Showing posts with label Alexander Strachan. Show all posts
Showing posts with label Alexander Strachan. Show all posts

Thursday, January 17, 2019

Resensie | Hans Pienaar - Die Generaal (2018)

Hans Pienaar - Die Generaal. Tafelberg, 2018. ISBN: 978 0624 085812

Resensent: Joan Hambidge

I

Hans Pienaar is 'n bekende joernalis en onderskatte digter. Die taal van voëls het in 2002 verskyn. In 1992 was hy die ontvanger van die Rapportprys vir Nie-Fiksie vir Die derde oorlog teen Mapoch, oor die staat se geheime veldtogte teen die Ndebele-stam. Die Trojaanse Perd: Onderhoude oor die noodtoestand in die Kaap 1985, saam met Hein Willemse, bly 'n belangwekkende teks. Dit het indertyd by Taurus verskyn.

Sy pas verskene roman Die Generaal is werklik 'n besondere toevoeging tot die grensliteratuur in Afrikaans waar skrywers soos Alexander Strachan ('n Wêreld sonder grense), Koos Prinsloo, Etienne van Heerden, o.a. beduidende werk gelewer het.

Die roman het einde verlede jaar op my tafel beland en dit was aanvanklik nie die soort leesstof waarvoor hierdie leser met 'n reeds donker jaareinde en etlike slopende gebeure in Suid-Afrika wou of kon aandag gee nie.

Wat 'n verrassing was hierdie roman nie toe ek dit begin lees!

Dit is geskryf met 'n vaardige hand: gedistansieerd, in beheer, emosioneel sonder om sentimenteel te wees én boeiend.

Die Grensoorlog is ons Viëtnam-oorlog. Dit is so dat daar etlike briljante films gemaak is,  deur onder meer Francis Ford Coppola en Stanley Kubrick, wat vanuit verskillende perspektiewe probeer om die impak van die oorlog op die psiges van jong Amerikaners te begryp. 

Hieroor het ek uitgebreid geskryf in 'n digterlike verslag na 'n reis in hierdie landskap (Woorde Wat Weeg/ Viëtnam – ‘n digterlike reisverslag. Besoek 17 Januarie 2019).

II

Die Oorlog het jong mense se lewens verwoes. Die sinneloosheid en futiliteit daarvan is al by herhaling uitgewys. Nou onlangs het Alexander Strachan ’n verslag oor die lewe van ’n  recce gepubliseer. Dit heet 1 Recce, die nag behoort aan ons en het ook by Tafelberg verskyn (1 Recce, die nag behoort aan ons/ ’n LitNet Akademies-resensie-essay | LitNetBesoek 17 Januarie 2019).

Dit sou inderdaad relevant wees om die verskillende kante van dieselfde munt te beskou: fiksie teenoor harde werklikheid met tekste wat albei by Tafelberg uitgewers verskyn het.

Pienaar bely dat aspekte van prosedures, regulasies en fasiliteite en operasies aangepas is ter wille van die verhaal. Maar terselfdertyd skryf hy dat dit op ware gebeure gegrond is. 

Daar is nog kodes dat die leser dit as fiksie moet benader. Die sub-titel lees: 'n roman.

Skrywers van romans bemark iets as 'n roman  en dis hoe ons dan hierdie teks moet benader. Dit vertel die verhaal van Johan, bloedjonk, kwalik negentien, wat gestuur word na die Zambesivallei om onreëlmatige praktyke rondom ontgroening te ondersoek. (Suspension of disbelief, natuurlik! Sou daardie butch mans hulle gesteur het aan enigiets grensoorskrydends?) Die konvensionele, godsdienstige Johan teenoor sy neef wat grense oorskry, lewer ook 'n belangrike opposisie; net soos hede teenoor verlede; reg teenoor verkeerd – met die skrywer wat as beleë mens met afstand na die gegewe kan kyk. Johan weet ook dis "ons storie" – sy verhaal is verweef met Ben s'n, omdat hy hom bewonder het. Sy neef was 'n klein god daar in die Militêre Akademie op Saldanha. Later Pretoria; die ou Rhodesië ...

Angola.

Predikant staan op die arme Johan se voorkop geskryf, pruil 'n tante...

Dit is die buitelyn van die verhaal. Maar onder draai die duiwels rond, want die leser word ingeslinger in die verteller se binnespraak. Ben, sy neef, wat 'n soort alter ego word, die seun van Die Generaal, rebels en gay. Deel I handel oor Ben en die ellendes van sy dood, terwyl Deel II sy ervarings met Annie weergee.

Dit is ’n boek oor inisiasie. Eers in die Weermag-wêreld en dan op 'n werklik liggaamlike ervaring.

Die verhaal wil ek nie verklap nie, want 'n mens lees dit met wydoopgesperde oë.

Dus 'n paar belangrike punte. Pienaar ontmasker maskuliniteite en hy wys op die weerloosheid van manne ágter uniforms.  

Trouens, in hierdie binnespraak word die leser bewus van rolle wat aan mans toegeken word en waaraan hulle nie kan ontkom nie.

Daar is slim intertekste: musiek van die tyd ("Pretty Belinda", die Moody Blues, die Beatles, Bob Dylan, o.a.), Sad Sack, Sartre, Wittgenstein se taalfilosofie (ons leef in borrels, 245), André P. Brink se Miskien nooit, om enkeles uit te wys.

Die verteller hoor verkeerdelik "Knights in white satin" in plaas van "Nights in white satin", want hy is immers 'n inconnu en die taalspel wys op die spanning in sy gemoed: die harde weermag teenoor die soeke na liefde en koestering.

Daar is oomblikke in hierdie roman wat 'n mens nooit sal vergeet nie. Die verwildering in die oë van 'n vrou in die oerwoud in Chirundu.

Annie wat lyfstraf moes verduur van haar vader.

Dit is 'n tydsdokument. 'n Herinneringsroman. Miskien ook 'n afrekeningsroman?

Op 'n plek praat hy van 'n selfdebat – kenmerkend van die belydenisroman.

III

Philippe Lejeune se bekende artikel "The autobiographical contract" (opgeneem in Tzvetan Todorov se French Literary Theory Today - A Reader (Cambridge University Press, 1982) wys op die kompleksiteite róndom 'n roman wat speel met die kodes van die outobiografie.

Lejeune verwys tereg na die "ambiguous intermediate region" van 'n teks waar die skrywer nie dieselfde naam as die verteller het nie, maar waar die leser dink (vermoed en die kwytskelding dit suggereer) die teks is op 'n werklike ervaring gebaseer. Die littérature intime kan eweneens gebaseer wees op verskillende vorme: briewe, dagboeke, memoirs (204 - 206).

Hier kan 'n mens byvoeg: die werklike belewenisse word gefiksionaliseer. Dit word bemark as 'n roman en dis hoe ons dit moet benader.

En waarom hoor die verteller "Knights in white satin"? En waarom is die rol van Wittgenstein so belangrik? En verraad? En wat is die rol van die generaal se vrou?

En die slot sluit weer aan by die begin.  Dis 'n boek oor grense, letterlik en figuurlik.

Hans Pienaar se ervaring as joernalis het hom waarskynlik geweldig gehelp met die skryf van hierdie roman.

(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Fine Music Radio

Friday, July 3, 2015

Joan Hambidge - ‘n Nota by Alexander Strachan se Brandwaterkom



I

Alexander Strachan se roman Brandwaterkom is ‘n roman wat by my spook. Nie alleenlik is dit goed geskryf nie, maar die skrywer laat verskillende dimensies naatloos oor mekaar skuif. Die historiese gegewe van die ABO en die komplekse verhouding met joiners en hensoppers teenoor die grensoorlog van die tagtigerjare. Oor alles heen beweeg daar ‘n navorser wat lewe gee aan Vilonel. Die fiksionaliseringsproses word teenoor die historiese dimensie geplaas en daar is selfs ‘n moment van magiesrealisme met ‘n besoek aan Dwaalpoort.

Die kuns van ‘n geslaagde historiese roman is om so ‘n karakter ‘n mens te maak. Hierin slaag die skrywer. Vilonel se optrede is kompleks. Word hy ‘n verraaier omdat hy besef het die oorlog gaan die Boere niks in die sak bring nie? Of is dit sy verskeurde liefdeslewe wat hom laat aarsel? Is dit werklik hoogverraad dat hy manskappe oortuig het van die uitsigloosheid van die oorlog?

Arthur Blake se Boereverraaier is onder andere ‘n belangrike voedingsbron vir Strachan. Hoe kyk ons vandag na verraaiers? Daar is vandag ‘n demitologisering van die ABO en die eenvoudige spanning tussen Boer (heilig) en Brit (onheilig) word deur vele historici anders bekyk. Albert Grundlingh se studie oor die “hensoppers en joiners” kom eweneens na vore.
Gaan lees die gedeelte oor Hertzog se hantering van die Vilonel-saak.

In ‘n rubriek skryf Max du Preez insigryk oor hoe twee broers ook teen mekaar te staan gekom het in die oorlog. (Max du Preez oor die miskende Piet de Wet. Besoek 2 Julie 2015)

II

Strachan gee ‘n komplekse beeld van die man wat deur Hertzog as ‘n “skandvlek” op die Afrikanergeskiedenis uitgekryt is.

Hy laat die roman ook eindig sonder “closure” – die hoofkarakter sou in die werklikheid nog bly lewe en diens doen in ‘n gemeenskap.

En dis goed dat die roman eindig waar dit eindig. Die leser (selfs diegene wat nie die geskiedenis van hierdie dubieuse figuur ken nie) is so onder die indruk van sy verskillende fasette. En vir die liefhebber van die geskiedenis is daar dan ook vele tekste wat ‘n mens kan gaan lees. Met die uiteindelike gevoel van genoegdoening wat ‘n groot roman by jou laat: die skrywer het van ‘n historiese figuur ‘n mens gemaak, een met verskillende kante.

'n Werklike goed geskryfde romankarakter kan 'n mens nooit vergeet nie. Vilonel spook by my, soos Humbert Humbert in Nabokov se Lolita. Stanley Kubrick se filmweergawe van 1962  - stadig, afgemete in wit en swart met James Mason as Humbert Humbert - oortuig meer as die weergawe in 1997 van Adrian Lyne met Jeremy Irons in die hoofrol. Mason gee verskillende fasette aan die hoofkarakter; Irons is te veel van 'n houtpop.

Mieke Ball se Mensen van papier (1988) oor personasies in die literatuur, maak belangrike stellings oor die funksie van die romankarakter. Greimas, die bekende semioloog en narratoloog, verwys na die aktant en die rolle wat hy of sy vertolk binne 'n roman. Hy onderskei twintig funksies wat te make het met 'n quest. Die hoofkarakter moet vanuit 'n buitestaanderposisie iets "oplos" of 'n teenstand oorkom. Jonathan Culler skryf hieroor in Structuralist Poetics (1975) en hoe Greimas se werk gebaseer is op Vladimir Propp se Morphology of the Folktale.

In Strachan se roman is die quest sowel die oorlog as die problematiese liefdeslewe. Die herintegrasie wat gewoonlik teen die einde plaasvind, is by Strachan afwesig. En juis dit maak die roman so sterk. Die leser "voltooi" alles in die gemoed en gaan lees verder op oor hierdie komplekse figuur.

En wie, wonder 'n mens, sou Vilonel in 'n film kon vertolk en reg kon laat geskied aan hierdie figuur?



© Joan Hambidge

Sunday, June 28, 2015

Alexander Strachan - Brandwaterkom (2015)



Alexander Strachan - Brandwaterkom. Tafelberg, 2015. ISBN 

Resensent: Joan Hambidge

Alexander Strachan is ’n fyn stilis en vernuftige skrywer. Hy kan tekste konstrueer en oortuigend opbou. Sy tekste soos ’n Wêreld sonder grense is sowel ’n reeks kortverhale as ’n roman wat sleutels gee vir latere werk soos Die jakkalsjagter. Hy kan ’n los draad uit ’n vorige roman optel en verder voer.

Min skrywers het al oorlogsgeweld so pakkend soos hy beskryf en sy jongste roman, Brandwaterkom, snoer twee moderne neigings saam: die Anglo-Boereoorlog (ABO) en die optekening van geskiedenis in ’n tyd waar “slow violence” ’n nuwe modewoord geword het. Die roman roep ook Christoffel Coetzee se Wat het geword van Generaal Mannetjies Mentz? op.

Die ABO en die Grensoorlog is die twee asse van die roman met ’n skrywende, fiksionaliserende vrou wat ’n storie skryf oor kommandant Vilonel se dubieuse rol tydens die oorlog. Haar navorsing word ’n stuk historiografie, fantasie en daar is selfs momente van magiese realisme tydens ’n besoek aan Dwaalpoort.

Die skrywer as historiograaf is tans ’n opvallende neiging: ’n mens dink aan die werk van Karel Schoeman en Dan Sleigh. En Marié Heese. Willem Anker se grensverskuiwende Buys .

Wie se storie is ons besig om te lees? Esther van Emmenes se optekening? Of die verhaal van Vilonel? Of die boodskapper? Die verskillende stories skuif ineen: soos twee snellers wat afgetrek word, aldus die buiteblad – dalk eerder ’n dubbelloopgeweer. Wie vertel? Of word die verteller uiteindelik die vertelling self? Daar is ook die verhaal van Bullet – ’n korrektief dalk? Elke vertelling of belydenis word deur ’n ander weergawe “bevestig”. Net soos die geskiedenis oor die ABO ook deur orale vertellinge verander word en die werk van Bill Nasson lewer op sy beurt ’n ander blik op die swart mense se deelname . . . En daar is swart mense, weliswaar randfigure, in Strachan se roman.

Die skrywende verteller moet onder andere ’n jeug en kinderdae skep om dit vir die leser geloofwaardig te maak. En geloofwaardigheid is die grootste eis vir die historiese roman. Wanneer ons byvoorbeeld ’n danstoneel beleef, is die leser binne daardie tyd – en hierom is hy nie ’n “onthoofde mens” nie. Strachan maak van sy karakters “mense”, “vol karakters” om E.M. Forster se term te gebruik.

Die skrywende verteller se werkswyse verraai ook iets van die implisiete outeur se retoriese strategieë, om met Wayne C. Booth saam te praat in sy belangrike The Rhetoric of Fiction (1961). En hoe ’n karakter byna ’n obsessionele teenwoordigheid is vir ’n skrywer word insigryk beskryf. Esther van Emmenes se donker verlede gee haar begrip vir die ingewikkelde lewe van Vilonel. Alexander Strachan se kennis van sowel die ABO as die grensoorlog bring ’n verrassende (binne-)perspektief.

Die Anglo-Boereoorlog-wêreld en die terrein van die verraaier/joiner word onder die loep geneem. Die spanning tussen Boer en Brit, grappe, volkslegendes, die uitstal en opnoem van ou Afrikaanse idiome en die Jood op die dorp, word alles netjies verweef in ’n ryk tapisserie. Louis Botha, pres. Steyn, Hertzog en vele ander, is karakters. Soms net in die verbygaan, ander kere sterk soos Buller en Cronjé.

Die impak van runderpes en die oorlog het gesiene boere van aansien en plase gestroop en bywoners van hulle gemaak. Ons weet hoe die plase geplunder is deur die Engelse en hiermee is die lewensaar van kos vir die vegtende Boere afgesny.

Die reuk van die oorlog word konkreet beskryf. Ons sien hoe ’n koeël uit ’n been verwyder word. Redvers Buller word raak geteken met sy drang tot oorwinning en ’n vorige lewe van kaartspel, biljart en perde. Die roman neem ons terug na Ingrid Winterbach se Buller se plan en Strachan se beskrywing van dié figuur maak van hom ’n immer onthoubare karakter.

Die oorlogspanning word nou verweef met ’n liefdesintrige (en ’n vloek wat uitgespreek word): Dit dryf die roman vorentoe met sy sterk en onheilspellende sub-teks. En die skrywer skryf op die man af sonder om banaal te raak. Dit maak Vilonel ook mensliker, omdat hy nie net prokureur of man van die wet is nie, maar ’n begeerte het tot liefde.

Daar is momente wat ’n mens net nie kan vergeet nie: Tibbie Steyn wat haar man se beswete hemp vashou wanneer hy vertrek; Hans Dons de Lange se teregstelling; ’n swanger vrou wat vermoed haar man is ontrou. Die beskrywing van Cronjé as ’n knorrige ou bliksem is in die kol.

Die roman bevat ’n uitgebreide bibliografie en erkennings. Dit getuig van enorme navorsing oor perde, die veld, klere, gewoontes, taalgebruik, drank. Die oorlog self. Oom Paul versus Milner. Die rol van ’n doomnis en prokureur in ’n dorp. Hoe mense se rolle hul lewenslot bepaal. En Catharina Venter wat die geskiedenis van ’n familie oordra, die ongeskryfde geskiedenis van skande wat oor ’n familie kom en die tragiese nadraai daarvan.

Die troebel gemoed van Vilonel wat die hewige geweerskote uit Senekal hoor, bly in hierdie leser se herinnering draal. Net soos die slot waar die verraaier toekyk . . .

Dit is in ’n gestroopte, toeganklike styl geskryf met ’n roman wat swaar dra aan toespelings en verwysings oor sowel die geskiedenis as die skryfproses. Rudyard Kipling is natuurlik ook hier met ’n verwysing na “The Jacket”.

Lees hierdie uitstekende roman.