Showing posts with label Beeld. Show all posts
Showing posts with label Beeld. Show all posts

Tuesday, November 14, 2017

Resensie. De Waal Venter - Oop sirkel (2017)

De Waal Venter - Oop sirkel. Naledi, 2017. ISBN: 978-0-928316-73-5

Resensent: Joan Hambidge

De Waal Venter se bundel Oop sirkel het sopas by Naledi verskyn.

Vorige tekste is Kiem, Pols en Klawer (saam met D.P.M. Botes en Menno Stenvert).

Daar is ook ʼn Engelse digbundel Entangling States of Mind (2010) beskikbaar. Hierdie skrywer is kortverhaal- en jeugboekskrywer. Hy is bekend in die wêreld van verhoog- en radiodramas.

Lesers van Versindaba sal bekend wees met sy goeie artikels oor minder bekende Spaanse digters en vertalings, onder andere van Tomas Tranströmer uit Sweeds en van Pablo Neruda uit Spaans.

Dit sou handig wees as hierdie vertalings in boekvorm kan verskyn – gedagtig aan Uys Krige se Spaanse dans (1991) en Ballades van Villon (1987).

In ʼn stuk op Versindaba (Versindaba » De Waal Venter. Die vertaler as lewerikBesoek 26 September 2017) wys Venter tereg daarop dat vertalings dikwels verouder; hierom sou ʼn mens inderdaad ʼn klomp digters wou sien wat Neruda of ander groot digters her-vertaal.

Sekere woorde het outyds geraak en hy skryf:
Dit is merkwaardig hoe vreemd die Afrikaans uit die dertigerjare vir ʼn hedendaagse leser kan voorkom. Woorde soos sterfling, ieder digters, swyend-stom, toebeskoor, klaarte ens. verwag mens nouliks in ʼn moderne gedig, om nie eers te praat van gesprekstaal nie.
Die titel van die pas verskene digbundel moet so gelees word: “ʼn Sirkel het geen punt wat as “voor” of “agter” beskryf kan word nie. Enige punt op ʼn sirkel het presies dieselfde status as enige ander punt", aldus die publisiteitspamflet.

Afdeling I & III handel oor die persoonlike geskiedenis, terwyl die tweede afdeling oor die liefde handel. In die vierde afdeling kom die filosofie en wetenskap aan bod. Die vyfde en sesde afdelings betrek humor en ironie en die sewende een handel oor die digkuns. Die laaste afdeling bevat prosagedigte.

In J.C. Kannemeyer se beknopte Die Afrikaanse literatuur 1652 – 2004 word verwys na die ek-gesentreerde poësie van hierdie digter, wat nie ʼn wesentlike beswaar mag wees nie. Hy verwys na die ‘weinig beelding’ en swak liefdesverse (460).

Van die generasie waartoe Venter behoort het met sy beginjare as digter, het Breytenbach die sterkste na vore gekom en ʼn ander tydskrif-genoot, Wilma Stockenström het weer op haar beurt ʼn besondere stempel afgedruk. Die digter het in 1963 gedebuteer.

Venter se verse sluit dan aan by die losser gestruktureerde verse uit die sestiger- en sewentigerjare. Hierdie soort vers werk assosiatief en wentel rondom opsetlik disparate én teenstrydige beelde. Hierom haal hierdie leser dan die kwessie van ʼn ouer idioom aan wat hy aanraak oor vertalings. Vir my gevoel is sy verse in ʼn ander toonaard geskryf as die sterker gestruktureerde verse van Johann de Lange of byvoorbeeld Johann Lodewyk Marais of Martjie Bosman.

Hier is opwindende idees - veral oor die wetenskap en die gedig wat op sigself inbuig - in die bundel te bespeur, maar selde is daar vuurwerke in ʼn gedig. Dikwels is dit net verkapte prosa, omdat die digter slim idee wil oordra, soos “Droom muskiete van elektriese skape?” (73) “Onbekende digter’ (109) klink so:

Hendricus van Laatmijgen
is geheel en al onbekend
in die geskiedenis van die Nederlande
van die sewentiende eeu …”

“Poësie is die ware taal van die ongetemde gemoed!”, meen die digter op bladsy 108.

Hierin probeer hy bepaal wát die ware gedig is, al dan nie. Maar selfs hier in die getob oor die kunsvorm, bly dit net stelling. Dieselfde geld “Poësie as ʼn organisme” (103) waar ons die lewenskrag mis van die gedig.

Ons vind talle self-bewuste of narcistiese verse wat handel oor die digterskap in ʼn voortdurende soeke na die “ware gedig”. Selfs met ʼn gewapende skeut ironie en Linda Hutcheon se Irony’s Edge in jou leessak, sukkel dit.

ʼn Sentrale vers handel oor Einstein en Dr. Seuss wat nie hou van lyn-teorie nie (70).

Einstein en Seuss hou nie van die lyn-teorie nie

Doktor Seuss en professor Einstein
drink bier
in ʼn ersatz Switserse kroeg
in ʼn Los Angeles
wat voortdurend opgedateer word.
Einstein skommel ingedagte ʼn paar dobbelsteentjies in sy hand:
“God speel nie hiermee nie,”
sê hy koppig.
“Tyd is ʼn pretzel,”
antwoord doktor Seuss,
tel een op en hap daaraan.
“Eienaardig dat ek sit en gesels
met ʼn fiksionele karakter,” mymer Einstein.
“Nie so vreemd as die werklikheid nie,” glimlag Seuss
en vat ʼn teug van sy bier.
“Nou watse hoed is dit daardie van jou?”
vra Einstein.
“Ons hou daarvan om verskillendes te dra,
ek en my neef.”
“Neef?”
“Ja, hy’s ʼn bietjie van sy kop af, ʼn hoedemaker.”
Einstein dink ʼn bietjie. En dan: “Watter hoed
dra jy nou?”
“Die een waarin die heelal ʼn ballon is,”
verduidelik Seus en vee sy bolip af.
“Die een sonder vaste lyne.”
Einstein se snor glimlag.

Die leser word uitgenooi om die bundel op enige plek oop te maak en onderlinge verwantskappe raak te sien. Die voorblad (parateks) aktiveer ʼn diskoers van on-eindigheid. Vir my lyk dit na ʼn komputer wat uitmekaar gehaal is - die bord wat jy sien. So maak hierdie bundel prosesse in die digkuns en wetenskap oop.


(Hierdie resensie word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)

Friday, September 1, 2017

Polemies | Van den Vos der Caskenades

I
 
Op Saterdagaand lees ek op Versindaba dat Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte (Lux Verbi) deur Cas Vos saamgestel is. Boonop word my van as Hambridge aangegee en die webpamflet weet te vertelle dat daar ook nuwe verse spesiaal vir die bloemlesing geskryf is.

Maar behalwe nou vir die rare naamvergissing (wat die uitgewer Lux Verbi wel regstel op die advertensiebiljet na 'n foonoproep), is die eintlike kwessie dat ek vir die eerste keer van die bloemlesing te hore kom op die Versindaba webruimte. In al die dertig jaar plus wat ek by NB publiseer, was daar nog altyd die hoflikheidsgebaar om toestemming van skrywers te vra. (Skrywerskontrakte bepaal dat die uitgewer tekste in ander publikasies mag oordruk sonder toestemming van die skrywers, en Lux Verbi is deel van NB.)

Vir Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte met Fanie Olivier as samesteller, het digters ‘n brief ontvang. Vir skoolboeke altyd ‘n e-pos. Wanneer kleiner uitgewers my nader, veral vir skoolboeke, gee ek graag toestemming. Sonder betaling.

Soos my vriend Werner altoos Robert Graves aanhaal: “There's no money in poetry, but there's no poetry in money, either.”

Lux Verbi se terugkrabbeling dat digters betaal sal word, is nie my hoofbeswaar nie.

'n Digter bestuur sy of haar werk. Jy het - volgens my - die reg om te weet dat jou gedigte "gebruik" gaan word. 'n Gedig binne bundelverband het 'n ander betekenis as wanneer dit opgeneem word in 'n Lux Verbi-bloemlesing.

Die titel was glo eers Die mooiste Afrikaanse geestelike gedigte wat waarskynlik minder problematies is as die huidige titel, Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte. En daar is, soos ons weet, 'n groot verskil tussen Christelik en geestelik.

Die nuwe titel maak opnames van M.M. Walters, Wilma Stockenström en Daniel Hugo problematies. Laasgenoemde bely op Versindaba dat hy ja gesê het vir opname onder die vroeër titel met ‘n geestelike inslag, maar nie Christelik nie. Hy skryf:
Ek het gedigte tot hierdie bloemlesing bygedra toe die werkstitel nog was: “Die mooiste Geestelike gedigte in Afrikaans”. By publikasie blyk dit nou dat die “Geestelik” in “Christelik” verander is. Ek voel mislei deur die samesteller en uitgewer, aangesien ek myself beslis nie as ‘n Christelike digter beskou nie. (Nuwe publikasie/ Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte Bloemlesing. Besoek 24 Augustus 2017). 
II
Wat sake verder kompliseer, is wanneer 'n mens Cas Vos se Voorwoord lees. (En nota bene, N.P. van Wyk Louw word in die register onder Van Wyk Louw geplaas en nie onder Louw nie. Maar dit net tersyde.) Vos verwys na Orhan Pamuk se bekende “My father’s suitcase” (2007), sy Nobellesing, om sy keuse te regverdig as "Landskap van die reis". Pamuk se uiters komplekse voordrag verloor hier resonansie. (Orhan Pamuk - Nobel Lecture/ My Father´s Suitcase. Besoek 24 Augustus 2017).

Vos se uitasem-voorwoord is so aanvegbaar dat 'n mens nie weet waar om te begin nie. Hoe enige kundige leser Wilma Stockenström se “Die ballade van die bitterarm dood” en “So ook maar maaksel” as Christelik kan lees, is verbysterend. M.M. Walters, I kid you not, staan ook hier!

D.J. Opperman se “Paddas” is eweneens opgeneem:  Ek haal Vos daaroor aan:
D.J. Opperman se voortreflike gedig 'Paddas' handel oor die plae in Egipte: meer spesifiek, oor die stortvloed reën wat die 'tortels van die modder' oral laat toeslaan, van sloot tot kombuis. Hulle staan in God se diens om sy volk te bevry. Daarom roep hulle 'op Hom die groot hosannas'.
Olga Kirsch se opname word verdedig, o.a., omdat die Ou Testament ook ‘n boek vir en van die Christen is (17). Hoe klop dit egter met die titel van die bloemlesing?

En skryf hy verder: al is al die gedigte nie streng gesproke Christelik nie, is dit weldeeglik versoenbaar met Christelike oortuigings.

Die feit dat Pasolini ‘n film oor Jesus gemaak het, maak nog lank nie van hom ’n Christen nie,

Ons Boeddhis Breytenbach staan ook in die inleiding (al is daar nie 'n gedig opgeneem nie), soos ook Ernst van Heerden se siektevers “Aan die verhuisingsmanne”.

Die finale gevoel wat hierdie bundel laat, is dat die samesteller enigiets in hierdie groot soetkys sal insmyt. Van 'n tandeborsel tot sunlight-seep. Ou klere tot nuwes. Lina Spies en Loftus Marais.

“Op ons reis is ons nie alleen nie. God is met ons op pad na die nuwe Jerusalem”, skryf hy.

Gaan plaas hierdie bloemlesing neffens C.J.M. Nienaber en M. Nienaber-Luitingh se Die braambos brand (1987) en F.I. J. van Rensburg se Jubilate! Loofgedigte in Afrikaans (1995) en dan wonder ‘n mens oor die doelstelling van hierdie antologie.

Is daar werklik kundig gelees en nagedink?

Bernard Odendaal en Marlies Taljard het van raad bedien. Het hulle die finale manuskrip gesien? En die nota van die uitgewer dat hulle probeer het om almal op te spoor, maar dit was nie moontlik nie? In die dae van e-pos, Facebook en telefone?

Ek is tans besig met 'n bloemlesing Vreemde liefde oor lesbiese verse en ek dink ek gaan een van Cas Vos se verse opneem. Uiteraard sonder toestemming. So laat ons nie jakkalsdraaie gooi of vosserig raak nie, 'n Christelike gedig is nie net sommer 'n gedig wat geloof aanspreek of dit kritiseer nie.

En om te kumbaya met komplimente soos "voortreflik" help gewis nie om 'n slordige, oorhaastige keuse te regverdig nie.


Marga Stoffer, NB se uitgewersbestuurder, reageer namens Lux Verbi:

N.a.v. die kwessie oor toestemming: Sommige digters is genader om toestemming te verleen, maar ons het nie vir almal toestemming gevra nie. Soos Joan noem, is dit nie ’n vereiste nie maar ’n hoflikheidsgebaar om dit te doen in die gevalle waar NB (waarvan Lux Verbi deel is) die regte bestuur.

Ek vra dus om verskoning dat ons nie vir almal toestemming gevra het nie. En ja, ten spyte van e-pos, Facebook en selfone was daar inderdaad enkele digters en/of digters se erfgename wat ons nie kon bereik nie of van wie ons geen reaksie ontvang het nie.

Ek is reeds in Rapport aangehaal oor die titelverandering en herhaal: Die werkstitel was aanvanklik Die mooiste Afrikaanse Christelike gedigte, ons het ’n ruk lank met die werkstitel Die mooiste geestelike gedigte in Afrikaans gewerk, en toe het ons teruggegaan na die oorspronklike titel.

Lux Verbi (met sy lang en trotse tradisie as Christelike uitgewer) het beslis nooit beplan om enigiemand met ’n slapriem te vang om teen hulle sin in ’n Christelike werk opgeneem te word nie.

Dit is, dink ek, relevant om op rekord te stel dat twee letterkundiges die finale samestelling noukeurig beoordeel het. Hulle het ook verdere gedigte voorgestel en dié gedigte is toe inderdaad ook in die bloemlesing opgeneem. 

© Joan Hambidge


 (Hierdie rubriek word geplaas met vriendelike vergunning van Beeld)