay, Joan. 1987. The secret of Hanging Rock. Londen: HarperCollins.

Mehlman. Jeffrey. 1972. “Seminar on ‘The purloined letter’ “.Yale French Studies, 48 (1972. pp. 38 – 72.

Meyer, Deon. 2011. 7 dae. Kaapstad: Human & Rousseau.

Opperman, D.J. 1987. Versamelde poësie. Kaapstad: Human & Rousseau/Tafelberg.

Poe, Edgar Allen. 1845. The gift.  Philadelphia: Carey and Hart.

Pynchon, Thomas. 1966. The crying of Lot 49. New York: J.B. Lippincott & Co. 

Steyn, Piet. 2008. Snoeiskêr. Kaapstad: Tafelberg.

Tanner, Tony. 1982. Thomas Pynchon. Contemporary writers. (reds. Malcolm Bradbury en Christopher Bigsby). New York: Methuen.

Weir, Peter. 1975. Picnic at Hanging Rock. Film (Australië).



Eindnotas:

1. In Deon Meyer se 7 Dae word die ingeligte leser ‘n leidraad gegee deur die verwysing na Leroux se Sewe dae by die Silberstein en met ‘n karakter Henry van Eeden, wat die moordenaar se identiteit beskerm.

2. Agatha Christie se Poirot (satiries vertolk deur Peter Ustinov in verskeie films) is, soos Dupin, in staat om met die oortreder te identifiseer.

3. Levitikus 16 (1953 Afrikaanse vertaling van die Bybel):
      8. En Aäron moet oor die twee bokke die lot werp, een lot vir die Here en een lot vir Asásel.
      9. Dan moet Aäron die bok aanbring waar die lot vir die Here op gekom het en hom as sondoffer berei;
     10. maar die bok waar die lot vir Asásel op gekom het, moet lewendig voor die aangesig van die Here gestel word, om oor hom versoening te bewerk deur hom vir Asásel in die woestyn te stuur.

4. Maurice Couturier in sy essay "Nabokov or the Cruelty of Desire: A Psychoanalytic Reading" betrek Nabokof se negatiewe siening van Freudiaanse simboliek (besoek op 27 November 2011). 

In "Vladimir Nabokov: The Interviews" bely hy aan Dieter E. Zimmmer:

   Mr. Nabokov, would you tell us why it is that you detest Dr. Freud?
I think he's crude, I think he's medieval, and I don't want an elderly gentleman from Vienna with an umbrella inflicting his dreams upon me. I don't have the dreams that he discusses in his books. I don't see umbrellas in my dreams. Or balloons.
   I think that the creative artist is an exile in his study, in his bedroom, in the circle of his lamplight. He's quite alone there; he's the lone wolf. As soon as he's together with somebody else he shares his secret, he shares his mystery, he shares his God with somebody else.


Kerneels Breytenbach & Joan Hambidge

(Hierdie artikel word geplaas met vriendelike vergunnning van Stilet)

© Joan Hambidge