Showing posts with label Abraham H. de Vries. Show all posts
Showing posts with label Abraham H. de Vries. Show all posts

Monday, March 4, 2013

Abraham H. de Vries (Samest.) - Die Afrikaanse kortverhaalboek (2004)



Abraham H. de Vries (Samest.). Die Afrikaanse kortverhaalboek. Human & Rousseau | Tafelberg Uitgewers, 2004. ISBN 0 7981 4443 2.

Resensent: Joan Hambidge

Ons mooiste prosa in een band. Ons beste prosa in een versameling. Ons mees verteenwoordiende, gekanoniseerde tekste in een band, byeengebring en gekies deur ‘n kortverhaalskrywer wat hier fungeer as keurder.  So gesien, is die samesteller ‘n buikspreker van die kanon wat keuses binne ‘n letterkunde vertolk, verduidelik en bestendig. ‘n Kundige samesteller of kanoniseerder, soos Harold Bloom aantoon in The Western Canon, lees nie net vir die hoogtepunte nie, maar kyk ook na die vergete tekste ten einde te begryp waarom sekere tekste in ‘n letterkunde as groot of klassiek geag word. Omstrede samestellers, soos Gerrit Komrij, fokus weer te veel op die vergete of weggelate teks wat dan ‘n soort skeefgetrekte bloemlesing tot gevolg het.

Brink op sy beurt kies ander tekste as Opperman, maar hy verduidelik vir die leser presies wat sy maatstawwe was.

Abraham H. de Vries is ‘n betroubare kanoniseerder van die kortverhaal wat teoreties oor die medium besin en ‘n goeie kortverhaalskrywer is wat onlangs bekroon is. Sy studies is nie ‘n ‘apologia pro domo’ soos wat ‘n mens ongelukkig vind by skrywers oor die kortverhaal nie, maar ‘n handleiding tot en begryp van die kortkuns. ‘n Mens mis tog vir my gevoel ‘n meer deeglike en intellektuele bepeinsing in die woord vooraf, soos wat Brink gedoen het in Groot verseboek 2000. Dit is tog die plek (veral omdat studente dit gaan lees) om in te gaan op die tendense binne die Afriikaanse kortverhaal. Die ‘baring  of devices’ soos hy opmerk, is tog in die Afrikaanse letterkunde veral gekoppel aan die postmodernisme en beoefenaars van die metaverhaal soos Hennie Aucamp en Koos Prinsloo se intertekstuele spel kon hier bespreek geword het. Met Johann de Lange se interessante ‘antwoord’ op hierdie komplekse mentorsverhouding. Waarom is De Lange nie opgeneem nie?

Ook die migrasie binne die kortverhaal: die ontginning van die plaas of plattelands-‘onskuldige’-bestaan tot by die meer gesofikstikeerde, ontredderende stadslewe by ‘n skrywer soos Herman Wasserman.  Die beskrywing  van die gedurfde seksuele leefwyse wat deur Aucamp vir die jonger skrywers moontlik gemaak is en die metaverhaal wat veral deur De Vries self so kompleks beskryf word dat die leser dikwels eers na ‘n tweede of derde lees die geheim snap.

In welke mate het die kortverhaal ook ‘n politieke ‘dokument’ geword? By Jan Rabie, John Miles, Emma Huismans, e.a. word die onregverdige politieke bestel aan die kaak gestel. En tydgenootlike bruin skrywers kyk op hul beurt anders na die werklikheid. En tog mag die basiese aard van die kortverhaal nie ontken word nie, naamlik dat dit ‘n storie moet wees.

Die intertekstuele spel tussen T.T. Cloete se “Dokter Diedericks leer om te lag” en J. van Melle se “Oom Diederik leer om te huil” is eweneens ‘n verband wat die leser trek. Hierdie simbiotiese verhouding tussen tekste bly ‘n belangrike verskynsel: die Van Melle-teks word ook nou met nuwe implikasies gelaai na die lees van die Cloete-teks.

Kortverhaalskrywers is nie mislukte romanskrywers nie. Hulle is ‘n interessante spesie wat dikwels soos digters werk. Die taal is gedronge, simbole word herhaal en die karakterisering is helder. Ook die fokalisasie stel sy eiesoortige eise. Wie sien? En wat word gesien? Die ek-verteller is dikwels ‘n meer verskanste, gedistansieerde verteller wat nie noodwendig die skrywer van die verhaal hoef te wees nie.

Die samsteller erken dat gehalte ‘n rol gespeel het en dat die net van stemme en tendense (hoe verhale op mekaar inspeel) ‘n oorweging was. ‘n Mens sou egter ‘n sterker teoretiese verantwoording van hierdie verskynsel wou sien.

Die meeste klassieke verhale is daar en die volwassenheid van die Afrikaanse letterkunde is indrukwekkend. J.M. Coetzee het nou onlangs misprysend gemeen dat ons ‘n klein letterkunde het en ons hoogtepunte goed bemark. Met die lees van hierdie bundel sou ‘n mens meen hy sou sy uitspraak moet hersien. Die Afrikaanse kortverhaal troon bo sy Engels-Suid-Afrikaanse eweknie uit.

Al die klassieke is daar en my gunstelinge het ‘n heerlike paar leesure tot gevolg gehad soos “Dood van ‘n maagd”, “Onthou jy vir Helena Lem?”, “Die judasbok”, “Drie kaalkoppe eet tesame”, om ‘n paar uit te sonder.  Waarom Nataniël en nie Johann de Lange nie? As ‘n mens so ‘n bundel misloop, dan mis jy kanonisering. ‘n Mens sou ook meer van Petra Müller wou sien, maar waarskynlik is dit moeilik om verhale by haar te kies weens die intranetwerk van haar bundels. En H.J. Pieterse?

128 verhale van 79 skrywers maak van hierdie band ‘n moet vir die boekrak. Meer as ‘n eeu se verhale word opgeneem en gelukkig is daar afgesien van die titel Eeu, wat vir my gevoel nie lekker op die oor geval het nie. Vir R165 is dit ‘n winskopie.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Rapport geplaas.]

Tuesday, February 12, 2013

Wium van Zyl (Samest.). Elke slot ‘n weerbegin. Abraham H. de Vries 70 (2007)



Wium van Zyl (Samest.). Elke slot ‘n weerbegin. Abraham H. de Vries 70UWK, 2007. 
ISBN 062037811 5.

 Rina Els. Praatkos - ‘n nagereg-boekie oor Claerhout se leweISBN 978 0 620 37959 5.

Resensent: Joan Hambidge

Elke slot ‘n weerbegin is ‘n cadeau vir Abraham H. de Vries by geleentheid van sy 70e verjaarsdag.  Daar is etlike bydraes – gedigte, verhale, anekdotes, stories, analises van De Vries se verhale.

Daar is ‘n  uitgebreide bibliografie van Erika Terblanche wat die leser ‘n rigtingwyser gee van wat die skrywer al gepubliseer het, ernstig en minder verhewe.

Is dit etiket om kritiek of sydelingse kommentaar te lewer op ‘n geskenk?

Wel, die boek word in die openbare domein gelaat; dit is immers nie ‘n rangskikking of  vrugtemandjie nie. 

‘n Mens kom onder die indruk van vriende en kollegas se toegeneentheid – en dis reg so. Dis immers ‘n geskenk.

Toe gee ek die boek vir ‘n vriend om te lees.

En een aand – oor ‘n glas Peroni – gesels ons oor die bydraes.

“Interessant,”merk hy op,” hoe Kannemeyer skerpsinnig is oor kanoniseringsprosesse en outydse lesers wat een formule op ‘n kortverhaal neergooi. Maar hy kan nie raaksien dat hy presies dieselfde in sy tekste doen nie.”

“Hoe bedoel jy?”

“Hy bekyk tekste vanuit sy outydse idee van ’n teks ….”

”En Abraham H. de Vries ondermyn juis die siening van wat ‘n teks is.”

“Juistemint. De Vries is meer as ‘n pomo-skrywer. Dis in elk geval ‘n tipe matriks wat skrywers in hierdie land baie lukraak gebruik sonder die ideologiese implikasies wat daarmee saamgaan. Baudrillard word oorgedra na ‘n ander kultuur sonder ‘n begrip van die ideologiese en filosofiese implikasies.”

“Nog ‘n Peroni, Joanie?””

“Kyk, ek dink sulke boeke is belangrik, want ‘n hele historiese en kulturele verwysingsveld word in hierdie boek saamgevat. Mense soos  Petronella van Heerden – wat die meeste jong lesers nie sal ken nie – word hier in die argief geplaas.”

“Inderdaad. En lesers kan Aucamp, Brink, Etienne van Heerden, e.a. lees oor die teorie in sy kortkuns.”

“Ja en verwen word met insigte:

In hierdie opstel word ondersoek hoedat De Vries vertelling as verstaanshandeling aanwend: vertelling as manier waarop gepoog word om ervarings sin te maak (p. 64).”

“Poog? Dis mos ‘n Neerlandisme?”

“Ja, maar dit kom dikwels in Afrikaanse literatore se stilletasies voor, nie waar nie?”

“Ja, soos ander kakebeenkrakers. In hierdie boek is daar ‘n handvol deeglike essays – soos George Weideman, die ou staatmaker, se uitmuntende essay oor die clowneske by De Vries. Die skrywer se liefde vir die clown / pikaro / triekster herinner aan die jong Fellini se obsessie met sirkusse en hoe dit neerslag gevind het in sy werk... Otto e mezzo (Eight and a half), o.a.”

“En die ander tekste?”

“Dit is boek vir die De Vries-aanhanger met al die kenners wat ‘n hier ‘n bydrae lewer.  Wium van Zyl het dit versorg en gepubliseer by die UWK en ‘n mens sou tog voel dat ons NB-uitgewers vir De Vries kon huldig met ‘n glansboek. Maar nou ja. Deesdae moet ‘n boek verkoop en populêr wees en artikels waarin ons stilletteer of literatoreer, is maar vir die in-klompie bedoel.”

“Maar daar is darem ook stories en gedigte in. ‘n Verhaal van Aucamp wat rondom Tsjekof vibreer...”

“En ‘n knap vertaling van Tsjekof...Het dit jou opgeval dat die meeste skrywers hoofsaaklik uit die Nederlandse bronne aanhaal? Dalk is dit ook ‘n implisiete verwysing na die skrywer sélf met sy Nederlandse verbintenisse....”

“Ja dalk. Ek dink hier slaan Dorothea van Zyl die spyker op syn kop met haar verwysing na intertekstuele spel in die skrywer se werk en hoe hy sy eie tekste herskryf. Sy begryp dus instinkmatig hoe elke slot ‘n weerbegin is. Dat elke skrywer as’t ware oor en oor dieselfde storie vertel....”

“Maar is dit dan nie ‘n soort “op my ou ramkietjie met nog net een snaar” nie?”

“Nee, Van Zyl wys tereg daarop dat die skrywer vir ons duidelik aantoon dat ons met variante werk en in hierdie opsig is dit lekker en lonend om terug te keer na die tekste en hulle met mekaar te vergelyk...”

“So dan, wat is die belangrikste bydrae wat hierdie outeur gelewer het?”

“Hy is oerverteller wat die gewone storie kan verteller, behendige metafiksionalis, postmodernis, bloemleser, polemis, taalstryder...”

“En daardie boek wat daar lê oor Vader Claerhout?”

“Ja dit is ‘n glansboek vir die Vader.”

“En die bydraes?”

“’n Mens leer altyd. Hier het ek die begrip ‘giggel-geel sonneblomme’ geleer.”

“Ja?”

“En sy voorliefde vir donkie en sonneblomme, jy weet.”

“Daar is boonop ‘n handvol gedigte en vertellinge van mense wat hom geken het. Selfs van Adriaan de Beer van die DNA strings.”

“Die afdrukke is wel pragtig vir die Claerhout-bewonderaar wat dit sou wou uitsny en teen ‘n muur hang. En is dit nie interessant hoe die twee huldeblyke verskil nie? Die een met essays en vertellinge, die ander een meer loslit?

P.S.
Stilletassies verwys na die tydskrif: Stilet waarin artikels verskyn.


[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Die Volksblad geplaas.]

Wednesday, February 6, 2013

Abraham H. de Vries (Samest.) - Van heidebos en Skepper (2008)



Abraham H. de Vries (Samest.). Van heidebos en Skepper. ‘n Keur uit die poësie van R.K. BelcherProtea Boekehuis, 2008. ISBN 978 1 86919 248 8.

Resensent: Joan Hambidge

R.K. Belcher (Ronnie, vir ons almal) was ‘n voorbeeld van hoe om die speelse vers te bedryf. ‘n Mens dink hier aan klassieke treffers soos:
Dis die juk dis die skei
ek is hier om te bly
as my besie vannag
in jou klofie kan wei

*
Die rooihaarflerrie
met ’n kop van kerrie
vir almal sê sy
I love you very

‘n Paar jaar gelede het hy in die H.B. Thom-teater die gehoor op die vloer gehad met sy voordrag. En as ek reg onthou: het hy al die gedigte voorgedra sonder ‘n boek of nota voor hom. Die gedigte was deel van hom en sy lewe.

Sopas het Protea uitgewers ‘n keur uit sy gedigte (115 bladsye) gepubliseer met Abraham H. de Vries as die samesteller. En dis reg so. ‘n Gestorwe digter moet bewaar bly vir die digterlike nageslag. Hopelik sal Protea dieselfde doen vir onlangs gestorwe digters en wil iemand nie Casper Schmidt se gedigte bundel nie?

Breedweg is daar in Belcher se digkuns twee Belchers aanwesig. ‘n Ernstige Digter en ‘n parodies, satiriese volksrymer. Mens en Skepper (1956), Ver land (1960), So is die lewe vir een pond sewe (1978), ‘n Ding om te skil in die maand April (1980), Ringe in ‘n geelhoutboom (1982), My hart sing sewe moppies (1996) en Van heidebos en klip (2000).

Ek het nie veel erg aan die ernstige, verhewe Digter nie. Vir my is die essensiële en beste digter die een van die moppies, die parodie, die vinnige lopervers en speelse gedig.

Miskien het dit iets te make met ons tradisie dat die speelse gedig, waaroor Daniel Hugo al uitvoerig geskryf het, nie na waarde geskat word nie. Hierdie leser het ‘n bepaalde voorliefde vir die speelse vers wat op die oog af na ‘n grap lyk, maar onder draai die duiwels rond.

Hierom is Ogden Nash en Philip de Vos geliefde digters.

“Nonsense verse”, soos dit op Engels heet,  het sy bekoring, bepaald. Dit is dikwels die gedig wat in die geheue bly vassteek en jou laat glimlag. Dieselfde geld A.G. Visser se verse.
Die versoeking is groot om elke gedig waaroor ‘n mens opgewonde raak, hier aan te haal.
Trouens, ‘n mens se lagspiere word so gekielie dat jy later uitasem is van die lag.

En wie kan dit regkry om jou vir ‘n hele bundel te laat lag en vol bewondering te laat staan voor die woordvernuf, astrante ryme, belaglike wendings – en, lewenswysheid?

So is die lewe vir een pond sewe, ‘n Ding om te skil in die maand April en My hart sing sewe moppies is van my mees geliefkoosde bundels.

Deur menige melancholie het hierdie boeke my al gedra en gewys dat Belcher se onhebbelike sin vir humor alles regmaak. Die humoris / satirikus is in wese ‘n ernstige persoon en ‘n mens kan dit sien aan sy ander gedigte. Maar ek hou van die veerligte aanslag, van die vers wat sommer so speels én spuls uit die hand glip.

Die gedigte is politiek-inkorrek soos op bladsy 100:

Ons kan toor
en ons kan moor
want ons dra ons keps
agterstevoor

of

Kaapstad se lessies
drink wyntjies uit flessies
maar Stikland se stukke
sluk bliksem uit blikke

Humor is egter selde politiek-aanvaarbaar. Jy trap dikwels op ‘n toon of misbruik ‘n stereotiep om ’n effek te kry. Trouens, die speelse verse en uitinge hiervan soos die limerick gedy op die skunnige.

Belcher hanteer die fyn balans tussen en beeld en toepassing behendig. Hy is immers ‘n skrywer van ‘n gesaghebbende studie oor die sonnet en “Besoek aan ‘n letterkundemuseum”’ (p. 83) parodieer hierdie digvorm met ‘n ontluisterende slot:

“wat is die slaap ‘n wondersoete ding.”

Die kort verse parodieer dikwels ook lewenswyshede soos op bladsy 91

Kerktaal bring sy loon
jou siel kan daarin woon
maar ‘n vloekwoord op sy tyd
dit hou die mangels skoon

Die spanning tussen die verhewe en die banale is waarop hierdie soort gedig se as draai. Sy volta of keerpunt is die teenstrydighede wat in die gedig skuilhou: kerktaal versus vloekwoord. En dan die ontlading: die mangels wat skoongehou word.

Die teenoorstaandes word dan verder beklemtoon deur die inbring van die mangels wat kwansuis deur die vloekwoord skoon gemaak word!

Op die oog af lyk die gedigte maklik en selfs verspot, maar met ‘n dieper lees en uitmekaarskroef, besef die leser hoe die knap die verse gefabriseer is.

Die ernstige digter is nie vir my nie. Ek vind hierdie verse retories en selfs breedsprakig.
Toe hy op die toneel gekom het, was die Dertigers se Verhewe Verse al passé.  Gee vir my die grappige / parodiese / satiriese / speelse vers, want hierin munt Belcher uit.

In “Poësie-aand” word daar geskerts oor voorlesings in die Dorpstraat-kafee met ‘n raak tekening van hoe sulke aande verloop:

Sal ek vanaand in Dorpstraat se kafee
my siel ontbloot for everyone to see?
Hier tussen die geskinder en gepraat
my siel ophang aan ‘n doringdraad?
Met ander se geroggel en gerook
my sielsgeheim met nikotien bestook?
Hier tussen al die waaiers en die fans
myself beskinder saam met also rans?
Nee, eerder lieg en skruwe rympies maak
oor snaakse goed wat ander siele raak
soos ghoffels wat kafoefel op ‘n trein
and other dear souls crying in the rain.
Maar smokkel met sy sel se brood-en-jêm
voor al dié vreemde wesens? Not-a-dêm!

‘n Mens kan hoor hoe Ronnie hierdie gedig voordra en hoe die gehoor lag.

Kyk ook na hierdie enetjie:

Die graf is toegegooi
jou plek is leeg in die kooi
die suster wat die kranse pak
hoe buk sy dan so mooi (p. 98)

en

Die trassie
van Makwassie
hy dra sy bloemer
in ‘n tassie (p. 67)

en die speel met lewenswaarhede:

Die gat is gegrou
die mense staan en rou
mar die hele okkasie
bly ‘n one man show (p. 70)

Politiek-inkorrek, seksisties, over-the-top, maar soos dit met boeregrappe ook gesteld is.

Wag, wag. Gaan koop jou eie boek.

[Hierdie resensie word met vriendelike vergunning van Litnet geplaas.]