Showing posts with label Trienke Laurie. Show all posts
Showing posts with label Trienke Laurie. Show all posts

Saturday, March 23, 2013

Trienke Laurie - Ek sien 'n rooi bul storm (1999)


Trienke Laurie

Trienke Laurie. Ek sien 'n rooi bul storm. Tafelberg Uitgewers, 1999. ISBN  0 624 03782 7.

Resensent: Joan Hambidge

Vir haar debuut Skietspoel is Trienke Laurie met die Ingrid Jonker-prys bekroon en sopas het die tweede bundel Ek sien 'n rooi bul storm verskyn wat 'n herdigting is van Siener van Rensburg se visioene oor die toekoms van veral die Afrikanervolk.

Die tweede bundel, ja, die tweede is die moeilike hekkie vir die digter. Laurie se eerste bundel het hierdie leser behaag. Die tweede bundel is dus meer historiografies in aanbod en waarskynlik 'n té ambisieuse opdrag vir 'n jong digter. (En 'n digter se ouderdom word bepaal volgens die datum van publikasie en nie die werklike chronologiese ouderdom nie.)

Die digbundel begin met 'n aanhaling uit C. Louis Leipoldt se “Die koperkapel” - sonder die titel. Die interessante voorspellings van die ou Siener word hier as gegewe gebruik in die gedigte wat werklik nog nie werklik vers geword het nie. In “Oorlogskos”(p. 10) verneem ons:

Ek onthou nog hoe haastig bak
die stormjaers in reusel...
Hoe lyk dit met 'n kerfie biltong
om aan te peusel?

Reusel en peusel?

In “Beeskraal”:

Neef, julle geleerdes beweer
olifant en das
is van dieselfde ras.
Het elkeen nou gelyke sê:
Kan hy, die grootoor,
noodwendig die fynste hoor?

Wie is die slimste:
das wat in die kranse skuil
of jakkals wat in die oopte staan
en teen die volmaan huil?

Nie die koei wat die hardste bulk,
gee die meeste melk nie. (p. 53)

Die voor-die-hand-liggende rymdwang wat in vele verse aan bod kom, raak op die duur moeisaam. Ook is die gedigte metries nie afgewerk nie. Die sillabiese patrone is eweneens uit pas en veral wanneer 'n mens die gedigte hardop lees, kom die ondeugde duideliker na vore.

'n Vers hoef nie streng patrone na te volg nie, maar wanneer dit oortree word, moet die digter op ander maniere kompenseer. Robert Frost het gemeen dat die skryf van 'n vrye vers soos die speel van tennis sonder 'n net is.

Die probeem is dat Laurie soms rympatrone navolg en soms nie. Die gedigte maak dus 'n onbeholpe indruk. Ook word die groot gedagte dikwels met 'n uitroepteken onderstreep - soveel so dat Laurie al die digter van die uitroepteken genoem kan word. 

Die oorwegende indruk wat hierdie bundel laat, is werk-in-wording. Ons sien dus eerder die kladboek van 'n bundel met moontlikhede. Enkele gedigte is af, maar die geheel laat die indruk van haas. (Soos talle boeke oor die Anglo-Boereoorloog.) Miskien is die bundel te gou gepubliseer.

Want dit is jammer, want die enkele mooi gedigte word versmoor deur die oorwegend swakker meerderheid.

Die visioene van Siener van Rensburg word nooit werklik opruiende poësie nie. As ons praat van die lyding van die kinders in die oorlog, laat dit 'n mens hier koud. Miskien omdat daar net te veel woorde ingespan word. Generaal De la Rey se dood ontroer eweneens nie. Ons weet presies wat die ou Siener voorspel het: die Afrikaner moet hom verootmoedig voor God. Ook dit, kry nooit 'n spirituele krag nie.

Daar is talle voorbeelde binne die Afrikaanse poësie van digters wat die lewe/voorspellings van 'n bekende figuur herdig het. Plaas hierdie bundel langs Antjie Krog se Lady Anne en al die besware spreek vanself. Dan praat ons nie eens van N.P. van Wyk Louw of Opperman nie.

Die engel is nog nie uit die klip verlos nie. En dit is jammer want plek-plek word daar mooi gedig:

Die waarheid van my woorde blyk
as die warm yster daaroor stryk;
midde-in die smeltkroes en stryd
sal die mense opnuut in my gesigte glo...

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Burger geplaas.]

Thursday, February 14, 2013

Trienke Laurie - Sonskyf (2007)



Trienke Laurie. Sonskyf. Protea Boekehuis, 2007.  ISBN 978 1 86919 1658.

Resensent: Joan Hambidge

Wanneer ‘n mens pas herstel het van die onooglike voorblad van Trienke Laurie se Sonskyf, dan tref die openingsvers jou tussen die oë.

Wat het ons hier? ‘n Parodie? ‘n Grap?

My bloekom

Saans beuk die wind die bloekom
en beur hom, beur hom weg
uit al sy gejeuk en geneuk
en kwinte en kwale uit:
‘n gejeuk onder die oksel,
‘n geneuk in die kwaste (p. 12)

Die res van die “gedig” gebruik selfs woorde soos “ferplie en jannetjies”.  (“En knepe wat die grondwater help houvas”).

Vir vermaak, haal erk graag die volgende een aan:

Optelvroue

‘n Skip is dikwels ‘n drywende hotel:
Aan die boeg klou vele verstekelinge –
Sebramossels, krappe – en ook kwalle.
Ja, die kwal lyk al hoe meer op ‘n hoer,
‘n hoerende drel, ‘n kwakkerige kwal!
In die Swartsee vreet uitheemse kwalle
hulle sakke vol aan plankton
sodat skole ansjovis uithonger en vrek.
Ongenooid dring hulle deur die poort,
ongelys die huurvroue, hierdie wiebelrige pofbroeke,
onwelkom, maar eis nogtans hul prys.

In “Ertjiesop”(p. 15) verneem ons:

“Vandag lyk die see pure snert
dik van dweil wees”.

Elke denkbare sonde van swak dig staan hier: oordrywing,  geen interne spanning, die Groot Gebaar, uitmorsing van gesogte beelde, uitroepe, soel taalgebruik, dig verby die natuurlike slot, koersloosheid, ellipse en uitroepe, Hoofletters, retoriek, e.d.m.
Moenie die banale vergeet nie:

 “’n ongeskonde oujongnooi, onbeklad, ongerad,  ongenaai” (p. 68).

Die bundel is ‘n verleentheid, ‘n groot verleentheid. Veral as ‘n mens in gedagte hou dat sy die Ingrid Jonker-prys verower het.

Hoekom is hierdie bundel hoegenaamd gepubliseer?

As jou ma Judy Garland is, gaan jy aan haar gemeet word. Dit het Liza Minnelli op die harde manier geleer. Minnelli het wel baat gevind hierby in haar vertolking in Cabaret, maar daarna was dit afdraande-pad.

As jou pa D.J. Opperman is, soek jy vir moeilikheid om binne dieselfde genre te werk.

Nou ja, die voorblad – deur die digter self – som dit alreeds op. Per geleentheid het die uwe hierdie digter Trienke Laurie as die digter van uitroepteken beskryf.

Uitroepteken het vraagteken geword.

Hoe kan ‘n mens so ‘n bundel publiseer?

In “Die duister put” word die titel verklaar.

Met hierdie bundel word ‘n nuwe laagtepunt binne die Afrikaanse digkuns ingelei (ingely?).
Barok-oordaad in die ergste graad.

“Vandag sien ek ‘n klokkie lê  -
‘n klein koperklokkie”, dig sy oor Francesco die nar.

En ek seg Trieng, trieng (roomys)lorrie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]